top of page

Landbou en ander diere behalwe beeste

Ander Ghanzi
webblaaie

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Cassie van Heerden (1) het vertel dat boere al die jare ook tabak vir eie behoeftes gekweek het. Al die ryp blare is stelselmatig afgebreek en opgehang. As die blare droog is word hulle weer natgemaak en gesweet vir omtrent 8 dae. Daarna word die blare opgerol en gekerf. Dit was vir die pruimtabak waarvoor veral die oumense lief was. Vir pyprokers is die rolle baie fyn gekerf en dan vir ‘n rukkie in water gedoop om ‘n deel van daai vreeslike skerp uit te haal. Dan word dit weer gedroog en is dan “lekker flou”! Baie van die tabak is aan swart mense verkoop.

 

Hugo Lemcke (2) het ook vertel dat die oumense vroeër hulle eie tabak geplant het, en dit dus nie gekoop het nie. Fanie Lewis het vertel dat boere selfs destyds vir Boesmans dagga gegee het as deel van hulle rantsoene, maar Hugo kon dit nie bevestig nie. Hugo het wel geweet dat van die Boesmans dagga geplant het, en dat Annie Burger altyd ‘n daggastoel in haar tuin gehad het vir medisinale doeleindes. Mense het geglo dagga is sterker as die plant swaar kry, maar as dit geil groei beteken dit niks nie.

 

Wat kosproduksie betref het die eerste boere min groente geplant. Daar was gewoonlik mielies en koring en verder pampoene en makatãne op die land en patats in die tuin.

 

(3) Ystervarke en koedoes het in die landerye gepla. Hugo Lemcke verduidelik dat hulle ystervarke bestry het met ‘n soort pil. Hulle het spore gevolg en pille in die gate geplaas en die gat toegemaak. Soms het die gas wat afgegee is gewerk! (Later jare het hulle met petrol kanne ystervarke vergas)

 

Die enigste raad met koedoes was om hulle in die lande te skiet. Ystervarke grou die mieliepitte uit wat geplant is, maar koedoes en ystervarke wag tot daar koppe aan die stoele is voor hulle die plant aanval. Koedoes eet ook boontjies. Vroeër was daar min koedoes en die boere was jammer om hulle te skiet, totdat hulle ‘n plaag geword het. Maar  koedoes en elande word as nikswerd bokke beskou omdat mense met perde hulle binne ‘n myl kan inry.

 

Wat elande aanbetref het Fanie Lewis en Chrisjan Lewis snr. met hulle probeer boer. Chrisjan Lewis het eenkeer elande bymekaar gemaak en Suid-wes toe aangejaag waarvandaan hulle na Duitsland uitgevoer is. Die probleem was egter dat elande nooit ‘n boer se eindom geword het nie en kannie geslag word nie. Om hulle aan te hou ontneem jy weiding van jou beeste. Vir mense soos die Vickermans met baie plase is dit nie ‘n probleem nie. ‘n Draad keer nie ‘n eland nie en daar word gedurig na weglopers gesoek. Boonop verkies Boesmans elande bokant enige wild. Dis dus onekonomies om elande aan te hou sonder ‘n mark.

 

Albert Lemcke (4) het Chrisjan Lewis, sy skoonpa, se gesukkel met elandboerdery beaam. Hy was wel die eerste op Ghanzi wat probeer het, maar omdat daar destyds nie kampe was nie, moes jy elke dag te perd agter hulle aanry om hulle te gaan soek en haal. Hulle het wel later mak geword. Hy het later ‘n koper gekry wat hulle oorsee gestuur het. Albert vertel dat hy eendag ‘n perd se nek afgejaag het agter elande aan. Hy wou een keer toe val die perd en vrek. Hy moes die  saal op sy rug huistoe dra.

 

Destyds was daar nie permitte nodig om met wild te boer nie, maar Fanie Lewis se trop elande is nutteloos. Hy mag niks verkoop nie, mors sy weiding op en as hy een wou slag moes hy ‘n permit kry.

 

Ryperde was vroeër baie werd. Manie Lewis se pa het sy plaas vir ‘n ryperd verkoop! So ‘n perd was volgens Hugo Lemcke (5) meer werd as ‘n motor in die ‘80’erjare. Niemand sou sommer sy ryperd aan iemand uitleen sonder ‘n baie goeie rede nie. Elke boer het meestal sy perd self geleer. Hugo se skoonpa, Chrisjan Lewis, het ‘n perd gehad wat almal behalwe sy baas afgegooi het. Die perd se naam was Vos. Grieta Lemcke vertel dat haar oom Gert Drotsky ‘n ou wit perd gehad het. Die oom het vallende siekte gekry en daarom het hy nooit die saal se buikgord vasgemaak nie. Kry hy dan ‘n aanval, het hy en die saal afgeval. Dan het die perd gestaan en wag tot hy bykom en weer kan opklim. As iemand anders wou opklim, was hy heeltemal steeks en wou nie ‘n tree loop nie.

 

Boere het van die eerste tyd af perde gehad, maar nie baie nie. Jou sou ook nie sommer jou perd uitleen nie. Daar was nie voer nie, maar die perde het die heeldag by die huis reggestaan. Daar moes vir die dier gras gesny word. Baie meisies het ook elkeen ‘n ryperd gehad. Grieta Lemcke (6) het vertel dat haar suster vanaf Khoutsa DEKAR toe gery het, heelnag gedans het en die volgende môre weer terug gery het Khoutsa toe. Jou perd, jou saal en geweer was ‘n mans se beste besittings. Hugo het destydse jag vergelyk met die hede. Mens het in die môre jou perd gevat, jou hond loop agterna, jy gaan skiet die leeu en kom terug. Deesdae vat hulle ‘n motorkar en honde, water, koffie, Boesmans. Charlie Sharp het die eerste motorkar ingebring by die 30’erjare rond.

 

(7) Grieta Lemcke het Ghanzi as ‘n vrugbare land beskou, afgesien van ongelukkige jare se brande of droogtes. Mens kan lande ploeg en groente plant en wild skiet. Nogtans het min mense belanggestel om te ploeg en plant. Grieta Lemcke (8) het dit heerlik gevind, veral na dit gereën het en sy loop in die land. Dan voel sy trots op dit wat sy verrig het. Sy erken egter dat dit ‘n duur speletjie is wat maklik kan skeefloop sonder reën. Kunsmis en transport het duur geword en lone moet betaal word. Daarom maak Ghanziboere eerder staat op beesboerdery omdat reënval wisselvallig is. Die meeste mense ploeg net vir eie gebruik ‘n klein landjie, hoofsaaklik mielies en boontjies. Vroeër het mense sogenaamde serellas van houte gemaak. By gebrek aan afmakers het hulle koppe se blare gestroop en in serellas gepak om winddroog te word om muf te voorkom. As die koppe goed droog is, slaan hulle die pitte met houte af. Dit was eintlik ‘n Setswana gebruik wat die boere oorgeneem het. Geplukte boontjies word vir ‘n dag of langer op seile oopgegooi en ook met houte uitgeslaan. Kaf word met die wind weggewaai. Mens het maar hulle eie saad oor-en-oor gebruik. Daar was nie ‘n soort nie. Die sogenaamde kafferboontjie was swart of wit of deurmekaar – wit, swart en bont. Iewers vandaan het die sogenaamde swartbekkie gewild geword.

 

Thys Taljaard (9) het die ou lande op DEKAR beskryf, rondom die latere opstal en by Ou DEKAR. Volgens hom het hy en sy pa honderde sakke mielies daar gewen, reënlande. Hulle het mielies, kafferboontjies, sorghum, makatãne geplant en geoes. Hy beskryf 50-60 vragte wat uitgery en oopgesny is om in skywe gedroog te word. Dit was maar hulle droë vrugte gewees. Op DEKAR was baie turksvybome gewees, asook omtrent 100 perskebome. Thys Taljaard (10) se pa was eenkeer weg Transvaal-toe vir sy vrou se bevalling. Na 3-4 maande se afwesigheid het die perskebome van droogte gevrek omdat die Boesmans nie water gegee het nie. Dit was moeilik om met die rol water te gee, en rysmiere het die bome se droë wortels bygekom. Hulle het sitrusbome ook gehad, lemoene, pomelo’s en suurlemoene. Daar was selfs appelkose en vye en ‘n reuse prieel waarvan tonne druiwe geoes is.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Landbou en ander diere behalwe beeste (Bladsye 125-130) 

(1) (I I 8-9) Cassie van Heerden

(2) (P I 8) Hugo Lemcke

(3) (O I 2-3) Hugo Lemcke

(4) (T II 9-10) Albert Lemcke

(5) (R II 6-7) Hugo Lemcke

(6) (R II 6-7) Hugo & Grieta Lemcke

(7) (S II 8-10) Grieta Lemcke

(8) (S II 8-10) Hugo & Grieta Lemcke

(9) (X I 12-13) Thys Taljaard

(10) (X II 2-3) Thys Taljaard

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page