top of page

ONDERHOUD MET SUSTER MARIA VIZE, GHANZI, 1980.

 

Vraag: Suster, jy was Afrikaans en oom Reggie Engels?

 

MV: Ja. Sy ouers kom uit Engeland, jong, en hulle was so rou-rou-rou, maar Oom Reggie kon nie ‘n woord Afrikaans gepraat het toe ons getroud is nie. Niks nie. Hy het maar Afrikaans geleer en binne twee jaar sou jy nooit agterkom het lat hy net kan Engels dinges nie. Nee, iemand het nou die aand vir my by die hotel ook gevra of ek Afrikaans is of Engels, toe sê ek nee,  ek is Afrikaans, maar Oom Reggie was Engels. Maar jy weet, ons het nooit Afrikaans in die huis gepraat nie, nee, aldrie my kinders kan baie goed Engels praat, want ons het nooit met hulle Afrikaans … Maar jy weet daar is van my familie wat nie so baie daarvan gehou het nie, maar ek het gesê dis my huis en ek praat met hulle Engels. Afrikaans kan hulle optel enige tyd, ek sê maar Engels kan hulle nie enige tyd optel nie. Jy weet voorlat ons hiernatoe gekom het, het ons geboer, en daai twee jaar se tyd het Reggie al die Afrikaans opgetel. En ek sal nooit vergeet nie, eendag het ons gegaan na ‘n biduur-toe, terwyl ons toe nou op die plaas gebly het, en geboer het, en toe bid hy in Engels, en toe sê hy maar hy wonder of die Here sal verstaan lat hy in Engels bid? Jy weet, dat mens nou so eng kan wees! Nee, regtig!

 

Vraag: Suster, almal praat net van Suster Vize, en niemand weet wat is Suster se naam nie?

 

MV:  Hulle sê maar algar Suster! Daar’s niemand  wat vir my ooit op my naam genoem nie die enigste een wat vir my op my naam noem is Fred Fouché. My naam is Maria Magdalena van Niekerk. Maar selfs Reggie het vir my nooit iets anderste gesê as Suster nie! Daar’s niemand wat vir my op my naam gesê nie behalwe Fred. Ek glo nie iemand ken my naam nie! Algar sê maar Suster en as iemand kom dan sê hy maar Suster, so sal ek seker maar doodgaan.

 

Vraag: Het Suster goeie hoop vir die toekoms in Botswana?

 

MV: Ja, hulle brei baie uit. Hulle brei baie uit, ek was in 1977 met my suster en haar dogter oorsee gewees en ons het baie rondgereis en al daai dinges, en ek het natuurlik baie gesukkel jy weet met visa’s en al daai soorte van stories en dinges, Europa-toe. Maar sê ek nee, Botswana, sovêr as wat jy gery en al die dinge, plekke daar rond sê jy nee, gee maar nog vir my Botswana, hy’s nog maar die beste met die wye oop vlaktes en alles en dis nog maar die lekkerste.

 

Vraag: Was Suster opgewonde om Ghanzi toe te kom of was dit ‘n opoffering gewees ?

 

MV: Ek weet nie, ek sal nou nie eintlik sê ek was opgewonde nie, ek het net vir my man gese as hy nie my kinders se mangels laat uithaal voor ek hiernatoe kom nie, kom ek nie. Ons het al drie se mangels op eendag uitgehaal en sommer dadelik gery!

 

Vraag: Het Suster enige idee gehad hoe dit hier was of wat hier aangaan voor julle gekom het?

 

MV: Reggie was al ‘n vorige keer hier gewees, hy was ‘n rukkie voorlat ons hiernatoe gekom het toe was hy en my swaer was hierso gewees, so hulle het geweet, maar ek het nie geweet nie, toe ons op Gobabis gekom het en ons het op Sandfontein gekom toe sê ek vir hom “Here, jong, maar hoevêr is dit nog? “Nee, dis nog ‘n entjie!” Maar wat, die paaie, die paaie was die grootste ding gewees. Ons het met ‘n bakkie gekom, maar ons goed het eers gekom ‘n rukkie nadat ons gekom het. Dié het Oom Niek Swarts toe vir ons gebring deur die Kalahari. Dit was 1955 in November. En ek het beginne werk die einde van November. Hulle het my aangestel voor ek hiernatoe gekom het.

 

Ons het gekom van, jy kan sê, meer Daniëlskuil. Jy kan sê tussen Koopmansfontein en Kuruman, so in die middel van Reivilo en Daniëlskuil en Koopmansfontein en Kuruman. Dis was darem baie meer beskaafd as wat dit hier gewees het! As ek darem dink hoe vreeslik was hierdie paaie gewees, jy weet hulle’t net beginne die pad reguit maak en regskraap van Sandfontein af hiernatoe toe ons gekom het. Hulle was nog besig daarmee gewees, want hy was nog omgeploeë toe ons gekom het.

 

Ek en Oom Reg en die drie kinders. Toe klim ons nog hier af, toe’t ons nie eers ‘n huis nie, toe moet jy weet, Scholtz, ek weet nie of jy kan onthou daai tyd toe Scholtz hier gewees het nie? Hy was ‘n Veterinary, ’n veearts. Enne toe moes ons eintlik in sy huis ingegaan het en hulle sou met verlof gegaan het, nouja toe’t ons glad nie ‘n huis nie, nou daai gebou wat langs die veearts se huis gestaan het, sommer so ‘n klein geboutjie, toe moes ons toe so in een vertrek ingaan. O jirre, dit was ‘n gesukkel gewees meer as een dag het ek gedink, nee, ek loop liewerste weg! Toe moet jy weet langs hom was toe nou die dispensary, en ek bly in die een kant in een kamer. Nouja, daar’s nie eers kookgeriewe gewees nie of niks nie. Hoe ons gesukkel het toe ons hier gekom het! Maar wat, ons het darem die mas oorgekry en dit het nie te sleg gegaan nie. Eintlik het Scholtz-hulle nog ‘n lang ruk daargebly en toe’s ons in hulle huis in. Nouja, toe hulle nou eers weggaan, was hulle toe nou besig gewees jy weet om toe nou die hospitaal te bou. Enne toe het ons daarvanaf, toe hulle die hospitaal klaar het toe trek ons in daai een gebou langs die hospitaal, jy weet, wat hulle toe vir my gebou het. Daar het ons altyd gebly. Toe het ek darem ‘n ordentlike huis gehad, toe was dit lekker gewees. Maar ek was die enigste, wel jy kan sê die enigste suster wat toe nou hierso gewerk het, wat distrikwerk gedoen het. Want ek het toe mos nou nie ‘n hospitaal of iets gehad nie, tot lat ons nou later aan die hospitaal oopgemaak het. Maar ek was die enigste een wat toe nou distrikwerk gedoen het, jy weet, van hiervandaan af tot op Kuke en weer hiervandaan af tot op Ncojane. Jy weet. Al die plekke het ek distrikwerk gedoen.

 

Vraag: Nou hoe’t Suster dit gedoen, alleen uitgery?

 

MV: Nee, ek het ‘n drywer gehad. Hy het my gevat van die een plek na die ander plek. So het ons by die plase omgegaan by elke plaas het ons omgegaan, een week, en dan weer by die ander week by ‘n ander plek en dan weer ‘n rukkie gebly hierso jy weet en kliniekwerk gedoen en so’t ek maar rondgegaan, totdat ons toe nou die hospitaal oopgemaak het,  jy weet, en toe natuurlik toe’t ek ‘n paar dokters darem. So jy weet een keer ‘n maand het hulle gekom van Maun of van Gaberones met die vliegtuig. Jy weet soos tye nou verbeter het ons ‘n vliegtuig gehad so het die dokters toe nou bietjie meer dikwels gekom. Maar verder moes ek maar alles doen. Die drywer was ‘n Kleurling, baie goed gewees.

 

Meeste van die tye het ek sommer so langs die pad geslaap. En sommer net so uitgekamp, ja, meeste van die tye, ek het baie min by iemand gaan slaap en so, enigste wat ek by mense gaan slaap het was by ‘n bevalling. Maar anderste nie, anderste het ek baie, baie selde ooit, selfs jy weet af Ncojane toe, Kalkfontein en dinges, ek het maar gewoonlik altyd net so in die veld geslaap. Meeste van die tyd het ek ook van die kinders saamgevat. En baie keer dan moes ons altyd ‘n pasiënt saamgebring het, nouja dan kamp ons sommer so langs die pad uit …

 

Vraag: So Suster het ook maar vir Oom Reggie-hulle in daai dae nie baie dikwels gesien nie?

 

MV: Nee, behalwe nou jy weet as ek nou uitgegaan het op distrik, dan moes die kinders by hom bly, want die kinders het skoolgegaan, jy weet toe nou nog hierso skoolgegaan, toe was die skool mos nou nog hier. Maar as ek natuurlik nou by die huis gewees het dan was dit nou heeltemal iets anders. Maar ek was baie meer uit as wat ek hier gewees het. En as dit vakansietye was het ek die kinders saam met my gevat want hulle het dit ook maar geniet jy weet om ‘n bietjie weg te kom hier in Ghanzi uit. Maar ag dit was lekker ou dae gewees, by al die swaarkry was dit darem lekker!

 

Toe ons in die begin hier gekom het, net ‘n ruk na ek hier gewees het, het ek mos ‘n ulcer gehad, hierso op my neus, en daarmee moes ek toe nou Johannesburg-toe gaan vir behandeling. Ek sal nooit vergeet nie, ek het saam met Albertus en ’n Mnr. Van Zyl wat die garage hier gehad het gery. En ek het ‘n hele groot seer op my sit-me-down gehad toe ek anderkant gekom het! Ons het ‘n dag en ‘n nag gery. Dit was, die paaie was nouwel sleg, maar ek meen ons het darem nie té, té sleg gevaar nie, maar dit, dit kan ek nog onthou. Maar ek was regtig so moeg en seer gewees toe ek daar anderkant uitgekom het! Toe ek nou daarvandaan teruggekom het, het my swaer-hulle my darem gebring met ‘n groot lorrie, en die’t ons vier dae gery, want ons het meer vasgesit as iets anders. Maar die paaie was eintlik, en ek meen selfs die plaaspaaie jy weet, terwyl ek distrikwerk gedoen en ook Maun-toe gegaan het en dinges, dié was algar maar baie sleg.

 

Vraag: Daar was seker partymaal dinge waar Suster gewens het hier was ‘n dokter!

 

MV: Ja, daar was baie dae, ek meen, ek was ook maar jy weet nie meer op hoogte van sake gewees toe ek hier gekom het nie. Want daar was tye wat, lang tye wat ek nie verplegingswerk gedoen het nie, nouja met die gevolg dat ek ook maar baie moes geleer het. En nouja, enige van hierdie dokters moet ook maar baie leer, jy weet, as hy hiernatoe kom. Verder, wel ons het darem oor die weg gekom, daar was tye wat ek nie geweet het wat is wat nie, maar dit moet ons seker ook maar leer.

 

Ek moes doodsertifikate uitskryf en die soort van ding doen, maar ek het net nie post-mortems gedoen nie. Dié het ek nie gedoen nie. As daar bv. so ‘n geval gewees het dan het een van die dokters gekom. Meeste van die tyd het een van die dokters van Maun gekom.

 

Vraag: Nou wie’t besluit daar moet ‘n post-mortem gedoen word?

 

MV: Ja, sê nou net bv. iemand het gif gedrink, of hy’t hom opgehang of enige soiets wat die magistraat moet weet. Sulke dinge, dan moes hulle uitgekom het. Ons het altyd maar, jy weet, meeste van die tyd oor die radio gepraat, en daai tyd was dit ook maar die enigste iets wat daar gewees het en dit was ook maar net die polisie, jy weet, wat toe nou nog ‘n radio gehad het, daai tyd. Daar was niemand anders nie. Daar’s nou so baie wat nou het maar daai tyd was daar nie gewees nie, dit was net die polisie en ek dink die magistraat het ook een gehad. Dis ook maar al. Die dokters het ook eers later, baie later, gevlieg hiernatoe. Jy weet meeste van hulle het medisynes en goed gebring, nouja baie van hulle het ook gekom tot hier en dan het hulle nog weer Kalkfontein-toe gegaan en Mamuno-toe gegaan en Ncojane-toe, jy weet, om ook kliniekwerk te doen. Hulle moes algar medisynes saam met hulle bring, nouja, so het hulle maar meeste van die tyd met bakkies gekom. Behalwe in die later jare wat die dokters gekom het van Gaberones het hulle met die vliegtuig gekom want dan kom hulle net tot hier, en dan doen hulle kliniekwerk, dan bly hulle oor vir ‘n dag en dan doen hulle kliniekwerk dan kom meeste van die mense maar, jy weet, dan daai dag. Ons laat weet hulle maar gewoonlik as die dokter kom. Al my medisyne het ek gekry van Maun. Ek het al die rekwisisies opgemaak en dit het altyd Maun toe gegaan. Hulle het alles opgemaak, ons het alles daarvandaan … jy weet Drotsky was al die tyd ook voor my hier gewees. Jy weet, hy het ook baie kliniekwerk gedoen voorlat ek hiernatoe gekom het.

 

Kyk hy het altyd gespray vir malaria en al daai soort dinges, toe moes hy ook al die mense geënt het vir pokkies en al daai soort van dinge. So hy het darem seker iets geweet daarvan, nie vreeslik baie nie, maar hy het altyd, kyk daar was altyd ‘n dispenser gewees op Kalkfontein en meeste van die tyd as hy nou uitgekom het, dan vat hy die dispenser saam met hom, en hy het alles geweet van die basiese dingese, wat meer of min moet hy gee vir daardie ding en so dinges, maar nou natuurlik nie so intensief as wat ons nou bv. geleer het nie, maar hy’t heeltemal oor die weg gekom. Dit was die Drotsky wat nou ‘n rukkie terug oorlede is … Willie Drotsky, wat op Maun gebly het. Hy was die enigste witman wat ek van weet wat hier gewees het, ek weet nie van iemand anders nie. Verder was dit daai dispenser daar, ’n swartman. Ek het baie jare met hom saamgewerk.

 

Die ander storie was toe daai vliegtuigongeluk, toe daai mense dood is en dinges. Die’t ek gegaan om te gaan uitlê. Toe was ek al klaar, toe was ek al uit die hospitaal uit. Ek het toe hierso by die hospitaal met hulle gewerk. Maar ek was nie, ek meen toe was ek al uit die hospitaal, ek het net gegaan om vir hulle te gaan help. Oom Reggie het ook gehelp met die soektog.

 

Vraag: Deesdae is hier baie vliegtuie, dit lyk  my meeste Blankes met ernstige siektes word uitgevlieg?

 

MV: Ag, word maar uitgevlieg. Maar jy weet ook die wat eintlik die ernstige gevalle het, blank en nie-blankes het ek ook uitgeneem, het ons baie Gobabis toe gevat. Soos bv. Johanna Flattery en hier selfs haar ma toe die nog gelewe het. Ons het met baie Gobabis-toe gegaan, met die ambulans gevat. Jy weet, toe ons nou nog nie daar nou nog nie vliegtuie gewees het nie. Dit was ’n Ford bakkie, toe agter net soos ‘n ambulans, jy weet, en langs die kante en agter met die kruis op en alles. Ja, selfs met ‘n dienslig bo. Hy het alles daarin gehad. Langs die kant kaste en stretcher en alles wat ingepas het, net soos gewone ambulans. Ek het natuurlik net nie baie daarvan gehou om agter te sit nie, by die pasiënt nie.

 

Ek het die hospitaal gebeginne en ek was die  enigste een wat hulle voor ‘n ambulans gegee het waarmee ek kliniek-werk gedoen het, met ‘n drywer. Die hospitaal was nie baie lank nadat ons hier gekom het nie, glad-nie baie lank nie, ek dink dis maar ‘n paar jaar nadat ons hier gekom het. In 1959 was ek in Maun, het ek afgelos daar vir drie maande en toe was hulle al besig met die hospitaal. Toe het ‘n nie-blanke suster, stafverpleegster agtergebly en ek het Maun-toe gegaan om daar te gaan aflos. Want jy weet daar was toe nou net drie blanke susters gewees en ene het weggegaan en toe het hulle my drie maande soontoe gestuur, om daar te gaan aflos. Later aan toe het ek ook drie blankes bygekry, maar ek was in die hospitaal gewees tot 1967. In ‘67, dis reg, toe’s ek weg.

 

Vraag: Het Suster toe nou in die winkel aangegaan?

 

MV: Ja, maar ek doen nog altyd kliniekwerk ... nie eintlik juis veel nie, maar darem net so bietjie. Maar ek het niks met die hospitaal te doen nie.

 

Soos babatjies inspuitings gee en al daai dinge, gee nog medisyne vir hulle algar maar ek doen dit nou net vroeg in die môre in sodat as ek in die winkel is lat ek nie hoef te gaan en weer te dinges nie. Hulle kom vroeg in die môre dan kom doen ek hulle. Ek koop medisyne, ek koop medisyne in Windhoek.

 

Vraag: Suster, nou oor die heel vroeë dae, toe Suster nou nog so rondgery het van plaas tot plaas, hoe het hulle Suster ontvang, was hulle baie bly dat hier nou uiteindelik iemand gekom het?

 

MV: Ek het nie gehoor hulle sê hulle wil nie, maar jy weet die Boesmans was natuurlik … in die begin wou hulle gladnie geweet het van inspuitings of soiets nie. Hulle’t maar baie weggehardloop. Maar weer, jy weet, so met die jare gekom en gegaan het en lat hulle gewoond geword het en gesien het lat hulle word gesond as hulle inspuitings kry en so aan, behandeling gekry, het hulle tog naderhand gekom. Maar eers wou hulle niks weet nie, hulle wou glad niks weet nie ... Ek het hulle gelos as hulle weghardloop, laat hulle maar weghardloop! Want jy weet, wat kan jy nou anderste doen? Jy kan niks anderste doen nie, maar wat, hulle het geleer, jy weet, hulle het geleer, met tyd het hulle gesien mos hulle word gesond ook.

 

Vraag: Want baie van die ou boeremense het mos hulle eie rate gehad en hier was bv. Tant Annie Burger en Tant Sannie Lewis en so aan?

 

MV: Ag, ek het hulle maar gelaat staan met hulle ou rate, ja wat! Ek het  maar my eie kop gevolg jy weet, en my eie manier, wat ons geleer is om te doen, selfs bevallings en alles, het ek maar gedoen soos ék geleer is om te doen. Nou-ja, baie van die mense het maar na Ant Annie-toe gegaan, jy weet, en sy het natuurlik bevallings gedoen. Nie die manier wat ék geleer het om te doen nie, maar wat, ek het my nou nie veel daaraan gesteur nie, sy moes maar aangaan soos sy dit gedoen het. En baie mense het toe ook nou maar later jare gesien, jy weet, as sy ‘n bevalling vir hulle gedoen het, hoe sy dit gedoen het en hoe ek dit gedoen het. Baie van hulle het natuurlik gesien as hulle hospitaal-toe gaan dan doen hulle dit ook maar op dieselfde manier as wat ek dit doen ... Mens leer mos maar. Ek meen ek het nou nie met Ant Annie eintlik, sy moes maar haar eie mas opkry soos sy dit wil gedoen het, en ek het maar gedoen soos ek wil …

 

Vraag: Het Suster afgekom op gevalle van mense wat nie kom kla het nie, wat aan siektes gely het wat hulle nie van geweet het nie?

 

MV: O ja, baie, baie. Baie, jy weet, vernaamlik jy weet, aansteeklike siektes, bv. soos gonorrhoea en sifilis en al daai soorte van dinge. Baie min van hulle het kom kla daaroor, baie min. Hulle het maar eintlik eers kom kla as hul sien dat as jy inspuitings kry dan word jy beter daarvan. Daar was baie van hierdie soort dinge … en die Boesmans, baie min van die Boesmans het ooit gekom vir bevallings. Baie min, hulle het net nie daaraan geglo nie. Jy weet, hulle het meeste van die tyd maar ‘n baba agter die bos gekry en dan vat hulle die kind en dan’s dit klaar. TB is hier ook baie, baie, en jy weet jy kon gesien het dat baie van hierdie Boesmans het natuurlik nooit eers enige behandeling gekry nie, want baie van hulle se neuse bv., was sommer afgevreet, hulle mond is afgevreet, verhemeltes is sommer gate in en al daai dinge, vreeslik. Ek sal nie sê hulle het bv. nie kanker gehad nie, maar meerendeels was die grootste probleme maar sifilis, van nie weet wat aangaan nie.

 

Toe ek gekom het, was hier nie pokke gewees nie. Dit mag miskien gewees het voorlat ek hiernatoe gekom het. Ek moes inent vir masels, witseerkeel, kinkhoes, ja algar. Meesal het ek omgegaan by die skole. Al die skoolkinders, jy weet die kinders geënt. Meeste van hulle vir witseerkeel, maar hier was ook nie een geval van witseerkeel terwyl ek verplegingwerk gedoen het nie. Niks nie.

 

Wel ek het nogal daarvan gehou jy weet om uit te gaan in die Distrik in. Ag hier het ek nie juis in die Kamp so vreeslik baie werk gehad nie, behalwe nou dae wat ek nou bv. moes ingespuit het en so aan. Maar toe die hospitaal nou natuurlik daar is, toe het ek nie so baie uitgegaan nie, want toe het ons natuurlik nou baie pasiënte jy weet in die hospitaal gehad en hulle meeste soontoe gegaan. Die TB hospitaal was saam gebou. Maar, ongelukkig jy weet meeste van die Boesmans wou nie in die TB-hospitaal gaan nie, met die gevolg daar was gewoonlik nie baie pasiente nie. Hulle sê hulle gaan net TB-Hospitaal toe om daar te gaan doodgaan, dis al. Want hulle wag totdat hulle voel wel, hulle kannie meer nie, dan gaan hulle. Selfs ek meen, kyk hoe beskaafd is die mense nou al en hulle wil steeds nog nie TB-hospitaal-toe gaan nie. Ek weet ook nie of hulle ooit jy weet eintlik TB sal onder kry nie. Want mense moet geleer word om nie saam te eet nie, en om nie saam te rook nie, dit is tog die twee groot dinge wat hulle mee aansteek. Maar wat …

 

Vraag: Ek hoor iemand vertel van ‘n leeu wat iemand gebyt het wat Suster Vize gesond gemaak het?

 

MV: Man, daar was ‘n leeugeval, ‘n witman wat in die Kalahari gebyt is  wat ek darem deurgehaal het, Giel Vermeulen of soiets. Hy was die enigste ene wat nou so sleg gebyt gewees het aan sy bene, want ek dink amper hy’t in die boom geklim, en lat hulle hom aan sy voet en aan sy bene … enne hy was sleg gebyt gewees. Man, jy probeer maar net dat hy nie septies raak nie. Dis die enigste iets wat jy kan doen. Ek het hom self toegewerk. Ek het dit maar altyd dan self gedoen. Die enigste wat ek nie gedoen het nie, is, ek het nie tande getrek nie. Ek het darem ‘n dispenser gehad wat altyd tande getrek het, maar ek het altyd net die inspuitings gegee, maar hy, hy moes hulle getrek het, dit kon ek nie doen nie, ek kon nie dinges ... maar waar daar toe te werke gewees het, dié het ek vanself gedoen. Dié het ek alles vanself, maar ek kon net nie ‘n tand trek nie. Operasies het ek nie gedoen nie, daarvoor het ek darem nie allenig kans gesien nie. Ek het nie omgegee  om saam met ‘n dokter enige soiets te dinges want ek het lank in teater gewerk. Maar ek het baie toegewerk, ek het baie, jy weet enige ongeluk wat hulle miskien gehad het. Daar was nou natuurlik so ‘n enkele hier en daar ‘n ding wat ek moes toegewerk het en so aan, maar nie eintlik vreeslik wat ‘n mens bohaai oor kon opskop nie.

 

Die enigste iets wat Reggie vir my baie kwaad gewees het, jy weet, toe ons nou so in die begin hier gekom het, toe’t ons nog daar in die dispensary gebly. Enne Scholtz hulle het toe nou in die huis net langsaan die dispensary gebly. Ek het ‘n hoenderkamp daar gehad, jong, en hierdie Upton, hy’t hierso op Kabakai eers gebly, hy’t so ‘n paar wolwe gehad wat hy makgemaak het. En een van dié wolwe ek weet ook nie of dit eintlik een van die mak wolwe gewees het nie, en of dit ‘n wilde een was nie, maar elke nou en dan dan raak daar van die hoenders weg.  Maar hy kom toe weer een nag, jong, enne ek vang hom toe, nou houvas ek hom aan sy agterbeen, en nou sê ou George Scholtz vir my, hy sê “Nouja, laat staan hom nou lat hy uitgaan en dan sal ek hom skiet!” En ek sê “Nee, ek los nie ... as jy hom nou wil skiet en ek laat los hom dan skiet jy hom weer mis!”

 

Nee, hy sal hom nou nie mis skiet nie, jong, en toe laat los ek hom lat hy hom skiet! En toe die volgende dag toe sê hulle, ek dink nog dat daar ‘n stukkie in daai koerant was …

Toe sê hy vir my nou maar hoekom kan ek nou die wolf aan die, aan sy agterbeen vashou, weet ek nie lat ‘n wolf se kakebeen is die sterkste dié wat jy kan kry, as hy vir jou byt, dan byt hy sommer alles mortsaf! Toe sê ek, wel daaraan het ek nie gedink nie, ek het net gedink as hy nou by my hoenders vang wat sal ek darem met hom ... hy’t gelukkig toe nie omgedraai nie en dinges nie, nou toe houvas ek hom tot Scholtz hom skiet. Dit was hierdie met die kolle, hulle sê mos hiëna.

 

Vraag: Suster, vertel my van besondere gevalle van mense wat jy verpleeg en gehelp het. Was daar besondere mense wat jy onthou?

 

MV: Ja, jy weet, die met hart-aanvalle, soos Gower wat ‘n poliesman hier gewees het. Hy was van my familie, die vrou en kinders was in Mafikeng gewees, en hy was allenig hier. Hy is dood aan ‘n hartaanval. Hy was nie siek gewees nie, maar hy het sommer net dinges, ons het hom toe opgeneem in die hospitaal in, en hy was net ‘n klein rukkie daarna is hy dood. Maar hy’s nie, ek meen, skielik toe hy siekgeword het, dood nie, maar hy’s net ‘n klein rukkie daarna hy opgeneem is, is hy wel dood aan hartaanval. Maar ek weet nie van iemand ander nie, wie anders …

 

Vraag: Mense hou nogal van ryk kosse eet hier en tog is daar nie baie hartaanvalle nie?

 

MV: Ryk kosse, en dinges ja, en daar is nie veel gewees nie. Oom Miek Taljaard het aan sy hart gely, maar dit was jare en jare.En kyk  bv. vir Oom Reggie hy’s tog ook aan sy hart dood en hy was nie oorgewig of enigiets nie, hy was maer gewees, toe hy dood is, baie maer. Mense gaan hier meer dood van ouderdom, as iets anders. Ek glo nie dit het enigsins te doen met die kosse nie, en ek weet die mense eet baie baie ryk kos, soos room in omtrent elke gereg.

 

Dan was daar ou Oom John wat ek baie lank verpleeg het in die hospitaal maar hy’t nou kanker gehad. Oom John Lewis, Manie Lewis se pa. Ek het hom al die tyd verpleeg in die hospitaal. Eintlik is hy dood aan pneumonium, longontsteking. Jy weet dit is maar gewoonlik altyd, jy weet hulle gestel word heeltemal swakker en swakker en swakker en dan kry hulle longontsteking. Nou dan eintlik dan is dit maar … Mnr Hardbattle is ook dood aan kanker. Hy is ook hier in die hospitaal dood, ek het hom lank verpleeg in die hospitaal. En dis wonderlik, ek het hom, hy’s net die dag nadat opgehou het met werk, net die dag daarna toe’s hy dood. Ek was nog by die huis, ons nog nie weg gewees nie, toe’s hy dood. Maar hy’t weer kanker aan sy lip gehad en natuurlik al hoe verder en verder en …

 

Vraag: Hy was blykbaar baie interessante soort mens, nê, soort van ‘n kluisenaar of wat?

 

MV: Ja, ja. Hy het nou eintlik, jy weet, allenig gebly op die plaas. En toe die plek gebeginne het, het ek vir hom gesê hy moet na ‘n dokter toe gaan, onder in Lobatse of Mafikeng, maar jy weet hy’t gedraai en gedraai en gedraai en hy wou nie. Die dokters het gekom en ook dit vir hom dieselfde gesê, en wat, hy’t hom maar nie daaraan gesteur nie. En toe dit nou heeltemal te laat en is toé gaan hy toe nou Mafeking toe, toe kon hulle niks meer verder vir hom doen nie. Nou hulle, dit was nou die enigste twee gevalle wat ek nou, jy weet nou eintlik wat nou regtig tragiese gevalle gewees het wat ek verpleeg het in die hospitaal, hulle twee.

 

Vraag: Suster, was die kinders ook geinteresseerd in die siektes, of was hulle kwaad oor die baie mense wat Suster moes verpleeg het?

 

MV: Nee, jy weet, hulle het darem nou nie die mense kwalik geneem maar jy weet, in die een kant was ‘n kamer gewees wat ek nou die dispensarywerk gedoen het, en dan in die ander kamer was onse kamer. Maar dit was darem nie in dieselfde plek gewees nie. Maar hulle het nie eintlik juis belanggestel nie, want ek het altyd verplegingswerk gedoen terwyl ons toe nou nog nie hier gewees het nie, hulle het nou saam met my gery en so aan dinges. Eintlik kan Marie-Louise bloed nie uitstaan nie, nouja, en Wally en Boet, hulle wou elkeen probeer leer as ‘n dokter, maar hulle het maar liewerste in iets anders belanggestel. Dit was ook nie my man se lyn nie, Reggie was maar net ‘n besigheidsman. Hy het eers geboer, ja, hy het eers geboer, en toe naderhand toe sê hy nee, hy is maar nie ‘n boer nie. Jy weet, voorlat ons hiernatoe gekom het, het ons geboer. Maar ek het eintlik die boerwerk gedoen! Toe ons toe nou naderhand hier is, toe Oom Chrisjan Lewis sê wel, ons kan die winkel oorneem daar bo, jy weet, waar Nelie is, daar het begin.  Toe eers later jare toe het ons die winkel hierso oorgeneem. En later jare toe het ons die winkel hierso gebou. Kyk, toe Oom Niek Swarts-hulle weggaan, toe koop Oom Reggie die dinges, en toe het ons mos hom heeltemal verbreek en hom groter gemaak en toe nou die winkel ook gebou. Nee, hy was maar ‘n besigheidsman, gewees, jy weet en toe natuurlik naderhand toe ons nou ‘n ruk hier in die winkel gewees het, toe het hy weer applikasie gemaak vir daai plaas wat ons nou het, toe kry hy die plaas wat Pieter Terblanche-hulle nou het.

 

Vraag: Oom Reggie was mos later ‘n Member of the Legislative Council gewees en wat is die O.B.E. toekenning wat Suster gekry het?  Dit was seker nogal ‘n belangrike werk, nê?

 

MV: Ja, van die Regeringskant af is Reggie gekies. Ek meen ek het my nie eintlik veel daaraan gesteur nie, hy het maar gekom en gegaan en dinges, ek weet ook nie wat het hy al die dae gedoen daar nie, maar hy was altyd gewoonlik so ‘n ruk weg gewees, jy weet, so ‘n week of twee of so was hy altyd weg gewees dan was ons maar natuurlik allenig hier. Hier was nog net ene bos aanmekaar gewees, daar was niks huise jy weet tussen in en dinge nie. Enne toe het Bob Martin, was toe poliesman gewees, toe het hy vir my gesê ek kan ‘n saloon inbring van die Republiek af, as ek nou allenig daar bly lat ek darem ‘n geweer by my het. Maar wat, ek was nog nooit in my lewe bang gewees nie, nee.

 

En myne was die Order of the British Empire, dit is maar net vir wat ek gedoen het oor ek seker die enigse een gewees het wat dit beginne het hierso, en dinges. Dit word seker nie vir algar gegee nie! Ek het darem ‘n ander, ander dinges ook gekry by Seretse Khama. Nou, nou ‘n ruk gelede.

 

Vraag: Nou wat is dit?

 

MV: Nee, jirlikheid, jy moet maar gaan kyk daar in die winkel, ... Dit was nou na ek weg is uit die winkel, uit die hospitaal uit. Dis nou omtrent so drie of vier jaar gelede.

 

Vraag: Maar Suster is seker nie rêrig tuis in die winkel nie, of geniet Suster dit?

 

MV: Man, jy weet natuurlik, as ek weer kan verpleging werk ... Maar ek skik my daarna, ek is nou al heeltemal gewoond aan die winkel. Selfs as ek vir Marie Louise-hulle gaan kuier, dan verlang ek weer terug na my werk hier. Ek verlang wanneer ek hier is, na hulle om daar te wees, maar as ek daar is, jy weet, stadslewe is nie vir my nie. Ek hou van boerdery en hier doen ek nog saam met die winkel ook nog boerdery ook, ons gaan elke naweek gaan ons plaastoe. Ek en Wally het die beeste hierso en ek het hierso my hoenders, en goed en dié, ek is lief vir diere. Nouja, ons gaan elke naweek gaan ons plaastoe en doen die dinges, jy weet die beeste en al die dingese op die plaas oor ‘n naweek ...

 

Vraag: Suster het ook nog ‘n apie en wat nog alles?

 

MV: Ja, hierdie apie is darem baie oud. Dié het ek saam met my gebring toe ek in 1959 in Maun gewees het, toe ek daar afgelos het. Dit is nou nog die enigste dinges wat ek het, wat ek van Maun af saamgebring het. Nog net die honde en die katte en die hoenders ...

 

Vraag: Suster, vertel asseblief vir my hoe dit gekom het dat julle vir Regina grootgemaak het?

 

MV: Ons het haar aangeneem net ‘n jaar voor Oom Reggie dood is. Dit was in 1970. Sy’s nou al amper tien jaar. En sy is in standerd 4. Sy gaan op Xanagas skool. Maar sy was so ’n ou tingerige dingetjie gewees, sy’s nou nog baie tingerig. Maar sy kan vier tale praat, hoor! Afrikaans en Engels en Setswana en Boesmantaal. Ek het vir haar nou die dag gesê sy moet probeer en kyk of sy nie kan Hererotaal leer nie. Sy’t altyd jy weet, teruggepraat as ek vir haar in Engels iets sê dan sê sy weer terug in Afrikaans. En nou praat sy met my in Engels ook. Weet jy haar ou beentjies en haar ou armpies was so dun soos my pinkie gewees. Sy was regtig, ek het nie ek het nie gedink lat sy sou lewe nie. Sy was regtig, en sy was so vol sere gewees jy weet en alles, ek het haar hier in ‘n ou skoenboksie toegdraai in watte in en ek het vir haar met ‘n pipet melk so gevoer. En elke keer as Dokter van Maun af gekom het of enige van die dokters het ek altyd lat hulle na haar kyk. Ek het regrig nie gedink dat sy sou deurkom nie. Hulle was ‘n tweeling gewees, en toe kon die ma nie … toe sê ek vir haar sy moet die enetjie, sy moet die kind vir my gee. Sy wou toe nie eers nie, naderhand toe bring sy die kind toe vir my. En ons het haar wettiglik aangeneem en lat skrywe voor die magistraat en alles en ons het haar gelaat doop en al daai dingese gedoen. Die ou meid[1] wat ek hier gehad het, sy’t baie na haar gekyk terwyl ek nou in die winkel gewerk het en so aan en sy’t meeste van die tyd en sy was baie soet gewees want sy’t sommer net maar net so gelê en jy’t haar omtrent nooit  gehoor nie. 

 

Vraag: Nou was sy te vroeg gebore, of … was dit maar oor hulle ‘n tweeling was?

 

MV: Nee, omdat dit ‘n tweeling is glo baie mos hulle moet die een laat staan lat die doodgaan, en met die gevolg die ander outjie die het heeltemal olraait gelyk en sy was nou so. Toe sê ek vir haar sy moet nou haar vir my gee, en sy wou eers nie! Maar toe naderhand toe praat Mev. Fouché wat by ons in die winkel gewerk het met haar, toe sê sy ja, sy sal dit doen. Maar sy’s regitg, sy’s ‘n oulike ou meisietjie. Ons het alles laat beskrywe voor die magistraat en alles, die ma het geen aanspraak nie, hoewel sy haar sien. Sy sien bv. ook van die broers en die susters baie keer dan gee sy vir haar ma iets jy weet en so aan.

 

Vraag: Suster,in die Russell boek vertel hulle dat Suster in die begin vreeslik baie teenkanting gekry van die blanke mense oor die swart babatjie?

 

MV: Man, ek dink baie is nog maar steeds, jy weet, nie, voel eintlik nie vreeslik daarvoor nie. Maar jy weet ek steur my nie daaraan nie, eendag toe sy nou jy weet seker so ses of sewe of agt maande of so was vra iemand ons die aand (ek het toe vir haar saamgevat) Maar agterna toe hoor ek ja hoekom bring ek die swart kind na hulle toe. Met die gevolg dat ek gesê het ek sal nooit weer my voete by hulle sit nie, nooit nooit in der ewigheid nie en as iemand nie in my huis wil inkom nie dan’s hy nie welkom om hier te kom nie. Ek meen, ek gee nie om as hulle wil hierso kom nie, dan kan hulle hierso kom, maar net omdat ek toe nou stories gehoor het, jy weet. Daar is mense wat ek natuurlik na toe kan gaan en wat nie omgee om vir haar te hê nie en so, met die lat ek steur my nie aan die mense nie, jy weet, hulle kan maar sê wat hulle wil. Maar toé wat toe nou vir my kwaad gemaak het is, net ‘n paar maande ‘n rukkie daar na, toe word van hulle siek. Toé was ek goed genoeg om soontoe te gaan! Toé was my aanmerking natuurlik gewees ja, ék is goed genoeg, om na hulle toe te gaan, maar my kind was nie goed genoeg nie? Maar jy weet, as ek nou byvoorbeeld dink, toe ons hier gekom het, hoeveel van hierdie Boesmans het die mense se kinders grootgemaak. Hê? Jy weet dit ook. Maar toe ek nou die swart kind grootmaak, toe was sy nie goed genoeg nie.

 

Ek weet, ek meen wat my familie aanbetref, ek kan in Johannesburg met Regina daar kom en alles, en sy’s net so welkom as wat enige dinges is, en wat, en iets, niemand moet ooit iets van Regina sê voor Reggie nie! Ek vat nie vir Regina na die van die familie wat nie daarvan hou nie want ek voel maar net dat as hy vir haar seermaak dan maak hy vir my seer. Maar wat, by ander familie, hulle gee nie om om hiernatoe te kom en Regina is hier en alles nie, hulle is heeltemal tevrede. Ek weet nie wat die ander mense hier dink nie, en wat hulle dink is hulle saak. Ek het my nie eintlik vreeslik daaraan gesteur nie.

 

Onderhoud verkry uit bande M en N.

 

 

[1] Sekere woorde mag dalk aanstoot gee in vandag se tyd, maar mens moet die tydperk  waarin die onderhoud opgeneems ingedagte hou. Die woord meid beteken meisie in Nederlands maar het in vandag se tyd 'n rassistiese konnotasie gekry. Ons behou egter die woord hier om nie die integriteit van die onderhoud aan te tas nie. Die woord word vandag met huishulp vervang. 

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page