top of page

Onthou om die geskie-denis te deel ... 

Vraag:  Vertel ons van die trekkers, hoekom julle Palapye om is?
TM:  
Man, hulle was nie meer tevrede hierso nie. Toe kry hulle sin om weer terug Ghanzies toe,

want hulle het daar gewees en gesien. Toe besluit die klomp wat teruggetrek het hiernatoe, hulle

gaan weer terug. Toe kom hulle bymekaar, en toe vat hulle die tog.

Vraag:  Dis nou Maun om, né?
TM:  
Ja, Maun om, toe gaan hulle so om en toe kom hulle daar en daar het hulle vir hulle plase gekry. Elkeen het vir hom ‘n plaas gevat en hulle het maar begin boer. Hulle was afgesluit van als.

 

Vraag:  Was daar toe al mense Tannie?
TM:   
Nee, net Boesmans. Daai Swartes, hulle het jare daarna eers daar gekom. So Ghanzies behoort aan die Boesman, nie aan die Swartes nie, al speel hulle vandag daar baas, dis die Boesman se grond. Ek was al amper tien of twaalf jaar voor die eerste Swartes daar ingetrek het, die Kalahari’s en die Rolongs. Verder was dit net Boesman wat onse mense daar gehad het. En daar was tye gewees wat daardie mense nie ‘n stukkie kos gehad het nie. Maar het toe nou vir hulle koeie gekoop en dat hulle die melk, dan gee hulle die vir die kindertjies om te eet, totdat hulle dan weer in Tsau kom waar hulle kan mielies kry. Dit was toe nou die naaste plek waar hulle kon mielies koop. Nouja, toe hulle nou mielies had, die het hulle self bewerk. Elkeen het ‘n ou meuletjie gehad wat voor aan die wa vasskroef, dan maal hulle dit op, hulle stamp dit en kook stampmielies, hulle maal dit, maak hulle pap, dit was hulle kos. Brood en suiker en goed het hulle amper niks, Gobabis was toe nou die naaste plek waar hulle soiets kon sien. As daar iemand is wat dan met ‘n smous inkom met soiets, dan koop hulle nou maar vir hulle ‘n bietjie, ‘n stukkie klere vir hulle en die kinders.

Vraag:  Was dit in 1900 rond, of na die oorlog?
TM:
    Man, dit was omtrent so in die oorlogtyd, die wat hulle se die Boere oorlogtyd. Dit was die tweede keer dat hulle getrek het.

 

Vraag:  En die heel eerste keer, het hulle maar die plase laat lê? Netso laat lê? 
TM:  
 Ja, ja hulle het daardie tyd vir hulle daai plase gekies en gebeginne daarso, maar hulle het dit toe laat lê, net so laat lê en weer teruggekom. Toe’t hulle maar weer net so teruggetrek na die plase toe, en daar gaan bly het. Toe het hulle vir hulle beginne diere aanskaf.

 

Vraag:  Nou hoekom het hulle teruggetrek nadat hulle die eerste keer daar was?
TM:  
 Nee, hulle het toe maar net besluit hulle sien nie kans vir hierlangs nie, daardie is ‘n vryer wêreld as wat hier is.

 

Vraag:  Nou hoekom het hulle die eerste keer van Ghanzi teruggekom?
TM:  
 O, ek kan nie sê nie, hulle het maar seker … te woes gewees en alles … te vêr van alles af, ek dink so.

Vraag:  Wanneer was die eerste keer omtrent, was dit nou lank voor die oorlog?
TM:  
 Man, die heel eerste keer kan ek jou nie sê nie, maar die tweede keer weet ek was in ‘05 gewees. Ek was net ‘n maand oud toe hulle die tweede trip aangepak het.

Vraag:  Het hulle lank hier gebly na die eerste keer?
TM: 
   Nie te baie lank nie, ‘n paar jaar. Jy weet, dit lyk vir my die ou mense het ‘n trekgees gehad. Hulle kan net gaan slaap, die een het net gedroom van ‘n plek, dan trek hulle môre algar saam.

 

Vraag:  Wat van die eerste trek hier van Palapye af toe die osse so opgevrek het?
TM:
    Dit was nie hulle nie, dit was ‘n ander trek gewees, die wat hulle gesê het die Dorslandtrek. Daar was van hulle wat Ghanzies deurgetrek het, daar oor Rietfontein en hulle is sommer reguit Angola toe, die heel eerste ou trek, maar hulle het algar Angola toe gegaan. Daar het niemand van hulle agter gebly nie. Daar’s baie van hulle dood aan Malaria, die eerste ou trek. Dus kan jy kan maar sê my pa en my ma was van die tweede wat in Ghanzies beginne woon het.
Krisjan: My ma sê daar was van daai Dorslandtrek ‘n meisiekind gewees, sy was dors en toe vat sy haar beker en sy stap agterom die wa en sy sê: “Here gee tog vir my drinkwater”, en daaiselfde tyd dat sy die bekertjie houvas, toe sterwe sy van dors.
TM:    Dit was hier by daai koppies langs die pad van Maun, sy’s daar dood.

 

Vraag:  Daar was seker nie ‘n druppeltjie water naby nie?
TM: 
   Ehe, net op Daggakamp, daai spoor, dit was omtrent al water. Die boere het beginne grou, party plekke was nogal gelukkig gewees. Hulle het baie gou water gekry … sommer vlak.

Vraag:  Wat was die name van die mense van die trek wat daar gaan bly het?
TM:  
 Man dit was Van Stadens, Van Heerdens, dit was die Drotskys, Taljaards, Van de Wesse (Wessels?)

Vraag:  Was hulle almal min of meer familie van mekaar?
TM: 
   Nee, hulle was nie almal familie nie, hulle was nou maar net op trek gewees.

Vraag:  Van Rustenburg en van Mafeking af?
TM:
    Ja, ook nie eintlik van Mafeking af nie, van Buhrmansdrif.

Vraag:  Nou het hulle met ossewaens getrek?
TM: 
   Ja, hulle het nie eers genoeg osse gehad nie want hulle het koeie ingespan.

 

Vraag:  En met trekveë saam met die ossewaens?
TM: 
   Ja.

Vraag:  Nou waar het hulle water gekry vir die diere?
TM:  
 Langs die pad was … jy weet dis mos riviere en goed as jy afgaan Maun toe, hulle het al langs daai een groot rivier getrek.

 

Vraag:  En vir daardie laaste skof Ghanzi toe, het hulle maar gedink daar sal water wees of het hulle maar gehoop … ?
TM: 
   Hulle het maar gehoop … Kukes het darem water gehad. Daar was een poliestasie gewees toe hulle daar gekom het die eerste maal.

Vraag:  Nou was dit Engelse polisie?
TM:  
 Ja, ek sal jou ‘n grap vertel. My stiefma sê wat sy ons vertel, sy was toe ‘n groot meisie gewees. Sy en haar suster, hulle het altyd net gewonder waar gaan hulle mans kry. Sy sê en toe hulle op Kukes kom daar ontmoet sy toe haar eerste man Austin Evans, hulle is toe daar … Sy sê langs die pad het sy Hooglied gelees, jy het seker ook al van daai grap gehoor, van die dat die meisies ek weet nie hoeveel, voor hulle ‘n jongetjie het, toe lees sy die Hooglied en daai derde Vrydagaand toe sien sy vir oorlede Oom Austin net soos sy hom daardie dag op Kukes gaan ontmoet het. Sy sê nog vir haar suster tant Martjie Brellie, jy het seker al van haar gehoor, nie gesien nie, van Maun, “Martjie, as ek met daardie ou man moet trou, dis ‘n ou man, sommer ‘n ou vette wat ek laasnag gesien het …” Sy sê en toe hulle op Kukes stilhou by die poliesstasie, toe kom die man, sy sê vir haar “Martjie, daars hy!”. O,  man dit was ‘n grap.

Vraag:  Nou hoe lank daarna het hulle toe maar getrou, of weet Tannie dit nie?
TM:  
 Wel, hy het toe seker ‘n hele tyd na haar gevry voor hulle getroud is.

 

Vraag:  Het hulle toe plase gekry en dan kom kuier hy seker maar daar?
TM:  
 Ja, hulle het toe maar vir hulle so plase gevat … daar waar die Vickermans bly … ek weet nie waar hulle juis bly nie, maar daar Serue, dit was my oorlede oupa van Staden se plek. En daar waar ou Hardbattle gebly het, dit was my oorlede oupa van Heerden se plek gewees.

 

Vraag:  So hulle het vêr ingetrek …
TM:  
 Ja, hulle het. Die jongmense het naderhand met donkiewaens ingegaan Suidwes toe. Dan ry hulle transport van Windhoek af Gobabis toe, toe was daar nog nie ‘n trein gewees of sulke dinge nie. Dan ry hulle transport van Windhoek af vir daardie mense in Gobabis met donkiewaens. Daar was maar net ‘n paar huise en ‘n paar winkels in Gobabis daardie jare.

Krisjan:  Nou vir watter van die eerste trek het die Kaptein van Maun ‘n wit os gestuur vir vrede?
TM:    Dit was vir algar, toe hulle nou daar gekom het, jy weet, toe het hulle gaan reg vra.

Vraag:  Dit was die eerste trekkers? 
TM: 
   Ja, die reg gaan vra by die Kaptein en toe vra hulle van hom af wat kan hy hulle nou gee as ‘n bewys, toe sê hy: “Ek stuur vir julle ‘n wit os, en dis my bewys dat julle kom in vrede in en julle gaan in vrede daar bly”.

 

Vraag:  Nou stuur hy die os toe Ghanzi toe?
TM: 
   Nee, daar waar hulle bymekaar gekamp het in Tsau, toe was daar nie ‘n Maun nie – ek was nege jaar oud toe die Maun gebeginne is. My oorlede pa en ek sal maar sê Tant Martjie Brellie se eerste man, oorlede man, en Oom Giel Petoors, die Petoorse het ook daai tyd ingetrek, hulle was die drie manne wat die eerste stene in Maun gelê het.

 

Vraag:  Dit was toe Tannie nege jaar oud was?
TM: 
   Ja, dit was in ’14, dis diesefde jaar wat my oorlede ma dood is.

 

Vraag:  Tannie was baie klein gewees né?
TM:  
 Ja, dan moet jy weet hoe klein was Oom Cassie …

Vraag:  En is Tannie se pa toe weer getroud?
TM: 
   Ja, vyf jaar daarna, toe is hy met my stiefma getroud. Dit was nou ‘n niggie van my oorlede ma gewees. Dit was toe die oorlede Oom Austin van wie ek netnou gepraat het se vrou, hy is toe dood, en snaaks op sy sterfbed toe sê hy vir haar “Nooientjie, as David na jou toe kom, vat hom, hy sal kyk na jou”. Nouja, en toe kom dit so dat hulle twee trou, en dit was toe met hulle oudste seun se geboorte dat my pa-hulle deur die Kalahari getrek het met ‘n wa en 500 beeste wat hulle aangejaag het. Nou moet julle weet toe is my oorlede ma 42 jaar en dis maar haar eerste kind, toe wou geen ouvrou haar daar vat nie. Toe kom my pa hulle met haar hospitaal toe, maar hulle rekening was ook uit gewees, maar gelukkig kry ons my ouma, my oorlede ma se ma, en haar jongste seun in die Kalahari. Van agter af ry ons op hulle af, kom hulle ook aan met beeste, toe trek ons so saam. En hier waar hulle sê Sekhuma (Koen) se groot vlak, net waar julle van anderkant sal uitkom, die nag, toe begin my oorlede ma siek word. En my oorlede Pa gaan roep toe vir Ouma om … hulle ry voor … en hulle het toe maar naderhand stilgehou en alles is daar gebeure en verby.

Oom Jannie Marnewijk se pa het ons ook raakgeloop. Ons kinders is algar by my oorlede Ouma se wa, toe hy sê: “Ek gaan nou eers kyk waar bly julle pa-hulle”. Hy is toe met die perd terug en toe kom hy by ma-hulle. Hulle sê vir hom: “Jong, julle het ‘n broertjie, maar hy lyk soos ‘n ou bloukopkoggelmander, net so groot!”. Jy weet hy was ‘n maand oud gewees en daardie tyd het die oumense nie kaal kindertjies gelaat los soos julle vandag nie. Hulle het al daardie lang klere gedra, toe weeg oorlede ma-hulle vir hom toe ons nou hier op Pitsani kom … met daardie klere weeg hy toe ses pond! Net so ‘n gesiggie … en (Martiens) hy was ‘n groot man. En jy kan maar kyk, laat hulle vir jou sê waar is Sekoem Vlak, net waar ons anderkant uit die bos uitkom. Daarvandaan het ek vir hom agter die wa gedra, toe nog op ‘n kussing … op my twee arms tot in Lobatse. So stap ek maar agter die wa, ek hou maar. Merendeel het ons altyd vroeg in die môre getrek en laat in die middag, so’t ek hom gedra tot in Lobatse, waar hulle die beeste afgegee het.

Vraag:  Nou hoe lank was die trek omtrent, kan Tannie nog onthou, hoeveel maande of so?
TM:  
 O, hy was omtrent so ‘n maand gewees, maar dit was maar ‘n paar dae gewees wat ons van Sekoem af getrek het Lobatse toe.

 

Vraag:  So dit het nogal vinnig gegaan!  Dit was met ‘n ossewa?
TM:  
 Ja, met ‘n ossewa.

 

Vraag:  Nou hoeveel kinders was Tannie hulle by die eerste vrou?
TM: 
   Vyf, en toe by die laaste vrou was hulle twee en nou is dit nog net die een wat lewe.

 

* * * * * * * * * * * * * * * * * * * *

 

TM:    Die dag het ons daar gekom, toe sê hy vir my oorlede Mammie, Oom Jannie Marnewijk, dat die leeu vir Oom Giel Vermeulen gebyt het. Hy het gegaan om die leeu te gaan skiet met sy hondjie. Hy kwes die leeu die aand en toe die anderdagmôre toe gaan hy weer op die spoor en die hondjie gaan om die bos, en toe spring daai leeu en hy het sy arm hierso … die arm was nie af nie, maar die vleis was fyngebyt gewees. Daar het my oorlede man hom toe gevat, Oom Jannie was vooruit met die perde, met die kar en osse agterna gegaan. Nou moet jy weet hy moes eers die osse in die veld laat span en Oom Giel opgelaai en gebring daar by onse huis. Daar het hy hom gedokter, elke môre daai wonde gewas en skoongemaak totdat hy so was dat hulle hom Suidwes-toe vat, Gobabis-toe, en toe het hulle hom daarvandaan af hiernatoe gestuur (Mafeking). Daardie arm was stukkend maar gelukkig ……

Vraag:  Waarmee het hulle hom verpleeg, waarmee het hulle hom gedokter?
TM:  
 Sommer met potaswater en botter, dit was al. Hy het hom maar met die potaswater en dettolwater gewas.

 

Vraag:  Wat is potaswater, ek ken dit glad nie?
TM:    
Dit het ‘n ander naam, dis sulke stukkies, dis pers.  (Kalium permangenaat, Condie’s Crystals) Daarmee het ons hom gewas, elke dag, en dan die verband aangesit.

Oom Bennie van Staden (Tant Martjie se broer) kom by.


OB:   Die eerste trek wat Ghanzi toe getrek het was in 1899. Die mense het daar gebly maar hulle het toe weer almal teruggetrek in 1902. Vroeër was die plase aan hulle uitgedeel, maar net een man het agtergebly, dit was ou Taljaard, hy en sy vrou was die enigste twee …
TM:    Dit was Oom Bennie se suster gewees ….

Vraag:  O, en wat was die naam gewees?
OB:
    Taljaard, Magiel Taljaard, hy was ‘n swaer van my. En toe in 1904 het hulle weer teruggetrek, maar die meeste het hier agtergebly, die was net …
TM:    Daar was nog vyf, toe ek gebore is. (Dit was in ’05, toe ek gebore is)
OB:   Party van die mense het weer teruggetrek, maar die meerderheid het die plase wat Cecil Rhodes hulle gegee het sommer net so gelos, hulle het nooit weer teruggegaan soontoe nie.
TM:    En die Magiel Taljaard, het hy toe ook teruggekom later?
OB:     Hy het teruggekom, hy moes teruggekom het hiernatoe, maar hy is toe weer saam met die trek terug.
TM:    Hulle moes net gekom het vir die geboorte van hulle oudste dogter, van Ghanzies af gery met ‘n wa en osse deur die Kalahari hiernatoe.
OB:    Ja, toe het die boere begin kliphuise bou daar en hulle het toe maar daar woonagtig gewees, maar ook maar nie daar gebly nie. Daar was geen inkomste vir die mense nie en hulle moes maar rondswerwe so. Party van ons het maar so op die wa-pad grootgeword. 

Vraag:  Het hulle met beeste geboer, of daar probeer boer?
OB:  
  Ja, beeste was daar baie, vee en so, maar daar was nie ‘n ander inkomste nie, dit was maar net die beeste, jy weet …
TM:    En daar was ook nie juis wat jy kan sê kopers gewees nie.
OB:    Soos baie het maar Transvaal toe gery. Toe het daar ‘n wit regering gekom, mense het daar winkels oopgemaak jy weet, Maun en daai plekke, toe het hulle darem die inkomste gehad van transport ry. Baie het ook daardie tyd Windhoek toe bees aangejaag deur die Kalahari om te gaan verkoop.

 

Vraag:  Wat was sy naam Oom?
OB:  
 Koos. Toe het ons maar so bees aangejaag, deur die Kalahari. In 1917 het ons weer getrek, het ons in Maun gaan bly. Daar het die 1918 griep wat die mense so dood aan is, daar het die griep ons gewikkel en is baie van my familie dood … twee broers en ‘n swear wat ons binne twaalf dae uit die huis uitgedra het.
TM:    Sy swaer en sy een broer is op een dag in dieselfde huis dood. 
OB:    Jy weet die ou mense was ook maar soos die Boesmannasie, die kan Krisjan julle seker ook vertel het. As daar nou so ‘n verlies is, dan trek hulle … toe het ons maar weer teruggetrek Ghanzies toe, en maar weer begin bees deur die Kalahari jag … toe was ek darem al groot.

 

Vraag:  Hoe oud was Oom toe?
OB:  
 Ek was, toe ons die eerste bees deur die Kalahari gejaag het, negentien jaar oud.   Toe het ek maar dwarsdeur bees gejaag deur die Kalahari tot in 1930, 1929, daardie jaar het ons baie swaar gekry. Dit was verskriklik droog, toe het die mense groot verliese, oorle Burton, ou Chrisjan Lewis. Daar is oor die 700 bees van hulle in die Kalahari dood, van dors. Ek was agter hulle gewees, ek en my oorlede broer, ons het ook 700 beeste gehad. Nou het ons so op die dooie beeste getrek, tot 35 onder een boom, jy weet, lê hulle dood. Ons was gelukkig, ek het maar een doodgeskiet op die Kalahari wat nie meer wou loop nie …

 

Vraag:  Maar hoe het dit so goed gegaan met Oom, het Oom-hulle ‘n bietjie reën gekry?
OB:  
 Nee, daar was gladnie reënt gewees nie ….

Vraag:  Nou hoekom het Oom se bees so goed gehou, het Oom stadiger getrek?
OB:
    Nee, kyk hulle het op Kokong daar by ‘n pan gekom, daar het die bees bietjie ongeduldig geword en toe seker die ou putjies water wat in die putte gewees het …  toe het hulle die bees begin jaag in die warm son met die perde. Hulle het net klaar gewees dat hulle nou weer in die pad is, toe begin die bees al ingee. Maar ek het om Kokong getrek sodat hulle nie die ruik kry nie, jy weet. Toe het ek nie weer bees aangeja nie, daar was toe ek by die water kom dat hulle nou drink agtien van hulle dood.

 

Vraag:  Van die baie drink of wat?
OB:  
 Dis teveel gedrink, hulle kry so ‘n soort van vuur in die maag, jy weet, as hulle te lank dors kry. Nou in 1931 het die Depressie begint, ’32 en ’33 toe’s ek weg uit Ghanzi uit, daar het ek toe gaan bly, en baie bees daar deur die ?? berge, daardie leeuwêreld deurgejaag.

 

Vraag:  Was Oom toe al getroud?
OB: 
   Nee, toe was ek nog nie getroud nie. Toe ons nog bees deur die Kalahari gejaag het, het ek later van tyd, was ek en sy … haar pa het op Lehurutsi ‘n winkel gehad.

Vraag:  Nou wie was haar pa?
OB:  
 Gower.
TM:    Sy en Oom Edmond-hulle was broer en suster.
OB:    Ek en hy was groot maats gewees, ons was nog altwee ongetroud. Toe agter die toe’t hy gaan trou … en ek het toe so lank gewag dat ek sy dogter gevat het.

Oom Krisjan Goosen (Tant Martjie se seun) kom by.


Krisjan: Dis daar dat Oom Edmond vir ons gesê het dat sy oorlede pa tot 10 sjielings vir ‘n maklossievel betaal het … in slagysters, dat hy spioene aangesit dat hulle moet kyk dat hulle nie moet verneuk nie. Hy sê dat sy oorlede pa op ‘n slag oor die 7000 pond vir daai klas tipe velle gekry het.

 

Vraag:  Dan smous hulle oor die grens, of waar?
Krisjan: 
 Ja, seker maar … so duur was hierdie maklossievel in daardie jare gewees.
OB:    Ja, in daardie tyd het hulle almal maar … soos tiervelle … klossievelle, jy weet, ‘n baie goeie prys vir hulle gekry.

Vraag:  Nou wie het die gekoop, die Engelse?
TM: 
   Jy weet daai tyd was dit die Engelse regering gewees.
OB:    Hulle het dit seker weggestuur oorsee … 
TM:    Daar gekoop en dan voer hulle dit uit … 
OB:    Ja, toe’t ek weer in … ek en sy is toe in ’40 getroud. In ’39 het ek haar hier in Ghanzies kom haal en het ons gaan trou.

 

Vraag:  Nou het Oom haar toe sommer onthou van daai tyd af?
OB: 
   Nee, ek het haar toe later ontmoet toe trou ek en sy … die ma en pa bygedam en vir hulle dogter gevra. Ons is nie in die kerk getroud nie, in daardie tyd het ons maar voor die magistrate getrou.

Vraag:  Nou waar in Ghanzi het die mens die gekry, was daar?
OB:
    Ons is in Maun getroud, nogal ‘n groot troue gehad. Daar was ‘n ou kerel, Riley, hy het portrette van ons gevat en hy het dit altyd oor sy bioskoop gewys … ons het baie keer gesien agter ons getroud is hoe’t ons gelyk.

 

Vraag:  My aarde, toe’t hy toe al ‘n kamera gehad, en dan wys hy dit vir die mense wat daar in die hotel kom?
OB:  
 Ja, hy’t so gemaak. Nes ons altemits in Maun kom, dan wys hy dit!

 

Vraag:  Nou hoe het Oom-hulle dan getrou, watse soort van ‘n bruilof was dit en wie het almal gegaan?
OB:  
 Die meeste was maar Engelse mense, daar in Maun, maar ek het hulle toe maar net ‘n partytjie gegee. Toe ons nou klaar is, toe vra hy ons nou daar na die huis toe, daar het ons toe nou ‘n danspartytjie gehad. Die volgende dag is ek en sy maar weer terug na die Noorde toe, weer daar deur die woestyn.

 

Vraag:  Het Oom daar gewerk of het Oom geboer?
OB:  
Nee, ek het daar begin vir hierdie saagmeulens werk, hulle het ‘n groot saagmeule gehad. Ek het vir hierdie Witwatersrand, hierdie Wenella vir vier jaar gewerk. Ek het daardie paaie van Francistown na Maun toe, al daardie paaie wat hulle vandag maar ry daar deurgesit deur die woestyn.

Vraag:  Dis wat Stefaans Lewis ook daar onlangs gedoen het, hy het ook vir Wenella gewerk.
OB: 
   Ja, toe ek nou trou, toe gee ek die job met hulle op en begin blacksmithwerk doen, weer daar in die Noorde. Ja, waens bou, daardie nasie het toe vreeslik baie waens van my gekoop.

 

Vraag:  Het Oom die waens self gebou?
OB:  
 Ja, die regte ou Voortrekkerwaens, jy moet maar kyk hoe die oumense rondgetrek het …

 

Vraag:  Is daar ‘n verskil tussen hom en die kakebeenwa?
OB: 
   Ja, die kakebeenwa is sommer so ‘n waentjie … 

 

Vraag:  O, hy het mos so ‘n lang tent … Nou hoekom is hierdie wa, is hulle aangepas vir die sand … ?
OB: 
   Al wat nou nog aan daardie wa kort, is die doodkis wat hulle altyd noem …

Vraag:   Dis pragtig Oom …
OB: 
   Die vrou het altyd in die tent gelê, en die man het voor gesit en dryf …

 

Vraag:  En die kinders, het hulle hier onder geslaap? … en ek hoor party kinders het glads hier onder die wa ook gehang.
OB:  
 Ja, daai mense, die hoenders, die hoenderhok het onder gehang … Agter was weer so ‘n velkuip gewees wat hulle die potte en goed in sit … die driebeen-potte. Die ou doodskis wat meeste van die tyd maar vol kos gelaai, meel en suiker ...

 

Vraag:  Hy het maar al die pad saamgegaan?
OB: 
   Ja, maar hulle is nooit in hulle begrawe nie. Die ou manne het altyd vir hulle ‘n doodskis gemaak, maar dan is daar altyd ‘n ander een wat in hom begrawe is. Ek weet nie van een wat in sy doodkis begrawe is nie!

 

Vraag:  Nou maar die doodkis, waar het hy nou gestaan?
OB: 
   Hy het altyd voor net agter die voorkis gestaan.

Vraag:  En as ‘n mens nou so getrek het, het mens elke aand ‘n sekere tyd gekamp?
OB:  
 Ja, vyfuur in die aand dan kamp hulle, dan trek hulle weer die oggend verder. Baie, soos hierdie laaste trek, het ‘n predikant ook, Ds. Geldenhuys.

 

Vraag:  Dis nou na die 1905 se trek?
OB:  
 Ja, dis 1905 se trek.

 

Vraag:  Nou die Ds. Geldenhuys, hoe het hy nou daarby gekom?
OB: 
  Hy het, ek weet nie hoe ‘n manier hy saamgegaan het nie, seker maar net om vir die mense kerk te hou altyd. Die eerste predikant wat ons in Ghanzi gehad het, agter hom was Ds. Conradie. Hy het toe lank daar gebly, ‘n jaar vir ons kindertjies skoolgehou daar sal ek nou maar sê, en kerkgehou.
TM:   Dit was sommer so ‘n klipgeboutjie opgesit vir die kerk en die skool.
OB:    Nou toe hy nou weg is het dit lank gevat voor ons nou weer ‘n onderwyser gekry het, dit was ‘n Coetzee en wat was die ander een?
TM:   De Villiers het op Khoutsa skoolgehou.
OB:    Ja, Coetzee het mos op Dekar skoolgehou. Ag, maar ook nie baie lank nie …
TM:   Die een wat op Dekar skoolgehou het, het maar nege maande uitgehou.
OB:    Dis al wat ek by skoolgehad het was by Mnr. Conradie en by hom.

Vraag:  Maar dit was mos vêr van die ander plase af, het Tannie-hulle gaan bly by die onderwyser of hoe?
TM: 
  Dekar lê nou net vier myl van Gobabis af. Daar waar Hugo Lemcke-hulle bly, daarvandaan het ons altyd geloop Dekar toe.
Krisjan:  Daar waar Hugo Lemcke-hulle bly, daar was my ma se broer en my oupa se huis gewees. Hy is nou reeds vervang.
TM:   Elke môre loop ons en die middag terug. Partymaal, af en toe as die osse nie weg is nie, dan span hulle vir ons die osse op en dan vat hulle ons weg. Die eerste onderwyseres was ‘n Labuschagne-meisie. Sy het saam met ‘n Petoors getrek na Maun toe, toe wil sy teruggaan. Ek sê toe vir haar nee, kom hou vir die kinders op Ghanzi skool. Toe vat ek haar daar en ek bring haar op Ghanzi, toe’t sy daar skoolgehou … sy was verskriklik kwaai gewees, sy’t die kinders … 
TM:   Dit was Edmond hulle se onderwyseres gewees …

 

Vraag:  Kan Oom nie onthou wat haar naam was nie?
OB: 
   Ellen.

 

Vraag:  Nou hoekom is sy uit Gobabis, wat het sy kom doen daar?
OB: 
   Die Petoorse en hulle vyf kinders het toe getrek Maun toe uit Serowe uit, toe’t sy saamgegaan, hulle het haar gekry om altyd vir die kinders skool te hou. Sy het ‘n jaar lank skoolgehou vir hulle kinders in Maun, toe’t ek haar kom haal Ghanzi toe.

Vraag:  Die dominee wat nou saamgegaan het oorspronklik, dit was nou N.G. mense né?
OB:  
 N.G., ja. Daardie tyd was die meeste mense maar N.G., die eerste trek ook.

 

Vraag:  Die trekkers?
TM:  
 Ja, sovêr as ek weet was hulle maar algar N.G.

 

Vraag:  Die klompie van Rustenburg se kant af, ook almal?
TM:    
Dit was algar gewees, dit was mense van daardie kant gewees wat toe maar net weer teruggetrek het.
OB:    Daardie tye was ook  maar so gewees, dis nie te sê in watter kerk jy meer is nie … so min dominees het kom kerk hou en dan is maar al die mense daar, jy weet, en van al die kerke wat daar is … 
TM:    Daar was nooit verskil gewees nie.

Krisjan: Sovêr ons kan verstaan, die oudste graf hier op Buhrmansdrif is Oom Bennie se oupa.

 

Vraag:  Nou, was hy ook saam Ghanzi toe?
OB:    Hy was ook Ghanzi toe maar met die terugtrek is hy oorlede.

 

Vraag:  Die terugtrek van die eerste trek?
OB: 
   Ja

 

Vraag:  Maar wie was hy nou?
TM: 
   Ook Koos van Staden

 

Vraag:  Nou waar is sy graf, hier op Oom se plaas?
OB:  
 Nee, net hier op die draai kan jy die grafte sien … Daardie trek was maar die meeste hier in Buhrmansdrif en Zeerust omtrek, jy weet, het maar die meeste mense gebly wat daai tyd afgetrek het soontoe.

 

Vraag: Nou het hulle nou ‘n leier gehad wat vir hulle besluit het: “Ons gaan nou trek”, of het hulle nou maar almal ondermekaar ontevrede gevoel met die toestande?  Dit was soos die Voortrekkers gemaak het met Potgieter en die ..
OB: 
   Nee, die eerste trek wat soontoe gegaan het was natuurlik die ou Cecil Rhodes, die beeld wat nou hier in Mafeking is, wat toe mos die mense die plase gegee het op Ghanzi.

 

Vraag:  Nou watter reg het hy gehad, hy was mos ‘n Engelsman?
TM: 
   Dit was mos die Protektoraat gewees.
OB:    Hy was eintlik ‘n Niemandsland, na regte moes Ghanzi vandag nog ‘n blanke land gewees het, dis wat Cecil Rhodes hulle gegee het. Hulle was ‘n groot trek, die eerste trek wat soentoe gewees het. Baie van die mense wat plase gekry het, het weer teruggetrek en nooit weer teruggegaan Ghanzies toe nie, die plekke sommer net so gelaat lê.

 

Vraag:  Die plekke was vir hulle te klein?
OB:  
 Nee, ek dink dit was maar meer van die inkomste, jy weet, daar was nie inkomste nie.

 

Vraag:  Hoeveel mense was daar omtrent in die eerste trek?
OB:  
 Hulle was seker oor die honderd mense.

 

Vraag:  Dis nou vrouens, kinders en almal?
OB:  
 Ja

 

Vraag:  Dit was ‘n groot trek?
OB:  
 Die tweede trek se mense het ek amper almal geken, jy weet, hulle het toe maar daar rond gebly en hulle het toe nie weer padgegee nie. Baie het later van tyd toe padgegee, getrek Rhodesië toe en so aan …

 

Vraag:  Ek spring nou bietjie, maar kan Oom-hulle die Craills onthou?
OB:    
Ja, Craills het later eers met verskillende trekke gekom, soos ‘n klomp van der Bergs. Die eerste trek  was daardie oorle Oom Hendrik, my oorlede pa se broer met wie tant San mee getroud is, Diedeksens(?), maar hulle het toe weer sommer deurgetrek Serowe toe. Toe het ‘n klomp van der Bergs en later ook die Kotze ingetrek Ghanzi toe.
TM:    Hulle het op Lehututu in die Kalahari eers gebly. Dit was waar haar pa-hulle en oom Bennie se vrou ook gebly het, en dis daar waar haar pa haar ma ontmoet het.
OB:    Ja, dit was op Lehututu … daar in die Kalahari, hulle het lank daar gebly.

 

Vraag:  En die Craills is toe ook van die wat later gekom het?
TM:
    Ja, hulle het later ingetrek, baie later …
Krisjan: Cecil was al uit die skool uit gewees toe hulle Ghanzi toe getrek het.
OB:    Ja, hulle was almal uit die skool uit.
Krisjan: Wallis was die jongste en hy was al uit die skool uit gewees.

 

Vraag:  Ja, hulle praat natuurlik anderster ….
OB:    
Hulle het nie deur die Kalahari getrek nie, hulle het Suidwes om gekom. Die jongmense van vandag, jy weet, wat nou later deur die Kalahari getrek het, wat in Ghanzi gebore is, hulle maak nou of hulle die Kalahari beter ken as ons! Hulle is geskei, hy en sy vrou, toe trou hy met oorlede tant Grieta en toe sy dood is toe trou hy met ant Kotie.
Krisjan:  Die Craills kom eintlik van Upington af … Die Craills het nou kort hier ingetrek, nie baie jare terug nie. Toe hulle ingetrek het, was Ghanzi al klaar daar gewees.
OB:    Ons wat klein kindertjies gewees het was al oud toe die Craills daar inkom.

 

Vraag:  Wat ek nou wonder oor die trekkery destyds … daar was mos geen paaie of enigiets nie, hoe het die mense geweet watter rigting moet hulle nou trek … het hulle maar sterre gekyk of wat?
OB: 
   Die eerste trek het hier deur Serowe Maun toe gegaan, daar was ‘n sleepad soos die swart nasie jy weet met slee gery het. En van Maun af Sehitwe en Ghanzi toe was daar maar net ‘n voetpad. Die ou boere het ‘n pad deurgekap vir hulle waens en osse … Nou in Ghanzi was daardie tyd ou Van Zyl, wat dertig jaar terug, voor daardie groot trek daar gegaan het. Hy het tien kinders gehad, hulle was almal getroud en hulle was almal bymekaar … so hulle behoort ten minste tien waens of so gehad het, daar het hulle wapad gelê. Ons wat daar ingekom het, het maar altyd op daardie twee spore gevolg.

 

Vraag:  Nou wat het van hulle geword?
OB:  
 Hy was ‘n ou jagter gewees, toe was daar nog olifante en seekoeie in Ghanzi. Hy het daar olifante gejag en hulle velle Walvisbaai toe gevat, daar is hulle verskeep en weggestuur.

 

Vraag:  Hulle het darem baie moeite gedoen hoor …
Krisjan:
 Is dit die ou Van Zyl, Oom Bennie?
OB:    Ja, dit was die ou Van Zyl.
Krisjan: Dis mos dieselfde ou Van Zyl wat daardie klipskeur op die Daggakamp ...
OB:    Ja, daar lê ook drie van hulle kindertjies begrawe …
Krisjan:  Daar is ‘n klipskeur wat hy uitgegrou het, dis ‘n lange … om vir hulle water te maak op Daggakamp.
OB:    Een van die Boesmans wat vir ou Van Zyl gewerk het, het vir my gewerk. Hy het vir my Van Zyl se kinders se graftes gaan wys. Maar toe is van Zyl daarvandaan noordwaarts en omtrent 150 myl uit Ghanzi uit is daar grotte … 

 

Vraag:  Drotsky-grotte
OB: 
   Ja, daar het die ou ‘n murasie gebou en seker ‘n tyd lank gebly. Hy het goud ook gesmelt, jy kon sien daar was panne, en daarvandaan is hy noordwaarts. Nou wat van hom geword het, hy het seker gaan uitsterf daar in daardie wêreld, of vermoor of iets dit was die einde …

 

Vraag:  Met al sy familie?
OB:  
Met al sy familie, ja …

 

Vraag:  O, so niemand het weer agterna eintlik iets van hom gehoor nie?
OB: 
 Nee, ek het omtrent al Van Zyl se boeke gelees, en die laaste een is hoe hy noordwaarts is of vermoor is … of waaraan hy dood is …

 

Vraag:  Waar kry mens die boeke Oom?
OB:   
Ek het altyd die boeke gekry, ek het ingeteken daarvoor … ek weet nie of mens dit nog vandag kry nie. Ek het hulle gehad, maar hulle is verwaarloos … 

Vraag:  Wat hy nou self geskryf het, of wat?
OB:
    Ek weet rêrig nie of hy dit self geskryf het, dit is gedruk ja.

Vraag:  Het dit gereeld gekom?
OB:  
Ja, ek het drie van sy boeke, ook met die inkom van Ghanzi, waar hy en sy kinders geveg het teen die Hotnots wat hulle agternageloop het en dan veg hulle …
Krisjan:  As jy op Ghanzi-pan kom, daar waar oorlede Tant Maria Burton gebly het, en jy ry met die ou pad Khousa toe, die pan deur, daar sal jy nog sulke hopies klippe sien wat die Hotnots in daai tyd gepak het, so jy kan sien dis mense.
OB:   Die tweede boek wat ek gelees het van Van Zyl het hulle baie moeilikheid gehad met die ou Hotnots, maar hulle het darem altyd oorwen.

Vraag:  En toe die eerste trek daar gekom het, was die Hotnots nie meer daar nie?
OB:   
Kyk, die Hotnots is mees in Suidwes, hier in Ghanzi was maar net die Boesman, en hy was so ‘n barbaar, jy weet, die meeste van die tyd as hulle jou sien dan hardloop hulle weg.
TM:   Wat ek sê, daar was nie eers van swartes gewees nie, eers later jare het hulle gekom.

Vraag:  So die wit mense was tweede, die Boesmans eerste?
TM:  
 Ja.
OB:    Hierdie Ghanzi, hy, hulle hoort nie van hulle af te gevat het nie, hy hoort ‘n wit land te gebly het, so het ou Rhodes dit … Ek het self die dokuente, die magistraat het vir my gesê ek kan hulle maar lees … maar dit was so Hoog-Hollands al lees ek dit, verstaan hy nie wat hy lees nie … jy kry net so ‘n dik pak …

Vraag:  Was dit toe nou Ghanzi se magistraat?
OB: 
   Dit was Ghanzi se magistraat.

 

Vraag:  Die papiere het gesê dat Ghanzi is ‘n blanke gebied?
TM: 
   Ja, dis aan die boere gegee.

 

Vraag:  Dis nie deel van die Protektoraat nie?
OB:  
Nee, dit behoort eintlik ‘n wit regering te gehad het, nou nog  … dit sê in daardie briewe … ek dink dis was ‘n honderd myl breed en twee honderd myl lank.

 

Vraag:  Dis interessant, dus dit was nie dat hulle die plek net kom vat het nie, hulle het dit gekry.
TM:   
Hulle het dit net gekry, dis al.
OB:    Ja, dit is … hulle het dit maar net gekry.

Vraag:  Is die Job van Zyl wat daar Xanagas se kant toe is, is hy nie familie van ou Van Zyl?
Krisjan:  
 Nee, hy kom van Suidwes af.

 

Vraag:  Nou die van Zyl, toe Oom-hulle nou daar ingetrek het, was daar geen spoor meer van hulle nie?
OB: 
   Nee, toe was hy dood … dit was omtrent seker hier by die twintig of dertig jaar voor die eerste trek Ghanzi toe, toe was hy al weg.

Vraag:  En die Dekar-naam wat ek nog altyd oor wonder, hulle se mos die naam was op ‘n boom geskryf gewees daar?
TM:  
 Ja, hulle sê so ...
OB:    Ja, daar was … die oumense het so gemaak, hulle sny hulle name op die bome uit, daar was soiets dat daar ‘n naam gestaan het op ‘n boom op Dekar.

Vraag:  Maar die DKAR was nie van die eerste trek nie, Oom-hulle het hom nie geken nie?
OB:
    Die naam, waar hulle hom vandaan gekry het weet ek regtig nie. Khoutsa en daardie is maar mees Boesman name en Ghanzi ook.

TM:   Dis net Dekar, Dekar is nie ‘n Boesman naam nie.
OB:    Ek dink Dekar is maar ‘n naam wat witmense hom gegee het.

 

Vraag:  Die man se voorletter was blykbaar D, en die van Kar.
OB:  
 Ja, maar dit was vir die Boesmans, hulle was altyd so gewees. As daar iets gebeur het met jou, of jy nou iets doen dan gee hulle daai plek se naam vir jou, so was die Boesman-nasie eers gewees.

 

Vraag:  Nou watter plekke het sulke name?
OB:  
 Ek weet rêrig nie, ek vat dit nou maar van Dekar af. Ghanzi, Khoutsa, Seribi en daardie plekke, dit is nog alles Boesman name. Dit kan in hulle taal nou iets wees wat die Voortrekkers nou gedoen het, op hulle taal het hulle nou die naam uitgespreek. 
TM:    Kyk nou vir Kaboekei daar naby die kamp, sy Boesman naam is Xabancei, dit meen “Bas wat opgegrawe is”, nouja toe het die wittes nou maar net gese Kaboekei.

 

Vraag:  Ghanzi is mos ook ‘n ander uitspraak?
TM:    
Ja seker, ek weet nie, ek ken hom nie …
OB:     Hulle, die Boere het seker die name so verander …
Krisjan: Die naam Khoutsa is mos eintlik Khousha – Bitter Water …
TM:    Net so is Nceitso wat beteken Springwater … daar was so ‘n ou fonteintjie in die pan gewees.
OB:    Vroeër dae soos Seribaspan, daardie ou groot klippan het amper nooit opgedroog nie, hulle was eintlik fonteine … water net daar gebly het … daar het alles maar kom water drink. Dieselfde soos Dekar, daardie ou klippan daar agter het baie jare water gehad … later in die droeë jare toe die water langs opdroog het die mense putte gegrou.   

 

Vraag:  Wanneer het Oom Jan Burger-hulle daar gekom, saam met Oom hulle?
OB: 
   Jan Burger-hulle het saam met die Kotze’s ingetrek, ‘n bietjie later.

 

Vraag:  Tannie Martjie het vanoggend vir ons ‘n paar name gegee van die eerste trekkers, kan Oom nie dalk ‘n paar ander name onthou van die eerste ou families wat in Ghanzi gebly het nie, Tannie het gesê dit was die van Heerdens, die van Stadens …
OB:  
 Taljaards, van Staden, Marnewijk, daar is Magiel Petoors ook, Krisjan, Oom Fanie.  Oom Kalie Labuschagne se vrou, daardie een wat geskei is …
TM:    Hulle het laaste ingekom.
Krisjan: En die Van Der Berghs.
OB:    En daar was die Du Plessis, ook van die eerste trek … ‘n hele klompie van Stadens …

 

Vraag:  Het almal dan met vrou en kind en almal saamgegaan?
OB:  
 Ja, hulle het nooit hulle vrouens agtergelos nie, almal by, net waar hulle ry en gaan. Party het so ‘n klomp kinders gehad, ek het altyd vir Magiel Petoors gespot dat sy kindertjies almal onder die katel moes slaap en hy was ‘n ou groot man, dan sê ek vir hom: ”Sê nou daai katel breek en jy val op die kinders”.
TM:    Jy weet met die eerste trek was my oorlede pa-hulle jongmense gewees, soos ons vir hulle gesê het, jongkêrels. In die aand waar hulle slap, sê oorlede Pa, dan trek hulle twee van die waens langs mekaar. Nou my oorlede Pa-hulle, die van Heerdens, en dan die Lewise, en die Lewise was dan nou ook ‘n klomp seuns gewees, dan maak hulle vir hulle so een bed. Die een seun het ook die manier gehad om in die nag rond te loop, en as oorlede Oom Piet daardie nag opstaan, dan vat hy algar se komberse en hy vou hulle netjies op en gaan steek hulle hier voor onder die seil weg, dan gaan lê hy weer.  As hulle wakker word, dan kry hulle koud en dan is die komberse weg.
OB:    Ja, die ou trekkers voor, baie het my vertel hoe hulle altyd getrek het tot Vrydag, dan het hulle daai aand ‘n groot dans. Dan word ‘n bokseil oopgetrek en styfgespan, en dan dans hulle daai bokseil dat dit die anderdag-môre soos hulle nou dans daai kring uitval, dan’s hy stukkend.

 

Vraag:  Dis nou hier met die trek?
TM:  
 Ja, met die eerste trek toe die jonges nou nog jonk was.
OB:    Dan Sondag het hulle nou weer kerk en biduur. Die predikant het ook …

 

Vraag:  Dan het hulle die hele naweek darem gestaan  … van Vrydag af?
OB:  
 Ja, Vrydag hou hulle ook kerk en biduur.

 

Vraag:  Het die predikant saam gedans Vrydag?
OB:  
 Ek weet regtig nie, hy het seker maar saam gedans of saam gekyk.
TM:    En speel. My oorlede pa sê elke aand het hulle volkspele. Een aand het hulle, jy weet hulle het nog ‘n varkie ook in die hok onder die wa gehad. Hulle het die varkie losgelaat en die klomp speel wegkruipertjies. Toe hulle nou klaar is hoor hulle die varkie gee so ‘n vreeslike skree hier agter die bos, toe’t die leeu hom in die hande gekry en hom ‘n sny op die rug gegee. Maar wat, more-aand dan speel hulle maar weer … so ‘n klomp rowwe seuns was hulle gewees.
OB:    O, hulle was ‘n plesierige vurige klomp ou voortrekkers. Elke Kersfees, so ‘n dag of twee voor Kersfees, trek ons bymekaar en dan ry ons partykeer hier van Dekar af Khoutsa toe, nou ‘n paar dae …
TM:    Die 24ste, as daar mense was wat perde het, was altyd ‘n groot dag. Perdereisies en  perdesports ...
OB:    Volkspele en dans.

 

Vraag:  Ek wou netnou nog vra oor Oom gepraat het van die dans. Watter tipe dans het hulle daardie tyd gedans, ook maar die skoffel, sakkie-sakkie wat ons nou het?
OB:    
Die boeredans, konsertina’s …
Krisjan: Oom Bennie was een van die konsertina spelers.
OB:    Ja, hulle het altyd konsertinas gehad.

Vraag:  En Oom kon dit goed speel?
OB:
    Ek sal nou maar nie se goed nie maar …
TM:    In settees, polka, ‘n wals en ‘n mazurka. Ek weet nie of jul weet hoe dans hulle die mazurka nie? Daar was min mense wat hom kon dans.
OB:    Ou Michiel Petoors en sy vrou was altyd die mazurkadansers.     
TM:    En dan oorlede Oom Manie en oorlede Tannie.

Vraag:  Is dit nie daardie wat hulle so spring nie?
OB:  
 Ja, en dan hier dagbreek se kant toe dan dans hulle eers lekker. Dan kan jy ook die ouens hoor, hulle skree en gaan te kere.
TM:    Ek spot altyd die mense, sê vir hulle vernaam nou later met Nuwejaar. Toe ons nog jonk en ongetroud gewees het, het Oom Jannie Marnewijk-hulle elke jaar Nuwejaar gevier. Daarvandaan af het hulle elke jaar die Nuwe jare gehou dan gaan ons. Ek sê nou die dag vir die kinders, ek dink so baie hoet ek en hy en oorlede Oom Fanie, sy broer net ouer as hy, twaalfuur, dan gaan skiet ons ‘n dinamietskoot aan die brand. ‘n Lang stuk lont, dan sit hulle hom onder die klip en dan daai doppie warm.
OB:    Hierdie Kotze mense, toe hulle ingetrek het Ghanzi toe, het hulle seker nie veel geweet van dinamiet af nie, jy weet, toe kom hulle predikant van Suidwes af. Hulle vat toe ‘n hêle kas dinamiet en hulle gaan begrawe hom langs die pad. Toe die Predikant nou kom toe steek hulle die die dinamiet aan die brand, hulle het amper die ou Predikant opgeblaas!
TM:    Ons was dan so, selfs op Dekar, daar ook was oorlede Omie en oorlede Tannie ook lief gewees om so Kersfees te gee, die 24ste dan gaan al die mense met wa en osse … daar van Kgoutsa af. Ons was toe nog kinders en ek toe al ‘n weeskind wat by my ouma gebly het, maar ons gaan almal. Nou jy sien daai klomp groot mans … hulle dryf en hulle gaan aan, dan kry hulle ‘n tarentaal nes, of daardie eiers vars is of vrot is, jy wat daar voor drywe moet net mooi kyk of jy waai onder daardie klomp vrot eiers.
Krisjan: Ja, die tannie wat my ma nou van praat, ek was al redelik groot gewees, toe was sy al ‘n vrou gewees. So met ons volkspele, dan is sy daar tussen die jonges. Oorlede Tant Annie, Oom Bennie se suster. Sy was al ‘n ou vrou gewees toe die jong klomp volkspeel.
OB:    Dit was my suster.
Krisjan: Dis nou die Tannie wat met die Taljaard getroud is, wat daar agtergebly het, oorlede Oom Thys Taljaard hulle se ma. Maar haar oudste kind se geboorte het hulle toe daarvanaf met wa en osse gery tot in Rustenburg, en daar is oorlede Bennie gebore, toe’s hulle maar so saam met die ander. Dink nou, algar trek, net nie julle twee nie, en jy’s maar sestien jaar oud.
OB:   Die ou boere kon nie eintlik rus nie, hulle het maar rond getrek. In ’27 of ’26 toe het die groot trek Portugeesland toe getrek. Van die boere het van Ghanzi af getrek, soos die du  Plessis, van den Berghs en daardie lot.
TM:   Dit was toe die van den Berghs toe weer algar uitgetrek het. Toe’s my jongste tante met een van die van den Berghs getroud en oorlede Hendrik van Staden, my neef wat nou verongeluk het, se ouers, hulle hêle klomp was weg. Toe bly net ek, my twee broers, my Pa en my Stiefma van die familie daar agter.

 

Vraag:  Hoekom het hulle getrek?   
OB: 
   Die van den Berghs was nou Angola toe, jy weet, en toe hulle terugkom toe beduie hulle net vir almal die vark loop met die mes en vurk op die rug, ek weet nie wat alles nie.
TM:    Ons het mos gesê die ou mense het net geglo as hy lus kry dan moet hy trek.

 

Vraag:  Wat het hulle eerste gedoen as hulle op ‘n nuwe plek kom?
OB:  
 Hulle bou, hulle bou huise. Partykeer net van pale en kluite die meeste boere. Toe hulle nou bly het hulle kliphuise opgerig, party het nogal goed gebou … en krale en so aan.
TM:    Ek was so jammer gewees toe ek op Dekar weer kom en sien daardie eerste ou huis is afgebreek … weet jy, dit het vir my gevoel ek kon huil.

Vraag:  Op ou Dekar? Maar party van die mure staan mos nog?
TM:  
 Ja, dit was nou die ou buitehuis gewees.
OB:    Ja, dit was nou ‘n ou mooi huis daardie, ou Taljaard het hom mooi gebou.
TM:    Hy het hom self gebou, hy en oorlede Tant Annie met die ou baar Boesmans. Sy timmerasie het hy uit Tsau uit aangery, dit was kiaathout gewees.
Krisjan: En hy’t self daai balke gesaag met ‘n saag … balke vier by ses, drie by ses hoog, dit was mos omtrent drie by ses gewees of hoe?
OB:    Ja.
Krisjan: Drie by ses, maar ek moet jou sê daar was netjiese hout gewees, en harde werk.   Ek het nou die dag gesê, ek sal nie omgee as ek van daai hout, van daai huis van Taljaard in die hande kan kry nie, dan kan ek iets met hom maak.

 

Vraag:  Nou wie’t die plek afgebreek?
TM:    
Dis seker maar Thys-hulle. Thys-hulle wat hom afgebou het. Daardie huis was met klip gebou, eers ‘n ent met stene en toe verder met klip, wat reg gekap is, pragtig mooi opgedress is soos hulle dan nou gesê het … mooi klippe.
Krisjan:  Jy weet, en daai huis se vloer is rotse, vyf voet ses … hy was ses voet hoog van die grond af.    

Vraag:  Hoe het hulle meubels gemaak, of het hulle nou maar in die begin meubeltjies saamgery?
TM:  
 Hulle het maar self gemaak ook.
OB:    Elkeen het maar veldstoeltjies gemaak en tafeltjies en so aan … haar oupa was eintlik ‘n carpenter gewees en het hy ‘n hele paar rusbanke gemaak.
Krisjan:  Ek het daar by my ‘n bank wat Ronnie Case, wat sy pa Oom Tom Case gemaak het.   Daai bank is nou seker maklik daar by die vyf en sestig jaar oud.
TM:    Toe was hy ‘n jong seun toe hy op Ghanzies gekom het. Daardie huis van oorlede Tant Maria Burton op Ghanzis het sy ouers daar laat bou.

 

Vraag:  Hoekom het hy nou soontoe gekom, wat het hy nou daar kom maak?
OB: 
   Hy het ‘n plaas in Ghanzi, ‘n stuk van die plaas het hy seker op een of ‘n ander manier by iemand gekoop.

 

Vraag:  Dis nou later jare, nè?
OB:  
 Ja, dis nou later. Selfs die “Burtons” het ingekom in 1912.
Krisjan: Wie was dit, Oom Bennie?
OB:    Die Burtons.

 

Vraag:  So dit was nie so lank agter die 2de trek nie?  
OB: 
   Nee, dit was nie. 
Krisjan: Ja, die Burtons en die McIntyres, hulle het mos Ghanzies toe gekom.
OB:    Andy Malone en McIntyre.

 

Vraag:  Vanwaar het hulle toe gekom?
OB:  
 Burton-hulle het uit Engeland gekom.
Krisjan: Hulle is eintlik Oom Bennie hulle en die Mc’intyres is eintlik Nieu-Seelanders.
OB:    Ja, maar hulle het uit ‘n soos ou Andy Malone en Mc Intyre, hulle het uit Australie uitgekom.   Hier in Mafeking het hulle toe vir mekaar ontmoet en toe’s hulle saam Ghanzi toe.   Maar my een swaer was ook ‘n Engelsman, Evans.   Twee van my swaers, die een was Bobby Smith, hy was ook ‘n swaer van my, hulle het ook met die eerste trek saamgekom.

Vraag:  Die Evans was mos toe ‘n konstabel, ‘n polisieman?
TM:
    Ja, hy was daar gewees ‘n polisieman.

 

Vraag:  Die Burtons kom uit Australie? Mc Intyre was ‘n polisieman het Oom gesê?
OB: 
   Ja, hy was.
Krisjan: Oorlede Mr. Burton het eendag vir my oorlede Pa gesê hoe hulle hier gekom het. Hulle is hierheen gestuur, hulle is gesê hulle moet hier teen barbare kom veg.
TM:    Dit was met daai oorlog.
Krisjan: Toe hulle hier kom, toe sien hulle dis nie barbare nie, dis teen blankes, dis teen Suid-Afrikaners, ‘n blanke nasie net soos hulle. Toe het hulle heeltemal kop uitgetrek.  Dis wat oorlede Mr Burton eendag vir my pa gesê het.
TM:    Dis wat, toe’t hulle heeltemal kop uitgetrek en weggegaan. Hulle’t gebegin, soos wat oorlede Mr Burton vir ons vertel het, hulle het toe niks gehad nie en met ‘n bondeltjie agter hulle rug begin. Paar goedjies gekry en dan gaan smous hulle daarso.
OB:    Toe hulle op Ghanzi kom het hulle genoeg geld gehad tussen die twee Burtons om twaalf koeie te koop. Weet jy wat het koeie daai tyd gekos … Ag, jy kon met ‘n pond sommer twee beeste gekoop het.

Vraag:  Toe’t hulle so vooruitgeboer, hulle het toe groot boere geword.
TM:  
 Ja. Hulle het vir hulle kar en osse gekry, en so’t hulle gaan bees kry by Tsau, daar by daai winkeliers en goed, en dan jaag hulle hulle deur die Kalahari ... daardie geld vat hulle nou weer en steek dit weer in bees vir hulleself, en so’t hulle aangegaan.
OB:    Die Burtons, hulle oudste broer, hy was ‘n smart man gewees, in die lyn om nou besigheid te doen. Alles wat hulle omtrent vergader het was maar syne gewees.   Maar toe haar oorle oupa-hulle nou daar padgee, toe koop hy die plek en hy’t seker gebou daarso toe val die klipmuur op hom.
TM:    Oom Bennie weet daar waar die winkeltjie gewees het, dit was syne. Daardie wat haar oorlede Pa afgebreek het toe val die klippe op hom.

 

Vraag:  Tannie van Staden se pa was nou ‘n Gower? O, het hy ‘n winkeltjie gehad?
TM: 
   Op Ntsau (?)  ja.
OB:    Hy’t ‘n winkel op Lehututu in die Kalahari gehad. Dis daar waar ek en hy die eerste mekaar ontmoet het.
TM:    Op Lehututu het hy ook een gehad.

 

Vraag:  Het Oom-hulle toe transport gery, of hoe het dit gekom?
OB: 
   Dit was maar net die bees aanja. Ek het daardie tyd omtrent elke jaar met ‘n klomp bees deur die Kalahari getrek.
TM:    Toe was hierdie pad nog nie daar gewees nie, toe moes Lehututu om.
Krisjan:  Dis die ou Kalaharipad. Hy draai daar op Takatswani. By Takatswaniboorgat draai jy af dan vat jy hom halfwes, dan ry jy so om … ek het hom eenmaal getrek nog.

Vraag:  Is hy langer?
Krisjan: 
 Ja  @?#, dis nie ‘n pad daai nie, dis ‘n hel wat jy trek daai.
TM:    Dis so ‘n stuk of twee weke.
OB:    Ja, hy’s baie verder, dis ‘n baie groot draai as jy Lehututu om ry.
Krisjan:  Sovêr ek kan onthou het hy een trek gehad van 150 myl dors - daar nie ‘n druppel water kan kry nie.

 

Vraag:  Was dit ter wille van boorgate dat ‘n mens so om getrek het?
Krisjan:  Dit was nie net boorgate nie, maar putte en groot panne.
TM:    Drie boorgate het hulle later eers in hierdie nuwe pad gemaak. Dit is waar die eerste boorgate was.
Krisjan:  Wat ons vandag ry …
OB:    Ons het maar altyd gewag vir reën, trek op reëntwater.

Vraag:  Het Oom-hulle nou reeds van heel vroeg af met die bees Lobatsi toe getrek, of Mafeking toe, of waarheen?
TM: 
   Lobatsi toe.
OB:    Ja, ons het die bees Lobatsi toe getrek. Die slagpale is nie so oud nie … daai tyd het hulle nog nie geslag nie, ek dink die meeste van daardie bees het hulle maar hier in die Republiek verkoop.  1918, nee ’17, toe’t ons met ‘n wa en osse gery hier in die Republiek … ook bees uitgebring.
TM:    Toe was die grens nog nie toe gewees nie.

 

Vraag:  Het ‘n mens maar met jou eie bees getrek, of was dit ander mense s’n ook?
OB: 
   Nee, dis maar meeste transport van beeste wat ons aanneem, jy weet, ons het vyf sjielings ‘n kop gekry van Ghanzi tot hier.

Vraag:  Dan het ‘n mens darem lekker geld gemaak met so ‘n trippie?
OB: 
   Ja-ja, en alles was goedkoop. Die ding is ons het volk – dan huur ons hom vir vyftien sjielings ‘n trip, dan moet hy die bees aanjaag tot hier en as hy teruggaan dan moet hy self sien kom klaar.

 

Vraag:  Hoe het Oom hulle gemaak met die ongediertes langs die pad daai tyd?
OB: 
   Snaaks, in my tyd, vroeër jare, was daar nie leeus in die Kalahari nie. Daars verskriklik baie tiers en hierdie wolwe. Baie keer ons bees op loop gesit jy weet.   Maar leeus het nou later gekom van hulle hierdie reguit pad het.  Waarheid te sê, ek het soveel maal deur die Kalahari getrek en ek het maar een leeu wat my gepla het.   Die’t ek nog doodgeskiet in die Kalahari.

 

Vraag:  Van wanneer af is die reguit pad toe gemaak?
Krisjan:
  Hierdie reguit pad is hier iets in die veertigs.
OB:    Ja, dit is. Ek dink dit was hier teen  ’49 … In Levinsky se tyd.
Krisjan:  Ja, want die eerste bees wat met ‘n lorrie deur die Kalahari gery is was ek en Manie, Manie Lewis, toe oorlede Oom Johnny van Zyl. Ons was die eerste drie ouens wat met lorries deur hierdie Kalahari-pad getrek het. Die garage, jy weet daar waar die Peacocks buite gewerk het, daai winkel langs die hotel in Ghanzi, dit was oorlede Oom Johnny van Zyl se besigheid gewees.

 

Vraag:  Nou wie het die pad gemaak?
Krisjan:  
Nee, toe was hy al daar, ek weet nie wie het hom gemaak nie.
OB:    Ek dink dit was Jan Burger …
Krisjan:  Ja, hy en my oorlede skoonpa het ‘n gedeelte van hom gemaak. Maar dit is nie dieselfde pad wat hulle vandag ry nie, toe was dit nog draaie in gewees, ek kan nie al daardie plekke onthou nie … ek het te min gery.

Vraag:  Het Oom Krisjan-hulle die lorrie hier gekoop en toe opgery?
Krisjan:
  Nee, ek weet nie waar het hy hulle gekoop nie … hier in Lobatse of in Suidwes nie, maar hy het toe die ou Ford-lorries gehad …

 

Vraag:  Die Oom Johnny van Zyl?
Krisjan:
  Die oorlede Oom Johnny van Zyl. Toe het ek en hy en Manie met hulle deurgekom.   Ek en Manie het op die een gery en hy op die ander. Ons was die eerstes wat met voertuie deur hierdie Kalahari beesgery het, vandag is dit net een voertuig op die ander een.

Vraag:  Nou hoe lank het daardie eerste trip gevat?
Krisjan: 
 Ons het hom omtrent amper vier dae gery.

 

Vraag:  Oom Bennie, ons het nou-nou van ongediertes gepraat. So met die trek Palapye om, was daar toe baie gesukkel met ongediertes en dinge?
OB:  
 Ja, hulle het bietjie probleme gehad daai tyd met leeus. Waar ek nou rerig baie probleme gehad het met leeus was toe ek van Maun af bees deurgejaag het  Zambië toe. O, daar was baie leeus gewees. Een skoot met 1 500 osse, en ek het ‘n outa gehad, ek het hom baie gesê, jy moenie voor die beeste loop nie, af en toe skrik die beeste. Toe een môre, dit was net so agter sonuit, was hy weer voor die beeste, toe skrik die beeste en trap hulle hom dood.

Vraag:  En hoe kry ‘n mens 1 500 beeste bymekaar as hulle geskrik het?
OB: 
   O, dit is! Ek het sestien perderuiters gehad met perde, saam met myself. Een keer die kant en die maar ander die kant … en ons hou hulle maar altyd bymekaar.

Vraag:  Dan was Oom seker maar die enigste een met ‘n geweer, nè? Het Oom noue ontkomings gehad?
OB:  
 Ja, baie keer maar noue ontkomings gehad met leeus, na een skoot is die leeu toe nou agter die kraal, daai tyd was daar nie ‘n flits of iets gewees nie, maar hierdie ou lanterns.

 

Vraag:  Dan was Oom seker die enigste een met ‘n kers nog binne, of watter lanterns?
OB: 
   Nee, hy brand met lampolie. Toe’t ons ‘n vyf en dertig kilometer wat ons in die nag moet deurtrek, elke outa wat aanjaag het dan een van die lanterns en loop hulle rond en lig. Partykeer hoor jy hier brul ‘n leeu, hier brul ‘n bees tussen die … dan spat die beeste uitmekaar. Dan ja en keer ons, het nou nie eintlik baie omgegee hoeveel bring ons anderkant uit nie, maar om darem ons bes te probeer om hulle deur te kry.

Vraag:  Hoe lank het so ‘n trek Zambië toe geneem?
OB:
    Zambieë toe, twintig dae, as ons nou goed trek, ‘n bietjie korter as nou hier af. Ek het hier deur die Kgalagari duisend bees, twaalfhonderd bees … nie maklik met die tel van die bees, want jy moet hulle elke dag tel. Sien, jy moet hier middag begin voor jy op die ent kom.
    
Vraag:  Het Oom- hulle elke aand krale opgeslaan?
OB: 
   Ja, laaste van tyd is daar eintlik krale, dan as ons ‘n kraal kry maak ons hom reg, dan slaap ons daar. Vroeër jare het ons nag en dag getrek, toe’t ons nog Lehututu om gery, dan trek ons dwarsdeur die nag.  Dit was maar meeste dors, dan trek ons in die nag as dit koel is.
Krisjan: Hierdie jongste broer van Oom Fanie Lewis, Piet Lewis, hy’t ook hierdie kalaharipad baie getrek. Toe ja hulle ook die aand sy bees in die kraal en toe dit nou mooi donker is toe reken hy hulle moet nou so ‘n draai loop, dan sommer hout optel.   Toe hy nou klaar is, toe sien hy nou maar hier lê ‘n mooi stomp, maar toe hy so lig om hom te vat, toe sien hy maar dis mos nie hout nie, dis ‘n leeu. Toe staan hy stadig terug tot hy nou weg van hom is, toe stap hy vuur toe en vat sy geweer en flits. Toe’s dit vyf leeus wat daarso lê.
OB:    Ja, ons was vier broers. Twee is in 1918 oorlede aan griep, en my een broer, hy’s later eers dood so vier jaar terug.

 

Vraag:  Het die boere ook die plaas verdeel onder die kinders, of kon hulle maar bloot grond by vat?
OB: 
   Hier later van tyd, toe ‘n mens nou kon grond koop het, het die jongmense of die wat nou nie plase had nie baie plase gekoop aan hulle plase. Die jongmense het self hulle plase gekoop. Die ou mense het ook maar plase verkoop, en die geld verdeel onder die kinders.
Krisjan: Maar die Ghanzi plase, later jare, was eintlik ‘n familie besigheid gewees. Ek en broer Dawid het applikasie gemaak vir plase aan my oorle pa s’n, en hulle het ook applikasie gemaak. Die dag toe die Raad sit oor die plase was ek die eerste persoon wat hulle ingeroep het. Hulle vra vir my wat is my besittings, toe sê ek vir hulle dis my besittings. Deur omstandighede kan my goed nie uitbrei nie, want ek en my broer het altwee op my pa se plase geboer. Toe se hulle nee, ek kan nie ‘n plaas kry nie … en dieselfde vir my broer Dawid en dieselfde vir die Kotzetjies. 
OB:    Later van tyd, sal een nou maar sê, het mense uitgetrek wat amper niks vir hulle grond gekry het nie.

Vraag:  Dit was nou toe die regering swart geword het, of was daar vroeër ook nog mense wat teruggetrek het?
OB:  
 Ja, daar’t heel party mense vroeër ook uitgetrek.

 

Vraag:  Was die mense vroeër familie van mekaar of het hulle in Ghanzi familie geword?
OB:  
 Ja, dit het maar so gebeur. Ook my oorlede skoonpa, die Burgers, wanneer het hulle dan ingetrek?
TM:    Hulle’t saam ingetrek. Oorlede Jan Burger het … oorlede Tooi (Koot) Burger.
OB:    Kyk, dit is mos ‘n familie besigheid, Oom Koot Burger was in Maun, hy het uit Mafeking daarheen getrek, en daar’t hy gebly. Al sy kinders is in Maun gebore, toe het hulle nou uitgebrei en maar getrou jy weet, toe’t oorlede Oom Jan mos hier kom trou op Ghanzi. Sy vrou was mos ‘n nooi Morris (Iers). Hy was mos een van die eerste intrekkers.

 

Vraag:  Was hy ‘n Afrikaner?
OB:  
 Ja, en ook eintlik ‘n engelse onderwyser gewees. Hy het heelwat later van sy verstand af geraak, toe’t hy nie meer skoolgehou nie.
Krisjan:  Hy was soos ek verstaan het, ‘n masseer dokter ook gewees.
OB:    Ja, hy was ‘n baie slim man gewees. Die kinders, toe sy oorlede vrou dood is … toe’t die kinders maar so saam met die ou Oom gegroei daar tot hulle nou groot is.

 

Vraag:  Nou hoe het dit gekom dat hy saamgetrek het? Vanwaar af het hy gekom?
OB:  
 Hy het ook nie uit die Republiek uit saam met die mense gegaan nie, hy was een van die eerste trekkers gewees.
TM:    Hy is toe met een van die Taljaard dogters getroud.
OB:    Dis suster Taljaard wat daar agter gebly het, hy was die se broer.

 

Vraag:  Om watter rede het hy saamgetrek? Om ook ‘n plaas van Rhodes te kry?
OB:
    Ja, hy het ook ‘n plaas gekry.

Vraag:  Die Burgers van wie Oom-hulle praat, is hulle familie van die Oom Jan Burger en sy kinders wat nog daar is?
OB: 
   Nee, hulle is glad nie. Daardie Oom Jan Burger kom uit Upington se wêreld uit.

 

Vraag:  Het hy Suidwes om getrek?
OB:  
 Nee, hulle kom ook deur die Kalahari, saam met sy skoonpa, Oom Theunis Kotze, die ou Oom, die stam van die hele lot. Hulle’t hier op Lehututu ‘n hele tyd lank gebly, daar het my skoonpa toe een van sy dogters getrou.
Krisjan:  Daar was ‘n polisieman gewees, Oom Tom Hardbattle, hy’t later ingekom as ‘n polisieman. Hy het eendag vir my oorlede oupa, my ma se pa gevang met ‘n volstruis wat my oorle oupa geskiet het. Hy het hom toe met die perd afgejaag tot by die polisiestasie. Van daardie dag af het my oorlede oupa nie baie ooghare gehad vir die ou man nie.

 

Vraag:  Is hy deur die Engelse regering gestuur as ‘n polisieman?
OB:  
 Ja, hy was een van die eerste polisie wat ingekom het.

Vraag:  Die Hardbattle-kinders wat nou in Ghanzi is, is hulle van sy familie?
TM:  
 Dis sy kinders. Ja, hy’t maar oud geword voor hy getroud is.
OB:    Ja, die eerste magistraat wat daar ingekom het was ‘n Starkin (?), dit was nog voor 1911 gewees, 1909.

Vraag:  Ghanzi self, die dorpie, wanneer het dit nou presies ontstaan?
OB:  
 Dit was maar baie later. Waar daai dorpie nou is, dit was hierdie Oom Jan Marnewijk se pa se plaas. Toe’t die goewerment 1920, 1923 se tyd, die plek by hom oorgeneem. Die helfte van die plaas, toe’t hulle die kamp, die stasie daar opgerig.

Vraag:  Voor 1924 en die polisie, was daar enige ander vorm van gesag soos ‘n Vrederegter of ‘n ding?
OB:  
 Ag nee wat, elke een was maar sy eie baas, daar was nie Vrederegters nie.

 

Vraag:  Daar was seker ook nie eintlik moeilikheid en bakleiery nie?
OB: 
   Nee wat, as twee ouens iets het, het hulle die maar uitbaklei.

Vraag:  Dit klink my daar was maar baie korrelkoppe en hardekoppe onder die oumense?
OB:  
 Ja, soos oorle Oom Lewis. Wêreld, dit was vir jou ‘n ou mens!
TM:    Ja, die Lewiesse was die ergste.
OB:    Ja, ons praat nou van regering.vJy weet, ons het mos ‘n hele tyd daar gebly onder die Swart regering en dit het ons niks gepla nie. Van 1907 af was ons Lake Ngami toe en het ons maar heeltyd daar gebly soos in ’18.   Ons het baie lekker daar gebly, soos in Maun ook toe die eerste kamp gekom het. Toe was ek al taamlik groot, ek het nog gehelp werk … party sny gras en party maak stene
TM:    My oorlede pa, Oom Bennie se swaer wat nou saam met sy swaer dood is en Oom Petoors hulle het die stene gemaak.
OB:    Daar’t ons die kamp daar opgebou, en ‘n groot hospitaal opgebou … die hele kamp.

Vraag:  Het Oom hulle darem goeie geld van die regering gekry daarvoor?
OB:  
 Nee, ons het nie so baie gekry nie, maar jy weet ‘n pond was baie werd daardie tyd.   Ons het taamlik geld gekry vir stene en so aan, soveel as ‘n duisend … elkeen moes gras en pale bring, maar hulle het jou by die getal betaal. 

Vraag:  Wanneer het die eerste motorkar in Ghanzi aangekom?
OB:  
 Die eerste kar het in 1921 aangkom. Dit was ook nie ‘n kar van mense nie, maar ‘n ekspedisie, toe kom ‘n hele paar lorries van Maun. Nou jy weet die swart nasie het ‘n Kgotla daar gehad, en die oggend toe die lorries so om die stat kom waar die Kgotla aangaan toe hardloop hulle almal weg die bosse in, toe hulle by die Kgotla land toe’s daar nie een nie. Toe nooi hulle ons almal om te kom draadloos luister. Jy kon amper niks hoor nie. Ons het die aand almal so om die draadloos gelê en luister na die nuus. Dit was nou die eerste ekspedisie wat daar aangekom het.


ODERHOUD VAN WILLEMIEN LE ROUX MET TANNIE MARTJIE GOOSEN & OOM BENNIE VAN STADEN

BAND (A I & II) (B I & II)

MARTJIE GOOSEN & BENNIE VAN STADEN 

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page