Booy Kotzé
Print asb uit en deel met die ander ...
ONDERHOUD MET OOM BOY KOTZÉ, GHANZI 1980.
Vraag: Maar lyk my die leeus word meer deesdae op die kalaharipad?
BK: Ja, hulle is vreeslik volop, sê Wynand vir my nou. Hy sê, vol, jy kan amper nie trek met die bees nie. In die nag kan jy nie roer met beeste nie, vreeslik volop, die leeus. Maar hy’s nie in die nag baie wreedaardig nie, hy’s sommer meer kalm, die maanhare en goed hang sommer so regaf, hy’s heel kalm, jy kan maar tot by hom gaan as jy hom moet doodskiet. Ja, jy kan, omtrent, nader as hierdie draad kan jy by hom kom. Hy’s ewe kalm altyd. Hy soek maar net bees, donkies en perde en sulke goed. En as hy nou gewaar hier’s ‘n mens by hom, dan vlug hy, hy vlug weg.
Vraag: So dis in die dag, wanneer hy weet hy word gejag …
BK: Ja, wanneer jy nou vir hom pla, dan word hy kwaai, dan’s hy baie kwaai, maar in die nag is hy baie kalm. Ek is nie eers bang vir hom nie, ek stap tot hier by hom, en die kinders stap ook tot by hom, ek sê vir hulle, “Julle hoef nie vir hom bang te wees nie, hy sal nie vir ons stom nie “.O, ek het die goed baie doodgeskiet, in die Kalahari.
Vraag: Maar die grootste jagter, lyk vir my, was daai Oom Chrisjan Lewis, nê? Hy’t 250 leeus geskiet …
BK: Ja, ja … hulle sê hy’t so baie leeus geskiet. Hulle’t nou so gemaak, hulle volg hulle op, jy weet, as hulle net die spoor kry, dan volg hulle op, ons het nie so gemaak nie, ons het maar net die wat vir ons pla, die’t ons … Ons het hulle nie eintlik gevolg nie.
Vraag: Daarvan gepraat, Oom Booytjie het nie eintlik gaan jag nie, of het julle ook jagtogte gemaak?
BK: Nee, ‘n enkele maal so ‘n klein jagtoggie.
Vraag: Sommerso op die plaas, of waar?
BK: Op die plaas ja, op die plaas.
Vraag: Oom-hulle het nooit gaan olifante skiet of gaan buffels skiet, …
BK: Ek het nog nie, ek het ‘n buffel nog nooit gesien nie! Ek’s ongelukkig, ek kom uit die wêreld waar is, maar ek kon hom nooit sien nie, hy’s altyd in die ruie bos.
Vraag: Was dit nog Oom Jan Kotzê wat gesmous het?
BK: Ja, ja … hy’t ook ‘n winkel gehad. Hy was ‘n werksman daardie gewees.
Vraag: Nou het hy ook ‘n winkel in Ghanzi gehad? Daar op die Kamp, of waar?
BK: Ja, daar op Eersterus, daar’t hy sy winkel gehad.
Vraag: So Oom-hulle het allerhande bedrywighede daar bymekaar gehad?
BK: Ja, die besigheid was eintlik sy oorle suster Lettie s’n, gewees. Toe’t hy dit naderhand oorgeneem, ja … en die begin van daai besigheid was oorle Terry Gower … Edmond-hulle se pa. Hy’s mos oorlede en toe het sy suster Lettie mos als geërf, en toe hy hulle besigheid vir hulle gedoen, en toe het hierdie broer van my daardie besigheid oorgeneem. Ja, en toe terwyl hy die winkel het, het sy maar ‘n klomp smous-goed ook en dan ry hy maar rond en smous en so voort
Vraag: Dis nou nog ‘n ding wat die mense in die boek sê, die wat mense self gesê het, ek dink dis ou Morris, hulle’t met hom ook gepraat, kyk, hier’s Oom hulle ook weer … hulle sê Oom-hulle soek leeus.
BK: Ja, ja, dis daai selle nag wat ons die leeus gekry het, daai dat wat hulle daai kiekie gevat het. Ja, hulle was vreeslik verbaas gewees. Ons het toe die hele dag getrek, en die aand waar ons nou gaan … het ons ’n groot kraal gemaak vir die bees, toe nou het ek die gewoonte gehad om so vyf-ses lampe saam te vat, dan brand die lampe om die krale vir die beskerming van die bees. Enne daardie aand het ons ook so gemaak, groot vure ook om die kraal gemaak, toe’t ons nou ‘n groot vuur daar by die lorrie ook gemaak, enne toe begin’t ons nou vleis braai. En hulle vra vir ons: “Wat maak julle nou?” Ons sê ons wil nou vleis braai vir ons om vanaand te eet. O, hulle was … hulle het vir ons gesit en kyk daar na die vleisbraaiery. En weet jy dat hulle nou daardie aand om so te sê die lekkerste vleis wat hulle in hulle lewe geëet het.
Vraag: Nou watse vleis was dit?
BK: Dit was ‘n bok gewees, ‘n slagbok wat ons op pad Hanuhai toe gekoop het, vet bok. Nou die ribbetjie het ons aan spitte gebraai, so naby die vuur, dat hy net die hitte van die vuur kry.
Vraag: Nou hoe werk die snitte, Oom Booytjie?
BK: Dis maar net so, hout met twee punte, twee mikke, dan maak jy hierdie punte skerp, dan steek jy die ribbetjie daarin vas, en dan druk jy hom in die grond, onder is hy ook skerp, dan druk jy hom vas in die grond in, dan staan hy nou daar, hy … hy, daardie rib word net gaar, jy draai hom net so om, en dan so om en dan so om. Hy word net gaar van die vuur se hitte, jy braai hom glad nie in die vlam of in die kole nie. Enne die aand toe ons nou klaar ‘n groot seil daar oopgegooi, eetgereedskap alles daar gebring, toe beginne eet ons nou, toe ons beginne eet, toe’t hulle ook maar beginne soos ons, jy weet, van eers klein stukkies, en toe sien hulle ons sien hulle ons sny die hele ribbetjie af, dan vat ons hom sommer met die hand, en hulle het ook maar … o, maar hulle het vreeslik lekker geëet. En die aand toe gaan slaap ons nou, enne … ek slaap mos langs die lorrie, ons kooie gemaak, en hulle slaap ook so eenkant by ons, en die nag toe het daar ‘n leeu gekom … Ons donkie staan hier naby ons vas, enne toe’t hy … Ons het ‘n kraaltjie om die donkie gemaak, ons het hom vasgemaak, ook binne-in die kraal, toe’t hy ingespring in die kraal, toe spring daardie een donkie van ons, maar hy’s gewoond as jy met die bees werk, hy ken ook nie ‘n donkie nie, hy loop, hy wei met die perde saam, as jy hom tussen die donkie span, dan loop hy na die perde toe! Enne hy was ook daar in die kraaltjie, hy spring toe uit en hy harloop lorrie-toe. Toe die leeu in die kraal inspring, toe breek hy die riem en hy hardloop en hy loop staan by die lorrie, en ek sê vir die kinders, ek sê “Hier’s nou groot fout, as ou Bloubok so weghardloop na die lorrie toe, dan’s daar ‘n groot fout, hy hardloop nie sommer weg nie.” Enne ons vang, ek vang hom toe maar, en gee hom vir ‘n outa, hy hou hom vas, toe hoor ons die een donkie hardloop dié kant toe, en die leeu is al die tyd eenkant, en hulle is nou eenkant, nou wil hulle die donkie keer, maar die donkie, natuurlik, hy sien nou beter as hulle, in die nag, dan snork hy het en hardloop maar weer vorentoe, en hy hardloop maar weer vorentoe … maar hulle weet nie van die leeu nie, en later toe’t hulle darem die donkie gaan voorkeer, maar hulle sien die donkie kyk net hier in die donkerte in, hy’t natuurlik die leeu gewaar. Enne hy’t ook daar waar hy uitgespring het, die nag, toe het die leeu hom al half in die boude gehad, maar hy’t uitgeraak, hy’t maar ‘n paar skrape gehad, dié wat die dier so gevlug het, toe’t hulle maar die donkie in die hande gekry. Ja, en die anderdag môre toe kyk ons die spore en goed toe sien ons maar die leeu het heelnag om die krale, om die lamplig … jy weet en die nag toe skrik die bees, en as die bees nou skrik, dan spring julle mos ook op en kyk wat loop aangaan, daai een man, hy dink toe die leeu is nou hier by ons, hy raap hom op en hy spring oor die, enne hy spring onder die lorrie en daar kom sit hy onder die lorrie! Hy’t so groot geskrik. Hy sê hy’t hom verbeel die leeu is nou hier by hom. Ja, hulle was vreeslik bang. Die anderdagmôre toe ons nou trek, toe sien ons die leeu se spore, al met die pad gekom en weer terug gedraai met die pad saam. Maar hy het darem vir ons niks verder gemaak nie.
Vraag: Mens is darem seker benoud daai tyd?
BK: Ja, dit is. Daarvandaan dan slaap ek nie weer nie, as ek eers gewaar het daar’s leeus, dan slaap ek nie meer nie, dan stap ek met die flitse heelnag rond om die krale … ja.
Vraag: Het Oom al gesien, Oom is op ‘n boek?
BK: Nee?
Vraag: Het Oom nie gesien nie? Laat ek gou vir Oom wys. Daai mense, daai Russell-mense …
BK: Wie’s dit?
Vraag: Daai Russell-mense van Engeland af, wat destyds, ek weet nie of Oom hulle onthou nie?
BK: My! Weet jy waar is hierdie plek?
Vraag: Dis met ‘n beestrek.
BK: Dis ‘n beestrek, …
Vraag: Ek dink dis ‘n koerantman wat vir Oom-hulle afgeneem het.
BK: Dis reg, hy’t saam met ons gegaan, hy’t saam met ons ... hy wou deurgegaan het met ons, maar die aand voor hulle weg is, toe’t ons leeus gekry, daar’t leeus by ons gekom die aand, ja, dit is … dit is by Okwa-rivier, hier waar hierdei kiekie geneem is.
Vraag: Watter seun is daar saam met oom?
BK: Dis Nico, my oudste seun. Dis ‘n woeste pyp in die bek!
Vraag: Dis ‘n mooi prentjie!
BK: Goeie wêreld, ja! Dit is hierdie …
Vraag: Ja, dis jammer dat die boek nou in Engels is, maar Oom weet dis nou ‘n studieboek wat op universiteit ook gebruik word. Hulle leer nou van allerhande verskillende soorte mense, en so ‘n boek is dan vir hulle interessant, want dis ook weer anderste soorte mense. Ghanzi-mense is mos maar bietjie anderste as ander mense!
BK: Ja! Baie anderste.
Vraag: Kyk, hier is sommer ‘n klomp van Ghanzi se mense, verskillende soorte mense wat hier in Ghanzi bly. Hier sit Oom Bruno hier onder.
BK: My tyd … wêreld! Maar hy’s ook in die bondel. Nee, is dit nie Piet Grobler nie? Hy was ook eenslag daar deur die Kalahari met ons, daardie selfde skoot wat hy wat hulle gegaan met ons. Dit lyk baie soos Piet Grobler. Piet is mos my skoonseun, ja, ja hy’t een slag met my saam gevra om met my saam te gaan, toe gaan hy daai skoot deur. Ek weet hy’t nog … hulle’t nog ‘n kiekie van hom gevat en dit is op Hanahai, daar waar hy die beeste wegja, maar toe’t hy ‘n hoed opgehad.
Vraag: Ja, die Swart mense ken ek ook nie eintlik nie .
BK: Ek ken hulle ook nie. My goeie wêreld!
Vraag: Want ek het hierdie boek van Engeland af bestel, …
BK: My goeie wêreld, is dit nie wonderlike nie! Klomp geld.
Vraag: Ja, dit was R22 vir die boek.
BK: Was dit Afrikaans, sou ek sê jy moet vir my ook een bestel!
Vraag: Ja, dit is nou bietjie moeilike Engels ook. Kyk, hier staan Tant Maria Burton ook. Hulle het daar geskryf van hoe goed sorg sy vir die Swartes. Sy’t kos vir hulle gevat veld-toe, as hulle gewerk het. Was die Burtons en so aan, was hulle in Ghanzi gewees toe Oom-hulle daar ingetrek het?
BK: Die Burtons, ja, ja. Hulle was nog ongetroud gewees, die een was glo getroud, ook met ‘n Kleurling, daai eerste een wat dood is, en hierdie oorle ou Mr. Burton is getroud terwyl ons in Ghanzies was, ons was al daar gewees.
Vraag: Julle het met die ossewaens getrek?
BK: Die ossewaens, ja.
Vraag: Nou vertel bietjie hoe was dit?
BK: Ons het maar die osse self geleer, en so gemaak dat hulle werkbaar is. Maar op die beestrekke was ek net, ek het die eerste tyd ek met pakdonkies getrek. Ja, ek het 130 myl moet ek water met hierdie 4 gallon kanne sit, pak ek ou - ek het paksaals gehad, dan pak ek dit op die donkies.
Vraag: Dan hang dit so weerskante af van die donkie?
BK: Ja, dit kom aan die paksaal vas. Ons het 130 myl getrek met daai water wat ek oplaai op die donkies! Vandag kan ons nie eers met twee dromme uitkom nie!
Vraag: So dan was daar gladnie ‘n karretjie of ‘n ding by nie?
BK: Nee, net die donkies. Ja, nee, ek het altyd my perd gehad, ek het altyd my ryperd gehad. Ek het maar so die hêle pad afgery as ek moeg word om te ry, stap ek, dan lei ek maar die perd. Mieliemeel en als was verder op die donkies, Daar’s twee ekstra volk wat die pakwerk doen.
Vraag: So dit was nou net water, mieliemeel …
BK: Ja, en suiker, en suiker en tee en koffie.
Vraag: En watse medisyne het mens nou saamgevat?
BK: Nooit medisyne gevat nie. As ek gevat het, dan vat ek Mag-asperien, dis al medisyne wat ek gebruik, as ek hoofpyn kry of so. Nee, ek het nooit siek geword in die pad nie. Ek was ‘n baie gesonde mens, dis nou net hierdie hartkwaal … en nou dat ek hierdie masjien in my het.
Vraag: Daar’s nie ander wat siek geword of doodgegaan het op die trekpad wat Oom van weet nie?
BK: Nee, gladnie, ek het nie gehoor van hulle nie, wat doodgegaan het nie.
Vraag: Maar dis darem so vêr van alles …
BK: Ja, en dan ry jy maar met die perd in die nag, kyk vroeër tyd, want toe was daar nog nie die water, die gerief van die water nie, dan moet jy maar heelnag op die perd bly, en dan moet jy agter die bees wees, en dan moet jy voor die bees wees, so moet jy maar die heelnag trek met die bees, in die donker nag! Ja … maar een geluk, daar was nie leeus gewees nie.
Vraag: Daar was ook nie ander mense langs die pad, Swartes en ander volke nie?
BK: Ja, jy kry … soos daai op Lehututu, hy’t baie Swartes en so. Lehututu en Kokong. Hulle was maar daar … vêr van die water af ook, soos hulle maak. Ons kom trek maar met die bees verby, hulle weet nie eers nie.
Vraag: Nou waar’t hulle water gekry?
BK: Hulle’t putte gegrou, ja putte gegrou, dan trek hulle … dan’t hulle ‘n emmer, dan trek hulle dit uit met die riem. Party gee die bees water, al die bees. Ja … As ons nou so trek dan huur ons daai mense wat nou daar bly. Dan betaal ons hulle, dan gee hulle ons bees water. Dan gee jy vir hierdie ene, die putte was nie baie sterk nie, dan gee jy maar vir hierdie een so ‘n twintig, en daardie een so ‘n twintig, dan skryf jy net hulle name op en betaal van die bees. Dan gee jy hulle klaar water, dan bring jy hulle weer terug, dan betaal jy hulle daarvoor. So’t ons gemaak.
Vraag: Dan was hulle seker ook maar bly vir die geld, …
BK: Ja, hulle is bly, hulle is so gretig om die bees te kom haal. Dan is dit ook soutwater, brakwater, in die Kalahari, ja.
Vraag: Nou word die beeste nie vreeslik dors as hulle dit gedrink het nie?
BK: Ja, hulle drink … kry ook maar dors jong. Soms het die bek só gestaan maar ons kon darem deur met hulle!
Vraag: Het dit nie met Oom Gebeur dat die beeste weggehardloop het nie?
BK: Net een aand. Toe’t ek getrek met ‘n 400 osse van daardie Bailey’s wat nou op Maun is. Ek het met 400 groot osse getrek. En omtrent so nege-tienuur, ja trek ek ook in die nag, en daar was ‘n vreeslik ruie bos, enne ons trek nog so, toe sien ek, ek het net een perd by die bees gehad, enne toe sien ek die perd beginne word bang, en hy snork en hy wil nie loop nie, en ek sê vir hulle, ek wil net vir die outas sê julle moet die bees stop, hier’s seker fout, toe is dit al die tyd, ek dink drie leeus, wat ook met die pad aankom, lê hulle ons nou voor, jy weet, die klomp bees. En voor die outas die bees stop, was die beeste al party reeds verby, en daar skrik die osse vir die klomp bees, weet jy, en my kind ??? en van die outas is nou agter en daar’s van hierdie wilde Boesmans ook, die’t ek ook met twak gehuur dan betaal ek hulle nie twak nie, hulle help vir my die eerste nag wag, dan draai hulle weer om, enne die klomp osse, die 400 osse, hardloop nou terug, en dis vreeslik donker die aand, en ek het net een perd, dan loop keer ek ‘n klomp, hulle’t in twee klompe gedeel, nee, in drie klompe, dan het ek eers ‘n klomp gekeer, maak ek vure om hulle, toe kom die outas en ek gee hulle toe daai klomp en ek jaag voort. Ek het eenslag gehoor, ek hoor iets agter en toe hou ek die perd stil en ek luister, maar toe’s als doodstil, net ek weer beginne, toe hoor ek hom weer! Toe ek natuurlik stop, dan stop hy ook, enne ek het weer ‘n klomp geloop keer, en bring hulle by hierdie klomp, daar’s toe nog ek dink so ‘n sestig kort, ek kon toe nie tel nie, en hulle maal nou so die hele nag, hulle’s nou bang, maak vure om hulle gemaak, en die anderdag môre toe tel ek hulle, toe’s daar sestig kort, en ek kan toe nou nie, dis nou dors voor, 130 myl voor, ek kan nie omdraai om daardies te loop soek nie, toe’t ek maar daar een outa gevat en hom op die spoor gesit. Ek het hom kos en water gegee, ek sê “Jy vat hierdie bees se spoor” want toe’s dis omtrent daarvandaan waar hulle nou weggehardloop het, omtrent 30 myl, na die water toe – hulle’s toe sommer vort terug! Enne daar was ‘n wit os tussen die klomp, en reken dat die leeus het toe agter daai klomp bees gehardloop en hulle het daai wit os die nag gaan vang, seker oor hulle hom kan beter sien, ja hulle het daai wit os gaan vang die nag.
Vraag: En toe kry hy die beeste?
BK: Ja … toe die man daar op Okwa kom, toe is die bees daar. Toe’t hy hulle net gevat en plaastoe gevat. Ek is toe met die ander klomp bees … Ek was aan die een kant baie gelukkig met my beestrekke, … een slag toe’t ek getrek, en ek het ook pakdonkies gehad, enne dié nag toe’t die bees ook geskrik en die klomp donkies hardloop saam, hulle’t my kanne afgegooi, die water het alles uitgeloop, dit was nog die dag voor Kersfees, en … maar toe’s ek baie vêr van die water en al my water het uitgeloop, enne ek kan nou nie teruggaan nie, dis te vêr om terug te gaan, en dit vat my weg van die bees af, nou lê ek daar langs die klomp bees, nou lê ek tot twaalfuur die middag, nou lê ek so onder klomp bome, die perd het ek gespan, die wei daar, nou lê en dink ek, wat moet ek maak, moet ek trek, of … ek sê ek kannie trek nie, want ek het nie water nie, en weet jy, daar kom ‘n duif, dis so hy een van hierdie witgatbome, matlopibome wat hulle altyd sê, nou hy kom sit bo op die boom, en hy koer-koer so ‘n paar maal, en ek dink nou, toe dink ek maar ‘n duif bly mos nie sonder water nie? Maar hier diékant my is so ‘n kalklaagte, daar is gate in, in dié kalklaagte, sulke klipgate, en ek sien die duif vlieg so af na die droë rivier toe waar die kalkgate is en ek dink nee, ek vat nou my perd en ek volg daai duif, en ek ry nou na daai klipgate toe … Enne toe vat ek al my watergoed en ek loop maak hulle vol. Dit was darem seker ‘n bestiering gewees! Ja, en dis nogal Kersfeesdag, ek het nie eers drinkwater nie! Ja, ja, dit was Kersfeesdag. Ek was toe dors gewees. Ek het baie sulke dinge oorgekom.
Vraag: Vertel bietjie van nog, wat het nog gebeur?
BK: Ek het een slag het ek getrek, met ‘n ossewa, enne die nag … dit was ‘n vreeslike klipperige pad, enne my wa het ‘n kraan ingehad, die kraan het so bietjie uitgesteek, en die nag met die stampery van die wa, toe’t die kraan afgebreek, toe’t al my water uitgeloop. Nouja, toe’t ek ‘n vrag mielies en ‘n klomp kole en sulke goed …
Vraag: Was dit van Ngamiland af?
BK: Van Ngamiland af, ja, enne nou sit ek ook die dag, ek weet nie wat moet ek maak nie, ek kannie die vrag, ek kan hom nie daar los nie, ek kan ook nie weer teruggaan. Ek sien daarvoor op met hierdie wa van my, nou voor is ook maar dors, dis amper ‘n honderd myl wat ek moet trek met die goed, en ek sien die aand die osse is weg, ek spring sommer op en ek gaan kyk waar is die osse, ek wil nie hê hulle moet rondloop nie, want dis reeds vêr wat ons moet gaan … en ek kry nêrens ‘n spoor, toe’t hulle so agter mekaar dat dit eintlik ‘n pad is, en naderhand toe sien ek maar daar wei die osse, en toe sien ek maar al die osse se pote is vol klei, wee’ jy, my kind, jy sal nie vir my glo nie, en ek dink nou ek moet die osse se spoor terugvat, en ek kom so, ek loop so op die osse se spoor, toe sien ek naand daar ‘n groot kol groen gras, sien ek, en ek sien die osse kom daarvandaan, toe’s dit ‘n kol water wat daar lê, skoon helder water, … nee, dit moet ook reënwater wees, maar dit het seker goed lank water gehou, dat die gras noual opgegroei het, … al die osse daar klaar gedrink, ons het ons waterkanne volgegooi … So ‘n geluk sal ek nie weer regkry nie!
Vraag: Het die osse die water geruik?
BK: Ja, hulle het seker die water geruik, ja, en toe’t hulle soontoe gegaan.
* * * * * * * * * * * * * * *
Maar dinge het met my gebeur, dinge kon ek soms nie verstaan nie. Soos ek het eenmaal Pretoria toe gegaan……
Vraag: Dit was vir die hartsiekte, nê?
BK: My kind ek kannie vir jou, ek sal nooit vir jou ‘n leuen vertel nie. Toe het ek ‘n verkeerde dokter gehad, dié het my geopereer, toe’t ek vreeslik geswel, hierdie arm van my, hy’t heel opgeswel van my hand af, en my hele skouer, my nek, ek is toe baie siek, ek is toe naderhand half deurmekaar, my nek en my skouer, enne toe kom my vrou daar, en my een seun Wynand, maar toe is ek heeltemal deurmekaar, en … maar dis amper soos ‘n droom nou van my, maar dit was vreeslik gewees, jy kan maar sê ek droom ek lê daar onder, en van bo af kom ‘n groot gang met twee hoë mure alkant, en daar skyn ‘n lig aan, van bo af, skyn ‘n lig daarvandaan … ek lê daar vêr onder, jy kan maar sê op die aarde, en ek kyk nou die lig, wat van bo af skyn, hy skyn op my bed, ja … en weet jy, van die anderdag môre af, het ek gesond geword, van die anderdag môre af. Die anderdag môre toe voel ek heeltemal beter, en ek het toe sommer heeltemal gesond geword … ja.
Vraag: Maar dis ‘n mooi storie! Was Oom Booytjie bang vir die lig?
BK: Nee, nee ek was glad nie bang gewees nie, dit was vir my wonderlik gewees, jy weet … ja, dit was vir my wonderlik gewees. Eenslag het ek weer ‘n droom gehad, maar dis op Gruispan op my plaas. Ek droom ek sien ‘n vlieënde piering afkom, ‘n spierwitte, hy’s wit, tot die lyne wat hy ook aan hom het, jy weet, wat so opgaan, sulke lyne, aan hom gehad, die’s ook als spierwit. Hy kom sak af reg by my huis se gewel, daai vlieënde piering. En ek staan om die huis, en ek gaan soontoe. Toe ek daar kom, toe’s daar, daar drie persone in die vlieënde piering. Dis die reine waarheid, hierdie wat ek nou vir jou vertel. Ek … dis of ek dit vandag nog sien. Ek hom daar by hulle, toe maak hulle los die lyne, toe maak hulle oop. Toe hulle dit klaar oop het, toe vat die een so ‘n spierwit duif, en hy gee dit so in my hand, en hy sê: “Dis al wat ons vir jou gebring het “. En toe gaan ek en ek gee die duif vir Grieta, en ek sê daai mense het dit vir my gegee. En ek kom toe weer terug, toe’s hulle besig om weer vas te maak. En ek help hulle nog vasmaak, en toe hulle klaar is, het hulle weer opgevaar. Toe draai hy weer so in die rondte en beweeg op. En ons het verder niks gepraat nie, dies net al wat ek gesien het, jy weet.
Vraag: Nou was dit nou in die nag dat Oom dit droom?
BK: Ja, dit was nou ‘n droom gewees, dit was nou ‘n droom. Dis vir my … ek kan dit nie vergeet nie, daai twee drome, die een in Pretoria en hierdie een … ek vergeet hulle nooit nie.
Vraag: Oom se pa, het hy nie ook sulke drome gehad nie?
BK: Ja, my oorlede pa het, partymaal as daar nou moet mense kom, of so enne … dan sien hy hulle sommer. Ja, hy sien kom hulle. As hulle van vêr af moet kom, partymaal mense wat baie vêr af kom. En as jy die môre sien hy’s so doodstil, dan moet jy weet hy’t nou iets gedroom dan bly hy doodstil, hy praat nie hy gesels ook nie. En naderhand dan sal jy hoor die en die persoon sal vandag kom. Ja, hy sien hulle sommer, in sy drome.
Vraag: Ek wou vir Oom gevra het, Oom praat so baie van Oom se broer Gert, hoe julle saam gespeel en so aan?
BK: O, maar sommer simpel goed, hierdie stokperde en ons maak vir ons klei-osse, dit was maar ons …ons maak vir ons – dan het ons hierdie dolosse, bene wat ons nou uithaal, dis ons ons osse en … ons het eintlik sakkies vol gehad, ja, dan moet ons daarmee, maak ons klei-osse … boog en pyle, en sulke goed, voëls geskiet … windbukse en sulke goed.
Vraag: Watse speletjies was daar?
BK: Die was maar net hierdie … party van hulle boks nou, speel met boxing gloves en stoeiery, … met die was ek en my broer baie goed gewees. Oom Gert was baie sterk gewees. Hy was ‘n sterk mannetjie daai. Het baie gespeel by die Lewisse, ons het baie ingesit, baie met daai goed gespeel, maar hy’t nie baie daarvan gehou nie, my broer Gert.
Vraag: Nou was Oom-hulle …was daar nou soort van kampioene?
BK: Nou nie eintlik nie, dit was maar net die boere wat hulself so opgehou het, hulle het maar hulle eie boxery en boxing gloves (club) en sulke goed … hulle het maar vir hulself gehad. Wêreld my kind, dis lekker om dié boek te sien.
Vraag: Mens kry hom in Botswana by die boek-winkels.
BK: Maar dis altyd nog Engels (Ingels)
Vraag: Ja, Maar die kinders kan seker Engels lees, Oom Booy?
BK: Ja, maar hulle kan almal Engels lees, ja, die hele lot van hulle.
* * * * * * * * * * * * * * *
Vraag: Vertel vir ons van die koffie? Dis mos die wortels wat hulle gebruik het van die bome, witgatbome.
BK: … hulle het dit uitgegrawe. Die wortels, ja, ja,hy’t sulke seningrige wortels, jy weet, die boom, maar tussen die goed wat nou so lê, is hier ‘n soort van ‘n kors, so ‘n tesame affêre en dan stamp die Boesmans hom, dan haal hulle daai sawwe goed uit en dit is nou die koffie daardie. Ja, dan word dit nou drooggemaak, en wanneer dit nou droog is, dan word dit fyn, fyn … dan word dit ge- … in ‘n pot gerand, gebak, ja, tot dit mooi bruin is en dan word dit fyn gemaal. Ja, dit is nou die koffie. Die wat dit wil meng, die vat die helfte koffie en dan die helfte van daardie wortelkoffie. Ons het dit baie gedrink … daai tyd was daar mos ‘n vreelike depressie gewees, daai tyd, vroeër jare, jy’t amper nie koffie of tee gekry nie! Of suiker nie, toe’t ons maar daai goed gedrink. Dis vir my baie lekker sonder suiker ook, net die melk in, dis nog lekkerder as koffie … ja, as hy goed gemaak is, en lekkerder as koffie … ja, my vrou het baie dit gemaak. Dan meng sy dit met koffie, …
Vraag: Was daar nog ander goed ook wat Oom-hulle so self gemaak het in die depressietyd? Lyk my die boere het nie eintlik mielies geplant en sulke dinge nie?
BK: Nee, in Ghanzies nie eintlik nie. Onse reënval was te ongereeld gewees.
Vraag: So in daai depressietyd, as daar nie meel was nie, het mens maar sonder gebly?
BK: Ja, die bietjie meel wat ons gehad het, het ons gemeng met mieliemeel, ja, jy vat helfte mieliemeel helfte meel … net so om hom te bind, jy weet! Want mieliemeel is mos vreeslik bros, val uitmekaar. Jy moet ‘n meel bysit om hom aanmekaar te hou! So het ons maar aangegaan. Ja, o ja. Jy kan van maramba’s ook brood bak. Ja … my vrou laat stamp uit van die Boesman en bak dit. Sy maak vreeslik lekker brood daarmee.Dan stamp sy hom fyn en dan maak sy hom … net so fyn soos meel. Dan maak sy hom daarvan … brood en koek ook, vetkoek. Jy gooi ‘n bietjie meel by, maar hy’s vreeslik ryk, daai ding, ja … jy gooi niks vet of niks in nie. Ja, dit was baie lekker.
Vraag: Watter ander veldkos het Oom-hulle nog gebruik?
BK: Meeste maar net die maramba’s, wild geskiet en so aan, die meeste daar op Ghanzies hulle eet mos net biltong … net vleis … die grootste kos in Ghanzies is mos maar die vleis! Baie het darem tuingemaak, dan het jy darem bietjie groenboontjies, en ons het altyd baie patattas gehad, wat ons nou self plant so met die pitte, ook uie het ons self …
BK: Ek is gebore in Mier, die plaas se naam is Mier. Dit is in Gordonia, ja, daar is ek gebore. En so is ons maar met die trekkery geboer tot in Botswana. Ons het, ons het sommer deur die Dorsland getrek, van Gordonia af. Ja, die osse was agt dae sonder water. Ja … die osse wat die wa trek, hulle het nou hierdie, hierdie tsammas, hierdie wilde … hierdie karkoers, dit is wat hulle van gelewe het, soos ons so deurgetrek het. Nou ons, ons drinkwater, die het ons maar in die wa gehad. Ons het groot tenke gehad. My oorle ma het die water so opgepas, en ek en my broer Gert ons loop steel altyd wyn as ons dors het! Tot my ma plan gekry het om die tenk te sluit! So het ons maar deurgetrek tot ons in Betsjoeanaland ingekom het. Daar’t my pa twaalf jaar gebly op die eerste plek wat ons gekom het, dit was Lehututu. Daar het my oorle pa twaalf jaar gebly, en hy het maar so blacksmidswerk gedoen, waens gemaak en waens opgemaak en gekort.
Vraag: Hy is nou Oom Theunis Kotzé, nê
BK: Ja, my oorle pa was Theunis Kotzé. Enne toe’t ons daarvandaan hier na Khoutsa toe getrek, na die boere toe wat daar … hierdie Ghanziesboere, soontoe ingetrek, en toe’t my pa nog al die tyd die droom gehad, Pa moet noord trek. Nouja, …
Vraag: Het hy vir Oom-hulle ooit gesê waar die droom vandaan kom?
BK: Nee … ja … en my pa het maar aanhou hierdie droom gehou, hy moet noord trek, tot ons naderhand die plaas geloop koop het op Eersterus, daar’t ons nou ‘n plaas gekoop, daar’t die droom nou opgehou. Toe sê my oorle pa vir ons, hier sal hy tot sy einde lewe, hy sal hier begrawe worde, op hierdie plaas, dis nou die end van die trek. Ja, dis wonderlik! Ja, en toe ons in Ghanzies kom, toe was daar nie ‘n Gereformeerde kerk nie, en toe het ons die osse … toe’t ons met ossewaens gery, toe’t ek en my oudste broer, ons het gegaan na die grens toe, en ou Ds. Kruger, hy’t nou gekom tot daar.
Vraag: Watter Ds. Kruger was dit Oom Booy?
BK: Ek … nee … is dit nie Jacs (1) nie? En ons het vir die Dominee hier kom haal met die ossewa, en hom uitgeneem. Hy het amper drie weke lank by my oorlede pa se plek gekom bly, … ek meen die dominee. En daar het hulle nou dag en nag, my pa en daardie Dominee gesels tot hulle sovêr gekom het dat hulle daar ‘n gemeentetjie stig. En toe het dit so beginne tot hulle naderhand ‘n gemeente gestig het. Die Gereformeerde Kerk, die Dopperskerk.
Vraag: Nou behalwe Oom-hulle, wie was nog Gereformeerdes?
BK: Daar was nie mense Gereformeerd nie. Hier het net mense aangesluit by ons, die Taljaards en hulle het almal by ons kerk aangesluit. Ja, en party van hierdie Lewisse ook, en oorlede Oom Fanie Lewis - hy lewe nie meer nie, het jy gehoor?
Vraag: Ja.
BK: Mm ... dis vir my so vreeslik gewees … ek het hom net ‘n … net ‘n week voorlat hy oorlede is, het ek hom gesien, en nou is hy en sy vrou altwee in hul graf … Ek moes daar gewees het.
Vraag: Ja, ek was netso bly ek kon darem my draai by hom gemaak gekry het, voordat hy nou dood is.
BK: Ja, ja. Maar hy was vreeslik swak die laaste tyd, as hy so op sy rug lê kan hy nie eers vir hom optel nie. As hy ook praat, dan praat hy so stadig … hy kon amper nie praat nie. Ant Maria was baie goed gewees, ja, sy was nou sterk. Sy was mos ook onder operasie, maar het vir my baie gesond gelyk.
Vraag: Oom Booytjie se pa moes darem ‘n merkwaardige man gewees het, ….
BK: O wêreld jong … weet jy my kind, jy kan vir hom uit die Bybel uit, kan jy vir hom een woordjie vra dan sal hy vir jou sê …”Slaan daar en daar oop”, dan kry jy daardie woord daar. Dis darem bietjie fyn, om ‘n woord, waar ‘n woord staan … ‘n Skriptuur is nou ‘n ander ding, maar hy sê vir jou, slaan daar oop ... dan lees jy daar, dan sê hy nou weer vir jou, “Slaan daar ‘n ander plek oop in die Bybel” dan lees jy nou die antwoord daar. Hy sê as jy die Bybel ken, verklaar hy homself. En dis die antwoord. My pa was ‘n vreeslike vaste man op sy geloof. Niemand kry hom van sy koers af nie.
Vraag: Die mense sê hy was kwaai, Oom Booytjie, was hy kwaai?
BK: Die ou kêrel was baie kwaai, baie streng, maar ek sal maar sê, op die regte manier, jy weet. My pa was baie streng op sy kinders gewees. Ons het baie pak gekry … as ons die dag pak kry, kry ons ‘n baie groot pak. Ons vat liewerste drie pakke van oorlede Ma as van hom één! Ek en my broer Gert het nog eendag ook ‘n goeie spook gehad, enigste dat was ons bietjie gebaklei het, … my oorle pa hy sê altyd vir ons, ons moet die slaanding gaan haal, en my oorle pa sê vir hom ek moet die slaanding gaan haal, ‘n vreelike harde riem, jy weet, en toe kry ons met daardie vreeslike harde riem die dag pak, toe’t ek vir broer Gert gesê, ek sê vir hom vandag spook ons twee hier, vir wat loop haal jy daardie vreeslike harde riem dat ek nou moet pak kry, kan jy nie ‘n sawwer ding vat nie? Ja, en so het ons toe getrek, toe kom ons daar in … toe’t ons naderhand na die boere toe getrek daar in Khoutsa. Toe’t ons daar op ‘n plek gebly, omtrent so ses jaar, …
Vraag: Wie was almal daar, op Khoutsa?
BK: Oom Chrisjan Lewis, en ou Louw Lewis, Oom Fanie se vader, en die Taljaards, en Manewijcks … dit was eintlik die families wat nou daar gebly het. En die van Stadens ook, ja, Oom Bennie-hulle was ook daar gewees … ja, hulle was ook daar gewees. So het ons maar gelewe tot nou toe. My oorle pa het oral waar hy gegaan het maar houtwerk gedoen.
Vraag: Was hy knap met sy hande?
BK: Ja! En as hy ‘n ding aanmekaar gesit het, dan is hy klaar aanmekaar. As jy eendag by Oom Fanie kom, daar staan so ‘n groot ronde tafel, ek dink hy’s met hierdie pêrepishout gemaak, so vas, so vas …
Vraag: Hulle het dit vir my gewys, ek onthou hom.
BK: Ja, ja … en dan staan daar ook nog ‘n dubbelbedkatel ook wat hy gemaak het.
Vraag: Ja, hy het vir my dié ook gewys.
BK: Vir hy en my oorlede ma, maar dis vreeslike sterk goed, hulle sal nooit vergaan nie. As hy ‘n ding aanmekaar gesit het, dan is hy klaar aanmekaar. My oorle pa het eenslag so ‘n “stand” gemaak, wat jy op die tafel sit, nou, hy’t 52 blokkies in, en die hele lot van hulle word net ineengeskuif, as jy een uittrek, maar jy kry hulle nie … ja, ek het vreeslik … my pa het gesê jy kan maar daaai soek, daai sleutel, hy is daar in daai ding …
Vraag: Nou wat het geword van dié mooi ding?
BK: Ek weet nie … hy’s so ingetap en ingepas inmekaar en hy’s so vas! En by elke hoek so vier blokkies wat oormekaar sluit.
Vraag: Dis oulik! Is dit om iets binne-in te sit?
BK: Daar’s niks binnekant nie. Dis net iets wat jy ‘n blom sit of jy kan daarop sit, ja. Maar toe gee my oorle pa hom vir daai selle dominee, Kruger, ja, toe gee hy hom … hulle het hom seker vandag nog. Ja … as my oorlede pa daardie tyd Engeland toe gestuur het, en hulle kan hom nie uitmekaar kry nie, ja … daardie blokkie wat vir hom sluit, hy’s onsigbaar.
Vraag: Wanneer het hy hom toe nou Engeland toe gestuur, Oom Booy?
BK: Dit was baie lank terug, dit is seker … sien … ’35 daar rond.
Vraag: Maar vir wie het hy hom gestuur?
BK: Ek weet nie vir wie het hy hom gestuur nie, ek weet net hulle het hom weer teruggestuur … toe gee my oorlede pa, toe gee hy hom vir daai dominee.
Vraag: Nou wie het saam getrek, saam met Oom-hulle?
BK: Dit was net ons trek en my … hier Oom Jan Burger. Ja, hy was getroud in die Kolonie al, was hy getroud met my oudste suster. Toe was dit net die twee van hulle, …
Vraag: O, so Oom was daardie tyd al familie gewees?
BK: Ja, dit is, ja! Toe het ons nou hier in die wêreld ingekom. Hier het my pa ook maar so gelewe, die oukêrel was ook naderhand sieklik, kon nie meer rondloop nie. Hy het mos ook ‘n breuk gehad, hy kon nie meer loop nie. En dan lê hy heeldag … my oorle pa, ek weet nie wat nie maar my pa het ‘n boekrak gehad, en my broers en susters moet daardie boeke, weet jy het die kosbaarste … my pa het al sy geld in boeke gesteek … Hierdie Geesteswêreld het my pa van die einde … van die begin af tot die einde … ja, want hy wou mos als weet! Seker maak, jy weet. My pa het ‘n plek ook gehad waar hulle die … as ‘n mens sterwe, waar hulle daai gees wat uit jou uit trek, hulle het vir Pa ‘n kiekie gestuur daarvan. Ja, dit lyk net soos ‘n skaduwee, maar in die gedaante van ‘n mens. Kort bo die liggaam, ja, kan die liggaam sien lê en die gees, waar hy uitgaan.
Vraag: Nou weet Oom Booy nie waar het hy dié gekry nie? Wie het dit vir hom gestuur? Die kiekie, waar het hy hom gekry?
BK: Jong, ek kan regtig nie … ek was nog … Ja, ja … sien hy skrywe mos boeke en dan bestel hy boeke, en so voort, en so het hy seker maar die ding … so het hy gehoor dat so ‘n gees van ‘n mens kan hulle afneem. Toe’t hy vir hulle geskrywe as daar ‘n mens sterwe moet hulle die gees afneem en vir hom stuur, want hy wil alles weet wat in die geestelikheid lê.
Vraag: So hy was nou eintlik ‘n man wat geleer het, of was hy nie ‘n man wat geleer het nie?
BK: My oorle pa het nie geleerdheid gehad nie. Hy het homself … hy sê al skool wat hy gehad het is agter die muile wat hy opgepas het. En daar het hy sy boeksak ingehad. My oupa-grootjie het altyd vir hom bietjie voorgegaan. Verder het hy maar so self aangegaan. En almeer, almeer, en almeer …
Vraag: Nou van watter familie is Oom-hulle? Was Oom se pa se mense maar altyd daar in Gordonia?
BK: Ja, my oorle oupa is mos oorlede toe daai tyd al. Ja, toe’t hulle … my oorle oupa, toe hy oorlede is, toe het my pa maar weggekom daar uit daardie wêreld uit. Hy het altyd, die droom het so gekom, hy droom altyd daardie droom, ja, hy moet noord trek. Toe weet hy, hy moet maar gaan, die plek lê voor. Nee, hy was ‘n wonderlike man. Ek moet jou die portret wys …… ek het hom maar altyd gereeld gehoor bid.
Vraag: Nou hoe ‘n soort mens was sy vrou? Sag of was sy kwaai of …
BK: Ja, nee sy was baie sag … sy het my goed opgevoed, ja. As jy fout gemaak het, dan moet jy maar verbykom! Dan kry jy maar jou pak!
Vraag: Ek het altyd gewonderoor almal nou sê die Oom Theunis Kotzé was so kwaai.
BK: Ja, hy was ‘n kwaai man, op die reg … ja … ons mag nie, as ons by ‘n kerk kom, dan moes ons glad nie daar rondhardloop en kom raas nie, dan sê my oorle pa vir ons, dis die Huis van die Here, dis nie julle se speelplek nie. Weet jy, Oom Kassie du Plessis-hulle was mos altyd hierdie wat vleisbraai van hierdie kinderspeletjies ….my oorle pa het dit ook belet, dis so ‘n uitverkoping hier voor die kerk, jy weet, My orlede pa het altyd gesê glad nie hier naby die kerk nie. Hy het gesê hulle kan ander plek gaan.
Vraag: Nou het Oom se pa ook deelgeneem aan die ander goeters van Ghanzi toe hy nou daar kom? Die mense het mos allerhande gewoontes gehad, het hy nou ook maar met hulle ‘n groep gevorm of het hy so bietjie eenkant gestaan?
BK: Nee, hy het maar sy koers gehou. Ons kinders, ons mag nie ons voet op ‘n dansbaan gesit het nie. Ja, streng gewees … lat een gedans het en die oukêrel kom dit agter … oeeee! Dan word die een goed bygetrek!
Vraag: Ek verstaan nou nog nie mooi nie, Oom Jan Burger het vir my vertel dat Oom se pa was eers in ‘n ander kerk, en toé het hy Gereformeerde Kerk toe gekom.
BK: Ja … ja, hy was in ‘n ander kerk gewees, al die jare het hy maar gespook … om die regte kerk te kry. Ja, hy het maar gesoek tot hy gereken het hierdie Gereformeerde Kerk, die Dopper kerk, dis die regte kerk.
Vraag: En toe was daar nog glad nie ‘n Gereformeerde Kerk in Ghanzi, ‘n gemeente, nie? Toe hy daar aangekom het nie, nê?
BK: Ja, die was net hierdie … hierdie Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat daar gewees het. Hulle het maar baie min ook besoek gekry van die predikante, ek dink amper so elke ses maande, of so elke jaar dat daar ‘n dominee gekom het, kom kerk vir die kindertjies hou, het gekom doop en so voort. Maar elke drie maande, ek dink nou nog, ek weet nie of dit nog so is nie, maar elke drie maande het ons kerk, het ons ‘n predikant gekry daarso, so is dit besluit.
Vraag: Dit was nogal baie gewees, veral in daardie tyd! Met die moeilike vervoer.
BK: Kollekte mag daar glad nie in die kerk wees nie, nee glad nie, hy maak ‘n gekink op, as die predikant nou, voor die predikant weggaan, maak hy ‘n gekink op en die word gegee vir die predikant. Ja, so het hy gevoel.
Vraag: Hoe oud was Oom toe Oom-hulle Ghanzi-toe gekom het?
BK: Ek was twaalf jaar.
Vraag: So Oom het al goed geweet wat aangaan.
BK: Ja! Ek was twaalf jaar oud gewees. Maar ek en my broer ons het darem vreeslik … ons oukêrel daai tyd … hy het darem vir ons laat werk! Hy het al daai planke en goed … het ek en my broer deurgesaag. Weet jy, ons saag party dae van die môre tot die aand, trek ons die treksaag. En daar waar ons nou sit, jy weet, die grond is eintlik nat daar, so sweet ons. Dis ‘n vreeslike werk! Hy kan nou nog nie vergeet hoedat ons so gesaag het nie!
Vraag: Nou watse bome het Oom-hulle gebruik?
BK: ‘n Soort pêrepishout, wat hulle sê. ‘n pêrepisboom … hy staan baie daar in Ghanzi. Dis maar die naam wat ons gekom hoor het, by daardie mense. Hy’t maar net huisraad gemaak, stoele en sulke goed. Ja …
Vraag: Nou, het hy lateraan begin boer ook, of nie?
BK: Ja, ons het naderhand ‘n boerdery gehad. ‘n Klomp bees gekoop en die het ek en my broer maar mee aangegaan, met die boerdery. Ja, …ja … Naderhand toe’t ek alleen maar sy klompie bees … bokke en sulke goed het ook maar so aangegaan. Naderhand het elkeen sy plasie gehad, ook daar, … ek het maar daar verkoop want ek was naderhand alleen in Ghanzies, en al die kinders was weg, hulle is almal hier in S.W.A. toe dink ek, ag wat, wat maak ek alleen nou sukkel hierso, want die volk is so ontrou, jy kan hom nie eers stuur om die draad om te ry nie! Al daai goed moet ek self doen, en toe’t ek maar daar verkoop, omtrent so 700 bees gehad, het ek nou daar gehad, en die plaas het ek als verkoop, sommer daar. Dit was hier in … ek dink … in ’32, ja …
Vraag: Toe’t Oom hiernatoe getrek
BK: Nee, toe’t ek ‘n plek plek op Dekar gekoop, daai plot van … by Wallis Craill. Ja, van ’33 af het ek daar gebly, tot nou laas jaar. Ons het maar sommer so gelewe, jy weet, dis mos wonderlik hoe mens kan lewe, daar in daardie wêreld ook. Daar was geen verandering wat … die Swartes, dis nou al, wat ons vreeslik voor bang gewees het, ons kinders, ons was vreeslik bang gewees vir die Swartes.
Vraag: Hoekom?
BK: Ons het gedink hulle sal ons doodmaak! Ja …
Vraag: Nou was dit nie maar net Boesmans wat daar was nie?
BK: Nee! Swartes … Kalahari’s en Motswana’s en so. Ons het glad nie in daardie wêreld van waar ons gekom het, ken ons hulle nie. Ons was vreeslik bang vir die Swartes gewees!
Vraag: Nou was hulle vyandig gewees, Oom?
BK: Nee, glad nie! Hulle was maar net soos die ander volke. Ja … hulle word jou ook maar gewoond. My oorlede pa het daar op Lehututu waar hy daardie twaalf jaar gebly het, dan’t hy party dae … maak hy ‘n kerk, dan sit hulle ook daar voor in die huis en luister. Dan’t my pa my oudste broer vir ‘n tolk, dan tolk hy alles oor wat my pa gesê het. Ja, die ou swart predikante, hulle het naderhand so lief geword vir my oorle pa, elke dag kom gesels hulle nou oor geestelikheid, ja! Dit was vreeslik interessant vir hulle gewees, Pa se geselskap. Hulle was vreeslik erg oor my oorle pa gewees. En hulle onthou hom nou nog, daar … die ou Swartes wat nog daar is, onthou nog my oorle pa.
Vraag: Oom-hulle het in Gordonia meer Kleurlinge geken, seker.
BK: Ja, die is meeste hierdie … hierdie Hottentots. Ja.
Vraag: Maar het daar nie van hulle saamgekom nie?
BK: Nee, glad nie een saamgekom nie. Ons het net so ‘n oswagtertjie gehad.
Vraag: So Oom-hulle het al die werk ook self gedoen?
BK: Ja, my oudste broers, hulle was nou al groot gewees. Broer Theunis-hulle en Isak en Jan …
Vraag: Vertel bietjie vir my hoe’t Oom Booytjie-hulle kerk gehou. Was daar ‘n orreltjie, en wat …
BK: Ja, daar was ‘n orrel gewees en die’t Oom Jan Burger … hy’t maar altyd die musikant gewees. My een suster, my oorle suster Mieta, sy’t … sy’t op die note gespeel wat sy geleer het by ‘n ou Duitse onderwyser wat ons daar ook in Ghanzi gekry het, wat my pa ook gelaat kom het. Hy was ‘n Meneer Dake (?). In die huis, ons het vir hom ‘n kamer gebou. Daar’t hy gebly en daar’t hy vir ons onderwys gegee, net vir ons kinders.
Vraag: Hoe lank was dit, hoe lank was hy daar?
BK: Hy was … ek dink, ‘n paar jaar daar gewees, ja, hy’t lank daar gebly. Hy was ‘n baie Christelike ou Duitser gewees.
Vraag: Was dit die enigste onderwyser wat Oom-hulle gehad het of het daar weer later tyd iemand gekom?
BK: My een skoonsuster, my oorle boet Isak se vrou, sy’t altyd vir ons, die eerste tyd toe ons nog kleiner was, het sy altyd vir ons onderwys gegee, en toe’t ons naderhand die ou onderwyser gekry.
Vraag: En wat is haar naam?
BK: Haar naam was Soes. Uit die Transvaal uit. Hy is daar in die Transvaal getroud. Hy was mos oorlog toe, hy was in daai ‘6 – ‘14 oorlog. Hy het die hele oorlog deurgemaak, daai broer van my. Die dat hy haar moes gaan trou! Ja, toe’t hy ook weer teruggekom. Ons het altyd in kommunikasie met hom gebly met briewe en sulke dinge … ons het geweet waar lat hy is en so aan. Hy was my tweede oudste broer, die oudste was Theunis. Hy is mos oorlede nou daar in Buhrmansdrif, daar is hy nou oorlede. Hy was ‘n goeie ou gewees.
Vraag: Hy was ’n baie mooi Omie gewees, ook met die wit hare.
BK: Ja! En hy het nou so sterk gebly tot sy einde toe, en sy verstand so reg, so reg! Dit moet seker maar na ‘n mens se lewe wees, as ‘n mens so gelukkig is dat jou oë en jou verstand en jou ore so reg bly soos syne! Daar was op Buhrmansdrif was daar ‘n ou man gewees, hy sê hy hoor elke dag hoor hy ‘n mens hier praat by ‘n seker plek, en toe het die ou man al naderhand, al nader gekom en al nader gekom aan hierdie plak, half gekruip, toe sien hy naderhand my ou broer het elke dag daar gaan bid! Altyd op een plek..Ja, so ‘n entjie van die huis af. Elke agtermiddag en elke môre.
Vraag: So hy’t ook baie van Oom se pa geërf?
BK: Ja, ja, hy was ‘n Christelike man gewees. Hy was toe naderhand onse ouderling gewees, hy was naderhand ons ouderling.
Vraag: Oom sê Oom se suster Mieta het ook orrel gespeel? Hier in die kerkgebou …
BK: Ja, sy’t nou daar noot geleer, by daardie Duitser. Sy’t baie goed gespeel met orrel. Sy’t altyd maar … elke aand dan moet sy speel en ons moet sing, ek en my broers en jong suster…My pa sing nie saam nie, hy lê en luister hoedat ons elke aand sing! As ons nie die aand sing nie, self begint nie, dan is hy sommer baie kwaad, dan praat hy ons baie hard aan! Ja…
Vraag: Was daar baie jongmens in Ghanzi toe Oom-hulle nou soontoe getrek het?
BK: Skaars jongmense, ook maar meeste kinders gewees. Oorle Oom Louw Lewis het groot kinders gehad. Dit was oorle Oom Koos – hy lewe ook nie meer nie – en oorle Chrisjan, hy’s mos sommer vroeër jare oorlede, dis die oudste broer van daardie kinders van Oom Louw Lewis, dit was Chrisjan gewees. Hy was ‘n baie gawe seun, hy’s in die Kalahari oorlede, van hierdie vreeslike griep wat ons daar vroeër gehad het. Hulle het hom weggevat Mafeking toe, maar dit was te laat gewees. Hy’t inflammasie gehad toe’s hy oorlede sommer daar.
Vraag: Watse plesierigheid het Oom-hulle gehad, Oom-hulle mag dan nie gedans het nie?
BK: Ja, hierdie Ghanzi-boere, hulle het maar altyd ‘n klompie bymekaargekom, en dan het hulle maar ‘n dans gegee! Partymaal as ons nou daar vir ‘n naweek is, dan kyk ons maar ons mag nie ons voet op die dansbaan sit nie. Ja! Ons sit en luister en kyk maar.
Vraag: Wat het Oom-hulle dan gemaak in die plek van dans?
BK: Ek weet nie, party van my susters het gesteel leer dans! En van my broers ook. Party is goeie dansers. Ons het ons besig gehou met die boerdery en perde en goed, ek en my jonger broer.
Vraag: Ek hoor Kersfees en Nuwe Jaar het hulle altyd so saamgekom, almal getrek na dieselfde plaas toe en dan bly hulle nou daar …
BK: Ja, ons het maar … al die kinders het by die kerk kom bly. Die wat vêr is kom met waens, dan kom staan hulle daar naby ons op Eersterus, ja. Dan word daar saans ‘n diens gehou deur my oorle pa, elke aand diens gehou. Kersfeesnag, ons kan nie gaan slaap voor twaalfuur nie, dan moet ons opbly, ja, dan het die oukêrel twee dynamietskote gelaai, in blikkies gesit en dan ‘n stukkie lang lint daarin, dan moet ons dit nou brandsteek, twaalfuur vannag. Ja, dan moet hierdie vreeslike dynamietskote …
Vraag: Moet Oom-hulle dit dan aan die brand steek en hardloop?
BK: Dan hardloop ons huistoe. My pa was streng … as jy hulle brandgesteek het, dan moet jy hardloop. Dan kan ons gaan lê en slaap, as die skote klaar is!
Vraag: Nou maar het hy dan nie beswaar gehad dat die ander mense dans nie?
BK: Hy’t baie gepraat daaroor, maar hulle’t maar aangehou. Party het opgehou, maar party wou nie.
Vraag: Ek verbeel my iemand het gesê toe Oom-hulle die eerste keer ‘n predikant gaan haal het, het die Doppers ook so ‘n skoot geskiet? Om hom te verwelkom.
BK: Ja, daar was ook so ‘n skoot geskiet. By die huis, toe die dominee nou aangekom het, toe steek hulle ‘n dynamietskoot aan die brand! Dit was nou iets groots vir hulle gewees, toe die dominee daar gekom het. O, my pa slaap nie, daai dominee het maar min geslaap! Hy’t gesels van vanaand af uit die Bybel uit tot môre! Ja! Daai dominee het ook maar net baie goed in sy spoor getrap. Hy kannie my pa in ‘n hoek … my pa’t een slag ‘n misverstand met ‘n dominee gehad, maar ek weet nie meer watter dominee is dit nie. Hulle het seker baie geskorrespondeer met briewe ook, naderhand toe die dominee nou terug … maar hy’t naderhand weer ingekom en my oorle pa verskoning gevra. Hy sê: “Ek sien vandag jy’s reg, en jy’t jou Bybel beter geken as ek. Ja, so ek vra jou verskoning vir wat ek gepraat het”. Ja, die oukêrel … jy kry nie vir hom van sy punt af nie! Hy maak seker waar hy staan! My oorle pa het baie tussen hierdie boere ook rondgegaan en vir hulle kerkgehou. Daai oorle Oom Chrisjan, hy was mos nie ‘n man vir kerk en predikante en sulke goed nie, en Kersfees, dan nooi hy my oorle pa. Dan moet my oorle pa vir hom kom kerkhou by sy huis. Ja … dan gaan hou hy kerk.
Vraag: Hy was mos ‘n ander ou kwaai oom.
BK: Oe, hy was ‘n ander man gewees! Dominees en predikante moes baie vêr van hom af bly! Ja!
Vraag: Maar Kersfees wil hy …
BK: Ja, dan kom hou ons by hom kerk, dan bly ons die hele dag daar, die agtermiddag dan vat ons die pad huistoe.
Vraag: En bruilofte, as daar ‘n troue was in die ou dae, wat het gebeur? Het Oom-hulle fees gehou of bruilof gemaak of wat?
BK: Bruilof was maar net soos nou.
Vraag: So op die plase?
BK: Ja, die trouery was maar altyd in die Kamp gewoonlik. Die wat vêr kom met die waens paartie toe!
Vraag: Nou watse groot builof was daar wat Oom kan onthou? Het Oom en Tant Grieta bruilof gehad of nie?
BK: Ja, ek het ook ‘n bruilof gehad maar by my pa se huis. Ons het daar naby gebly, ek en my broers Gert en Fanie. Hy’t altyd in die huis gebly. My pa het hom altyd laat stryk. En gehelp met die kosmakery! Hy kon goed stryk! Ja, en so het ons maar saam gebly met ons ouers. Tot aan sy einde toe – ons het maar gesorg vir hulle. Ons het maar die huis vir hulle gehou, as een uitspring en gaan werk, dan bring hy maar ‘n klompie goed vir die huis, en so maak ons maar almal. En my ouer broers, hulle gee darem ook kontant vir my pa en ma, iets.
Vraag: Maar as een gaan trou het, het hy getrek? of het sy vrou saamgebring om in die huis te bly?
BK: Ja, maar ons maar ons eie huise gemaak.
Vraag: Het Oom Booy eerste begin boer, of het Oom transport gery? Of het Oom eerste begin doen toe Oom begin verdien?
BK: Ek het maar eerste met die boerdery begin. Ons was maar almal op een plaas, ek meen, ons het verskillende krale en so gehad. Ons was maar op die plaas gewees. Ons was maar die drie jongste seuns, ons het langer in die huis gebly. Toe was ek nog nie getroud nie.
Vraag: En toe later jare, wanneer het Oom Booytjie toe begin transport ry?
BK: O, ons het maar meeste ons eie transport gery, vragte kos uit die lake uit, Lake Ngamies, daar was die pampoene en mielies en koring en sulke goed, dit was vreeslik goedkoop daar. Dan gaan koop ons dit maar daarso. Ja. Dan ry ons ons eie transport. Ek en my broer Gert, ons drywe self. Osse, ja … hulle was sulke vreeslike goed. Ek en Gert het self die osse gedryf. Ons het ons osse so geleer, hulle stap amper self met die wa, swaai net so nou en dan met die sweep!
Vraag: Het Oom-hulle nie ‘n touleiertjie gehad nie?
BK: Nee, hulle hou self die pad. Ons het ‘n ou voor-os gehad, wat ek kan vandag nog nie vergeet nie. Ja, en die ou voor-os se naam was Lekkerland. Dis ‘n vreeslike ou getroue dier. O, en die wa was swaar, hy trek hom amper dood! Dat ek partymaal vir hom ‘n rapsie gee, dan hou ek eers stil dan loop vrywe ek eers daardie slaanplekkie dood! Saans as ons nou uitgespan het en maak die osse vas aan die jukke, dan loop lê ek en Gert teen hom, ja, ons lê sommer hier teen sy ribbes, hy lê net en herkou! Trek nie ‘n oor nie. Nee, ons het ons osse baie goed geleer, nie moeite met hulle gehad nie. Een aand, toe kom ons hier oor Ghanzies, met hulle, en nou ry ons af Khoutsa toe, enne Gert sê vir my, “Man, kom ons klim in die wa en loop slaap, die osse sal mos huistoe gaan”. Nou ons het hulle so goed geken, ons het gelê en slaap, tot ons nou naby die huis kom, en ons word toe wakker, ek sê vir hom “Man, ons is amper by die huis.” Hy sê: “Man, los hulle, lat ons kyk wat maak hulle”. En hulle loop trek die wa mooi daar waar hy moet loop staan! Toe hou hulle self nou stil. Toe klim ons af en loop span hulle uit!
Vraag: Nou hoevêr was dit wat hulle so alleen geloop het?
BK: Dis omtrent agt myl … wat hulle so stap met … maar nou staan hulle partymaal en dan rus hul so bietjie, dan vat hulle weer die pad en dan gaan hulle weer vort. Ja!
Vraag: Hoe dikwels het Oom-hulle dan die pad gery dat hulle hom so goed geken het?
BK: Baie! As jy hulle … jy kan hulle net op ‘n wa spoor, een spoor, kan hy vir hulle bring, dan kan jy maar die tou opgooi en los hulle, hulle hou daai spoor. Hulle was vreeslik goed gewees.
Vraag: Maar het Oom-hulle eenmaal ‘n maand gery of een maal ‘n week, of hoe?
BK: Ja, omtrent so eenmaal in twee maande, of so.
Vraag: Nou, het dit nie lank gevat nie? Hoelank het dit gevat tot daar? En terug?
BK: Ngamiland-toe? Ja, dit vat omtrent so vyftien dae uit en tuis, ja, vyftien dae.
Vraag: So Oom-hulle het nie vir ander mense goed gebring nie, net vir wat die huis en die plaas nodig het?
BK: Net, net vir op die plaas, ja. En daar het ek net maar gebeginne bees uitjaag. Ek sou eers met ons eie bees gegaan, dan sou ek nou goeie kennis gehad het, deur die Dors getrek het, met die beeste, dan sou ek goeie ondervinding gehad het, toe’t ek vir ander mense ook gevat, ja … Ek het getrek met bees, tot agt dae sonder water. Ja, sonder water! In Novembermaand. Maar dan trek ek net in die nag, daar was nog nie leeus in die pad nie. Dan trek ek net in die nag, en dan tot omtrent so nege-tienuur. Dan laat lê ek hulle onder die bome, dan agtermiddag wanneer hulle beginne wei, dan weet ek nou kan ek bietjie trek. Dan loop ek maar met die perde, lei die perde, loop maar so agter, dat hulle maar voortgaan. Vanaand dan gaan dit lekkerder, die hêle nag deur. Jy keer net so bietjie, dat hulle dan rus, trek ek maar weer tot môre. Ja, dan het ek ‘n lamp voor en ‘n lamp agter, agter die beeste, twee lampe, op die kante die volk dra hulle. Ek sal maar sê hierdie lanternlampe. Nou saans waar ons nou miskien in ‘n kraal jaag, dan brand ons maar die lampe om die kraal.
Vraag: Oom sê daar was nog nie leeus nie?
BK: Nee, daar was nie leeus nie … niks, nie een, ons het nie eers leeus geken nie, … daardie tyd nie …
Vraag: Ook nie in Ghanzi nie?
BK: In Ghanzies, net in Ghanzies, ja, en dan nou deur die Kalahari was nou leeus gewees. Ek het my verstom toe ek hoor van ‘n leeu! Maar ek het baie leeus in my tyd geskiet. Alles was net met perde, hier op die plaas.
Vraag: Op die plaas of op die trekpad?
BK: Ek het in die trekpad heelparty geskiet, maar meeste op die plaas. Daar’s vreeslik leeus op die plaas waar ons was. Ons het hulle maar altyd opgevolg met die perde, en dan gaan skiet. Ek het omtrent in die sestig leeus in my tyd geskiet. Dis eintlik ‘n skande om dit te sê, om die goed so tot niet te maak! Ek kry hulle nou eers jammer, noudat ek oud is, die arme leeus!
Vraag: Het Oom nie ‘n paar noue ontkomings gehad nie?
BK: Nee, ek … ek … Die eerste leeu wat ek geskiet het, was ek en my broer Gert bymekaar. Enne ons is die dag op die leeu se spoor, vreeslik vêr in, dit was hier by Kalkfontein langs en laat die agtermiddag, toe kry ons hom. Maar hy gaan toe in ‘n groot klomp haakbosse in, die spoor, toe sê hy vir my “Man, vat jy nou ‘n paar outas, dan vat jy die spoor, dan sal ek so om ry, miskien sal hy anderkant uitvlug”, enne ons is so ‘n ent in die bos in, so sien ek naderhand maar hier’t hy dan nou net gelê, toe’t hy hier opgespring en gehardloop, diep gate soos hy gehardloop het, en ek wil toe sommer op ‘n gallop ry, trek, op die spoor, want dis kaal, sagte sand, en dieselle tyd toe ek nou op gallop … want jy weet, toe hoor ek net … smaak soos dromme, jy weet, toe storm hy my, ja, en ek is so in so ‘n ruie bos, dat ek nie kon omdraai nie, die perd het net so dwarsgespring, ek het ‘n spierwit perd gehad, en hy’t net so dwarsgespring, nou staan die perd doodstil, nou hou … toe stop hy omtrent sovêr as daai deur, die sand het amper van die perd … maar nou staan en brul hy, jy weet so, maar hy kyk nie in my gesig nie, hy kyk so al oor my, dan brul hy, en ek dink maar … ek hou maar die geweer so op hom, spring hy, skiet ek, en as hy nie spring nie, dan sal ek hom eers los, dat hy padgee, enne later, toe sien ek hy kyk om, toe dink ek in my enigheid, die man word seker nou bang dis die wat hy omkyk, hy’t twee-, driemaal so omgekyk, toe spring hy, en gee hy ‘n brul en hy spring om, hy hardloop omtrent so vyftien tree, toe spring hy weer om. En hy dreig my weer, en hy kom stop toe, en toe hardloop hy vort. Toe’t ek en my broer hom daar doodgeskiet.
Vraag: Maar dit was seker benoude oomblikke!
BK: Dit was, ek was bietjie bang gewees!
Vraag: Het Oom-hulle baie gesukkel met die boerdery, met dinge wat mens nie kon in die hande kry nie, …
BK: Ja, met die siektes en dinge het dit maar … hierdie ou Boeremedisyne het ons maar gebruik! Dis maar, party bossiemedisyne, wat die Swartes ons vertel, jy weet, wat hulle maar in die bosse grou. Die meeste vir hierdie … gallamsiek. Enne die stywe-siekte, wat die beeste kry dat hulle nie kan loop nie. Ja, enne so vort.
Vraag: Watse medisyne het Oom-hulle gebruik, watse bossies?
BK: Nee, ek weet nie, ek ken nie die bos se name nie, wat ons gebruik het nie, hoe sal ek nou vir jou sê, hy lyk soos , dis sulke lang goed wat so opgroei, hulle het nie blare aan nie. Maar hulle is nat, hy lyk amper soos ‘n swart storm, jy weet ….
Vraag: Ek dink ek weet watter is dit …
BK: Hy’t nie blare aan nie, hy’t net sulke takke, sulke lote. Wat so opgroei …
Vraag: Sulke dunnerige lote?
BK: Ja, dan vra ons maar dié van die Swartes, dan vat ons water, dan kook ons dit, dan gee ons die beeste dit in. Ja, en die kalwertjies, as hulle nou hierdie sweetsiekte gekry het, dit ontstaan deur die maag, ja, dit ontstaan deur die maag, dan vat ons sommer hoendereiers, dan klits ons dit met ‘n bietjie water, dan word die kalfie … môrevroeg dan’s hy fris en gesond! Dan makeer hy niks. Dis van daai hoendereiers. Dit vat die vuur in die maag weg. Ja, en so het ons maar aangegaan.
Vraag: Wat van die siektes? Watse interessant medisynes het die mense gebruik?
BK: Ons het meeste … medisyne wat ek kan onthou is konyn (2). Hierdie konynpille, hierdie vreeslike bitter konyn pille.Sulke wittetjies.Ja, daar was nogal, Ja, die malaria was baie volop. Daar’s vreeslik muskiete gewees.
Vraag: Nou waar’t Oom Booytjie die medisyne gekry?
BK: Daar het smouse en dokters ingekom. Ook deur die Regering ook. Die Regering … die Engelse het mos daardie tyd geregeer. Hulle het ook maar aangaan vir die voorraad vir die Swartes, dan koop ons ook maar daar uit.
Vraag: Kan Oom dalk van die smouse onthou?
BK: Ja, heelparty. Daar’s altyd ‘n ou Arabier wat ... hier van onder af, maar hy’t altyd gereeld hier in Ghanzies gekom … sy naam was Ismael. Hy’t altyd ... om hier te kom smous. En hierdie ou Charlie Sharp, ja, hy’t mos naderhand ‘n algemene ... die hele smousery het hy oorgevat in Ghanzies, ja. Hy’t ‘n winkel op Kalkfontein ... ek het vir drie jaar in sy winkel gewerk. Nou watter tyd was dit nou? In 1925 – ek was nog jonk gewees, ongetroud ook gewees.
Vraag: Het Oom daar op Kalkfontein daar gebly by hom?
BK: Ja, ek het daar gebly, ek het altyd in die winkel gaan staan en dan kyk ek ook na sy boerdery en so voort, dan kry ek altyd … hy’t ‘n kar daar gehad ook, dan ry ek altyd uit na die poste toe en tel die beeste en so voort, en kyk dat dit almal is, skryf dit op en as ek weer by die huis kom, dan’s ek weer in die winkel, dan sit hy maar daar in die office rond. Ek het hom daar vertel: “Mr. Sharp, jy gaan nog bankrot speel!”. Ek het hom daar vertel in Kalkfontein. “Jy sal nog hier bankrot speel met hierdie klomp Swartes wat jy hier in jou winkel aanhou“. Hy’t mos later net Swartes aangehou in sy winkel. Hy sit, die ou vrou sit in die ou woonhuis, en hy sit in die office. Die Swartes verkoop maar.
Vraag: Nou wat sit hy en doen?
BK: Hy sit maar sy boekwerk … daarmee, skryf.
Vraag: Toe het hy bankrotgespeel?
BK: Hy het! Ja, hy werk nou by sy suster in Kanye.
Vraag: Ja, ek het gehoor hy’t bankrotgespeel, hy’s weg!
BK: Hy’t mos op Charles Hill hier gebly, ‘n tyd. Die winkel staan ook nou te verkoop. Hy’t bankrot gespeel … maar ek het vir hom vertel …
Vraag: Nou wat het oom-hulle by die smouse gekoop?
BK: O, sommer allerhande dinge, tee en suiker en meel en al sulke kruidenier … als was nog goedkoop gewees. Jy verkoop sommer jou bees ook aan die smous … Hy’t weer ‘n paar volk by hom en dan vat hy maar die bees. Naderhand as hy nou teruggaan het hy ‘n hele groot klomp bees. Die boere het nie eintlik baie moeite gedoen om hulle bees ... om baie te kry vir hulle bees nie, hulle verkoop dit sommer waar hulle een kan kry om te koop. Bees was bietjie … was bietjie volop gewees.
Vraag: Was daar ryk mense daai tyd?
BK: Nee, ek glo nie … die enigste ryk mens wat hier was, was oorlede ou Mr. Burton, enne ou Hardbattle. Hulle was die enigste mense wat jy nou kon sê hulle was ryk.
Vraag: Nou hoekom sou Oom sê het net hulle ryk geword?
BK: Ek weet nie … hulle het ook maar met bees gebeginne. Maar toe was die bees vreeslik goedkoop, hy’t hom … jy’t hom amper vir ‘n rand gekoop. Ja, die bokke was omtrent ‘n 50c. Nou daai tyd as ek nou … toe’t ek nie geld gehad nie, as ek toe geld gehad het, dan was ek ook ‘n ryk man!
Vraag: Vertel vir my, as Oom-hulle so reggemaak het vir ‘n beestrek, wat het Oom saamgevat, want mens kon mos nie die goed in ‘n winkel koop nie? Wat moes mens saamvat en regmaak vir langs die pad?
BK: O, jy vat maar net, as jy nou bees trek, jy vat net jou drinkgoed vir jouself, en vir die Swartes, en dan vat jy omtrent een of twee sakke suiker saam.
Vraag: En laai dit als op ‘n waentjie?
BK: Ja, ons het lorries gehad, die laaste tyd. Maar ons het altyd ‘n waentjie gehad, dié word deur donkies getrek. Ja, donkies trek hom.
Vraag: So die maar water en meel …
BK: Ja, water en mieliemeel en suiker … en kooigoed
Vraag: Nou hoeveel Swart mense het Oom saamgevat?
BK: Ek het altyd tien gehad, ja, twee by die trekgoed, en agt by die beeste.
Vraag: O, so dis ‘n mooi klompie om voor te sorg, …
BK: Ja, die is! Maar vandag kos die Swartmense jou … hulle vra tot R30 ‘n kop! Om bees uit te jaag. Dit kos jou baie geld vandag.
Vraag: Het Tant Grieta ooit saamgetrek?
BK: Nee, sy’t maar min saamgetrek. Enkele, maar as ek nou sien dis gerieflik, ek het ‘n goeie ryding en so, dan gaan sy saam. Ja, toe’t ons beginne lorrie … toe’t sy … sy dink sy’t omtrent so drie-vier trekke het sy gegaan. Party-maal van die kinders ook! Maar dan is die Kalahari lekker! Jy’t … elke aand is jy op ‘n ander plek, elke aand is jy op ‘n ander plek … volop water, die mos nou pure boorgate tot onder.
Vraag: Oom-hulle het destyds ook Lehututu om getrek?
BK: Ja, die eerste tyd. Later toe hierdie reguit pad toe die boorgate nou almal klaar is.
ONDERHOUD VAN WILLEMIEN LE ROUX MET OOM BOY KOTZÉ, BAND (V I & II) (W I & II)
(1) Ds. Jacs van Rooy
(2) Quinine
Het jy enige kommentaar oor die stuk?