top of page

JAGSTORIES

‘n Klein woordjie, maar belaai met emosie, geld en voedsel. Om te jag was ook in

Ghanziland ‘n lewenswyses, hoewel verdeel in verskeie kategorieë. Die opwindenste was

jag teen roofdiere, soos veral leeus. “Klein Chrisjan”, die befaamde Chrisjan Lewis leier se seun, is deur almal erken as die jagter met die meeste leeus op sy kerfstok. Dan was daar veral vroeër en nie in Ghanziland nie, die jag op olifante terwille van ivoor wat ‘n inkomste beteken het. Vir baie mense was ‘n jaarlikse jagtog ‘n familie vakansie waarna biltong en velle benut kon word en die Boesmanwerkers genoeg vleis kon eet. Toe was die vervoer nog per ossewa met ingewikkelde logistiese reëlings vir Boere, Boesmans en die trekdiere. Namate voertuie bekom en gebruik is, was jagtogte met mans meer algemeen, hoewel lorries die plek van ossewaens ingeneem het. En toe was daar die tyd dat buitlanders Ghanzilanders begin gebruik het as kommersiële gidse. Die gidse kon ‘n inkomste maak, lisensies is op die swartmark gekoop ten spyte van die Regering se pogings om dit te beheer. Boere of gidse het meer welvarend geword en het beter voertuie soos 4 x 4 bakkies gekoop, maar namate die voertuie duurder was, was hulle minder bereid om dit in die veld te verniel! Dit het gelei tot wildplase en gastehuise en deesdae word selde in die oop veld gejag. Die jagters het wildbewaarders geword!  Maar ons keer terug na die eerste bewoners, voor 1930, toe jag deel van hul lewens was.

                                                                                                                                   

Bennie van Staden het boekies gelees oor Ghanzi se vroëer dae, en sommige van sy vertellings se bron was die boekies. Dis moeilik om fiksie van feite te onderskei en die (1) boekies is verwaarloos. Maar dis ‘n feit dat die ou Hendrik van Zyl wat met sy seuns op Ghanzi gebly het, sy bestaan gemaak het uit olifantjagtogte. Die ivoor (en velle) is dan na Walvisbaai gestuur en verkoop.

 

Die mense wat beeste aangejaag het, het ‘n byverdienste gehad deur wildsvelle te verkoop as hulle in Mafikeng aankom. Veral maklosi velle was gewild, tot 10pond per (2) vel. Tiervelle het ook ‘n goeie prys behaal. Terry Gower het by Lehututu op ‘n slag 7,000 pond vir veral tier- en maklosievelle gekry. Die Engelse Regering (Kaap of Betsjoeanaland?) was die koper.

 

Wild was orals volop, en as Jan Burger “putse gegrou” het, was daar genoeg bokke in die omtrek om te eet. Hy noem hartbeeste, springbokke en gemsbokke. Maar elande was die (3) gunsteling, en toe hy by Kabakau opgegee het, het hy vir oulaas ‘n eland geskiet.  Om plek te maak vir die groot dier het hy ‘n drom water uitgegooi. Net daarna kom Adams (Evans?) verby en vra water vir sy perde! Jan het lakonies geantwoord dat hy nie geweet het hulle kom nie! Die man en ‘n Smith het hulle darem ooreet aan die vet elandvleis….

 

Cassie van Heerden het grafies vertel van ‘n oggend toe sy pa weg was Sehitwa toe. Hy en sy stiefma was besig om te room voor die beeste gedrink het, toe die perde verby gehardloop het. Een perd was gekrap, en Cassie het geweet dit was ‘n leeu omdat die naels verder uitmekaar was as met ‘n tier. Hy en sy boer het gou die beeste water gegee, (4) en toe opgesaal. Hy het ‘n geweer gevat, hoewel sy ma hul belet het om leeu te jag. Hulle wou konsuis net gaan kyk! Nog voor hulle die plek gesien het waar die leeu die perd bespring het, sien hulle dat die leeu in die nag twee beeste doodgebyt het. “Ons gaan hom skiet!” en die seuns jaag op die perdespore. Die leeu het op ‘n kaaltetjie uitgekom. Cassie het van die perd afgespring, maar die ou geweer was so swaar dat hy moes gaan sit op sy knieë om te skiet. Hulle het die leeu afgeslag en huistoe gery. Sy ma het ‘n pak belowe as sy pa tuiskom. Toe sy pa die storie van sy ongehoorsaamheid hoor, het hy Cassie se hand geskud en hom geluk gewens met sy eerste leeu! Toe voel hy grootman!

 

Cassie van Heerden het vertel van ‘n onderwyser, ene Kallie Coetzee, wat graag gejaag het. Hy het by hulle skoolgehou en ook ‘n paar maande by D’KAR. Hy was Cassie se (5) eerste onderwyser gewees.  Een uur as die skool uitkom is die seuns op hul perde veld toe saam met hom om te gaan jag. “Ons het baie lekker by hom skool gegaan!”

 

Cassie van Heerden het vertel van die vroeë jagtogte. Elkeen wat lus gekry het, kon maar gaan jag.  Niemand was profesioneel nie en daar was nie jagseisoene waarbinne gejag is nie. ‘n Mens kon buffels en leeus skiet net waar hulle voorgekom het. Elke plaasboer het maar gereeld gaan jag om vleis aan sy werkers te voorsien en om biltong te maak. Vrouens en kinders het dikwels saamgegaan, en omdat wild veral noordwaarts volop was, was dit nie nodig om ver te gaan nie.

 

Die mees algemene wild in Ghanziland was elande, gemsbokke, hartbeeste en wilde-beeste. Springbokke was suidwaarts meer volop, maar vir rooibokke was die wêreld te droog gewees.

 

Biltong is meestal sommer in die veld gesny, en daarvoor het hulle sout en peper en asyn saamgevat, asook groot skottels om dit te hanteer. Hulle het nie ander speserye gebruik nie. By gebrek aan werksplek het hulle ‘n vel afgewas en opgehang om af te droog. Dan maak hulle ‘n gat in die grond en trek die vel daaroor. Dan staan hulle op hul knieë om die vleis stukkend te sny en te sout en in te pak. Die vel word oor-en-weer gevou sodat die vleis kon souttrek. Snags is die biltong uitgehang en bedags in die koelte gebêre tot hulle huistoe gegaan het. 

 

Jagtogte het meestal so drie dae geduur, hoewel hulle soms in die winter vir ‘n weeklank in die veld gebly het. Hulle het meestal waens-en-osse gebruik, en die diere moes water kry. As hulle langer wou bly het hulle genoeg (6) water gevat vir die mense en perde, maar die osse is huistoe gestuur tot op ‘n afgespreekte dag wanneer die volk hulle moes terug neem.

 

‘n Storie wat deur verskeie mense vertel of na verwys is, is van Magiel Vermeulen uit die vroeë dae.  Magiel het gekom om te kom bees koop by Maun. Hy het op pad terug by die panne gekamp. ‘n Leeu vang toe sy enigste ryperd. Die anderdagmôre het hy die leeu (7) gaan soek, en kry die dier by die dooie perd. Hy het geskiet, maar die leeu net gekwes. Die gekweste leeu het hom gestorm, met die gevolg dat hy nie nog ‘n skoot kon inkry nie. (As jy ‘n Lee Metford vinnig laai, kry mens nie die patroon in nie.) Toe kom byt die leeu hom aan sy hand, en byt vas. Toe lê hulle mekaar en kyk totdat die leeu naderhand gevrek het.  Toe kon hy sy arm losmaak, en het ‘n Boesman Khoutsa toe gestuur om Hugo-hulle te gaan haal. Hulle het Vermeulen na ou Dr. Boyle geneem vir behandeling en toe is hy verder onder toe (Lobatse) met ‘n skotskar vervoer.

 

Albert Lemcke het vertel dat daar nooit ‘n tekort aan gewere was nie, dit kon vrylik (8) oorgrens vervoer word.

 

Thys Taljaard het ‘n jagstaaltjie vertel van die dae toe hulle donkie-konvooi gery het (9) tussen Ghanzi en Gobabis. Opwinding was skaars, daar was nie wilde diere soos leeus nie, maar hulle het vir die pot gejag. Die bekende oom Chrisjan Lewis het gewoonlik te perd gery en dan gejag. Eenkeer, naby Karakubis, wou hy ‘n elandkoei na die pad toe aankeer, want hulle was ‘n klomp mense bymekaar. Hy het ‘n goeie perd gehad, maar die elandkoei het vir hom skoon weggehardloop, hoewel hy 5 skote agter haar aangeskiet het. Toe was hy al amper by Rietfontien. Die klomp was baie verbaas om te sien oom Chrisjan kom van voor af aan met sy perd, maar sonder vleis!

 

Dis interessant om Cassie van Heerden se Vermeulen-storie te vergelyk met (7) Hugo Lemcke (Q II 6-7). Hoofsaak is seker maar die primitiewe kommunikasie lyne en Giel of Piet Vermeulen se oorlewing. Cassie sê Vermeulen wou die beeste Sunnyside toe vat, en stuur Boesmans (10) vroeg veld toe om die perde te soek. ’n Boesman kom sê leeus het gevang, dit was sy enigste ryperd en hy gaan soek die twee leeus.  Hy skiet een en kwes die tweede, (11) maar sy wit brakkie staar en blaf by die dooie een. Hy kyk toe na die hond en die gekweste leeu storm hom. Die leeu het die geweer uit sy hande gespring, maar net voor dit het Magiel die dier se twee slagtande afgeskiet, hoewel die kakebeen nie af was nie. Die leeu vat hom aan die arm maar sonder die tande kon hy dit nie afbyt nie. Toe die leeu naderhand los, vat hy die dier aan sy nek en gaan lê. Die leeu los weer en Giel loop so 5 treë. Die geweer lê tussen hulle en hulle lê vir mekaar en kyk. Naderhand het hy die geweer gaan vat en die leeu doodgeskiet. Die middag kom een van sy skepsels met die nuus op Sunnyside aan. Toe span Martie Goosen se man kar-en-osse in en gaan haal Vermeulen.  Cassie jaag te perd Ghanzi toe maar die enigste vervoer vir ou Dr. Boyle (12) was ‘n skotskar met osse. Die dokter het ‘n bietjie gedokter maar Vermeulen het ‘n ruk daar gebly. Later is hy in Gobabis opgeneem, waar hy maande moes bly. By Sunnyside het die Goosen-oom elke dag sy wonde gewas en behandel met “potaswater” en botter totdat hy Gobabis toe geneem kon word en later Mafikeng toe.

 

Hugo Lemcke het vertel van leeus op die trekpad, en hoe leeuvrees hulle soms in komiese situasies laat beland het. Normaalweg was trekbeeste nie snags moeilik om te beheer nie, (13) maar een nag was hulle beneuk en hy en twee helpers moes hulle vaskeer by gebrek aan ‘n kraal. Hugo het gehoor ‘n ou Boesman sukkel om met ‘n sweep ‘n bees uit ‘n bos te kry en by die trop te kom. Hy ry toe soontoe te perd en gewapen met ‘n flits. Toe sien hulle dis ‘n leeu wat weier om uit die bos te kom! Hulle het vure gemaak en vasgekeer, want daar was mos ‘n leeu in die omtrek. Die Boesman het gaan hout breek vir die vuur en kom aangehardloop. “Baas, hy’s nou hier!” Hugo besluit om ‘n einde aan die saak te maak. Hy loop agter die Boesman met die geweer en die flits. Skielik vlieg ‘n klomp patryse in die donker op. Die Boesman sit vir Hugo onderste bo en albei lê op die grond pleks om ‘n leeu te skiet! Die osse het geskrik van die rumoer en toe moes hulle die trop weer bymekaar maak.

 

Wildehonde was al die jare ‘n plaag, want anders as ‘n tier of leeu het die diere nie na ou vleis teruggekom nie en al hardlopende van agter of happe gegryp uit vee, wat dan van kant gemaak moes word. Toe die jong kêrels nog baie perd gery het, het hulle die wildehonde (14) ingery en geskiet of met stiebeuels doodgeslaan. Dit was selde dat hulle ‘n mens aangeval het, hoewel Joop Lewis ‘n noue ontkoming gehad het. Vier wildehonde het by Hugo gepla en twee “skepsels” was op hul spoor. Een wildehond is doodgeskiet en een gekwes. Joop kom toe by, en hy en die skepsels is te voet op die ander twee se spoor met Hugo agterna in ‘n Bedford bakkie. Daar was nie perde byderhand nie. Joop het een hond doodgeskiet maar een het gevlug. Hugo kon dit sien en keer hom met die bakkie net toe Joop aankom, so 150 treë weg, maar Joop het die geweer. Hugo kon sien die wildehond wil vir Joop aanval en skree, “Pasop Joop, hy gaan jou byt!” Maar hulle was nie gewoond dat wildehonde aanval nie, en Joop het aangekom. Toe byt die dier Joop se duim af. Joop was jammer vir die geweer, wou nie die kolf afslaan nie. Daar was gelukkig ‘n dokter, lank na Dr. Boyle, maar die duim het nog lank gesweer.

 

Hugo en Grieta het oor tier- en leeustories gesels, en was dit eens dat dit net eenkeer gebeur het dat ‘n mens deur ‘n leeu aangeval is, nl. Giel Vermeulen, maar dat “tiere” of luiperds dit dikwels doen. Grieta het onthou van ‘n Boesman wat ‘n duiker bekruip het, (15) min wetende dat ‘n tier besig was om hom te bekruip! Die tier het sy boud so stukkend gekrap dat die vet uitgepeul het. Hulle vertel dat tiere nie by hul prooi bly nie, net byt en verbygaan. Maar hulle is agterbaks, lê jou voor. In enkele gevalle het leeus perde en hul ruiters van agter bespring, maar nie gebyt nie.

 

Hoewel Booy Kotze op die trekpad by die 60 leeus geskiet het, waaroor hy later skaam was, het hy eers laat in sy jongdae met hulle te doene gekry. By Ghanzies en op die trekpad was baie leeus. Hy en broer Gert was weer bymekaar toe Booy sy eerste leeu in (16) Kalkfontein se omgewing teëgekom het. Hulle was tot laatmiddag op sy spoor, maar toe kruip die leeu in ‘n haakbos weg. Hulle besluit Booy sal met ‘n paar volk op die spoor om die bos ry, dalk sou hy uitspring vir Gert om te skiet. In die bos het Booy spore gesien, die dier het opgespring en gehardloop, diep spore in nat sand na ‘n reëntjie. Hy was net op gallop, toe klink dit soos dromme en die leeu bespring sy perd vanuit ruie bos. Die perd konnie omdraai nie, het net dwars gespring en doodstil gestaan. Die dier het so ‘n paar tree van Booy gestaan en brul, maar sonder oogkontak. Booy het oorgehaal, maar wou nie skiet voor hy spring of weg beweeg nie. Die leeu het twee- of driemaal omgekyk en toe brullend gespring maar weer so 15 tree padgegee. Toe dreig hy Booy weer, maar stop en hardloop vort. Toe skiet Booy en Gert hom dood.

 

Saamgestel deur Pollie (Laurika) Jerling, Samochima, Shakawe.

 

Uit onderhoude met:

 

[1]  Bennie van Staden (A I 6) 

[2]  Krisjan van Staden (A II 9)

[3]  Jan Burger (C II 3)

[4]  Cassie van Heerden (I I 4-5) (J I 6)

[5]  Cassie van Heerden (J II 2-3)

[6]  Cassie van Heerden (J II 2-3)

[7]  Hugo Lemcke (Q II 6-7)

[8]  Albert Lemcke (U I 7)

[9]  Thys Taljaard (X I 10)

[10]  Cassie van Heerden (I I 1)

[11]  Cassie van Heerden (I II 11-12)

[12]  Martjie Goosen (A II 6)

[13]  ​Hugo Lemcke (O I 5)

[14]  Hugo Lemcke (O I 6-7)

[15]  ​Grieta Lemcke (Q I 11)

[16]  Booy Kotze (W II 6)

Print asb uit en deel met jou familie   & vriende

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page