top of page

Geskiede-nis bou ... onthou om te deel ... 

Vraag: Ek wou nog vra waar het die drank vandaan gekom?

TM: Dit was in 1934, het daai mense hier gekom …

OF: Dit was toe daardie ou Solomon hier rondgery het, nog voor ons troue.

 

Vraag: Die ou Solomon, was hy ‘n smous of iets?

OF: Om jou die regte waarheid te sê, hy was ‘n diamantsteler gewees.

 

Vraag: Is hier sulke goed ook in Ghanzi?

OF: Ja.

TM: Hulle het hier gekom, hulle was nie mense van hier af nie, hulle het iewers uit die Republiek gekom.

OF: Hulle het maar hier deur gereis.

TM: Toe’t hulle altyd daar by hulle gaan tuisgaan.

Oom Jan Burger: Hulle kom daar van Suidwes af.

 

Vraag: Wie was dit nou, die Hills?

OJ: Ja.

OF: Ou Jettie, soos ek verstaan, was hy ook eers ‘n beessteler gewees, jy weet tydens die oorlog? Weet Pa daarvan iets?

OJ: Nee, ek weet nie. Hy en Skottie Smith, hulle was so half maats gewees.

 

Vraag: En die Skottie Smith, Oom Jan, was hy ooit hierso?

OJ: Nee, hy was nie hier nie.

 

Vraag: Waar was hy rond?

OJ: Daar, in die Unie rondgewees. Hy het baie kwaad gedoen.

 

Vraag: Vertel bietjie wat weet Oom Jan van hom. Watse soort kwaad, het hy gesteel of wat?

OJ: Hy het maar meestens die Regering kwaad aangedoen. Hulle het ‘n klomp geld op sy kop gesit, vir die wat hom wou vang. Toe kom hy by ‘n vrou en ‘n jong seuntjie, toe slaap hy die aand by hulle. Toe praat daai vrou, toe sê sy sy is bang vir die ou Skottie Smith wat hier rondry, en sy het nie geweet dis Skottie Smith nie. En daarna toe sê hy die seuntjie moet saamloop na sy perde toe, toe maak hy ‘n riem los en sê vir die seuntjie dat hy moet sy hande agter sy rug vasmaak en hom na die poliesie bring. Toe maak hy sy hande vas en bring hom na die polisie en toe sit hulle hom daar in die tronk. Die seuntjie het seker sy geld gekry, maar daai nag is hy uit die tronk uit. Toe is hy weer weg met die perde. Die anderdag toe sit twee polisie hom agterna met die perde en hulle sê hy het altyd slaapdranke by hom gehad. En die middag toe hulle by hom kom, toe gee hy hulle slaapdrank, toe raak hulle aan die slaap. Hy sny toe hulle broeke se stert so ‘n kol agteruit, elkeen se broek se stert, toe vat hy die perd, toe’s hy weg! Toe moet die polisie daar so staan.

 

Vraag: Is dit Jettie wat Oom Fanie-hulle van praat?

OF: Ja, die ou Jettie, soos my pa sê, hy was eintlik ‘n transportryer gewees. ‘n Tydlank was hy hier in Ghanzies, maar toe was ek eintlik nog baie klein gewees. Maar ek het hom gesien. Ek weet hy het een arm gehad, maar my pa sê mos hy kom ook daar uit Gordonia uit. Nou wat ek nog vir Pa wil vra, was ou Jettie in die Hottentotsoorlog betrokke?

OJ: Nee, ek weet nie of hy daarin betrokke was nie.

OF: Nou toe Pa-hulle daar weggetrek het, was dit nie maar grootliks ter wille van die Hottentots gewees nie?

OJ: Daai tyd was dit die Engelse-Duitse oorlog.

OF: Daardie stuk van die seun wat hulle so geskiet het, kan Pa daarvan iets onthou? Die seun wat hulle geskiet het, en toe hy nie dood is nie toe gee hulle hom terug vir sy ma.

 

Vraag: Was dit by Gordonia rond Oom Fanie?

OF: Ja, ek het verstaan dit was daar gewees. Ek dink dis Oom Theunis wat my die storie vertel het, van die Hottentots wat die kind wou vermoor het. Hulle het hom ‘n paar skote geskiet en toe …

OJ: Ja, dit was Steenkamp gewees … ou Hendrik Witbooi se seun. Daar was vyftig Hotnots gewees. Dit was agter ‘n bultjie daar in Suidwes. Hulle het gesê die Boere moet hulle gewere gaan afgee dan sal hulle hul niks aandoen nie. En toe wil vyf boere nie, toe loop hulle en gee hulle gewere af en net toe hulle omdraai toe skiet hulle hulle dood. En toe skiet hulle al die seunskindertjies dood. Toe skiet hulle weer enetjie en toe’s hy nie dood nie. Die Hotnots vat hom toe en gee hom vir sy ma en se: “Die Here gee hom vir jou terug”. Daai vrou het nogal by ons gekom slaap.

OF: Was hy geskiet gewees toe die vrou daar by julle kom slaap?

OJ: Ja, toe was hy nog siek gewees. Ek weet nie waar hulle hom moes gevat het nie. Toe’t hulle die wa-en-osse ingespan.

 

Vraag: Nou was dit nou daar op die plaas wat Oom Jan-hulle daar gehad het? Wat het Oom gesê was die plek se naam?

OJ: Mier.

 

Vraag: O, naby Gordonia?

OJ: Ja

 

Vraag: Kan Oom Jan dalk onthou watter jaar was dit omtrent?

OJ: 1904.

OF: Kan Pa onthou wie was die kind se ma gewees?

OJ: Nee, ek kan nie meer onthou nie. Hy het later reggeword, toe’t hy grootgeword, en hy is weer terug na hulle plaas toe.

 

Vraag: Nou is dit eintlik die rede hoekom Oom-Jan-hulle getrek het hiernatoe?

OJ: Nee, dis nie eintlik daaroor nie, ons het maar net hiernatoe getrek. My skoonpa het getrek, toe het ons maar met hulle saamgetrek.

 

Vraag: Was Oom toe al getroud gewees?

OJ: Ja.

 

Vraag: Die Oom Theunis Kotzè, het Oom-hulle toe saam met hulle getrek?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou watter rigting het Oom-hulle getrek en hoe oor?

OJ: Lehututu.

 

Vraag: Hoe lank het Oom-hulle getrek, kan Oom nog onthou?

OJ: Dit was vyftien dae met wa-en-osse.

OF: Dit was nie vêr nie, jy weet dis maar van Suidwes se grens af deur na Lehututu, eintlik daar waar hulle nou die Gemsbokpark het, maar hulle het sommer reg deur die Kalahari getrek.

 

Vraag: Met ossewa Oom Jan?

OJ: Ja, net met een wa.

OF: Nou Pa se die tyd wat Pa-hulle getrek het was in die tyd met die oorlog?

OJ: Ja.

 

Vraag: Kom Oom-hulle nou almal op die wa gery het of het die meeste maar langs die kant geloop?

OJ: Nee, ons het almal gery, ons was nie baie gewees nie.

 

Vraag: Wie was dit almal, kan Oom Jan dalk nog onthou?

OJ: Dit was Lettie, Martjie, Fanie en ek en my vrou.

 

Vraag: Lettie, Martjie en Fanie, wie was hulle nou?

OJ: Tant Annie se susters, almal Kotzè’s.

 

Vraag: En Oom Theunis se vrou was ook by, né?

OJ: Ja, maar hy was vooruit gewees. Mias van Heerden het hom weggeja. Ek weet nie waaroor hulle rusie gemaak het nie.

OF: O, het Oom Theunis vir hulle gewerk?

OJ: Hy het nie vir hom gewerk nie. Hy het altyd met die ander mense gevoeter … ek weet nie waaroor hulle rusie gemaak het nie, toe’t hy hom weggeja.

OF: Die ander broers van Oom Theunis, Oom Izak en Oom Jan Kotzè en so aan, was hulle nie ook in die trek betrokke nie?

OJ: Nee, hulle was vooruit gewees.

OF: O, hulle was al hier gewees?

OJ: Ja, hulle het vooruit gegaan.

 

Vraag: Was hulle toe ook op Lehututu?

OJ: Ons het vyf jaar op Lehututu gebly.

 

Vraag: Oom-almal-hulle, die Kotzè’s en almal?

OM: Ja.

 

Vraag: Wat het hulle daar op Lehututu gemaak Oom Jan?

OJ: Hulle het niks gehad nie. Al die jare wat ons saam met hulle gebly het het hulle maar net soos ons klaargekom. Hulle het nie eers ‘n koei gehad wat hulle kon melk nie, hulle het al hulle melk van ons af gekry. Oorle Theunis het naderhand vir ou Mac gewerk, toe het hy darem ‘n spannetjie osse gehad.

 

Vraag: Wie was die Mac?

OJ: Hy’s lankal dood – Bush McIntyre. My skoonpa het net waens gekort en ek het transport gery.

OF: Hulle het hom altyd Klein Mac genoem.

 

Vraag: Watter koers het Oom Jan gery?

OJ: Kanye toe.

 

Vraag: Met ‘n ossewa?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou was dit vir die winkels?

OJ: Ja,vir Terry se mense. Terry Gower, Edmond se pa. Dit was sleg om daar transport te ry. As daar nie water is nie, moet jy osse vooruit en agteruit stuur water toe, daar waar dit nie gereën het nie.

 

Vraag: Nou hoe’t mens dit gedoen? Het jy meer osse gehad as wat daar in ‘n span was?

OJ: Nee, jy stuur daai osse terug, laat hulle drink, dan ry jy vorentoe sover as wat jy kom, dan stuur jy hulle vorentoe, dan drink hulle …

 

Vraag: Dan wag die wa nou vir hulle?

OJ: Ja, dan moet hulle terug. Daar is baie panne en as dit gereën het dan gee jy hulle elke dag daar water.

 

Vraag: Dit was nou hier by 1905 rond?

OJ: Nee, 1914 het ons op Lehututu gekom.

 

Vraag: O, dus Oom-hulle het nie dadelik in die oorlog getrek nie.

OF: Nee, hulle het eers hier op Ghanzi gekom in 1918.

OJ: Hierdie Japie Brunet se ouma-hulle het ook gebly daar op Leeubos.

 

Vraag: Leeubos?

OJ: Tussen Rietondale en Mier.

 

Vraag: O, in Gordonia?

OF: Die ou tannie, het haar man toe nog gelewe?

OJ: Ja, sy was met ‘n Steyn getroud, Jaap Steyn, hulle was drie broers gewees.

OF: Dit is nou hierdie Douw Steyn-hulle wat op Gobabis bly?

OJ: Ja, dis seker hulle.

 

Vraag: Nou het hulle toe Suidwes toe getrek later?

OJ: Ja

 

Vraag: En hier op Lehututu, waarin het Oom-hulle gebly, julle moes seker huisbou daar?

OJ: Daar was Botswana-huise gewees, ons het hulle reggemaak.

 

Vraag: Sommer sulke ronde dakke, soos hulle vandag nog lyk?

OJ: Ja, Edmond is ook daar gebore, en Karel Kotzè.

 

Vraag: Hoekom het Oom-hulle toe nou later Ghanzi-toe getrek?

OJ: Daar was nie witmense daar gewees nie.

 

Vraag: Toe’t Oom-hulle maar hierso kom boer?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou hoe het dit toe gewerk, het Oom Jan sommer ‘n plaas kom koop, by wie, of het Oom sommer net aangelas by waar die ander mense gebly het?

OJ: Ek het hierdie plaas gehad, hierdie Uitkoms-plaas.

 

Vraag: Nou hoe’t Oom die plaas in die hande gekry, by wie het mens hom gekoop bedoel ek?

OJ: By die Engelse regering, daai tyd was hier nog nie Botswanas nie. Ek het hom ook gebetaal.

 

Vraag: O, so hulle was in beheer van die plase?

OJ: Toe oorlede Theunis daai plaas in Suidwes wou koop, toe vra hy sy ma of ons sal saamtrek. Sy sê toe dat ons sal saamtrek. Toe ons klaar vir Sheldon gevra het om die plaas te koop, toe kanselleer hy daai plek, toe wil Sheldon nie hierdie plek los nie.

 

Vraag: En waar is Oom Jan se kinders gebore?

OJ: Maria is daar by die Kuruman rivier gebore. Sy was twee maande oud toe ons op Lehututu gekom het. Mieta is ook op Lehututu gebore.

 

Vraag: Nou die Kuruman rivier, waar’s dit?

OJ: Daar naby die Gemsbokpark.

 

Vraag: Daar was seker nou niemand om eintlik vir Tannie Annie te help nie, né? Dis mos net die Gowers wat daar was?

OJ: Daar was ‘n ou kleurlingvrou gewees, ou William Camm se vrou.

 

Vraag: Was sy familie van die Camms wat nou hier is?

OJ: Toe Edmond gebore is, het hulle nog vir my gestuur om ou miesies Camm te gaan haal om vir Annie te kom help.

 

Vraag: Mense het darem moed gehad!

OF: Daardie tyd se mense het nie eintlik geweet wat is swaar nie, ons verbeel ons vandag ons kry swaar.

 

Vraag: Hulle het nie gestuit vir enige ding nie, net aangegaan …

OF: Ja.

 

Vraag: Nou kan Oom Jan iets onthou van daai tyd? Hoe dit nou hier gelyk het met paaie en so aan?

OJ: Daar was ‘n pad, maar jy’t nie water gekry nie. Van Noga af kon jy net op Okwa water kry, en daarvandaan is dit vyf dae Lehututu-toe, as dit nie reën nie.

 

Vraag: Nou hoe’t ‘n mens dit gemaak?

OF: Dit was seker ‘n vyf-en-dertig myl dors?

 

Vraag: En hier op Ghanzi, het die mense Oom-hulle darem vriendelik ontvang, of was dit moeilik om in te kom by die klomp wat alreeds hier gebly het?

OJ: Nee, hulle was vriendelik gewees.

 

Vraag: Wie was nou eintlik Oom Jan-hulle se vriende gewees daai tyd … of was almal maar vriende?

OJ: Chrisjan Lewis, Magiel Taljaard en Jan Marnewijk was hier gewees en die Engelse regering. Ek het nog vir die een putse gegrawe, ‘n Meatly (?). As daar ‘n hamer- of ‘n piksteel breek, dan vat hy hom en sit self vir my die steel in. Ek het putse gegrawe tot ek water gekry het.

 

Vraag: Dit was nou na 1918 dat Oom-hulle hier gekom het?

OJ: Ja, saam met Theunis Kotzè en die Camms.

 

Vraag: Was daar twee van hulle wat gekom het?

OJ: Ja, hulle het op Hukhuntsi ‘n winkel gehad.

 

Vraag: Nou hoekom het hulle gevlug hiernatoe?

OJ: Hulle het ook gevlug vir die oorlog.

OF: Dit was gedurende die Boere-oorlog. Hulle het saam met ou Burton, Andy Malone en twee McIntyres ingekom. Een was ‘n skoolmeester en een ‘n ouderling en het hy altyd vir hulle kerk gehou. Hier was so ‘n geelbekbul en ook ‘n vark wat William Camm nog by hulle geruil het.

 

Vraag: Was dit ‘n perd wat hy mee gekom het wat Oom Jan nou van praat?

OJ: Ja.

 

Vraag: Hoe’t Oom gesê watter soort perd was dit?

OJ: So ‘n geel mêrrie. Daai geelbek-span wat ek hier op Khoutsa gehad het was van daai geelbekbul se kallers.

 

Vraag: Ek het nou nie mooi verstaan nie, Oom Jan, die kleurlinge, het hulle toe ook op Lehututu kom bly, of waar?

OJ: Ja, hulle het op Hukhuntsi kom bly.

 

Vraag: En dié Le Roux wat Oom Fanie netnou van gepraat het, sal Oom Jan van hom weet?

OF: Ek weet nie, het Pa hierdie Kleinman-hulle se pa gesien of geken?

OJ: Ja, hy het op Tsaries (?) gebly.

 

Vraag: Nou wie se pa is dit nou, Oom Fanie?

OJ: Kleinman en Rosie le Roux wat op Olifantskloof gebly het.

OF: Ou Burton het hulle eintlik grootgemaak.

 

Vraag: Kleinman en wie?

OJ: Ou Doorsie le Roux. Hy’s blind, kon niks sien nie want die hoenders het sy oë uitgepik. Tog doen hy alles self so blind as wat hy is.

 

Vraag: Toe hy klein was?

OJ: Ja

OF: Kan Pa iets van die ou le Roux onthou. Wat was sy ambag en wat het hy gedoen?

OJ: Ek weet nie, kan nie onthou of hy iets gedoen het nie.

OF: Het hy nie gesmous nie?

OJ: Ek weet nie, dink so.

OF: Oom (?) het my vertel dat hy ammunisie aan die mense verkoop het.

OJ: Ja, seker so iets.

 

Vraag: En dat hy toe ‘n prys op sy kop gehad het, sê Oom Fanie? Weet Oom Jan iets daarvan?

OJ: Nee.

OF: Nou Oom Theunis, toe hy hier ingekom het, het hy met ‘n klompie kleurlinge hier ingekom om die Boere te kom skiet. Kan Pa ons iets daarvan vertel?

OJ: Ons het mos daai tyd daar gebly. Hy en ou Bush McIntyre en drie kleurlinge het Ghanzies toe gekom om die Boere te kom skiet. Outa Vlieer was nog hulle voorman gewees.

 

Vraag: Outa Vlieer? (Fleur)

OJ: Ja, hy was hulle voorman.

 

Vraag: Watter Oom Theunis was dit nou?

OF: Nie die ou Oom Kotzè nie, die jonger Oom Kotzè.

 

Vraag: Nou hoekom was dit nou gewees, Oom Jan?

OJ: Ek weet nie, hulle beweer so, maar hulle is toe weer terug.

 

Vraag: Wanneer was dit omtrent?

OJ: Dit was nog voor ons hiernatoe getrek het, ons was nog op Lehututu gewees.

 

Vraag: Nou die storie wat hulle vertel van die Burtons en Andy Malone wat gedink het hulle moet teen barbare kom veg, toe dros hulle en kom bly hierso, is dit min of meer waar?

OF: Soos ek verstaan het, het hulle vir die Boere-oorlog gekom. Hulle het uit Engeland gekom om te kom veg teen die Republiek en toe hulle daar kom het hulle weggeloop. Mnr. Burton is nie ‘n Burton nie, hy’s ‘n Smith.

 

Vraag: Nou hoe het dit dan gekom dat hy Burton geword het?

OF: Met die dat hulle weggeloop het, het hulle van verander.

 

Vraag : Dus al hierdie Burtons agterna is toe nou eintlik veranderde mense?

OJ: Daai kleurling het ou Willie Carstens (?) ondertoe saamgevat en by die Engelse opgepas … hulle het gesê hy praat te veel.

OF: Wie was die ou Carstens?

OJ: Hy het saam met ons getrek hiernatoe.

OF: O, hulle was vir hom bang?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nee, ek verstaan nou nie mooi nie, wie het hom afgevat?

OJ: Daai kleurlinge.

 

Vraag: Nou wie was hy dan nou?

OJ: Hy was ‘n witman, hy het saam met ons getrek, ou Willie Carstens.

 

Vraag: Nou het hulle sommer self besluit hulle vat hom saam?

OJ: Ja, hulle vat hom terug.

OF: Ja, hulle was tot hier op Ghanzies gewees, die Oom Theunis en die kleurlinge met hulle kommandotjie.

OJ: Daar was drie kleurlinge saam met Oom Theunis en ou Bush McIntyre.

 

Vraag: Nou wat het hulle skielik besiel?

OF: Ek weet nie, maar hulle het gekom om die Boere te kom skiet.

OJ: Die Boere sou hulle uitmekaar geskiet het!

 

Vraag: Maar hulle opdrag van iemand gehad miskien?

OF: Ek sal jou sê Oom Theunis het my net die storie vertel. Kyk hulle was nog vreeslik arm gewees die Kotzè’s. Toe het hy hom aan hulle verhuur, jy weet, en hiernatoe gekom om die Boere te kom skiet. Ek dink, maar is nie seker nie, dat hulle net gekom het tot op Okwa of tot op die Kamp, en daar het hulle toe weer omgedraai.

 

Vraag: O, so die Oom Kotzè was nie die leier van die groep nie, hy het maar net saamgekom.

OJ: Nee, daai kleurling, Outa Fleur, hy was die leier.

 

Vraag: Toe is hulle waarnatoe terug?

OJ: Weer terug Lehututu-toe en daarvandaan terug Kang (Kanye) toe.

 

Vraag: Oom Jan, die mediese kennis, kan ek maar sê die dokterskennis, wat oorlede Tant Annie gehad het, waar het sy daaraan gekom en hoe’t sy haarself dit geleer?

OJ: Sy’t dit maar self geleer, sy’t maar altyd medisynes van die dokters af laat kom.

 

Vraag: Watter dokters nou?

OJ: Ek kan nie meer sy van onthou nie

 

Vraag: Maar haar ma, het sy nie dalk by haar ouers geleer nie?

OJ: Nee, die Hotnotsmense, hulle weet dalk iets van dokter ….

 

Vraag: En hulle het mekaar nou maar daar by Gordonia, het sy dit nou maar daar geleer?

OJ: Ja, en op Lehututu was oo baie Hotnots gewees.

 

Vraag: O, toe het sy maar verder aangegaan met leer. Nou het Oom Jan haar partykeer gehelp met die siek mense?

OJ: Nee, ek het haar nie gehelp nie.

 

Vraag: Ek soek eintlik iemand wat my kan vertel van die medisynes en die goed.

OF: Ja, hulle het daardie tyd mos hierdie trommeltjies verkoop.

 

Vraag: Die Hollandse medisyne?

OJ: Die Hotnots het meeste geweet van smeer … hulle smeer jou.

 

Vraag: Waarmee smeer hulle jou?

OJ: Ek dink hulle smeer jou sommer. Maria was nog klein daai tyd en het stuipe gehad, toe smeer hulle haar met teewater dink ek … toe sweer die ding onder haar nael uit en sy word gesond.

 

Vraag: Nou weet Oom Jan gladnie wat hulle gebruik het om mee te smeer nie?

OJ: Nee

 

Vraag: En toe Oom-hulle hier op Ghanzi kom, moes Oom huis bou?

OJ: Ja.

 

Vraag: Wat se soort huis en wat het Oom-hulle gebruik om mee te bou?

OJ: Ons het ‘n groot huis hier gehad met stene.

 

Vraag: Wat Oom-hulle self gemaak het ook?

OJ: Ja, hulle het als afgebreek – daar’s vandag niks.

OF: Kan Pa vir my vertel in watter jaar het Pa hier kom bou, dit moes ongeveer in ’42 gewees het.

OJ: Ja, ek was sestien jaar eers op Rietbokpan gewees.

 

Vraag: Dis nou anderkant die Kamp?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou wanneer het Oom Jan hiernatoe gekom? Na uitkoms?

OJ: Ek kan nie meer onthou nie. Ek het van my huis ‘n foto, ek sal môre vir jou wys.

 

Vraag  Nou wil Oom nie bietjie vir my vertel van die huisbouery nie?

OJ: My broer het my gehelp.

 

Vraag  Het Oom-hulle die roustene self gemaak en waarin het mens hulle gebak?

OJ: Ja, die roustene pak hulle so, dan maak jy vuur binne in die stene self.

 

Vraag: Rietbokpan, is dit nie waar ‘n skool ook was nie?

OJ: Die skool was vyf myl daarvandaan.

 

Vraag: Was dit Khoutsa se skool?

OF: Ja, die skool was eintlik op oorlede Oom Chrisjan se plaas.

 

Vraag: Maar dit was vyf myl van Oom Jan se plaas?

OF: Ja.

OJ: Ek het putse gegrawe toe ek daar gebly het.

 

Vraag: Putse gegrawe op Rietbokpan?

OJ: Ja.

 

Vraag: Oom Jan was ‘n goeie putgrawer?

OJ: Ek het vyftien putte in hierdie land gegrou.

 

Vraag: Het dit lank gevat?

OJ: Hang net af hoe diep hy is en hoe hard hy is. Ek het vir oorlede Hardbattle drie putse gegrawe, die diepste een was 75vt.

 

Vraag: Dan moet Oom Jan self die plek ook aanwys?

OJ: Ek het baie keer self aangewys, maar daardie een het die Regering en oorlede ou Burton gesê waar ek moet grou. Dit was toe oorlede Oom Chrisjan nog gelewe het. Albert en Magiel Petoors grawe toe en toe hulle net die kalk deur is toe kry hulle dryfsand. Hulle los toe die put en kom terug. Toe sê ek vir oorlede  Oom Chrisjan as hulle my iets gee sal ek daarmee beginne. Toe sê Mr. Burton waar ek moet grawe, maar hy het my net ‘n paar skote dinamiet gegee. Toe grawe en die kalk deur. Toe ek die kalk deur is toe kry ek sand, so ‘n stywe sand, toe grawe ek 43vt. Skiet twee skote en sien as ek aanhou gaan hy inval. Ek het my osse ook daar gehad, toe het ek blokke gesaag en hom uitgeblok tot bo. Toe moet ek weer ‘n outa stuur om ander mense te kom haar. In daai sand het ek toe gegrawe, 75vt, toe los ek hom want hy het nie water nie.

 

Vraag: Nou hoe’t ‘n mens die grond uitgekry? Met emmers?

OJ: Jy draai dit met ‘n rol uit.

 

Vraag: As dit nou diep gaan, dan het hulle ‘n rol bo?

OJ:  Ja.

 

Vraag: En hoeveel helpers het ‘n mens nodig gehad om so een te grawe?

OJ: Ek het drie helpers gehad.

 

Vraag: En die blokke wat mens hom mee uitgeblok het, hoe’t mens dit gedoen?

OJ: Jy sit hulle so opmekaar.

 

Vraag: Dis dan nou al om die kante?

OJ:  Ja, al die kante.

 

Vraag: Nou het die bloke nie sleg geword van die water nie?

OJ: Nee, daar was nie water gewees nie.

 

Vraag: Het Oom-hulle dit nie met die ander putte ook gedoen nie?

OJ: Nee, net met daai een.

 

Vraag: Dis nou maar net om te keer dat die put nie weer toeval nie?

OJ: Ja.

 

Vraag: En die ander putte, het ‘n mens klippe gebruik om hulle te keer?

OJ: Nee jy’t nie klippe nodig gehad nie, hulle val nie toe nie.

 

Vraag: Van die Kalkklippe?

OJ: Ja.

OF: Is dit nou van Kkabou (?) wat Pa vertel het. Daar het Pa seker baie elande gesien?

OJ: Nee, ek het nie baie gesien nie. Ek het partykeer ‘n hartbees, springbok of ‘n gemsbok geskiet. Voor ek daar weg is het ek ‘n eland geskiet. Ek het nog ‘n drom water gehad, toe gooi ek hom daar uit. Die ander dag toe kom Adams met al sy perde, maar sy perde was al moeg gewees. Hy vra toe of ek nie water vir sy perde sal gooi nie, toe sê ek, ek het nie geweet hulle kom nie!

OF: Adams het toe seker lekker geëet aan die eland se bors!

OJ: Ja, daai Smith was eintlik die een!

 

Vraag: Watter Smith was dit nou?

OJ: Die een wat saam met Adams aangekom het.

 

Vraag: Nou maar het Adams hom by Oom toe siek geëet aan die eland?

OJ: Nee, daai Smith was siek, hy het seker te veel vet geëet, die anderdag more toe’s hy naar.

 

Vraag: Nou hoekom het Oom Jan toe die water weggegooi, om plek te maak vir die eland?

OJ: Nee, ek het nie meer water nodig gehad nie, want ek gaan toe mos terug.

 

Vraag: Weet Oom Jan dalk iets van die runderpes af?

OJ: Ja, dit was toe ons nog op Mier gebly het. Nols van Zyl het al sy beeste daaraan verloor.

 

Vraag: Nou maar het Oom-hulle se beeste nie ook gevrek van die runderpes nie?

OJ: Nee, hulle het nie siek geword nie.

OF: Maar die runderpes, waar het hy nou eintlik uitgebreek?

OJ: In die Republiek.

OF: Wat vir my so eienaardig gewees het van daardie kleurling ou, wat die hoenders sy oë uitgepik het, was dat hy kon enige geweerwerk gedoen het. Met geweerwerk moet jy met vuur werk en so aan, die fynste besonderheidjies het hy heelgemaak.

 

Vraag: Liewe land, sonder enige oë?

OF: Sonder oë .

OJ: Hy het altyd ‘n harp gehad wat hy op speel.

 

Vraag: Nou wie sou hom dit geleer het?

OJ: Hy’t homself geleer …

 

Vraag: Oom Jan het nog laas gepraat van die musiek op Ghanzi, van die harp en so aan. OomJan was mos ook ‘n groot musiemaker?

OJ: Ja, my musiek staan daar by Cassie-hulle.

 

Vraag: Nou waar het Oom Jan geleer en het die mense baie gespeel?

OJ: Ek het maar sommer self geleer.

 

Vraag: Nou het Oom Jan partykeer op partytjies en so aan gespeel?

OJ: Nee, ek het net in die kerk gespeel.

 

Vraag: Nou hoe dikwels was dit kerk?

OJ: Op Dekar het ek op daai orreltjie gespeel, maar op Khoutsa het ek op my eie orreltjie gespeel. Ek het tien pond vir die orreltjie betaal en hom by ‘n kleurling gekoop. Hy het ook ‘n spieël op gehad, maar die spieël is nou af.

 

Vraag: Oom-hulle was nou in die Gereformeerde Kerk, maar die ander mense wat hier was, was in die N.G. kerk?

OJ: Ja.

 

Vraag: Toe Oom-hulle hier ingekom het, was daar nog nie ander Gereformeerdes nie?

OJ: Nee.

 

Vraag: Net Oom-hulle en Oom Theunis-hulle?

OJ: Ja. Ons predikant moes altyd van Gobabis af kom met die donkiewa, dan het ons hom ontmoet by Olifantskloof met die ossewa.

 

Vraag: Nou was dit eenmaal elke drie maande?

OJ: Ja, partymaal langer.

 

Vraag: Het hulle mekaar verdra, die Doppers en N.G. mense?

OJ: Ja.

 

Vraag: Daar was nie Hervormers nie, of was daar?

OF: Maar die ou Kotzé, was hy nie N.G. vroeër nie?

OJ: Ons almal was.

 

Vraag: Nou hoe’t Oom-hulle dan nou Doppers geword?

OJ: Ons was Gereformeerd.

 

Vraag: Nou hoe het Oom-hulle Gereformeerd geword?

OJ: Die ou Kotzé en ‘n predikant daar op Rietkuil het stry gehad. Toe spook hy my oorlede pa moet in hierdie kerk ingaan. Die ou kêrel het gekom met allerhande dinge, dis daai tyd toe Mias hom weggejaag het.

 

Vraag: Dis nou die Oom Theunis Kotzé?

OJ: Ja, die ou Kotzé. Hy het altyd met mense rusie gemaak.

 

Vraag: Het hy vir Oom-hulle in die Gereformeerde Kerk gekry of het hy Oom se pa ingery?

OJ: Nee, my oorlede pa.

 

Vraag: Oom-hulle was maar altyd so half saam?

OJ: Ja, ons het jare saamgetrek.

OF: Was pa se eie pa ook Gereformeerd? Het hulle ook Gereformeerd geword?

OJ: Ja.

 

Vraag: Kan Oom Jan onthou watter jare was dit nou min of meer?

OJ: Dit was 1904 gewees.

 

Vraag: Toe het Oom hulle ook oorgegaan na die Gereformeerde Kerk?

OJ: Daai ou kêrel en Skoeper, hulle het stry gehad, toe spook die ou kêrel my pa-hulle moet hulle kerk los en hier ingaan.

 

Vraag: Die Skoeper, was hy ‘n predikant?

OJ: Ja.

 

Vraag: Weet Oom nie waaroor het die stry gegaan nie?

OJ: Nee, ek weet nie, ek steur my mos nie as mense stry nie.

 

Vraag: Nou in Ghanzi, het hy nie hier ook stry gekry met die mense nie?

OJ: Nee ek weet nie. Hy het niks gehad al die jare wat ons saam was nie, hy het nie eers ‘n koei gehad om te melk nie. Oom Jettie (Hesse) het ‘n klomp skape en bokke vir hulle gegee om na te kyk, dan kan hulle daardie slaggoed kry. Hy het in Keimoes water gehad. Toe Mias die ou kêrel weggejaag het, het hy al ‘n klomp skaap gehad. Hy stuur toe oorlede Theunis Kotzé na Oom Jettie toe, met die skape saam. Hy loop toe weg met daai skaap. Toe kom Oom Hesse en vra vir Oom Theunis waar is daai skaap. Hy sê nee, Theunis is lankal in Lehututu met daai skaap. Toe’t hy weggeloop en daai skaap kom verruil vir smidsgereedskap en toe het hy beginne waens kort.

 

Vraag: O, nou was hy Oom Jan se skoonpa?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou die wa-kortery, hoe het dit gewerk?

OJ: As die wiele los raak, dan haal jy die band af en maak dit bietjie nouer, dan sweis jy hom, dan sit jy hom weer oor.

OF: Wat ek jou wil verduidelik, dis eintlik soos hulle vandag met die braze sweismasjiene werk, jy weet. Hulle vat ‘n stuk uit die band uit, want die wiel word nou lendelam, die ysterband sal ek maar sê, dan is hy te groot. Dan kap hulle ‘n stuk daaruit, met die gevolg dan brand hulle hom weer aanmekaar. As hulle hom dan oortrek word hy in ‘n misvuur gepak, dan word hy rooiwarm, en dan trek hulle hom oor …

OJ: En dan gooi hulle hom nat dat hy koud word …

 

Vraag: En dan pas hy nou weer?

OJ: Jy moes ‘n blaasbalk gehad het as jy hom warm maak.

 

Vraag: Nou het hy net aan die wiele gewerk, of aan die ander dele van die wa ook?

OJ: Nee, hy het aan ander dele ook gewerk.

 

Vraag: Wat was daar nog om te doen?

OJ: Hierdie ou kis, dis ‘n sykis gewees.

 

Vraag: Ja, Tantt Maria het my gewys, hierdie lange wat hier staan wat van hardekool gemaak is?

OF: Ja, hy’s hardekoolhout.

 

Vraag: Nou wie het hom gemaak?

OJ: My skoonpa, dit was ‘n sykis aan die wa.

 

Vraag: Hy was ‘n handige man met sy hande?

OJ: Ja, daardie rooihouttafel by Lettie is ook sy handewerk, en die katel wat ek hier op slaap is ook deur hom gemaak.

 

Vraag: Weet Oom Jan van watse hout is dit gemaak?

OJ: Hierdie is perdepishout.

 

Vraag: En daai tafel ook?

OJ: Ja.

 

Vraag: So die mense het maar hierdie plaaslike hout gebruik?

OJ: Ja.

 

Vraag: Was daar nou party mense in Ghanzi wat een soort ding gedoen het en dan het almal na hulle toe gekom of het almal maar alles kon doen?

OJ: Hy het meeste maar vir homself gemaak, hy het nie vir ander mense gemaak nie.

 

Vraag: Maar hy het die ander mense se waens gekort, né?

OJ: Ja.

 

Vraag: Nou was daar ander sulke soorte ambagmense hier in Ghanzi?

OF: Albert Lemcke, hy was ook ‘n blacksmith.

 

Vraag: Het hy ‘n besigheid gehad en dan gaan die mense na hom toe?

OF: Ja, eintlik, maar hier was nie veel vir hulle om te doen op Ghanzies nie. Albert Lemcke het vir ‘n paar jaar in Maun gaan werk. Daar het hy eintlik, jy weet, waens gekort en waens gemaak.

 

Vraag: Ek wou nog vra van die wamakery, is dit gemaak vir die mense wat hier was, of het mense dit van vêr gebring?

OF: Hier is nie eintlik waens gemaak nie, hier is ou waens geherstel en reggemaak, maar ek weet nie van ‘n wa wat hier opgemaak, opgebou is nie. Die mense het maar met die waens ingekom.

 

Vraag: Julle weet nie waar het die mense aan die waens gekom nie. Watse soort waens was dit? Was dit anderste soort waens as wat die mense in die Unie gehad het?

OF: Ek dink dit was maar dieselfde waens, jy het eintlik maar net twee soorte waens gekry – die kortkapwa en die voltentwa. Daar was nie ‘n ander soort wa gewees nie, en ek dink alle waens was gemiddeld ‘n drie-ton gewees.

 

Vraag: Waarvoor is die kortkapwa gebruik?

OF: Die kortkapwa, hy was eintlik ‘n handiger wa gewees as die langkap. Die kap was eintlik agterop, jy kon baie vryeliker beweeg voor in die wa met jou sweep as wat jy met die langtentwa kon doen.

 

Vraag: Was die langtentwa iets soos ‘n kakebeenwa?

OF: Watter is die kakebeenwa, Pa?

OJ: Ek weet nie.

OF: Ek het die namaaksels op Bloedrivier by die monument gesien, maar dit lyk vir my asof hulle algar hierdie langkapwaens gewees het.

 

Vraag: O, dus dis maar net dieselfde as hierdies. Die langkapwa, het die houtwerk ook aan die een kant opgekom, of was dit gelyk gewees aan die kante?

OF: Ek verbeel my hulle was reguit.

 

Vraag: Want die kakebeenwa is so genoem omdat dit so opgebou is.

OF: ‘n Paar het die voltentwa gehad, maar meeste was dit die halwe.

 

Vraag: En as mens nou met vrou en kinders saamtrek, het hulle nou maar onder die klein kappie gesit?

OF: Ja.

 

Vraag: En geslaap en alles?

OF: Ja, hy was so gemaak, jy weet, daar kon ‘n bed in hom gestaan het. Die bed het nou aan die kap vas gewees, hy’t nie pote gehad nie en onder die bed was ‘n spasie gewees.

 

Vraag: As daar nou ‘n groot gesin was, waar het almal geslaap, buite op die grond?

OF: Die kan ek jou nie sê nie, want ek weet nie van so ‘n groot gesin wat hier met daai klas van wa gery het nie.

 

Vraag: Maar die mense het mos almal redelik baie kinders gehad?

OF: Dan sou ek reken dat almal wat nie op die bed kon slaap nie, miskien onder die bed geslaap het.

 

Vraag: Wat was daai storie gewees van daai Le Roux en die prys op sy kop en die bed?

OF: Ja, ek het gehoor dat hy het ammunisie verkoop aan die Hottentotte in Suidwes, en die Duitsers het ‘n prys op sy kop gesit.

 

Vraag: En toe vlug hy eintlik half hiernatoe?

OF: Ek glo hy het gevlug, want soos my skoonpa nou sê, hy het daar op Lehututu rond gebly. Nou ek het hom persoonlik nooit gesien nie, wat ek gesien het is sy kinders. Ou Burton het hulle eintlik grootgemaak, hulle het by hom grootgeword.

 

Vraag: Nou het die kinders toe nou hier getrou en gebly?

OF: Man, ek wil nou nie vir jou lieg nie, maar ek weet nie. Hulle het eintlik hier gebly tot ou Burton gaan trou het, of hy vir hulle toe aangesê het om pad te gee nie. Maar ek neem aan dis toe hulle pad gegee het.

 

Vraag: Vertel bietjie van die bed-opmakery van Le Roux langs die wa?

OF: Ja, dis maar wat ek gehoor het. Hy het gewoonlik sy bed opgemaak by die wa, langs die wa, altans by die wa. Hy het nooit in sy bed geslaap nie, … altyd eenkant geslaap.

OF: Hy het natuurlik altyd hier gebly, by Pa.

 

Vraag: Nou hoekom sou hy so half teen die Boere gedraai het om nou hier te kom skiet op hulle?

OF: Nee, hy het nie gekom om te kom skiet op die Boere nie, dis wat hy my vertel het. Hulle was maar baie arm soos jy juis nou gehoor het, hulle het niks gehad nie, en die kleurlinge het hom toe gehuur om saam met hulle te kom.

 

Vraag: O moes hy nou eintlik vir hulle die plek kom wys?

OF: Ja, ek glo so. Toe het hy saam met hulle gekom … eintlik om die Boere te kom skiet.

 

Vraag: En toe kom hulle net tot op Okwa, toe gaan hulle terug?

OF: Ek dink hulle het net tot op Noegas gekom

 

Vraag: Oom Fanie weet nie waaroor sou dit nou gewees het nie?

OF: Nee, ek weet nie.

 

Vraag: Oom Jan het gesê die McIntyres was ook by. Sou hulle nou gehuur gewees het, want hulle het tog nie kwade gevoelens gehad teen die Boere nie?

OF: Nee, dis wat ek nie weet nie, jy weet. Die twee McIntyres was twee broers gewees en was hulle heeltemal van ‘n ander seksie gewees. Dit was die twee McIntyres, Burton en Andy Malone … dis net die vier wat ek nou einlik kan onthou. Hulle het hier ingekom, maar hulle het eers in die tyd van die Boereoorlog hier gekom.

 

Vraag: Nou die McIntyre, dink Oom dis onwaarskynlik dat hy sou bygewees het, want hy was tog een wat vorentoe gegaan het en ryk geword het.

OF: Ja, ek kan nie eintlik daai so vat dat dit kon so wees, dat hy by gewees het nie.

 

Vraag: Ja, ek twyfel darem ook.

OF: Wat ek van weet is dat hierdie ou Theunis Kotzé, die een was wat bygewees he. Hy het jare vir hierdie klein Mac, soos hulle vir hom sê, gewerk.

 

Vraag: So hulle was ook nie van die rykstes nie?

OF: Die McIntyres? Ja, hulle was nie so baie ryk gewees nie.

 

Vraag: Het Oom vir die McIntyres gewerk?

OF: Ja.

 

Vraag: Dan wil ek ook graag weet, Helen McIntyre wat ‘n kleurling is, is sy nou familie van die McIntyres?

TM: Dis daai McIntyre se kleinkind.

 

Vraag: Het die ou McIntyre ‘n kleurling vrou geneem of ‘n Boesman, of was dit die seun?

TM: Die ou McIntyre. Dis nou sy seun se dogter.

OF: ‘n Burger meisiekind, maar hulle het nie kinders gehad nie.

 

Vraag: Watter Burgers?

OF: Klein Mac, ag ou Bush.

TM: Man, jy raak nou deurmekaar!

OF: Man, klein Mac het nie kinders gehad nie.

TM: Maar ou Bush het met ‘n Burger getrou, nie Mac nie.

OF: Ja, maar dis altwee twee McIntyres, twee broers.

 

Vraag: Wat was hulle name, die twee broers?

OF: Die een het hulle genoem Klein Mac, en die ander een Bush McIntyre.

 

Vraag: En dis die Bush wat eers met ‘n kleurling getroud was?

OF: Ja.

TM: Dis Bush wat met Annie Burger getroud was.

OF: Ja, maar hy was eers met ‘n kleurling getroud.

TM: Ja, maar ek praat van die Burgermeisiekind, weet jy wie is dit? Sy bly daar op Buhrmansdrif. Het jy al gehoor van Jan Swerwer, al gehoor van Chrisjan Goosen se vrou?

 

Vraag: Tannie Judith?

TM: Ja, hy was met haar tannie getroud, sy bly daar onder.

 

Vraag: Nou was sy familie van tant Maria-hulle?

TM: Nee.

 

Vraag: Ander Burgers? Nou was sy ook hier in Ghanzi?

TM: In Maun.

OF: Hy het nooit ‘n bankrekening gehad nie, hy’t altyd sy geld gebegrawe.

 

Vraag: Hier was nie ‘n bank hier op Ghanzi nie, né?

OF: Ja, hier was nie ‘n bank hier op Ghanzi nie, maar in elkgeval hy het maar net altyd sy geld gebegrawe onder die grond. Die groot ding, hy was bang ook vir sy skoonpa. Hy het altyd vir die ou man gevlug, bang gewees dat die ou man sal beslag lê op sy goed en so aan. Ek dink hy was ook in gemeenskap van goedere getroud gewees en die skoonpa wou ‘n deel van die geld gehad het … dis nou na sy vrou dood is.

 

Vraag: Nou watter skoonpa was dit?

OF: Ek weet nie, dit was nie hier in Ghanzies gewees nie, dit was voordat hy gekom het.

 

Vraag: En toe?

OF: Nee, dis al wat ek jou kan vertel, dat hy nooit ‘n bank rekening gehad het nie.

 

Vraag: Maar toe hy dood is het almal seker al die geld opgegrawe?

OF: Dis wat ons nie weet nie … hulle het jare lank nog van sy geld gesoek, jy weet hier waar hy gebly het, maar hulle kon dit nie kry nie.

 

Vraag: Nou waar is hy dood?

OF: Hy is dood hier by Olifantskloof.

 

Vraag: Dis op die grens, né?

OF: Ja, hulle wou voorgegee het dat dit nie lank voor sy dood was dat hy twee roomkanne vol geld gebegrawe het, in note.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Oom Jan Burger en Fanie & Maria (neé Burger) Lewis

(Band A I & II) (Band B I & II) (Band C I & II)

JAN BURGER, FANIE & MARIA (nee Burger) LEWIS

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page