top of page

Martha Hendrika Peacock (née du Plessis)

Martha Hendrika Peacock (née du Plessis).

Onderhoud deur Willie Potgieter en Neeltjie Bower.

Ghanzi, 2019.

My oupagrootjie was Casper Jan Harm du Plessis en hy was getroud met Ouma Miemie, sy was ‘n Van Staden. Hulle was deel van die trekgroepe wat in die laat 1880’s uit Suid- Afrika Noord beweeg het, maar het hulle uiteindelik in Ghanzi kom vestig.

My oupa was ook W.J.I.M (Willem Jacobus Ignatius Michael) du Plessis en my ouma Martha Magdalena du Plessis (née Kruger). Sy was een van Paul Kruger se broers se dogter. My pa is gebore in Ghanzi in 1913 en ook hy het die name Casper Jan Harm du Plessis gekry. Hulle was drie kinders. Baie van die trekgroepe het egter eers lank gestaan by Rietfontein, naby die Namibië grens en van daar toe weer verder versprei, soos toe hulle later saam met ‘n ander Dorslandtrekgroep wat verby gekom het na Angola toe getrek het. My ouma wou glad nie trek nie, want haar man en een seun is hier in Ghanzi oorlede en begrawe. Die kinders het egter besluit hulle trek en sy moes maar saam. Angola was glo die land van melk en heuning en heelwat van die boere het getrek soontoe. In 1928 het hulle almal egter teruggetrek uit Angola uit, Namibië toe. Dit was nog die destydse Suidwes-Afrika. My pa het dus as kind in Namibië aangekom. My pa het my ma in Gobabis ontmoet. Sy was Cecilia Johanna du Plessis. Hy het toevallig ook met ‘n Du Plessis vrou getrou! Haar ma was ‘n Van der Merwe. My pa het op die paaie gewerk en my ma se pa het geboer daar by Summerdown. My ma se mense was met die eerste Dorslandtrek al deur Angola toe, waar haar mense 50 jaar gebly het voor hulle uiteindelik terug is Namibië toe.

In 1946 trek my ouers toe weer Ghanzi toe. Ek self is in Namibië gebore asook my een broer. My ouers het nege kinders gehad maar vier is oorlede in Namibia. Hulle het almal net ‘n paar uur gelewe. Dit was tuisgeboortes. In die ou dae was daar swaar tye en mense het meer kinders verloor as vandag, met al die dokters wat mens kan help. Die kinders wat oorleef het is die oudste ‘n seun, Casper Jan Harm (Soon), Martha Hendrika (Martjie), Hendrik Nicolas (Driek), Maria Katriena (Marietjie), my sussie wat tans in Pretoria bly. Ek weet nie wie was die vroedvrouens in Namibië nie, maar in Ghanzi was dit tannie Annie Burger en ’n kleurlingvrou, ou tannie Kuti. Hulle het baie babatjies in die lewe help bring. My suster Marietjie is in Ghanzi gebore, Driek is in Gobabis in die hospitaal gebore en ek is op die plaas in Gobabis gebore. Driek en Marietjie het matriek gemaak in Zeerust en daar gaan werk. My ander broer ook. My oudste broer wat hier klaargemaak het met skool bly nou in Nelspruit. My oudste broer het homself deur sy werk in n kollege ingeskryf in die Kaap, hy het gaan swot en homself gekwalifiseer met NTS I, II en III.

My pa het vir Mr Burton gewerk vir ‘n hele paar jaar. Hy het n klompie bees by Mr Burton gekry om te melk. Die roomgeld was dan sy salaris. Jy het jou room met ‘n trok Gobabis toe gestuur met jou inkopielys wat dan weer saam met die lorrie terug gekom het. Rantsoene, sout en alles het van die Romery af gekom. Ons het ook kasyn (kaseïn) gemaak van die melk. Dit is die droë melk. Hulle het die melk in dromme laat dik word en dan word dit in goiingsakke gegooi wat gehang was met ‘n punt so ondertoe dat al die water kon uitloop. Dan is dit styf vasgedruk en ingepers en dan het hulle die volgende oggend daai droë melk gevat en deur ‘n sif gedruk en in die son drooggemaak en in sakke verpak wat ook weggestuur is. Kasyn word gebruik vir oliekleedjies. Destyds het ons nie van plastiekdoek gepraat nie net van oliekleedjies.

Ek was vier jaar oud toe ons Ghanzi toe getrek het. Ons het op Koutsa skool gegaan. Albertus Lemcke het vir ons skool gegee. Hy het standerd 8 gehad so hy was dus die verste geskool hier op Ghanzi en moes dan die ander ook leer. Ek dink hy het ‘n baie goeie werk gedoen want ons spel beter as baie mense. Hy kon ook al die vakke aanbied. Ons het tot atletiek by die skool gehad al was ons min. Ek dink ons was dalk net twintig? Ons het vreeslik lekker gespeel. Rowerbendes en “cowboys and crooks”. Oom Piet Lewis en tannie Pop het vir oom Chrisjan Lewis (seun van oom Christiaan Lewis en Tannie Lenie Lewis née Drotsky) gewerk en ‘n groterige huis gehad en ons het daar in hulle huis gebly. Dit was dus ons koshuis.

Baie kinders het soggens gestap of met die donkiekar skooltoe gery. Plase was nader aanmekaar.

Later het ons tuisonderrig by my ma gekry en daarna was ons in D’Kar op skool. Tant Kotie Craill (née Burger), het op D’Kar weer vir ons skool gehou. Daar was later ook ‘n Mnr. Weyhe. Hy was die eerste gekwalifiseerde onderwyser. Sy vrou Elize Weyhe en Tannie Kotie het hom gehelp. Elize was oom John en tannie Martjie Lewis se dogter. Oom Manie Lewis was haar broer. Tannie Kotie was die dogter van oom Jan en tannie Annie Burger. Dink hier was ons maklik 50 kinders! Die koshuis was langs die ou klipdam by D’Kar en skool was oorkant die pad ‘n entjie verder. Meisies het in die ou huis geslaap en seuns in rondawels. Die Britse regering sê toe hulle sal die helfte van die skool se onkostes dek, dan moet die boere die ander geld self insamel. Boere het baie hard gewerk om geld in te samel en kon daarmee die koshuis bou. Ant Lettie Taljaard het na ons gekyk. Sondae dan gee tannie Lettie vir ons bietjie mieliemeel en ‘n pot en dan kon ons in die veld gaan piekniek hou. Dan het die seuns ‘n haas of twee doodgemaak en dan eet ons almal saam pap en haas in die veld. Dit was so ‘n lekker vrye kinderlewe! Die Lewis kinders het by die Taljaards gebly. Ek het net standerd 6 gemaak. My pa wou nie hê ek moet verder leer nie. Oom Gert Kotze se drie kinders het ook by die Taljaards gebly. Sannie, Maria en Willie het in die week daar gebly en baie keer naweke ook. Oom Booy Kotze se kinders, asook die Taljaardkinders het ook by tant Lettie gebly en was soos haar eie kinders. Marie en Johannes Taljaard(wat nou in Pitsane woon, Wicus Taljaard se pa), was Ant Lettie se eie kinders. Tannie Annie Wallace het, het by Ant Annie Burger, haar pa se suster, grootgeword. Bob, Jaap, Tokman, Jim, Theunis en nog ander kinders, het ook by Ant Lettie grootgeword. Baie van die kinders was Ant Lettie se broers en susters wat oorlede is se kinders wat sy moes grootmaak. Daar was groot verantwoordelikhede op haar. Oom Fanie Kotze was siek en sy moes dus na al sy kinders ook omsien. Ek weet nie hoe het oom Thys en tannie Lettie ente bymekaar gebring nie, maar hulle het. Dapper, hardwerkende goeie mense. My ma het baie keer baddens vol groente wat sy op die plaas geplant en geoes het met die roomlorrie vir hulle gestuur. Niemand het ooit geld vir groente gevra nie, want almal het geweet daar is baie kinders wat moet kos kry. Die jongste Taljaard kinders, Koos en Annie( Wallis) nèe Kotze, het by Oom Jan en tant Annie Burger gebly. Die oumense daai tyd het baie liefde en omgee gehad. As iemand swaargekry het, het jy gaan help. My ouers was arm maar ons het altyd groente geplant, bewerk en kos in die huis gehad. Een keer het ‘n vrou ‘n briefie vir my ma geskryf en gevra of ons iets het om te stuur want hulle het niks in die huis om te eet nie. Daar was baie kinders na wie sy moes omsien en die kos was net te min! My ma het toe ‘n klomp kos gepak en gestuur. Ons het daai tyd ook makataan geplant in die land. Die makataan is gesny en opgehang om te droog , in klein stukkies gesny en gebêre vir kos. Dit was in linnesakkies gebêre dat as ons groente opraak dan kook ons die makataan. Dit het baie soos droë vrugte gesmaak as jy hom kook. Hulle het suiker bygegooi as daar was.

Ons het lampe in die aand gebruik wat in ‘n skottel water gestaan het waarin die lastige goggas kon val. Party mense het kerse ook gehad. Ons het ook so ‘n gaslamp gehad wat mens gepomp het, in die sestiger jare.

Boorgate is geboor toe ek so 13 was. Voor dit het ons water uit putte gekry. Groentetuine is met ‘n rol natgemaak. ‘n Rol wat bo die put was, wat jy moes draai om water uit te kry. My Ouers het later ‘n Lister-enjin gehad en toe het sy ‘n klein blomtuin gehad. Maar nooit het ons grasperke gehad nie. Later het ons vrugtebome geplant.

Ons het 10 sjielings sakgeld skool toe gekry. 20 Sjielings was ‘n Pond gewees. Dan koop ons lekkers of appels by die winkel in D’kar. ‘N sjieling was so groot soos ‘n 10 thebe vandag. Dan het jy met ‘n sjieling nogal n groot pak lekkers gekry. Al die kinders het nie geld gehad nie maar die lekkers was genoeg om met almal te deel. Baie van die kinders het nie ouers gehad nie, so ons het graag met hulle ons goed gedeel. Oom Tinkie Craill het verkoop. (Daar waar tannie Annie Vorster later die winkel gehad het) . Ons het soontoe en terug gestap. Oom Tinkie het altyd vaatjies wyn gehad dan roep hy die seuns om vir hom met ‘n pyp wyn uit die vaatjies te suig. Dan wil hy hom morsdood lag as hulle verstik aan die wyn of ‘n paar skelm slukke vat. Oom Tinkie was ook ‘n legende en n groot jagter. As hy volstuise gejag het het hy diamante in hulle mae gesoek. In sy watersak was baie keer drank en nie water nie, maar hy was dierbaar en vriendelik. Hy het gepruim. My ma het eenkeer met ‘n baba saam met Oom Tinkie Craill gery. Sy het geboorte geskenk in die Roomse hospitaal op Gobabis en moes toe huis toe. Hy het toe sy opvoubed vir haar gegee om op te slaap en hy het op die grond geslaap. As dit donker word het oom Tinkie gestop, vuur gemaak, kos gemaak, geslaap en as dit lig word het hulle opgestaan en weer verder gery.

Hier was daardie tyd nie eintlik karre nie. Oom Albert Lemcke het ‘n lorrie gehad en ook sy skoonpa, Oom Christiaan Lewis, Mr Burton, Oom Tinkie Crail, Oom Thys Taljaard en Mnr. Sharp. Mr Hardbattle het een gehad wat hy vasgemaak het aan ‘n boom. Hy het gesê hy was bang die lorrie loop weg! Hy was so ’n eksentrieke man. Die ander mense het perdekarre en donkiekarre vir vervoer gebruik.

Vroues in Ghanzi het boerseep gemaak met room en elandvet. Oom Jan Burger het altyd seekoeisambokke en swepe, gevleg en dan het hulle soms seekoeivet ook gehad. Ons het skaapvet meestal gebruik.

Die Boesmans het daai tyd nog elke aand gesing en ek was as kind baie bang vir dit. Piet Retief-stories wat ons bang gemaak het! Dan lê jy heel nag en worry, maar iewers in die nag het hulle opgehou sing.

Ons het nog met ‘n ossewa ook gery. As ons gaan jag het in Grootlaagte (‘n dag se ry), dan het ons die ossewa gevat en ‘n paar perde ook want ons het van die perde af gejag. Dan gaan kamp ons en die Boesman vat die osse terug plaas toe en ons jag vir so sewe tot selfs veertien dae. Ons goed was op die ossewa en ons het op ‘n seil op die sand geslaap. Leeus en ongediertes was nog bang en nie so gewoond aan mense soos vandag nie. Dan kom die Boesman weer terug met die osse om die ossewa terug huis toe te vat. Osse moes terug oor die ongediertes in die veld maar ook meer oor daar nie genoeg water vir hulle ook was nie. Vroeër het mens sulke ronde sterk dromme gehad waarin ons water saam ingevat het. Ons het elke aand gewas, maar jy kon nou nie mors, om almal ‘n vol bad te hê nie. Met die waslap kon jy jou hele lyf was. Mans het met die perde gaan jag en ons het biltong sommer daar in die veld gemaak. Daar was altyd ‘n boesman of twee saam wat help spoorsny het. Die boesmans het ook hulle eie biltong gemaak en vir hulle gesinne huistoe gevat. Ek kon en het self perdgery maar nooit saam gery om te gaan jag nie. Daar was altyd ’n klein doringtakkraal vir die perde gemaak om hulle te beskerm en in die dag het ons vir hulle gras gesny om te eet. Ons vrouens het die gras vir die perde gesny. Elande, springbokke en gemsbokke was volop. Daar was min buffels. Een-een miskien wat ingekom het. Vroeër weet ek het buffels meer ingekom maar nie in my tyd nie. Ons en my oom-hulle het saam gaan jag en soms mense wat vir ons kom kuier het. Mens het altyd kamp opgeslaan by ‘n plek waar baie hout is. Ons familie het soms kom kuier saam met die roomtrokke en as hulle klaar gekuier het gaan hulle weer terug op die roomlorrie, na Suid-Afrika. Mr. Burton se plaas was Seribie(Seribe), ons plaas was Goedbegin en die ander een Suikerbos.

My pa het ons baie van veldkos geleer. As ons gaan jag het het my pa saam ons gaan stap en leer van die veld. Ons het baie moramas geeet en kambro en daai rankplantjie wat jy op die as braai (was lekker en het my aan murg laat dink) en nog ander. My Pa-hulle het dit in hulle tyd wel vir oorlewing gebruik maar in ons tyd was dit net vir die lekker. Dis hoekom hy die veldkos en medisyne in die veld so goed geken het. Veral maagmedisyne. So ’n wit, vaal plantjie vir maagwerk ens. Oom Kassie van Heerden was ook goed met die plante in die veld vir medisyne.

Vroeër het ons ook soms net vir die lekker gaan uitslaap in die veld. Oom Koos Lewis-hulle het een keer op ‘n seil wat aan die wa vasgemaak is geslaap, met die osse nog aan die wa. Die nag toe kom daar ‘n wolf (bruin hiëna) en die osse skrik en hardloop met die wa. Die osse ruk hulle oor bosse en stompe en kort-kort verloor iets of iemand van die seil af, tot iemand die osse kon stop! Hulle het so lank oor daai storie gelag en vertel. Dink die hiëna het ook groot gekrik vir die chaos!

Ons het een keer gaan kiaathout saag anderkant Grootlaagte iewers, saam met Oom Albert Lemcke en tannie Lena. Al die mense het daai tyd self hulle meubels gemaak. Toe besluit Albert en Lena (van die Lewisse en ons Du Plessis’s was ook saam), ons ry met die lorrie. Dit was ongelooflik lekker want oom Albert was geduldig en handig, al het die lorrie baie vasgesit, want die sand was regtig vreeslik dik. Ons moes baie grawe en takke pak!

Die oumense daai tyd het baie na weeskinders en ander mense wat swaarkry se kinders omgesien. Ek onthou nog oom Christiaan Lewis en sy vrou Lenie het ook na weeskinders omgesien. Oom Magiel Kotze het ook by hulle grootgeword. Tannie Lenie was ‘n dierbare mens. Sy het ook altyd groente geplant en baie uitgedeel as daar kuiermense kom, patats, aartappel, uie, salotte ens. en oom Christiaan was streng, maar met ‘n baie goeie hart. Toe my sussie oorlede is toe het hy vir my pa planke gegee om ‘n kissie te maak. Hy het daar gewag vir die kis en die lykie gevat en ons almal na sy plaas toe gery en die begrafnis gereël daar op sy plaas. Haar naam was Cecilia (9 maande oud) en sy is toe op oom Albert en Ant Lena) Lemcke, se plaas begrawe. Ons was baie dankbaar. Streng mense kry goed gedoen.

Ek het toe bietjie plaas toe gegaan. Toe my sussie skool toe gaan in Namibië, Ernst Meyer, toe sê my pa ek mag daar gaan werk as ek wil. Twee jaar daar gewerk en toe het ek en oom Cecil getrou en in Ghanzi kom bly. Ek en hy het al uitgegaan voor ek begin werk het. Ons het sommer voor die magistraat getrou. As mens vir iemand lief is sien jy net sy goedheid raak. Hy was vir my die beste man! Sy volle name was Cecil Edward Peacock. Ons is in Januarie 1963 getroud en het ‘n klein onthaal op die plaas gehad. Magda Badenhorst (née de Graaff) het my help aantrek en my hare mooi gemaak. Ons is Doppers, so ons hou nie van dans nie. Net lekker gebraai en gesels.

Ons was nogal goeie vriende met Oom Manie en tannie Santjie Lewis. Mens was afgeleë, het nie baie rond gekuier nie. My ouers het baie by die Lewisse gekuier. My ma en ou oom Charlie Sharp se vrou, Angeline, was ook groot vriendinne. Sy het van Zastron, Vrystaat, afgekom. Sy het as ‘n penvriendin met Hardbattle hiernatoe gekom. Toe sy hier kom toe kliek hulle nie en Oom Charlie Sharp en sy trou toe. Oom Charlie was so ‘n positiewe, gawe man, net soos Oom Dick Eaton. Sy het altyd die Women’s Weekly gekry en my Ma Die Huisvrou en dan ruil hulle tydskrifte. Ons kon glad nie Engels praat nie. Vandag kan ons darem mekaar help. Sy en Angeline kon darem gesels, want my ma kon Engels praat. My pa het net tot standerd 4 skool gehad so hy het gesukkel met Engels. Die magistraat, Mr Midgley , se vrou het ook by my Ma kom kuier. As hulle daar kom het my Pa net “yes” of “no” gesê. Nooit sinne gepraat nie, dit was komies.

Vroeër jare het Theunis Kotze (Buks en Gisela Kotze-hulle se Groot-oupagrootjie) ‘n baie mooi kerkie op Eersterus plaas gebou, waar die Doppers toe kerkgehou het. Baie geskiedenis het eintlik al verlore gegaan saam met die oumense. Magiel Kotze se ouers het ook daar gebly. Predikante het van Gobabis af vir ons kom kerkhou. Na die kerk in Ghanzi gebou is het ons elke drie maande kerk gehad. Die kerk is gebou deur Albert Lemcke (tannie Nelie de Graaff née Lemcke, se pa) en Roelf van Zyl, broer van Louis van Zyl (Frieda se man) en Piet Lewis het ook gehelp. Die hele gemeenskap het help geld insamel en as iets benodig was het iemand wat het of kon plan maak dit gebring. NG en Dopper gelowiges het saam die kerk laat bou. NG en Dopperpredikante het van Gobabis kom bedien en as daar kerk is het almal dit bygewoon. Al die dienste, al is jy in die Gereformeerde of Dopperkerk of NG. Ghanzimense moes die predikante gaan haal en wegvat . Daar was Di. Jooste, De Villiers, Killian, Van Rooy, van Rhyssen, Botha, van der Merwe , Prof. Snyman ens. Kan nie almal onthou nie. Hang af wie was toe in Gobabis. Dink Snyman was van Suid Afrika, maar het ’n tyd lank in Windhoek gewerk.

Die gemeenskap het altyd saamgekom om Nuwejaar te vier. Daar was perdesports en boeresport. Party mense het gedans. Speletjies gespeel soos volkspele. Almal het op seile gaan slaap op ‘n plaas. Daai tyd het n mens net van ‘n tent gelees. Ons het nooit so iets gehad nie. Was nooit bang nie. Nie eers in die jagveld nie.

16 Desember het Ghanzi- en Gobabismense op Rietfontein bymekaar gekom om Geloftedag te vier. Ook boeresport en opvoerings is daar gehou. Ons het dit Dingaansdag genoem. Dit was baie lekker. Hulle het kos gemaak en verkoop daar. Dit was op dieselfde plek gehou waar die Dorslandtrekkers ‘n lang tyd gebly het, nog oppad Angola toe. By oom Kota de Jager-hulle se huis, anderkant die rivier. Duskant van die rivier is ‘n begraafplaas, waar baie boere begrawe is wat aan malaria dood is. Die Magistraat in Ghanzi het malariamedikasie vir almal in Ghanzi verskaf.

Hier was baie boesmans in Ghanzi, maar nie regtig ander nasies nie. Naro’s en Makaukaus het ook apart gebly. Later jare het hulle eers begin meng. Makaukaus was Noord van Ghanzi en die Naro’s anderkant die pad. D’Kar se mense was meer Naro. Ghanzi se kant toe meer Makaukaus.

My ma het toe kanker gekry en sy en my pa het toe weer Suid-Afrika toe getrek om naby aan dokters te wees. Hulle is Mafikeng toe, Buhrmansdrif-omgewing. Later het sy baie siek geword en ek en Oom Cecil is Suid-Afrika toe om haar te help versorg. Oom Gilbert Peacock het toe na ons plaas omgesien. My Pa het verongeluk in begin van 1964. Ons was almal in die kar. Dit was ‘n botsing met ‘n trein. Hy moes my ma Pretoria toe vat vir chemoterapie. By die kruising waar ons moes regs draai, draai my Pa links en my Ma vra waarheen hy nou ry. Toe sê hy, hy moet gou ‘solution’ gaan koop en hy het nie gekyk nie. Sy aandag was ongelukkig nie daar nie. Ek onthou my ma het gesê, “Pasop!” My Pa het uit die kar geval en is toe oorlede. Ons ander het nie seergekry nie. Die trein het die deur oopgeruk, die kar ‘n entjie ver gesleep ook. Oom Cecil het by ‘n sementmaatskappy gewerk en ons het maar aangegaan op die plaas in Suid-Afrika. My ma is toe oorlede aan die kanker in 1966, Januariemaand. Ek en oom Cecil is toe terug Ghanzi toe.

My skoonpa se naam was ook Stanley Livingstone Peacock. Skoonma was Anna Magdalena le Grange en sy is in 1898 gebore. Hulle het twaalf kinders gehad. Skoonpa se ouers het saam met die Britse setlaars gekom. In 1950 het Skoonpa , Ghanzi toe gekom. Hy het vir die Engelse geveg in die oorlog. Hulle het toe aan al die oud-soldate wat nog gelewe het, in Bechuanaland plase gegee. Sy plaas se naam is Rainbow, daar waar Alwyn nou boer. Ons het Rainbow laterjare gekoop. Hulle was vyf seuns. Skoonpa was van Kenhart, naby Upington in die Noordkaap of Weskaap. Sy ouers was van Engeland. Hy is toe met n Suid Afrikaanse meisie getroud. Al hulle kinders is in Suid-Afrika gebore. Oom Stanley en tannie Pop het vir Oom Charlie Sharp gewerk. Oom Smit Peacock is terug Suid Afrika toe en het daar gaan werk en is later jare terug en oorlede in Ghanzi. Gilbert het hier gebly en geboer.

My oorlede seuntjie, Stanley Livingstone, is gebore 28 October 1963. Hy is op twee jaar oud dood hier in die Kalahari, in ‘n lorrie-ongeluk. Ek het vir my skoonouers in Botswana kom kuier, ons was toe in Suid-Afrika en Oom Cecil kon nie saamry nie. My skoonmense wou die kleintjies so graag sien. Ons het toe ‘n geleentheid saam met ‘n transportlorrie gekry en my seuntjie het by my voete geslaap. My dogtertjie Celia was op my skoot. Ek was swanger met Annelie. Dit was so’n stompneuslorrie en twee van hulle het saam gery. My drywer het aan die slaap geraak, toe stop die voorste een en ons ry van agter af in hom in. Daardie dae was die pad so’n diep sloot as mens eers in die spoor is kom jy nie maklik daar uit nie. Die drywer se been was so sleg gebreek dat die gebreekte bene dwars uitgesteek het. My seuntjie was in ‘n koma. My been was op twee plekke gebreek. Annatjie Kotze, Oom Booy se dogter en haar Ma was gelukkig daar rond, hulle het saam met Oom Booy beesgetrek en hulle kon vir Celia oorneem en saambring. Die voorste lorrie het dadelik sy vrag bees afgelaai en met ons by Kanye se hospitaal, probeer uitkom. So moes ons ry, dit was naby Mabutsane, sonder enige pynmedisyne of iets, want daar was nêrens langs die pad klinieke nie, dit was net sulke gehuggies. Maar nog voor ons by Kanye kon kom was my seuntjie al oorlede. Al was dit baie seer, het ek het ook baie jammer gevoel vir die ander wat ook hiermee moes saamleef. Niemand kan mos aan so iets verander nie en ek glo dat God oor elke treë van my lewe beskik en Hy doen dit steeds.

My oudste dogter is Cecilia Johanna, gebore 3 November 1965 en jongste was Anna Magdalena, gebore 23 November 1966.

Ons het nie eintlik Maun toe gegaan nie. Van die transportryers het, maar ek is eers Maun toe op trips nadat ek getroud is. Wally Vice het later jare ‘n boot gehad en het graag vir almal ‘n draai gevat wat wou. By Chanoga en soms in Shakawe. Daai boot het so gesak in die water. Was ‘n swaar, maar lekker boot.

Cecil Crail, Cecil Rhodes en Dick Eaton het vliegtuie gehad, maar ons almal was te bang om te vlieg. Dit was vreemd vir ons. Hulle het soms 10 sjielings gevra vir ‘n draai in die vliegtuig en dan skenk hulle die geld vir die skool.

Kinders was op kosskool, eers op Ernst Meyer Laerskool en later Hoërskool in Gobabis, in Wennie du Plessis Hoër. Net vakansies huis toegekom. Die Ghanzi kinders weet van swaarkry en verlang. Maar dit was vir die ouers net so swaar. Annelie het in haar matriekjaar begin siek word. Celia was toe al in Pretoria, op universiteit. Dokters het gedog dis eksamen-stress en ‘n spastiese dikderm. Sy het matriekeksamen klaar geskryf en toe vat ons haar Zeerust toe en hulle besluit dis haar blindederm wat hulle toe ook uithaal. Die pyn het aangehou veral as sy geëet het, toe vat ons haar Rustenburg toe, na die Paul Kruger-Gedenkhospitaal, waar sy 10 dae was. Daar was ‘n dokter op besoek van Pretoria, wat besluit dat sy te siek word en toe opereer hy. Hy ontdek toe die kankergewas so groot soos ‘n man se vuis. Was toe ‘n seldsame dikdermkanker. Toetse in Pretoria het gewys sy is skoon. ‘n Jaar daarna toe word sy weer siek. Ons vat haar toe Bloemfontein toe en hulle sê die kanker het versprei in haar longe en oral. Toe kan hulle niks vir haar doen nie, maar sy wou swot. Sy het onderwys geswot en was in Erika koshuis. Sy en Celia. Sy het net 2 jaar kon klaar maak. Sy is 6 Februarie 1987 oorlede. Sy is in Pretoria-Oos brgrawe. Annelie was die laaste tyd by die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria. Toe ons die dag die rekening gaan betaal , toe slaan hulle die helfte vir ons af. Ons kon dit nie glo nie! Sy was so “tough”. Party mense het ons kwalik geneem dat ons haar by die universiteit gelos het, maar dit was haar keuse. Sy het geleer en goed gedoen. Die Ghanzi mense help mekaar mos altyd. Christa Vorster het selfs vir ons ‘n insameling gereël. Daai tyd was dit baie geld. Christa het met ‘n lys omgegaan en by die P2000 ingesamel. Daai tyd was dit baie geld. Ons het haar in Pretoria- Oos begrawe. As mens die Here in jou lewe het weet jy daar is ‘n lewe na die dood en dat Hy ons dra in hartseer en moeilike tye. Mens kan nie so iets verwerk sonder die Here nie. Dan kan ons nie anders as om te berus nie. As jy nie die Here in jou lewe toelaat nie raak jy negatief en laat jy toe dat dinge jou onderkry. Ek kies die Here. Ek sê nie ek is so goed nie, ek bedoel dit is wat die ou mense in Ghanzi staande gehou het. Almal het kinders verloor en swaargekry en aan die Here vasgehou. Ek het twaalf jaar lank in ‘n sinkhuis gebly en dit het my niks gemaak nie. Nooit gevoel ons het iets kort gekom of ons is ingeloop nie. Al was dit nie elke dag lekker nie was dit ‘n ongelooflike ondervinding. As dit baie warm was die jaar het dit soos ‘n oond gevoel!

Celia het klaar gestudeer en in Windhoek gaan skoolhou. S yen Alwyn van den Heever, was saam op skool in Wennie du Plessis. Hulle is getroud en het in Charleshill kom werk. Hulle kinders is Jan Cecil Hendrik, Anrika Marli en Petrus Jacobus.

Kyk gerus na Album Cecil en Martjie Peacock

  - gaan terug na bo - 

 

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page