top of page

SMIDSWERK

 

 

Sommige van die vroeë pioniers, asook latere intrekkers, het vaardighede gehad wat by die swart inwoners ontbreek het. In 'n ongewing waar ossewaens en donkiewaens die enigste transportvervoer was, en perde- en kapkarre gebruik is, was smidswerk baie belangrik.  Mens moet onthou dat inkomste bronne baie skaars was, en kontant haas onbekend. Ruilhandel was belangrik bv. Mielies inruil vir smidswerk of smidswerk in ruil vir beeste waarmee gespekuleer kan word.

 

Mielies onder ander kosvoorrade is vanaf Tsau in Ngamiland aangery namate die eerste trekkers in Ghanzilands gevestig geraak het. Ook intrekkers soos die Kotze's en Burgers uit die suide het jare lank deur middel van smidswerk op Lehututu 'n bestaan gemaak voordat hulle Ghanziland bereik het.  Dan was daar mense soos oom Albert Lemcke wat in SWA opleiding gehad het en ingekom het met die doel om sy opleiding te gebruik. Namate vervoer gemeganiseerd geraak het, veral in die dertigerjare, was die smidswerk ambag nie meer so in aanvraag nie.

 

Die stamvader van Ghanzi se Kotzè familie was Theunis Kotzè. Hy het skape verruil vir smidsgereedskap en daarmee vir 'n paar jaar sy groot familie onderhou. Party van die seuns was darem al oud genoeg om vir hulle self te sorg, maar 'n hele paar dogters het hulle mans dáár ontmoet. Lehututu was blykbaar op die transport roete noordwaarts geleë en etlike handelsposte was nie te ver nie en het seker ook smidswerk benodig.

 

Fanie Lewis en sy skoonpa Jan Burger het verduidelik hoe waens se wiele gekort is.  Die ysterband om wiele het mettertyd lendelam geword en moes dan “gekort” word. Die ysterband is afgehaal en 'n stukkie is uitgekap. Die lasplek is aanmekaar gebrand en die band word in 'n misvuur gepak totdat dit rooiwarm is. Dan word die band weer oor die wiel getrek en natgegooi om vas te trek. Oom Jan het gesê dat 'n blaasbalk 'n vereiste was om die band warm te maak.

 

Albert Lemcke was ook 'n bekende smid. Hy het Ghanziland van SWA af binnegekom na die 1ste Wêreldoorlog, waarin sy pa gesneuwel het. Hy het 'n goeie opleiding in smidswerk by Gobabis gehad. Maar in Ghanzi was die aanvraag vir hom te min en het hy vir 'n paar jaar in Maun gaan werk, waar hy waens gekort en geherstel het. Dit blyk nie of intrekkers waens laat maak het nie, die waens is meer net herstel en opgebou.

 

Fanie Lewis het verduidelik dat daar eintlik net twee soorte waens was – die korkapwa en die vollengtewa. Alle waens kon ongeveer drie ton vrag vervoer. Die kortkapwa was handiger as die lankapwa, want omdat die kap agterop was kon mens vryliker beweeg met jou sweep.

 

Albert Lemcke se verduideliking van die kuns om wiele te kort is kultuur histories:

 

“Die naaf saag jy maar die ronde blok die lengte wat jy wil hê en sit hom in 'n soort draaibank. Jy kan dit self maak, ek het myne self gemaak. Dan sit jy hom ook maar met 'n lathe braid aan die wiel. As jy 'n engin het is jy welaf, maar ek het maar volk gebruik om met die hand die groot wiel te draai en dan die naaf af te draai soos ek hom nou wil hê. As dit klaar is dan meet jy hom af, die middelde en so aan en kap die speekgate uit met die beitel en hamer. As jy klaar is dan maak jy die speke soos wat jy hulle wil hê. Jy kan hulle 'n hele paar fatsoene maak.

 

Nouwel, nou het jy die vellings, die moet jy uitsaag. Eerstens meet jy die rondte wat jy wil hê, die buitenkanste rondte is natuurlik die helfte van die hoogte van die wiel. Nouja, die binnekanste ronde van die velling vat jy 4-4½ duim korter. As die klaar is, word hy geboor, die speke word getap, ingeslaan en dan trek jy die vellings oor die speke. As die klaar is dan skaaf jy hom so 'n bietjie gelyk soos jy hom wil hê. As die klaar is het jy 'n ander rolwiel, sommer enige stuk plat yster of blik wat mooi rond is, dan rol jy die houtwiel af rondom die merkie op jou rolwiel en rol hom af, dan het jy presies die grootte wat die ysterband moes wees.

 

Vir 'n agterwiel vat jy ¾ duim korter. Daarna gaan jy weer na jou ysterband toe, dan rol jou hom af en maak hom ¾ duim korter as wat die houtwiel is. Sweis jy hom, vat jy die ysterband, sit hom in die kole by die blaasbalk, sit die twee punte oormekaar en gee hom die hitte. Dan slaan jy hom aanmekaar met die sweis sodat hy aanmekaar vat. Nou as daai klaar is, dan rol jy die ysterwiel af lat jy die regte merk het. Dan word die ysterband in 'n vuur gegooi – maak rondom hom vuur. As hy warm genoeg is dan trek jy hom oor die houtwiel, gooi hom koud met water. Dan krimp daai yster en trek die houtwiel vas.”

 

Hy verduidelik waar en hoe mens die wabande kon voorsien:

 

“Jy kon orals wabande en ysters optel van ou waens. Jy kry nou ysters, lang ysterplate wat jyself kan buig. Jy maak daarvan 'n soort wip met 'n lip aan, dan buig jy die band koud. Of jy rol eers af die lengte van die wiel, hoe groot die wiel is en dan rol jy die lengte af van daai plat yster en dan kap jy hom op sy lengte af en dan rol jy daai yster die rondte wat die wiel moet wees. Dan sit jy daai twee lippe omtrent so 'n duim opmekaar, slaan hom eers 'n bietjie plat so 'n duim opmekaar. Dan sit jy hom in die blaasbalk oor die kole, en as die hitte daar is haal jy hom uit en dan slaan jy hom aanmekaar.

 

Mens kans selfs 'n blaasbalk maak, maar dit moes getrek word. Om 'n ysterband te maak moes mens tenminste twee handlangers hê. Mens het planke gebruik wat jy soos 'n tafelblad gesaag en gelym het soos jy dit wil hê. Die vorm maak nie saak nie, boepens of langwerpig. Nouja, nou het jy die buitekanste ding. Nou maak jy leer in twee helftes, die onderste helfte en die boonste helfte. In die middelte het jy ook weers 'n soliede plank met twee klappe aan, die een maak toe en die ander een maak oop. As jy die onderste een pomp of trek, blaas hy die lug in en die onderste een sak, dan trek hy lug en die boonste klap maak toe, op daai manier het hy gewerk. Ek weet nie of mens dit so mooi kan verstaan as jy niks daarvan weet nie!

 

Die onderste een het twee klappe, en dan as hy afsak gaan hy oop en trek lug in. As jy hom opdruk gaan die klappe daar toe maar die middelste een het ook dieselfde, ook op en af klappe buitenste die boonste een, die is solied, hy gee die drukking as jy onder pomp, dat hy egalig blaas.Daarvandaan gaan 'n pyp van die blaasbalk af na jou es toe. Met smidswerk het jy ook natuurlik die voorste affêre waar jy nou jou kaggel moet maak, kole opsit. Hy is so half hollering en plat waarin jy die kole bymekaargoo. Dan gooi jy maar  ‘n ander paar kole, of maak ‘n vuurtjie en gooi kole op en beginne pomp lat hy maar blaas …

 

Hier waar ons nie steenkool het nie, het ons ook kameelhoutkole gebruik. Jy pak droë hout opmekaar en steek hulle aan die brand. As hulle uitgebrand is gooi jy die vuur dood en dan het jy die kole.”

Steeds op die wielonderwerp wou Willemien weet hoekom die ysterbande dan losgegaan het. Albert het verduidelik dat water die oorsaak was. As die hout weer droof word, dan krimp die hout soveel weg dat die ysterband los is. As een presies gewees het, moes hy sy wiele, wawiele, elke jaar goed verf gesmeer het sodat die water nie kan in die hout ingaan nie.”

 

Toe Albert in Ghanziland nie genoeg smidswerk kon kry nie, het hy besluit om in Maun te gaan probeer. Dis interessant dat “ou Mnr. Burton” ook vir hom gehelp het soos vir baie ander arm mense. “Hy't voor ek afgegaan het om smidswerk te doen, na my toe gekom en my vyftig Pond gegee om mee te begin, dan kan ek eendag terugbetaal.” Lena Lemcke vul aan, “Maar toe het hy gaan tollies koop, 50c 'n tollie. En daardie besies het opgevrek van droogte, maar weer van vooraf begin!”

 

_________________________________

Uit onderhoud met Fanie Lewis (Band C II 6) (Band C II 7-8)

Uit onderhoud met Jan Burger (Band C II 6)

Uit onderhoud met Albert Lemcke (Band T I 6-9) (Band U II 1) (Band U II 10)

Ander Ghanzi
webblaaie

Print asb uit en deel met ander om te lees

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page