top of page

Martiens Andreas Drotsky

Geskryf deur Ben Olivier

22 Desember 1951

 

Martiens Andreas Drotsky is op Bethulie, die tweede Oktober 1887, gebore. Sy vader was Willem Drotsky, wat met ‘n nooi Haasbroek getroud was. In 1892 het die trek plaasgevind. Sowat vyftig gesinne, waaronder Willem Drotsky was, het weg getrek na Ghanzi, net teen Suid-wes van die Ngamimeer, waar Cecil John Rhodes konsessies verkry het van die naturella hoof Lotseletensa, wat die noordelike Kalahari vanaf die Molopo riverie tot Nosob rivier in die suide ingestuur het.

 

Rhodes het nuwe plase hier aangebied aan boere van Noord Kaapland en die Westelike Vrystaat. Die weiveld was goed en water volop. Hulle kon elkeen ‘n plaas kry vir ’n huurtyd van nege-en-negentig jaar teen £5 per jaar. Die boere gesinne wat die aanbod aangeneem het, het by Mareetsane besuide Mafikeng bemekaar gekom. Maar toe kom die Runderpes en hulle beeste het by die hope gevrek. Cecil John Rhodes het hulle elkeen twee hondred Pula en tien sakke mielies gegee, maar meeste van die boere was teen die tyd sat en het teruggekeer.

 

Net Willem Drotsky en ’n paar ander wou deur druk na Ghanzi. Willem het vir hom twee spanne osse gekoop, die dae toe trek osse nog vier-en-dertig Pula stuk gekos het. Hy het sy vrou en vier kinders, waaronder klein Martiens was, en ’n seun van der Linde wat vir hom gewerk het. Daadie Dorslandtrek verdien ‘n ereplek in ons trekkers se geskiedenis. Die Kalahari was nog onbekend en oom Martiens het nog nie by die Boesmans geleer water soek nie. Na ’n jaar se trek waar die dood en dors getrotseer is het die trekkers in Ghanzi aangekom.

 

Oom Martiens se een verhaal:

 

“Ons het die middag laat by Tsepe aangekom, daar moet water wees, maar daar was nie, die put en die pan was opgedroog. Dit was eintlik nie ’n put nie, maar ‘n groot gat wat die swart mense gegrawe het om water te laat uitsyfer. Ons het nog net een vaatjie water gehad, een van die klein vaatjies wat onder die trekker waens gehang het. My broer Gert (dertien jaar oud) is die volgende môre te voet weg om water te gaan soek. Later die middag raak my oorlede vader onrustig en is ook te voet agterna. My oorlede moeder en suster (later met Christiaan Lewis getroud) en Chrissie my jongste suster het alleen agtergebly, en natuurlik van der Linde.

 

Ons was baie dors en die volgende dag was nog erger, ons kinders het gesterf van die dors. My ma-hulle het ons lepelsgewys gevoer met die bietjie water wat nog oor was. Ek weet nie presies wat daardie dag nog gebeur het nie, ons het seker begin koorsig raak. Ek onthou dat ek ma op ‘n sandbultjie naby die wa sien sit het. Daar het sy laat die middag vir pa en broer Gert in die verte sien aankom met water en sommer begin huil. Sy het daar stil gesit terwyl die trane oor haar wange rol, ons was gered. Hulle het ‘n gat op Tethlakane gekry, die trekosse is eers los daarheen gejaag om te drink en is toe teruggebring om die waens te kom haal.”

 

By Mathgolo aan die meer aangekom, vertel oom Martiens het oorlede vader vir ma en ons by die naturella opperhoof Maiketso laat staan, saam met ‘n gedeelte van die vrag. Daarvandaan na Ghanzi was weer ‘n waterlose trek en pa wou die vrag lig hê om die reis sodra moontlik af te lê. Maiketso het ons baie goed opgepas en versorg en saans self wagte om die kamp opgestel. Later jare het Maiketso verarm en ek het hom ‘n ploeg en ses osse en jukke present gegee.

 

Na etlike weke het Willem Drotsky weer teruggekeer en sy vrou en kinders by Maiketso kom haal en na Ghanzi geneem. Oom Martiens se suster bly vandag nog in Ghanzi. Later is Willem Drotsky terug na Mareetsane, waar hy nog trekker gesinne gaan haal het, waaronder twee van sy skoonseuns Andries Pretorius (tant Nellie se man) en oom Jan Marnewick (tant Annie se man) was. Op ‘n tweede tog het hy Ben Burger (tant Maria se man) gaan haal. By hierdie trek was twee van Staden families, die van Heerdens, Taljaard en Christiaan Lewis (oom Chrisjan Lewis) van wie U nog meer sal hoor. ‘n Man wat nie vir die duiwel gestuit het nie, maar wie se hart so groot soss sy durf was.

 

In 1898 breek ‘n ramp in Ghanzi uit, bynaa die laaste trekker word plat getrek deur malaria. Koot van Staden, Taljaard en ook Willem Drotsky is onder die talle wat daaraan beswyk het. Vandag is daar van die boere wat duisende beeste besit. Een boer Burton se veestapel word op 12,000 tot 15,000 geskat en hy is meer as ‘n kwart miljoen werd.

 

U het seker al op die landkaart gesoek na Ghazi en dit lyk na ‘n waterlose woestyn – geen berge of riviere nie en hier en daar is ‘n pleknaam.Nie so het die trekboere van daardie dae hierdie wereld gevind nie. Die plantegroei was ruig, die weivelde mooi en water volop. Hulle het sommer dadelik hulle boerderye aan die gang gekry.

 

Die Ghanzi-trekkers het hulle huise met klip mure en grasdakke gemaak. met ‘n brak dak kombuis (dit is met takke en dan met brakgrond bo-oor gepleister), bome vir balke was volop. Casper du Plessis was ‘n smid en hy het vir hom ‘n blaasbalk gemaak en met enige stuk metaal vir die boere skaniere gemaak vir hulle deure. Dit was duimpies genoem, omrede dit net een pennetjie gehad het wat soos die duim van ‘n los hand bestaan het.

 

Behalwe meel wat hulle saamgebring het, mielies wat hulle van die naturelle geruil het, pampoen wat hulle geplant het vir kos, het die trekkers later ook by die boesmans geleer veldkos eet.

Het jy kommentaar oor die artikel?

bottom of page