Nelie de Graaff neé Lemcke
Lewe op Ghanzi in die 1930 en 1940’s.
Ek onthou van ‘n trip van Gobabis na Ghanzi met wa
en osse, ek was so 5 jaar oud. Daarna het ons baie met
wa en osse gaan jag. Die polisie het ook maar net gewag vir ’n stukkie vleis want hulle het geweet ons mors nie.
Die polisie, Spangane en Kgix'au Nxa, het toe nog oral gepatrolleer met kamele. Ons het draad saamgevat veld toe om te span vir die biltong. Biltong word dan gesny en die vel word so in die sand gespan. Eers maak jy ’n holte in die sand, dan die vel wat mooi skoon is en dan word die biltong daarin gesout ens. tot die volgende dag, dan word die biltong opgehang.
So’n trip met wa en osse het so ongeveer 15 na 20 dae geneem van Gobabis na Ghanzi. Toe Albertus my broer gebore is, het ek en Davina my suster en Grieta my Ma se suster gehardloop om na die nuwe baba te gaan kyk, want ons was altyd weggestuur na iemand anders toe. Maar toe het ons by my Ouma hulle gebly, so 500 meter van hulle af. Albertus is so 5 en ’n halfjaar jonger as ek. Davina is so 2 jaar jonger as ek. Grieta, my Ma se suster, is so 3 en ‘n halfjaar ouer as ek.
Ek het baie tarentale geskiet met die hondjies. Hulle jaag die tarentale in 'n boom dan skiet ek hulle met die .22. Ons het ook slagysters gestel want my Oupa het al die bees wat per ongeluk doodgegaan het of so in die land gegooi, dan het ons daar slagysters gestel. Vroeg smôrens voor skool het ons gaan kyk of ons iets gevang het (Davina, ek en my suster) dan moes ons die spoor gevat het. So het ons soms ’n ystervark, of ’n jakkals of swart wolf gevang.
Op Maun was net 4 winkels, wat ek as kind kon onthou. Joos Odendaal (wat met die dogter van Machiel en Chrissie getroud was). Chrissie was ’n Drotsky, my Ouma se suster. Dan was daardie NTC wat behoort het aan Mr. Wescob. Dan Mark Kyriake se Pa, Georgiane. Dan ’n Griek, Mr. Wickett. Daar was ook die hospitaal. Mr. Bond was die boekhouer en Mrs. Bond was onderwyseres. Harry Riley het die hotel gehad, ons het baie daar skyfgeskiet ens. Harry Riley se vrou kon so mooi brei, sy het gedurig gebrei. Dougie Wright se Ma kon weer so mooi “smock”.
Die paaie na Gobabis en so was baie swaar, dit was maar so 300 km, maar jy kon dit nie in een dag ry nie, moes maar ’n nag op die pad slaap en moes mees'al in extra low ry. My Pa het altyd room gery na Gobabis en dan suiker ens. saamgebring wat hy weer deurgevat het na Sehitwa toe en selfs na Maun en Kachikau. Ook Herero passasiers aangery. Hulle het ’n sekere plek op Rietfontein (die Herero’s) gehad om te bid ens. Moremi (wildtuin) het toe nog nie bestaan nie daar was ook net ’n spoor na al die plekke, so deur die Mopane bome.
Mens het toe nog buffels tussen Maun en Toteng gekry, ook Tsetse vlieë. Hulle het toe die lorries gespuit vir Tsetse vlieë. Ek self het al lorrie bestuur van voor ek 13 jaar oud was, al die polisie het geweet ek het nie ’n lisensie nie. Maar my Pa het altyd vir hulle gesê ek daag enige een uit om die wiel uit haar hand te kom vat!
Daar was toe ook nog fonteine op Ghanzi, op Rietfontein en Olifantskloof. Rietfontein was my Pa-hulle se plaas, hulle het daar ’n bottel stoor gehad. Met die oorlog het hulle hom alleen op Rietfontein gelos, hy was toe 12 jaar oud. Sy Pa was toe in die interneringskamp (konsentrasiekamp). Na Ghanzi is hy toe met my Ma getroud. By oom John (my oupa se broer) se plaas, het sy seun Jan die oggend vroeg opgestaan om houtjies op te tel om vuur te maak vir koffie, soos hy houtjies optel hoor hy iets, maar hy het maar gedink dis maar die kamele wat die polisie mee patrollie ry. Toe hulle opstaan daarna lig geword het, sien hulle dit was leeus, 4 leeus!
Ek was altyd die drywer van die lorrie as ons leeus gaan skiet, want my Pa en my Oupa het op die perde gery. Ek moes die Boesmans beskerm wat spoor vat. Ek het ook altyd my eie geweer gekry en as hulle die leeu skiet staan ek by hulle.
Ek was nog jonk toe het my Oupa, Christiaan ’n spoor gevat van ’n gekweste buffel. Toe hy sien is hy op die buffel (daar was ’n Boesman by hom) en al wat my oupa kon doen is die buffel so om die horing vat. Hy was potblou soos die buffel hom gekarnuffel het. Die Boesman het toe gehardloop en Joey Coetzee (my Oupa se skoonseun) geroep. Toe hulle daar kom was dit so ’n stof dat hy nie mooi kon sien waar om te skiet nie maar hy het toe darem die buffel doodgeskiet, maar my Oupa sê, toe was hy ook klaar! Daarna het hy altyd gesê, as iemand met hom wil stoei moet hulle eers ’n buffel vat!
Algar het ook hulle eie seep gekook met elandvet.
Toe ons nog op skool was hier in Ghanzi, het my Pa transport gery. Ons het ’n hond gehad, Bruno, ons het hom altyd dopgehou, as hy so ’n sagte blaf gee dan weet ons hy hoor al die lorrie, dan hardloop ons al, want dit was al wat ons ’n pakkie lekkers of iets gekry het.
Ons het skool toe geloop een en ’n half myl, sonder ’n koeldrank, toebroodjies of iets, dan het algar pouse altyd na Oupa en Ouma Lenie toe gehardloop wat ’n paar treë van die skool af was, vir ’n glas melk of ’n snytjie brood of stukkie biltong. En hulle het nooit gesê ons kan nie vir die hele skool brood en melk gee of so iets nie.
My Oupa, Christiaan Lewis het altyd vir Davina en ek met die spieël gelig (so een en ’n half myl) en dan het ons al daarheen gehardloop. My Oupa was baie lief vir kinders, as ons net gesê het Oupa, ons is lus om veld toe te gaan dan weet ons, hy laat die perde haal en ons gaan.
Eenkeer was daar 2 leeus op sy plaas, deur die draad. En ek moes met die lorrie ry en hy te perd. Ek moes toe eers diesel vir die lorrie gooi en laat kyk na die water en alles. Toe ons by hom kom, het hy altwee leeus al doodgeskiet.
My Oupa het ook ’n mak hartbees gehad, wat ons baie gejaag het; ons moes altyd eers mooi kyk waar hy is voor ons loop!
Ek het in een of ander tydskrif gesien van twee Diamond T lorries wat by Rileys Hotel staan. Daardie twee lorries het my Pa een gekoop en oom Tinkie Craill die ander een. Hulle albei het soms vir my laat bestuur, in slegte paaie, mees'al net extra low, sonder power steering of so.
Mr. De Lorme was polisieman op Olifantskloof. My Pa het die polisie stasie daar gebou en het net die een muur klaar afgepleister toe Albertus, my broer wat nog baie klein was gedink het hy doen ’n goeie ding, toe pleister hy die muur weer oor! Na De Lorme was Innes polisieman op Olifantskloof. Oom Tinkie Craill, het eenkeer na hy gevang is deur die polisie met bokke wat hy geskiet het sonder lisensie is hy in die veld gevang. Hy het toe die polisie baie dronk gemaak daardie aand, hulle perde wat gespan was, die spanne afgesny en al die vleis en die velle op die lorrie gelaai en toe is hy weg die aand. Wel, toe het die polisie geen bewys gehad nie.
Ons het vroeër sommer in die Kalaharipad in die spoor bed gemaak en geslaap, want ons het geweet daar sal g’n kar kom nie. Soms nie eers vir twee weke nie!
* * * * * * * * * *
Ek het met ‘n donkiekar gery toe kry ek ’n plat wiel en my pomp is nie op die kar nie. Toe moes ek vyftien myl stap met drie kinders in die bloedige son, geen kar wat aankom nie. Ek het die kleinste een gedra die ander moes maar loop!
My Pa Albert was ’n wonderlike, geduldige mens. Die lorrie het bearings geslaan en hy het dun plaatjies gemaak om nuwe bearings te maak. Dit het nie lank gehou nie, maar so het hy vyf keer op ’n trip na Gobabis gesukkel met ons as kinders tussenin. Maar nooit het hy gesê loop speel, ek is besig nie.
Ons het op Tsotsoroga 14 dae gestaan met ’n stukkende wiel bearing. Kniediep in lopende water. Hugo Lemcke, my Pa se broer en Joos Odendaal het later geloop, Maun toe. Die man wat ons toe kom help het, kon nie met die lorrie tot by ons kom nie.
Die Lake op Sehitwa het altyd vol springbokke en volstruise gestaan en op ’n tyd moes ons baie vêr om die Lake ry as die water afkom. Daar was ook net ’n spoor tussen die bome. Ons moes toe mooi kyk vir die groot, lelike spinnekoppe wat oor die pad van boom tot boom gespin het. Maar nou is die pad wyd oop.
Ons het ook baie bly staan as dit baie gereën het. Dan moes ons al die kanne room, wat soms oorgekook het, eers aflaai om die lorrie uit te kry en dan weer oplaai. Lake Ngami was ook baie glad en glyerig en met baie muskiete as dit gereën het. Die hospitaal op Maun was ook soms vol met slaapsiekte mense, wat deur die Tsetse vlieë gesteek was.
* * * * * * * * * *
Ghanzi was ook maar baie klein, net ‘n paar boere. Ramsden en Burton was die enigste twee wat skotskarre gehad het.
My Pa het later donkiekarre gemaak. En doodskiste, brandysters en alles wat mense wou gehad het. Hy het ook putte gegrawe want daar was nog nie boormasjiene op Ghanzi nie. Dan het hulle die putte met dinamiet geskiet en moes met ’n rol tou opdraai, die Boesman of wie ook al by was.
As dit die jaar baie gereën het, het ons met baddens op die panne geroei.
* * * * * * * * * *
Daar was nog geen dorp duskant die brug as jy Vic Falls toe gegaan het nie.
Toe ek onlangs weer gegaan het om my bestuurslisensie te hernu, het die een by die kantoor my papiere opsy gesit en eers al die ander gehelp. Ek sê toe later vir haar, wat is verkeerd met my papiere, gee dit terug, ek sal gaan as my seuns saam met my gaan. Toe sê ek vir haar is dit oor ek ’n swaarvoertuig, trekker en al daardie lisensies het? Toe sê sy, ja, waar het ek dit gekry? Ek sê toe vir haar, toe ek ’n kind was, kon hier g’n kar ry op Ghanzi nie, ek is met ’n lorrie getoets. Toe lag algar.
My ouma Magdalene Cornelia Lewis, is gebore 10 Februarie 1884 en is oorlede 4 Deseber 1970. Sy was 87 jaar. My Ma se oudste suster Maria is gebore op hul trek hierheen. Vanaf 1958 werk ek hier, by my oom Chrisjan Lewis se slaghuis op Ghanzi.
My man Braam is gebore 17 April 1909 en het ons op 17 Junie 1965 die winkel, slaghuis ens., die hele Plot 53, van die boedel gekoop, want my oom is oorlede 4 Junie 1963 op Lobatse. Eers het ek in die slaghuis gewerk totdat ons alles gekoop het, toe het ek in die winkel en my man in die slaghuis gewerk. My Pa het ook die huis by die slaghuis gebou waarin ek nogsteeds bly.
Die Drotsky’s, Marnewijks en Lewis’e is alger familie. My Ouma was ’n Drotsky, haar een broer, Marthinus Drotsky het die Drotsky grotte gekry, was agter ’n luiperd aan en toe gaan die luiperd in die grotte in en so het hy die grotte gekry. Hy het met die voet geloop van Ghanzi tot in Maun, so reguit deur so 300 km en het ook altyd die kanale oopgemaak in die Okavango. Hy het ook eenkeer twee blanke kinders gekry by swart mense, die twee kinders se ouers is dood aan malaria of iets, toe het die kinders by swart mense gebly. (Hulle het toe op Maun gebly). Marthinus Drotsky het toe die dogter, (Vina) aangeneem as hul eie kind en net na dit het hulle weer ’n dogter gehad, wat hulle Babatjie genoem het. Wat van die seun geword het weet ek nie, hy was ’n rukkie hier by my Oupa en Ouma (Christiaan & Lenie Lewis) toe is hy weg.
My Ouma se een suster Chrissie (wat met Giel Pretorius getroud is) het weer net so ’n paar kilometer van Vic Falls af gebly, het daar ’n plaas gehad.
My Ouma se een broer, Gert Drotsky (Jan Drotsky van Shakawe se oupa) het weer op Gobabis gebly en hy het epilepsie (vallende siekte) gehad. Hy het altyd met ’n perd gery en die ou perd was so geduldig, as hy die aanval kry en bo van die perd afval, dan wag die perd vir hom tot hy reg is dan ry hy verder.
Jannie Marnewijk en Tienie, sy vrou, het weer op Bray gebly. My Oupa Lewis se ma is hier op Ghanzi dood, ek het haar nog geken. Oupa Lewis se broers John en Louw het algar hier gewoon.