POLITIEK, REGERING, INSIDENTE, SMOKKEL
ALLE REGTE VOORBEHOU
Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.
(a) SKERMUTSELINGS EN ONDERHANDELINGS.
Die eerste intrekkers het geopereer in ‘n tyd van oorloë en stryd tussen groepe. Dink maar aan die Angola- Boereoorlog, die Hottentot- en Damara probleme in Duits-Wes Afrika, die Rebellie en 1ste Wêreld Oorlog. Suidwes-Afrika was al voor 1900 deur die Duitsers beset gewees. Sommige mense meen dit was die rede waarom Rhodes die Boere in Ghanziland wou vestig as ‘n buffer. Maar die Protektoraat het rustig gebly en slegs enkele insidente het in die volksgeheue bly leef uit daardie tyd.
Hugo Lemcke het bevestig wat ons self ondervind het in 1967. Daar was geen aktiewe (1) politiek in die land nie. Ten spyte van die 2de Wereldoorlog het net enkele mense aangsluit, soos Gert Kotze en sy versteurde broer Fanie, ene Thomassen, en James Swartz,Wynand - Grieta se pa. Gert was met ‘n Thomassen getroud. Daar was ‘n herrie by die SWA grens toe Fanie skielik nie wou teken nie. Die Magistraat en Polisie het gese Hugo het as Duitser hom omgepraat!
In die oorlogstyd was Hugo en Albert die enigste vervoermense met lorries, en het boonop (2) die Regeringstransport ook gedoen. Maar Gobabis het moeilikheid afgegee deur dat mense links en regs geinterneer is. Hy, Albert en ene Odendaal was in die kroeg toe iemand skoor gesoek en gekry het. Die man het eers vir Albert, toe vir Odendaal en toe vir Hugo voor die bors geslaan en geskree, “Jou Ossewabrandwag!” Hugo het teruggeslaan en moes in die tronk slaap. Die Magistraat was verstandig, maar van toe af moes Hugo by sy aankoms en by sy vertrek gaan rapporteer het.
Hugo het ook in Ghanzi stelle afgetrap. Hy en Albert was baster-Duitsers en moes hul storie ken. Hulle het eenmaal Livingstone toe gery. Iemand het daar uit die tronk gebreek en die Sersant het hulle gemaan om nie te stop as iemand hulle wou voorkeer op pad Maun toe nie. Net buite Francistown het ‘n band gebars en hulle het groot geskrik. Van Maun af het ‘n Hollander saamgery en vertel hulle toe die storie. Toe Hugo ‘n week later op Maun kom het ‘n Engelse Offisier hom aangehou. Hugo het herhaal wat die Sersant hom gesê het, en die Offisier het dit afgemaak as kwaadstrokery deur die Hollandse vrou omdat hy ‘n Duitser was.
Albert Lemcke het vertel van die Hottentot-oorlog met die Duitsers in Duits-Suidwes, en daarna die Damara-oorlog. Dit was net van belang in Ghanzi omdat sommige vlugtelinge in die Protektoraat beland het. Die Duitsers wou met ‘n Hottentot kaptein praat, maar hy het geweier om te gaan. ‘n Paar soldate moes hom gaan haal, en toe begin die Hottentotte skiet en ‘n oorlog het uitgebreek. Daarna het dieselfde gebeur tussen Duitsers en Damaras by Okahandja of (3) Windhoek. Maar niemand in die Protektoraat is deur die vlugtelinge na Maun se kant aangeval nie. Een leier was Simon Cooper en hy en sy hele groep was in die suide van die Protektoraat gewees. Bush McIntyre het sy skietkommando begelei en die jong Theunis Kotze van Lehututu moes vir hulle wys waar bly die Ghanzi boere. Die Kommando het by Okwa omgedraai. Die Cooperspul het strooptogte gemaak en einigiets vir wapens geruil vanaf Tsabong se wêreld. As hulle in SWA gejaag word, het hulle in Betsjoeanaland gaan skuil.
Albert het vertel dat meeste Ghanziboere, soos ook Chrisjan Lewis, in die vroeë jare ook in SWA transport gery het met hul osse- en donkiewaens. Sodoende het hulle in die 1ste Wêreldoorlog (4) kontak gehad met Duitse troepe, vir wie hulle rantsoene moes help aanry en vir die winkeliers soos Sam Silber en ander in Gobabis. Dit was ook die tyd van die Hottentot- en Damara oorloë toe Duitse troepe orals gestasioneer was. Daar was bv. ‘n ou “feste” by Rietfontein gewees.
(5) Fanie Lewis en Cassie van Heerden vertel ‘n interessante storie, blykbaar was Cassie se oom, Hans van Heerden, deel van ‘n groep uit Suid-Afrika wat Angola toe wou trek. (Sou dit nog van die eerste Dorslandtrekkers gewees het?) Maar Hans van Heerden het nie verder gekom as Windhoek nie, en daar is hy deur Damara’s vermoor. Volgens Fanie Lewis het Rhodes die Windhoekse van Heerdens toe ook genader oor die plase wat hy as ‘n buffer teen Duitse uitbreiding wou uitgee. (Ander informante noem van Heerdens vanaf Buhrmansdrif onder die eerste intrekkers.)
Fanie Lewis is ongeveer 1910 gebore, en was klein toe die 1914-’18 oorlog dinge deurmekaar gekrap het. Hy kon darem vertel van die Duitsers wat ‘n vroeëre Polisiekamp by Kwaganagie aangeval het. Dit was ongeveer 17myl vanaf die latere (6) Kamp (deesdae Gantsi), naby waar Ramsden vroeër gebly het. In die ’80’er jare was murasies nog te sien by Kwaganagie. Die kantore en geboue is aan die brand gesteek. Fanie Lewis vertel hier ook ‘n teenstrydigheid. Hy sê dit was toe dat die Damara’s na (6) Ngamiland gevlug het, maar ander mense se die vlug was tydens die oorlog tussen Duitsers en Damaras, vroeër gedurende die Duitse besetting.
Albert Lemcke het ook geweet van die Duitse aanval op die Polisiestasie by Kwaganagie (7). Mense spot en sê dit was die enigste plek in die 1914 oorlog wat deur Duitsers ingeneem is! Omtrent 20 mans het van Suidwes-Afrika gekom en skote geskiet. Hulle wou Webb, die Betsjoeanalandse polisieman vang en ontvoer, maar Webb was nie daar nie en die volgende môre is (8) hulle terug na Suidwes-Afrika. Daar word beweer dat twee swartes (Konstabels?) daar doodgeskiet is. (Silberbouer beweer ‘n Ghanzi kommando het gewen teen die Duiters.)
Hugo Lemcke vertel ‘n storie waarby sy Duitse pa betrokke was. Hul plaas was kort anderkant die grens gewees, maar dis van belang dat dit seker ‘n tipiese handelswyse was (9) destyds toe grense maar vaag was. Wilde Makaukau Boesmans het in die area by die Bullicks begin beeste slag. ‘n Polisieman Suutjies en ‘n Konstabel is gestuur om die slagters te gaan vang, maar toe skiet ‘n Boesman die polisieman se perd dood met pyl-en-boog. Hulle moes teruggaan. Magistraat van Rhyneveld en Hugo se pa met ‘n muilekar vir water en ‘n ou tolk is toe agter hulle aan. Die magistraat wou mooipraat, maar toe skiet hulle hom dood met pyl-en-boog, waaraan die ander niks kon doen nie. Maar hulle het seker ‘n paar Boesmans doodgeskiet en teruggeneem. Volgens destyds se beleid het hulle net met die Boesmans mooigepraat en onderhandel.
(b) MAGISTRATE EN POLISIE VAN VROEË JARE (VOOR 1950).
Inligting oor magistrate en Britse Koloniale Polisie uit die vroeë jare is verwarend en sal moet beter nagevors word. Daar is baie teenstrydighede.
Basies lyk dit of die eerste magistraat op Mafikeng geplaas was, bv. toe Burton ingetrek het. Later jare was daar ‘n magistraat op Maun, na 1915 en nog later op Ghanzi. Soms word die magistrate D.C.’s (District Commissioners) genoem en andersom waarskynlik was laasgenoemde administrateurs, maar hulle kon byvoorbeeld huwelike waarneem. Magistrate was rondgaande vir hofsake, miskien op ‘n hoë vlak.
Inligting oor die Protektoraat se polisiestasies is onvolledig. Dink maar aan die een op Kuke waar trekkers hul beeste kon water gegee het, en waar ‘n meisie na ‘n droom vir Austin Evans ontmoet het. Vermoedelik was daar by Toteng/Tsau ook ‘n stasie aangesien dit ‘n handelspos was. Na Maun se stigting is die Administrasie soontoe verskuif en sommige Ghanzilanders het daar gaan trou. By Kwaganaga (Ramsden omgewing) was die stasie wat deur Duitsers aangeval is. Later is dit na Ghanzi (Gemsbokpan) verskuif, en was bekend as die Kamp. (Gantsi het meer spesifiek na die Van Zyl/Burton/Kays plaas verwys oppad na D’KAR). ‘n Polisiestasie was gewoonlik beman deur ‘n konstabel met 1-2 plaaslike handlangers. Water voorraad het seker ‘n rol gespeel in die vestiging van stasies, want perde is gebruik vir patrollies.
Albert Lemcke het kort na die 1ste Wêreldoorlog in Betsjoeanaland ‘n heenkome probeer vind met smidswerk. Hy sê Hardbattle, ‘n Britse polisieman vanaf Rhodesië, was toe al (10) daar as boer. Albert is getroud met Lena Lewis, dogter van Chrisjan, voor magistraat Ladyboer. Die polisiemanne was Campbell en later Gamble. Ene Dixon was teenwoordig by die troue, ‘n swaer van Berty Adams.
Op die Kamp was ‘n apteker, ene Boyle, maar Albert het ‘n mooi storie oor sy voorganger. Dit was nog kort na die oorlog en emosies was gevoelig. Almal was by Sunnyside bymekaar en Albert is gevra om ‘n Duitse lied te sing. (11) Hy en ene Johan (Jan) Hugo sing dit toe en Albert volg op met “Heil Und Liedendkranz” op die wysie van God Save the King. Die apteker was baie kwaad en het Albert op die Kamp aangevat. “My broer het in die oorlog geval en is deur die Duitsers vermoor en ek wil baklei oor die lied.” Albert se antwoord was, “Man jy’s te bleddie oud om my te baklei en jy moet dit dan maar so opvat!”
Dit was lank voor sy tyd, maar hy het kleintyd gehoor dat ‘n Spangane en Qhiegau Nxa die eerste (12) Boesman konstabels by die Ghanzikamp was. Hy dink dit was omtrent 1930-40. Namate swartmense ingetrek het, is hulle vervang en moes plaaswerkers word. Qhiegau het nog as ouman vir Braam de Graaff gewerk as bokwagter. Deesdae is daar ‘n Spangaan Kgosi by Grootlaagte se nedersetting, Xabo en Jan Wessels reken hy is dalk ‘n afstammeling.
Miskien is die volgende staaltjies apokrief, maar Qhiegau het dit vertel en Xhuta wat in 2009 steeds by Willie gewerk het, bevestig dit. Toe Qhiegau se vrou sterf het hy en ‘n ander man, X’aba besluit om by die wilde Dcuukwe boesmans te gaan vrouens vat. Hulle het die mans met knopkieries dood geslaan en die vrouens Ghanzi toe gevat. Toe die (13) vrouens wegloop het hulle hul gaan haal, aan donkies gespan en aan ‘n boom vasgemaak tot hulle ingebreek was. Qhiegau het geen kinders by die vrou gehad nie, maar X’aba het baie verwek. Qhiegau het baie interessante stories vertel en saans vir die wit kinders iets uit sy sak gehaal soos ‘n skilpadjie, ‘n voeltjie of veldkos. (Willie kan onthou dat Silberbouer die Batswana se huise afgebrand het en gesê het hulle moes teruggaan na Tsootsha waarvandaan hulle gekom het.)
Jock Gower (nie familie van Edmund Gower nie) was ook n polisieman by Gantsi, (14) miskien na 1950. Austen Evans het na sy uittrede ‘n huisie gebou en geboer waar Hugo Lemcke later gewoon het. Jock Gower was ook n deeltydse Britse polisieman, en hy het Evans op die plaas vervang. Jan Kotze se seun Henry het vir Hendrik vertel dat die Gower man vir die klompie kleurlingkinders skoolgehou het, deeltyds, want die wit skole wou hulle nie aanvaar nie - seker 1950. Henry besit nog ‘n woordeboek wat Gower vir een van sy broers geskenk het.
Iewers word Hardbattle se storie seker vertel. Hy het spekulant en beesboer geword en was ryk toe hy in die 50’erjare aan velkanker oorlede is. Hy het 3 kinders by ‘n Boesmanvrou verwek, maar het nie by haar gebly nie en die kinders is Engeland toe gestuur vir onderwys. Daar word beweer dat die ma, wat nie Engels of Afrikaans magtig was nie, ‘n buite-egtelike kind was. Haar ma is onbekend, dalk ook as gevolg van smous op pad na Mafikeng.
(c) SMOKKEL.
Dis onduidelik in watter jare gesmokkel is, miskien eers nadat beeste met lorries vervoer kon word. Daar was ook al ‘n goederetreindiens van Mafeking na Johannesburg. Hugo Lemcke en sy vrou Grieta, het laterjare tong-in-die-kies gesê dat die boere nie na mekaar kon vingerwys nie, want almal wat iets “gehad” of vorentoe geboer het, het meermale gesmokkel met vee oor die sogenaamde “rooilyn” tussen Betsjoeanaland en die Unie.
Hugo vertel dat Magiel Vermeulen, die een wat deur ‘n leeu gebyt is, en ‘n sekere Gouws hom met smokkel gehelp het. Ander boere, soos Chrisjan Lewis, het ook gesmokkel, “Dit (15) was die manier om ‘n bietjie geld te maak.” Dan het hulle die beeste twee of drie dae ver binne die Suid-Afrika grens gejaag voor hulle verkoop is.
Hugo en sy broer het ongeveer 1938 hul eerste twee lorries gekoop en daarmee vanaf Gobabis transport gery. Maar na Maun het hulle as betaling beeste aanvaar, en met die (16) spekulasie beeste het hulle suidwaarts oor die grense gesmokkel. Die kwarantynlyn was by Ramatlabama, en daar was ‘n polisiestasie met min polisie. Bedags het die smokkelaars uitgevind waar die Polisie sou patrolleer, en dan glip hulle by ‘n ander plek oor. Die anderkantse boere was aan die kant van die Ghanziboere en die beeste kon dan op hulle plase wei.
Hugo vertel van ‘n reënnag by Pinyane toe hulle beeste gevang was. Hulle self het weggehardloop. Die Afrikaanse Polisie het die beeste in ‘n takkraal toegemaak en die vangs in ‘n tent gaan sit en vier. Toe gaan steel die smokkelaars die beeste terug! Hugo (17) verduidelik dat die Polisie hul ingewag het anderkant die grens en so die beeste kon vang terwyl hulleself aan Betsjoeanaland se kant weggehol het. Almal het te voet gewerk, sonder perde. Die reën en plesierigheid het verhoed dat die Polisie die terugtog oor die grens kon hoor! Hugo se sy hoed lê nou nog daar iewers!
Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:
Politiek, Regering, insidente en smokkel
(a) Skermutselings en onderhandeling
(Bladsye 186-190)
(b) Magistrate en Polisie in vroeë jare (voor 1950)
(Bladsye 191-197)
(c) Smokkel
(Bladsye 198-199)
(1) (Q II 4) Hugo en Grieta Lemcke
(2) (R I 6-7) Hugo Lemcke
(3) (U I 1) Albert Lemcke
(4) (U II 7) Albert Lemcke
(5) (H I 3) Fanie Lewis en Cassie van Heerden
(6) (H I 3) Fanie Lewis en Cassie van Heerden
(7) (T II 10-11) Albert Lemcke
(8) (Bls. 116) Silberbouer verslag
(9) (U II 6-7) Albert Lemcke
(10) (R I 8) Hugo Lemcke
(11) (U II 8) Albert Lemcke
(12) Willie de Graaff
(13) Willie de Graaff
(14) Hendrik Jerling
(15) (Q II) Hugo Lemcke
(16) (R I 2) Hugo Lemcke
(17) (R I 3) Hugo Lemcke
Ander Ghanzi
webblaaie
Het jy enige kommentaar oor die stuk?