ABRAHAM DE GRAAFF
Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.
ABRAHAM DE GRAAFF (Bram of oom Braam)
Soms lewer die geskiedenis karaktervolle mense op wat moeilik is om in ’n paar woorde saam te vat, daarom sê ons dankie vir al die hulp van die familie in Suid-Afrika, Dirkje Strydom, Piet van der Bijl, Dicky Manson, en die familie in Nederland, Wim Verduijn, MarijkeVerduijn, asook die familie in Botswana, vir al die hulp om ’n profiel saam te stel van Abraham de Graaff en hoe hy in Ghanzi gekom het.
Op 17 April 1909 is Abraham de Graaff in die dorpie Alphen aan den Rijn in Nederland gebore. Jare later sou hy nog baie vertel van sy ouerhuis met ’n uitsig oor die Rijn en die swem in die rivier, winter en somer. Volgens gerugte was Bram de Graaff ’n woelige mannetjie wat sy susters om sy pinkie gedraai het. Soms was hy stout, dan het hy een van sy lekkertjies verbeur en dan het sy susters hul lekkertjies vir hom gegee.
Hy was die tweede oudste seun van Willem de Graaff (1876 - 1954) en Dirkje Janzen (1876 - 1940), wat 8 kinders gehad het.
Willem de Graaff en sy vennoot, mnr. Baas, was stigters en eienaars van die verffabriek De Graaff en Baas in Alphen aan den Rijn. Willem de Graaff se wens was dat sy seuns in die fabriek sou werk en daarom het hulle die nodige opleiding daarvoor gekry. Dit was verftegnieke wat Bram baie gebruik het in sy latere lewe.
In die jare 1933 - 1934, was daar min werk in die boubedryf in Nederland en Bram was ook glad nie te vinde vir die werk in die verffabriek nie. Mense het begin praat van ‘n land ver weg, ’n land in Afrika met baie werksgeleenthede en volop son.
Bram se belangstelling in Afrika is vroeg geprikkel deur sy twee ooms. Paul Kruger het Nederlandse onderwysers gewerf om in Suid-Afrika te kom werk. Bram se oom Gerrit en oom Johannes (Hannes) se aansoeke was betyds, maar sy vader Willem se aansoek was net te laat. Die Anglo-Boereoorlog het in 1899 uitgebreek. Hannes het in Jan Smuts se kommando geveg en is later as krygsgevangene na St. Helena gestuur.
Teen die einde van 1934 onderneem Bram se pa, Willem, ’n reis na Suid-Afrika, wat later die lewe van sy seun Bram en twee van sy dogters baie sou verander. Willem se broer Gerrit was toe reeds ’n onderwyser aan Jeppe Boys High School in Johannesburg. Met sy terugkoms in Nederland, skryf hy ’n reeks artikels in ’n Alphense koerant. Hy vertel van sy wedervaringe, maar veral oor die wonderlike vooruitsigte en die ekonomiese opbloei in Suid-Afrika. Met aanmoediging, oortuig pa Willem sy skoonseun, Paulus van der Bijl, om in Suid-Afrika te gaan werk. Bram, altyd ‘n avonturier, wou opsluit saam.
In 1935 vertrek Paulus van der Bijl en Abraham de Graaff met ‘n boot van die Deutsche Afrika-Linien, die Watussi, uit Nederland na Suid-Afrika. Daar was baie staaltjies, bv. van Bram wat op elke hawe die honde bevriend het en in Las Palmas hom ooreet het aan piesangs, vrugte wat nie beskikbaar was in Nederland nie. Dit het goed gegaan in die Kaap, en Paulus het ook sy gesin na Suid-Afrika laat kom. Hulle arriveer in Maart 1937, ook met die Watussi. Hierdie boot is gedurende die Tweede Wêreldoorlog, op 2 Desember 1939, 135 km suid van Kaap Agulhas, deur sy eie bemanningslede laat sink. Bram loseer by sy suster Marié en swaer Paulus en deel ’n kamer met hul seun, Wim. Marié se suster, Geertruida, haar man Arie de Jong en hul twee dogters arriveer in 1949 in die Kaap. Braam was altyd baie geheg aan sy familie en het dikwels gespog met die woorde: ‘My familie is baie goeie mense.’
Bram was aantreklik en baie gewild onder die Afrikaanse gemeenskap in die Kaap ‒ ’n ontembare vrygesel wat later vir hom ’n motor gekoop het en almal vermaak het. In 1946 het hy weer teruggegaan na Nederland, maar die verlange na Afrika was te groot en net twee jaar later, in 1948, vertrek hy weer na Suid-Afrika. Op die boot ontmoet hy iemand wat hom vertel van Duitswes Afrika en al die geleenthede daar. Toe hy in die Kaap aankom, reis hy byna onmiddellik per trein na Windhoek.
Later kry hy verfwerk in Gobabis; hy het die mooiste verftegnieke geken en was in aanvraag vir hierdie werk. In Gobabis begin sy verbintenis met Ghanzi. Hy ontmoet die jong weduwee, Nelie Lemcke, in sy eie woorde: ‘Die mooiste vrou wat ek nog ooit in my lewe gesien het en ek het baie gesien,’ en haar skatlike dogtertjie, Magda. Met Magda sou hy altyd ’n spesiale band behou en haar as sy liefling-kind beskryf. Bram en Nelie het mettertyd 6 kinders gehad, Magda, Willie, Toekie, Bertie, Braam en Wiena.
Hulle het aanvanklik in Gobabis gebly en ’n kamer by die Enslin-gesin gehuur. Later het Nelie en die kinders ’n hartbeeshuisie op ’n boerdery op die grond van haar oom Hugo Lemcke gehad, terwyl Bram in Gobabis agtergebly en verfwerk gedoen het. Nelie het gemelk en die room na Gobabis gestuur vir ’n inkomste. Die egpaar het ’n trommel gehad wat heen en weer met die roomlorrie gestuur is. Sy het vir Bram vleis en botter van die plaas af gestuur en dan het hy weer vrugte en lekkernye vir die kinders teruggestuur. Die opgewondenheid was altyd groot as die trommel aangekom het ‒ hulle onthou die pienk ‘wafel’-koekies vandag nog. Nelie en die kinders het naby haar oom Hugo en tannie Grieta gebly en het dikwels oor en weer gekuier, voorwaar ’n hegte familie. Nelie en haar kinders het met ’n donkiekar tot by hulle gery en daarvandaan het hulle saam met die Lemckes dorp toe gegaan in hul Bedford en by die familie gaan kuier ‒ die kinders onthou dit as hul beste tye ooit.
Bram het ook planne beraam om vooruit te kom en het perde in Namibië gekoop, ’n perdekar met donkies ingespan en die perde na Ghanzi aangejaag en daar geruil vir beeste. Vandag besef ’n mens eers die opofferinge en uitdagings wat ’n tog oor so ’n groot afstand met perde moes behels het. So het Bram sy boerdery begin op die plaas Noganau. Hy het aanvanklik net ’n afdak op vier 210 liter dromme gesit en daaronder gebly. Sy bed was onder die afdak en so het hy gewoon, totdat hy geleidelik nog kamers kon aanbou. Sy kontak met die wêreld rondom hom was vir hom baie belangrik. Hy het altyd na die radio geluister ‒ die afdak het langs die windpomp gestaan, met die lugdraad van die radio hoog in die windpomp vir die beste ontvangs. Sy hele lewe lank het hy deur middel van die radio op die hoogte gebly van elke landsgebeurtenis.
Na die afsterwe van Nelie se oom, Chrisjan Lewis, koop Bram en Nelie die eerste winkel in Ghanzi op die boedelveiling. Bram herdoop die winkel na Hollandia Cash Store. Nelie bestuur die winkel en hier begin nuwe herinneringe. Braam en Wiena, die jongste twee kinders, is altwee in Ghanzi gebore. Bram begin Ghanzi Butchery en die twee bestuur elk ’n suksesvolle besigheid.
Bram het goed oor die weg gekom met almal en die Babish en Jankie families het dikwels kom kuier. Baie mense het by die De Graaffs tuisgegaan in Ghanzi en Bram se gevatte grappies geniet. Vir die kinders het hy altyd ’n lekkertjie in sy sak gehad. Hy was ’n sport-liefhebber en het die Terrors sokkerklub ondersteun ‒ hy was ook erelid. Die gemeenskap het later hul respek vir hom betoon met die vernoeming van ’n straat na A de Graaff Street. Dit is die straat waarin al die besighede gevestig is wat die familie suksesvol opgebou het. Hul dogter, Wiena, besit vandag Ghanzi Butchery en Hollandia Cash Store.
Bram het nooit sy Nederlandse aksent verloor nie en die bande met sy familie in die Kaap en in Nederland was vir hom baie belangrik. In ’n brief skryf hy: ‘Ek droom nog dikwels dat ek by julle in Nederland is, maar as ek wakker word, dan besef ek, my lewe is nou hier.’ Die Nederlandse en Suid-Afrikaanse familie het ook kom kuier, dikwels in moeilike omstandighede en agter op vragmotors, maar hulle het hul oom kom besoek.
Bram was ’n diereliefhebber, met geweldige kennis van voëls en die natuur. Hy het van jongs af altyd honde gehad en kon enige hond se vertroue wen. Daar was altyd honde en katte, voëltjies en hoenders in die omtrek. Dit is ook die rede waarom hy nie ’n goeie boer kon wees nie ‒ baie ou osse het uit sy hand geëet en hy het nie die moed gehad om hulle te slag nie. As ’n perd siek of sterwend was, het hy na Bram se venster gekom vir hulp. Sy liefde en kennis van perde en hoenders word nog deur sy nageslag voortgesit.
Sy sêgoed was uniek, hy was reguit en het nie gewildheid gesoek nie, maar was tog besonder gewild. Die ouer mense van Ghanzi onthou hom almal en die persoonlike aandag wat hy aan elkeen gegee het om hulle spesiaal te laat voel. ’n Paar van sy sêgoed:
‘Ek is getroud toe ek 40 jaar oud was en dit was nog 40 jaar te vroeg.
‘Ek is nie oud nie, laat ek jou vertel wie oud is, die duiwel, en weet jy wie is nog ouer as die duiwel, sy ma!
‘Ek het my kinders goed grootgemaak, ek kan nie help as hulle as grootmense nie hoor nie.
‘Moet nooit die fout by ’n kind soek nie, dit is altyd by grootmense.
‘Met familie moet jy wandel, nie mee handel.
‘Julle moet self julle kinders oppas; die Here is nie jul kinderwagter nie.’
Daar is nog oneindig baie sêgoed. Hy het elke aand buite op die stoep in Ghanzi gesit, rustig met die vlieëklapper in sy hand, sy bier gedrink en radio geluister, nadat hy al sy diere self kos gegee het. Hy het ’n noue band met sy kleinkinders gehad en was baie trots dat Marijke en Marié na sy susters vernoem is. Hy was ontsettend tropts op elke ander kleinkind wat sy naam gedra het. Hy het Marijke se belangstelling in kuns geprikkel met boeke oor die ou Nederlandse kunsmeesters.
Toe sy suster, Marié, se kleindogter, Wilma van der Bijl, Mej. Suid-Afrika word, was hy baie trots en het hy elke tydskrif en koerantuitknipsel daaroor veilig bewaar. Hy het ’n kamer met Wilma se pa, Wim, gedeel toe hy in die Kaap aangekom het en die familie reken Wim was sy gunsteling nefie.
Op 1 September 1993, sterf Bram de Graaff in sy kamer in die huis op Ghanzi, met sy vrou Nelie en die meeste van sy kinders langs sy bed. ’n Duifie wat hy versorg het, het saggies gekoer, en die hondjies was by hom op die bed.
Hy sou vandag baie trots gewees het op sy nageslag in Botswana. Almal mis hul ouers en wens pa Bram kon die wildboerderye sien. Christiaan Abraham (Braam) was die minister van Landbou en van die ander kinders is suksesvolle sakelui, maar bowenal sou hy baie gelukkig gewees het om te weet dat sy kinders en kleinkinders nog steeds kontak met hul familie in Suid-Afrika en Nederland behou.
Hy is begrawe in die familiebegraafplaas op die plaas Buffelshoek, wat nou aan sy kleinseun, Bertus van der Merwe, behoort.
Ander Ghanzi
webblaaie
Het jy enige kommentaar oor die stuk?