Albert & Hugo Lemcke
VROEË VESTIGINGSTAALTJIES
ONDERHOUDE MET HUGO EN GRIETA LEMCKE
EN MET ALBERT EN LENA LEMCKE, 1980.
Vraag: Vertel asseblief vir my van toe Oom-hulle op die plaas gebly het in die oorlogsjare, toe Oom se pa gaan veg het. Dit was Karolinenhof, nê?
AL: Jong, ek en twee van my susters was in die skool gewees, toe’t my ma siek geword, dit was in 1914, met die uitbreek van die oorlog. Enne met die geboortes, sy’t geboorte gegee maar sy is na dit, sy is omtrent twee weke na dit, is sy toe dood. Enne ons het toe van die skool af gekom huistoe, plaastoe. Enne, nouja, na haar begrafnis toe moes ons trek, deur die oorlog. Enne, toe’t my pa en die ander kinders almal getrek, en ek het toe agter gebly – ek was twaalf jaar oud. Ek moes na die plaas gekyk het … toe los hul by my, hul gee my so ‘n ou geweer, en ‘n paar patrone, nouja nou’s ek mos tevrede om daar maar saam met die ou swarte op die plaas te bly. Ek het met die ou geweer rondgestap en darem op Oujaar ‘n steenbokkie met hom doodgekry. Enne ek kan nou nie presies sê hoe lank nie, maar omtrent na veertien dae het die Duitse troepe … het twee soldate my daar weer teruggevat, weggevat Gobabis toe.
My Pa het toe aangesluit. Nouja toe’s ek skooltoe, die ander kinders was daar alleen in Gobabis op ‘n erf, totdat die oorlog toe verby is, toe het hulle teruggekom. Toe het ons daar teruggetrek plaas toe. As die ma en die pa nie daar is nie, die kinders moet sien en kom klaar!
Vraag: Nou later, wie was die mense, by wie Oom Albert toe was?
AL: Dit was ou Abraham gewees, Hugo Abraham. En toe’s ek daar weg, nouja toe doen ek by ‘n smidswinkel aansoek om te leer, smidswerk. Nou daar’t ek gewerk tot na die vrede, tot ’19.
DUITSE INVAL
Vraag: Oom Albert, ek lees dat Ghanzi nogal daarvoor bekend is as die enigste plek is wat ooit deur Duitsers ingeneem is?
AL: Nee, dit was oor ’14 se oorlog gewees. Toe het ‘n paar Duitsers ek dink ‘n stuk of 20 man, hulle’t van Suidwes af gekom, en hier was nou ‘n poliesman gewees, ou Webb, hulle wou hom gevang het en Suidwes toe gevat het, jy weet, en toe … die stasie was hier op Kwaganai gewees, daar langs Ramsden-hulle, en toe, ou Webb was nie daar gewees nie, en toe hulle die ou stasietjie daar omsingel, en bestorm het, toe het hulle daar ‘n paar skote geskiet, ek dink hulle het daar twee Swartes doodgeskiet. En hulle is toe sommer terug, maar ou Webb het hulle nie in die hande gekry nie. Dis maar een nag gewees, hulle is toe sommer daai selfde nag weer terug.
Toe word my ou baas verplaas uit die land uitgesit, Duitsland toe, nouja toe moes ek ook maar die werk los. Dit was Weilbächer. Hy’t nog twee seuns gehad in Gobabis, maar hulle twee is noual altwee dood. Die winkel se mense. Nouja, daarvandaan het ek toe maar hier en daar werkies gedoen, so werkies wat ek aangevat het, wa-bou se wiele te kort en so aan, maar daar was so min geld in Suidwes lat niemand, niemand het werk gehad nie. Toe hoor ek hier van Lake Ngami, dat daar heelparty smidswerk is, toe’s ek daar weg, Betsjoeanaland-toe, Lake Ngami toe. Dit was in ’25 gewees. Met 'n donkiekarretjie gekom! Ek het nog ‘n maat by my gehad, dit was Petrus Venter. Maar hy’t toe omgedraai en weer teruggegaan met die donkiekarretjie en ek het toe maar hier agtergebly. By Oom Chrisjan Lewis.
En toe getroud geraak en toe’s ek af Maun-toe. Daar het ek twee jaar, drie jaar, twee jaar, twee jaar smidswerk gedoen, maar ek kon nie by die ou Swartetjies heeltemal ooreenkom nie, hulle betaal mos ook maar baie vrot, toe’s ek daarvandaan weer terug, Ghanzies-toe en hier het ek natuurlik vir ou Burton putte gegrou, damme gebou, windpompe opgesit, en op die manier het ek toe hier vasgesit. Enne daarvandaan bly ek nog al die tyd hier.
Sien, die ou boere het almal daai plase gehad wat ou Cecil Rhodes daai tyd hier uitgegee het, eiendomplase. Verder kon jy maar ‘n plaas huur vir vyf pond ‘n jaar. Dis na ’34 toe … nee, ’40 of soiets het ek die helfte van ‘n plaas gekoop. Verder het ek maar op regeringshuurgrond geboer, vir vyf pond…
HERINNERINGE VAN OOM HUGO LEMCKE, JONGER BROER VAN OOM ALBERT:
HL: Man, ek het in 1929 ingekom. Ek dink Albert in ’22 of in ’25 … maar hy was darem al getroud toe ek ingekom het? Jy weet, nou eintlik, want ek moes van my veertiende jaar moes ek myself versorg het, my oorlede pa was te arm. Kyk, met die begin het ek toe natuurlik toe ek uit die skool uitgekom het, kyk, daardie jare het jy mos maar Std 6 gemaak, dan het jy nou jou sertifikaat gekry, en dan kan jy nou gaan ambag lëer, toe’t, ek natuurlik, jy weet eintlik engineering geloop, vir drie jaar, op Gobabis, by my swaer Roessener. Dit was die enigste garageman wat daar was. En toe ek nou daar klaar geleer het, toe ek nou my pampiere kry, toe het ek vir die Suidwes regering op die boormasjiene gaan werk.
Toe daarvandaan, het ek teruggekom, toe ontmoet ek vir Albert op Sandfontein, daar was hy toe besig om vir die Regering putte te grou. En so het ek toe in die land ingekom. Ek het hom maar beginne help. Hy was ook maar arm gewees, hy was ook maar arm. Toe’t ek hom beginne help en dan … Elk geval, na die eerste bek-en-klou, dit was, toe was ons vir drie jaar hier, toe … net na die eerste bek-en-klou, toe’t ons nou beginne spekuleer …
Albert het toe hier alles behartig. En ek het maar met die bees spekuleer. En in ’37 toe’t ons nou besluit om lorrie transport aan die gang te sit. Toe’t ons beginne met, toe koop ons eers ‘n ou lorrie en toe’t ons met dié beginne ry, toe koop ons naand ‘n Desmond T, toe’t ons nou met hom beginne ry, toe was hier nie winkels nie, ons voorsprong was natuurlik daai, jy weet, soos klerasie, vroumensklerasie, of so, die’t ons alles gekoop en weer aan hulle hier kom verkoop want hier was nie ‘n winkel nie …
Dit was amper smousery, met die transport! Enne, in ’38 toe’t ons nog ‘n lorrie bygekoop, toe ry ons nou met twee lorries, enne toe het hulle beginne hier room, die boere beginne toe hier room, … Dis na die bek-en-klou. Toe beginne die boere hier room, toe beginne ons nou hulle room ook aanry, en dit was toe vir ‘n sjieling ‘n kan, Gobabis-toe.
Vraag: Vertel my van Oom Hugo se kinderdae in Suidwes, na Oom se ma se dood is, het die oorlog toe uitgebreek?
HL: Nee dit was net voor die oorlog, toe ek gebore is. My oorlede ma is omtrent in 1914 dood. Maar wat, wat kan ek nou eintlik vertel, ek was … ek weet niks. Man, ons het ‘n plaas hier duskant gehad, enne met die armoedigheid en al daardie, toe moes sy oorlede pa maar bees aanjaag jy weet, Republiek toe. Want daar was mos nie toe, toe was dit omtrent soos dit hier is nou, die bees moes maar almal ondertoe gaan. Nou ja, toe het Albert maar die plaas opgepas daar, maar jy weet hy moes ook maar ‘n verdienstetjie kry want ons het niks gehad nie, ek meen ons het absoluut niks gehad nie. En toe het die Boesmans mos tussen ons bees ingevaar en omtrent alles doodgemaak.
GL: Weet jy, hulle het sommer die skape so oopgesny, as dit dan nie vet genoeg is na hulle sin nie, dan laat hulle hom so lê.
HL: Maar elk geval, dit is hierdie lening besigheid ook. My oorlede pa het toe agthonderd pond geleen by die Landbank, jy weet toe kon hy dit nie weer terugbetaal nie, toe vat hulle die plaas. Dis hoe ons uit die plaas uitgekom het. Dit was dié plaas, die Karolinenhof.
Dit was toe ek nou bietjie groter word, groter kyk soos Albert en my susters en die ander wat groter was. Hulle was toe almal in die Duitse skool, en ons het toe in die Afrikaanse skool ingegaan. Daar was nie sorg nie, ons moes maar bessies pluk!
Hier van Karolinehof af het ons met donkies gery. Ek en Bruno en ons een suster met donkies … Daar was toe nog nie plase tussenin nie … ons moes met donkies, dan hou ons ons donkies natuurlik daar aan by die skool, pas hulle daar op … en as dit vakansie is dan moet ons maar met die donkies terugkom. Dis hoe ons ons het gewoonlik so twee, twee dae gewoonlik gery. Nie padkos nie, niks. Nee wat. Ek meen, om die waarheid te sê ek meen ons … dit is ‘n vreeslike ding om vir een te vertel as jy nou arm is, want dan sien niemand jou mos raak nie, almal kyk jou oor die oog. Jy moet maar net klaarkom. Of jy moet ondergaan, een van die twee.
Dis maar nou, wat ons iets besit, die is maar ons eie doen en late, ek meen ons is natuurlik nou weer gelukkig. Die Lemcke’s, moet ek jou sê, as hulle iets wil doen, daai ding het hom nog nie baasgeraak nie, hy gaan hom doen! Ek meen dit is al, hy kan ‘n plan uitdink. Ek meen dit is, maar nou dit is iets wat van Bo af kom, wat ons gekry het seker met die armoede.
Ek meen ons het maar melk gedrink, moet self maar die koei gaan melk, of sommer met die koei span sit en suip jy so uit!
Vraag: Maar Oom se pa, hy was seker ook nie regtig in staat om na die kindertjies te kyk nie so sonder sy vrou nie?
HL: Hy moes ‘n lewe maak, dan het hy altyd bees Vryburg toe aangery. Dis wat ek sê, ek moes van my veertiende jaar vir myself, ek meen het ek niks meer gekry … eers het ek darem ‘n ou broekie of soiets van my oorlede pa gekry en so … Ek meen ons was so arm gewees lat toe ons in die skool ingegaan het, toe’t ons onderwyser eintlik vir ons jammer gekry en kleertjies gekoop, en die kleertjies moes ons nou self lap as hul stukkend gaan, daar was nie …
GL: Ek het ‘n tannie wat in Springs bly, sy is nou 83 jaar, sy sê vir my dis iets wat sy nooit sal vergeet nie, sy’t eendag by die koshuis gekom daar langs die skooltjie toe sit Hugo sy hempie en lap!
HL: Hierdie jong kinders, vandag, hulle weet nie wat is, wat is ‘n lewe nie. En nogtans was dit lekker, dit was baie lekker. Veldkos was maar ons kos gewees! Die bessie, en die marama, en dan het jy in Suidwes so ‘n lang komkommer gekry … as hy ryp is dan is hy bloedrooi, as hy groen is dan was hy groen. As hy groen is en jy braai hom onder die as, is hy baie lekkerder as die ou rypes. En dan het jy natuurlik die uintjies gekry, en jy’t die artappels gekry, … Jy grou hom ook onder die grond uit. 'n Wilde artappel.
GL: Die uintjie, as hy blom het hy so ‘n wit blom, so versprei hy verskriklik, onder het hy net een stam, dan het hy die blommetjies bo wat versprei. As daai blommetjie doodgaan, dan is die uintjie nou bekwaam, dan kan jy hom uitgrou.
HL: En dan kry jy natuurlik die kambro, en jy kry daai ander wortel, wat jy ook uitgrou, die maramawortel, baie veld-kos.
Marre die ding is soos ek jou sê as jy arm is en jy het niks nie, dan kyk almal jou tog oor die kop, help nou nie om eers vir een te gaan sê “Ek het honger” nie. Beste is stap maar verby. Dit is mos maar net so kyk, as jy nou drink, dan het jy baie vriende, maar hou net op om te drink, dan het jy nie een meer nie. Ek meen ons hele lot, ek meen daar’s nie een wat nou te arm is om ‘n lewe te maak nie. Daar’s nie een wat hoef om kos te gaan bedel nie.
My oorlede pa en my ma het natuurlik ook deur die Kalahari gekom Suidwes toe. Dis soos hulle in die wêreld gekom het, van Kuruman af. Sy was Davina Kruger, Paul Kruger se niggie. Hulle het hier deurgetrek, Rietfontein-toe, daar in die Duitse tyd, daar het my oorlede pa toe ‘n bar opgesit gehad vir die soldate. Nou toe dit nou alles oor is, toe is hy Karolinenhof-toe.
Hier [in Ghanzi] was min of meer net Boesmans, buiten die paar volk wat hier kom werk het, maar dit was maar meer net Boesmans. Ook nie sulke deurmekaarspul soos nou nie, baster-Boesmans en so nie … Die Makauko’s het nou hier aan die noordekant gebly, die Naro’s het hier in die middel langs gebly, en die MaCgirikwas (?) hulle het almal, hulle het nooit gemeng nie. Jy sal hierdie vandag nog nie een van hierdie wat nou tussen ons is, sê hy moet loop Grootlaagte toe nie, hy sal nie loop nie …
GL: Hulle is baie bang vir die Makauko’s.
BEDRYWE EN VAKMANSKAP
Smidswerk en wa-makery
LL: Vertel bietjie mooi hoe julle die band afgerol het en so aan …
AL: Jy het natuurlik … ek meen, die naaf … saag jy maar die blok, die ronde blok, die lengte wat jy wil hê, dan sit jy hom natuurlik in ‘n soort van ‘n draaibank, jy kan hom self maak, ek het myne self gemaak, enne dan sit jy hom ook maar met ‘n lathe braid wiel, as jy ‘n enjin het, is jy welaf, maar ek het maar volk gebruik, om met die hande die groot wiel te draai, en dan die naaf af te draai soos ek hom nou wil hê, … as dié klaar is, dan moet jy hom af, die middelde en so aan, en kap die speekgate uit, met die beitel en hamer, as jy klaar is dan maak jy jou speke, soos jy hulle wil hê, jy kan hulle natuurlik op ‘n hêle paar fatsoene maak, … alles was van hout … die naaf ook.
Nouwel, nou het jy die vellings, die moet jy uitsaag, eerstens meet jy die rondte wat jy wil hê, die buitekantste rondte is natuurlik die helfte van die hoogte van die wiel. Nouja die binnekantste rondte vat jy 4 duim, 4 en ‘n half duim korter, dan het jy weer die binnekantste rondte van die velling. Nouja as dié klaar is, dan word hy geboor, die speke word getap, ingeslaan en dan getap, en dan trek jy die vellings oor die speke, en as dié klaar is, dan skaaf jy hom so bietjie mooi gelyk, soos jy hom wil hê, en as dié klaar is, dan het jy ‘n ander rolwiel, sommer enige stuk plat yster of blik of soiets wat mooi rond is, dan rol jy die houtwiel buitekant af rond, maak die merkie op jou rolwiel, en rol hom af, dan het jy presies die grootte wat die band moet wees. Nou vat jy, vir ‘n agterwiel vat jy driekwartduim korter, nouja daarna gaan jy weer na jou ysterband toe, dan rol jy hom af, en maak dan nou driekwartduim korter as wat die houtwiel is. Sweis jy hom, vat jy die band, die ysterband, sit hom in die kole by die blaasbalk, sit die twee punte oormekaar, en gee hom die hitte, dan slaan jy hom aanmekaar met die sweis, sodat hy aanmekaar vat. Nou as daai klaar is, dan rol jy die ysterwiel af, lat jy die regte merk het, en dan word die ysterband in ‘n vuur gegooi, maak jy rondom hom vuur. En as hy warm genoeg is, dan vat jy hom en dan trek jy hom oor die houtwiel, gooi hom koud met die water. Dan krimp daai yster en hy trek die houtwiel vas.
Hier was baie ou waens wat bly lê het en wa bande en ysters en so rond, jy kan maar orals opgetel … jy kry rou yster, lang ysterplate, en dan buig jy hom self. Jy moet daar ook ‘n soort dinges maak, hy lyk amper soos ‘n wip, met ‘n lig aan, en dan die band koud buig. Of jy rol eers die lengte af van die wiel, hoe groot die wiel is, en dan rol jy die lengte af van daai plat yster, en dan kap jy hom op sy lengte af, en dan rol jy daai yster die rondte wat die wiel moet wees. Dan sit jy daai twee lippe teen, opmekaar, omtrent so ‘n duim opmekaar, slaan hom eers ‘n bietjie plat so ‘n duim opmekaar en dan sit jy hom in die blaasbalk op die kole, en as die hitte daar is, haal jy hom uit en slaan jy hom aanmekaar. Jy’t ‘n blaasbalk gekry wat jy self gemaak het, hy moet getrek word …
‘n Ander een trek hom vir jou … by ‘n band kan jy nie, met so ‘n ysterband kan jy nie alleen werk nie, jy moet handlangers hê, ten minste twee. Jy’t plank, planke gebruik, die het jy natuurlik, ek meen net soos jy ‘n tafelblad maak, aanmekaar gelyn, en gesaag soos jy hom wil hê. Boepensvorm of langwerpig of heeltemal rond, maak nie saak hoe jy hom maak nie. Nouja nou’t jy die buitekantste ding, vat jy leer en jy maak hom in twee helftes, die onderste helfte en die boonste helfte, in die middelte het jy ook weer ‘n soliede plank met twee klappe aan, die een maak toe en die een maak oop, as jy die onderste een pomp, trek, dan blaas hy die lug in, as die onderste een sak, dan trek hy lug en die boonste klap maak toe, op daai manier het hy gewerk.
Ek weet nie of ‘n mens dit so mooi kan vertaan as jy niks daarvan weet nie. Die onderste een het twee klappe, en dan as hy afsak, dan gaan hy oop, dan trek hy lug in, en as jy hom opdruk, dan gaan die klappe daar toe, maar die middelste een het ook dieselfde, ok op en af, klappe, buiten die boonste een, die is solied, hy gee die druk, die drukking, as jy onder pomp gee hy die drukking, dat hy egalig blaas.
Daarvandaan gaan ‘n pyp van die blaasbalk af, na jou es toe. Ek meen dit, moet ok … natuurlik met smidswerk het jy ook die voorste affêre, waar jy nou jou kaggel moet maak, kole opsit en so aan, enne, maak so, hy’t so half hollering en plat, daar waar jy die kole bymekaargooi, en dan gooi jy maar ‘n ander paar kole, of maak ‘n vuurtjie en gooi kole op, en beginne pomp lat hy maar blaas … hout wat gebrand is, gebrande kole, jy kan natuurlik steenkool ook, maar hier waar ons nie steenkool het nie, het ons ook kameelhoutkole gebruik.
Vraag: En hoe brand ‘n mens sulke kole?
AL: Wel, jy vat die droë hout, en pak hulle opmekaar, en steek hulle aan die brand, en as hulle uitgebrand is, gooi jy die kole, die vuur, dood, en dan het jy die kole.
Wawiele
AL: … enne, as hy weer droog word, die hout, dan krimp die hout soveel weg lat die ysterband los is. So daardeur, ek meen as een presies gewees het, moes hy sy wiele, wawiels en so elke jaar goed verf gesmeer het solat hy nie kan die water in die hout ingaan nie. Ja, baie het blommetjies op hul bobalke geverf en strepies …
LL: Dit was nogal iets moois.
AL: Omtrent net soos vandag … die een pas sy motorkar op, hy wil met hom bietjie spog, daai tyd het hulle met die waens gespog.
Huisbou
Vraag: Oom Hugo, is daar nog iets oor die huise wat interessant is om te onthou? Die beplanning, het mense maar twee vertrekkies gebou in die begin en dan rondom aangebou?
HL: Ja, ja, jy weet soos hulle dit nou kon bekostig, want vroeër jare was dit ook alles grasdakke, nie sinkdakke nie. Hulle het nou die mopaniebome gaan kap daar in Maun, of die matjarra-bome … dit was maar die balke gewees. Vroeër jare was hier nogal heelparty dekgras.
GL: En jy weet, soos die kombuis, kyk kan jy mos nou nie, het hulle bossies gepak en dan het hulle klei bo-op gesit, vir die kombuis, sommer enige fynerige bossies. Want ek as kind, Manie Lewis se ma-hulle se kombuis was nog so. Dit was nou die ou Voortrekkers se huis, die Lewis'e se huis, toe’t hulle daarin gebly. Ek kan dit nog so goed onthou! So klei bo-op gehad, gepleister.
Room vir Gobabis
Vraag: Nou maar ek wil nog bietjie hoor van die melkery, die romery ook?
HL: Nou, dit was ‘n geldnood, dis al, om ‘n verdienste te kry, toe die mense begin room en is die room Gobabis-toe gestuur.
GL: Die room is Gobabis-toe.
Vraag: Nou wie het dit aangery?
HL: Ons het dit beginne ry.
GL: Ja, later het my oorlede pa gery. Omtrent die laaste een, het geroom, behalwe ou Burton. Die ander boere het almal geroom.
Vraag: En saam met die room wat hierdie kasein gemaak, nê?
HL: Dis waarmee hulle die plastiese goed gemaak het. Die romery het dit gekoop en ook in grade … 1e grade. Jy het die goed gedroog … Jy hang dit in ‘n sak op, jy weet jy maak dit in ‘n drommetjie dik, dan skep jy die dikmelk af en gooi dit in ‘n sak, dan hang hy vir ‘n dag en ‘n nag dat al daai water sak, dan haal jy dit uit, en dan sit jy hom en jy strooi hom oop, uitloop lat hy droogword. Ons het hulle ook gewas, jy weet jy gooi water in die sak met die dikmelk dat al die suur water uitkom.
HL: Party mense stuur nou nog … party jare. Soos ou Bruno en ou Lambert-hulle … En Lina-hulle. Lina, elke jaar het sy dit gedoen. Nee, want kyk die volk … hulle wil nie meer Sondae werk nie, jy kan eintlik nie room nie. Ja, want kyk die kalwers moet, of dit nou Sondag of Saterdag is, of wanneer, hulle moet hulle melk, en die volk wou nie meer naweke werk nie. En natuurlik mens moet hulle nou sulke hoë salarisse betaal, …
Vraag: En transportkoste is seker ook nou te hoog?
HL: Ja, maar nou die room is darem ook baie hoër as wat hy daai jare, daai jare as jy vyftien sjielings vir ‘n kan room gekry het, was dit baie geld.
GL: Ja, en nou kry jy seker tot elf rand!
HL: Ja, elf-twaalf rand.
HL: Jy weet, as jy ‘n koei het wat die afgeroomde melk drink, dan kan jy daardie koei net ‘n half gelling vars melk ook gee om te drink, dan is sy dood. Dan bars die pens, hy bars, jy kan hom maar oopsny dan is die pens …
GL: Hulle kan net soveel van daai wei drink as hulle wil, dan kom hulle niks oor nie, maar kyk as hulle dit nou gewoond drink is en jy sit die emmers melk daar neer, dan is hulle geneig om van daai emmers se melk ook te drink, en dan’s hy vrek.
Vraag: So hulle het maar gewoonlik al die afgeroomde melk gebruik om kasein van te maak?
GL: Ja.
HL: En dan natuurlik vir die volk gegee, die kalwers en die bokke. En natuurlik het elkeen maar ‘n vark aangehou. Eintlik wat ‘n vark vetmaak is daai wei, die suiker wat daarin is.
Seepkook
LL: Ek het ook maar altyd seep gemaak. Die seep wat ons in die huis gebruik het, het ons gekoop, maar die wasgoedseep het ek maar altyd self gekook. Eers het ons baie elande geskiet dan het ons baie vet, dan vat jy maar net daai klomp vet, gooi dit in ‘n pot, en dan gooi jy nou ‘n emmer water by, laat dit kook, en dan vat jy nou die soda, dan gooi jy elke slag ‘n lepel soda in, bietjie water, dan roer jy dit, dan gooi jy by, dan roer jy hom ‘n ruk, dan later gooi jy weer ‘n lepel soda by, en so hou jy aan tot jy sien hy word seep.
LL: Jy kon enige vet gebruik, ja dit maak nie saak nie. Bokkevet, beesvet, skaapvet …
STAALTJIES OOR LEEUJAG EN BUFFELJAG
HL: Chrisjan Lewis het eenmaal, hier op Sunnyside was ‘n klomp leeus, en ‘n paar manne het gegaan om die leeus te skiet, en die leeus jaag hulle toe uitmekaar. Dit was ‘n klomp beneukte leeus. En hulle gaan sê toe vir ons, en ons is toe weg, dit was toe ek en hy en Joey Coetzee en Niklaas Goosen, en Koos Lewis, Grieta se neef. En ons is toe weg, spoorgevat en die leeu spring toe uit, enne ou Burton, ja ou Burton was ook by, hy’t die kar gehad … toe split die leeus en ou Burton en haar oorlede pa vat toe hierdie, diékantse leeus, maar die leeu loop toe haar pa in, maar ou Burton toe met die kar, toe kom druk hy die leeu weg.
GL: Toe gaan hy tussen die leeu en my pa in.
HL: En ons is toe met hierdie diekant om en ons keer die leeus vas en ek klim toe af en ons begin skiet. Nou staan ons seker so … ons weet nie van hulle nie en hulle weet nou nie van ons nie … maar toe kom die klomp leeus weer bymekaar en ons keer hulle toe voor vas. Toe hulle nou beginne skiet, toe roep ek van diékant af, ek sê “Pasop, julle gaan vir ons doodskiet!” Enne, elkgeval dit, ons het toe die leeus almal platgeskiet, daar staan toe nog een leeu tussen ek en ou Burton, ek sê vir hom “Jong, skiet hierdie een hier voor ons,” toe skiet hy hom dood en ons gaan toe om. Toe ek omkom toe sien ek maar daar sit hy. Nou wat de hel, wat makeer hy nou. Toe ons by hom kom, toe het die koeël deur sy been, tussen die leeus. Enne, wel daar toe met hom daar besig, en hom help en dieselfde tyd staan twee van die blêddie leeus alweer op … gekweste leeus. Toe skiet ons hulle ook plat, en toe’t ons hom op die kar gelaai en ons het hom, gelukkig toe was hier ‘n dokter, net gekom, die nag, en die dokter gaan haal maar die koeël … jy weet, hy’s deur die been, maar hy het nie daai been gebreek nie, net die koeëlronde gaatjie is dwarsdeur. Man, maar hy was mos ‘n man wat nooit gekla het nie.
GL: Hy’t altyd gesê hy’t nie tyd om te sit en kla nie!
INLIGTING OOR DIE EERSTE INTREKKERS
GL: Ja, my oupa Lewies, hy was mos ook … hy’t ‘n ander van gehad en toe op die see, op die skip, toe sterf sy ouers altwee. Toe’t Afrikaanse mense hom aangeneem. Dis die wat jy kyk, dit moet Lewis wees, wat Lewies is. Dit was oorspronklik Lewis en toe’t die Afrikaners hom Lewies gemaak. Hulle’t hom grootgemaak. Dan was daar Piet Lewis, Chrisjan en oorlede Oom Louw (dis nou Fanie se pa), en Manie se pa … Hy’s die jongste.
GL: Kyk, my ma-hulle, ek dink my ma het vir my gesê sy was ses jaar toe haar ouers die land ingekom het. En toe was haar ma kort daarna al weduwee. Sy sê hulle was vier-en-twintig mense in die huis. My oorlede ouma was die enigste een, dis nou ma ma se ma, wat nie siek was nie. Hulle het almal malaria gehad (na die trek). Sy sê in daai tyd was daar mos nou nie jy weet pynpille of so … en toe’s my oorlede oupa dood. Toe moes sy nou die plaas na dit verkoop het vir drie verse. Haar graf is op Ghanzies. Maar Ma-hulle was al groot en toe’s sy eers dood. My ma het ook die eerste tyd, het sy in die Republiek agtergebly, sy het daar skoolgegaan. Ek dink in die Vrystaat, haar oudste broer was daar. Dan was daar die plaas, Aasvoëlkop, dit was die Lewisplaas, in Johannesburg. Dit was nou weer my ouma by die Lewis-kant. Die huis wat Oom Manie-hulle in gebly het, hier, dit was my oupa Lewis-hulle se huis...
Vraag: Hy was dus die eerste Chrisjan? Tannie se pa was die tweede Chrisjan en Tannie se broer die derde Chrisjan?
HL: Hul huis was anderkant waar Albert bly. Net die ou murasie dink ek staan nog daar. Maar jy ry nou nog links langs dit verby. Daar lê baie graftes. Ou Kgoutsa. Hiervandaan is die ou murasie aan die regterkant.
HL: Mense wat hier was toe ek ingekom het was die Lewise, Pretoorse, … van Heerdens, ou Oom Dawid van Heerden en die Taljaards … natuurlik hy, hy, hy was een van die intrekkers wat gekom het en nooit weer teruggegaan het nie. En dan natuurlik die van Stadens.
Oom Bennie van Staden is toe terug toe die newe regering oorgeneem het, maar dis nou sy ouers van wie ek praat. En dan was daar nog ou Burton en dan ou Andy Malone en ou Hardbattle, en ‘n ou Morris …
GL: Hierdie was Freddie Morris-hulle se pa. Weet jy, hy was ‘n dokter. Ek weet nie of hy ‘n dokter in gesondheid of ‘n dokter in geleerdheid was nie, … Nee, sy pa, my ma sê sy ma was die netjieste vrou wat sy in haar lewe gesien het. Sy sê haar beddegoed, die lakens en als was altyd gestryk. Sy was Oom Giel se vrou, se suster, Oom Giel Taljaard. Hulle het 'n plaas gehad net links van Ghanzi, die naam was Nyelatsela.
HL: Kyk, dit was 37 plase wat die Voortrekkers van Cecil Rhodes gekry het. Enne, hulle moet mos eintlik hierdie land opgepas het, in daai tyd. En daardeur het hulle hierdie plase, die 37 plase gekry. Hulle het vyf pond ‘n jaar “good rent” wat hulle gesê het, betaal. En toe later, jy weet, toe hulle nou die nuwe plase beginne uitgee, toe val hierdie 37 plase toe outomaties, dis nou eiendom, al het die persoon die een van die ander een gekoop, dit was die getal plase en dit het … kyk soos hierdie een nou … hy het outomaties … Chrisjan het hom by ou Dawid van Heerden gekoop, en hy het toe weggetrek … maar nog die Vyf rand opbetaal …elke jaar. Net ‘n paar jaar en toe kom dit dat hulle nuiwe … en toe is dit outomaties sy eiendom.
Vraag: Dus, die een wat dit daai tyd besit het, dit was sy eiendom, nie die oorspronklike man s’n aan wie dit uitgegee was nie?
HL: Ja. Kyk, want hulle het toe mos maar die plase so een van die ander een gekoop vir tweehonderd pond of ‘n paar verse en so. Boetie het vir hierdie plek driehonderd betaal met bees.
GL: Manie se pa het sy plaas vir ‘n ryperd verkoop!
HL: Vir ‘n ryperd. Dis waar Albert nou op bly. Maar jy weet, daai tyd was ‘n ryperd meer werd as ‘n motorkar vandag.
GL: Jy moenie dink dat iemand sy ryperd sommer vir ‘n ander een uitgeleen het nie. Elkeen het sy ryperd wat nou sy eie is gehad, en hy’t baie gedink voor hy hom vir ‘n ander geleen het.
HL: Ja, niemand kry hom om te ry nie.
HL: Edmond Gower wat room gery het, die Vickermanns het vir hom kom ry. Hulle pa was al jare terug dood. Hulle ma was ook maar ‘n weduwee, sy’t hulle alleen grootgemaak. Tant Martjie Vickerman, sy is mos ‘n Kotzé. Sy was Theunis Kotze se dogter. Martjie Vickerman en Thys Taljaard se vrou, en dit was Koos Taljaard se vrou, en hier Grieta Miek se ma, dit was die Kotzé’s. Booytjie en Isak, enne Gert, ‘n klomp kinders. Hulle was ook arm mense.
Tant Martjie hulle het seker vroeër jare ook hier gebly, maar jy weet toe was ek nog eintlik te jonk. Toe het sy daar op Kabakei gebly, maar toe’s sy weg. Die kinders, ek weet nie of hy dit so in sy testament beskryf het of wat nie, maar hulle was in die Republiek in die skool. Ek het hulle eintlik maar leer ken toe hulle nou hier kom werk het. Want toe sy daar op Kabakei gebly het was die kinders nie by haar nie, die dogtertjie, die jongste een, sy was daar maar nie die seuns nie. Kabakei is daar by Ghanzi kamp. Die hele Kamp het hulle mos vroeër Kabokei genoem. Dit was ou Jannie Manewijk se plaas.
GL: Dit was my ma se oudste suster. Dit was my ma se oudste suster se plaas.
GL: Die twee Vickermann broers het vir Edmond Gower kom dryf, Gobabis toe. Hulle is toe met die Burton tweeling getroud.