top of page

Thys Taljaard

 

ONDERHOUD MET THYS TALJAARD, GHANZI, 1980.

DEEL 2 - GEREDIGEER

 

 

Jy weet ons het swaar dae gehad, en harde dae en lekker dae. Daar was lekker dae – ons het swaar gekry … maar ek glo nie die swaar was so swaar as wat dit vandag is nie. Dit lyk nou lekker, rooskleurig vandag, maar ek dink die mensdom het meer moeilikheid nou as ons, daai tyd …

 

Oor En Weer Kuier

 

Ons was nie haastig nie. As jy vir mense gaan kuier dan gaan kuier jy met jou ossewa, dan kuier jy ‘n week vir jou vriende! Dan draai jy om – volgende maand gaan kuier hy weer by jou. Nou ken hulle nie eers mekaar nie – ek vra baie dae vir een van die Ghanzimense oor daardie en daardie een – hoe gaan dit met hom, “Nee, ek het hom lanklaas gesien!” Ons het amper geweet van algar. As daar iets gebeur, dan weet ons. En ons het nie motorkarre en goed nie – ons vinnigste voertuig wat ons gehad het was ‘n perdekar.

 

Thys Taljaard Se Ma (Anna Marie Taljaard Neé Van Staden)

 

My Ma was ‘n Van Staden. Bennie van Staden se suster. Haar naam was Anna Marie gewees. Hulle het gaan trou in Tsau jy weet, toe het die trek nou klaar toe het hulle daar deur Serowe getrek, jy weet, Transvaal toe, deur Rakops, daai wêreld met die ossewa. Toe het algar ingegaan tot in Tsau en daar is hulle twee getrou, en toe het die oumense hulle gelos en hulle is vort Transvaal toe en hulle het teruggekom Dekar toe.

 

Vraag:  Was dit baie moeilik vir hulle om so alleen agter te bly in ‘n wilde wêreld?

Ag, ek weet nie, ons was nou nie jy weet, op hoogte van sake van alles nie, maar ek dink ons het lekker gebly. Dit was net die twee van hulle, as hulle ander Blankes wou sien moes hulle Tsau toe, 100 myl ry met die ossewa. Daar was die landdros en die winkelier. Verder was daar nie ander witmense nie. My oorlede pa was nie ‘n ou gewees wat wou rondtrek nie, jy weet, as hy onder hierdie boom kom stilhou en sê hy bly hier, dan bly hy daar. Nouja die vrou moes maar seker gemaak het soos wat sy kans sien vir hom om te bly waar hy wil. Maar so het hulle maar weer algar teruggekom, die hele lot, hulle het algar teruggekom wat eers weggetrek het.

 

Vrou Ontmoet & Trou

 

Vraag:  Waar het Oom Oom se vrou ontmoet en hoe was die hofmakery en verliefrakery?

Man, ek het haar lankal ontmoet, sy was met ‘n Gower getroud, Edmond se ma se pa. Nouja toe het hulle eendag gekom daar by ons – toe was hulle nog getroud. Hulle is toe terug en die man is oorlede, en sy het lank so die winkelwerk gedoen in Mochudi en tussen Kanye en Lobatse. Daar’t sy haar eie winkel gehad en maar daar aangegaan tot haar kinders nou al groot is, jy weet, en toe het hulle getrek Hukuntsi toe. Dis nou sewe myl van Lehututu af, suidwes, daar’t hulle ‘n winkel gehad vir ‘n hele paar jare.

 

Oom Fanie Kotzé, wat nou Annie Wallis se pa is, is my oorlede vrou se broer. Dis die jongste, was die baba gewees. Haar naam was Anna Letta Gloudina. Jan Kotzé het saam met haar gewerk, hulle was baie geheg aan mekaar gewees. Hy was eintlik die bestuurder van die besigheid gewees. Dié winkel het hulle daar verkoop, toe trek hulle Ghanzi toe, toe ontmoet ek haar daar by die huis van ou Mr. Burton. Toe het ou Burton vir haar plek gegee om in te bly. Met haar hele trek het sy gekom tot daar, en daar het ek gegaan. Ons het vyf jaar uitgegaan jy weet voor ons getroud is. Ja, ons was nie baie haastig gewees nie. So ek het geweet wat of wie kry ek en of ons sal deurkom in die lewe, jy weet. Ons het goed klaargekom, tot ek haar gekry het. Nou bly ek maar so stoksielallenig, die een wil weet hoekom trou jy nie, ek sê ek sal nooit weer die een kry wat ek gehad het nie. Ek het hulle algar deurgekyk maar ek sê ek kry so een nie. Sy is ’75 oorlede. Dis lank. Ek is al oor die ding, jy weet. Ek glo nie ek sal weer trou nie. Dit sal nou net skoon malgeid wees om weer te trou. Hier is anderdag twee oues van 82, 83 in die ouetehuis getroud. Maar hulle is nie reg nie, varkies is nie in die hok nie!

 

Vraag:  Hoe het die mense in Ghanzi vrouens en mans gekry?

Ag, hulle het maar so getrou jy weet, as hulle nie familie is van mekaar, maar met mekaar getrou jy weet …..

 

Vervoer in die ou dae: ossewaens, touleiers in inspan van osse

 

Man, ‘n 16 vt. bokwa het ‘n kettingtou met skakels. Ons het nog met kettings getrek, Hier waar hy nou aan die disselboom van die wa vas kom, is hy omtrent drie duim dik. Dit was ‘n yster kettingtou, met skakels gemaak. Nou dan loop hy al dunner tot by die voorosse, jy weet elke twee osse se tou word dunner … jy weet hy moet dik wees agter want ons het ook altyd maar 20 – 24 osse ingespan, groot osse. Nou dan moet jy weet dan moet jou tou baie sterk en dik wees hier by die disselboom anderste breek hulle, as die wa swaar is. So het hy maar geloop – nouja, die juk word gemaak dan kry jy ‘n kram reg in die middel. Omtrent 18” die kant die kram, 18” diékant, dan word die eerste twee skeigate deurgekap … dis omtrent, sê nou maar viervinger breed, en omtrent ‘n vt. lank, ‘n skei jy weet, soos hierdie jukskeispelery. Maar by ons was dit ou regte skeie. Dan word daar nou aan die een kant twee kerwe ingemaak, en daar kom die strop vas met ‘n oog net omgehaak in die kerf vasgemaak, dan sit jy nou die juk op die os se nek, vat jy die strop en haak hom aan die diékantse skei in. Daar kry elke skei twee kerwe – as die os se nek te dik is dan sit jy hom in die onderste kerf as hy bietjie dun is sit jy hom in die boonste kerf. So span jy weer die anderkantse os in en so span jy al 20 osse in, tot voor. Elke een het ‘n riem op die kom, ‘n goeie osriem, dan vat jy die riem nou na die linkerkant toe, dan koppel jy hom op daai os se kop en so span jy hul in tot voor. Dan het jy ‘n lang ossweep, hierdie wag-‘n-bietjie bosse, wat in Botswana so baie staan, op Dekar ook. Hulle word mooi reguit stokke gekap en gebrand.

 

Word die sweepstok nou gemaak met ‘n lang sweep omtrent van 12 vt. lank, word daai aan die stok se punt vasgemaak, en so dryf jy jou osse. As hulle mooi trek, dan sit jy voor op die voorklap, as jy sien daar is osse wat verneuk spring jy af en dan loop jy hulle deur met die voorslag – so ry jy maar met die osse.

 

Die twee voorstes het elke een sy riem en daardie touleiertjie, maar die osse is, as hulle die pad ‘n paar maal geloop het, dan gooi jy maar net die tou op en hulle gaan vort, hulle draai nie uit die pad uit nie, hulle loop. Die touleier was jong Boesmans en party groot Boesmans ook, maar dit was meeste net as ons in die leeuveld ry, in die nag, jy weet, vir die osse se skrik en omspring en dalk die wa-disselboom breek. Dan sit jy maar ‘n touleier voor en dan haak hy maar die osriem oor sy arm, so loop hy maar voor die osse deur die nag. Dit is maar meestal net in die nag gedoen. Die oswagter wat die osse oppas hy is die touleier.

 

Ons het altyd gery altyd tot hier 9 uur, dan span ons uit dan lê ons oor tot hier vieruur, daar rond as dit beginne koel word dan ry ons weer tot sononder. Weer ‘n uur uitspan, dan span jy in dan ry jy to hier so nege-tienuur, dan maak jy vas, dan lê hulle in die jukke jy weet – jy span hulle uit maak hulle vas met die ketting-tou, so lê hulle en rus en slaap. Dan span jy weer in dan ry jy tot eenuur,dan slaap jy en maak jy vas en dan slaap jy daar tot môre. Gewoonlik laat ons hulle wei en dan gaan jy maar weer daai dag verder.

 

Vraag:  Kon ‘n mens nie verdwaal as mens so in die nag trek nie?

Nee wat, die groot wapad lê mos daar en as jy gaan jag met die ossewa, hulle weet waar’s die huis. Jy gooi maar tou op jy weet, en hulle dryf maar hulself huis-toe. Kyk maar net vir gate en goed jy weet vir die wa dat hy nie in die gate inval of bome – dat jy nie vasry teen bome nie. Hulle stap huistoe. Ons het ‘n lang pad in die nag getrek net met die Suiderkruis, jy weet, min of meer die ding, plek lê daar dan ry jy maar deur die nag. Soos hierdie Kalahari-pad, wat hier deur die Kalahari gaan is meeste maar so gery, jy weet op sterre, gedagte.

 

Vraag:  Nou Oom het gepraat van pakos ry?

Ja, pakos ry, jy kan hulle ‘n kombers oor die rug vasmaak, en die pakosse het hulle gevat as die kalf nog jonk is en hulle wil nou ‘n ry-os maak. Ons het altyd gewys party’s ‘n pakos, party’s ‘n ry-os, dan word daar ‘n gat deur die neus gesteek jy weet ‘n mens se neus het aan die bokant so ‘n sagte plekkie, wat nie ‘n beentjie is of so, daar word ‘n gat deurgesteek en ‘n pen soos wat julle vroeër jare oorbelletjies gebruik het … ja. Nou dan word die stok dan daar deurgesteek jy weet, en dan so loop jy maar – en hy word groot met daai stok. As jy hom nou eendag wil leer om te ry dan sit jy nou ‘n riem aan die kant in die mikkie en een diekant. Jy sny vir jou ‘n mikstokkie, wat omtrent so lank is met ‘n mikkie en aan dié kant is nou ook ‘n mikkie jy weet … Die stokkie is so ses duim. Dan word die riem nou daar aan ‘n dun riempie vasgemaak, dis nou die toomteuels soos met ‘n perd as jy met ‘n perd ry, nouja en dan klim jy maar op en dan ry jy hom – jy leer hom en hy gooi jou af – dis ‘n vreeslike ding om te ry! ‘n Bees! Sy vel is so los, jy kan nie op hom sit nie, ons het baie beeste – jong kallers gery in die kraal, dan word die kalf nou gevang, so ‘n mooi groot jong kalf, dan moet een opklim en kyk wie kan die beste daai kalf ry – hom koudsit jy weet. Dan word hy hier by die hek uitgelaat en soos hulle nou maak met die perde ook, jy weet, dis hulle wat hulle ry, dan word hy by die hek uitgelaat en so drie, vier hale, dan trek jy! Dan skop hy jou ook nog hier van agter af jy weet, dan moet jy daar op die grond te lande kom. Dan word ook maar weer ‘n ander een gevang dan moet ‘n ander een weer opklim, kyk wie kan die beste sit, wat daai kalf kan koudsit jy weet, wat hom nie afkry nie, kom ry tot hy bedaar.

 

So’n pakos ry deur hierdie Kalahari baie beter as ‘n perd. ‘n Perd kon nie met ‘n pakos dra nie. Hy wou jou dra soontoe en terug. En as hy nou eers op daai gangetjie van hom kom soos ‘n bees nou so loop, jy weet, dan ry hy enige perd dood. Ja! Maar hy’s ‘n moeilike ding om te ry maar as jy hom eers kan ry lat jy daai vel van hom gewoond is, sy vel maak so … dis nie vas soos ‘n perd se vel nie. Jy sit daai kombers en saal op, maar alles beweeg saam met daai vel! ‘n Perd se vel is mos of hy styf is soos ‘n mens s’n wat vas is, jy weet. Maar ‘n bees s’n is los.

 

Ons het hom gery met perdesaals. Die lyf – bouvorm van van die lyf is maar amper dieselfde as die van ‘n perd jy weet, hy’t hou net die skof. Hy het twee gorte, een ‘n pensgord en een om die bors. Baie mense het net pakosse – hulle’t nie perde gehad nie! Die Kotze’s, toe hulle in Ghanzi kom, toe kon hulle nie ‘n perd gery het nie, hulle het pakosse gery! Ja, hier ou Booytjie Kotzé het so ‘n swart pakos gehad met so ‘n bont gesig, jy kan hom maar vanmôre opsaal jong, jy ry jou perd morsdood maar jy gaan nie daar slaap waar daai Haastag vanaand gaan slaap nie. Sy naam was Haastag. Maar waar hy gaan slaap kom jy nie met ‘n perd nie.Hy kan baie beter hou sonder water en as hy nou eers daardie gang van hom geleer loop het onder jou, dan ry hy amper soos hierdie kamele, jy weet. Kyk, ‘n kameel loop ook met so ‘n pas.

 

Beestrek stories

 

Jy weet, ou Oom Andries Petoors, en ou Adams – jy ken tog die Adamse. Ou Bert Adams was Mike Adams se pa … Mike se oupa en ou Andries het getrek met ‘n 500 groot uitgesoekte osse, van die plek Nogajaap jy weet … julle ken tog seker daardie plek al. Die Nogae is omtrent so 25 – sê maar 25 myl van Ghanzi-kamp af, reg suidwes. Dis nou op die grens van die ou Kalahari, wat ons altyd Kalahari genoem het as jy van Nogae water gee dan gaan jy die Kalahari in. Nou, die twee mense het nou op Noegae water gegee vir 500 uitsoek-osse – dis was altwee bejaarde mans gewees, jy weet. Die swartes werk maar met die beeste, hulle twee lê in die skotskar – jy weet dis ‘n oskar wat met twee wiele gemaak is met ‘n kap op, ‘n tent. Dan lê hulle twee nou daar en die drywer dryf maar hulle twee lê en gesels en die klomp 500 osse word maar aangejaag. So het hulle op Nogae water gegee en hulle het getrek Sand-puts toe, daai Hanahairivier. Onse pad het deur Sandputs gegaan, dan het ons daardeur tot op Okwa gekom.

 

Nouja toe hoor hulle ‘n sekere pannetjie met die naam van Draai lê vol water. En die osse het nou op Noegae gesuip en dis dag en nag – dis omtrent drie-vier dae wat hulle al sonder water is. Sulke vet beeste kan mos ook nie – nou’t hulle getrek en hulle’s van Okwa weg en die beeste het getrek en daardie water geruik, daai 500 groot osse, hulle het stormgeloop in daai pan en modder getrap – 500 bees jy weet in ‘n pan water gelyk, dis ‘n maal en kleitrap. Toe kom hulle daar toe sien hulle nee, hierdie bees het nie ‘n druppel gedrink nie en alles is weggetrap. Toe draai hulle daar om, nou die bees het laas op Noegae gesuip. En hulle is maar weer in die kar in en die bees weet ons gaan nou huistoe en hulle hardloop in die warm son jy weet, die mense wat aanjaag kan naderhand nie bybly en die perde word moeg en die bees hardloop, hulle gaan nou Ghanzi toe, na die plase waar hulle gekoop is. En toe hulle hier van Okwa af omtrent tien myl weg is, toe begin hulle onder die bome inkruip, toe’s hulle klaar, dooddors. Toe lê tot veertig, vyftig beeste onder een witgatboom. Die bene lê vandag nog daar. So het hulle gelê en doodgaan, doodgehardloop. Toe hulle teruggaan, toe kom hulle daar op omtrent 200 bees af wat weer anderkant uitgekom het, die ander het hulle almal verloor. So het die Kalahari gewees vroeër tyd. Dit was ‘n reuk gewees daar dat jy nie daar kan loop nie. Daar lê vandag nog die ou wit bene, dit is ou Andries Petoors en ou Adams se beeste wat daar bly lê het. En hier, ou Charlie Sharp, sy broer ou Frank Sharp, het eenslag met ‘n klomp bees getrek, van Tsau af jy weet, toe kom hulle nog hier oor die Duitse pad deur die dik bos, na Kobiespan toe, ek weet nie of jy weet – laas het ou Bill Stander die plek gehad – ek weet nie wie’t hom nou nie. Nou daar het ‘n ou groot put – is nog daar, ‘n ou gat jy weet wat jy so drie-vier mense staan en skep jy die water en gee vir daai een, dan gooi hy dit in die krip bo. Hy’t ook maar so in die kar gelê en die klomp volk van Ngamiland wat maar nie weet van die affêring weet nie, jaag maar aan. Daar was nie een voor nie en die wind kom daarvandaan, jy weet. Toe’s hulle ook al twee dae sonder water, en die beeste ruik die water en hulle hardloop – hulle het daai put so toegeval dat daar was nie meer ‘n put nie, net beeste, daar’s meer as 75 van daai bees in daai gat dood. So het hulle ook maar probleme gehad in die ou tyd …

 

Stene maak en brand vir Wenela

 

Vraag:  Vertel bietjie hoe het Oom kalk gebrand en stene gemaak vir Wenela?

Man, ek … ons het toe in Maun gebly, jy weet, ek en my vrou, toe kom een van Wenela se ou bestuurders, Smittie. Ou Smittie vra toe vir my of ek so ‘n kontrak sal aanneem om vir die Wenela 100.000 bakstene uit te pak, jy weet. Dan moet jy goeie goed uitpak, nie halfgebrand of verbrand of so nie, enne ‘n duisend sakke kalk brand, jy weet. Nouja, ek het met my vrou gepraat, sy sê ons moet maar die werk aanvat. Nouja, toe teken ek die kontrak dat ek die 100,000 stene sal vir hulle uitpak, en die kalk brand, stene teen drie pond ‘n duisend, ponde, nie Rand nie, en die kalk sal ek vir hulle teen ‘n pond ‘n sak brand, jy weet. Kalk is makliker om te werk as stene. Ek het nie ‘n ryding daar nie, maar die ou man, ou Davis, was ook ‘n bestuurder van Wenela gewees, dan rekruut hy hierdie volk uit Vamboland, hy gaan haal hulle met die lorries dan kom gee hy hulle nou kos daar, dat die Vambo’s eers sterk word, jy weet, en die regte gewig het en dan stuur hy hom Witwatersrand toe, Johannesburg toe. Nouja toe sê ek vir ou Smittie waar die stenegrond is is nie hout nie, ek sê en waar die kalkklippe lê is ook nie hout nie. Ek moet die klippe vervoer of ek moet die klei vervoer na die hout toe, jy weet, nouja ek moet vervoer hê. Toe sê hy, man hy sê ons kan so goedkoop hier werk, hy sê ek sal vir jou elke dag sorg dat jy veertig mense het wat vir jou werk. Hy sê, hulle is duisende. Daardie stene het ek gemaak, hier Theunis Gower, en Grieta van Booytjie se broer Kerneels, dit was nou twee outjies wat ek nou gehuur het, om vir my te help. Hulle twee vorm stene en die stene, en die kalkveld is omtrent twee myl uitmekaar uit, en dan moet ek nou loop en ek moet sien of daardie klomp aangaan, en ek moet loop en ek moet kyk by die kalk – so loop ek my amper dood! En elke stukkie hout wat daai goed mee gebrand is, is afgekap en aangedra op ‘n Vambo se skouer. die stenefabriek – by die kalkfabriek het ek altyd omtrent so 20 – 25 volk gehad wat gewerk het. Party slaan klippe stukkend, party dra hout aan, party grawe die gat waar ek die kalk in brand, daar by daai afdeling is weer Theunis en Kerneels-hulle, party vorm stene, party dra uit, party dra hout aan, as die duisend of tien-duisend wat jy wil brand klaar is, dan is die hout klaar daar. So het ons hulle gebrand, jy weet.

 

Vraag:  Nou hoe brand ‘n mens kalk?

Jy grou, grawe ‘n gat in die grond, diep. Ek het altyd – daar op Dekar, by Bierbottel – daar waar klein Doepie nou bly, daar was altyd my kalkvelde gewees wat ek kalk gebrand het vir Ngamiland, vir messelkalk. Grawe jy ‘n gat, hy’s omtrent die helfte van hierdie muur se diepte, langer as hierdie vertrek, dan word daar nou ‘n laag hout ingepak, en so ‘n dik laag klippe ingegooi en weer ‘n laag hout en weer klippe en so hou jy aan tot jy bo uit is. Dan steek jy hom aan die brand, dan brand hy omtrent so ‘n week, dan’s hy uitgebrand. Jy grou jou gat so skuins, lat hy lug kan trek binne deur en in die middel pak jy vir jou so ‘n streep van fyn houtjies en goed jy weet wat maklik brand - as hy eers deur is, loop hy boontoe. So het ons kalk gebrand.

 

Vraag:  En die stenemakery?

Die stene – as jy nou so ‘n twintig of ‘n dertig duisend stene klaar het, dan beginne jy jou oonde pak. Jy pak jou voete, ons het hulle altyd agtien duim gemaak, die binnevoete. Die buitepote nege duim. In die middel waar die hout nou gepak is, is hy omtrent ook agtien duim, tot twee voet, maar agtien duim was hy al reg. Nouja dan pak jy nou jou stene opmekaar, vier stene mooi gelyk tot daai bek van hom nou mooi gelyk is, nou dan beginne jy nou jou bek trek, die oond se bek, altyd so ‘n halwe steen, halwe steen, halwe steen tot hy bo kom dat die twee teen mekaar sluit. Die hout is klaar ingepak, as jy klaar gesluit het, dan pak jy jou oond klaar, tot bo en jy pleister hom af buitekant en dan steek jy hom brand. Dan staan jy nou daar twee drie dae dag en nag en stop hout in, tot jy sien die vuur is bo uit. En dan maak jy die bekke oop dat hy koud word. Dan pak jy daai lot uit en so hou jy maar aan. 100,000 stene. Nou daar het ek gewerk jy weet en die dag toe ek nou klaar is, die volk het my altyd gekos so ‘n rand ‘n kop, mielies het ek gekoop, teen twaalf-en ses, een rand twintig sent ‘n sak, dan word hy volgemaak. Ou Davis het my gesê jy kom bederwe nie my prys hier nie, ek sal daardie goed vir jou kry. Jy gee net die geld terug. Dan maak hy daai sak mielies, ‘n mudsak soos hulle altyd sê, dat hy so ‘n koppie staan bokant die sak uit, vir twaalf-en-ses. Nou dan vat hy daai mielies, van die maatsakke maak jy omtrent vyftien sakke mieliemeel, ja. Grondboontjies, die het jy ook so in die sakke teen twaalf-en-ses gekoop. Dan gee jy jou volk mieliepap en grandboontjies jy weet, dan koop ek ‘n bees by hom, dan koop hy die beeste so vir twee pond ‘n groot koei, dan skiet hy vir sy mense wat hy nou kosgee ‘n koei dood en skiet een vir my dood. Twee pond ‘n koei! Dan gee ek my volk vleis, jy weet. Nouja en toe hy nou die dag afreken toe gee hy my nou die hoop geld, toe is ek nou grootman, jy weet! Ek en my vrou het darem ook iets om mee te begin! Toe het ons op Sehitwa gaan bly, jy weet daar duskant Sehitwa, waar die peperboom staan. As julle daar afry sal julle nog die peperboom sien staan. Nou daar het ek en my vrou begin, ook maar net met ‘n donkiewa, jy weet.

 

Putte grawe, blacksmith werk, kapkarre maak, huise en damme bou

 

Vraag:  Toe kon Oom ook ’n bietjie daar boer?

Ja, maar daar het ek weer ander werk gedoen. Putte gegrawe jy weet, vir die nie-blankes, so ‘n soort van ‘n blacksmit geraak. Ek het kapkarre gemaak en al daai goed wat bees ingebring het, huise vir die winkeliers jy weet, plekke opgesit, damme gebou vir hulle, toe ek weer by die huis kom, toe het ek en my vrou omtrent amper ‘n sewehonderd bees. En ons het gebegin met 75! So ek het nie op my rug gelê en in die geld gekom nie. Ek het wyd en syd in die ou wêreld rondgegaan, ek was amper in Angola gewees, hier met die Okavango af, ek was ver in Noord-Rhodesia en Lusaka, hier in Suid-Rhodesia, die weskus, en tot in die ooskus. Al plek wat ek misgeloop het, is die Kaap. Ek kom nie daar nie!

 

Vraag:  Oom sê Oom het partykeer noue ontkomings gehad …

 Ja, ons het baiekeer put gegrawe jy weet, as jy nou daar van Ghanzi af Kuke oor ry, op die ou pad daar is so ‘n ou monument gebou, van granietklip, dis ‘n ou put wat ek gegrawe het daar vir die regering. Hy moes 100 voet diep gewees het, vir ‘n honderd pond of water, vir ‘n honderd pond, die kontrak lui so. Dan werk ek onder en my oorlede pa is bo, soos ek die klippe uithaal, so pak hy die klippe – hulle het laas nog so half gestaan, die elande het party omgestoot jy weet, maar die klomp klippe is nog daar. Daar het ek eendag, jy weet dan moet jy so dinamiet skiet dat jy skiet die hele put se walle los. Ek het daar onder gestaan en werk – dan moet ek nou eers weer bo blok vir eiligheid vir daai klip, anderster as jy hier staan en werk en daai rots kom af, is jy dood. Staan weer daar bo, ‘n hêle klomp houte, my ou Hotnot is onder my, hy moet nou die houte aangee lat ek hulle insit bo, jy weet, daar glip die een hout en daar trek ek met daai klomp houte daar af, bo op die ou man. My kop knoppe teen die walle jy weet, en die ou Hotnot, hy sê, “Ja”, as ek jou nie gevang het nie...”, maar ek het hom toegeval met die hout! “As ek jou nie gevang het nie was jy dood”! Maar ek val hom heel toe! Ons blok die wal, die wande van die wal so dat dit al val daar ‘n klip los, kan hy nie die blokke toeskuiwe nie, dis veilig. So het ons daardie putte uitgeblok. Op ou Dekar daar onder, in die pan hy’s ook so gebou. My oorlede pa se werk, dis nog voor my tyd gewees. Daar is blokke in wat ouer as ek is in daai ou put.

 

Daai ou put het ek baie onder in hom denamiet brandgesteek jy weet soos droeë jare wat die water swak word. Dan moet jy maar dieper grawe. Ons het Hardekool gebruik. Van ek my verstand ken het ons dinamiet gebruik maar vandag mag jy hom nie in jou hand vat nie. Met hierdie onheile wat aan die gang is. Ek het duisende en duisende en duisende … daai put wat ek van praat het ek oor ‘n tien kaste opgeskiet. Nou ‘n kas dinamiet is groot, daar’s omtrent vier pakke van 100 kerse in. Die hele Ghanzi het met dinamiet gewerk. Nou die Lewiese – die tyd wat ons daai put grawe – ek en my pa, toe is dit nou oorlede Oom Chrisjan wat die kontrak gekry het, jy weet Lina se oupa, en ou Oom Magiel Petoors en ou Oom Bennie van Staden, en ou Fanie Lewis se oudste broer Chrisjan, toe grawe hulle ‘n put op Daggakamp, Adams se plek. Daar is ‘n ou put wat ook 100 voet diep is wat hulle gegrawe het wat ook nie water gehad het nie. Eendag het die klomp dinamiet geskiet en sleg gelaai en toe blaas die skoot bo uit jy weet – hy breek nie die klippe nie, en daar bly ‘n stuk dinamietkers onder oor, wat nie aan die brand geslaan het nie, en die klomp wil nou die gat dieper boor. Nou hulle is ‘n hele klomp daar, een hou vas, een boor ‘n gat hier en daar is ‘n handboor met ‘n vierpondhamer, en jy sit en daar slaat een daardie skoot dinamiet aan die brand jong, net klippe en vuur en hulle is vol bloed, party heel uit, jy weet, en toe moet hulle nou vir hulle daar uitsukkel uit daai put uit. Toe los hulle daai ou put net daarso, toe werk hulle nie verder aan hom nie. Wat ek van weet was daar nooit een wat so ongelukkig gewees het wat so doodgeraak het van dinamiet nie. Ons het hom te goed geken. Eendag het ek ook amper ‘n skoot aan die brand geslaan! Toe was dit die ou Theunis Kotzé, my ou swaer, jy weet, ou Tickles se pa, en ou Bush McIntyre, nou lê hulle, ek laai dinamiet, nou lê hulle by die put se bek so en kyk, dit was nog die ou put daar op Eersterus daar by Oom Theuns se plek. En ou Bush sê vir my, hy sê “Nee, ek laai nie dnamiet so nie,” gebruik hy nou die woord, “Ek donder hom vas in daai gat.” Nou jy het laaistokke jy weet van hout, dan druk jy daardie dinamietkers plat onder in die gat, hy lê plat. Hy sê, “Ek slaat hom met die hamer vas.” Ek slaat hom en daar peul ‘n stukkie uit jong, daar ontplof daai stukkie. Toe hardloop hulle bo, toe sê hy: “Ek het nie gemeen jy moet hom so hard slaan nie!”

 

Maar ek sê, “Man, ek het honderde skote al gelaai, moenie vir my kom sit en leer nie!” Nou dis die nouste ontkoming wat ék met dinamiet gehad het.

 

Onderhoud verkry uit bande X en Y.

Kom laat ons saambou vir onthou .....

Print asb. vir alger om te lees.

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page