top of page

‘n “Vakansie” na Livingstone

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Nelie de Graaff het vanaf haar 14de jaar soms vir haar pa Albert Lemcke gehelp lorrie bestuur as hy na Livingstone transport gery het.

 

‘n Familiegroepie moes eenkeer by Kgotseroga vir veertien dae staan, kniediep in (1) lopende water. Die probleem was ‘n stukkende wiel “bearing”, maar daar was min kans dat ‘n ander voertuig sou verbykom. Haar oom Hugo Lemcke en Joos Odendaal het later besluit om Maun toe te loop, 135 myl ver. Maar die lorrie wat moes gaan help het, kon nie tot by hulle kom nie.

 

Hugo Lemcke vertel ook van die “vakansie”. Hy en broer Albert het hard gewerk en besluit hulle, met hul gesinne, gaan vir Kersfees “Valle” toe. Op pad terug het hulle by (2) Kgotseroga geslaap. Maar die nag het dit begin reën en die oggend was hulle omring van water. Hulle moes bo-op mopanihout vuur maak, en alles het weggedrywe. Die lorrie het ‘n bearing geslaan, maar hulle was sonder wit metaal. Toe bou hulle die “spul” uit, verwyder een piston en ry ‘n ent verder op die ander vyf. Toe breek ‘n wiel “bearing”.  Hulle was sonder kos en hy het sy geweer op Kasane gelos. 17 Witmense, vrouens en kinders by, moes agter op die lorrie slaap. Hugo en Joos Odendaal moes maar Maun toe loop, 135 myl ver.  Dit het hulle 3 dae gevat om daar te kom. Hugo het wiel “bearings” en parte gekry en is met ‘n ou kar terug, maar met ‘n ander pad. Naby die lorrie het die ou kar vasgeval en hy moes verder loop, net om te vind almal was weg!

 

Grieta Lemcke vertel hulle het net 2 patrone gehad het en stuur toe ‘n jong om iets te skiet.  Hy het 2 rooibokke geskiet, maar in die tyd dat hy ‘n mes by die lorrie gaan haal het, het leeus die rooibokke gevreet! Hulle moes maar die bene kook en eet! Snags kon hulle die leeus klok-klak in die water om die lorrie hoor loop. ‘n Griek se kar het ook daar naby vasgeval. Hy het ‘n sak groen gemufte mieliemeel bygedra en by hulle geslaap. Toe het hulle stukke uitgesoek en met Worcestershire geëet en swart tee gedrink.

 

‘n Ander lorrie het hulle gaan oplaai. Hulle het die swart drywer se vetkoek opgeëet. Hugo het die lorrie reggemaak en die groep op Maun by die Odendaals gekry. Dit was sy eerste en laaste vakansie gewees!

 

Tannie Kotie Craill neè Burger (3) vertel dat sy ook eenkeer saam met Cecil Craill en Karel Weyhe, Elize Weyhe se man wat skool hier gehou het vroeër jare, Victoriavalle toe was. Sy was toe nog nie getroud nie en was dit haar eerste trip na Livingstone.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

‘n ”Vakansie” na Livingstone (Bladsye 326-327)

(1) (Memories 8) Nelie de Graaff

(2) (R I 9-10) Hugo Lemcke

(3) (Opname KC1) Kotie Craill

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page