top of page

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van

die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

Vraag: Vertel vir ons wanneer het Tannie ingekom?

HL: Ek het eers die kinders deur die skool gesit en toe gekom, ons is in 1961 getroud.

 

Vraag: Ons wil graag die onderhoude nog in Engels ook laat vertaal sodat almal toegang het tot die geskiedenis, Ghanzi is besig om so verskriklik te verander né?

HL: Ek sê elke dag as die ou mense moet opstaan en sien wat is hier nou aan die gang …

PL: Daar het 'n teerpad gekom en selfone … Nee, dit was nou die dag gewees dat ons basies niks gehad het hier nie, nie eers 'n pad nie, en kyk waar gaan ons nou al heen.

HL: Ek kla nou die dag oor Spar toe sê my seun ek moet nie kla nie, want ons het 'n baie oulike Spar vir Ghanzi.

 

Vraag: Wie was Oom se pa?

PL: Joey Lewis

 

Vraag: Vertel asseblief vir ons wie is die Lewisse wat eerste ingekom het?

PL: My Oupa Louw-hulle het in 1870 ingekom en het ek hom geken, maar nie my Ouma nie. Ek weet ook nie eers waar sy begrawe is nie, daar naby Buffelshoek rond is sy begrawe. My Pa is gebore hierso in 1903. Daar was drie Lewis broers, Oom Piet was die jongste, dan my pa (Joey) en Oom Koos dink ek was die oudste. Hulle is met drie susters getroud. My Pa is met Sannie getroud en Oom Koos met Hannie, hulle was 'n tweeling gewees, en Oom Piet is met die hul suster Tannie Pop getroud.

 

Vraag: Van watter familie was die susters gewees?

PL: Hulle was van die Groblers wat in 1921 uit Angola uitgetrek het. Toe hulle daar weg is was my ma net 14-jaar oud en was sy een van die Angola Dorslandtrekkers.

 

Vraag: Het hulle almal hier gebly?

PL: My Pa, Oom Koos en Oom Piet het almal hier voor 1964, net voor onafhanklikheid, die land uitgegaan. Hier was 'n paar wat daardie tyd rondgegaan het, Karel Wyehe was een van hulle, wat gemaak het dat die die skool opgebreek het. Die boere het eintlik die skool gebou, 'n Pond vir 'n Pond. Andere was Kassie du Plessis en Oom Hendrik wat vir die mense gesê het julle moet julle kinders uitvat en terug trek, en baie mense het terug getrek wat regtig nie nodig was nie.

HL: Hulle volgende tuiste was meer Buhrmansdrift en Marico se areas waar hulle ingetrek het.

 

Vraag: Ek het 'n onderhoud met oom Bennie van Staden gaan hou in Buhrmansdrift in 1980?

PL: Oom Bennie is familie van my, ek dink my Ouma Aletta wat oorlede is was 'n Van Staden gewees.

 

Vraag: Nou wie was Oom Fanie, Oom Joop en Oom Piet Lewis van Oom gewees?

PL: Ek en Joop is broers en hy bly nog ook hier op Ghanzi, die ander is almal weg.  Ons was tien kinders gewees, Joop was net ouer as ek. Chris was 7de en hy's sommer vroeg dood, daar is nog net twee dood van die tien en dit was die oudste suster en hy. Die ander hou nog almal vas, lewe nog.

 

Vraag: En Oom Manie is jou neef?

PL: Manie is my neef. Oom John en my Oupa Louw dink ek is broers.

 

Vraag: En ou Oom Fanie, is hy ook Oom John se seun?

PL: Oom Fanie is 'n broer van my Pa, hulle was net 'n klomp seuns gewees. Chrisjan is op Mafikeng dood, hy het afgetrek met bees en is toe daar dood.

 

Vraag: Die legendaries ou Chrisjan Lewis, het Oom hom geken?

PL: Ja, ou Oom Chrisjan het ek geken as kind. Toe hy dood is het ons op Dekar skool gegaan. Ons het daar by Oom Magiel en Tannie Annie (Taljaard) kamers gehuur en daar vanaf gestap Dekar toe elke oggend. Ons het sommer lift gevang by iemand daar om by die begrafnis hier te kom.

 

Vraag: Hoe ver het julle omtrent gestap elke dag?

PL: Dit was so 3-4 km gewees, elke oggend soontoe en weer terug.

 

Vraag: Hy was 'n moeilik ou oom gewees, lyk dit my né?

PL: Hy was 'n moeilike ou, maar ook 'n baie lieftallige mens ook. Ek weet rêrig nie hoe hy by my Oom John en Oupa Louw hulle inkom nie. As kinders wat hom geken het en daar by hom gekom het … as hy nou byvoorbeeld uitgaan om te gaan jag Grootlaagte-toe, dan laat weet hy vir ons om te kom, dan is ek en Joop daar, dan klim ons. 'n Paar keer het my Pa ook saamgegaan. Ons het eenkeer uitgery en die nag in die veld geslaap. Die volgende oggend toe ons verder aanry om te gaan jag kom Oom Chrisjan op 'n klomp Boesmans af. Hy was baie kwaad vir hulle gewees, want dit was hulle wat sy skape laas week gesteel het.

 

Vraag: So daar was wel maar onmin van tyd tot tyd onder die boere en die boesman?

PL: My Ouma, Oupa Louw se vrou, sy is dood van vergiftiging. Die vrou wat in die huis gewerk het, het haar met koperdip vergiftig. Die selfde nag het hulle nog weggetrek, geloop. Daai tyd is twee dae daarna begrafnis gehou en is sy begrawe. Toe het my Oupa-hulle, Oom Koos en Oom Chrisjan (wat dood is in Mafikeng) en my Pa die boesmans se spore gevat en hulle agterna gesit. Oom Piet was nie saam, want hy was nog kind gewees. Toe hulle op 'n kol naby die boesmans kom het my Oupa-hulle en Oom Chrisjan vir my pa en Oom Koos terug gestuur, want hulle sal hulle nou kry. Daai kan niemand sê nie, want my pa-hulle is toe terug gestuur.

                                                                                                                      

Vraag: Baie van die verhale sê net hoe goed het die boesmans en die boere klaar gekom en hoe hulle mekaar gehelp het. Die boere het gekom met goed soos suiker en koffie en twak en dinge en die boesmans het die boere gewys hoe om veldkos te eet? Dis seker nou daarna toe die boere begin diere kry het dat die boesmans begin besluit het diere is diere, dat daar probleme begin kom het?

HL: Dit was die nasie met wie hulle moes werk.

PL: Ja, hulle het maar 'n kwaal gehad al die jare nog om te slag. Kyk, dis 'n ding wat nog al die jare kom, van daai tyd af. Hulle kon nie 'n skaap of Nama bok uitlos nie en 'n bees moes hulle maar af-en-toe geslag het. Ek meen van ek my verstand het, het daai dinge gebeur. Baie kere is die polisie nie eers ingeroep nie, hulle is net gevang en 'n pakslae gegee en weer gelos. Ons was tien kinders gewees en ons het swaar grootgeword, maar ons het altyd genoeg kos gehad. Wild gesteel die het ons baie gedoen. Ek en Joop het geweldig baie wild gesteel in die Grootlaagte. Ek het daar van die grootste Eland bulle geskiet wat ek ooit in my lewe gesien het, wat ek nou nog nooit weer gesien het nie.

 

Vraag: Was dit wild steel, ek bedoel dit was tog 'n manier van lewe in daai jare?

PL: Dit was 'n manier van lewe ja, daar was nie eintlik so iets wat kan sê jy het dit nie wettig gedoen nie . Toe dit begin wettig raak dat jy permitte en so moes kry was dit te veel moeite en goed gewees, ons gaan haal maar net gou een.

 

Vraag: Want hier op die plase het die wild beginne skaars raak?

PL: Ja dit het begin skaars raak. Plekke het wild gehad en plekkie het nie wild gehad nie. Hier was geen Koedoes in Ghanzi nie, nie ene nie, nie 'n enkele Koedoe nie. Hier was Gemsbokke, Rooibokke, Waterbokke en so.

 

Vraag: Waarvan het mense inkomste gekry in die jare wat Oom Piet groot geword het?

PL: Room, dit was 'n room era. Die room is Gobabis-toe gery, kaseïen is van die afgeroomde dikmelk gemaak. Die goeie grade is verkoop en is Gobabis-toe en die lae graad het ons terug gehou vir diere voed, vir hoenders en varke. Dit was maar jou gereelde kos, as jy nie 'n bok het nie dan het jy 'n hoender of vark, en 'n vark is elke winter saam met 'n bees geslag, al die jare nog.

 

Vraag: Hoekom het die room era toe opgehou?

PL: Die grens met Bek-en-Klou was die groot storie gewees, want toe is die room Mafikeng-toe gestuur en toe maak hulle die grens daar toe, toe stuur hulle dit af na Lobatse-toe met die trein Francistown-toe, want hulle het ook 'n botter fabriek gehad.

 

Vraag: Ek was altyd verwonderd oor die room storie, Ghanzi is 'n droë gebied en die beeste hier is nie eintlik melkbeeste nie, so waar het die mense die room vandaan gekry?

PL: Jy het jou hele kudde gemelk, of hy nou bietjie melk of baie melk het. Hulle het ook melkbees ingevoer op 'n stadium. Hulle het baie Simmentaler ingekry en Pinzgauer en ook Red Polls. Simmentaler het ons ook nie ingevoer nie, ons het hulle sommer daar oor die draad gesit by Rietfontein, voor die plase deur die Odendaal-kommissie onteien is.

 

Vraag: Toe het die Herero's daar een of ander gebied gekry?

PL: Ja, hulle al die plase gekry. Ons het elke 16de Desember het die hele Ghanzi oorgegaan, waar die ou Rietfontein fontein was, waar die Dorslandtrekkers vir jare gestaan het. Daar's 'n klomp van hulle grafte daar. Hulle het jare daar gestaan, hulle het lande daar gemaak, eers geoes voor hulle weer aan gegaan het. Toe het ons nou later elke jaar gaan feesvier het daarso. Groot sports so drie dae aanmekaar, perdesports en perderesies en volkspele speel. Dit was 'n ding waarna uitgekyk is, 16 Desember. Van ek kan onthou het hy geloop tot na die grens gespan is nog, want hulle het vir ons 'n motorhek ingesit. Die plaas waar ek nou is daar teen die grens, die motorhek is nou nog daar, hulle het hom nou net heel toegemaak. Daai jare het ons nie trokke gehad wat perde kon oorvat nie, dan het ons net 'n seil oor die hek gesit en die perde oorgevat.

 

Vraag: So julle grens met Namibië was 'n motorhek, hoe wonderlik is dit nou nie?

PL: Was 'n motorhek ja. Die polisie waar Buitepos nou is het almal saam kom feesvier, want meeste van my ma-hulle se familie het daar gebly, die Groblers.

 

Vraag: Voor daar nou polisie was in daai dae, was daar gevalle wat witmense wettige aspekte moes toegepas word. As iemand jou ten na gekom het, wat het jy gemaak?

PL: Nie wat ek ooit van gehoor het of van weet nie, jy weet. Jy het maar 'n paar mense met bietjie geleerdheid of mense wat iets weet gevra om bymekaar te kom en die verskil is versleg, maar hulle sou sê jy skuld daai mens, dit was maar onder die mense self.

 

Vraag: Later het daar toe 'n Distrik Kommissaris gekom, kan Oom hulle onthou?

PL: Hier van Midgley af kan ek hulle onthou.

 

Vraag: Kon Oom Midgley se assistant onthou?

PL: Hier was vroeër jare baie min swartmense hier gewees, hulle het latere jare ingekom Kalkfontein-toe. Op 'n stadium, in Ghanzi self, was dit net die staatsamptenare wat hier gewerk het, hier was nie ander swart mense hier gewees nie, glad nie. Hier was ook niks swart boere hier gewees nie.

 

Vraag: Oom se plase was teen die Suidwes grens, was daar nie Herero's daar by Makunda nie?

PL: Daar was Herero's gewees. Charles Hill was ook nie swartmense nie, eers nadat daar beskawing gekom het, het hulle daar begin vestig.

 

Vraag: En Xanagas?

PL: Xanagas was daar niks nie, daar was nie 'n siel daar nie. Die ou rondpad loop daar iewers deur, Kangamel is een pan se naam. Daar het eers mense daar beginne kom toe die Lotterings daar 'n winkeltjie oopgemaak het. Toe hulle winkeltjie oopmaak was daar seker vyf of ses families daar gewees, wat daar geplak het.

 

Vraag: Was dit op Xanagas of waar?

PL: Nee, op Karakubis. Dit is almal punte wat putte water gehad het, vlak putte. Kalkfontein was fontein maar hy het ook gesak en toe het hulle hom later met die emmer geskep.

 

Vraag: Oom praat nou van die diere, die beeste. Gedurende die eerste drie trekke het die mense nie eintlik beeste saamgebring nie. Wanneer en van waar het die boere begin beeste inbring Ghanzi-toe?

PL: Die meeste beeste kom van Suidwes af. Daar het ook bees van die meer afgekom. Ek weet my Oupa het op 'n stadium redelik transport gedoen met 'n ossewa Swakopmund-toe, oor Windhoek. Hy't gaan vragte sout haal daar en soos wat hulle opkom met die sout dit verruil vir beeste en daai sout het opgegaan tot by die meer. Dit was 'n hele jaar se tog gewees.

 

Vraag: Het die familie saam getrek?

PL: Net partykeer, die familie op ou Kgoutsa moes kyk wat nou daar was.

 

Vraag: Van waar af het Oom se Oupa hulle ingetrek?

PL: My Oupa het getrek van Kimberley en hy en Cecil John Rhodes was nie goeie vriende nie. Die boere wat daai tyd gekom het min of meer geweet waar hulle gronde was, want hulle het destyds gery met 'n perd en 'n horlosie en bakens uitgesit.

 

Vraag: Ons het met oom Dick Eaton ook hieroor gesêls, want hy was mos die landmeter wat hier gewerk het toe. Hy het gesê dat die mense op 'n merkwaardige goeie manier nog geweet het waar hulle bakens is. Hy het ook vertel dat die opmetery meer menseverhoudinge as oor korrekte bakens gegaan het as dit sou lyk of 'n put of huis dalk moes uitgesny word in die proses.

PL: Hy het baie goeie werk gedoen Oom Dick, ek kon nie glo dat hy hierdie plase so kon ingepas het nie. Jy weet mos dat Cecil John Rhodes het hierdie plase uitgesit as buffer teen die Duitsers. Weet jy waar was die oorspronklike polisiestasie toe die Duitser ingekom het?

 

Vraag: Ons is nie seker nie. Daar is iewers 'n storie van 'n Duitse aanval, vertel ons bietjie?

PL: Daar was 'n aanval gewees en ek weet dat daar een swart Konstabel dood geskiet is. Ek weet dat my Oupa en Oom Koos het gegaan om te help om die Duitsers te keer. Ek weet Oom Koos-hulle het met osse gery toe nog, hulle't nie perde gehad nie, hier was nie perd hier nie, want perd het nie hier gelewe nie. Die grafter van die aanval en die fondasie van die ou polisiestasie is daar op ou Quagganai

 

Vraag: Was dit die polieskamp gewees?

PL: Ja, dit was. Dit is net van die pan af reg Wes.

 

Vraag: En Hardbattle was net hier 'n polisieman?

PL: Ek glo nie hy was hier polisieman gewees nie, hy was in die Suide. Daar by Charles Hill, net so entjie op die pad Mojani se kant toe, tien of so kilometer, daar lê 'n klomp Duitse grafte, ek neem aan seker almal met 'n staal kruis, daar lê seker vyftien of so.

Vraag: Was daar nie 'n veldslag tussen die Namas en die Duitser nie?

PL: Daar was baie ja, dit kan dit wees daai ook. Die Afikaner Jonker is 'n baie interessante boek, hy was heel heel vroeg in die geskiedenis. Hy het van die Kaap af weggedros as gevolg van Simon van der Stell wat hulle grondeise teengestaan het, waarna hulle begin moor en steel het en 'n baie magtige "force" geword het en hoe hy in Windhoek opgeëindig het.

 

Vraag: En na die room era, wat was julle bron van inkomste gewees?

PL: Bees smouse het ingekom en kom bees koop. Die toestand van die trekpad daai jare was ook dat jy konnie jong beeste vat nie, dit moes groot osse van 15-16 jare wees wat nege dae sonder water kon loop. Ja, hier van Ghanzi af na die water op Lehututu was die eerste water wat jy kon kry het. Dan moet jy water met emmers uitrek en die bees water gee. Jy kon hulle nie almal daar bring nie, jy moes hulle so twee kilometer uithou en dan moet jy net so paar-paar na die putte toe vat

 

Vraag: Het Oom Piet net vir jouself getrek of vir ander ook?

PL: Ek het vir ander ook getrek, maar die lekkerste was toe ek my eie bees kon trek. My eie trek met my eie bees. In 1982 was die eerste keer wat ek bees vir myself getrek het. Ek het baie bees getrek voor dit, baie. Ek het hierdie Kalahari-pad basies met my voet geloop, met 'n donkie gery, met 'n oskar gery, ossewa gery en toe 'n trekker en 'n wa. Later 'n lorrie of 'n bakkie gehad en toe die trok gehad en in 1982 het ek vir myself 'n vliegtuig gekoop. Die ou tannie het in Mafikeng gebly met die kinders en ek het was op die plaas.

 

Vraag: Met die beestrekke, is daar momente of 'n insident wat vir jou uitstaan?

PL:  Toe ek die eerste keer saam met my Pa getrek het,ek was nog kind, toe het ons van panne na panne so geloop en drinkwater moes jy karwei op pakdiere wat als moes dra wat jy by jou gehad het. Dit was of 'n donkie en later jare was 'n muil die beste ding gewees om mee te trek.  Ons het meeste in die nag bees aangejaag, want jy kon nie daai nege dae in die dag aanpak nie, die diere word dan te dors en kan dit nie hanteer nie. Bedags wei hulle en lê onder die bome stil en rus. As jy op 'n stuk afkom waar laat reën deurgekom het en die veld is groen dan hou jy hulle maar daar om bietjie van daai groen gras in te kry.

 

Vraag: Hoe het julle in die nag getrek sonder flitse daai tyd?

PL: Jy het 'n Carbide lamp gekry, hy was in twee dele gewees. Onder was 'n tenkie gewees waarin jy die Carbide klippe ingesit het en die boonste gedeelte het water in gehad. Dan het hy 'n kraantjie gehad wat jy moes opdraai dan drip dit op die klip. Dan ruik jy by die "nozzle" hier kom die gas dan steek jy hom aan die brand. Ons het nie baie van die lampe gehad nie, want dit het geld gekos en geld was baie skaars. Miskien twee of drie op 'n trek het almal gehad.  

 

Vraag: Het jy 'n voorleier gehad, want mense het vertel dat daar soms 1,000 beeste op 'n slag getrek is?

PL: Latere jare ja, maar daai jare het jy 250-300 gedoen, dan was dit nou baie gewees. Later jare was ± 700 wat die boorgate kon water gee. 'n Lekker trek was 500 bees. Jy het elke dag maar Swarthakke gekap en krale gemaak en dan het jy vure omgesit en by elke enetjie iemand wat die vuurtjie aan die gang hou. Bedags moet jy die bees maar altyd keer en bymekaar hou, maar jou nagte was soms baie sleg gewees as die leeus die bees bekruip het tot hier by die kraal en dan maak hulle skrik. Soos wat die kraal rond is so staan hulle op en hardloop daardie hele kraal en alles wat voor hulle is weg, die nag in. Dan moet jy 'n boom kry baie gou, jy merk al jou boom deur die dag al waar jy gaan staan, want as hulle oor jou kom gaan daar net 'n kolletjie bloed lê.

 

Vraag: Hoeveel Boesmans het Oom saamgevat op so 'n trek?

PL: Ek het altyd so ±30 gehad wat ek op 'n trip vat. Hulle loop so vier tot ses met perde voor en die beeste raak dit gewoond en loop agter die perde aan en dan het jy so twee op die kante en die res is nou agter. Die mense by jou moet gaan kraal kap en hulle moet die kos maak en ander goed doen en jy moes alles vir hulle ook saamry. As die trok nou by hulle kom, want hulle loop al vroeg in die oggende, dan maak die mense wat agterbly in die kamp alles bymekaar en sorg dat dit weer opkom. Hang af of jy genoeg vleis het anders gaan kyk hulle gou vir 'n wildsbok en dan kom die lorrie weer by hulle verby hier teen elfuur. Dan drink hulle almal water, gooi hulle sakke vol kaboem mielies en gooi 'n stuk vleis oor die skouer, want hulle maak mos daardie lang biltongs so aanmekaar. Hy draai daai stuk biltong oor sy skouer tot hy droog is en so loop eet hy hom op.

 

Vraag: Dit was toe die trokke daar was om aftetrek, hoe het julle voor trokke voorrade saamgevat?

PL:  Dit was alles pak gewees, pakosse, pakdonkies of pakmuile. Muile was skaars en baie werd en was baie goed wees. Jy het jou ryperd en elkeen het sy perd of muil of donkie waarna jy omsien. Daai tyd het die pad van panne na panne geloop en was daar duisende Springbokke op daai panne gewees. As jy voor gaan dan skiet jy gou 'n paar Springbokke vir vleis, want 30 boesmans eet 'n Springbok met elke ete op. Jy skiet half op jou pad dat jy nie hoef 'n pakesel moet uithaal om te gaan laai nie. Dan slag jy daar af en gooi die bokke op die esel of donkie se rug en vat hom weer kraal toe.

 

Vraag: Hoeveel dae was Oom se trekke gewees?

PL: My trekke van so 36-dae gewees. BMC gee jou 'n kwota vir daai datum en dan werk ek hom so terug waar ek moet slaap om nie meer as 25-27km 'n dag te trek nie, maar 36 dae later jaag ek in.

 

Vraag: Die beeste het einlik nie so kondisie verloor dat hulle moes staan nie?

PL: Bietjie later jare eintlik nie, maar vroeër jare moes hulle, dis hoekom 'n groot bees beter kondisie gehou het as wat die jong bees gehou het. Jy het bietjie kondisie verloor voor die boorgate gekom het.

 

Vraag: Maar nou wat van droogte jare as daardie panne nie water gehad het nie?

PL: Dan gaan jy vir die volgende een. Hulle het daardie jare gesit en kyk die weerligte, die ou mense, dan sê hulle dit reën daar by Kang en dit reent hier en dit reën daar, so op die name genoem, ons kon trek. En die meeste van die tyd was hulle reg gewees, dan het hulle gaan water kry. Dan is dit nie die hele pan wat water het nie, die panne het in die middel gewoonlik, so waar die water gaan staan en die wild hom nou al so bietjie getrap het, dan hou hy daar bietjie water. Jy kan dan nie die klomp bees daar in die pan injaag om te gaan suip nie, jy moet hulle maar terug hou. Dan maak jy gou 'n krip met 'n seil en twee houte, dan skep jy die water uit die pan uit in die seil in, want as daar twee of drie beeste daar deur is maak dit 'n hele modderspul daar en dan kry die ander nie water nie. Dit het tyd gevat om hom weer water te gee ook.

 

Vraag: Julle het nie ooit 'n probleem gehad dat julle mense lewens verloor het as gevolg van dors of so nie?

PL: Nee, ek het nie. Ek het nou later jare, hier in die 70'tigs ook, voor Mapalamaukwe nou water gehad het, getrek vir Bruwer se boorgat daar duskant Kang. Ons het so naby Mapalamaukwe rond nou 'n kraal gehad waar ons geslaap het. In die nag het bees geskrik en gehardloop en het 'n ou Kalahari gelê en skreeu 'n leeu eet hom op. Die leeu het hom om sy kop gevat waar hy gelê en slaap het, maar sy een tand het gegly en sy hele kopvel oopgesny, dit is net bloed. Die anderdag môre gaan ons agter die leeu aan om te gaan kyk. Ons loop en ek is op 'n perd en nog twee perde met mense. Die boesmans het toe die spoor en loop by die boom verby en anderkant is die spore net weg, hulle loop weer terug en weer by die boom het die een opgekyk en toe hol hy! Die ander een het ook gekyk en daar gaat hy ook, toe ek kyk sit die leeu so in die mik van 'n skuins boom en lê rustig en kyk die wêreld om hom. Toe skiet ek hom nou. Ons het nooit 'n leeu geskiet en 'n vel afgehaal en so aan nie, jy het hom net doodgeskiet om uit die pad uit te kry. Ons het wel Luiperds gesoek, as daar 'n kansie is en jy kry 'n vars Luiperdspoor, dan kry jy hom. Ou Osman Naidoo op Kang was 'n Indiër wat jou so £15 vir 'n mooi Luiperdvel gegee het.

 

 

PL: Ek het nie 'n krap of iets gekry nie …

 

Vraag: Het 'n luiperd by Oom op die perd geklim?

PL: Ja, so agterom, hy's mos maar 'n skelm ding. Hy spring toe op die perd van agteraf, maar die perd het hom toe afgeskop. Een slag was ek saam met Oom Koos, my Pa se oudste broer, toe jag ons ook Luiperd. Die Luiperd gaan toe in sulke ruie kort Swarthaakbossies in en ek sê vir Oom Koos hy moet nie daar ingaan nie, daai Luiperd is nou daar in. Hy was baie doof en ek skree vir hom en die Luiperd kom vir hom, die perd het nie omgedraai nie en tel half op, en toe breek die buikgordel en Oom Koos val af met die saal nog tussen sy bene. Die luiperd het weer gekom en toe skop hy hom toe met die saal weg en toe skiet ek hom toe. Ons gaan eenkeer daar na Oom Koos-hulle toe en Oom Piet kom ook, en ons almal gaan uit na Grootlaagte-toe, ons gaan nou jag. Hy het osse met die ossewa en ons het muile en donkies en perde gery, die het ons net gespan en hulle ry. Oom Koos-hulle het nou die osse 'n rukkie laat wei en bring hulle toe terug en maak hy hulle so aan die jukke vas. Hulle het die seil gevat en hom so oopgegooi soos wat die wa nou so staan en aan hom vasgemaak om te keer vir die Suidewind, daar vir almal bed gemaak. Die nag kom daar 'n Wolf daar in en hy maak daai osse skrik, die osse het die wa en daar gaat hulle met hom. Een ou val hier af en die ander hardloop daar uit … ons het nog dae daarna gelag daaroor.

 

Vraag: Het die mense baie bymekaar gekuier, behalwe nou vir 16 Desember?

PL: Ja hulle het nogal baie gekuier, in die Winter was daar ook groot kuier. As ons 'n bees slag word daar 'n vark ook geslag, daai vark is 'n hele jaar gevoer. Dan kom al die bure help vleis werk, dis 3-4 dae waarvan jy praat. Party het nog nie meulentjies gehad nie en wors gedruk met die horing, biltong gemaak en die beste gedeeltes word gekook en dan word daar geëet dat die bossies bewe. Dan kom kamp hulle almal daar en slaap so in die oopte met seile. Niemand het yskaste of tente met matrasse en goed gehad nie. Die Cooler wat ons gebruik het was vir die room. Dit was 'n geboutjie gewees met twee mure met 'n tenk water bo-op wat water oor die kole tussen die twee mure gegooi het.

 

Vraag: Ons het gister so geboutjie by Mma Burton se huis afgeneem, later was hulle gemaak met sifdraad en was baie effektief.

PL: Dis reg, hulle het later sifdraad alkante gesit en dan water gegooi, want dan loop hy nie uit nie.

HL: Die eerste aand wat ek by hulle nou aan die tafel sit en eet, dit was net voor ons troue, het ek toe hier Ghanzi toe gekom, en sy suster Lottie was die een wat altyd saam met ons was. Ek sit aan tafel en ek is skaam en ken niemand nie, ek sien die diep erdebakke wat die ou mense op die tafel gehad het vol kos en dink die mense eet darem baie. Dit is massas kos, hulle bring uit stampmielies, rys en gruis. Later die aand is ek toe nog honger, toe gaan ek en sy suster daar in die spens in met net sulke dik snye brood wat ma gebak het, toe vang sy ma ons.

PL: En alles het room in, al die slaaie en die kookkosse.

HL: Ek het met tyd aangepas, my mensies was dorpsmensies gewees van die Pêrel. My ma-hulle het in die Pêrelberg groot geword. Dit was 'n groot skok die manier van hoe hulle eet en hoeveel hulle eet.

PL: Ek het hom in Bulawayo raakgeloop.

 

Vraag: Wat het julle daar gemaak?

PL: Ek het daar gewerk en het die hele Rhodesië geboor. Die gate van Ramatlabama af op die spoor regdeur geboor tot daar watergate was. Daar was nie 'n inkomste hier nie, want hier was nie werk gewees nie.

 

Vraag: Van die mense het vertel dat hulle paaie gebou het en draad gespan het, vertel ons meer daarvan?

PL: My Pa was altyd iewers heen gewees en het altyd iewers gaan werk in Namibië op die telefoonlyne, en as daar 'n diamandekspidisie is dan is hy daar.

 

Vraag: Die kontant het eintlik nie van Ghanzi-af gekom nie?

PL: Nee, dit moes van buite af inkom. Na die room era was daar nie ander besigheid nie. Die roete Lobatse toe van hier af was amper drie dae gewees met 'n trok op daai ou pad. As die room op Lobatse kom dan lê die meeste in die bak al, so suur is hulle. Dit het eintlik nie gewerk nie, in die winter maande kon jy nog gaan, maar dan het jy nie melk gehad nie. Ek onthou van 'n Boeghols-af het jy room gekry.

 

Vraag: Dis reg, want die boesmans het 'n dans gehad wat hulle Boeghols geskree het. Ons het Braam het altyd gewonder wie was hy. Hulle het gesê  dit was 'n ou man, ou wit man?

PL: Hy was die eerste roomryer hier gewees. Tant Lena en Oom Albert-hulle en Tant Nelie behoort hom te ken. Hy het van buite af ingekom met so 'n 3-ton lorretjie om te kom kyk wat is wat hier en beginne room ry. Na hom het oom Tinkie Craill ingekom en na hom het Edmund Gower en Koos Snyman gekom.

 

Vraag: Hulle het maar die transport oopgemaak en hier begin?

HL: As die boere so stry kry, was die ou gesegde volgens Tannie Lena, dat die boere se roomkanne wil nie eers langs mekaar staan nie.

 

Vraag: Is daar nog enige iets wat julle aan kan dink wat belangrik is vir die jongmense om te onthou van vandag?

PL: Al wat ek kan sê is dat hulle nooit die genot sal smaak wat ons gesmaak het in ons jong jare nie. Die vryheid wat ons gehad het is net nie meer daar nie, samesyn en saamkom, groot Nuwe Jare …

 

Vraag: Wanner het die Nuwe Jare begin, die perderesies?

PL: So lank as wat ek maar kan onthou was dit maar altyd daar gewees. So op 'n kol het dit so half professioneel geraak met die jonger geslag wat volbloed perde en goed gehad het.

 

Vraag: Ek onthou op een resies was Oom Corrie en Willie de Graaf aanmekaar?

PL: As skoolkind het ek vir Oom Chrisjan gery. In Gobabis het ek vir die ou wat 'n resiesbaan net so buitekant die dorp gehad het vir drie jaar agtermekaar die Windhoek hoofwedren gewen, met dieselfde perd op 'n sandveld. Ons kon nie naweke huis-toe kom nie en in Junie maand het jy miskien 'n week van die drie weke by die huis gewees, dan is jy weer terug. Daar was 'n matrone wat by die seunskoshuis in Gobabis gekook het en deur haar het ek nou naweke saam met hulle gegaan perdeplaas toe.

 

Vraag: Van perde gepraat, wanneer het die eerste perde Ghanzi toe gekom?

PL: Dis baie laat gewees dat perde ingekom het. Ek weet my Pa het ons eerste perde ingebring van Namibië-af. Ek was seker so twaalf- of dertienjaar oud gewees toe het hy vir ons perde gekry. Eers was dit net donkies en toe het ons vir ons muile geteel. Van die perde wat hy ingebring het, het seker driekwart van hulle gevrek. Perdesiekte was baie kwaai daai jare en daar was nie eintlik inspuiting daarvoor gewees nie.

 

Vraag: Het julle groot stories gehad oor longsiekte of bek-en-klou?

PL: In Ghanzi was daar nog nooit longsiekte of bek-en-klou gewees nie, maar ons is altyd toegemaak. Ons is die eerste wat hulle toemaak. Ek het 'n storie wat my Pa altyd vertel het. 'n Veearts het hier vanuit Ngamiland-af gekom en toe hier by die boere kom beeste kyk. By my Oupa het hy 'n jong tollie laat vang, hy wou seker bek kyk, en het toe die bees se tong afgevee met 'n sakdoek om nou mooi te kan sien. En toe hy wegruk toe skiet hulle die tollie dood, want hulle het gesê nou het hy bek-en-klou seer gedra hiernatoe.

 

Vraag: Kan julle ons dalk meer vertel van die Marnewijks?

PL: Oom Johny Marnewijk-hulle was lank hier gewees, maar hulle familie is hier op Kang. Ek het rêrig nie baie kennis van die Marnewijks nie. Ek weet ons is verlangs familie van die voorgeslagte.

 

Vraag: Dit klink vir my julle Lewisse het meer aan die Makoko kant van distrik gebly en die ander Lewisse?

PL: Die grens was op Dwaga gewees, daar by Dekar. Dit was die grens gewees van die Makoko's en die Naros. Jy weet tog dat hulle ook nooit met mekaar ingetrou nie. Hulle het maklik mekaar doodgemaak as hulle oor die grens gekom het.

 

Vraag: Dit het amper vir ons gelyk of dit ook die grens was tussen die Doppers en die N.G.'s?

PL: Ja, as daar iewers kerk was het ons almal altyd gegaan, maak nie saak of dit Dopper of NG was nie. Ek dink hier was meer Doppers, was hier nie?

 

Vraag: Ek weet nie, Oom Theunis Kotze was die leiers van die Doppers. Hoe het die skeiding gekom bly interessant vir ons en hoe het hulle gekies wie is wie, daar was mos nie eintlik gemeentes hier gewees nie?

PL: Nee daar was eintlik nie, ek weet nie. Meeste van die predikante het gekom van Kuruman en so en het hulle met die trein gery Windhoek-toe en is hulle van daar af so met perdekarre geskuif van een plaas na 'n ander kerk tot in Gobabis. Daar het een van die mense hulle weer gekry. So eenkeer 'n jaar het hier 'n predikant gekom en die kinders gedoop en die wat wil trou getrou. Die dominee mag dalk net eenkeer 'n jaar gekom het, maar hy het die inligting gekry van wie gaan dans het en al die skinderstories gehoor en daardie mense onder sensuur gesit.

HL: Ons mense in die kerk was meestal ou mense, korrelkoppe, en musiek is so 'n wonderlike ding, ek is mal oor musiek? Jy sien mos my hoëhakskoentjies wat daarso so staan, dit was my laaste paar dansskoentjies.

 

Vraag: Nou waar het mens hier gedans in Ghanzi?

PL: Hulle het maar almal voorhuis gedans.

HL: Toe ek daai tyd hier gekom het was Kalahari Arms al darem hier gewees.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Piet & Hilda Lewis, Junie 2016

(Opname PL1-PL3)

PIET & HILDA LEWIS

as jy enige kommentaar oor die onderhoud het.

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page