top of page

Hester Sophia Kempf

Geskiedenis is nie net oor dinge van die verlede of oor mense wat nie meer daar is nie. Geskiedenis word gemaak, elke minuut. Die jaar 2020, wat vir baie so vol verwagtinge aangebreek het, het in Ghanzi begin met geboorte van verskeie nuwe babas, terwyl nog ander in verwagting was. Van oorsee af was daar reeds gerugte van ‘n virus wat uitgebreek het in China, maar niemand het dit ernstig opgeneem nie; dit was vêr van Afrika af en nog verder van Ghanzi. Min het enigeen vermoed dat die hierdie einste Covid-19 virus so ‘n groot deel van ons nuwe geskiedenis sou word, en veral so’n invloed op die verwagte nuwe aankomelinge sou hê!

Vyf maande in die nuwe jaar in, veilig terug by die huis, is dit reeds geskiedenis dat vir twee dogtertjies van Ghanzi, die COVID-19 virus reuse uitdagings gevoeg het by die reeds besondere mediese probleme wat albei moes oorkom. Steeds prys familie en vriende die Vader vir die lewe van albei hierdie twee wonderwerkies. Klein Klara Potgieter van Manie en Willie Potgieter (gebore 16 Maart 2020), en klein Hester Sophia Kempf van John-John en Zoë Kempf (gebore 10 Maart 2020) se stories oor 2020 en die virus, sal altyd sy aan sy vertel word in Ghanzi.

HESTER SOPHIA SE VERHAAL:

Op 2 Maart 2020 vertrek die Kempf gesin vanuit Ghanzi, sodat Hestertjie in die veilige omgewing van Stellenbosch, naby haar Ouma en Oupa Chuck en Hester Hoogendijk, haar eerste lewenslig kon sien.

Hulle arriveer na die lang reis, die 4de Maart in Stellenbosch. Die plan was dat Zoë die laaste maand heerlik kon rus na die lang tog vanaf Ghanzi. Op 8 Maart egter, breek Zoë se water, op 9 Maart spuit hul kortisoon vir Hester se longetjies te versterk, maar op 10 Maart, op 36 weke, word Hester Sophia Kempf in die MediClinic Stellenbosch gebore. Sy weeg maar 2.18 kg maar alles gaan goed en almal is dankbaar dat John-John hulle vroeg genoeg gekom het.

Donderdag, die 12de Maart, begin die kleine Hester egter gal opgooi en sy word oorgeplaas na die Vincent Pallotti NICU. Sy verloor vinnig gewig en weeg nou slegs 1.9kg! Hier word sy uiteindelik gediagnoseer met Hirschsprungs Sindroom, maar is te klein en te swak om te opereer. Haar ouers word gewys hoe om haar dermpie gereeld te spoel met ‘n kateter. Dis ‘n spannende tyd, maar ten minste weet die familie nou wat verkeerd is en was hulle gerusgestel deur die dokters dat sy later gehelp sou kon word om ‘n groot deel van die dermpie te verwyder, as sy bietjie ouer is.

Sy word op 19 Maart ontslaan en die ‘lock-down’ in SA begin in alle erns. Die gesin met Ouma en Oupa besluit om die ‘lock-down’ op Struisbaai deur te bring. Die Botswanagrense is reeds gesluit.

Einde Maart begin hulle agterkom Hestertjie gaan agteruit. Sy word swakker, haar magie swel en sy is onnatuurlik vol winde en krampe. Intussen doen die hele familie navorsing en deur die Genade, kom Zoë se broer, Gus, op Dr. Chris Westgarth-Taylor af. Hy is ‘n pediatriese chirurg wat spesialiseer in kolon-rektale werk op babas en kinders. Hy was besig om te emigreer na die VSA maar die COVID-19 het ook sy planne in die wiele gery, dus was hy beskikbaar om die Kempfs te help, wonder bo wonder! Vanuit Struisbaai het hulle lang telefoongesprekke met hom gevoer en hy bevel aan dat hulle nou die dermpie elke dag moet spoel, in plaas van elke tweede dag en so gou as moontlik moet deurkom Johannesburg toe.

Vanweë die omstandighede was hulle so dankbaar om ‘n permit te bekom en te kon ry vanaf Struisbaai na Johannesburg, waar hulle die 7de April arriveer. Dr. Westgarth-Taylor kom sien hulle by Gus se huis vanweë die risiko van die virus. Dit blyk dat ‘n operasie die enigste oorblywende opsie is. Op 9 April word Hestertjie dus geopereer en kry sy ‘n stoma(sakkie), totdat sy ouer is om die groot operasie te kan kry, waar hulle een derde van die dermpie gaan verwyder. Op ‘n maand oud is sy reeds in haar derde hospitaal, haar hemoglobienvlakke is uiters laag en haar infeksietelling baie hoog.

Ons deel hiermee graag Zoë se eie woorde, want net ‘n Ma weet regtig waardeur hulle gegaan het.

“Hestertjie het onophoudelik gehuil na die operasie. Ons mag nog glad nie aan haar raak nie, uit vrees vir infeksie. ..Sy haal baie vlak asem, so hulle gee haar suurstof. Hulle gaan haar nou verdoof hou vir eers. So baie streng reëls hier by die hospitaal, as gevolg van die Corona virus. Dit maak alles soveel moeiliker.....haar hartklop is baie vinnig, soms tot 200....ons hoop en bid dat haar lyfie beter op die nuwe medisyne reageer...”

11 April:

“Halleluja loof God Hy is goed vir ons! Dr. Chris het nounet gebel en gese die stoma is op die korrekte plek. Dit is so’n groot verligting!”

13 April:

“Vandag sing hierdie Mamma hart van my. Ek mag vir Hestertjie vashou en dit is wonderlik. Sy lyk elke dag beter. Hulle het haar voeding opgeskuif na 15ml elke drie uur. Pediater het my nounet kom sien en sê sy is baie gelukkig. Sy gaan vir eers nie haar laat borsvoed nie want sy is te swak. Vir nou nog buis en later bottel probeer. Verder is sy gelukkig met Hester se vordering. Haar infeksietelling het mooi afgekom waaroor ons baie bly is”

Op 16 April is Hestertjie ontslaan en moes die ouers die versorging self behartig. Die dokter stel voor dat die groter operasie in Augustus of September gedoen word, wanneer hy die onderstek onaktiewe deel van die dikderm verwyder. Hopelik sal sy 60% van haar dermpie kan behou en die stoma ophou gebruik. Nou was dit die gesukkel om permitte te kry om terug te kom, wat John-John moes organiseer:

“Vanmore word ons wakker met die goeie nuus dat ons ‘n permit gekry het om huis toe te kan gaan! Dit was omtrent ‘n gespook om klaar gepak te kry want die permit was slegs vir gister. John moet toe Botswana konsulaat toe om vir Hester ‘n “travel passport” te kry sodat ons haar oor die grens mag neem en die is ook net geldig vir 4 dae, so kon dit nie vroeër kry nie. Ons vertrek toe gisteroggend 5h00 uit Johannesburg om vroeg op die grens te wees. Daar gekom toe sê hulle ons mag nie self-kwarantyn met Hester nie, ons moet na hulle kwarantyn gaan. Dit nadat ons doktersbriewe vooraf vir hulle gestuur het om aansoek te doen vir self-kwarantyn. Na vele oproepe van John en ander mense kom ons toe uit by die Minister van Gesondheid en hy sit toe ‘n dokter aan om ons te bel. Uiteindelik na 5 en ‘n half ure op die grens kom ons daar weg. Dit was ‘n vreeslike lang dag en ons het 22:30 eers by die huis gestop. M aar ons is ongelooflik dankbaar om by die huis te wees. Ons is nou hier in kwarantyn en Hestertjie mag nie eers haar Ouma ontmoet nie. Oor tien dae kom toets hulle ons egter en as ons dan niks makeer nie, is ons kwarantyn oor.

Zoë se woorde op ‘n whatapp groep eggo die dankbaarheid van albei hierdie gesinne, na al die trauma en ontwrigting:

“Die Here het ons deur alles die heeltyd gedra en ons loof en prys Sy Heilige naam vir Sy hand van beskerming. Baie dankie vir elkeen se gebed, liefde en omgee!

 

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page