Albertus Lemcke
1931 - 2017
Volg hierdie skakel om bypassende foto' te sien:
Albertus Lemcke, een van twee seuns van Albert en Lena Lemcke, is gebore op 17 Augustus 1931 en oorlede 8 Mei 2017, op sy plaas. Hy was bekend as ‘n harde, fisiese werker, ’n boorman wat ook paaie gegruis het vir die Botswana regering en beeste getrek het deur die Kalahari, dinge wat hom die Tswana bynaam Goga gegee het. Hy was baie lief vir perde en het self baie goed perdgery. Hy was getroud met Beatie Kinnear, maar is kinderloos geskei, waarna hy later alleen geboer het op sy plaas naby Kuke in die Ghanzi distrik. Hier het hy uiteindelik drie kinders aangeneem, eers Raps Mbish en toe ook Albertus en Bertie Mobe, die kinders van Motsokwe Mobe. Hierdie familie en ook ‘n man met die naam Mugabe, het jarelank saam met hom gewoon en hom tot sy dood getrou versorg, veral nadat hy breinstamberoerte gekry het langs die boormasjien in Mei 2006. Die Mobe familie en Raps en sy kinders is sy erfgename.
Albertus was die derde kind en laat sy susters Nelie de Graaff, Davina Nel en Frieda Smit na. Sy broertjie Chris is tragies oorlede as klein seuntjie.
Albertus was ’n stil en private mens, saggeaard en goedgemanierd teenoor almal en baie geliefd onder sy familie ten spyte van die feit dat hy so eenkant gewoon het. Hy het die jare na sy beroerte baie swaar gekry, nooit weer regtig kwaliteit van lewe teruggekry nie, maar nooit het enigiemand hom hoor kla nie. Hierdie kwaliteite, om met weinig klaar te kom en nooit jou lot te bekla nie, kan sekerlik teruggevoer word na die avontuurlike en soms ongenaakbare kinderjare van veral seunskinders in Ghanzi. Die volgende is vertellings deur een van wyle Albertus se vriende van kindsbeen af, Oom Micheal Christiaan Kotze (tans woonagtig by sy dogter Reinette in Delareyville, RSA):
“Ek en Albertus was saam altyd. Een naweek was ons daar by oorlede oom John en ant Martjie Lewis (ouers van Oom Manie Lewis). Hulle kinders almal en ek en Albertus was daar en Dawid en Krisjan (Goosen) en ons speel toe perd en eland en so. Joey van oom John was ’n eland, hy’t so afgedraai van die ander ek was Albertus se perd. En sowaar, daar leef Abertus hom so in hy gaan skiet vir Joey (die eland) onder sy knieskyf dat hy neerslaan soos ‘n os wat ‘n kopskoot gekry het! Ons is lekker gemoer daai dag!
Eendag toe’t tant Lenie (Drotsky) nie hout nie ons besluit ons sal ’n donkie inspan en na Oom Albert se huis toe gaan en ‘n sinkplaat gaan haal en ‘n donkie voorspan. Toe loop span ons die donkie in, daar gekom die hout gekap en op die sinkplaat gelaai ons het ’n “swart seuntjie”[1] daar gehad kannie sy naam onthou nie, hy vat voor aan teuels toe die plaat begin skuur hier agter aan die donkie, toe kyk die donkie so om en loop vinniger en soos die plaat al meer begin skuur toe hardloop hy sommer bo-oor die seuntjie en die sinkplaat is ook bo-oor hom en daar gaan die donkie met die plaat en die kettings en tuig en als. Seker so twee weke daarna kry ons hom daar by die pan toe het hy die toom nog om maar die sinkplaat en tuie en als is weg. Ons het nooit vir Oom Krisjan eers vertel nie.
Een slag het die Sersant wat op Ghanzi was, ou Delon, atyd Vrydae verbygekom hy ry patrol hy en ou Spangane dan kom hulle met die kamele dan kom laai hy vir my en Albertus op..en ou Spangane wat altyd saam met hom gery het. Een week ry ek saam met Delon en Albertus met ou Spangane ander week weer ruil ons om. Die Vrydag het ons daar by hom geslaap en toe die kantore die Saterdag oopmaak toe sê hy vir my en Albertus ons kan maar daar in die dam gaan swem en as ons klaar is, kan elkeen ’n lemoen pluk en eet…Hy wag tot hy nou dink ons eet toe stuur hy vir ou Spangane om te gaan kyk wat maak daai mannetjies daar. Ou Spangane kom, hy sê: “Wat steel hulle die goewerment se vrugte!” Ons sê, maar Sersant Delon het gesê hy sê, “Dis nie wat Sarge vir my gesê het nie.” Toe jaag hy ons aan poliesstasie toe, berei ons voor vir ‘n hofsaak kla ons aan ons steel die regering se lemoene. Toe is die straf ons moet die hele dag saam met die Boesmans in die tronk werk en die aand sluit hy ons toe in die tronk ons slaap toe saam met die Boesmans maar daar waar die wit mense slaap. Ons huil toe, dan vloek hulle ons en sê hulle kan nie slaap nie…,Die volgende more kom ou Delon en sluit ons op. Ons is onder sy arm deur en sny ’n lyn. Hy sê vir die Boesmanprisoniers: “Loop skraap daai twee mannetjies en jaag hulle en bring hulle terug vir my!” En so, as hy toe weer langs kom en hy wil hê ons moet vir hom kom kuier dan wil ons nie. Hy bring later vir ons sulke pakke lekkers en sê wanneer kom kuier julle weer? En ons wil nie! Ons het toe laaank gevat voor ons weer saam met hom gegaan het.
As dit speeltyd was dan speel ons altyd party is elande party is mense en ander is perde, so het ons altyd gespeel. Dan vang jy op. Een more Albertus is weg ons soek hy was een van die elande ons soek oral maar ons kry hom nie later toe gaan ons maar die skool het begin. En toe die skool amper uitkom toe kom draf hy daar voor die skool verby en kom kyk hoekom soek ons hom nie. Toe hy sien die kinders is almal in die skool kom pluk hy die mikstok uit sy hoed uit en ewe sedig gaan sit hy en ons lag! Die kinders lag die onderwysers lag die kinders almal.
Uit: Onderhoud met Marinda Knuffel, 2017.
[1] In die ouer spreektaal is 'n ander woord gebruik wat deesdae as afbrekend beskou word. Die span het dus die oorspronkelike onderhoud hier ietwat geredigeer. Die veranderde woord en ook die woord "Boesmans" is op hierdie blad nie as afbrekend bedoel nie maar eerder as tiperend van die spreektaal van die tyd en word buite die huidige verpolitiseerde konteks aangehaal.