top of page

SOSIALE LEWE

Print asb uit en deel met jou familie   & vriende

TROUES, VERLOWING, PRÊT, VERMAAK, DROME, KERK, DOMINEES & STERFTES

 

(a) Verlowings, troues, getroude lewe

 

Cassie van Heerden vertel dat mens vroeër dae eers die ouers moes vra of jy vir ‘n dogter kon skryf “en so aan.”  Wat trou betref was daar eers net ‘n magistraat in Maun en nie in (1) Ghanzi nie. Predikante was ook selde beskikbaar as gevolg van swak vervoer. Paartjies moes dus maar Maun toe gaan om te trou, soms per ossewa, soms met familielede.

 

Bennie van Staden en Edmund Gower was groot maats gewees op die trekpad, het saam transport gery. Edmund se pa Terry was ‘n winkelier op Lehututu en is met Lettie Kotze getroud. Bennie het eers ’39-40’erjare getrou, met Edmund se suster. Die troue was in (2) Maun voor die Magistraat en is deur baie mense bygewoon. Die bekende Riley het portrette geneem en die film gereeld in sy bioskoop gewys as hulle daar was. Die meeste gaste was Engels en hy het hulle sopies gegee. Toe is hulle na die huis van sy neef waar hulle gedans het. Die volgende dag is hulle vort Noorde toe waar hy by ‘n saagmeule gewerk het.

 

Sannie Coetzee vertel hoe sy haar man ontmoet het. Sy en haar broer Chrisjan het ‘n (3) winkel gehad so vier myl buite Ghanzi oppad na Kgoutsa.  Haar man Joey Coetzee het haar ontmoet toe hy kom bees koop het vanaf Upington. Hulle is later getroud en het die winkel oorgeneem en daar gebly. Hulle het onder andere ook by Hugo Lemcke se latere plaas gewoon in die huis wat Evans destydse gebou het toe hy met ‘n Du Plessis meisie getrou het. (Sy is later met ‘n Van Heerden getroud.) Toe die Coetzee dogtertjie sewe jaar was het hulle in SWA gaan boer ter wille van skoolgaan. Haar man se name was Abraham Adam Josef Coetzee. Hulle is stil getroud in Gobabis sonder ‘n bruilof. Sy het nie van ‘n ophef of partytjies gehou nie.

 

Lena Lemcke onthou dat ‘n sekere polisieman Dixon jare later vertel het dat hy by hulle troue teenwoordig was. Albert was toe nog baie arm gewees, “ek het niks gehad nie, net (4) ‘n broek en ‘n hemp aan my gat gehad!” Hy moes 5/- leen vir die sertifikaat en hulle het ‘n trouring geleen by Manie Lewis se ma. Hulle moes self vir hul ‘n hartbeeshuisie bou. Toe Nelie gebore is het hulle Maun toe getrek en ‘n riethuis gebou. Davina is daar gebore.  Mense het nie op armes neergesien nie en hulle het alles saam opgebou. Toe sy bv. groenmieslies wou gaan haal by hul nuwe land, moes sy die mielies op die rug dra en die twee kinders in haar arms. Sy het soos Maria Lewis geglo liewers onder n boom bly as in haar ma se huis! Albert vertel mr. Burton het hom 50pond geleen toe hy op Maun wou gaan smidswerk doen. Maar toe koop hy tollies @ 50c (5/-?). Almal het gevrek en hy moes weer van vooraf begin.

 

Thys Taljaard is getroud met Terry Gower se weduwee Lettie, ‘n dogter van ou Theunis Kotze. Hy en Lettie was arm gewees en het met ‘n ossewa Ghanzi toe gery om te trou, (5) 25myl vêr. Thys se suster Rina en haar man Paul Kotze was saam asook Cassie van Heerden. Cassie se broer Jan van Heerden was die drywer gewees. Hulle het die nag by Martiens van Rooy geslaap. Hy was ‘n broer van Ds. Jaco van Rooy, destyd van Gobabis.  (Martiens het balonne opgestuur vir die SA Weerburo.) Die anderdagmôre het hulle sommer met die voet magistraat Allen-toe geloop en getrou. (Allen is op Ghanzi begrawe.) Hulle is weer met die ossewa terug huistoe waar hulle ‘n etetjie met familie gehad het, nie ‘n bruilof nie.

 

(b) Prêt en vermaak

 

Hugo en Grieta het vertel dat dit vroeër jare die gebruik was om mekaar te help met windpompe opsit of bouwerk te doen. Hulle onthou veral die saambouery met (6) onderwyser Weideman se huis. Omdat mense meer gekuier het met ossewaens as later met karre, het almal geweet wanneer hulle moes gaan help. Bedags moes die jongmanne hard werk terwyl kos gemaak word en saans het hulle lekker gesellig gekuier, gespeel en gedans.  Hugo het dit so opgesom “Die oumense het daar gesit en snert verkoop, en jy moet werk lat jy bars!”  Grieta het bygevoeg dit was waar hulle geleer werk het!

 

Om Kerfees en Nuwe Jaar het die mense bymekaar gekom en gekamp. Hulle het wel beurte gemaak, maar dit was meestal by Christiaan Lewis en by Jannie Marnewyk gehou.

 

Booy Kotze het vertel hy en sy broer Gert het net “simple” speletjies gehad as kinders, soos (7) stokperde en kleiosse, dolosse en boog-en-pyle was gewild. Hulle het voëls geskiet met windbukse.

 

Maar hulle het ook “groot dae gehad, soos Nuwe Jaar en ander saamtrekke. Dan het hulle gedans en gespeel, geboks met handskoene en gestoei. Sy broer Gert was ‘n uitblinker daarmee.

 

Sannie Coetzee was die oudste dogter van die befaamde Chrisjan Lewis. Omtrent vyf (8) families het naby gebly, onder andere Louw Lewis se seuns. Hulle het graag tennis gespeel, perd gery en kaart gespeel.

 

Die Ghanzilanders was nie gesofistikeerd nie, minder as die Engelse op Maun. Daar het Riley by sy hotel flieks vertoon, maar dit was besonders toe die eerste fliek in HugoLemcke (9) se dae op Ghanzi vertoon is. Daar word vertel dat Piet Lewis, Fanie se jongste broer, hom boeglam geskrik het vir ‘n trein op die skerm.

 

Hugo en Grieta Lemcke het goeie vriende gemaak in Maun toe Hugo en Albert en Willie Drotsky daar transport gery het. Hulle het 15pond salarisgeld getrek en die res is teen die (10) einde van die jaar onder hulle verdeel. Maar Hugo het guitig vertel dat hy sy sigarette en groente en ander luukses met dobbelgeld betaal het! Harry Riley het nie gedrink nie, maar as hy Hugo gewaar het, moes hy eers met hom gaan “toss”. Hy het knaend verloor, maar dit was sy vermaak. Hugo verduidelik hulle het ‘n “dice box” gebruik om te gooi en die een met die grootste telling wen elke keer.

 

(c) Kerk, dominees, doop

 

Thys Taljaard was ‘n ouderling van die Gereformeerde Kerk en het Ds. Jaco van Rooy gereeld in Gobabis gaan haal en teruggeneem na “kerke”.  Huisbesoek was vermoeiend, maar met Thys se bakkie kon hulle vêr afstande dek. Sandpaaie en hekke het dit ‘n (11) uitgerekte proses gemaak, maar vir Thys was die koffie en koekies die ergste, want dit kon elke besoek uitrek na ‘n uur-en-‘n-half. Naderhand as dominee sê Amen, dan sê ek “Dominee, ons moet ry, dis nog ver!” Thys se swaer Theunis Kotze (Tickles) het ook so die dominee op huisbesoek vergesel.

 

‘n Ander dominee, Ds. Snyman, het meestal met ‘n ossewa Ghanzi besoek. Jan Burger se broer Sarel het op Olifantskloof gebly en het die betrokke dominee heen-en-weer van Gobabis met ‘n donkiewa vervoer. Vanaf Olifantskloof het ‘n ossewa gereed gestaan om die predikant Ghanzi-toe te vervoer en weer terug.

 

Sannie Coetzee kon ‘n paar name onthou van N.G. dominees wat hulle op Ghanzi besoek en bedien het. Sy het baie van Ds. D.A. Malan gehou, wat hulle in 1928 besoek het toe sy (12) omtrent 12 jaar oud was. Dan was daar Ds. Loubscher. Ds. Mentz van Mafikeng het haar aangeneem, en selfs twee keer gekom. Dan onthou sy Ds. Van der Spuy en Ds. Le Roux.  Daar was eenslag ‘n Ds. Visser van die A.E.B. en soms Gereformeerde predikante, hoewel minder dikwels. Dan het almal die dienste bygewoon.

 

In Ds. Van der Spuy se tyd het hulle reeds motors gebruik. Ds. Le Roux het in 1940 vir hulle ‘n Bybel present gegee wat sy later vir haar seun Chris en Johanna gegee het. ‘n Ds. Niewoudt het ‘n foto van ‘n kerk geplaas in ‘n boek oor Ghanzi, maar Sannie sê dit was foutief. Die foto verwys na ‘n ruine van ‘n kerkgebou wat Dorslandtrekkers sommer van klip gestawel het toe hulle gehoor het ‘n predikant sou hulle kom besoek!

 

Cassie van Heerden het eerstehands vertel hoe hy gedoop is. In sy kleintyd was predikante ‘n seldsame verskynsel, en party families het 2- 3 kindertjies tegelyk laat doop. Cassie kon onthou dat hy self na die dominee gestap het met ‘n papiertjie (13) in sy hand waarop sy naam geskryf was. ‘n Ds. Snyman het hom gedoop, en hy moes op sy knieë staan.  Predikante moes maar gebruik maak van ‘n “geleë”, en jare lank was hulle afhanklik van ossenwaens of donkiewaens wat transport of pos vervoer het. Later jare was daar so eenmaal ‘n jaar geleenthede.

 

(d) Drome

 

Booy Kotze het na ‘n operasie in Pretoria iets ondervind wat hy net as ‘n “droom” kon oorvertel. Hy was nog deurmekaar van komplikasies as gevolg van die operasie. Hy het (14) daar ver onder gelê, soos op die aarde, en van bo af het ‘n groot gang met twee hoë mure alkant gekom en ‘n lig het daarvandaan van bo-af geskyn tot op my bed. Van die ander dagmôre af het hy gesonder geword. Hy was glad nie bang gewees nie, dit was vir hom wonderlik.

 

Booy het ‘n anderkeer ook soiets gedroom, maar dit was op sy plaas Gruispan gewees. Hy het ‘n spierwit vlieënde piering sien afkom. Die lang lyne aan die gevaarte was ook spierwit.  Dit het reg by sy huis se gewel afgesak. Daar was drie persone in die piering. (15) Hulle het die lyne losgemaak en oorgemaak.  Eer het in hom ‘n wit duif gegee en gese, “ Gaan gee dit vir jou vrou in   die huis.  Dis al wat ons vir jou gebring het.”  Hy het so gemaak en toe hy terugkom was hulle besig om die lyne (toue) weer vas te maak.  Hy het hulle gehelp en toe vaar hulle weer op, maak so draai en vlieg weg.  Dis al wat hulle gepraat het.

 

Booy het vertel dat sy pa, die eerste Theunis Kotze, ook drome gehad het.  Hy het soms gedroom van mense wat op pad was na hulle toe, en dan gebeur dit so.  As hul pa soggens doodstil gesit het, het hulle geweet iemand was op pad.

 

(e) Begrafnisse en sterftes

 

Grieta Lemcke het so ‘n bietjie vertel van haar beroemde pa, Chrisjan Lewis, se selfmoord, omtrent 1940. Sy was die jongste kind, maar reeds getroud en uit die huis uit. Haar broer  en sy vrou het haar ma omgepraat om saam te ry Gobabis toe. (16) Haar pa was alleen toe Albert Lemcke, sy skoonseun, daar aangegaan het. Hy het vertel dat die ouman baie bedruk was toe hy gery het. Nie vêr nie, toe hoor hy ‘n skoot en het omgedraai. Sy dood was vir almal onbegryplik.

 

Grieta kon net goed praat van die jonger Theunis Kotze. Almal het van hom by begrafnisse gebruik gemaak, hoewel hy in die Gereformeerde Kerk was. Hy was Geel Magiel se pa. Op ‘n keer was hy weg met ‘n beestrek deur die Kalahari. Sy eerste vrou, ‘n Taljaard, was alleen by die huis toe hul kind dood is. Sy het sand aangedra na die graf in ‘n 4gelling blik en het seker ‘n binne spier geskeur. Sy was byna dood toe Grieta se broer daar gekom het, en is alleen dood.

 

Dit was gebruiklik dat die huismense self lyke uitgelê en versorg het in ‘n tyd sonder doodsertifikate. Elke huis het maar ‘n paar planke bygehou.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:

 

 

(1)  (I II 7)  Cassie van Heerden

(2)  (A I 9)  Bennie van Staden

(3)  (Z I 5)  Sannie Coetzee

(4)  (U II 9 -10)  Albert en Lena Lemcke

(5)  (X II 7)  Thys Taljaard

(6)  (S II 2-3)  Hugo en Grieta Lemcke

(7)  (V II 3)  Booy Kotze

(8)  (Z I 7 )  Sannie Coetzee

(9)  (Q I 2)  Hugo Lemcke

(10)  (P II 2 )  Hugo Lemcke

(11)  (X II 9 )  Thys Taljaard

(12)  (Z I 3)  Sannie Coetzee

(13)  (I II 7)  Cassie van Heerden

(14)  (V II 1-3)  Booy Kotze

(15)  (V II 1-3)  Booy Kotze

(16)  (S II 1-2)  Hugo en Grieta Lemcke

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page