top of page

JAG AS INKOMSTE

Print asb uit en deel met jou familie   & vriende

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

In die beginjare was die boere eerder jagters gewees, vir ‘n inkomste uit ivoor en velle.

Boerdery as sodanig was ‘n bysaak terwille van bestendigheid op die grond wat aan hulle

uitgegee is. Mettertyd het die klem verskuif.  Om beeste uit te jaag, winkelwerk en vervoer het inkomste gegee en mettertyd het die beesmark verbeter in eie gewin. Jag het alhoemeer ‘n stokperdjie, ‘n ontspanning en ‘n bron van vleis vir die Boesmans geword. Hierdie gegewens oorbrug dus twee tydperke – jag as inkomste en jag as ontspanning. Mettertyd het ‘n ander dimensie bygekom – om besoekers en vriende op jagtogte te neem, dikwels sonder permitte.

 

Hugo het vertel dat jagters vroeer jare by die swart kapteins moes gaan toestemming vra, (1) nie by die Regering nie. Die kapteins was altyd beleefd en tegemoetkomend en dit was onnodig om presente aan te dra.

 

Om ‘n geweer te hê was nie ‘n probleem nie. Enigeen kon ‘n geweer inbring van buite die land (2)  sonder enige aansoek of permit.  Gewere was volop onder die boere.

 

Lena Lemcke het vertel van leeujagte. Haar dogter Nelie (later De Graaff) het gewoonlik (3) die lorrie bestuur deur die veld, swanger ofte nie, en die mans was te perd gewees. Eenkeer het Nelie en Davina afgeklim en self gesukkel om ‘n leeu daar naby dood te skiet. ‘n Ander keer was Nelie agter die stuur en Lena op die bak met omtrent 5 kleintjies van die jagters.  Toe het die leeu omgespring en teen die lorrie se wiel (4) opgestaan. Lena het reggestaan met ‘n hamer want Albert se perd was steeks … Albert vertel dat ‘n Van Staden beestrekker eenkeer gaan hout soek het in die donker. Toe volg ‘n leeu hom tot hy oor die vuur gespring het. Iets was natterig aan sy broek en hy het later ondersoek ingestel.  “Dank Vader, dis nie bloed nie.”

 

Hugo se skoonpa, Chrisjan Lewis, het met elande probeer boer, en kon darem een trop in Suidwes-Afrika gaan verkoop om na Duitsland te stuur. Maar daarna kon elande nie jou eindom wees nie – mens konnie verkoop of slag nie. Boonop verorber hulle weiding wat (5) die beeste kon benut het. Fanie Lewis het ‘n kamp gemaak vir sy mak elande maar het geen nut van hulle nie.  Hugo het erken dat hy 50 gemsbokke op sy plase het.  Maar hulle het wild gebly en daar was genoeg weiding, en hulle het self die plaas ingekom sonder onkoste vir hom. Boesmans is versot op elande en slag selfs maeres. Elande is kroonwild, asook jagluipers, skilpaaie, poue en ‘n soort valk.

 

Diere wat skade doen op jou plaas mag geskiet word. Wildehonde was al ‘n verpesting by beeste. Hugo het net geweet van een geval waar ‘n wildehond ‘n mens aangeval het. Joop Lewis was te voet agter een aan, wat omgedraai het. Die hond het sy (6) duim “morsaf” gebyt. Gelukkig was daar toe al ‘n doktor beskikbaar wat die duim aangeheg het. Maar dit het lank aangehou sweer. (Joop wou nie die hond met Hugo se geweer slaan nie, want die kolf kon breek.)

 

Soos met Gert Vermeulen se leeu, weet al die vertellers van Christiaan Lewis se buffel in die 30 ‘erjare.  Die foto bewys dat hulle toe al voertuie gebruik het vir jag. Ek som Grieta Lemcke se verhaal op oor haar pa se noue ontkoming. Christiaan Lewis, Joey Coetzee en Joey se swaer het in Ngamiland gaan jag.  Toe hulle op ‘n buffel se spoor (7) kom het Joey se swaer omgdraai, maar die ander twee plus ‘n swarte en ‘n boesman het die spoor gevolg tot by ‘n ruie bos.

 

Toe gaan Christiaan en die boesman een kant om en die ander twee anderkant om die bos. Toe Christiaan omkyk van ‘n geluid agter hom, was die buffel besig om hom te bestrom. Daar was nie tyd om die geweer te laai nie, toe pak hy die buffel by die horings (hy pas toe tussen die horings in.) Die buffel het hom op en af gewerk tot sy bors en sy arms potblou was. Die boesman het weggehol, en swaer Joey gaan roep. Toe Joey daar kom, het die buffel vir Christiaan steeds gekarnuffel maar kon hom nie vasdruk nie. Joey konnie skiet nie want die stof was te erg gewees. Eers toe die stof gaan lê het, kon hy die buffel skiet.  Christiaan het gesê hy is net gekneus!

 

Tinkie Craill het later eers in Ghanzi gewoon. Die storie dateer uit sy lewe by Upington in Suidwes-Afrika. Hy het graag gejag en het gemsbokke geskiet. Die Polisie het hom (8) gevang en pootjies en ore gevat as bewyse. Toe gaan slaap almal by Tinkie se huis. Die nag het Tinkie ‘n donkie doodgeskiet en die ore en pote omgeruil met die wat die Polisie gevat het. Toe hulle by die Polisiekantoor kom, kon hulle niks bewys nie.

 

Daar is baie slange in Ghanziland, maar Sannie Coetzee het nie van een geval geweet waar mense doodgegaan het van slangbyt nie. Sy kon vertel van een aand aan tafel. Daar was ‘n orrel in haar sus Lena se huis en hulle het iets gehoor en gedink ‘n muis is in (9) die orrel. Manie se pa John Lewis wou die muis doodslaan, toe was dit ‘n rinkhals wat in sy oë gespoeg het Die oog het baie gepyn.  Op ‘n ander keer het haar broer Chrisjan met ‘n rol in ‘n put afgegaan om ‘n silinder heel te maak. Toe het ‘n slang ook in sy oë gespoeg. In ‘n derde geval het ‘n doofstom werker aan ‘n muur gewerk toe ‘n slang hom aan sy vinger gebyt het. Hoewel dit ‘n baie giftige slang was, het hy niks oorgekom nie.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:

 

(1) (Q I 7-8) Hugo Lemcke

(2) (U I 7-8) Albert Lemcke

(3) (U I 8) Lena Lemcke

(4) (U I 9) Lena en Albert Lemcke

(5) (O I 4) Hugo Lemcke

(6) (O I 7) Hugo Lemcke

(7) (P I 12 -13) Grieta Lemcke

(8) (P II 11) Grieta Lemcke

(9) (Z I 5) Sannie Coetzee

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page