Kassie van Heerden
ONDERHOUD MET KASSIE & LETTIE VAN HEERDEN, GHANZI, 1980.
DEEL 2
Vraag: Oom-hulle praat van baie predikante wat hier kom kerkhou het?
OK: Ds. Mentz. Ds. Mentz, dit is een wat ek by aangeneem is. Hy, toe was ek in Maun gewees, Willemien toe kom hy daarso en toe hy daar aanland, toe weet ek sommer, nou, nou moet ons leer. En hy gaan toe, hy sê toe vir my “Jong, net vyftien dae is ek hierso en dan moet julle klaar geleer wees en klaar aangeneem wees, …”. Maar gelukkig waar ek die geluk gehad het, hy’t by ons gebly. En elke liewe aand dan leer hy my, katkiseer hy my tot hier elf-twaalfuur in die nag. En dan maak ons so, hy’t altyd die manier gehad dan vra hy van een kant af. Ek was die môre nie heeltemal seker van die saak nie, want hy’t altyd by my gebegin. En ek gaan, en ek gaan sit diékant. En daai môre toe ek diékant gaan sit, begint hy weer daar by my terug! Hete, hy’t darem vir ons, vir my vuil strepe getrek.
Vraag: En toe, toe kry Oom Kassie-hulle dit reg binne vyftien dae?
OK: Ja, ja ons het darem reggekom. Ds. Laubscher het lank hier by ons gebly, daai tyd met die wa-en-osse toe kom ons dominee uit hiernatoe en nou, as hy hier kom, dan vat dit hom ‘n, dan bly hy omtrent so drie-vier maande voor hy weer ‘n wa en osse kry wat hy mee teruggaan. Wêreld, darie was ‘n ander predikant gewees Willemien! As ons daar water draai en ons sien daar kom hy aan, dan wil die Boesmans nie meer daar staan nie, dan loop hulle. Dan kom hy en dan draai hy en hy ruk jou arms uitmekaar amper so vinnig as wat hy draai!! En as ons grond laai en so, dis die tyd wat my oorlede pa die huis gebou het nog hier op Gobabis, as ons gaan grond laai en so dan is hy aan die graaf en hy laai net soos ons. Nee, hy is ….
Vraag: Nou die gemeente, was daar ‘n gemeente wat ook net so elke drie maande besoek is?
OK: Hoemaak? Dieselfde predikant, dan kom hy hierso so deur. Van Mafeking af. Dit is waarvanaf ons predikant gekom het. Dan gaan hy so om tot in, dan kom hy deur Windhoek-om tot in Gobabis en daarvanaf moet hy met die wa-en-osse kom.
Vraag: Oom Kassie, was dit ‘n groot storie, die kerknaweke en so aan? As dit nou Nagmaal is, het die mense kom piekniek hou?
OK: Dit is, hulle’t algar bymekaar gekom, kyk toe was dit meer net daai tyd toe ek ‘n kind gewees het was dit algar N.G.”ers gewees. En algar het een tyd by een plek bymekaargekom, en die volgende keer by ‘n ander plek ... gaan kamp hulle daar uit met die waens en so. Nee, dit was lekker gewees.
Vraag: Dan’s dit ook nou drie dienste en doop en aanneming en..?
OK: Ja, ja. Voorbereiding die dag, voorbereidingdiens en dan die volgende dag … ag hulle het so baie tyd gehad, hulle het sommer weke aanmekaar gevat, amper!
Vraag: Nou maar het die mense nou maar so ook in tente gekamp?
OK: Ons het eintlik nie tente daai tyd gehad nie, maar meer in die watente geslaap en dan seile gespan.
Vraag: O, dis ook eintlik lekkerder.
OK: Trek ons die waens net so dat die seil van die een wa na die ander kan gespan word … en span ons die hele klomp waens dat hulle so op ‘n ry staan, maak ons bolangs toe. As ons bymekaar kom, dan speel ons volkspele, daai tyd het ons mos baie volkspele gespeel, …
Vraag: Die ou speletjies?
OK: Die ou speletjies.
Vraag: Dis jammer dis uit.
OK: Ja, ons het baie daai ou speletjies gespeel.
Vraag: Nou hoekom het dit nou in onbruik geraak, Oom Kassie?
OK: Ja, Willemien dis van, ek kan jou amper sê daai speletjies vandat die motorkarre begint inkom het dat die lewe so gejaagd geraak het, het daai speletjies al minder geword, was daar nie meer tyd daarvoor nie.
Vraag: Nou, het hulle die speletjies sommer so op die sand gespeel of het Oom-hulle seile oopgegooi?
OK: Nee, sommer so op die sand.
Vraag: Ook nie spesiaal klere aangetrek of sulke goed nie?
OK: Ehe, nee.
Vraag: Nou watter tipe volkspeletjies kan Oom Kassie-hulle onthou?
OK: Daai Ellierous, en Bontbokkie en al daai …
Vraag: Hoe’s die Bontrokkie?
OK: Dan staan die klomp hier in die kring en dan word daar vir ene gesing en dan ruil hulle om …
TL: Maar dis seker nie volkspeletjies nie …
OK: Dit is maar dieselfde as volkspele.
Vraag: Ja, dis ook maar speletjies, die ander is net met musiek by.
OK: Ja, speletjies, hulle staan die hele … en boompies verplant en al daardie dinge …
Vraag: Maar Oom-hulle het nie hierdie ou tradisionele volkspele gespeel wat mens nou tiekiegedraai het en op maat van musiek ..
OK: Daai tiekiedraai en al daai dinge, daai het ons ook gespeel.
Vraag: En gedans, Oom Kassie, regte ou settees en polka …
OK: Nee, dié het ons natuurlik nie voor die predikant gedoen nie!
Vraag: O, dit was nou nie kerknaweek se dinge nie!
OK: Ehe, nee daai was nie. Nee ons ouers was natuurlik baie streng daarop dat as dit kerktyd is, dan moet dit kerktyd wees. As daar plesier gehou word, dan word daar plesier gehou en alles moet in ordentlikheid gaan.
Vraag: Het die oumense saamgespeel of was dit maar meestal jongmense wat gespeel het?
TL: Die oumense het saamgespeel.
OK: Die oumense het saamgespeel.
Vraag: En Kersfees en Nuwe Jaar en sulke dinge, wat het dan gebeur?
OK: O jong, met Kersfees het ons altyd bymekaargekom en so gespeel en so aan, en Nuwe Jaar was eintlik weer die tyd wat hulle perde-reisies en so aan gehou het.
TL: … ??? en dan word daar gesing…
Vraag: Wat het hulle gesing?
TL: Hierdie liede, Kersliede.
Vraag: O, dis nou Kersfees?
TL: Ja,
OK: Ja, twaaluur in die nag. Ons het die aand voor Kersfees nooit, nooit het ons ouers ons toegelaat om te gaan slaap voor twaalf nie. Twaalfuur dan word daar ‘n skoot geskiet, en dan, na dié, dan word dit gesing, en dan kan die ??? gaan lê en slaap.
Vraag: Watter sort Kersliedere, ook maar Heilige Nag, Stille Nag ..
OK: Ja, hierdie Christelike … liede.
Vraag: Maar ook maar dieselfde wat ons vandag …
OK: Stille Nag en daardie dinge.
Vraag: O. En Kersdag self, Oom Kassie?
OK: Kersdag self, ons het natuurlik, my oorlede pa het baie keer het my oorlede pa altyd die gewoonte gehad om op Kersdag eers ‘n klein diensie te hou. En daarvanaf dan speel hulle en hulle gaan tekere en baljaar bymekaar …
Vraag: Almal bymekaar op een plaas? Het die mense beurte gemaak om so Kersfees te hou?
OK: Ja, beurte gemaak. Ag en ons het baie keer hier sommer in die middle van die jaar, Willemien as daar ene is sê nou maar hy wil ‘n huis bou of so, dan laat weet hy, stuur hy ‘n briefie om, by al die boere, daai tyd hierso bymekaar, dan kom algar daar bymekaar daar word in die aand vleisgebraai en etes gegee en dan vat hulle daardie huis en vanaand is daardie huis amper klaargebou.
Vraag: My aarde, so almal help?
TL: Ja.
OK: Ons het daai skool, nie die skool nie, Mnr. Weideman se huis, het ons aangepak, ek het self daar gehelp werk. Ons het die hele huis se mure alles in twee dae se tyd opgesit. Die derde dag die timmerasie ook opgesit, die dak opgesit, die vierde dag, ons het hom in ‘n week se tyd het ons hom kant-en-klaar gemaak.
Vraag: Watse stene, watse bakstene en so aan?
OK: Bakstene gewees.
Vraag: Het Oom-hulle dit self gemaak?
OK: Ja, dit het, die was klaargemaak gewees.
Vraag: Van kalk nou, of van grond?
OK: Nee, van grond.
Vraag: Rou bakstene?
OK: Nee, gebak.
TL: Hulle maak hulle seker eers en dan bak hulle dit.
OK: Jy maak hulle, jy vorm die stene en dan word hy in die oond gepak en bedek en dan pak jy die hout daarin en dan word hy aan die brand gesteek en dan maak jy die bek net toe en dan bak daai stene. Dan reënt hy nie stukkend nie.
Vraag: Oom Kassie, wat Oom nog moet vertel is van die tyd met die 1933 se groot wat is dit droogte …
OK: Daai depressie wat ons gehad het. Nee toe het ons, was dit so moeilik gewees hierso dat ons toe vir 1/6 ‘n dag op die paaie gaan werk het en paaie maak. Pik en graaf en byle en moet onsself die bome uitgrawe en uitstoot en uitrol met die hande …
Vraag: Vir die Regering nou?
OK: Ja.
Vraag: En watter paaie, Oom Kassie?
OK: Dit was hierdie motorpaaie hier rond wat hulle daai tye gebruik het vir motorkarre en hierdie pad hier van wat mens nou afry Maun-toe, daardie klippie? Pott se pad, hier van Tsau af het ons hom heeltemal ‘n nuwe pad het ons oopgekap en gemaak met die hande. Geen skraper of soiets gehad nie.
Vraag: Sjoe, Bome afgekap en dan …?
OK: Bome afgekap, uitgegrou die stompe uitgegrawe en weer gelykgemaak en met die harke gelyk gehark..
Vraag: Vir 1/6 ‘n dag.
OK: Vir 1/6 ‘n dag. Dan kry ons mielies vir dit, dit is wat hulle ons gee en so ‘n bietjie bruin suiker en bietjie tee elke maand.
Vraag: Elke maand.
OK: Elke maand.
Vraag: En het Oom-hulle gebly op ‘n gesamentlike plek dan, padkampe of waar?
OK: Nee, ons het padkampe gemaak, soos die werk vorder, so skuif ons altyd maar ons kamp.
Vraag: Kan Oom miskien van die name onthou van die ander mense wat saam met Oom Kassie gewerk het?
OK: Ja, ek ken hulle algar. Dit was ek gewees, natuurlik, en my skoonpa, Oom Jan Burger, en oorlede Magiel Taljaard, en Thys Taljaard oorlede Paul Kotzé en oorlede John Morris en dan ‘n kleruling, van der Colff.. Ons klomp is, o ja en oorlede Wynand Swartz, hy was ook daar.
Vraag: Nou, Oom Kassie, hoe weet ‘n mens nou hier in Botswana wat mens so lank kan uithou, hoe weet ‘n mens nou wanneer kan jy nou regtig nie meer op jou boerdery bestaan nie, wanneer moet mens op die paaie gaan werk, want almal praat mos dat dit weer so sal gaan nou. En is dit nou ‘n kwessie van daar’s skielik werk beskikbaar en dan vat ‘n mens dit maar … ?
OK: Die ding is, jy word van een kant af gedruk vir tekse, en jy word een kant gedruk deur jou volk, volk wat jy moet betaal en as die Depressie so is dat jy nie ‘n bees kan verkoop nie, dan moet jy gaan handewerk neerlê om ‘n paar sjielings in die hande te kry. En dit was die droogte was daar self daar gewees, … Die diere het eintlik nie doodgegaan nie, maar die geld was skaars, daar was ‘n …
OK: Ja, ons moes toe geld hê om klere te koop, en ons volk te betaal, en al die klaslike dinge. Toe moes ons maar gaan werk daarvoor.
Vraag: Ja, en toe net daarna toe verspoel die wêreld weer, né?
OK: En na dit, so die einde ’34 toe kom dinge weer reg.
Vraag: Toe begin dit nou reën?
TL: Toe het jy begin transport ry.
OK: Toe begin dit … ja ek het toe transport gery van Olifantskloof af mielies aangery vir die Regering. En toe het ons kwaai reëns gehad. Toe kom dinge reg en toe is die klou-en-beksiek op ‘n end en die Depressie raak toe beter want toe kan ons weer bees deurjaag en verkoop. Jy het seker al die opgevang van dat ons toe begin bees uitjaag het. Die het ons gister oor gepraat.
Vraag: Ja, maar onthou Oom, toe het die band dit nie opgeneem nie.
OK: Nou maar toe was dit baie bedrywig gewees. Al die mense het toe bees aangejaag deur die Kalahari af Lobatse-toe en ons was redelik bedrywig gewees daai tyd. Party het baie groot skade gekry, verkeerd getrek, eintlik en nadat een trip het daar 800 bees wat doodgegaan het van dors …
Vraag: Het hulle net verby die water getrek?
OK: Dit was oorlede Oom Andries Pretorius en daar was van oorlede Mister Burton en oorlede Chrisjan Lewis, hulle beeste.
Vraag: Sjoe, dis darem groot skade en dit veral so na die droogte.
OK: Ja.
Vraag: Het die Depressie en Droogte van begin 1933 en einde 1934 aangehou?
OK: Ja.
Vraag: Oom Kassie het toe al ‘n plaas gehad?
OK: Nee, toe was ek nog maar by my ouers se plaas gewees. Nee, hierdie plaas het ons later maar eers gekry.
* * * * * * * * * *
Vraag: Oom Kassie, die jagters, die mense van daai tyd, was daar professionele jagters onder hulle of het elkeen nou maar gaan jag of was daar party mense …
OK: Nee, daar was nie professionele jagters gewees nie, elkeen het maar as hy lus kry om te gaan jag dan gaan hy maar uit en dan jag hy. Daar was nie eintlik daai jare so streng gewees soos vandag nie.
Vraag: Nie jag seisoene of so nie?
OK: Nee, daar was nie so ‘n ding as jag-seisoene en so nie. Buffels was vrygstel, die kon ‘n mens skiet net waar jy hom kry, leeus kon jy skiet net waar jy hulle kry, …
Vraag: Was daar baie leeus?
OK: Daar was redelik, baie leeus gewees.
Vraag: En het elke ou nou maar gaan jag so, of was daar party mense wat nou meer gaan jag het, was daar ‘n paar … ?
OK: Eintlik nie, algar het, elke plaasboer het maar gaan jag wanneer hy sien kyk hier dit is nodig want sy volk moet vleis kry en hulle wil bietjie biltong maak en so, dan gaan jag hulle maar.
Vraag: Dan gaan vrou en kinders en de lot saam?
OK: Baie keer, …
Vraag: Waar het hulle gaan jag?
OK: Meeste sommer hier naby die plase, daai tyd was die wild volop.
Vraag: Hier bolangs?
OK: Ja, hier aan die noordekant.
Vraag: Watse sort was daar?
OK: Daar was elande, gemsbokke, hartbeeste, wildebeest, dit is eintlik die wild wat ons hier rond gehad het, en dan die springbokke was meer hier in die suidekant.
Vraag: Hier was nooit rooibokke nie, nê?
OK: Nee, nee hier is nie. Hier was eintlik ‘n paar gewees wat hier rond geloop het wat ons van gehoor het, ons het hulle nooit hier gesien nie. Dit is einlik omdat die wêreld is bietjies te droog, vir hulle. Hy’s ‘n wildsbok wat lief is vir sy water en so …
Vraag: Nou kan Oom Kassie vir ons bietjie vertel van die voorbereidings vir so ‘n jagtog, wat het ‘n mens saamgeneem? En wat was die ammunisie en die gewere en wat het ‘n mens met al die vleis en die velle gemaak?
OK: Die vleis het ons meeste maar biltong gemaak, …
Vraag: Daar in die jagveld self begin biltong maak?
OK: Daar in die jagveld sny ons ons … ons vat sout en peper en sulke goed saam,…
Vraag: Wat het Oom-hulle alles nodig gehad, Oom sê nou sulke goed, wat was die ander goed?
OK: Sout, Peper en asyn en dan die groot skottels om vleis in te pak en so …
Vraag: Nie ander speserye ook gehad nie?
OK: Nee, ons het nooit speserye gebruik om vleis in te lê of so nie.
Vraag: Nou waarop het ‘n mens gewerk daar in die jagveld?
OK: Daar in die jagveld dan maak ons so, ons maak die vel, was die vel skoon af, dan hang ons hom ‘n bietjie op dat hy bietjie die water afdroog, dan maak ons so ‘n halwe duik in die grond, ‘n gaat in die grond, dan trek ons die vel daaroor, daar word die vleis nou stukkend gesny, jy staan maar daar op jou knieë en sny en daar word dit in daai ingesout en die vel word van die kant af toege-, dan toegegooi, lat die vleis goed kan souttrek.
Vraag: Nou hoe lank het ‘n jagtog dan geduur?
OK: Gemiddeld omtrent so twee tot drie dae. Ons het nooit baie lank, vir ‘n lang tydperk uitgegaan nie. Want kyk dit is maar meeste met wa-en-osse en die osse moet water kry en ons het nooit vir ‘n lang tyd uitgegaan nie. Inkeltemaal hier in die, gedurende die wintertyd, dan’t ons partykeer uitgegaan so vir ‘n week, want dan gaan maak ons ons kamp daar en dan vat ons genoeg water saam vir ons perde en die osse word teruggestuur, van die veld af. Dan word dié teruggestuur en dan ‘n sekere dag word vir die volk gesê dan moet hulle weer die osse uitkeer en vir ons wegbring.
Vraag: Nou het die vleis nie sleg geword dan daar nie?
OK: Nee, dit word in die aand opgehang en die anderdagoggend dan haal jy dit weer af dan pak jy dit weg in die skade. Dan hou hy baie goed.
Vraag: En velle en sulke dinge?
OK: Velle het ons meer gebruik om oorlere en sole te maak, en dan rieme brei. Rieme het ons baie kere, ons het ‘n mark vir rieme, dan brei ons rieme in die tyd wat ons nou besluit ons gaan deur die Kalahari of Lobatse en Mafeking se wêreld toe dan vat ons groot klompe rieme saam, dan word dit daar verkoop …
Vraag: Kan Oom Kassie onthou, watter sort velle het die beste rieme gemaak?
OK: Eland en wildebees. Dit is wat ons gebruik het vir rieme.
Vraag: Oom-hulle het nie eintlik handel gedryf met velle soseer nie?
OK: Nee, ons het nie eintlik handelgedryf met velle nie. Later was hier ‘n ou smous gewees, oorlede McIntyre, …
Vraag: O, die een wat saam met Burton en Malone ingekom het?
OK: Dit is reg. Hy’t toe gebegin smous hier, en hy’t toe velle opgekoop, soos jakkalsvelle, enige klein velletjie op tot beesvelle, het hy toe opgekoop.
Vraag: Daar was nie olifante nie, nê Oom Kassie?
OK: Nee, in my tyd was hier nie olifante nie.
Vraag: Die ammunisie, die gewere en die dinge ….
OK: Die ammunisie het ons maar elke jaar as ons deurgaan dan koop ons maar ammunisie. Toe het ons, kon ons ammunisie koop, drie- vierhonderd net soos ons wil, sonder enige permit. Daar was nie moeilikheid gewees met ammunisie nie.
Vraag: Dan koopmens in Gobabis meeste van die tyd.
OK: Ja, meeste van die tyd in Gobabis.
Vraag: Watter sort gewere?
OK: Ons het, my geweer wat ek mee gebegint het was Martini Henry. En die meeste ander gewere wat die mense hier gebruik het was 303’s, 7mm, en 6.5 en later het hulle toe bietjie swaarder geweers gekry soos 8 mm., 93’s en 9’s, so.
Vraag: Dit was nou wanneer later?
OK: Dit was so, ek kan sê so van 1935 se kant af.
* * * * * * * * * *
OK: … die verskriklik swaar olifantsgeweers, hierdie 3,75’s en 358 en al daardie gewere.
Vraag: Nou hoekom is die goed soveel swaarder?
OK: Hulle reken jy staan in ‘n beter kans om ‘n ding dood te skiet, net daardie kwes nie so baie wild nie. Hulle reken die ander geweers is bietjies te lig, jy kwes te veel wild wat uitkom wat jy nie doodkry nie, wat wegraak dat hulle gaan staan en swaarkry en swaar doodgaan.
Vraag: Oom Kassie hoekom reken Oom het die wild so half minder geword in die jagveld ook, en so aan, is dit van jag of is dit maar …..
OK: Nee, hulle is uitgeboer. Die beesboerdery het te veel uitgebrei.
Vraag: Maar dink Oom daar was in die ou dae meer wild in die reservate as wat daar vandag is?
OK: Baie meer, baie meer.
Vraag: Nou sou hulle ook daar nie genoeg water kry nie? Of wat sou die rede wees, want daar’s mos nou beperkings op die jag.
OK: Daar’s nou beperkings, dis wat ek nie kan verstaan nie, Willemien, die tyd toe daar geen beperkings gewees het nie, toe het ons meer wild gehad as wat ons vandag het. En, maar, nou kom daar soveel jagters uit die buitlande uit, wat hier kom jag, en ek dink dit is wat die wild meer teruggedruk het of daar in die Swampe in waar hulle bietjie vryer is.
* * * * * * * * * *
Vraag: … watter soort kos en watter kruideniersware?
OK: Dis medisynes, meel, koekflour soos ons nou sal sê, rys, suiker, koffie, tee, en dan het die vroumense natuurlik hulle, soos vla en al daardie goed, kruie en dié goed gekoop … maar dan koop hulle dit so dat hulle reken kyk hier, dit is genoeg vir ‘n jaar.
Vraag: Nou waarop het ‘n mens dit gelaai? Want die was was mos nie so groot nie?
OK: Op die wa! Ossewa – dis ‘n groot, hy’t baie plek op ‘n ossewa jong.
Vraag: Tot ‘n vrou en kinders ook om mee saam terug te kom!
OK: Ja.
Vraag: Of het elke man twee waens gehad?
OK: Nee, een wa, elke man het een wa gehad. Ja, daai tye het die Boesmans natuurlik nie koffie en tee gedrink nie.
Vraag: En wat het mens, wat was die spyskaart, maar min of meer soos vandag?
OK: Min of meer, dieselfde as vandag, mieliepap in die oggend, dié het ons natuurlik self gemaak, ja, ons het nooit mieliemeel gekoop nie.
Vraag: Met watse meule?
OK: Jong, hierdie ou mieliemeule, ons het nog ‘n oue hierso, van daai klas mieliemeule, …
Vraag: Gekoopte ene?
OK: Ja, gekoopte ene. En dan die wat nie ‘n mieliemeule het nie, die stamp dit, in ‘n stampblok. Jy weet tog seker …
Vraag: Ja, hierdie wat die Boesmans maak.
OK: Ja, maar ‘n redelike grote. Dan word die mielie gestamp die kaf buite om word uitgewaai, en dan word die mielie self, daai mielie, die stampmielie, die word weer gevat en fyngestamp en dan word dit gesif. Dan bly die res oor vir mielierys, en die fyne wat deur die sif gaan die word gebruik vir mieliemeel.
Vraag: O, dit was seker lekker daardie.
OK: Hy was lekker gewees, daardie. Hy’s nie so fyn nie, hy’s bietjie grof en … hy was lekker gewees.
Vraag: En middagete was gewoonlik?
OK: Ag, middagete was gewoonlik ook maar vleis en mielierys en stampmielies en so.
Vraag: Ja. Was daar, het die mense van die begin af groente geplant, elkeen om sy huis?
OK: Elkeen het maar sy groentetjie geplant vir homself, vir sy eie gebruik.
Vraag: Hierdie snaakse pampoenerige goed wat ek al by mense ge-eet het, wat noem ‘n mens dit nou weer?
TL: Marakkas.
Vraag: Marakkas, dis reg, hoekom sien ‘n mens dit nie meer nie? Is daar nog mense wat dit plant?
OK: Ja, hier is nog mense wat dit plant.
Vraag: Nou het almal dit op ‘n stadium geëet?
OK: Ja, meeste, ons het dit baie geëet. Vernaam daai tye wat ons met die wa-en-osse gery het, dit was iets wat altyd geplant word.
Vraag: Dan droog mens hom, nê of wat?
OK: Nee, ons het hulle nooit gedroog nie. Wat ons wel gedroog het, baie, jy weet is hierdie makataan wat on noem hierdie kafferwaatlemoen, hierdie lang makatane.
Vraag: Nou hoe eet ‘n mens hom?
OK: Dan sny jy hom skywe, sny die, skil jy hom af, en dan hang jy hulle soos biltong op. Dan word hy droog, en as hy droog is, dan kan jy hom wegbêre vir ‘n paar jaar ook. En dan vat jy daai, en dan breek jy hom net sulke stukkies en dan kook jy hom. En hoe lekker is hy, hy’s omtrent soos gedroogde vrugte, soos appelkose, perskes, gedroogde … dan kan jy bietjie dun vars room daaroor gooi en dan smaak hy maar net soos ‘n poeding amper.
Vraag: Nou wat is die verskil tussen hom en ‘n marakka?
OK: Nee, hulle is baie groot verskil. Die marakka het ons nog nooit eintlik gedroog om te kyk wat word van hom as hy gedroog is nie.
Vraag: Is hy meer soos pampoen?
OK: Hy’s meer soos pampoen wat jy vars kook.
Vraag: En aandete, was daar weer vleis?
OK: Aandete, was verskillend. Baie keer hier, vernaam in die wintertyd, dan kry ons sop, boontjiesop, of stampmieliesop, en melkkos, hierdie wat mens van meel maak, dié het ons baie gebruik in die aand. Die oumense was nie eintlik baie lief vir swaar etes in die aand nie.
Vraag: Lyk my meeste Ghanzi-mense skakel maar oor na twee etes per dag toe. Was dit altyd so of wat?
OK: Ja, dit lyk … dit was nie vroeër so gewees nie. Ons het maar altyd driemaal ‘n dag geëet. Maar ek kom baie lekker klaar met hierdie twee etes.
Vraag: Ja, lyk my mens kan maklik daarby aanpas.
OK: Ja, hier in die nag net ‘n paar toebroodjies, en dan in die aand eet en dan in die oggend ‘n bietjie eet .. mens kom baie goed klaar daarmee … biltong en room en so geëet.
Vraag: Almal het seker maar biltong in oorvloed gehad?
OK: Ja, biltong was volop.
Vraag: Droë wors?
OK: Hulle’t nooit droë wors gemaak nie. Ek dink hulle’t nie die kuns gehad nie. Wors wat hulle gemaak het, hulle was, ons mense was te dom gewees daai tyd, dan’t hulle ‘n lepel, word die wors daar in ‘n lepel deur ‘n lepel gestop, of ‘n horinkie wat hy ‘n gaat deur het, dan word die derm hier voor oorgetrek, en dan stop jy die vleis hier van die kant af in.
TL: Dit was baie stadig.
Vraag: Ja, vir al daai moeite kan ‘n mens maar maalvleis eet, nê.
OK: Ja, en ons jong seuns, as ons die oggend opgesaal het, perde opgesaal het, toe was daar mos nie drade gewees of so nie, ons bees het los geloop, maar elke aand moes ons bees in die krale slaap, as daar bees weg is of so, ons vat nooit kos saam vir ons nie, as ons ry nie. Daar’s genoeg veldkos, …
Vraag: Maar kom ons praat daaroor.
OK: Ons grou vir ons wortels wat ons weet wat gebruik word, marambas, of enige iets wat gebruik word, wat voedingskrag in het. Dit is wat ons eet in die veld, ons seuns as ons met perde uitgaan.
Vraag: Noem bietjie ‘n paar van die name van die wortels en die soort kosse .. en hoe hulle gelyk het.
OK: Vir water om jou dors te les het ons die kamberoo gebruik.
Vraag: Vertel bietjie hoe lyk hy?
OK: Hy’s ‘n redelike groot wortel, omtrent, party word groter as ‘n gellingkannetjie, party is soos ‘n bottel, natuurlik, dit hang af van die ouderdom van die wortel. En dan kalkoentjies …
Vraag: Sê nou gou eers hoe eet ‘n mens die kambro.
OK: Jy skil hom af, dan eet jy die binnekantste.
Vraag: Sommerso so rou ook?
OK: Ja, so rou.
Vraag: O, dan is hy maar waterig, sapperig.
OK: Hy het, hy’s baie waterig.
Vraag: Haai, ek sal dit graag wil proe.
OK: Jy moet dat hulle môre vir Willemien een uitgrou.
Vraag: Ek sal so bly wees, hoor Tannie Lettie, ek sal hulle betaal vir hom!
TL: Ja.
OK: Dis nie nodig om te betaal nie, stuur hierdie ??, hier in die land is baie. Ja, hier op hierdie aartjie …
Vraag: Wat was die ander ding wat Oom Kassie van vertel het?
OK: Die kalkoentjie. Dié word omtrent so groot, party, ‘n enkelte kry jy wat so groot soos ‘n piering is, maar meeste van dit is omtrent so groot soos die helfte van ‘n piering, die omtrek van hom. Hy’s ook lekker, hy’s ook sapperig.
Vraag: Bogronds of ondergronds?
OK: Ondergronds, hy’s maar omtrent hiérdie diepte.
Vraag: O net so vyf duim.
OK: Ja, hy’t sy blare soos ‘n vetplant se blare, so ‘n dikkerige blaar.
Vraag: O, en dan grawe ‘n mens hom nou maar uit …
OK: Ja. En dan die maramba, hy is baie voedsamer, soos jy self seker al …
Vraag: Ja, nee, hy is darem baie lekker, nê?
OK: En die jong stoele, die jong marambe se wortel, dié kan jy uitgrawe en hom braai. Hy is net so voedsamig.
Vraag: En as hy nou groot word, dan eet die beeste hom, nê, die wortel …
OK: Ja, daai groot, want hy word amper so groot soos hierdie wa se voorwiel. Dan kan jy hom uithaal as jy daar in die veld is, beeste eet hom. Kleinvee is net so lief vir hom.
Vraag: Maar dis meer somerkos alles, of hoe?
OK: Nee kyk, die maramba kan jy in die winter ook kry, die droë. Dan braai jy hom onder die as.
Vraag: En as hy groen is kan ‘n mens hom ook braai, nê?
OK: Ja, en soos die kambro, kan enige tyd in die jaar gaan uitgrou. En daai marambawortel kan jy ook enige tyd in die jaar uithaal. Die kalkoentjie sal ek jou sê, sy, jy sukkel ‘n bietjie om hom in die hande te kry want sy rank word heeltemal droog. Dan sien jy hom nie mooi raak nie. En die wilde uintjies, die is natuurlik ook ‘n somer ding. Jy kry hom met in die somer..
Vraag: Hoe lyk hy, en hoe eet mens hom?
OK: Hy het, jy braai hom ook. Hy is omtrent so agt na tien duim onder die grond.
Vraag: Ook ‘n worteltjie?
OK: Hy’t so ‘n ronde, net soos ‘n ui amper.
TL: Sy blare lyk amper soos hierdie swaardlelies, is dit nie?
OK: Ja. Daardie het ons, toe ek ‘n kind gewees het, het ons hulle baie uitgegrawe en gebraai. Dan maak ons hom droog, na hy gebraai is. En dan maak ons hom fyn, fyn meel van hom. Dan maak ons kinders pap daarvan, eintlik melkpap. Dan smaak hy net soos hierdie melkkos wat hulle maak.
Vraag: Wat was die ander ding wat Tant Lettie gesê het?
TL: Ook so ‘n wilde aartappel.
OK: Ja, daai wilde aartappel.
Vraag: Is dit ‘n ander ding as die nxaba?
OK: Ja, dis heeltemal ‘n ander ding. Hy het ook ‘n stoeltjie wat hy het. Dan grawe jy hom ook uit. Hy’s omtrent so groot …
TL: Hy’s nie baie lekker nie.
OK: Hy’s nie eintlik lekker nie, hy’s te draderig.
Vraag: Maak ‘n mens hom ook gaar?
OK: Ja, jy braai hom. Wat is daar nou nog? Dan kry jy hierdie wat in die sandveld, kry jy die wilde, ons noem hom die wilde patat. Hy is nou eintlik lekker. Hy smaak amper net soos hierdie mak patatte.
Vraag: Nou hoe ken ‘n mens hom uit?
OK: Hy is diep, jong. Dan grou jy hom agterna, hulle het een wortel wat afgaan, haal jy omtrent drie sulke groot stukke uit.
Martie Gower … sulke komkommertjies, dis ook goed wat rank, Oom Kassie. Dan’s hy eers groen, dan later word hy rooi.
OK: Dit kry jy daar …
MG: Ant Grieta het dit op Gruispan ook … van dit gepluk.
OK: Wat noem hulle daardie goed?
Vraag: Die een wat half sulke dorinkies het?
OK: Dis reg.
MG: Nee …
OK: Hy het sulke dorinkies aan.
TL: Nee, man …
OK: Hy het sulke pennetjies aan, ons het hulle baie daar … hy rank hier in die boom. En dan lyk hy of hy fyn pennetjies op hom het. Jy vrywe hulle sommer so af met die hand.
MG: Ek weet Ant Grieta Kotzé het kerriepiekels met dit ook gemaak.
OK: Hy’s eintlik lekker, daai ding.
Vraag: Nou was hierdie goed soort van veldkosse baie op die mense se tafels of het mens dit maar geëet as jy in die veld is? Of het die mense dit huistoe gebring en kos daarvan gemaak?
OK: Nee, ons het dit nooit gebruik om op die tafel te sit vir kos en so nie. Dis maar net, ons eet dit vir ‘n aardigheid. En dan soos ek jou sê as ons seuns in die veld is dan as ons lus kry vir iets om te eet, dan eet ons van daai veldkos. En dan hierdie gemsbokkomkommer, ek weet nie, jy behoort hom te …
Vraag: Ek dink dis waaraan ek gedink het toe ek praat van die dorinkies …
OK: So ‘n grote …
Vraag: Ja.
OK: Hy’t sulke dorings. As jy hom gebraai het, en dit uithaal, die kos as hy gaar is, die binnekantste uihaal, en jy gooi ‘n bietjie suiker daarin, dan smaak hy amper net soos hierdie ingelegde vrugte.
TL: Party is bitter.
Vraag: Ja, ek wou nou net sê ek het ‘n bitter een geëet eendag.
OK: En dan kry jy natuurlik hierdie klein, klein komkommertjie, wat ook so vol pennetjies is. Dié kry mens baie hier rond ook, as dit baie gerent het.
*****************************
OK: … hulle gebruik dit ook vir ‘n spinasie, eintlik in die plek van spinasie, is hierdie misbredie wat hulle ….
Vraag: Dieselfde as marog?
OK: Ja, dis reg. Die swartes noem hom marog.
Vraag: Maar dis lekker vir my ook.
TL: … Sy maak hulle eintlik droog en sit hulle in die ???
OK: En dan kry mens hier dié kant toe uit in die sandveld, en hier op Kukes, daarso is baie mispels, en maroelas, …
Vraag: Maar hier rond is nie eintlik sulke …
OK: Nee, hierso is nie. Hier by Annie Lambert, daarso is ‘n mispelboom, eintlik ene wat Oom Bennie van Staden daar geplant het.
********************
Vraag: …die ander ding wat ek aan kan dink en dis veral nou van die heel, van die ou dae toe Oom Kassie miskien nog ‘n kind was, was klere, was dit nie ‘n probleem nie, waar het die mense materiaal vandaan gekry?
OK: Ja, daardie was ‘n baie groot probleem, ons het altyd, die oumense het vir ons altyd daai driekwartbroeke van daai ou dik kakiedril wat mens gekry het, gemaak.
TL: Hier het smouse gekom …
OK: En ek self het baie velbroek gedra.
Vraag: Wat die oumense self gemaak het?
OK: Ja, wat die oumense self gemaak het.
Onderhoud verkry uit bande (J I 7-11) & (J II 1-11)
Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.
Het jy enige kommentaar oor die stuk?