top of page

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van

die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

Vraag: Ek probeer verstaan hoekom was sekere mense NG & ander weer Doppers, want dit lyk vir my of hulle tog saam kerk gehou het. Oom Theunis Kotzè weet ons het ingekom met die Gereformeerde Kerk, maar voor sy koms was daar seker ander kerke?

JK: Die Kotzè's, Theuns en Jan, is daar vir my gesê dat hulle in 1911 Lehututu-toe getrek het op soek na weiveld saam met sekere kleurlinge, die Camms en Hensons, ook van Karagas se wêreld. Hulle was ’n tyd lank daar en daar was ook kleurlinge wat later Molepolole-toe getrek het. Ons het eenmaal saam met Ds. Cloete daar gaan kerk hou. Omtrent 15-jaar gelede het hulle nog as ’n groep net so entjie uit Molepolole gebly. Van hulle kinders is later Gaborone-toe.

 

Vraag: Was hulle ook Camms?

JK: Nee, hulle was Januarie.

 

Vraag: Dis baie interessant vir my, al het die Kotzè en die Camms opgesplit het hulle tog as een sterk groep ingekom, is dit nie?

JK: Hulle het ook ’n kerk gebou op Theuns Kotzè se plaas Eersterus en daar kerk gehou. Ek weet dat die Gereformeerde Kerk in die 40'tiger jare as ’n kerk in Botswana gestig is.

 

Vraag: Was daar toe alreeds ’n NG Kerk gestig?

JK: Vandat ek betrokke geraak het was die NG Kerk lank deel van Gobabis-Suid, dit was nie ons eie kerk nie. In 1988 was die Dutch Reformed Church in Botswana 100-jaar oud, maar vroeër was daar al bewings en is die sending gemeentes bedien deur dominees wat uit Suid-Afrika gestuur is. Om ekonomiese redes is daar toe later besluit om liewer ’n Dutch Reformed Church in Botswana te stig. Toe was die vraag nou of ons gaan insluit of nie? Party was daarteen, maar die meerderheid het besluit ons gaan liewer insluit. Lobatse het ingesluit saam met hulle, maar Francistown het geweier tot vandag toe. Die kerke moes geregistreer word.

 

Vraag: Dis nou die DRCB met ander woorde. Die swart en wit kerke hou nog apart kerk, is daar nie druk van die groter kerke daaroor nie?

JK: In Botswana is jy geregtig om kerk te hou in jou eie taal. Met die Gereformeerde Kerk het die blankes nog eenkant kerk gehou. Daar was toe vrae daaroor en ’n redelike stryery met Ds. Welding betrokke. Toe besluit hulle om die Gereformeerde Kerk tot niet te maak.

 

Vraag: Op die agterstoep van die huis waarin ons kom bly het, het hulle nog dienste gehou elke Sondag vir die witmense en daarna ewe skielik is die dienste op die plase gehou ...  

JK: Dit was onwettig, maar niemand het hulle gepla nie. Hulle kon nie hulle eie bankrekening gehad het nie, want jy moes die registrasie papiere hê om dit te kon doen.

 

Vraag: Dit verklaar nou vir my ’n hele paar dinge. Toe ons hier gekom het in die 80'erjare het ons die Rusplaas Doppers geërf, want daar is toe besluit hulle hoort onder die Boesman kerk. Dit was vir Braam baie moeilik dat die families nou apart bedien moes word ...

JK: Afrikaners kan onder mekaar stry, dit is hoekom die Dorslandtrekkers hier verby getrek het. Hulle was teen Burgers en het weggetrek, hulle maats wat gebly het, het geweier om belasting te betaal. Die land was bankrot en dis hoekom die Engelse met sewe mense kon inkom. Toe die Engelse dit doen toe werk almal saam ...

 

Vraag: Dit is so ironies, die Dorslandtrekkers het ’n tragiese geskiedenis en is dit oor nonsens wat hulle so gebaklei het en honderde mense doodgegaan het. Oom Fanie Lewis en oom Kassie van Heerden sê ook in hulle onderhoud dat hulle so dom getrek het en dit die rede was hoekom soveel mense doodgegaan het. Hulle twee het gesê as hulle moes getrek het sou nie eens mens doodgegaan het nie, maar die Dorslandtrekkers het nie geweet wat om te doen nie ...

JK: Hulle het amper ’n jaar lank gebly waar die Marico- en die Krokodilrivier bymekaar kom. Een klein groep het sonder probleme verby gegaan en daarna toe trek daar te veel mense op een slag saam. Dit was eintlik dom en het hulle die Kalahari geonderskat. Die Ghanzi trekkers het gesê dat Ramsden ook so in ’n droë jaar hierheen getrek het.

 

Vraag: Ons het nie veel inligting oor Ramsden nie, wie was hy en hoe het hy hier ingekom?

JK: Hulle was twee broers, old Rammy en jong Rammy, en het hulle in die Oos-Kaap grootgeword. Old Rammy het kom handel en in winkels gewerk, hy het eintlik sy hele lewe lank meestal vir ander mense gewerk en toe kry hy plase hier in Ghanzi. Sy jonger broer was in die "Battle of Gallipoli". Hy het vertel dat hulle geweet het hulle kom en daar was baie geskietery. Daar was berge naby die kuslyn en hulle het maklik geland, maar eenmaal kon hulle nie die berg uit nie en is 300 000 troepe daar dood, want die Turke kon presies sien waar is hulle "artillery". Daarna is hy Palistina-toe, "The land of the Philistines". Langs die Jordaanrivier is hy in die been geskiet, maar hy het toe reggekom. Hy het verlief geraak op ’n Australiaanse verpleegster en is hy agter haar aan Australia-toe, maar is nooit getroud nie. Hy het op "cattle stations" gewerk tot met die depressie, toe begin hy swaar kry en toe sê sy broer hy moet Ghanzi-toe kom. Hulle het drie plase gehad en lekker gelewe en later het Chobo Westkamp, die baas van Ngamiland Trading Company, sy ou broer weggejaag uit die werk uit en het hy ook hier kom bly. Die Ramsdens is hier dood en mense in Engeland het die plase geërf en hulle verkoop, ek dink later het die Vickermans dit gekoop.

 

Vraag: Is daar nog iets besonders oor Ghanzi wat Oom John aan kan dink wat die nageslag moet weet?

JK: Midgley, hy was ’n "District Commissioner", maar hy was nie ’n regte Engelsman nie, sy denke was anderste en het hy nie lekker met hulle klaargekom nie. Hy was DC in die Tuli Block en daar was ’n tronk daar. Daar was moeilikheid met ’n bandiet wat "psychological problems" gehad het, en Midgley se raad was dat hulle hom na ’n "traditional doctor" toe moes vat. Dit was dit en hulle wou hom eintlik kruisig daaroor en stuur hom toe Ghanzi-toe.

WK: Weet, hy het verafrikaans, verwond, as hy nou begin glo aan tradisionele dokters en moes hy verban word na die buitewyke toe ...

JK: Hy het gereken dat dit ’n baie goeie ding sou wees om ’n pad deur te kap Kang-toe, toe vra hy dat hy geld kry daarvoor, toe weier hulle. Hy het toe maar aangegaan sonder dat hulle geweet het ...  hy was nie baie gewild onder sy base nie.

WK: Dit het maar lank gevat voordat iets wat hy hier gedoen het daaronder in Gaborone of Mafikeng uitgekom het.

 

Vraag: Op ’n dag toe kry Oom John nou vir Tannie Wilna onder oë, of hoe het dit gebeur dat julle mekaar leer ken het?

WK: Ek het ’n vriendin op universiteit ontmoet, Anette Meyer, wat getroud is met Tony Brink en hulle het gebly op die grens daar by Derdepoort in die Republiek. So af en toe dan gaan kuier ek vir hulle, dan ry ek Woensdagoggend met die trein tot in Rustenburg en dan ry ek met die padmotorbus daai middag tot in Derdepoort. As dit goed is, is dit net twee sulke spore in so ’n omgeploegde modderland as dit reëntyd is. Dan klim ek daar af by Morris, hulle voorman se huisie wat langs die pad was, en dan ry jy so op met die pad na Derdepoort Hospitaal. Daar sit ek dan en wag met my tassie, Anette se boks kruideniersware met ’n besemstok in my hand tot sy kom om haar kinders wat op Dwaalboom, Maricodraai, skoolgegaan het te kom haal. Dan kuier ons nou bymekaar en dan gewoonlik Saterdag gaan ons miskien fliek. Ek kan nie meer onthou hoe het ek teruggekom nie, seker maar weer vanaf Rustenburg met die trein. Hulle sê toe vir my hier is ’n ou wat partykeer kom bulle koop aan wie hulle my wil voorstel, sal ek kom as hy kom? Ek sê toe ja en eenkeer toe ek toevallig daar is toe kom John daar verby. Hy het nie kom bulle koop nie en was seker maar oppad Gaborone-toe en na sy ma in Johannesburg. Hy het gereeld gegaan vir spaar parte vir die voertuie of die boorgat en so aan. Dan as ek en Anette kombuis toe gaan om tee te maak dan gesels Tony en John aanmekaar, dan staan ons hier om die hoek en luister. Sodra ons inkom dan sê John net ja of net nee. Toe het hulle hom eenkeer omgepraat om saam met hulle na die Randse Paasskou-toe te gaan. Hy het my toe kom haal en ons het die aand na ’n nagklub toe gegaan, die eerste keer dat ek in ’n nagklub kom, en die geraas was so baie van die orkes dat jy jouself nie kon hoor dink nie. Dit het so paar keer gebeur dat hy kom kuier het daar by my.

 

Een aand, ons was toe al verloof gewees, en het ’n ander meisie saam met my in die enkel woonstel gebly, laai hy my af en ry terug na die Pretoria Hotel waar hy altyd gebly het as hy kom kuier het vir my. Dit was toe al laat in die aand en sluit hy homself uit sy kamer uit en die mense is nie meer op die vloer om te help oopsluit vir hom nie, en hier kom hy elfuur die aand daar aangeloop by ons. Ons het toe vir hom ’n bed op die vloer op die mat opgemaak en die volgende oggend het hy weer terug geloop. Toe is ons getroud in Januarie ...

 

Vraag: Het jy geweet waarheen is jy op pad, was jy toe al hier in Ghanzi gewees?

WK: Ja, hy het vir my en my ma kom haal met die Wagoneer en kom wys waar ek gaan bly. Toe was nog net hierdie stuk van die huis daar en het ek en sy in die kamer geslaap en hy op die stoep. Die huis was toe nog net die slaapkamer, die gaas-stoep, die sitkamer en die kombuis. Waarop het ons gekook John, op ’n hotplate?

JK: So ’n drieplaat gasstofie ...

WK: Hier was ook ’n yskas gewees en so aan. Ons was net hier gewees toe kom Bully (Voster) die volgende oggend hier aan en laat weet dat leeus donkies gevang het en dat hulle een van die dae sy beeste ook gaan vang en John moet seblief kom. Ek sê toe grootbek ek wil ook saamgaan om te gaan kyk wat maak hulle en dog hulle gaan nou sê, ag nee wat bly jy nou maar by die huis. Ja, sê Bully, dis goed dan kan Annie en die kinders ook saamkom. Ek wonder toe nog aarde waarvoor laat ek my nou in, twee klein kindertjies op ’n leeujag in ’n Bedford bakkie, dit gaan mos nie werk nie, gaan ek nie gou ’n hoofpyn ontwikkel nie. Ek is toe weg, my ma het alleen hier agtergebly. Hulle het toe drie leeus daardie dag geskiet. Dit was in daai tyd gewees, ek het toe al geweet ek gaan hier kom bly, toe daardie ouens met die vliegtuig hier geland het, in 1968 en party ...

 

Vraag: Ja, dit was ook net pas nadat ons hier aangekom het?

WK: Daai vlieënier was later weer hier gewees, ek het hom ontmoet daar in die hotel, maar almal het daarvan gepraat. Ons weet nie veel daar vanaf nie, Gillbert Peacock was een van die spoorsnyers wat daai ouens gevolg het wat dood is toe op die ou end. Tant Grieta Lemcke het ook gesê hulle het die spore gevolg en toe hulle sien die ou sit sy geweer neer langs ’n boom, toe weet hulle, hulle gaan hom nie lewendig kry nie, toe kry hulle sy jagmes en toe kry hulle vir hom.

 

Vraag: Ek onthou dit baie vaag, wat het gebeur, het hulle geval?

JK: Die vliegtuig was redelik swaar gelaai wat dan maak dat die agterkant bietjie hang. Dit maak dat die brandstofmeters vol wys tot op ’n sekere plek en dan gaan hulle baie vinnig af terwyl daar nog redelik brandstof in die tank is. Hulle het kom jag saam met ’n sekere Thom Brushfield-Hodges, hy het vir die regering gewerk en kom kyk hoe word die nuwe plase uitgegee. Hulle het in Mafikeng geland en Ghanzi-toe gevlieg sonder om ’n vlugplan in te dien, wat onwettig is. Thom Hodges het hulle verwag en hulle kom nie hier uit nie. Hulle maak toe navraag net om te hoor daar is geen vliegtuig daar weg nie.’n Lorrie van hulle kom toe hier aan en sê dat hulle al ’n paar dae gelede weg is. Toe is daar alarm gemaak en mense het begin soek. Dusty Rhodes was hier met sy vliegtuig en bietjie gekyk en so. Mense het van Vryburg afgekom en gesê hulle wil ook help, toe het die Magistraat hulle permissie geweier en gesê: "You are prohibited here, there are enough planes lost in the Kalahari." Daar was geen BDF (Botswana Defense Force), ek dink daar was Dakotas van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Rhodes het iewers gedraai om terug te kom Ghanzi-toe en hy dink hy het iets gesien, maar hy is nie seker nie. Toe kry hulle die Dakota om te kyk en kry hulle die vliegtuig in ’n pan sonder enige mense. Hulle moes eintlik ’n vlugplan ingevul het en gebly het by die vliegtuig.

 

Vraag: So hulle het toe begin loop ... ?

JK: Ja, daar was ’n ou Jood, Levy, hy het beleggings gemaak hier, hy en die loods het gebly by die vliegtuig en twee jong manne het besluit hulle gaan stap Ghanzi-toe. Ek weet nie of hulle die kompas van die vliegtuig uitgehaal het nie, maar die mense wat op hulle spoor geloop het sê hulle het reguit pad-toe geloop totdat dit begin donker word het, daarna het hulle diekant geloop en dan daaikant en was later uitgeloop. Die ou Jood en die loods het baie lemoene en sulke goed by hulle gehad en kon aan die lewe bly en het toe ook beginne loop, maar toe kon die spoorsnyers hulle nog lewendig optel. Die vliegtuig het nog genoeg brandstof ingehad, hy het daar in die pan opgestyg en Ghanzi-toe gevlieg.

 

Vraag: Jou pa was Professor by die teologiese skool van die Hervormde Kerk?

JK: Hy was eers ’n Predikant in Zeerust, Pietersburg en later Boksburg ...

WK: Ja, toe het hy al begin klas gee ...

JK: ... en toe het hy met die trein dikwels Pretoria toe gery om lesings te gee en later is hy permanent in Pretoria gevestig.

 

Vraag: Toe Oom John vir Tannie Wilna leer ken het, was hy al in Pretoria?

JK: Hy was al afgetree, maar toe begin hy later weer tydelik werk.

 

Vraag: Wat was sy naam nou weer?

WK: Hendrik Petrus Wolmarans.

 

Vraag: En Jan Pohl hulle was ook familie?

WK: Johanna, my oudste suster, is getroud met Jan Pohl van die Pohl-fam, Truida en Anna en so-aan.

 

Vraag: Truida was Jan Pohl se suster?

WK: Ja, sy's getroud met N.P. van Wyk Louw. Anna Pohl is getroud met ’n Neethling en is hulle later geskei, so dit is Anna Neethling-Pohl, dis waar dit vandaan kom.

 

Vraag: Ons het nog ’n plaat gehad met haar gedigte wat ons graag na geluister het?

WK: Dis fantasties, daar is nie mense wat vandag so kan skryf nie ... " ’n Warm wind waai uit die Noorde, die sterre hang aan silwer koorde, ’n vrou se smart loop oor sy boorde". Ek het eenkeer daar by Johanna gekuier en toe is daar ’n gedenk vir Uys Krige en het hulle so ’n aand met ’n ete gehad ter ere van hom, toe het iemand ook daar voorgedra. Ek sê toe vir Johanna; "Jitte, hoekom het jy nie vir hulle gesê ons sal voordra nie of net gedigte lees nie".

 

Vraag: Ja, dis nie meer ’n kuns wat beoefen word nie. Sê vir my hoe was die aanpassing in Ghanzi, was jy ooit spyt of gedink dis te erg?

WK: Wel ek was besig gewees, want ek moes die vloerteëls insit. Ek het hier op my agterent rond geskuiwe op die vloer. Ek moes huishou en moes leer om ’n skaap te slag of ’n bok te slag... uitmekaar te hamer. Ek het ’n vrou gehad wat baie skrifgeleerd was, Sarah Thamai, sy kon Afrikaans praat en het vir klomp mense gewerk ...

JK: ... en al die skinderstories ...

WK: ... ja, al die skinderstories, ek kon van daai ene hoor en van die ene hoor ... en dan moes sy maar kom verder uitmekaar sny, hierdie gewrig was die moeilikste van alles. Toe eenkeer terwyl ek swanger was met John-John, toe hou hulle ’n vendusie weer hier en ek praat toe Tannie Kuhn om, dat ek en sy die kos daar voorsien, want ek het nie die kennis gehad om op grootmaat oor ’n driepootpot kos te kook nie ...

JK: ... vir die winste vir die kerk.

WK: Ja, die winste was vir die kerk. Dit was vir hulle almal baie snaaks. Toe staan ons daar en hier kom Tannie Lena(Lemcke) daar aan en sê toe vir ons, ons moet nie dink ons gaan al hierdie messe en vurke weer terug kry nie. Ek het hier aangekom met ’n stel van twaalf Hollandse vlekvrye staal wat ons daar gebruik het, want daar was nie ander plastiese messe en vurkies nie, waar sou ons dit gekry het. Ek sê toe vir haar: "Kyk Tant Lena, as jy wil hier wil kom staan en vir ons slegte moed inpraat dan moet jy nou seblief liewers loop, as jy vir ons wil goeie moed inpraat en vir ons help dan kan jy bly". Nou waar kry jy dat een of ander poepsnuit so iets vir Tant Lena sê. Wel, sy het my dit vergewe en nie van toe af my nie meer geken nie.

WK: Gewoonlik voor Kersfees dan gaan ons af en sê vir almal gelukkige Kersfees, want John sê hy is gewoonlik die enigste mens hier wat nie dronk is oor Kersfees nie, wat die beeste moet water kry. Toe kom ons terug en toe ons hier aankom toe hoor ons die Oos-wyk, dit was maar eintlik net ek en Annie, moet Saterdag met die Nuwe Jaar resies kerrie & rys vir almal kook. Ek sê toe vir Annie wat, wie eet op ’n Saterdagmiddag kerrie & rys in die somer? Ja sê sy, sy weet ook nie, maar ons weet toe nie van iets beters wat ons kan maak nie en maak ons toe maar kerrie & rys. Ons het toe daar gestaan en uit die bosse uit het daar iemand gekom, Martjie Gouwer, en gesê as jy so op grootmaat Tastic rys kook dan gooi jy minder water as 2½ koppies vir ’n koppie rys by. Die rys het op die ou end gebrand, maar dit was darem nie te erg nie. Ek het hier vir Phillemon gesê hy moet vir my ’n lang lepel maak, hy hoef nie te skep nie, maar hy moes bietjie rond wees onder sodat ek die goed kan roer in die pot, want ek het toe al geweet hoe warm so ’n vuur kan wees. Ons het die vleis daar gaargemaak, nie gaar aangebring en daar net warm gemaak nie, en droëvrugte en klapper daarmee saam bedien. Die mense het lekker geëet.

 

Vraag: Dit was dae wat ek bevoorreg was om deel te kon gewees het van.

 

Vraag: Hoeveel jaar was Oom John op die Council gewees?

JK: Lank, agtienjaar.

WK: As ons terugkom van die Council vergaderings af was dit ’n slag van hekke daarna, partykeer is daar mense saam wat kan help oopmaak en partykeer moet ek hekke oopmaak. Dan drink ons by Ben koffie & tee en dan gaan ons aan. Dan vertel Ben: "Gister was hier ’n reënbui gewees hierso so by NTC en ek het agterna gaan kyk en ek het gegrou en dit was so 6-duim nat", en dan praat hy aan, dan kom ons die aand terug dan is dit al donker. Die vergaderings het altyd lank aangehou, partykeer was dit twee dae. Partykeer het ons by Corrie Bekker, in daardie huis waar Wally nou bly, geslaap. Dan kom ons daar dan het hulle nou net bees geslag, dan kook Johanna daardie lewer in ’n stoompot, niks van braai in 'n pan, dan eet ons saam met hulle.

 

Vraag: En enige ander komitees waarop Oom gedien het soos die Boerevereniging?

JK: Nie eintlik nie, Dick was lank voorsitter van die "Ghanzi Farmers Association", hulle het vendusies gehou en kommissie gekry en so redelik geld bymekaargemaak. Toe is daar gesê hulle moet nuwe krale bou. Dick was ’n goeie voorsitter maar hy was nie ’n goeie organiseerder nie. Toe is Dick uitgestem en ek is ingestem as voorsitter. Ek is ’n beter werker maar ’n swakker voorsitter. Ek het toe goeie krale laat bou en het hulle jare lank daar vendusies gehou. Die hele jaar het ek nie een vergadering geroep nie en is ek toe weer uitgestem.

 

Vraag: Het oom ’n rol gespeel in die parlement of die BMC?

JK: Nee, glad nie.

 

Vraag: Jy het te hard gewerk, want Oom John staan bekend as een van die hardste werkers in die Ghanzi distrik, iemand wat self gewerk het en nogsteeds hard werk. My pa het ook altyd gesê dis waar hy en Oom John mekaar vind en dit is dat julle werk liewers self as wat julle iemand anders die werk gee?

JK: Ja.

Onderhoud van Willemien le Roux met John & Wilna Kempf, Junie 2016

(Opname JK3-JK5)

JOHN & WILNA KEMPF - Deel 3 van 3

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page