top of page

DEPRESSIEJARE

Ander Ghanzi
webblaaie

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Bennie van Staden se familie het baie rondgetrek, veral nadat daar ‘n verlies in die (1) familie was, bv. met die 1918 griep toe twee van sy broers en ‘n swaer binne 12 dae gesterf het. Dit was in Maun, en toe het hulle teruggetrek Ghanzies toe, en soos vroeër bees getrek deur die Kalahari suidwaarts.

 

1929-30 Was ‘n besonderse droeë jaar en mense soos Burton en Chrisjan Lewis het groot verliese gely toe hulle met 700 beeste getrek het. Bennie-hulle het op hulle spoor getrek en was getuies van baie vrektes, tot 35 beeste onder een boom. Bennie-hulle het in die (2) reënlose jaar ook met 700 beeste getrek, maar dit was vir hom net nodig om een swak bees te skiet. Hulle het om Kokong getrek sodat die beeste nie water sou ruik nie, maar die Burton-beeste het op die Kokongpan se putjies water afgestorm. Die aanjaers het ongeduldig geword en die dors beeste in die warm son begin aanjaag. Kort voor lank het die eerste beeste uitgesak. “Hulle kry so ‘n soort vuur in die maag as hulle te lank dors kry.”

 

Teen 1932 -1933 het Bennie die beesdrywery in Ghanzi gelos en in Zambië gaan bly. (2) Daar het hy baie beeste deur leeuwêreld gejaag. Bennie was bevriend met Edmond Gower, wie se pa ‘n winkel op Lehututu gehad het. Edmond het getrou, maar Bennie het so lank gewag dat hy teen 1939 met Edmond se dogter getroud is!

 

Cassie vertel dat die 1933 droogte so erg was dat baie van die mans vir die Regering op die paaie gaan werk het teen 1/6 per dag met pik en graaf en byle. Hulle moes self die bome uitgrawe, uitstoot en wegrol met hul hande. Dit was motorpaaie in Maun en Tsau se omgewing, die sg. Polt se pad. Van Tsau af het hulle met die hande ‘n nuwe pad (3) oopgekap sonder enige skraper. Hulle moes bome afkap, die stompe uitgrou, weer gelykmaak en met harke gelykhark. Hulle het elke maand rantsoene gekry soos mielies, bruin suiker en tee. Hulle het padkampe gemaak namate hulle gevorder het. Sy medewerkers was sy skoonpa Jan Burger, Magiel Taljaard en sy seun Thys, Paul Kotze en John Morris, Wynand Swartz en ‘n kleurling van der Colff. Cassie verduidelik hulle het nie gaan werk omdat die beeste as gevolg van droogte gevrek het nie, maar hulle het van alkante gedruk gevoel. Aan die een kant moet hulle “takse” betaal, aan die ander kant moes hulle werkers betaal word en as gevolg van die Depressie kon hulle nie beeste verkoop nie. “Jy moes handewerk gaan neerlê om ‘n paar sjielings te kry.” (4) Dinge het skielik verander toe dit in 1934 begin reën het.

 

Cassie het begin transport ry, mielies vanaf Olifantskloof vir die Regering.  Bek-en-klousiekte (5) het opgehou. Baie mense het begin bees trek Lobatse toe en groot troppe was naby mekaar. Hy vertel ook van Burton, Pretorius en Lewis se trop van 800 wat eintlik van dors gevrek het op die pad. Cassie het toe nog nie ‘n plaas gehad nie.

 

Sannie Coetzee vertel van die standhoudende pan water by Ou Ghansies. As dit baie (6) gereën het, soos in 1934, het die water bo-oor die Kamp se pad na Ou Ghansies gestoot. Dit was seker so ‘n jaar toe die eerste intrekkers Ghanzi bereik het … orals panne water en toe droog die panne op …

 

Hugo Lemcke het baie kontak gehad met ‘n Jood, Sam Silber,  wat ‘n winkel op Gobabis gehad het. Tydens die Depressie se bek-en-kloutyd het hy baie boere gedra met skuld, (7) want hulle het geen inkomste gehad nie. Dit was vir die jaar baie moeilik gewees. Hugo het tussen Gobabis en Ghanzi transport gery en het eendag vir Sam Silber gevra of hy gedink het hy sal sy uitleengeld terugkry.  “Ek’s nie bang nie,” het die Jood geantwoord. Twee jaar later het Hugo verneem of hy betaal is.  Sam Silber het geantwoord dat hy elke pennie terug gekry het.  Sonder hom sou min mense oorleef het.

 

(8) Booy het vertel dat hulle veral vir die Depressiejare baie witgatkoffie gemaak het. Die wat gehad het, het dit met regte koffie gemeng. By die gebrek aan suiker het hulle net melk daarby gevoeg. Hulle het ook karringmelk met meiliemeel gemeng om te kon brood bak, want mieliemeeldeeg val uitmekaar. Hulle kon ook meel maak van marambaneute wat gebak en fyngestamp is soos meel. Maar mens kan nie vet of botter byvoeg nie, dit was te ryk. Eintlik was vleis die Ghanzilanders se stapelkos, veral biltong. So het hulle die Depressie oorleef.  Ek veronderstel melk in al sy vorms was beskikbaar.

 

Hugo vertel dat van die boere eintlik bly was as swerms springkane verbygekom het, want dan kon hulle werk gekry het by die Regering. Die Regering het hard opgetree teen (9) springkane en het mense gehuur om die pes te spuit. Mense soos Burton en Chrisjan Lewis was in beheer. Die vlieënde sprinkane het hulle met rook verdryf, maar die voetgangers het op een plek gevreet en moes gespuit word. As die bestryders hulle gewaar het, het hulle slote gegrawe om ‘n land, en dan val die voetgangers daarin. Maar as die slote vol was het hulle net aangegaan, omdat die wêreld so oop was en die beeste nog so min, was die sprinkane nie so ‘n plaag nie, maar hulle het werk verskaf.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Depressiejare (Bladsye 328 - 331)

(1) (AI 8-9) Bennie van Staden

(2) (AI 9) Bennie van Staden

(3) (J I 10-11) Cassie van Heerden

(4) (J II 1) Cassie van Heerden

(5) (J II 1) Cassie van Heerden

(6) (Z I 2) Sannie Coetzee

(7) (Q I 1) Hugo Lemcke

(8) (V II 4-5) Booy Kotze

(9) (P I 10) Hugo Lemcke

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page