top of page

Klara Potgieter

Geskiedenis is nie net oor dinge van die verlede of oor mense wat nie meer daar is nie. Geskiedenis word gemaak, elke minuut. Die jaar 2020, wat vir baie so vol verwagtinge aangebreek het, het in Ghanzi begin met geboorte van verskeie nuwe babas, terwyl nog ander in verwagting was. Van oorsee af was daar reeds gerugte van ‘n virus wat uitgebreek het in China, maar niemand het dit ernstig opgeneem nie; dit was vêr van Afrika af en nog verder van Ghanzi. Min het enigeen vermoed dat die hierdie einste Covid-19 virus so ‘n groot deel van ons nuwe geskiedenis sou word, en veral so’n invloed op die verwagte nuwe aankomelinge sou hê!

Vyf maande in die nuwe jaar in, veilig terug by die huis, is dit reeds geskiedenis dat vir twee dogtertjies van Ghanzi, die COVID-19 virus reuse uitdagings gevoeg het by die reeds besondere mediese probleme wat albei moes oorkom. Steeds prys familie en vriende die Vader vir die lewe van albei hierdie twee wonderwerkies. Klein Klara Potgieter van Manie en Willie Potgieter (gebore .. Maart 2020), en klein Hester Sophia Kempf van John-John en Zoë Kempf (gebore ....2020) se stories oor 2020 en die virus, sal altyd sy aan sy vertel word in Ghanzi.

KLARA POTGIETER:

Manie en Willietjie Potgieter, se tweede kind, Klara, word voor geboorte in 2019 reeds met TGA,(Transposition of the great arteries) gediagnoseer. Die ouers hoor dat dit iets is wat opgelos kan word, maar dat dit ‘n 6 tot 8 ure operasie sal behels en dat dit alleenlik in die Kaap gedoen kan word.

Die Potgietergesin word swaar getref toe Willietjie in haar 31ste week van swangerskap pre-eclampsia ontwikkel. Sy moes dringend uitvlieg Kaap toe en is onmiddelik met haar aankoms in die Christiaan Barnard Memorial Hospitaal, opgeneem. Die dokters en personeel het reeds die teaters in orde gehad, maar met die eerste ondersoek klop Klara se hartjie so sterk dat hulle besluit om haar ‘n regverdige kans op lewe te gee.

Dit was al of sy wou sê:” Hier is ek!”

Vir weke veg Willietjie in die hospital vir haar en Klara se lewens. Die pre-eclampsia bring geweldige hoë bloeddruk, hoofpyne, protiëne in die urine en geweldige swelling as gevolg van vog opbou. Ten spyte van asemnood en ongelooflike ongemak kry Willietjie bo-natuurlike krag om uit te hou tot Klara bietjie groter is, om haar sodoende ’n beter kans op oorlewing vir die groot operasie te gee.

In haar 35 ste week van swangerskap ontwikkel haar toestand egter in “eclampsia” en sy begin soms haar bewussyn verloor en swel so dat sy nie uit haar oë kan sien nie. ‘n Senior suster kom sê , “ Jy het jou kant gebring, ek het nog nooit soiets gesien nie, vandag moet hulle ingryp!” Sy vertel toe ook, ”Weet jy ,mev. Potgieter, ons het gereeld bymekaar gekom en vir jou gebid, want nog nooit in die geskiedenis van hierdie hospitaal was daar iemand met 7+ protiene in die urine en so ‘n hoë bloeddruk, wat nog vir soveel weke kon uithou nie.”

Op 16 Maart 2020, word Klara dus met ‘n keisersnee verlos. Vandat sy die lig gesien het, was pyn haar volle werklikheid. Dr. Pribut red haar lewe onmiddellik na geboorte, deur ‘n ballonnetjie deur aorta te stuur en so word TGA bevestig. Sy is egter nog te klein vir die operasie en haar lewe hang aan ‘n draadjie. ‘n Week later is sy iets sterker en op 36 weke, kry Klara ‘n ope-hartoperasie uitgevoer deur die bekende Dr. Susan Vosloo.

Die 6 ure operasie was ‘n sukses maar die volgende ure en dae steeds krities. Die operasie was so ingrypend op die ou premature babatjie, dat sy dubbel haar grootte swel en aan masjiene gekoppel is. Die klein vegtertjie veg egter terug en drie weke na haar geboorte, mag haar ouers haar die eerste keer vashou. Sy vorder mooi, maar moet nog ‘n maand lank herstel in die hospitaal se Intensiewe Sorgeenheid.

Die drama rondom geboorte en operasie was reeds traumaties vir die hele gesin, maar daarby was die bykomende spanning op Manie en klein DeGraaff, wat sonder Willietjie moes klaarkom en altesaam ‘n volle drie maande weg van die huis af moes deurbring.

Tussendeur alles, breek die Corona virus in volle sterkte in Suid-Afrika uit, en die Weskaap word kwaai getref. Dr. Vosloo stem saam, dis beter dat hulle so gou as moontlik moet huistoe. Klara se operasiewond sukkel nog om gesond te word, maar toe hulle hoor hulle kan huistoe, sien hulle vir alles kans. Daar is nog ‘n gaatjie in die hart en die dokters dring aan om Klara weer oor 6 maande te sien.

Hier stem hulle verhaal weer ooreen met die Kempf-gesin. Albei gesinne kon na ‘n lang adminstratiewe gesukkel ‘n ooreenkoms met die owerhede bereik dat hulle toestemming kon kry om huiskwarantyn te doen in Ghanzi. Hierdie tyd is pas verby en wat ‘n heuglikheid vir al die familie om hierdie twee baie spesiale dogtertjies, Klara en Hester, te kan ontmoet!

Hiermee 'n paar aanhalings van Klara se Mamma se eie woorde, vanuit Kaapstad gedurende die beproewingstyd:

"Hande lappe is af en groot pleisters van wond af. Sy gaan bietjie meer melk van vandag af kry. Dr Pribut sê sy doen baie baie goed. Toe vra ek waneer kan sy huistoe toe sê hy as sy mooi op eie kan drink, wat blykbaar 'n challenge kan wees. Maar ons glo sy gaan vinnig leer suig.

"Ek, Manie en DeGraaff wil baie dankie sê vir almal se liefde gebede en boodskappe. Julle is wragtag almal special en ons nie geweet daar is soveel liefde en omgee van die wêreld af nie. So so so dankbaar vir almal. Baie dankie"

 

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page