top of page

Beestrekke

Ander Ghanzi
webblaaie

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Ngamiland het reeds ’n beesbevolking gehad toe die eerste setlaars Ghanziland bereik het. Die swartes het nie eintlik belanggestel in Ghanzi se weiding nie en daarom kon die Boere reeds in die eerste jare kuddes opbou. Maklik was dit nie en waterbronne en siektes soos veral gallam het uitbreiding of vermeerdering beperk. Maar daar was wel mense wat geslaag het en ondernemende setlaars het spoedig agtergekom dat beestrekke van een area na ’n ander ’n lonende inkomste gebied het.

 

Daar is egter nie fasiliteite geskep op trekroetes voor omtrent 1938 nie en trekkers het hare op hulle tande nodig gehad waar waterpunte selfs ’n paar dae uitmekaar beskikbaar was. Langs sekere roetes het leeus ook ’n probleem geword en beeste moes snags gehaal word. Maar sommige trekkers het juis verkies om snags te trek omdat die hoë temperature die trekbeeste benadeel het. Ons het ’n paar mooi vertellings uit die mond van veteraantrekkers en oorgelewende stories van die eerste geslag. Die roetes het meer verskil as deesdae waar die hoofroete Ghanzi-Lobatse is. Dit was makliker om oor landsgrense te beweeg.

 

[1] Namate die boere meer gevestig geraak het, het die hoofroete die een tussen Ghanzi en Lobatse geword. Dit het omtrent ’n maand geduur en vrouens en kinders het saamgery op ossewaens. Die beeste is meestal vroeg soggens en smiddae laat aangejaag. Van Sekhuma tot in Lobatse was slegs ’n paar dae. Die 1914 oorlog is een rede waarom die beeste vanaf Lobatse of Mafikeng voordelig per spoor na Johannesburg vervoer kon word. Die nuwe stad was honger vir vleis. ’n Ander roete was na Windhoek, want min kopers het Ghanzi toe gekom. Koos van Staden, Bennie se pa, het in 1910 nog beeste aangejaag deur die Kalahari tot omtrent 1920.

 

Die eerste keer toe Bennie van Staden[2] beeste deur die Kalahari gejaag het, was hy slegs 19 jaar. Hy het aangehou tot 1930, toe hulle as gevolg van droogte baie swaargekry het. Hy vertel dat hy en sy broer agter Chrisjan Lewis en Mr. Burton se beeste getrek het. 700 van hulle beeste het gevrek en dit was erg om onder ’n boom tot 35 karkasse te sien lê. Hoewel Bennie self met 700 getrek het, het hy net nodig gehad om een dier te skiet. Blykbaar was daar ’n pan by Kokong wat nog ’n paar putjies water gehad het, te min vir al die beeste. Drywers het hul in die warm son begin aanjaag omdat hulle ongeduldig geword het. Sommer gou het die beeste begin ingee. Bennie het die pan verbygesteek sodat die beeste nie die reuk sou kry nie. As beeste te dors word en dan te veel drink kry hulle ’n soort vuur in die maag. Toe die depressie erg was teen 1932 het Bennie in Zambië gaan beestrek oor die berge deur die leeuwêreld.

 

Hugo Lemcke[3] het vertel van die vroeë beestrekke, net na die groot bek-en-klou en daarvoor. Hulle het die beeste op Ghanzi water gegee en daarna eers weer op Lehututu, omtrent 150 myl verder. Die volgende mikpunt was by Kokong, waar ’n Indiër by sy winkel reënwater opgevang het. Mens was gelukkig om daar water te kry, anders moes mens verbygaan Mokang toe. Die ryding was ’n donkie, ’n pakdonkie sonder plek vir beddegoed, ketels of potte nie. Mens het geslaap op ’n ou jas wat jy voor op jou saal gehad het en op die saalkleedjie. Jy konnie snags slaap nie, want bedags het mens die beeste vasgekeer om in die nag te trek terwille van die dors.

 

Hugo vertel dat hy eenkeer met jongosse getrek het. Op Okwa het hy Grieta se broer, Chrisjan Lewis, van vooraf teëgekom nadat Chrisjan slagosse afgelewer het en dus vooruit getrek het. Hy het sy swaer omgepraat om saam te trek. Daar het hy gesien dat ’n man loop en slaap ... Bedags moes hulle keer dat die beeste nie op loop gaan nie. Later het ryker trekkers ’n skotskar gebruik en nog later ’n lorretjie. Maar Hugo lag oor vandag se trekkers, wat selfs ’n sonsambreel saamvat!.

 

[4] Die twee veterane het gesit en besin oor die dorslandtrekke toe so baie mense en beeste dood is. Hulle het besluit dat dit was as gevolg van onkunde, dat dit met hulle nie so sou gegeaan het nie. Die geheim was om in die nag te trek en nie bedags nie. (Bennie van Staden het dieselfde gesê) Fanie [5] het daarop gewys dat daar al die jare net drie waters was op pad na Mafikeng of Labotse. Tog het hulle nie beeste verloor nie. Maar hulle het van ’n vreeslike gebeure vertel in 1933. Die beroemde Chrisjan Lewis, Magiel Petoors, Andries Petoors en Magiel Vermeulen was optrek, maar in die dag in plaas van snags. Hulle het meer waterplekke verwag, maar toe hulle die teendeel besef was dit te laat. Hulle het omtrent 600 beeste van dors verloor.

 

Booy Kotzè[6] vertel dat hy in die beginjare net met pakdonkies getrek het, met paksaals. Hy het vir 130 myl genoeg 4 gelling kanne water gelaai. Hy het die kanne aan die paksaals vasgemaak. (Hy lag omdat hulle deesdae nie met 2 dromme water deurkom nie!) Hyself het ’n ryperd gehad, maar as hy moeggery was het hy die perd vêr ente gelei. Al hulle voorrade was op pakdonkies, met 2 volk spesiaal daarvoor gehuur. Daar was mieliemeel, suiker, tee en koffie. Hulle het nooit medisyne gevat nie, behalwe Mag-asperien vir hoofpyn. Hy weet nie van iemand wat op die trekpad siek geword het of gesterf het nie. Deur die nag moes hy perd ry by gebrek aan suiping, soms voor, soms agter die beeste in die donker. Gelukkig was daar nog nie leeus gewees nie. Daar was baie swartes by Lehututu en Kokong, maar niemand het hulle gepla nie. Statte was vêr van die putte af en het hulle emmers met rieme opgetrek. Waar daar baie mense was, het hulle mans gehuur om water te trek vir die beeste. Die name is opgeskryf en dan vat die helpers ’n paar beeste  op ’n slag water-toe. Ongelukkig was dit meestal brak water. "Soms het die bek so gestaan!".

 

Dit het een aand gebeur dat Booy Kotzè se beeste weggehardloop het. Hy het met 400 osse getrek van Bailey's op Maun. So tienuur die nag het die enigste perd by die beeste begin bang word en het gesnork. Hy wou nog die swartes sê om die bees te stop, toe lê die leeus die trek voor in die pad. Maar party beeste was reeds verby toe skrik die res van die trop en hardloop terug. Daar was wilde Boesmans ook by wat vir twak die eerste nag sou help. Dit was baie donker en het hy net een perd en die beeste het in drie groepe verdeel. Dan jaag hy een groep bymekaar en maak vure tot die swartes bykom. Dan jaag hy na die volgende groep. Eenslag het hy iets agter hom gehoor. Hou hy stil, is alles doodstil. Ry hy weer, hoor hy dit weer. Die volgende môre was 60 beeste kort. Daar was 130 myl dors voor, hy kannie omdraai nie. Toe gee hy een swarte kos en water en stuur hom terug na waar die osse seker reeds by die vorige water by Okwa sou wees. Daar was net een os by die beeste en die leeus het net die wit os gevang. Die swarte het toe die 60 beeste teruggevat plaas-toe en Booy is vort met die res.

 

Booy het homself gelukkig geag met sy beestrekke, maar eenkeer onthou hy goed. Een nag het hy ook pakdonkies gehad en die beeste het geskrik en gehardloop. Die donkies hardloop toe saam en in die proses val die waterkanne af en die water loop uit. Dit was nogals die dag voor Kersfees ... Hy was te vêr van die vorige water af om terug te gaan en twaalfuur die middag toe lê hy moedeloos langs die beeste onder die bome. Die perd was gespan en wei naby. Moes hy trek of nie? Sonder water? Toe sien hy ’n duif bo-op ’n matopiboom en dink daar moet iewers water wees. Die duif koer-koer ’n paar maal en hy onthou die kant is ’n kalklaagte met ’n paar gate. Hy kon toe al sy kanne daar gaan vol maak.

 

Booy Kotzè[7] het grafies van nog ’n water drama vertel. Dit was tydens ’n tog van Ngamiland af huis toe met onder andere ’n vrag mielies en kole. Die pad was baie klipperig en het die waterkraan van die wa gebreek en al die water het uitgeloop. Hy het gesit en wonder wat om te maak – hy konnie die vrag daar aflaai om terug te gaan nie, en vorentoe het ’n 100 myl se dors hom ingewag. Toe merk hy op dat die osse weggedwaal het en hy wou hul probeer keer. Maar hy kon eers nie ’n spoor kry, want hulle het hulle eie pad gemaak en al agtermekaar geloop. Hy kon sien hulle pote was vol klei en hy kom toe af op ’n kol groen gras waar hulle gestaan en wei het. Dit was waarskynlik ’n poel reënwater van ’n hele ruk vantevore, so lank gelede dat die gras gegroei het! Toe die osse klaar gedrink het, kon hulle die waterkanne vol maak. Die osse moes die water geruik het van die pad af.

 

Cassie van Heerden[8] vertel ’n dorsstorie wat jou verslae laat. Hy was op ’n trek in 1929 toe ’n klomp beeste weggehardloop het. Hy was te voet agter hulle aan, en vir drie dae was hy sonder water. Op pad terug met die beeste het hy verby Lehututu getrek en ’n Engelse winkelier, Mr Whiteman het van die storie gehoor. Hy was bang dat Cassie homself sou dooddrink as hy by die water kom, want sy mond was oopgebars en tong opgeswel en Cassie konnie verder sien as omtrent 150 treë nie. Die winkelier was ’n klein mannetjie en konnie Afrikaans praat nie. Hy stuur toe ’n klomp Bakgalagadi om Cassie te gaan dwing na die winkel, waar hulle hom toegesluit het – die winkelier buite by die venster. Toe begin hy Cassie lawe met bietjies-bietjies "orange squash" so deur die venster. Cassie was glo heel verwilderd van die dors en die man was bang vir hom. Eers naderhand het hy vir Mr Whiteman deur middel van sy paar woorde Engels gesê hy kan maar oopsluit, hy sal nie verder water drink nie. Een Makgalagadi moes by die deur waak en Cassie en die winkelier het binne tee gedrink, wat nie te warm moes wees nie. Cassie wou na sy beeste toe gaan, maar die man het gesê hy moet bad en rus, hy sou vir die beeste sorg. Na die bad was dit nog vroegmiddag, maar Cassie het eers die volgende môre wakker geword.

 

Cassie[9] het die beeste met pakosse aangejaag, maar duskant Lehututu het hulle vir iets geskrik en deurmekaar gejaag. Hulle het deur die nag getrek en kon eers in die dag begin soek. Bennie van Staden het toe die pakosse oorgeneem en sy ryperd vir Cassie geleen omdat hy die ligste was en die beeste moes gaan keer. Maar die beeste was moeilik, keer hy hier, spring hulle soontoe en so het hy gesukkel van tienuur die oggend, tot sononder sonder om 200 treë te gevorder het, Van Staden-hulle het hom nie gaan help nie. Hy het die perd gespan maar konnie vuurmaak nie omdat hy nie gerook het nie en dit was ’n baie koue nag in Junie. Hy het ’n sloot gegrou, gras bo-op en onder hom gestrooi en die saalkleedjie bo-oorgesit. Maar hy het byna verkluim. Dit was die oggend so koud dat hy byna nie die saal kon vasgespe nie. Hy moes weer die beeste se spoor vat en kom toe sonop by ’n Boesmanstatjie, waar hy hom by hulle vuur wou warm maak. Hulle het so aan hom gevat dat hy sy stiebeuel uitgetrek het, het gedink hulle wil hom vermoor! Eers toe een sê: "Môre Baas!" het hy besef dis ’n groetery. ’n Stuk of drie het hom gehelp bees soek en na ’n dag, ’n nag en nog ’n dagtrek het hy by Lehututu gekom. Cassie was vies vir Bennie en Fanie van Staden en Gert Kotzè wat hom nie gehelp het nie. Hulle het net ’n paar beeste versamel en verder getrek om by water te kom, Tsaane langs.

 

Cassie het na aanleiding van die gebeure vertel dat dit dikwels so gegaan het. Tot omtrent 1938 was daar min geriewe langs die trekpad. Soms het hy senings gekou. Soms het dit gereën en dan was sy saal se seilkleedjie sy enigste bedekking waar hy op sy knieë staan met sy kop op die saal. As dit gereën het moes hulle kraal maak vir die beeste en dan was daar nie tyd vir kamp nie, en min geriewe op die pakdonkies. Maar dan was die beeste nie dors nie!

 

Booy Kotze[10] het vertel hoe hulle met transport vir die plaasmense die pad Ngamiland goed geleer ken het. Eers sou hy net hulle eie beeste aangejaag het, maar toe het hy dit vir ander mense ook begin doen. Hy het tot agt dae sonder water getrek. Dit was in Novembermaand, maar hy het snags en soggens tot omtrent tienuur getrek. Daarna het die beeste onder bome gelê tot namiddag. As hy sien hulle begin wei, kon hy weer met hulle trek. Dan het hulle die perde langs en agter hulle gelei. Snags het hulle ’n lamp voor en agter die trop gehad, maar daar was nie op daardie pad leeus nie. As hulle vir ’n nag kraal gemaak het, het die lanterns om die kraal gehang. Daar was wel leeus op die Kalaharipad gewees en by Ghanziland.

 

[11] Hulle het soms ’n waentjie gehad wat deur donkies getrek is. Die vernaamste was drinkgoed vir jouself en die helpers, asook een of twee sakke suiker. Mieliemeel was stapelkos, en water was noodsaaklik. Oom Booy het gewoonlik twee helpers by die trekgoed gehad en agt by die beeste. Kooigoed moes ook op die waentjie gelaai word.

 

[12] Langs sommige roetes was daar putte waar trekkers vir beeste kon water kry. Putte her nie ’n rol gehad nie en is water opgetrek met emmers aan ’n riem. Hulle het nie vir die water betaal nie, maar het mense van die omgewing gehuur om water op te trek vir die beeste. Toe moes hulle later jare by plekke betaal het vir water, veral by witmense se boorgate. Maar die eerste waterverkoper was ’n Indiër by Kokong wat reënwater in  ’n dam opgegaar het. Cassie was omtrent 11 jaar gewees in 1921 toe hulle water moes koop!

 

Cassie van Heerden het genoem van pakosse, maar Thys Taljaard[13] het vertel hoe sulke osse geleer is en op die trekpad gebruik is. As die kalwers nog jonk was, is party uitgewys as pakosse en ander as ry-osse. ’n Gat word gesteek deur die sagte plekkie bo-aan die os se neus en daardeur ’n pen of stok. Die os word groot met die stok deur die neus. As die os geleer word, kom 'n mikkie weerskant van die stok. ’n Riem word aan ’n dun riempie vasgemaak, dis die toomteuels soos met ’n perd. Dan klim jy op en ry hom, maar omdat sy vel los is, gooi die os jou baie af. So ’n ry-os kan verder ry as ’n perd, veral deur die Kalahari. As hy so ’n gangetjie loop, ry hy ’n perd dood! ’n Mens moes net die los vel gewoond wees, want die kombers en saal beweeg saam met die los vel. Die os  se bouvorm is baie soos die van ’n perd, behalwe vir die skof. Hulle het 2 gorte gebruik, ’n pensgort en een om die bors.

 

Thys[14] vertel dat die Taljaard familie baie van pakosse en ry-osse gebruik gemaak het in plaas van perde toe hulle die land ingekom het. Thys het ’n ry-os gehad, genaamd Haastag. ’n Perd konnie vir Haastag inhaal as hy aan die gang was nie. Die gang van ’n ry-os was baie soos die van ’n kameel. Boon-op kom die ry-os met minder water klaar as ’n perd.

 

[15] Oom Bennie Petoors en Bertie Adams het met 500 uitgesoekte osse getrek van Nogajaap(?). Nogae is 25 myl reguit suidwes van Ghanzikamp af, aan die grens van die ou Kalahari. Albei mans was bejaard en het ’n skotskar (’n Oskar met 2 wiele en ’n tent bo-op) gery terwyl die swartes die osse oppas. Na Noegai het hulle Sandsputs-toe getrek by die Hanahairivier en daarvandaan na Okwa. Toe hoor hulle dat ’n pannetjie genaamd Draai vol water gelê het. Die osse was al 3-4 dae sonder water en hulle ruik toe die water. Hulle storm toe die pan, maar 500 beeste het so getrap en gemaal dat hulle niks gedrink het nie. Toe draai hulle om, want die beeste het laas op Noegaai gesuip. Hulle ry in die kar en die beeste hardloop in die warm son, hulle gaan huistoe! Die perde word moeg, die aanjaers kan nie bybly nie en die osse hardloop elkeen na die plaas waar hy gekoop was. Maar van Okwa af het hulle onder bome begin inkruip, dood dors. Tot 40, 50 het onder een witgatboom bly lê. Daar is steeds dooie bene daar rond. Hulle het hulle dood gehardloop. Omtrent 200 beeste het anderkant uitgekom, maar die omgewing het gestink van die karkasse. "So agterlosig was die oumense ook!".

 

[16] Op ’n ander keer het Charlie Sharp se broer Frank van Tsau af met beeste getrek oor Kobe-pan. Daar was ’n groot put waar 4 mense gelyk kon staan en water skep en aangee vir een om in die krip te gooi. Frank het ook so in die kar gelê terwyl ’n klomp Ngami swartes aangejaag het. Niemand was voor die trop nie en toe hulle water ruik na 2 dae se trek, het hulle begin hardloop. Hulle het die put so toegetrap dat 75 daarin dood is.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Beestrekke (Bladsye 113-124) 

[1] (A II 6) Martjie Goosen

[2] (A II 8) Bennie van Staden

[3] (R I 2-4) Hugo Lemcke

[4] (H I 7) Fanie Lewis & Cassie van Heerden

[5] (H I 7) Fanie Lewis

[6] (V I 7-10) Booy Kotzè

[7] (V II 1) Booy Kotzè

[8] (H II 1-2) Cassie van Heerden

[9] (H II 3-4) Cassie van Heerden

[10] (W II 5-6) Booy Kotzè

[11] (W II 10) Booy Kotzè

[12] (I I 3) Cassie van Heerden

[13] (Y I 2-5) Thys Taljaard

[14] (Y I 4) Thys Taljaard

[15] (Y I 5) Thys Taljaard

[16] (Y I 6) Thys Taljaard

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page