top of page

Laurika Jerling neé Du Toit

Die Ghanzi Geskiedenisblad se ontstaan  is te danke aan Laurika (Pollie) Jerling wat sedert 1967 dagboek gehou het van alles wat rondom haar gebeur - met die natuur, die reën maar ook al die verskillende mense om haar. Sedert sy en haar man, Dirk, se aankoms in Ghanzi het sy hierdie nota’s bewaar en verwerk, omdat sy intens belanggestel het in mense maar ook besef het hoeveel kosbare kennis aan die verlore raak was en wat die opteken daarvan vir die oorspronklike vestigers maar ook hulle nageslag sou beteken. 

Pollie (volg die skakel om foto's van haar te besigtig) was altyd aan’t oplees en studeer oor een of ander onderwerp en het ’n besondere skerp waarnemingsvermoë gehad, maar oor allerhande onderwerpe toegewyd inligting versamel en netjies georden. Behalwe haar eie nota’s het sy ook gesorg dat die onderhoude wat haar dogter, Willemien le Roux, in 1980 gedoen het met van die oumense wat toe nog geleef het, oorgetik en goed bewaar sou word. Eers was hierdie versameling in die Potchefstroomse Universiteit se argief bewaar maar na ongeveer 12 jaar het die argief van tema verander en is die materiaal aan Pollie en Willemien teruggegee, waarop Pollie die sowat 20 onderhoude van 2-4 ure elk, wat sy jare gelede getranskribeer het, weer oorgetik het, hierdie keer op ‘n rekenaar. Dit was ‘n reuse-taak, want sy was reeds na aan 70 jaar oud toe sy haar rekenaar gekoop en haarself begin leer het hoe om alles oor te tik, die feite verder na te vors en in temas te organiseer. Behalwe die onderhoude het sy haar eie nota’s ook in temas verwerk en kruisverwysings gedoen, ‘n taak wat meer as ‘n dekade jare geneem het. Haar toewyding en ook haar vasberade oortuiging dat Willemien ‘n weg moes vind waarop die geskiedenis by die mense self kan uitkom, is waaraan hierdie inisiatief te danke is. Hoewel sy en Dirk nie as rasegte Ghanzilanders beskou kan word nie, het hulle meer as 40 jaar hulle lewens aan die landstreek en sy mense gewy en daarom verdien haar eie, besondere verhaal ook ‘n plek in die ry van Ghanzi se enigmatiese karakters.

In November 2018 sou Pollie 92 jaar oud gewees het as dit nie was dat sy in 2012, op 85 jaar oud,  aan ‘n skielike infeksie oorlede is in Gaborone, Botswana nie. By nabetragting oor haar lewe staan een ding soos ‘n paal bo water: Hierdie vrou het oral waar sy gewoon het en tot in haar later jare, uitgestaan as besonders; alhoewel sy diep skugter was en niks gehou het van op die voorgrond te wees nie. Haar aantreklikheid, atletiese figuur en haar intellek, maar ook haar onselfsugtige diensbaarheid en die toewyding waarmee sy uitgereik het na ander, is wat mense steeds goed onthou. Mense het haar bewonder, maar ook met ‘n mate van ontsag, sodat sommige Ghanzimense haar na baie dekades daar steeds as “Mevrou Jerling” aangespreek het. Hierdie ontsag was gedeel deur  haar vyf kinders, Willemien, Nelie, Annatjie, Linda en Hendrik, wat maar lig geloop het vir hulle Ma se oordeel en opinie!  Die skoonseuns het ook hulle beste voetjies voorgesit en ook haar twaalf kleinkinders kan getuig dat hulle soms selfs ‘n bietjie lugtig was vir hierdie Ouma! Maar tog sou niemand haar as kwaai kon beskryf nie, dit was meer ‘n geval dat haar eie voorbeeld van vasberadenheid, wilskrag en self-dissipline, ook haar onbuigbare beginselvastheid, totale eerlikheid en ongelooflike werkkrag en uithouvermoë ontsag ingeboesem het.  Ma Pollie het nie agterdeurtjies en verskonings aanvaar nie, reg en verkeerd het vir haar geen grys gebiede gehad nie. Hierdie beginsels het sy bly handhaaf soms onder groot aanvegting. Dat sy haar lewensuitkyk kon volhou aan die sy van ‘n charismaties flambojante maar ook baie impulsiewe en onkonvensionele man, Dirk Jacobus Jerling, het dit nog meer merkwaardig gemaak. Almal het geweet waar hulle met haar staan; elke uur van haar dag was benut en vooruitbeplan en luiheid en uitstel kon sy nie verduur nie. Dis die dat haar dogters (selfs toe hul self al Oumas was) steeds ‘n tydskrif of storieboek sou neergooi en wegsteek as Ma Pollie bedags op hulle instap! Om van TV kyk in die dag nie eers te praat nie…!

Wat het hierdie besonderse mens gemaak wie sy was? Was haar strewe na orde en regulasie haar buffer teen die onvoorspelbaarhede van die ongestruktureerde pionierslewe?  Of was dit haar boei in die oseaan van onsekerhede wat haar kinderjare gekenmerk het?

Laurika du Toit is op 1 November 1926 gebore, te Wembley, Engeland. Pa Frans du Toit was Handelskommissaris en later Eerste Sekretaris by Suid-Afrika-Huis en die gesin het vir twee tydperke in Engeland gewoon, iets wat sterk en blywende indruk op hul almal gemaak het. Dis in hierdie eerste jare in Engeland wat ‘n besoekende oom (Prof. Joon van Rooy) die klein dogtertjie Rollie-Pollie begin noem het en die Pollie bynaam bly steek het. Die naam Laurika was ‘n familie-tradisienaam, gedeel deur talle ander niggies en tantes, almal vernoem na Laurika van Biljon, die vyfde vrou van ou Vader Dirk Postma (stigter van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika).

Toe Pollie drie jaar oud was, het hul teruggekeer na die Unie van Suid-Afrika met tuisverlof totdat sy Graad 1 aan die Laerskool Pretoria-Oos voltooi het. In 1934 is die gesin weer terug na Engeland en moes die kinders weer aanpas by die Engelse kultuur en skole en die tipiese Engelse bestaan, selfs ‘n voltydse “nanny” en “dinner parties”, wat hul ouers vir belangrike mense moes aanbied. Dinge soos brugpartytjies, High tea, tennis en klavierlesse, perdry en polo speel was deel van haar en haar twee sussies, Sophie en Linda, se grootwordkultuur.

In 1940 breek die Tweede Wêreldoorlog  uit.  Pollie se sterk-ontwikkelde sin vir regverdigheid bring die klas in oproer toe sy uitspraak maak dat die Duitsers mos maar net aan die Jode doen wat die Engelse aan Boere gedoen het. Met ‘n Pa in die diplomatieke diens, moes hierdie saak op hoëvlak ondersoek word totdat die owerhede oortuig was dat die Du Toits nie Duitse spioene was nie! Namate die oorlog al nader na Engeland gekom het en hul veiligheid in gedrang gekom het met die bomaanvalle op Londen, is amptenare se gesinne na hul tuistes verskeep en moes Pollie en haar twee sussies hulle Ma, Mien du Toit, na Suid-Afrika vergesel. Sy onthou die bootrit as opwindend en vol speletjies met interessante mense. Sy was nou 14 jaar oud en die gesin het in Goudstraat, Potchefstroom gewoon. Na twee jaar het Mien egter weer by haar man in Engeland aangesluit en Pollie en haar suster Sophie het by hul Oom Wicus du Plessis gaan woon, ‘n Professor in Filosofie. Kleinsussie Linda het by hul Oom Vaatjie (Fanie) du Toit gaan woon, hul oom aan vaderskant, na wie die Universiteit se sportterrein vernoem is.

In 1944 is die gesin egter weer verenig, toe hul Pa aangestel word as Sekretaris van Handel en Nywerheid en later Finansiële Adviseur van Minister Eric Louw. Hulle woon eers in Muckleneuk, Pretoria en daarna in Waterkloof, maar moes elke 6 maande na Kaapstad verhuis om naby die Parlement te wees. Pollie was egter reeds ’n student aan die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, ‘n instelling wat gegroei het uit die Gereformeerde Teologiese Skool wat deur haar oupa, Prof. J.A. du Plessis, begin is en waarvan haar Pa, Frans du Toit, later die Kanselier was.

Pollie was ’n modelstudent, in teenstelling met Dirk (Jalla) Jerling, die aantreklike Eerste Rugbyspanspeler (ook vir Wes-Transvaal gespeel) wat sy oog op haar gehad het, maar wat sy studies nie te ernstig opgeneem het nie.  Sy het BA-tale studeer met Afrikaans en Engels as hoofvakke en was ook lid van die Alabama Studentegeselskap. (Sy het jare later nog nagmerries gehad oor die klavierstuk Liebestraum  van Liszt, wat sy by elke vertoning moes speel). Sy het volkspele, tennis en hokkie gespeel en ten volle probeer deelneem aan die studentelewe. Dus moes dit vir haar ook ‘n skok gewees het toe haar sanger-troebadoer, rugbyspeler-tokkelok Dirk skielik in sy tweede jaar sy vertrek aankondig, nadat hy sy boeke voor Gatland-koshuis dramaties in ‘n gat begrawe het! Sy plan was om op die kopermyne in Zambië geld vir sy  boerderydrome te gaan verdien dat dit vir haar moeilik moes wees om die kêrel se uitkyk op die lewe aan haar familie te verduidelik, was seker. Maar die verhouding moes seker egter lank reeds familie-onrus teweeggebring het, want die agtergronde van die twee verliefdes het dramaties verskil. Dirk is gebore aan die Rand, Johannesburg, in Springs-omgewing. Sy Pa was Hendrik Diederik Lodewikus Jerling en sy ma Cornelia (née Coetzee). Hendrik Jerling was ‘n myner op die goudvelde van die Witwatersrand en afkomstig van die Knysna boskappers wat hout aan Engelse spoorlyne voorsien het, maar wie se nasaste later noord getrek het, myne toe. Cornelia was as klein dogtertjie in die Konsentrasiekamp by Howick en het haar vader verloor direk na die oorlog. Hulle het ook alles wat hulle opgebou het op ‘n plaas buite Potchefstroom verloor, dus het Pollie se toekomstige skoonmoeder ook nie eintlik ooghare gehad vir die Engelse nie! Dirk was die vyfde kind uit ‘n gesin van ses.

Pollie het agtergebly om haar B.A. te voltooi (met lof) en het daarna ‘n sekretariële kursus aan die Pretoriase Technikon voltooi. Haar opleiding in vergaderingprosedures en administrasie het later baie goed van pas gekom by verskillende boereverenigings en werk by die Oos-Transvaalse Koöperasie by Bethal, maar ook op Ghanzi saam met Dick Eaton. Sy het na haar graad gaan werk by die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS), voltooi in hierdie tyd ook haar Finale klaviereksamen. Al hierdie jare het sy getrou gebly aan Jalla. Nadat sy seker gemaak het dat sy haar ouers se verwagtinge vir haar opleiding nagekom het (en sekerlik ook totdat sy hulle nie hoef geld te gevra het vir haar planne nie) kondig sy tot hul groot onsteltenis aan dat sy op pad is na Noord-Rhodesië, om met Jalla te gaan trou, daar in die vreemde. Tot hul eer het hulle gedoen wat van hul verwag sou word onder sulke omstandighede en kennisgewings uitgestuur wat hul dogter se huweliksplanne bekendgemaak het. Om ook seker te maak hulle lewer haar veilig af, het hulle gereël dat sy saam met Minister Eric Louw vlieg tot in Luanshya, Zambia, waar Jalla op die kopermyne gewerk het en by sy suster Sannie en haar man ingewoon het.

Na ‘n aanvanklike misverstand oor haar aankomsdatum, waardeur Pollie haarself per huurmotor by haar verloofde se huis moes aanmeld, is Pollie en Jalla gewoon een Sondagoggend in die kerk getroud, as ‘n gewone sakramentbediening in die erediens. Met ‘n eenvoudige Broderie Anglaise rok sonder ‘n onthaal was ook hierdie geleentheid tipies van hul albei se hekel aan aanstellerigheid en vertoon. Familielore is dat Jalla se arme suster darem een pienk versierde koek gereed gehad het vir die gemeente wat toe wel kom tee drink het! Die predikant was ‘n kleinneef van Pollie, Ds. Jacs Van Rooy wat daardie jare gemeentes in die buiteland bedien het.

Pollie was deurentyd ‘n onderskragende en ondersteunende eggenote. Haar avontuurlus het goed gepas by Jalla se droom om boer te word en sy het haar pa aan haar kant gekry wat die behoefte betref. Met sy bemiddeling het hulle verskeie boerderye bestuur, van Virginia in die Vrystaat tot Welkom, naby Magudu (Pongola distrik, Natal) totdat hulle ‘n eie plaas bekom het in die omgewing. Vier van hulle vyf kinders word daar gebore en Jalla was in sy element. Kleintyd se vogtige omgewing het Pollie egter lewenslank sensitiewe longe besorg en die warm humiditeit van Noord-Natal het haar vir soms weke in die hospitaal laat beland met asma-aanvalle. Jalla moes sy droom opgee en na ‘n ander klimaat trek, dus het hulle eers op die Hoëveld (Bethal omgewing) geboer totdat hulle Pollie se erfplaas, Klipfontein in die Trichardtspoort kon gaan oorneem. Hier het dit 7 jaar lank goed gegaan en kon Pollie en die kinders hulle verlustig in die idilliese omgewing, met vrugteboorde, rivier, verskeie damme, berge waarin klowe, grotte en watervalle was; vir die Jerlingkinders ‘n ideale wonderwêreld. Ekonomies het die boerdery hier egter nie sin gemaak nie. Al wat moontlik was, was gemengde boerdery, maar vir elke aspek daarvan was daar net te min grond om winsgewend te kon wees. Pollie het ook in hierdie jare hard gewerk om ‘n plaaswinkel te bedryf en het help vleis bewerk wat hulle gelewer het aan slaghuise in Witbank en Bronkhorstspruit. Die kinders het busgery na die Bultfontein plaasskool naby Verena en van die bushalte af in die Trichardtspoort af geloop na die mooi gewelhuis genestel in die berge.

In 1966 sien Jalla ‘n advertensie in die Kerkblad vir ‘n plaasbestuurder te Dekar, Botswana, wat toe pas onafhanklik geword het. Eers gaan die hele klomp kyk, tydens ‘n Desembervakansie. Al vyf kinders word agter in hul Dodgebakkie geprop en ‘n avontuurlike reis deur die woestyne van Namibië, via Aranos en Windhoek, neem hulle na die stowwerige doringvlakte met die naam Dekar. Wat was die skok groot vir Pollie en haar dogters, toe Jalla dadelik besluit dit is waar hy wou bly!

Binne die volgende maande het hulle die Transvaalplaas verkoop, die oudste kinders in Gobabis in die koshuise geplaas en Ghanzi toe getrek om vir Aranos se Gereformeerde Kerk as plaasbestuurders te kom werk op hul nuutgestigte sendingpos, die plaas wat die gemeente geruil het van oom Thys Taljaard wat besluit het om Namibië toe te trek. Die ooreenkoms was dat Jalla sy eie beeste kon aanhou as vergoeding vir die onderhoud van die plaas en geboue en dan ook die Tswana sendeling, Ds. Andries Rampa, sou bystaan met praktiese sake. Die Rampas vertrek egter binne die eerste twee jaar en Jalla word sommer sendeling ook, wat kinders doop, nagmaal hou, huisbesoeke doen, troos ens. Intussen tref die werklikheid, dat 3,000 hektaar grond in die Kalahari nie dieselfde drakrag het as waar hulle eers geboer het nie en moet Jalla grond byhuur om genoeg beeste aan te hou om te oorleef. Pollie moet weereens terugval op ‘n plaaswinkel vir inkomste, want hulle huis was reg langs die hoofpad Maun toe. Sy het elke dag verskeie brode gebak, groot skottels gaar bokvleis en vetkoeke, glase gemmerbier en ander kruideniersware verkoop, maar moes ook regstaan en gasvryheid bewys aan talle onbekende rylopers, wat enige tyd van die dag of nag gestrand geraak het, soms vir weke! Sy moes ook gereeld groepe kerkbesoekers en selfs studente uitreikspanne huisves en het dus tot op haar oudag nog nagmerries gekry oor groepe mense wat  in die middel van die nag van ‘n trok afklim en sy moet vir hulle kosmaak, sonder voorrade.

Wat haar kinders onthou van hierdie jare, is dat hulle Ma al hierdie take verrig het sonder klagtes en daarby nog alle oorskietkos en reste eenkant gehou het om dit soggens vroeg as byvoeding uit te deel aan die vele halfverhongerde TB pasiënte wat sy in ‘n ry laat staan het, om seker te maak hulle neem hulle medisyne reg in. In hierdie tyd het Pollie en Jalla opgehou om suiker in hulle tee te drink, want Ma Pollie het ’n voorbeeld daarvan gemaak om elke lepel suiker wat hulle sou gedrink het, in ‘n botteltjie te gooi in plaas van in die tee, sodat sy dit soggens vir die siekes kon gee. Kort voor lank was die meeste van ons se lepeltjies suiker ook in daardie botteltjie…

Soos wat Jalla in hierdie jare die eerste koshuis vir Sankinders begin en bestuur het, wat gelei het tot die regering se “Remote Area Dweller” hostels in afgeleë gebiede, is dit ook nie algemeen bekend dat Pollie die eerste buitekliniek bedryf het, in samewerking met die kliniek op Ghanzi nie. Die kliniek is begin deur verpleegster Patricia Guenther, vrou van ‘n antropoloog wat 18 maande op D’Kar kom navorsing doen het. Patricia het Pollie betrek en opgelei om by haar te kon oorneem, wat sy toe ook met sukses en toewyding kon doen, behalwe waar gevalle te ernstig was en na Ghanzi verwys moes word. Sy was dus goed op hoogte van allerlei siektetoestande en van heinde en verre moes sy mense behandel vir TB, wanvoeding, diarree, geslagsiektes, ontstekings en wonde. Uit hierdie kliniek het vele ander ontstaan by nedersettings en buiteposte en is die sogenaamde Community Health workers-sisteem in plek gestel.

Die Gereformeerde Kerk Ghanzi was nou ‘n wyk van Gobabis en histories was hulle bymekaarkomplek die “ou huis” op D’Kar se agterstoep. Pollie moes dus ook koster speel vir die gemeentelede wat Sondae al van vroeg af begin aankom het en voor én na die diens tee en koffie moes kry! Jalla het die leesdienste oorgeneem asook die San gemeentetjie bedien in hulle eie geboutjie. Hy was ‘n begaafde orator, ‘n passievolle Dopper en het sy Bybel goed geken, albei gemeentes het dus sy gawes waardeer. Aranosgemeente se aanbod om hom as “Artikel 8” predikant voor te stel om sy oorspronklike roeping na te volg en sonder kwalifikasies beroep te kon word, het hy telkemale van die hand gewys, sterk ondersteun deur Pollie wat nie geglo het in kortpaadjies nie!.

In 1971 was al vyf kinders op skool en Willemien moes Universiteit toe, dus moes Pollie en Jalla noodgedwonge gaan skoolhou op Gobabis, aan die Hoërskool Wennie du Plessis. Vir drie jaar het hulle bande behou met D’Kar en vakansietye teruggegaan na die plaas wat hulle gehuur het, om so op ‘n afstand albei lewens te kon bestuur. Hier het hulle ‘n eenvertrek kleihuisie gebou en moes Pollie op die oop vuur kook en die kinders se katels het in ‘n ry onder ‘n boom gestaan, want ‘n huis was daar nie. Hulle meubels was nog in die huis op D’Kar want Jalla het nog op afstand sake daar vir die kerk bly bestuur.

Om vir die skoolhou te kon kwalifiseer moes hulle albei egter verder studeer deur UNISA. Pollie moes haar Hoër Onderwysdiploma kry en hier kom Jalla uiteindelik weer voor die akademie te staan. Hierdie keer druk hy deur al was dit moeilik, veral die tye in Botswana, om so by die lamplig saans te studeer. Maar hy behaal uiteindelik sy B.A. graad met Geografie en Volkekunde, dieselfde jaar as sy oudste dogter!

Die jare as onderwysers het ‘n interessante tussenspel in hul lewens gebring. Eers het hulle ingewoon in die laerskoolkoshuis maar naderhand ‘n eie huis in die dorp gehuur, ’n voordeel vir hul drie laaste kinders wat toe uit die huis kon skoolgaan. Pollie is deur hul skoolhoof, Mnr. Daan Opperman, beskryf as die ‘hardwerkendste’ onderwyseres wat hy gehad het en Jalla as die ‘gewildste’ onderwyser ooit. Pollie het musiekles gegee, toneel en koorsang en Engels gegee tot matriek, terwyl Jalla hokkie en rugby afgerig het, Bybelkunde gegee het en selfs ‘n boere-orkes begin het.

Toe hulle later permanent weer teruggekom het Botswana toe kon Jalla aansoek doen om grond by die regering, teen ‘n bekostigbare prys. Maar die ware koste kom eers later, want die plaas was totaal onbewerk en onontwikkel, met geen water nie. Om die boordery na water te kon bekostig voer hulle hier ‘n uiters eenvoudige pioniersbestaan aan die rand van die Sentrale Kalahariwildtuin. Hul moes hul beeste beskerm teen leeus, luiperds en hulleself teen slange en hondsdol jakkalse, terwyl hulle die een droë boorgat na die ander boor. Die plaas se 28 droë boorgate roei amper al hulle ambisies uit.

Tog was die jare op Dusegai nie ongelukkig nie. Pollie, wat altyd haar eie huiswerk gedoen het, kon as gevolg van haar huisloosheid haarself heerlik verdiep in navorsing oor Kalahariplante, onder andere acacia van alle soorte, die sterrestelsel, ook haar seëlversameling uitgebrei en ook verdere werk aan die Ghanzigeskiedenis. Haar groot vrees was steeds die ontvang van onverwagse kuiergaste, want hulle had geen telefoon, geen yskas of stoof nie, alleen ‘n gastekamer en ’n kantoor. Dikwels moes sy weer onverwagte etes improviseer oor ‘n oop vuur in die son, want daar was maar een yl boompie op die werf. Tog was dit goeie jare, hulle kinders was uit die huis uit, Jalla het geweet hoe om liefde te gee aan vrou en kinders, en niks rondom hom was ooit vervelig nie. Tussen hulle het die humor behoue gebly. Hy was ‘n gewer soos min en goed belese, van alles het hy iets geweet, want hy het letterlik die ganse Ghanzi- biblioteek se boekvoorraad deurgelees.. Hy kon enige ding regmaak met draad en tang en skewe improvisasies het hom nie gepla nie. Hy en sy saamgestelde, unieke voertuie het ‘n legende geword in die geweste.

In 1994 verhuis hulle na Shakawe, om besproeiingsboerdery te begin by Samochima. Dit was die begin van Pollie se koeltejare,  met uiteindelik genoeg water. Eers woon hulle in ‘n tent, maar later bou skoonseun Willie de Graaff vir hulle ‘n ‘regte’ huisie onder die vyeboom. Jalla smous tussen die villages met kool en mielies en kry die bynaam “Botoko”, wat verwys na pyn, want weereens was hulle nie alleen die enigste vervoer maar ook die enigste verpleërs in hierdie afgesonderde omgewing.

Pollie wy haarself egter nou met erns toe aan die digitalisasie en ordening van haar nota’s. Na ongeveer tien jaar druk sy 3,000 getikte bladsye met ‘n 187 bladsye indeks uit en noem dit die Dekarkroniek. Willemien help soek na die beste plek om hierdie inligting te versamel, want Pollie hou vol dat niemand dit mog lees tot na haar dood nie en dan alleen as bona fide navorsing! Uiteindelik kom die versameling, met foto’s en biografiese gegewens, tuis by die UNISA argief. Pollie kon nou verder verwerk aan haar Shakawe notas en sy takel ook die navorsing rondom die onderhoude wat die Ghanzigeskiedenis webblad sou word.

Pollie was diep gelowig, hoewel baie privaat oor haar Godsdiens. In die jare na haar kinders uit die huis is, kon sy egter haar lewe inrig volgens haar Christelike beginsels en wêreldbeskouing, want sy was sterk gekant teen selfverryking en gierigheid.  So het sy uit beginsel gesorg dat sy nooit meer sou hê as haar daaglikse behoeftes nie, sodat sy haar naasteliefde in Woord en Daad sou kon betoon. Haar eie huiswerk doen was vir haar vanselfsprekend, al was sy soms depressief oor dinge wat sy nie kon verander nie, het sy met meedoënlose wilskrag enige selfbejammering bekamp. Sy het selfs haar eie wasgoed met die hand gewas (en getrap, om sommer haar aërobiese oefeninge met die werkie te kombineer). Pollie het harde werk en toegewydheid aan ‘n eenvoudig leefstyl veredel en passievol nagestreef, as ‘n geloofsdaad maar ook saak van eer en plig. Luukse geskenke en wat sy as oordadig beskou het, het haar diep verontrus, want om op haarself te bespaar het haar in staat gestel om meer te kon gee aan die wat minder gehad het as sy. Soos die teelepeltjies suiker in die botteltjie van vroeër jare, het sy hier op Shakawe ook luukses soos duur kosse (kaas, avokado, koeldrank, sjokolade, ens.) alleen vir kuiermense bewaar en haarself daarvan ontneem, ook rondryery streng beperk tot uiters een keer per maand. Sulke ritte was dan ook uiters goed beplan, om alles in een trip te kombineer. Om haar uitgawes so te beheer het haar vreugde verskaf, want so kon sy skoolkinders in die omgewing kon aanmoedig om beter te doen op skool. Elke skoolvakansie het groot getalle kinders vir haar hul rapporte kom wys en as daar vordering was, het hulle per kwartaal ’n geldjie gekry vir aanmoediging en vir skoolfooie, skoene ens. Behalwe hul daaglikse betrokkenheid by siekes en ander behoeftes het sy en Dirk het ook ‘n span van vyf weeskinders versorg, deur die skool gesien en ook graag studente gehelp met die transportgeld om by hul kolleges en die Universiteit uit te kom.

In 2012, slegs drie maande voor haar dood, kom oorhandig sy toe die keurig uitgesorteerde, goed nagevorsde hoofstukke oor die voorgeskiedenis van Ghanzi aan Willemien. Hoe jammer dat sy nie beskore was om die finale stadium van haar groot werk beleef nie, om te kon ervaar hoe al die mense van heinde en ver, wat nou hieraan deelneem, gedagtes, herinneringe en foto’s uitruil. Om te kon beleef hoe almal saam “skryf” aan die geskiedenis sodat die webblad bly groei met inligting en onderhoude, ‘n taak  wat haar De Graaffkleinkinders nou voortsit, sou haar oneindig plesier verskaf het. Pollie het eenmaal gesê, as sy ‘n beroep of ander lewe sou kon kies, sou sy ‘n ondersoekende joernalis wou gewees het. Hierdie geskiedenisblad is ‘n ode aan daardie droom van ‘n merkwaardige vrou.

 

Enkele herinneringe van haar kinders:

Willemien le Roux: ”Ma het altyd eerste gekom by Pa en Pa eerste by Ma. Ons kinders was nou wel daar, maar het geweet ons kom soort van agteraan. Ons onthou sy hand op haar knie as ons in die kar ry, die ewige love songs. Hy was Bing Crosby en Nelson Eddy. Sy was Oklahoma se perdekarnooi, sy La Bohéme met die bevrore handjie. Mens sien hulle steeds soggens sit by hulle ontbytroetine, met voëltjies wat hop op die tafel. Eintlik hoor mens hulle al van ver af. Hulle eet Pa se aweregse pap wat nog nie so waffers gaar is nie, met Ma se roosterbroodjies en lekker vars, warm tee uit die fles. En hulle lag. Hy vertel weer ‘n storie soos net hy kan vertel en sy het weer iets om haar dag mee te kleur, ietsie om te gaan opskryf vir latertyd. Van kleintyd af het ons geweet Ma sal nooit vir ons lieg nie. Ons Ma van waarheid, ‘n Ma van beginsels wat nie buig nie. Ma van vasbyt. Waar niemand anders meer kan uithou nie, gaan sy voort. Ma van ‘mind over matter’, die beste maak van wat jy het. Ma wat glo dat daar Een is wat alles beheer.”

Nelie Redman: “Ek kan net sê dat ek van my kleinste onthou-dae geweet het ek is geliefd en welkom en dat niks in die wêreld Pa en Ma sou kon onderkry nie. Dan onthou ek ook ‘n paar lekker vakansies , wat ek nou nog nie kan dink hoe hulle dit kon bekostig het nie! En ons het net nooit daai jare besef dat dit ‘n klomp geld moes kos nie! Hulle grootste les aan ons was dat alle mense nie dieselfde hoef te wees nie. Aanvaar almal soos hulle is. En wie sal ooit die bord warm kos in die middel van die nag op Dekar vergeet na die hele dag op die lorrie van die skool af?”

Annatjie de Graaff: “Op universiteit wou ek en Willemien vir Ma verras met nuwe klere en toe, oor ons onsself so groot gesien en Ma so klein in ons oë, het ons die klere ver te klein gekoop, so ‘n bruin langbroek.  En toe die Aranosmense vir Ma geld gegee het om vir Ma self iets te koop het ma ‘n paar village-vroue vir hulself laat materiaal uitsoek met die geld. Kosmaak en baie mense het Ma ontsenu en tog was Ma se kos die lekkerste! Toe ons eendag kla dat ons nie talente het nie, het Ma vir elk ‘n lysie gemaak van ons goeie hoedanighede.”

Linda Klopper: ’n Paar grepe uit ‘n magdom herinneringe. “My Ma het ‘n yslike wilskrag. Sy oefen elke dag - haar brein en haar spiere! Sy doen Bybelstudie, oefen blokfluit en keyboard, sy weet alles wat in die wêreld aangaan. Sy het gereeld vir ons briewe geskryf en vir elkeen ‘n trommeltjie beskuit vir die koshuis gebak. My Ma het vir ons mooi “sungleam” rokke gemaak uit NTC se winkel, ’n beperkte begroting laat klop en vir my koue Oros gebring toe ek pampoentjies gehad het…”

Hendrik Jerling: “Ek onthou Pa Dirk wat die Bedford met ‘n “rim” gestart het en dan die susters se verleentheid daaroor! Ek sal ook altyd Pa Dirk se humorsin onthou en Ma Pollie se pligsgetrouheid.”

Saamgestel deur Neeltjie Bower, Annatjie de Graaff en Willemien le Roux     - gaan terug na bo - 

 

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page