top of page

BEESBOERDERY

Druk & deel asb. die artikels

met ander

Die eerste nedersetters is ingebring om boere te wees - beesboere volgens die veldse

geaardheid. Maar soos ons weet, was hulle in die begin eerder jagters gewees en het later meer geld gemaak deur met ander mense se beeste in verskeie rigtings te trek. Beestrekke het selfs ‘n leefwyse geword. Beesboerdery is ook baie beperk deur die voorkoms van veral gallamsiekte, en dit was eers nadat entstof daarteen in die veertigerjare beskikbaar gestel is, dat beesgetalle begin styg het. Tog het meeste boere wel beeste aangehou in veral melkproduksie en vleis en vellebehoeftes. Die eerste boere het nog min geweet van teling en verskillende rasse, en het maar met verloop van tyd die gehalte van kuddes verbeter. By gebrek aan betergeskoolde arbeiders was dit gewoonlik die jong seuns se taak gewees om te melk, water te gee en bymekaar te maak waar daar tot in die 50’erjare nog nie kampe was nie. Gevolglik was ry perde ‘n vername deel van die beesboerderye. Die voorsiening van water deur middle van panne, putte en later windpompe en boorgate was natuurlik ook ‘n integrale deel van beesboerdery.

 

Runderpes by die draai van die pes het baie skade veroorsaak. Van die eeste trekkers se trekosse het bv. gevrek by Maritsane en Pitsane en dit het hul koms vertraag. Jan Burger het vertel van runderpes voordat die Kotzé trek Mier in die Kaapkolonie verlaat het in 1914. Ene Nols van Zyl het bv. al sy beeste daar verloor.

 

Om met beeste te spekuleer of oor grense te smokkel, en om velle te smous, selfs om met beeste te trek, dit was alles onderafdelings van beesboerdery. Die kwaaibek – en klousiektes wat periodiek beheer moes word, was eintlik ‘n uitkoms omdat dit werk verskaf het. (Baie later het boere dit byna verwelkom omdat getalle vermeerder het as gevolg van beperkings op verkope!) Uitgeslape mense van die suide het met spekulasie geld gemaak, bv Burton. Ondernemende mense soos Hugo Lemcke het in die laat-dertigs en veertigejare so op die been gekom.

(1) Soos reeds genoem, was bees watergee ‘n belangrike deel van elke dag. Cassie van Heerden vertel dat, as hulle die volgende dag iets dringends sou moes doen, hy en sy broer die vorige nag eenuur opgestaan het om die koeie te gaan melk – in die donker. Teen ligdag het die beeste al water gesuip en was weg veldtoe. Water is met ‘n tou uit die put gedraai en dan in ‘n krip gegooi daar langsaan.

 

(2) Hugo en Grieta Lemcke vertel waarderend van die Jood Sam Silber wat in die 30’erjare baie boere, ook van Ghanzi deur die bek-en-kloutyd gedra het. Hugo sê dat Silber nie bekommerd was nie en later vertel het dat hy al sy skuld teruggekry het. (Laterjare het Wally Vize ons en andere ook vir 3 jaar gedra op Ghanzi.)

 

Die tydperke oorvleuel, ons praat nou van die depressietyd, die groot droogte en boonop bek-en-klou, alles in die vroeë dertigertyd. Ek groepeer dit saam omdat motorvoertuie nog skaars was. Die Lemckes het bv. eers daarna begin lorrie transportry. Hugo vertel dat mense soos Jan Burger, Magiel Taljaard en die van Stadens vir 1/6 per dag pik-en-graaf gewerk het op die paaie. Hulle rantsoene was kaboemielies. ‘n Dokter het eenkeer vir hulle klere gebring. Die bek-en-klou het 3 jaar aangehou en die hele Ghanziland se beeste is geënt.

 

Hugo vertel dat hy 300-350 koeie per jaar verloor het agv droogte en gallamsiekte. Toe vir gallam geënt is en hulle kon begin lek koop, het dit gou beter gegaan. Hy vertel ook van ‘n Marnewijk wat op skuld 400 jongbosse by Ngamiland se Grieke gekoop het om op Kobe te boer. As gevolg van bek-en-klou kon hy nie sy skuld betaal nie en het alles verloor. Daar was nie kampe nie, mens se beeste kon orals wei en suip. Na die bek-ek-klou het Albert en Hugo begin spekuleer.

 

‘n Belangrike aspek van beesboerdery in die vroeë jare, was Burton se gebruik om beeste, koeie aan sukkelaars te gee vir oppas. Hulle kon die melk gebruik, seker die velle ook, en het ‘n paar kalwers gekry as vergoeding.

 

(3) Hugo Lemcke het beessiektes gelys. Behalwe gallam en bek-en-klou kom mietsiekte en sponssiekte in Ghanziland voor. Daarvoor kon geënt word, maar vroeër was daar ander rate. Party het geglo aan ‘n bokram by siek kalwers, of om ‘n siek kalf wat gevrek het, in die hek te begrawe. Hugo self het geglo aan ‘n stukkie lyn in swart teer gedoop wat deur ‘n gaatjie in die keelvel getrek en geknoop is. Mense soos die bekende Chrisjan Lewis, Grieta se pa, het van sy trekosse met kalk gedokter as hulle oppad bek-en-klou gewys het. Na ‘n paar dae kon hulle verder trek. As mens miltsiekte vermoed het, het mens ‘n bessielat se blare afgestroop en ‘n siek bees oor die rug geslaan tot bloedkolletjie begin uitkom het. So ‘n bees sou nie vrek nie … Wat vir sponssiek gehelp het was om die kalwers se kraal te skuif.

 

(4) Hugo het vetel van perdesiektes ook. By nuwe siektes het vuilgoed by die neus uitgeloop. As so ‘n perd hard gery word, word hy gesond. Maar vir erge gevalle kon mens die perd rook van skoorsteen laat inasem. Vir perdesiekte moes die perd later geënt word. Voordat lorries en bakkies algemeen was, het boere hul perde op stal gehou. Mense het geglo dit was skuimbolle in nat gras wat dit veroorsaak het, en perde moes op stal bly tot die dou opgedroog het.

 

(5) Albert Lemcke het vertel dat ‘n wilde perd ewe mak sal huistoe kom as hy byvoorbeeld perdesiekte kry. Entstof was so vanaf 1930 beskikbaar, maar Albert het gereken dis maar ‘n kansvat, ‘n perd sal steeds vrek van perdesiekte, en hy het min geglo aan die gebruik om ‘n perd op stal te hou. “Op oulaas kry hy ook maar die perdesiekte en vrek!”

 

(6) Booy Kotzé het vertel van die dae voor entstowwe, toe hulle maar rate teen beessiekte by die Swartes gekry het. Dit was veral vir gallam en stijwesiekte gewees. Hy ken nie die naam van die bos nie, sê dis lang goed sonder blare wat op groei. Die ranke is nat, byna soos ‘n swart storm. Die lote is gekook en vir die beeste ingegee. As kalwers sweetsiekte gekry het, het hulle hoendereiers geklits en met ‘n bietjie water ingegee.

 

(7) Thys Taljaard het vertel van boerderye op oop plase. Hy het die eerste draadkampie in 1932 op Dekar gespan. Hulle beeste het tot by Uitkoms gewei en omgekeerd. As dit gereën het, het die beeste tot by Joop Lewis se grootbrak geloop. So drie- of vieruur se kant het hulle opgesaal en die beeste huistoe gebring. Die groot probleem was gallamsiekte. As ‘n koei vrek sit mens met die kalfie. Op Dekar het eenmaal 100 jong kalwers van sponssiek gevrek. Beeste ouers as 3 jaar was immuun teen sponssiek. Dit kan 2-3 maande duur om entstof deur die Kalahari van Onderstepoort af te kry.

 

(8) Fanie Lewis het getwyfel aan die sogenaamde lamsiekte, en het eerder vrektes toegeskryf aan tekorte in die grond of weiding. Hy het ook gewonder of dit minder voorkom (in 1980) omdat dit ‘n bietjie “uitgeboer” is. ‘n Fosfaatlek of beenmeel sal genoeg aanvulling wees, want ‘n bees soek wat hy nodig het. Dit het hom jarelank opgeval dat die beeste in Ngamiland nie gallam gekry het nie. Hulle – die Swartes – het nie velle en bene gebrand nie, dit het rondgelê. As mens beeste daarvandaan Ghanzi toe gebring het waar bene opgetel word, het hulle binne drie maande begin kalkklippies optel om te eet. 

 

(9) Omdat getalle nie wou vorder nie, Het Fanie Lewis baie beeste gekoop en uitgejaag na Kasangwela. In die 30’er en 40’er jare het hy maar 10/- tot £2/10/- vir ‘n bees betaal. Daarteenoor het hy £4 p.m. verdien! Hy het vir ‘n Jood, ene Suzman, gewerk as opsigter oor die beeste wat hy laat uitjaag het. Kazangula was sy enigste mark, maar Fanie het nie geweet wáár Suzman laat slag het nie.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:

(Bladsy 107 – 112)

 

(1)     (I I4-5) Cassie van Heerden

(2)     (Q I 1) Hugo en Grieta Lemcke

(3)     (P I 2) Hugo Lemcke

(4)     (P I 7-8) Hugo Lemcke

(5)     (U II 5) Albert Lemcke

(6)     (W II 7) Booy Kotzé

(7)     (X I 10) Thys Taljaard

(8)     (G I 8) Fanie Lewis

(9)     (G I 9) Fanie Lewis

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page