Hendrik van Zyl
Eerste Permanente Bewoners
Die verhaal van Hendrik van Zyl
Na die Groot Trek in Transvaal en die Vrystaat tot ‘n einde gekom het, het ‘n groot aantal mense nog steeds onrustig gevoel, enersyds oor die dreigende naderkom van die imperialisme van Groot Brittanje, en andersyds omdat hulle ekonomiese vooruitsigte in die nuwe land nie so rooskleurig was as waaroor hulle gedroom het toe hulle die Kaapkolonie verlaat het nie. Miskien, na al die jare van trek en die gevare wat hulle oorleef het, was die opsie van vestiging en onderwerp aan strukture en wette, wat aan die orde van die dag was, dalk net te gou. Dit was skaars 40 jaar na die Groot Trek, toe is daar weer oorlog met Engeland, en hoewel die kort oorlog in hulle guns afgeloop het, het baie gevoel die skrif is aan die muur, veral na die ontdekking van diamante.
Dit was skaars 12 jaar na die Eerste Vryheidsoorlog ten einde geloop het, of ‘n groep boere begin roeringe onder hulle gewaar en begin ondersoek instel na die moontlikheid van trek na die Noorde. Voor die oorlog, vanaf 1874, het daar reeds verskeie trekke in verskillende groepe deur die dorre Botswana en Namibia getrek, tot in Angola. Mens moet onthou dat grootwildjag ‘n goeie alternatiewe inkomste was om die boerdery mee aan te vul, veral omdat alle boerdery onderwerp was aan pioniersprobleme van alle aard, veral gebrek aan markte, siektes en diefstal.
Daarom was dit moontlik vir iemand soos Hendrik van Zyl van Kaapland, om van sy plaas af Ghanzi toe te trek om ‘n jagbasis te vestig, want die handel in ivoor en velle en huide asook biltong, was sekerlik die mees winsgewende bedryf, en groot wildtroppe het oor die ylbewoonde savannas van die sentrale platogebied getrek.
Sommige bronne beweer Van Zyl het meer redes gehad om te trek, want sy huwelik het ontbind a.g.v. ‘n liefdesdriehoek, en hy, ‘n gesiene man in sy omgewing, wou ‘n nuwe begin maak met sy nuwe vrou en gesin. Hoewel daar nog niemand anders as Boesmans gewoon het nie, was Ghanzi egter nie sommer vir die vat en intrek nie. Van Zyl moes eers onderhandel met die swart kapteins en almal wat aanspraak gemaak het op die gebied (Russel en Von Moltke) en dit het oortuiging gekos om die mense se vrese te besweer dat hy nie die voorloper sou wees van ‘n groot groep boere met hulle beeste en families nie, want die swart volke het ook al geleer dat die Boere ‘n faktor was om mee rekening te hou. Hoewel alles met ossewaens moes geskied, daar feitlik geen paaie was nie en geen ander kommunikasiemiddele as briewe per guns afgelewer nie, was dit tog verbasend hoeveel mense van mekaar geweet het en hoeveel beweging daar was kruis en dwars oor Afrika in die 19de eeu.
Hendrik van Zyl, synde ‘n vermoënde man, het dadelik vir hom ‘n dubbelverdieping huis opgesit op die kalkbanke langs ou Ghanzi pan, die plek met die mees standhoudende water. Die feit dat die 4 (?) Dorslandtrekke na Angola in hierdie selfde tyd die Kalahari moes deur na Angola toe, het gemaak dat Van Zyl redelik baie besoekers gehad het. Sommige, soos Scheepers van die eerste trek in >>>> het sommer maande daar oorgestaan om te herstel van die skade opgedoen tydens die Groot Dors. Twee van die trekke na Angola het oor Ghanzi na Rietfontein toe getrek en mens kan jou voorstel hoe bly die weersiens van taalgenote in hierdie afgeleë wêreld was!
Daar was al baie bespiegelinge oor Hendrik van Zyl – sommige het hom voorgestel as ‘n ruwe, bloeddorstige jagter wat in hierdie afgeleë wêreld kom woon het om uit die reikwydte van die wet te kom. Sommige boeke skryf selfs van honderde Boesman “bywywe”, en ander skimp dat sy dood aan die hand van ‘n Nama agterryer te doene gehad het met ‘n rusie oor vroue. Die beskrywing deur Von Moltke (1930s…) lyk egter die mees waarskynlike, aangesien redelik baie korrespondensie behoue gebly het waaruit sy Godsdienssin, sy patriotisme en sy verhouding met sy vrou en kinders as voorbeeldig en standvastig blyk.
Om die feit dat Van Zyl op een dag by ‘n pan 103 olifante geskiet het, en die karkasse daar laat lê het, met vandag se bril te meet, is byna onmoontlik, in die lig van die hedendaagse sentiment oor hierdie diere. As mens egter onthou dat die hoofinkomste van die meeste van hierdie pioniers uit ivoorhandel was, is dit verstaanbaar hoe so’n trop olifante gesien is as ‘n groot gelukskoot, en as mens weet dat die sogenaamde Van Zyl’s cutting (vandag op een van die Vosloo plase in Ghanzi) gemaak was om die olifanttande in te begrawe sodat die vleis mooi van die ivoor af kon vrot voordat dit na Walvisbaai vervoer word, is die hoop karkasse in die nat pan ook meer verstaanbaar. Van Zyl was waarskynlik dus geen wreedaard nie, slag en skiet was sy werk, en niemand anders het in die tyd gedink dat die oorvloed wild in Afrika nie die aanvraag van die internasionale mark sou oorleef nie. Van Zyl was ook nie alleen in die ding nie, sy skuld was net so groot as baie van die groot name soos Chapman, Baines, Andersson, Eriksson en ander buitelandse jagters, en hy het waarskynlik ook aan hulle gelewer.