top of page

TRANSPORT, TREKPAAIE, POSRY

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

TREKPAAIE EN TREKKERS

(1) Oom Bennie van Staden vertel die eerste trek was meestal mense van Buhrmansdrif, Zeerust en ook van af Rustenburg. Hule het nie deur aansporing van ‘n leier getrek nie, want die plase in destyds se Betsjoeanaland is aan hulle gewillig deur Cecil John Rhodes. Bennie se oupa was Koos van Staden, en hy is oorlede met die terugtrek. Meeste van die eerste trekkers het teruggegaan as gevolg van ‘n gebrek aan inkomste in Ghanziland en het nie weer in 1905 getrek met die tweede groep nie.

(2) Die eerste trek het deur Serowe gegaan Maun toe. (Daar was nog nie ‘n dorpie nie) Hulle het die Swarts se slee-pad gevolg, en van Maun-toe oor Sehitwe Ghanzi-toe gery. Dertig jaar vantevore het Hendrik van Zyl en sy tien kinders die pad oopgekap in hul ossewaens. Die nuwe intrekkers kon dus ‘n wapad volg.

(3) ‘n Ander groep het bekend geword as die Dorslandtrek (Nie te verwar met die Transvaaltrek van die 70erjare nie. Hulle het vanaf Palapye af getrek en baie gesukkel met water). Martjie Goosen het vertel van ‘n dogtertjie wat by koppies (Kuke?) so dors was dat sy gesterf het. Daar was water by Daggakamp en mense het begin ‘putse’ grawe. Die mense het so min osse gehad dat hulle koeie ingespan het. Hulle het al langs ‘n groot rivier getrek terwille van water vir die vee, maar met die laaste skof Ghanzi-toe was daar net by Kuke(s) water gewees.

(4) Jan Burger het vertel dat hy met ‘n ossewa Kanye-toe transport gery het terwyl sy skoonpa op Lehututu vanaf 1914 gebly het. Hy het vir Terry Gower voorrade aangery, maar dit was sleg as die panne droog was agv min of geen reëns. Dan moes hy die trekosse uitspan en vorentoe of agtertoe stuur om te druik na gelang van omstandighede.

(5) Toe Jan Burger later in Ghanziland ingetrek het, was daar wel ‘n pad suidwaarts, maar as dit nie gereën het nie, was die enigste water by Okwa. Daarvandaan na Lehututu was nog 5 dae se trek.

(6) Die vernaamste transportroetes was van Ghanzi na Maun, en van Ghanzi Lobatse-toe. Soms het mense Zambië toe transportwerk gedoen en in Fanie Lewis se jongdae het mense met donkiewaens tot by Windhoek transport gery.

TRANSPORT RY

(7) Kassie van Heerden en Fanie Lewis snr. stem saam dat die sogenaamde Dorslandtrekkers nie oor die latere Maun getrek het nie. Een trekpad was tot aan die rivier en dan verder al aan die regterkant van die rivier, reguit van Rakops af deur Toteng-toe. Kassie het in ‘n boek van Mophiphi gelees, waarvandaan die Dorslandtrekkers na ‘n “Lake” gegaan het, wat Rakops moes bedoel het. Die leier van die trek was Thys van Wyk, en die boek se naam was “Noordwaarts”. Nogtans verwys Fanie Lewis na sy pa Louw se trek gedurende 1896-97.

(8) Fanie Lewis en Kassie van Heerden vertel saam van die verdere trek Angola-toe in 1921. Hulle sê daar was daardie tyd meer blankes in Ghanziland as in 1980. Fanie dink die Du Plessis’s en andere het maar na families getrek wat reeds in Angola was sederd die 1870 Dorslandtrek.

(9) Kassie van Heerden vertel met smaak hoe hulle per ossewa jaarliks inkopies gaan doen het. ‘n Wa het baie plek gehad, en die gesin het saamgegaan. Kos, kruie, materiaal, van alles moes daar genoeg gekoop word.

(10) Albert Lemcke het vertel van transportry tussen Windhoek en Gobabis. Dit was na 1914 se oorlog (1918?) Hy het ‘n ou donkiekar gebruik en dit was vir die Jood Heindelberg en sy swear Sternberg. Sam Silbes het in ’24-25’ in die land gekom, en toe het Albert vir hom gewerk. Die trippe met die donkiewa was maar selde, en Albert maak min van die ou wapad waarlangs hy moes ry. Die paar kere dat riviere na reën afgekom het, kon die donkies darem ‘n paar dae rus. ‘n Trip het ‘n maand geduur - twee weke in elke rigting. Baie waens het ‘n halftent opgehad, met ‘n katel bo. Dan laai mens die spasie onder die katel vol, en voor in die wa. Die vrag was gewoonlik tussen ses en seweduisend pond - meer as drie ton.    Dit was maklik om die gewig te bepaal aangesien die winkelier/verkoper alles geweeg het.

Baie Ghanzi boere het van af Windhoek transport gery. Lena se pa, Chrisjan Lewis, het selfs tydens die Wêreldoorlog vir die Duitse troepe rantsoene aangery. Tydens die Damara-oorlog was daar orals troepe wat versorg moes word. Op Rietfontein was bv. ‘n “feste” gewees.

(11) Dit moes Eersterus gewees het waar al die Kotzè-seuns by hul ouers gebly het. Booy Kotzè vertel dat hulle so elke 2 maande ‘n ossewa ingespan het om in Ngamiland te gaan voorrade haal. Ossewaens was dit vernaamste vevoer. Vir ‘n bruilof het mense wat vêr gebly het, met ‘n wa gekom!

(12) Thys Taljaard vertel dat hy donkie-transport gedoen het tussen Dekar en Gobabis. Daar was nie ‘n winkel op Ghanzi nie, hy het maar gebring wat mense bestel het, meel, suiker en selfs paraffien. Onder andere moes hy voorrade saamry vir Charlie Sharp se smouswinkeltjie op Kalkfontein. Die betaling was ‘n pond (R2) vir ‘n 100 (Hy het +/- 9000 lbs op die donkiewa gelaai). Hulle het omtrent 15 dae gery vanaf Dekar na Gobabis terug met ‘n vrag beesvelle wat hulle aan Sam Silber in Gobabis verkwansel het. Hy het elke bestellingkie opgemaak met die kliënt se naam daarop. Langs die pad word elkeen se bestelling afgelaai tot by die huis.

Hulle moes 24 donkies per wa inspan. Dawid van Heerden, Louw Lewis, Chrisjan Lewis het naderhand aangesluit, asook Gert Drotsky en John Lewis, toe was hulle ‘n hele konvooi op ‘n slag onderweg. Die uit- en inspan waar hulle oorgeslaap het was ‘n hele bedryf, want elkeen het boonop ‘n paar spaar donkies gehad. Een uitspanplek was net by die grens waar Piet Lewis en later die Vize’s geboer het. Rietfontein was nog ‘n uitspanning en op Seribe waar die Vickermans bly. Tussen Seribe en Rietfontein was nie water nie. Olifantskloof, of Mamono, het ook putte en fonteine gehad. Die Angolaboere was sedert ’28-‘29 op plase in S.W.A en daar het hulle ook water gehad. In Gobabis was ook fonteine. Hulle kon ‘n week rus op Gert Drotsky se plaas.

(13) Op pad huistoe van Gobabis af het die konvooi maklik ‘n sak suiker gebruik vir al die drinkery. Van die huis af het die ma’s gesorg vir beskuit, maar op pad terug moes hulle vetkoekies bak en pap maak. Vir vleis was hulle toegelaat om ‘n springbok of steenbok te skiet. Die jongs het om die beurt gekook.

(13) Party mans het hul vrouens saamgeneem maar later is die jong ongetroude seuns en mans gestuur. Terug op Ghanzi het die donkies so 15 dae of ‘n maand gerus, behalwe as mense ‘n tweede span donkies gehad het waarmee hulle dadelik kon omdraai.

Die rede vir die donkies in plaas van osse is dat beeste nie oor die SWA grens toegelaat was nie. Mens kon wel die osse op Olifantskloof los, maar daar was te min water vir die osse vir 15dae. Dit was makliker om heelpad donkies te gebruik.

(13) Die donkies of esels was taai genoeg, maar kon net twee myl per uur met hul kort treëtjies deur die sand vorder. Tog kon mens tot 9000 pond op ‘n 16 bokwa laai. Twee manne moes heeltyd loop en dryf met ‘n sweep & voorslag, een in die middel van die span en een agter. Hulle het die swepe gewaai en af-en-toe gepiets, om hulle wakker te hou, maar nie geslaan nie. Met die tyd het elkeen ‘n uitsoek span gehad. Hulle het tot eenuur die nag getrek. Skelm wegwei donkies het klokke om hulle nek gedra. As die klokke stil word, staan die hele span. Soggens kon hul die wegweiers hoor en gaan haal sonder ‘n soekery.

(14) Fanie Lewis het vertel dat hy saam met pa Louw tussen Windhoek en Gobabis met ‘n donkiewa transport gery het. Hy was maar veertien jaar oud gewees. Louw het ‘n donkiewa gehad met 2 Boesmans om te help, en ‘n De Jager by Omiitara het aan sy twee seuns elkeen ‘n wa toevertrou. Fanie moes hul derde wa vir hulle dryf. Die drie seuns het een Swarte gehad om hulle te help, maar hy het eintlik net die osse opgepas as hulle uitgespan het. Hulle het nie touleiers gehad nie en moes self oor die weg kom. Dit tog was nie lank nie, omtrent 2 weke altesame. Hulle het van af Omaruru vragte gelaai Gobabis-toe en daarvandaan is die De Jagerseuns weer huistoe. Transportry vanaf Windhoek was vir die winkels, want daar was nog nie ‘n treinspoor nie. Later jare het hulle net donkiewaens gebruik. Almal het die inkomste nodig gehad, want Ghanzi het min geleenthede gebied.

POSRY

(15) Fanie Lewis snr. vertel dat sy pa Louw, eerste die  kontrak gehad het om pos te vervoer vanaf Ghanzi na Gobabis. Hy het met ‘n donkiekar gery. Later het sy seun Fanie die kontrak oorgeneem, ook met pak-osse, maar dit was net tussen Olifantskloof en Gobabis.

Van Olifantskoof af het Hottentotte die swaar seil possakke gedra na Ghanzikamp toe. Die volle rit of proses het omtrent ‘n maand geduur.

(16) Hoewel die Boesmans (of Hottentotte) die sakke aanvanlik dwarsdeur gedra het, het daar ‘n mislukking gekom.Die draers het die pos binne die grens aan ‘n boom by Seribe op gehang en verdwyn Makoukouveld toe. Die possakke het gelyk soos deesdae se privaatsakke, net groter.

(16) Na die mislukking is die kontrak verdeel met Olifantskloof as die skeiding. Die Hottentotte het ‘n mondfluitjie geblaas as hulle op die Kamp aankom.

(16) Fanie beskryf sy poskar. Dit was ‘n oop karretjie met vier tot ses donkies. Die kar was van ‘n wa-se voorstel gemaak, met ‘n bakkie van planke vir die pos en sy bagasie. Sandfontein naby Olifantskloof was eintlik sy basis, want daar was ‘n groot polisie gebou nog van die Duitsers gewees. As hy dan Gobabis-toe ry, het hy Jock Brody en Van der Spuy se room gelaai.

(17) Fanie het ‘n Boesmantjie saamgehad. Die voorste donkietoom was vas aan lang rieme tot agter en daarmee stuur mens hulle. Die karretjie het nog ysterwiele gehad en Fanie het die “stelletjie” self gemaak. Daar was net 2 wiele, soos ‘n skotskar, en mens moes afklim voor mens uitspan, want dan “tiep” die stelletjie! Die disselboom lê op die grond.

(17)  Maria Lewis vertel van ‘n keer toe so ‘n karretjie met haar en sussie Annietjie deur die bos gehardloop het saam met ‘n trop beeste wat geskrik het. Sy het Annie vas geklou, die leisels was los. Gelukkig was daar nie gate nie.

(17) Donkies het almal name gehad, soos osse, maar elke drywer het sy eie manier gehad om met hulle te werk. Donkiename was dikwels Swartland, Vaaltyn, Domkrag, Kolbooi.

(18) Daar is verwarring met Thys Taljaard se vertelling. Hy beweer Hedwig Kotzè se pa, William Camm, het die poskontrak gehad aan die Suidweskant vanaf Olifantskloof. Daarvandaan na Ghanzi het Louw Lewis oorgeneem.

(19) Kassie van Heerden het vertel dat Boesmans met mikstokke wel pos gedra het, al drawwende maar dit was net boodskappe tussen plase. Pos is andersins van Gobabis af vervoer met pakdonkies.

(20) Thys Taljaard se verduideliking van die verdeelde poskontrak tussen Ghanzi en Gobabis maak vir my meer sin. Louw Lewis het gery Ghanzi-toe van Olifantskloof af, maar daarvandan na Gobabis was William Camm, Hedwig se pa, die kontrakteur. Camm het die possakke op donkies gelaai. Dit het so eenmaal ‘n maand gebeur.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Posry (Bladsye 94 – 96), Trekpaaie en transportry (Bladsye 97 & 80 – 86)

(1) (A I 4) Bennie van Staden, (A I 8) Bennie van Staden

(2) (A I 6) Bennie van Staden

(3) (A II 2) Bennie van Staden en suster Martjie Goosen

(4) (C I 6) Jan Burger

(5) (C I 8) Jan Burger

(6) (H I 4) Kassie van Heerden

(7) (H I 5) Kassie van Heerden en Fanie Lewis

(8) (H I 8) Fanie Lewis

(9) (J II 5) Kassie van Heerden

(10) (U II 5-7) Albert Lemcke

(11) (W II 3,5) Booy Kotzè

(12) (X I 5-7) Thys Taljaard

(13) (X I 8-9) Thys Taljaard

(14) (G II 9) Fanie Lewis

(15) (G I 10) Fanie Lewis

(16) (G II 1-2) Fanie en Maria Lewis

(17) (G II 4) Fanie en Maria Lewis

(18) (X I 8) Thys Taljaard

(19) (I II 7-7) Kassie van Heerden

(20) (X I 8) Thys Taljaard

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page