top of page

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van

die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

 

DICK EATON, JUNIE 2016.

Vraag: Waar is Oom gebore?

DE: Victoria-Wes in die Kaap, in die Nieuveld, ons het in Beaufort-Wes gebly in die berge op ‘n plaas.

 

Vraag: En Oom se ouers?

DE: My pa se familie is al oor die 200 jaar in Afrika, ons het baie vroeg ingekom.

 

Vraag: Hoekom het hulle ingekom, wat was die rede?

DE: Ek weet nie, maar ek weet Sir Benjamin Durban, na wie Durban vernoem is, was met ‘n Eaton getroud. Die plaas Durbanville het my ouma nog besit toe ek op universiteit was. Sy het toe al baie afverkoop as plotte ensovoorts. Ek is half Afrikaans ook, want my pa se ma was ‘n Van Blerk. My ma-hulle het van Holland afgekom oorspronklik.

 

Vraag: Oom se Engels en Afrikaans is ewe goed, het oom hier op Ghanzi geleer Afrikaans praat?

DE: Ek het Afrikaans op skool gehad en Engels as eerste taal. Ek glo sonder Afrikaans sou ek nie hier in Ghanzi kon regkom nie, die opmeting is meer “Public Relations” en moes ek heeltyd onderhandel met die boere.

 

Vraag: Wat was Oom Dick se opleiding?

DE: Ek is ‘n Landmeter. Toe ons uit die Lugmag is het die regering vir ons lenings gegee teen 4% om mee Universiteit toe te gaan. Toe vat ek daai lening en gaan studeer aan die Kaapse Universiteit. Ek wou nog altyd boer en het gedink as ek Landmeter word sal ek genoeg geld maak om eendag te kan boer.

 

Vraag: Oom het Ghanzi-toe gekom nie met die idee om te bly nie?

DE: Nee, ek het net gekom om die plase optemeet. Niemand wou hiernatoe kom omdat dit so ver was, daar was nie ordentlike paaie en niks kommunikasies nie, net die polisie se radio.

 

Vraag: Wie het die opdrag gegee dat oom hierheen moes kom?

DE: DC Midgley het vir Thys McCarthy gestuur om ‘n Landmeter en ook ‘n Suster vir Ghanzi te gaan soek. Hy het vir Suster Vize aangestel wat in 1954 gekom het om die hospitaal/kliniek te begin vir die administrasie aangesien daar geen mediese fasiliteite op Ghanzi was nie. Haar aanstelling was ‘n baie goeie besluit gewees. Sy was gekwalifiseerd, hardwerkend en toegewyd en altyd beskikbaar, enige uur van die nag of dag was vir haar goed om jou te help. Haar man Reg het ‘n winkel van sy eie begin.

Thys het toe by ons firma in Kimberley aangekom met ‘n aanbod om die opmetings van die Ghanzi asook Xanagas plase te kom doen. Die projek het na ‘n uitdaging geklink toe aanvaar ek dit. Die opmetingswerk moes nie lokaal maar op ‘n Suid Afrikaanse sisteem wees, daarom het Theo De Smith, die Landmeter Generaal van Kaapstad, die werk gekry om ons van data te voorsien en moes hy die finale opmetings ook goedkeur.

 

Hy het baie gesoek en die enigste data wat hy kon kry was die oorspronklike planne op ‘n sisteem in Botswana. Dit het duidelik geword dat hierdie projek beide ‘n “Cadastral” sowel as ‘n “Geodetic” opmeting gaan wees. Breedtegraad, lengtegraad and “Azimuth” kon presies bereken word deur die sterre te gebruik. Om die lengtegraad te bereken was dit noodsaaklik vir my om die presiese tyd te gebruik en het die Landmeter Generaal my sy chronometer geleen.

 

Toe ek hier gekom het was daar niks drade en eintlik nie paaie nie, net die een pad Gobabis-toe en die ander een Maun-toe. As gevolg van die kondisies het hulle bepaal dat dit ongeveer vyf jaar gaan neem om die opmetingswerk van die plase te voltooi, wat nogal akkuraat was. Die ander paaie was maar sommer net so tussen die bome deur. Daar was eintlik ook nie ‘n pad deur die Kalahari nie, net ‘n “track” van Ghanzi – Okwa – Takatswane – Matlapuduhu – Munyane Pan – Tsane Pan – of (Lehututu) – Kokong – Kakea – Khomo di kae tot in Matete waarvanaf jy dan kon Lobatse of Mafikeng toe. Bray kon ook bereik word met ‘n ”track” vanaf Kokong en Kakea.

 

Vraag: Hoe het Oom hier gekom, met Oom se eie kar?

DE: Toe ons die projek aanvaar het moes ons nuwe karre gaan koop. Ek het daardie tyd die enigste vierwieldryf bakkie wat op die mark was, ‘n Jeep, gekoop en met hom deur Namibië opgery vanaf Kimberley oor Kuruman - Twee Rivieren - Gobabis na Ghanzi. Daar was ook ‘n 3-ton lorrie wat al my toerusting opgehad het.

 

Vraag: Hoe oud was oom Dick toe gewees?

DE: Ek was al klaar met weermag gewees, seker so 30, middel 30.

 

Vraag: Wat was Oom se eerste emosies toe Oom hier in Ghanzi aangekom het, oor die mense en die omgewing?

DE: Nee kyk, ek het uit ‘n wêreld uitgekom waar die mense baie dieselfde was in die berge van Beaufort-Wes, ook Afrikaanssprekend. Die Karoo was redelik afgeleë, niks soos hierso nie maar die mense was nie vir my iets anders nie, eintlik was ek baie tuis met hulle. Wat vir my ‘n verskil was, daar was nie paaie nie en geen drade nie, so te sê niks nie.

 

Vraag: Iets wat my ma baie gefassineer het, en wat sy graag seker vir Oom Dick sou wou gevra het, is die storie van die twee groepe in Ghanzi wat plase gekry het en wat nie plase gekry het nie … daar was baie ongelukkigheid?

DE: Nee, wat gebeur het hierso … die families wat oorspronklik plase gehad het, soos op die kaart wat ek jou gewys het, was op die plase gewees. Ek het instruksies gekry om die blok uittesit sover Oos as ek dink was nodig. Ek het nie ‘n kaart net daarvan nie, maar dit is soos op die kaart wat jy nou by jou het … Daardie hele kaart het ek toe gemaak later, want later toe ek al klaar was vra die Kabinet dat nog ‘n blok plase van 10,000 uitgesit word. Ooh, wat ek ook moet sê is daai plase van 5,000 wat jy op die kaart sien, enige een van daardie mense kon bykry. Ek moes plase oop los teen elke plaas, want 5,000 het hulle nie beskou as ‘n “economic unit” nie, so, die volgende plase moes ek toe 10,000 uitlê vir hulle, buiteom.

 

Vraag: Met ander woorde iemand wat alreeds 5,000 gehad het, het die opsie gehad om te kon uitbrei na 10,000?

DE: Almal het daardie opsie gehad, en as een sê hy het nie is dit nie waar nie.

 

Vraag: Nou hoe het Oom te werk gegaan, Cecil John Rhodes het hierdie plase oorspronklik uitgegee aan die boere en toe het iemand dit kom bepaal of uitmeet …?

DE: Dit plase is oorspronklik opgemeet in 1886 met ‘n perd en kompas deur Majoor Panzera van die Britse weermag. Ek het van sy klipbakens gekry in 1955 en was hulle redelik akkuraat as jy sy metode in aanmerking neem.

 

Vraag: Het Oom daai oorspronklike afmetings gehad of het Oom net na die boer toe gegaan en gevra waar is sy afmetings … ?

DE: Nee, nee, nee … Dis wat ek voorheen gesê het, die “Public Relations” ding. Daar was niks afmetings nie, die Landmeter Generaal het orals gesoek en hierdie kaart is al wat hy kon kry.

 

Vraag: Net ‘n klomp nommers, so Oom het gaan vra waar is die bakens?

DE: Op die grond moes die boer vir my sê waar hy dink sy bakens is. Hierdie kaart het my omtrent niks gehelp nie. Dan sien ek dat hierdie puts of hierdie huis wat syne is, is nie op die plaas nie … dan gaan praat ek weer met die ander ou en kyk wat ek kan doen, onderhandel dat ons die puts of huis kan insny op die ander een se plaas. Dis hoe ek dit gedoen het, anderste sou ek nie reg gekom het nie. En as ek nie Afrikaans kon praat nie glo ek nie dat ek dit reg sou kry het nie.

 

Vraag: Oom se persoonlikheid ook, as dit iemand met ‘n “judgmental” geaardheid was dan sou hy hom ook vasgeloop het teen hierdie pioniers.

DE: Jy moes eintlik ‘n vredemaker wees. Jy weet mos, party mense wil mos nie hulle opinie verander nie en moet ‘n mens oppas dat hy nie eers sê nee nie.

 

Vraag: Daar was mos verskillende trekke wat ingekom het, het Oom voorkeur gegee aan daai oorspronklike plase?

DE: Nee, ek het net daai kaart gevat en volgens daai kaart die mense wat hier gebly het voorkeur gegee. Iemand wat weggegaan het en die plaas gelos het verloor. Een van die Lewisse het ‘n plaas geruil vir ‘n perd, saal en geweer, so min waarde het hulle aan grond geheg daardie dae. Dit was beter om ‘n perd, saal en geweer te hê om mee te kan gaan jag om kos te kry as ‘n plaas .

 

Vraag: Ek & Marietjie praat hieroor en besef nou eers dat die trekkers wat ingekom het eintlik nomadies was of soms net tydelik blyers?

DE: O ja, maar dit was nie vir almal so nie, ek dink so 50/50.

 

Vraag: As mens kyk na die Du Plessis familie wat ingekom het met Cecil John Rhodes plase, daarna uitgetrek Angola-toe, Kongo en toe weer so terug in die 1927’s en toe weer in die 50’jare en dan weer weg voor onafhanklikheidswording?

DE: Baie van hulle was swerwers gewees. Met die eerste trek was dit net oom Taljaard se familie wat gebly het, die ander is almal Namibië-toe en van hulle sover as Angola. Sommige van hulle het later teruggetrek Ghanzi toe. Die tweede trek se mense het meeste hier gebly. Hulle het deurgekom via Serowe al langs die Botete na Maun, daarvandaan op teen die Thamalakane en verby Ngamimeer. Drotsky was die leier van die 2de trek en is van die trekkers dood aan malaria op die pad. Clive se ouma is gebore in 1903 (30 Oktober 1903) op ‘n osssewa by Serowe.

 

Vraag: Wie was sy?

DE: Maria Burton neè Lewis.

 

Vraag: Almal praat van haar en wil ons graag meer hoor oor haar, ons het pragtige fotos van haar by Christopher Watcham gekry.

DE: Haar paspoort is toegesluit in daai trommeltjie daar en ek kan nie die sleutel kry nie … wil nou nie die ding oopbreek nie jy weet.

 

Vraag: Voor Oom nou die Burton dogter raakgesien het, het Oom toe nou al ‘n rukkie hier gebly?

DE: Ek was lank hier ja, ‘n redelike tyd al en het hier gebly omdat ek van die wêreld gehou het.

 

Vraag: Het Oom toe begin met ‘n eie boerderye?

DE: Ek het soos die “locals” geboer, ek het ‘n boorgat geboor en bees daar gelos en rondgery dat die bees maar rondloop.

 

Vraag: Waar was Oom se boorgat?

DE: Hier bo, op die plaas langsaan waar John Gower later gebly het. Daai dae kon jy die reg kry om ‘n boorgat te boor onder die Britse Regering. As jy hom self geboor het dan het jy elke jaar baie min betaal, maar as jy van die regering se boorgat gebruik het moes jy meer betaal.

 

Vraag: Die beeste wat Oom daar gelos het, hoe het julle hulle bemark, het julle beeste gesamentlik gejaag op ‘n trek of hoe?

DE: Kyk jy het mos die trekkers gehad, soos die Kotzè’s en die Vickermans het getrek, jy’t maar by hulle ingesit, so 100 – 150 of so, want hulle moes ‘n sekere hoeveelheid bymaak om dit betalend te maak. Later as ons genoeg het dan trek jy nou self, anderste sit jy by.

 

Vraag: Hoe lank het die opmetery van die plase geneem?

DE: Vyf jaar.

 

Vraag: Was Oom toe al familiêr met die Burton kinders?

DE: Ek het baie by die mense gebly en rondgegaan.

 

Vraag: Wanneer is Oom Dick En Tannie Hilda toe getroud?

DE: 1959.

 

Vraag: Wat het julle gedoen vir die trou?

DE: Ons het by die huis ‘n predikant gekry en daarna net ‘n geselligheid gehad.

 

Vraag: Het Oom se familie kom kuier?

DE: Nee, al een wat hier gekom het was my broer, deurgetoer vanaf Namibië deur Botswana.

 

Vraag: Wat het Oom se familie gedink van Oom se “move” na Ghanzi?

DE: Hulle het my geken en geweet ek sou so iets doen.

 

Vraag: Na julle getroud is het Oom toe ‘n plaas gekry?

DE: Nee, hier was net die oorspronklike plase wat uitgegee was en die ekstra gedeeltes waarvoor aansoek gedoen kon word sodat hulle 10,000 tenminste het, dit was daai dae ‘n morg.  Toe almal nou ekstra plase gekry het, het die Regering die plase wat oorgebly het uitgegee. Ek het nie een van die oorspronklike plase gekry nie. Na ek nog 10,000 morge plase vir die Regering uitgesit het, toe maak ek applikasie vir hierdie een en toe kry ek hom. Jock Gower langs my was die polisieman toe ek hier gekom het.

 

Vraag: Hy ‘s niks familie van oom Edmund Gower hulle nie?

DE: Nee hy was nie familie nie en toe hy nou oorlede is toe koop ek die plaas langsaan van sy boedel. Toe het ek hierdie twee en toe het Hilda weer na haar pa se dood plase gekry en toe koop ek later die plaas, wat ek nou die plotte op uitmeet teen die kamp,  vir P70 ‘n hektaar. Toe sê almal vir my: “Is jy mal, kan jy P70 ‘n hektaar vir ‘n plaas in Ghanzi betaal? Daar’s iets fout met jou?”, want ons het tien sjielings ‘n hektaar hier betaal oorspronklik, met uitstel.

 

Vraag: Ek het in “Afrikaners of the Kalahari” deur Margo & Martin Russell iets raak gelees lank terug dat daar voorwaardes was, mense wat plase kry moes hulself al bewys het as boere, vertel vir ons meer hieroor.

DE: Hulle het ‘n bord gemaak en daai bord het die plase opgehad. Instruksies is gekry hoe hulle die plase moet uitgee. Hulle moes hulle uitgee aan mense wat hulle gaan gebruik. Hulle wou nie spekulasie hê nie, solank die man wat aansoek doen nie spekuleer nie, maar aansoek doen om self te gaan boer. Ek dink nie eintlik hulle het enige kondisies gehad nie, hulle moes net redelik seker wees dit was nie ‘n spekulant wat die plaas net koop om tien jaar te laat lê en weer te verkoop teen ‘n profyt nie, en dis dit.

 

Vraag: Iewers in ons notas het ons opgetel dat van die boere gevoel het dat van die families te na gekom is?

DE: Dis mos altyd so, daar is altyd iemand wat dink dit is so, partykeer is hulle reg en partykeer is hulle verkeerd. Jy kan nooit almal tevrede stel nie, jy probeer … nee dit het ek al uitgevind.

 

Vraag: Kan oom Dick onthou wie was op die bord?

DE: Dis ‘n ding wat ek ek ook nog moes geskryf het. Ek weet ek en Henry Vickerman was op die later bord waar plase uitgegee is, maar nie die oorspronklikes nie. Ek kan nie verseker onthou van plase van mense wat op die oorspronklike bord was nie. Dit was seker maar ou Midgley en hulle, maar die regeringsmense. Ek dink dit was al die mense … Sir Peter Faucus het hulle aangestel in Mafikeng, dis was nou die enigste land in die wêreld waar die administrasie van die land asook die hoofstad buite hulle eie land se grense was.

 

Vraag: Vertel vir my wat was die moeilikste dinge in Ghanzi in die dae wat Oom Dick kom begin boer het hierso?

DE: Die moeilikste ding was om “spaars” te kry vir jou goed, soos “tyres”. Jy‘t nie soos vandag in die veld gery nie … as jy iets wou gaan skiet, die kar gelos soos ek en Oom Manie, dan loop ek met die voet of jy ry met ‘n perd. Jou “tyre” en jou veer was vir jou baie van waarde, want as jy ‘n veer nodig het is die naaste wat jy hom miskien kan kry Gobabis, dieselfde met ‘n “tyre”, jy moes na Tromp se Garage toe gaan in Gobabis daarvoor. Voor Van Zyl hier gekom het met sy garage was Craill altyd hier, maar hy het net goed reggemaak , jy kon nie by hom “spaars” of ‘n “tyre” koop nie. Van Zyl was die eerste ou wat beeste met ‘n lorrie aangery het na Lobatse

 

Vraag: En julle ander voorrade, wat het julle gedoen?

DE: Wat ek gedoen het, ek het elke ses maande Mafikeng toe gegaan en dan het ek vir ses maande gekoop. Dit was nie ‘n goeie ding nie, maar dis wat ons gedoen het. Sekere tye het ons vir 10 minute of meer gewag terwyl troppe Blouwildebees en Hartbees gemeng die pad oorsteek, waarna jy die pad vooruit moes gaan soek het voor jy verder kon ry. Vir veiligheid het jy ook altyd ‘n drom water en petrol saamgery net vir ingeval jou kar dalk breek, want op die pad kon die volgende kar dalk eers oor ‘n maand daar verbykom.

 

Vraag: Wat ek kan van onthou toe ek ‘n kind was, mense het nie eintlik groot store gehad nie?

DE: Hier was winkels, Chrisjan Lewis het ‘n winkel gehad en die Swartze het in Ghanzi ‘n winkel gehad. Jy kon die normale goed kry, maar soos vrugte en groente het jy by die mense gekry of hulle het vir jou gegee, jy kon nie groente eintlik koop hierso of vrugte nie.

 

Vraag: Die ou mense was baie “resourceful” gewees, met dit wat hulle als self gemaak het, geplant en gedoen het né?

DE: Ja, kyk hierdie Kambro, Koos Lewis se vrou het my gewys hoe om Kambro konfyt te maak, dit was nogal lekker.

 

Vraag: Was daar tye van die jaar wat julle op veldkos staat gemaak het?

DE: Nie op staatgemaak nie, maar die wilde komkommers het ek baie gebruik. As die mense uitgaan het hulle baie die Tsammas gebruik, hulle bietjie warm gemaak en dan deur ‘n melkdoek uitgedruk en daai water gedrink as hulle dors was … dit was nie baie lekker nie, maar dit het hulle dors geles.

 

Vraag: Ek het nooit besef hoe belangrike rol die Tsammas gespeel het nie, in een van die onderhoude vertel iemand dat hulle weke soms op die Tsammas gestaan het om die kondisie van die beeste op te kry.

DE: Ja, met die trekbeeste het hulle op die Tsammas party jare getrek.

 

Vraag: En dit is ook nie elk jaar dat die Tsammas so baie is nie.

DE: Ook met hierdie trek … Mnr. Burton het een slag bees getrek en dit het hier goed gereën, maar hulle het mos nie geweet of dit op ander plekke ook so reën nie, net aangeneem … en toe hy daar kom by Kang se wêreld toe is daar niks nie, dis droog. Hulle het eintlik amper doodgegaan. Daardie jare het hulle mos trekosse voor die skotskarre gehad en die osse was te swak om te trek, hulle het ook net dit gemaak ander kant toe en meeste van hulle beeste is dood. Dis is ook maar wisselvallig, want as jy nie weet hoe is die weer daar anderkant vandag nie, trek jy met ‘n goeie reën en hulle het anderkant amper doodgegaan. Daar was ook nie Tsammas nie om dit nie gereent het nie.

 

Vraag: Die mense het almal geweet waar die volgende waterpunt was, maar daar was ook nie altyd water nie.

DE: Jy kon by water kom dan was dit stukkend. Toe ons nou getrek het van 15-myl boorgat af tot in Kang was dit drie dae se trek sonder water en as jy in Kang gekom het en daar was fout met die water dan het jy groot moeilikheid gehad. Gelukkig het Osmund, ‘n Indiër, jare op Kang ‘n winkel gehad en het hy gehelp. Na die drie dae wat jy in Kang by die water kom, hou jy die bees ver van die water af weg, jy kan hulle nie net los nie. Jy vat so ses of sewe op ‘n slag en laat hulle bietjie drink en dan keer jy hulle af, anders vrek hulle. Hy moet nie te baie water op een slag drink nie, selfs ‘n mens.

 

Vraag: Van water gepraat … hierdie gebied was nou die plek waar die ou ontdekkingsreisigers soos Anderson en Chapman aangekom het om te “replenish” … dan het hulle nou hier kom verfris en dan weer Ngamiland toe getrek. Was daar jare wat dit desperaat droog was hier in Ghanzi, dat daar geen water was nie en wat het julle dan gemaak met julle beeste in sulke tye?

DE: Ja, want Ghanzipan het altyd water gehad. As jy soos nou daar gaan moet hy nog redelik vol wees. Al droog hy op is daar altyd ‘n kolk waar die water kom van onder af, aan die Weste kant waar die watertafel so hoog is. En as daai opdroog en dit is weg dan is daar so ‘n laagte waar jy ‘n put kan grou en daar is altyd water daar. Die pan kan 13-14 jaar water hou. Ek het nog nooit vandat ek hier is van 1955 tot nou gesien dat die pan niks water het nie, daar is altyd daar onder ‘n plekkie of  gat waar jy kan water kry. Fort Rietfontein is omtrent baie dieselfde, so hulle het ook daarnatoe getrek want die pad het daar gekom. Bo-op die rant in die Buitsivango, die ou rivierbed wat in die Okwa inloop, is Fort Rietfontein.

 

Vraag: Het julle dae gehad wat die boere opmekaar moes staat maak om deur ‘n droogte te kom, want ek onthou verskriklike droogtes hier op D’KAR?

DE: Daai jare was daar nie drade nie en as ‘n bees dors is gaan hy loop. Nog ‘n probleem wat ons gehad het, as die eerste reëns kom, nie net in die droogte nie … dit was ‘n snaakse ding, ‘n bees sal nooit wes, noord of suid gaan nie hy gaan altyd oos, ons het al ons beeste gaan kry op Rakops.

 

Vraag: Ek is ook geïnteresseerd in die putte Oom Dick, hulle het ‘n belangrike rol in Ghanzi se geskiedenis gespeel. As dit nie vir die putte was nie was daar nie moontlikheid vir vestiging hier gewees nie?

DE: Dis eintlik hoe Mnr. Burton in Ghanzi gekom het. Soos wat hy opgekom het van Lobatse af het hy putte gegrou en dan bees by die swartes gekry as betaling. Dan sou hy by daai put spekuleer met beeste en dan weer daai put verkoop aan die plaaslike mense, so aangehou putte grou totdat hy op Kokong kom. Daar het hy vir hom ‘n put gegrou, ‘n winkeltjie opgesit en gespekuleer met bees en daarvan af het hy Ghanzi-toe gekom. Hier gekom het hy nie meer putte gegrou nie, toe het hy begin boer, seker genoeg bymekaar gemaak. Oom Hugo en Albert Lemcke was die twee putgrouers. Hulle het vertel as die gat diep word dan sit  hulle daar waar die emmer is, dan sak die mense hulle af, stel hulle die dinamiet aan die kant en dan steek hulle dit aan die brand, dan moes die ouens hulle opwen en seker maak hulle is uit voor die dinamiet afgaan!

 

Vraag: Mnr. Burton was ‘n soldaat ook gewees?

DE: Hy het gekom van Nieu Zeeland af om te veg teen die boere.. Hy het altyd gesê: “I came to fight them and then I married one”. Sy van was eers Smith en het hy stry gekry met sy familie waarna hy toe die van Burton aangeneem het ... altyd met sy paspoort gesukkel en twee verjaarsdae gehad.

 

Vraag: Die oorlog was toe verby en toe het Mnr. Burton aangebly, hulle het nie gedros nie?

DE: Ek hoor hy het gedros, ek kon dit nie uit hom kry of dit waar is of nie, maar soos ek hom ken glo ek. Van 1902 was hy in Botswana. Burton het so baie beeste gehad mens het hulle kon hoor hardloop in die nag, so wild.

 

Vraag: Ek weet die plase op die Ghanzi-rif het almal vlak water, maar as jy van daai rif afgaan … my pa het 28 droë boorgate geboor?

DE: Dis soos hier bo by my, as ek 3km opgaan dan gaan ek 600ft en dan weet jy nie of jy gaan water kry nie. Ek het baie droë boorgate geboor al hier.

 

Vraag: Waar op Kokong het Mnr. Burton sy put gegrou, dit was tog verskriklike gevaarlike werk gewees om met dinamiet te werk?

DE: By die panne self het hy sy put gegrou. Ja, dit was gevaarlik en moes jy baie versigtig wees, en ‘n mens moes ook baie vertroue gehad het in die mense wat jou moes uittrek.

 

Vraag: In die vroeër jare toe Oom hier gekom het was die verhoudinge met die Boesmans goed gewees?

DE: Ja, maar een môre dan staan jy op dan wonder jy waar is Xgam … dan se hulle hy het gaan rus. Daar is nou genoeg veldkos, want dit het gereën nou is hy weg en oor ses maande dan een môre kom jy uit hierso dan loop Xgam hier rond soos altyd … dan wonder jy waar het hy gaan rus? Die verhouding was so dat hy kan maar terugkom, ons het ook geweet hoekom …

 

Vraag: Die Boesmans het eintlik die wit boere hier ontvang en ruimte gegee en gehelp toe hulle hier aangekom het met die waens, weet Oom hoe het hulle oorleef daardie eerste jare?

DE: Snaaks genoeg, ek weet nie. Hulle moes leer om die veldkosse te eet en so aan. Toe ek hier gemeet het, het die Boesmans vir my gewys die veldkosse, soos byvoorbeeld daai Wilde Komkommer. Daar is twee van hulle, die een met die strepe is giftig. Hy gaan jou nie dood maak nie maar jy sal lekker siek raak van hom. Die ander een, die witte, sonder strepe met die stekels op is weer nie giftig nie, hom kan jy eet.

 

Vraag: Na die plase toe nou omhein was, was die Boesmans so bietjie verlore en het hulle nie eintlik geweet waar pas hulle dan nou in nie?

DE: Ek en Hilda ry eendag mos na die beeste toe, ons het nie hierbo toegespan nie, toe draf hier ‘n koei verby met ‘n pyl wat uit haar uitsteek, toe sien ons hoe kom daar ‘n Boesman aangedraf met sy pyl en boog agter die bees aan. Toe vang ons hom en vat sy pyl en boog weg en toe laat ons hom loop, wat kan jy gedoen het? Dan sal daar so ‘n paar families bymekaar trek en eet totdat hulle klaar is en dan gaan hulle weer vort. Dit was die enigste en die laaste keer wat ek op dit afgekom het.

 

Vraag: Daar was nog daardie tyd baie “wilde” boesmans gewees, het die boere hulle nog toegelaat om te jag?

DE: Meer wild as andersom ja. Ons is die laaste plaas en hier bo ons is daar nog baie wild. Toe die Regering nou vir Xabo en Grootlaagte uitgee, toe kon jy nou sien die wild raak vinnig minder, die wild is omtrent uitgeroei tussen die Xabo plase en .

 

Vraag: Van die Boesmans het vertel hoe moeilik dit vir hulle geraak het toe die drade hulle begin keer het om te loop van plek na plek en dis hoekom die Regering op die ou einde die “settlements” uitgegee het?

DE: Ongelukkig toe die settlements uitgegee is was daar nie baie kontrole nie en daar was baie wild daarbo, maar jy kon elke jaar sien hoe raak die wild net al hoe minder en minder. Soos daai polisieman wat vir ons gewerk het, hy’t altyd as hy die maand verlof gekry het daar gaan bly en biltong gemaak. Hulle is daar gesit sonder enige lewensvoorsiening en hulle moes maar skiet.

 

Vraag: Daar was geen werksvooruitsigte vir hulle daar gewees nie?

DE: So ‘n ding moet jy goed uitwerk.

 

Vraag: Oom self het ‘n groot rol gespeel in die “governance” van Ghanzi, wanneer het oom ‘n rol begin speel in die “Council”?

DE: Ek was die eerste “Chairman” van die “Council” in 1966 met onafhanklikheid en was vir 40-jaar daar. Ek is toe uit en was ‘n parlementslid in Seretse se regering waarna ek toe weer terug “Council” toe is . Toe besef ek dat ek nie kans sien vir parlementslid nie, want daar praat jy baie maar jy doen min. Ek het vir Seretse gesê dat ek voel ek kan meer doen in die “Council”.

 

Vraag: Dit was maar seker lang vergaderings gewees, was dit nie?

DE: Enige vergadering in Botswana is lank …

 

Vraag: By watter ander instansies was Oom ook by betrokke?

DE: Ek was 15-jaar op die BMC (Botswana Meat Corporation) se “Board”, 12-jaar op die Survey “Board”, ek was op die Botswana se Lugmag “Board”, ek was ook ‘n Founder Member  van Botswana Telecoms, ek en Lekoko het dit begin. Ons was vir ‘n maand Washington toe gestuur op ‘n kursus en daarvandaan het die Noorweërs mense verskaf as werkers toe die selfone gekom het, ons het nie self werkers gehad nie, en die Board het die plek bestuur. Ek was 12-jaar op daai “Board” ook. Dit was vir my die lekkerste gewees want ons kon die meeste doen.

 

BTC het mos ‘n monopoly gehad, toe sien ons op die kursus dat in die selfoon besigheid dat al die lande wat ‘n monopoly gehad het was nie ‘n sukses nie en die wat nie een gehad het nie was ‘n sukses en het net vorentoe gegaan. Toe het ons terug gekom en hulle geadviseer “no monopolies”, jy kan die monopoly nog tydelik hou sodat julle kan begin regmaak vir die “open market”. Ons het eintlik eers die fone afgevat en toe los ons hulle met die “International Gateway” en toe moes hulle 2-3 jaar daarna privaat gaan. En kyk vandag is BeMobile een van die beste selfoon maatskappye. In vandag se tyd is daar nie meer plek vir monopolies nie.

 

Vraag: Nou vertel vir ons hoe ‘n beesboer hier van Ghanzi nou betrokke raak by die koms van selfone in Botswana?

DE: Nee ek weet self nie. Ek is vriende met ou Quett Masire vir al baie baie jare lank, hy het baie gedoen vir Ghanzi. As ek moeilikheid gehad het op die “Council” het ek altyd na hom toe gegaan, ek het ‘n oop deur by hom gehad. Ek was 28-jaar voorsitter van die Boerevereniging ook en hy het my altyd ontvang en my baie gehelp. Ek was ook op die “Parliamentary Salary Commission” wat die salarisse van die parlement gehanteer het en ook op die Western Demarcation Board vir die “demarcation” van Ghanzi en distrikte.

 

Vraag: My ma was altyd Oom se sekretaresse gewees en het baie lekker saam met Oom gewerk?

DE: Ja, sy was vir baie-baie jare.

 

Vraag: Oom, vertel vir ons van Tannie Hilda en die kinders, die grootmaakjare en skool. Ek het die voorreg gehad om haar nog te ken, sy was ‘n besonderse mens gewees. Was sy lank siek of nie?

DE: Sy was lank siek gewees. Die moeilikheid was sy het stadig verlam geword … sy het baie van die bees gehou en ek moes haar dra na die kar toe dan het sy rondgery in die kar, maar sy kon nie uitklim nie. As ons dorp toe gegaan het moes ek haar opdra na die hotelkamer toe, dit was swaar gewees … vir haar was dit swaar, vir my was dit nie ‘n probleem nie.

 

Vraag: Dit was seker baie moeilik vir die kinders ook om hulle ma so vroeg te verloor, maar julle het voorbereiding gehad omdat sy lank siek was?

DE: Ek dink ‘n mens besef … die dokter het gesê sy gaan nie lank lewe nie, so mens het geweet.

 

Vraag: Het Oom iemand gehad wat kom help het met die kinders daarna?

DE: Nee, maar die kinders was goed. Hulle het so vroeg weggegaan skool toe dat hulle geweet het hoe om klaar te kom ook. Sy was baie streng op hulle so hulle het geweet hulle moet dinge doen, hulle het nie sommer net gekry nie. Die kinders … ek het nie gesukkel met hulle nie.

 

Vraag: Het hulle ouma toe nog geleef?

DE: Nee, sy was oorlede.

 

Vraag: Waar het die kinders skool gegaan?

DE: Hulle het eers in Rustenburg skool gegaan by die “Convent” toe’s hulle na ‘n skool in Klerksdorp toe.

 

Vraag: Brian was baie jonk toe sy ma oorlede is?

DE: Hy was elf jaar, want ek onthou toe hy elf was toe vat die anders hom Okwa toe, toe skiet hy ‘n leeu, blykbaar deur die mond. Hulle het hom altyd geterg en gesê daai leeu het van skrik doodgegaan, want daar was nie ‘n merkie op die vel en kop wat ons ‘n mat van gemaak het nie. Dit is alles Clive se dinge daai, hy was so nog maar net twee jaar oud dan vat ek hom uit op ‘n jag.

 

Vraag: So hy het die Lewis bloed gehad, want hulle was mos groot jagters. Het Oom baie te doene gehad nog met Oom Chrisjan hulle?

DE: Ja, ja baie. Dis waar ‘n leeu my amper geëet het. Ek en hy is af met een van hierdie klein Jeepies en die bestuurder van Barclays Bank, Robert White en sy klein seuntjie. Ons kom op Mabutsane en die leeus het net hulle bees geëet en hulle vra oom Chrisjan om te gaan skiet. Hy dryf en ek sit agter op ‘n roomkan en die leeu storm ons van agter af. Was dit nie vir Oom Chrisjan nie was ek dood gewees, maar hy het geweet hoe om met ‘n leeu te werk, hy het ‘n leeu ook geken. Toe die leeu spring toe skeur hy my broek en maak ‘n diep duik met sy ander klou in die roomkan en gelukkig toe val hy af. Ek kon nie die leeu skiet nie al sien ek hy kom, want die slinger van my geweer was aan  Robert se kind vas wat van skrik onder die dashboard ingekruip het toe kon ek nie die geweer uitkry nie. Iedergeval, toe skiet ons die leeu toe hy nou afval.

 

Vraag: Daar is baie sulke leeu staaltjies. Oom Chrisjan het ‘n verhaal waar hy met ‘n buffel gestoei het en was pimpel en pers en oom Kassie van Heerden het ook met ‘n buffel gestoei …

DE: Die buffels het al die jare, voor die draad hier was, in die reëntyd hier gekom. Nou nie baie nie, so 3 of 4 op ‘n slag. Oom Kassie het mos hierdie draad gespan, die Kuke draad, nie die hele ent lank nie wel meeste daarvan. Ek het die draad gemeet toe Peter twee jaar oud was. Ek het sommer reguit gery, hiervandaan ‘n baken gesoek op kompasrigting en van daai baken af moes ek die lengtegraad bereken na Namibië se kant toe. Hans Gajool en Albert was my assistente gewees. Na ons eerste ontmoeting met ‘n leeu het Albert daarna nêrens meer alleen geloop nie en het ek nie ‘n ander keuse gehad as om hom terug te stuur Kimberley toe nie.

 

Daar het ‘n leeu ook amper vir Peter opgeëet, ou Susan en Peter. Elke dag het ek die mense uitgestuur dan het ek met ‘n geweer geloop en soos ek gemeet het, het hulle ‘n nou lyn oopgekap. En eendag loop Susan, die oppaster, so entjie agterna om te kyk waar ek is en vat vir Peter saam met haar. Die leeus was die vorige aand rondom die kamp en het ons van hulle geweet, toe kom die leeu reguit na haar toe aangestap. Gelukkig het sy so geskrik, sy was verlam en kon nie beweeg nie, net bly staan. Die leeu het haar so gekyk vir ‘n ruk, toe omgedraai en weggeloop.

 

Vraag: So Oom het die kinders saamgeneem as jy gaan werk het?

DE: Hilda en Peter was toe saam.

 

Vraag: Is die Kuke draad wat Oom gemeet het nou dieselfde draad wat die EU vereis het vir die verkoop van beeste, die draad waarteen al die wilde diere later so gevrek het van die dors in die 80’er jare?

DE: Dis dieselfde draad, maar ek weet nie wat die redes was dat ek hom moes meet nie, miskien was daar al praat met die EU daai tyd, ek weet nie. Die draad is eers later gespan maar in 1962 of 1963 het ek hom gemeet, Peter was twee jaar oud.

 

Vraag: Oom het toe nog baie landmeter werk gedoen?

DE: Ek het Kuke draad gemeet en toe Extension 11 Gaborone. Ek het ook die pyp van Notwanedam af Gaborone toe gemeet toe hulle besluit het om Gaborone die hoofstad van Botswana te maak. Peter was ‘n jaar oud toe kamp ons by Notwanerivier toe meet ek ook die pyplyn uit na Gaborone toe om Gaborone te bou. In daai dae was daar net die village, en Gaborone was die stasie, die winkel van Steinberg op die stasie, die hotel en die winkel aan die agterkant van die hotel wat aan O’Reilly behoort het. Kassie Coetzee het ‘n plaas gehad wat nou die Agricultural Research stasie is, Sebele. George Simms het ‘n plaas gehad waar Phakalane Estates vandag is. Net die polisiestasie was in die village. Iets wat baie snaaks was en wat seker nie  in die wêreld anders was nie is dat die platform van die stasie ook die hotel se voorstoep was.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Dick Eaton, Junie 2016

(Opname DE1 - DE3)

DICK EATON - Deel 1

Ander Ghanzi
webblaaie

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

bottom of page