top of page

Kalkbrand, stene en kole

Ander Ghanzi
webblaaie

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Hugo Lemcke[1] het op baie maniere in Ghanziland probeer oorlewe. Smidswerk, putse grawe, lorries ry, maar dit was in die 20-30’erjare nog nie die gebruik om met sement te bou nie. Messelwerk het geïmpliseer dat mens moes kalk brand en stene maak. Kalkklip was nie skaars in Ghanziland nie!

 

‘n Laag klippe is in die oond gepak, gevolg met ‘n laag hout, opeenvolgend. Die klippe moes stukkend geslaan word en eweredig gebrand word. Die hout word aan die brand gesteek en as dit heeltemal uitgebrand het was die klippe “gaar”. Die klippe word in water gegooi om te blus. Gebluste kalk was spierwit. ‘n Groot oond het veertien dae geneem om uit te brand. Hout is nie bygevoeg nie en die proses is aan homself oorgelaat tot die klippe afgekoel het. Op onweer dae kon die werk nie gedoen word nie, want reëndruppels sou die klippe in die oond laat blus.

 

Hugo[2] het vertel dat baie van die ou huise wat in die 80’erjare nog gebruik is alreeds in die 20’erjare met klei gemessel is. Daarvoor het hulle sommer ou ronde klippe en rommel gebruik. Die mure is dan afgepleister. Volgens Albert was die klei wat mense uit pannetjies gaan haal en soos sement aangemaak het sterker as kalk, of het langer gehou. As die pannetjies water gehad het, het die beeste tot in die middel die klei en sand deurmekaar getrap, en dit was die klei wat bouers soos Dawid van Heerden in die beginjare gebruik het, ook vir stene.

 

Die klei vir stene is in ‘n vorm gedruk en die kleistene word in oonde gepak volgens die nodige aantal vir die beplande gebou. Onderdeur die oonde was daar tonnels en die bouers moes dan vir 14 dae onophoudelik vuur maak. Vir stene moes die hout onderin gesit word. As die stene mooi was na 14 dae, was hullle gebak en bruikbaar. Vooraf was die kleistene swart gekleurd. Reënt het geen effek op die gebrande stene gehad nie. Laterjare het mense steenkool gebruik, wat tussen die rye gepak is en maklik gewerk het. As die kole by die bekke aan die brand was, is die oond toegemaak en het verder vanself gebrand, ook omtrent 14 dae. Dit het afgehang van die grootte oond en aantal stene. Die Burton huis is deur die Kayse gebou van sulke stene. Hugo was egter van die opinie dat klipmure met klei gemessel sterker was as steenmure. Sy rede was dat mannemoed nodig was om klipmure te bou, selfs nadat mense met gekapte klip begin werk het.

 

Albert Lemcke[3] het nog voor sy jonger broer Hugo van Duits-suidwes ingekom en met allerlei ‘n lewe begin maak. Hy het o.a. ook gebou – met roustene, met bakstene en met klip.

 

Vir roustene het hulle grond natgemaak, en dan het hyself of Boesman die grond getrap tot dit klei geword het. Die kleigrond word in ‘n vorm vasgestamp en dan op ‘n gelyke plekkie uitgegooi om droog te word. As dit goed droog was, is dit roustene genoem. Albert[4] beskryf ook die baksteenproses soos Hugo Lemcke, waar hulle houte of kole gebrand het. ‘n Oond was omtrent 10 voet hoog, en dit het omtrent 3 dae geduur voor die hitte bo begin uitkom het. Eers dan is die bekke toegestop en bo-op ook toegegooi. Na die brandtyd kon dit 2-3 weke duur voordat die stene afgekoel  was om uit te haal. Gebakte stene was sterker, en as dit baie gereën het, het die rou stene gesmelt! Mense kon gebakte stene van goeie grond selfs gebruik om damme te bou. Water sou ingaan maar die stene het nie sag geword nie.

 

Albert[5] verduidelik ‘n oond vir kalkbrand. ‘n Oond is gepak of gegrou in die grond met so ‘n tonnelbek weg van die oond af waarvandaan jy die oond aan die brand kon steek. Dan pak mens die oond met hout en klippe wat stukkend geslaan is tot hy vol is. As dit klaar gebrand en afgekoel het, gooi mens die klippe op ‘n hoop en bedek met ou sakke en gooi die hoop nat. Dan blus die klippe. Agterna kan mens die kalk sif om klein klippertjies uit te kry. Die kalkmeel word met sand en water gemeng om messelklei te kry. As mens goeie kalk wou hê of getwyfel het oor die gehalte, het mens die kalkmeel met water aangemaak en weer ‘n gat gegrou en die kalkwater daarin laat loop. Dan sak die sand en growwe stukkies af en skoon kalk en modder lê bo. As mens die modder afskep het mens skoon kalk.

 

Waar kleistene gebruik is in bou, is mure met kalk gevoeg tussen die stene. Grafstene was meestal gepak, maar soms so bietjie vasgemessel.

 

Albert het beaam dat mense mekaar soms gehelp het soos die ou skool en ‘n onderwysershuis, maar as dit betalingswerk was het niemand gehelp nie. Op ou Khoutsa was ‘n ou kerkie ook saam-saam gebou.

 

Albert[6] het verduidelik hoe mens kole gemaak het. By gebrek aan steenkool het hulle veral kameeldoringhout gebruik. Droë hout word opmekaar gepak en aan die brand gesteek. As hulle uitgebrand is gooi mens die vuur dood en daar lê die kole!

 

Thys Taljaard[7] het vertel hoe hulle in Maun stene gemaak het vir Wenella. ‘n Bestuurder, ene Smittie, het kom vra of Thys op kontrak vir hulle 100,000 stene uit te pak. ”Uit te pak” beteken goeie stene, nie halfgebrand of verbrand nie. Daarvoor sou hy 1,000 sakke kalk moes brand. Gewik en geweeg en kontrak geteken. Hy sou vir die stene £3 ‘n duisend kry en vir ‘n sak kalk £1. Thys het nie ‘n ryding daar gehad nie, maar ‘n ander bestuurder, Davis, het hom gehelp. Die volk, veral Vambo’s uit Vamboland, moes eers opgevoer word in die myne in Johannesburg. Thys het beduie waar hy stene moes maak was nie hout nie en by die kalkklippe ook nie, hoe nou gemaak? Toe sê Davis hy sal sorg dat daar elke dag 40 werksmense sou wees. Loop die een, vervang hy twee, want daar was duisende wat gewag het, was eers genoeg gewig moes aansit. Die kalkveld was omtrent twee myl weg van die stenegrond en Thys het hom byna doodgeloop van plek na plek! Hy het Theunis Gower en Grieta Kotzè se broer Kerneels gehuur om by die stene te help. Elke stukkie hout wat gebrand is, is op ‘n Vambo se skouer aangedra. By die kalkveld het omtrent 25 mans gewerk – party slaan klippe stukkend, party dra hout aan, party grou ‘n gat vir duisend stene op ‘n slag.

 

Thys was reeds gekonfyt met die kalkbrand by DEKAR en by Bray bottel, want hy het daar messelkalk gebrand vir Ngamiland. Om te voorkom dat die vuur smeul, grou mens die gat skuins sodat hy lug intrek en in die middel pak mens ‘n streep fynhoutjie wat maklik brand.

 

Die stene was ‘n groot werk. As so 20-30 duisend stene gereed was, kon hy oonde begin pak. Die binnepote was 18 duim, die buitepote 9 duim. In die middel by die houte was hy so 18 duim tot 2 voet. Vier stene gelyk opmekaar. Tot die bek mooi gelyk is, dan begin jy die oond se bek trek met halwe stene tot bo waar hulle aanmekaar sluit. Die hout is dan alreeds ingepak. Dan pleister jy hom buitekant af en steek die vuur aan. Vir 2-3 dae en nagte stop jy hout in tot jy sien die vuur is bo uit. Dan maak jy die bekke oop dat die oond kan afkoel. Dan haal jy die stene uit en hou maar so aan tot 100,000.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Kalkbrand, stene en kole (Bladsye 131-136) 

[1] (R I 11) Hugo Lemcke

[2] (R II 1-2) Hugo & Grieta Lemcke

[3] (T I 10) Albert Lemcke

[4] (T II 1) Albert Lemcke

[5] (T II 1-2) Albert Lemcke

[6] (T I 8) Albert Lemcke

[7] (T I 6-8) Thys Taljaard

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page