top of page

Nagmaal op Ghanzi

Nagmaal op Ghanzi is nog Nagmaal in al sy kleurvolle fasette – soos ons voorouers dit

geken het. Hoe het dit gebeur dat Ghanzi, wat geografies so ver verwyderd is van Gobabis,

tans nog deur die gemeente Gobabis-Suid bedien word?

 

Die bediening van die lidmate in Ghanzi, Botswana, deur die N.G. Kerk SWA het 'n interessante historiese aanloop. Teen die einde van die twintigerjare van hierdie eeu het die destydse Ring van Beaufort die gemeente Windhoek versoek om aandag te skenk aan die moontlikheid om lidmate wat in die Ghanzi-omgewing woon vanuit Suidwes te bedien. Die destydse Kaapse Armsorgraad (voorloper van die latere SKDB) het 'n bedrag van £100-0-0 (R200)per jaar aan Windhoek aangebied om die lidmate vanuit Suidwes te bedien.

 

Hierdie situasie het ongeveer tien jaar lank voortgeduur. Dit blyk dat die Armsorgraad nie altyd oor die fondse beskik het om sy verantwoordelikheid teenoor Windhoek na te kom nie en dat daar ook soms onderbrekings in die werk was.

 

Met die stigting van die gemeente Gobabis in 1939 het die verantwoordelikheid vir die lidmate by Ghanzi oorgegaan op diè gemeente, alhoewel die grense van die gemeente Gobabis in die Ooste beskrywe is as "die internasionale grens tussen SWA en Betsjoeanaland Protektoraat". Dit het beteken dat die Ghanzi-omgewing in die teorie nie op diè stadium beskou is as behorende tot die gemeente Gobabis nie. Tog is dit in die praktyt aanvaar as die verantwoordelikheid van Gobabis. Die Kaapse Armsorgraad het 'n tyd lank sy bydrae aan Gobabis gelewer, maar later het dit as gevolg van 'n gebrek aan fondse heeltemal verval. Gobabis het egter voortgegaan om die lidmate in die distrik Ghanzi te bedien.

 

Met die stigting van die Sinode SWA in 1957 is die historiese verloop met betrekking tot die bediening van lidmate woonagtig by Ghanzi erken en is die grense van die Ned. Geref. Kerk van SWA beskryf as "die internasionale grense van SWA". Dit het beteken dat die Ned. Geref. Kerk van SWA tot in 1957 nog nie die verantwoordelikheid vir die bediening van lidmate woonagtig by Ghanzi erken het nie en dat die Kaapse Kerk verantwoordelikheid aanvaar het. Dit het gebeur ten spyte van die feit dat die gebied toe reeds byna dertig jaar lank deur Windhoek en Gobabis bedien is.

 

Met die stigting van die gemeente Gobabis-Suid op 4 November 1961 kom daar egter 'n verandering. Die grens van die Gemeente word toe beskrywe as: "in die ooste; die Kavango-rivier suidwaarts tot op 'n punt waar dit die naaste aan die 23ste lengtegraad tot waar die die 23ste breedtegraad sny; daarvandaan, weswaarts met die 23ste breedtegraad tot waar dit die grens van SWA ontmoet".

 

In die praktyt het dit daarop neergekom dat die hele Noordweste van Botswana, Noord van 'n verlenging van die noordelike grenslyn van Amunius-en-die-Korridor en Wes van 'n denkbeeldige lyn tussen Lone Tree-pan en Toteng en die Kavangorivier, aan Gobabis-Suid behoort. Eintlik het dit slegs 'n situasie wat toe reeds langer as dertig jaar bestaan het, erken en gewettig. Tot op die huidige stadium funksioneer Ghanzi nog op dié wyse as 'n kerkraadswyk van die gemeente Gobabis-Suid. En tog is die situasie uniek. Want 'n gewone kerkraadswyk kan dit beslis nie genoem word nie.

 

Vier keer per jaar word daar Nagmaal op die ou trant gehou. Reeds vanaf Vrydag begin die tente rondom die klein kerk geboutjie aangroei en teen Vrydagaand brand die braaivleisvure vrolik. En dan word daar gesêls. En ek bedoel gesêls! Want die inwoners van Ghanzi het nie telefoonverbindings op hulle plase nie. Die nuus hoop dus op totdat daar, soos met Nagmaal, persoonlik met mekaar kontak gemaak kan word.

 

Terwyl die braaivleisvure nog brand kom die leraar en sy gesin moeg en vol stof daar aan – om te kan deel in die stukkie tradisie van 'n Nagmaal naweek wat so eie is aan Ghanzi. Na 'n rit van ongeveer ses uur vanaf Gobabis met die stofpad wat slegs uit twee baie diep sandspore of –vore bestaan, en na 'n paar pap wiele en 'n paar keer se vassit, is hulle honger en uitgeput en smaak die boeretroos vorentoe. En nou éérs verneem hoe dit die afgelope drie maande met die verafgeleë gemeentelede gegaan het.

 

Teen Saterdagmiddag het die getalle so aangegroei dat dit wemel om die ou kerk geboutjie. Die rygoed staan oral op die kerkterrein rond – meestal vragmotors en swaarder tipe bakkies. Behalwe dat motors nie in die swaar sand kan ry nie en op die hoë middelmanne van die pad sleep, sou hulle seker ook 'n kort lewensduur gehad het as hulle wel hier sou kon ry.

 

Om 15h00 betrek almal – ook baie van die ander kerkgenootskappe – die kerk geboutjie vir die Voorbereidingsdiens. Omdat die sang onbegeleid is, gaan dit maar moeilik om die nuwe ritmes aan te leer – om die waarheid te sê, van kort en lang note kom daar niks tereg nie! Heel dikwels word daar by dié geleentheid ook nuwe lidmate of nuwe kerkraadslede bevestig. En so tussen alles deur bly 'n mens bewus van kinderstemmetjies en babageluidjies. Ja, letterlik almal is in die kerk!

 

Na die Voorbereidingsdiens kom die susters bymekaar. Ook daar gaan dit maar moeilik om 'n mens hoorbaar te maak bo die geraas van kindertjies. Maar, nou ja, as mens net eenmaal in drie maande bymekaar kom, werp jy alles in die stryd om die meeste uit die geleentheid te put!

 

Teen die tyd wat die susters klaar is, het die mans van hulle rugby-oefening teruggekeer – ja, selfs dit word ingepas! – en brand die braaivleisvure al weer hoog. Die slaaie, toebroodjies, nagereg, en so meer word nou aangedra na 'n sentrale punt. As die mans die vleis gereed het, word daar saam vleisbraai gehou soos dit eie is aan Botswana en sy mense. Hoe heerlik is die weersien! Nog laat word daar om die vuurtjies gesêls totdat die rooi kole waarsku dat dit al laat geword het en dat môre 'n besige dag gaan wees.

 

Sondagoggend om 9h30 het almal reeds weer hulle plekke ingeneem vir die Aksiediens. En bewaar die een wat dit waag om 'n ander se sitplek vir hom toe te eien! Onoffisieël het elkeen sy of haar sitplek. Die Nagmaalbeker word gesirkuleer – die groepie van nagenoeg sestig is nog klein genoeg en tradisiegebonde genoeg om almal uit die beker te drink.

 

Tussen die Aksiediens en die Nabetragtingsdiens is daar 'n halfuur speling. Die gesêls het nie opgedroog nie. Die dasse word so 'n bietjie losgewikkel. 'n Bakkie of twee word nou nader getrek en koek en tee word vanaf die bak aan almal bedien.

 

Na hierdie gesellige samesyn daal daar weer 'n stilte oor die ou groepie neer as almal hulle plekke ingeneem het vir die Nabetragtingsdiens. Die bediening van die doop word ook by die geleentheid waargeneem en een of meer "tabernakeltjies van Gods genade" word deur die doop by die gemeente ingelyf.

 

Nadat daar by elke tentjie weer vir die inwendige gesorg is, begin die oppakkery. Ja, nog 'n Nagmaal naweek is iets van die verlede. Met 'n tikkie weemoed neem die leraar en sy gesin tydelik afskeid van hierdie mense wat so anders is, hierdie mense wat so baie ontbeer, hierdie mense vir wie 'n mens leer liefkry het.

 

En die lang skommelpad Gobabis toe word weer aangepak. Ghanzi word agtergelaat tot oor drie maande as dit weer Nagmaal is …

 

(Mev. Marié Kilian)  

 

Druk asb uit vir  die ouer generasie om ook te  lees.

Het jy kommentaar oor hierdie stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page