top of page

Kassie van Heerden 

ONDERHOUD MET KASSIE & LETTIE VAN HEERDEN, GHANZI, 1980.

DEEL 1

 

 

Vraag: Vertel asseblief ‘n bietjie van hoe Oom hulle in die ou dae bees getrek het.

 

OK: Dit was ‘n ander storie, ja. Soos toe daar ‘n klomp bees is wat weggehardloop het, toe is ek agter hulle aan. Toe was ek vir drie dae sonder water gewees. Toe ek by die water kom, toe’s my mond heel oopgebars, my tong is half opgeswel, ek kon nie verder sien as omtrent so 100, 150 treë nie, daarvandaan is alles vaal voor my. Daar was ‘n ou Engelsman op Lehututu gewees, oorlede  Mr. Whiteman, hy’t toe gehoor van die spulletjie, dat ek agter bees aan is, en hy sien my toe verbygaan met die bees, na die water toe, toe weet hy, kyk hier, as ek nou by die water kom, dan gaan ek my dood drink. En hy, hy’s so ‘n ou klein mannetjie gewees, en hy stuur hier ‘n paar Kgalagadi’s en hulle gaan vat my daar. Ek baklei dat dit so help, dit help niks, hulle vat my vas en hulle vat my reguit winkel toe.  Hy’t my daar in die winkel in en die deur gesluit. Toe begin hy my so bietjies-bietjie lawe hier deur die venster.

 

Vraag: O, hy’s toe nie saam met Oom in die winkel in nie?

 

OK: Ee, nee hy’s bang gewees vir my!  Want ek sal jou sê, hulle sê, natuurlik ek kannie dit onthou nie, hulle sê ek was heeltemal half-verwilderd gewees, dis natuurlik van die dors, … Wat ek wel onthou het, die eerste wat hy my gegee het, is net so bietjie orange squash, en ‘n bietjie water.   Dis die eerste wat hy my gegee het. En toe wag hy so ‘n rukkie, toe gee hy my weer ‘n bietjie … Ek hou net aan, ek wil water hê! En hy wil nie water gee nie.  Tot naderhand, toe sê ek, toe ek nou by my verstand begint terugkom, weer, toe sê ek vir hom “Jy kan nou maar oopmaak, ek sal nie water kry nie. Ek weet nou wat ek moet doen”. Hy kon natuurlik nie Afrikaans praat nie, maar ek kon toe so effentjies Engels praat, en so. Toe sê ek vir hom, hy kan maar oopmaak, ek sal nie water drink nie. Toe hy my nou die derde maal ‘n glas water gee, met orange … Hy’t my nie eenmaal skoon water gegee nie, toe maak hy die deur oop, toe sê hy ook een van sy Kgalagadi’s moet daar by die deur staan, toe sit ek en hy daar in die winkel, toe laat maak hy vir my ‘n koppie tee. Maar hy’t toe ook gesorg dat daai tee nie te warm is nie. Tee gedrink en naderhand toe maak hy vir my ‘n bad reg.   Toe sê ek vir hom ek wil na die bees toe gaan, en gaan kyk wat geword het van die bees. Toe sê hy vir my, “Kyk hierso, jy los daai beeste, dis in my hande, jy moet eers regkom, jy kan daardie bees kan jy môre vroeg sien”. Hy’t my toe naderhand ‘n bad gegee en ‘n bed vir my daar gegee. Dit was die middag gewees, omtrent hier twee-drieuur se tyd, wat ek daar toe gaan lê het, ek het nie wakker geword voor die volgende dag se môre nie.

 

Die bees het duskant Lehututu, omtrent so dertig myl duskant Lehututu af die nag geskrik, en uitmekaar gehardloop, want ons kon nie in die dag trek nie, ons moes net in die nag trek … Daarso is ek toe die volgende dag oggend, toe vat Oom Bennie van Staden die pakosse wat ek gery het, en hy gee sy perd vir my, om maar die bees agterna te sit. Hulle sou toe vir my gevolg het, want ek was die ligste op die perd gewees, ek moet vinnig ry om die bees in te haal.Ek het die bees ingehaal, omtrent die môre, toe keer ek hulle, as ek die kant keer, dan stap hulle dié kant toe, keer ek daar, stap hulle dié kant toe, en van omtrent tienuur tot sononder het ek nie ‘n tweehonderd tree gevorder nie, is ek nog al die tyd net daar waar ek vanmôre gewees het. En nie een van hulle kom uit nie. En ek span toe my perd daarso, ek het toe nog nie gerook nie, ek het nie vuurhoutjies by my nie, daai aand daar so ‘n sloot gegrou, dis te laat gewees vir my om ‘n vuur te maak soos die Boesmans te boor, klomp gras getrek, uitgetrek en die bo-oor my gegooi en onder my gegooi en die saalkleedjie half bo-oor die gras gegooi, daai heelnag deur, toe word ek verskriklik koud.

 

Dit was in Juniemaand gewees. Toe word dit verskriklik koud daai nag. Ek het daai môre toe staan ek op en die perd gevat, gelukkig het die perd nie vêr geloop nie, maar ek kan amper nie daai saal vaskry nie, opgesaal en weer die beesspore gevat, en gery en so, die sonnetjie was net skaars ‘n entjie uit, toe kom ek op ‘n Boesmanstatjie af. En ek klim daar af om my nou warm te maak by hulle vuur. Hete, die ene vat my hier, en die een vat hier aan my, en ek trek die stiebeuel uit, ek dink toe hulle wil my vermoor! Want hulle praat toe heeltemal ‘n ander taal as hierdie Boesmans. Naderhand kom daar ene, waar hy die woord van “Môre baas, môre baas” geleer het, weet ek nie, maar hy, toe kom ek agter dis ‘n gegroetery. Toe maak ek my goed warm daarso, en ek beduie toe vir hulle ek wil drie van hulle hê, om saam met my te gaan om daai bees te gaan kry.  Toe kom vang ek die bees in die pad, toe kom ek eers daai dag in die pad, sommer daar in die wildernis. Ons kry die bees toe daar en ons keer hulle daar om. Daai dag getrek en daai nag en die volgende dag toe kom ek eers by die waters.

 

Daai Engelsmannetjie het my lewe gered, maar Oom Fanie van Staden en Oom Bennie en Oom Gert Kotzé, hulle drie het net daai bees wat hulle daar gekry het bymekaargemaak en vortgegaan, nie een gaan agter my aan om my te help nie.

 

Toe is hulle op Lehututu, eintlik anderkant Lehututu op Tsaane. Hulle kon toe nie genoeg water kry vir die klomp bees op Lehututu kry nie, toe gaan hulle maar na daai een plekkie Bubutsi (?) en Tsaane, daarlangs.

 

Daar het ek senings gekou vir die gesondheid wat ek nog het. En hier deur ook, daar het nagte en nagte gekom, hier deur hierdie Kalahari, wat ek net ‘n stukkie seil vir ‘n saalkleedjie het, en die nag dan reën dit dwarsdeur die nag wat ons kraal gemaak het vir die bees dan staan ek so op my knieë met my kop so op die saal en die stukkie seil hier oor my. Daar’s nie tyd om te kamp eintlik nie. Dis net wanneer dit reënt, wat dit baie reënt dan weet ons, kyk die beeste sal hul nie dors kry nie. Dan maak ons ‘n kraal, dan jag ons hulle in die kraal. En dan het niemand, want ons het met pakdonkies gegaan, daar’s nie ‘n plek om iets saam te vat nie.

 

Vraag: Nou as mens nou so in die dag wag, Oom sê mos mens het in die nag getrek, het Oom-hulle maar in die dag onder ‘n bossie gaan slaap?

 

OK: Onder die bome, in die skade gelê, van môre tot die namiddag laat wanneer dit begin koel word, dan begin ons weer aanroer. Hierdie beestrekkery van vandag, dis piekniek hou! Met die lorries saam, en men die karre en goed! Ons het so aangehou, my laaste klomp bees wat ek hier deur die Kalahari getrek het was in 1938. Dis mos in ’39 wat ek daai bees van oorlede Joey Coetzee gevat het. Toe het ek hulle deurgevat en teruggekom. Daarvandaan het ek nooit weer bees deur die Kalahari aangejaag nie. Toe was ek en Ant Lettie, in ’39 is ons getroud. Toe na die troue toe het ek eers hierdie put hier op Uitkoms anderkant Oom Fanie-hulle gekom grawe want toe, dit was eintlik ons plek gewees.

 

En toe kom grawe ek die put daar, en ons het daar ‘n rukkie so in ‘n graskaiatjie gebly, omtrent soos die ene wat jou pa gemaak het daarso by Kotie-hulle se plekkie het ek daar opgesit vir ons, daar ‘n rukkie gebly, toe besluit ons ons gaan af Ngamiland-toe en gaan werk. Toe ons daar kom in 1941, het ons daar gekom, toe het ek vir die N.T.C. gaan begin werk, vir sewepond tien ‘n maand.

 

Vraag: Nou was dit darem ‘n redelike salaries? Of was dit nou baie min vir daardie tyd ook?

 

OK: Ons het natuurlik vry kos gekry. Ons het nie nodig gehad om kos te koop nie. En ons het toe daar in Tsau gebegint, en toe het hulle, toe’s die man wat op Gumare gewees het oorlede, toe is ons geverplaas vir vier jaar na Gumare toe.

 

Daar was ons toe vir vier jaar gewees. Daarso het ek en sy ook nie ‘n ryding, niks nie. Toe word sy siek daarso, kry sy swartwaterkoors. Toe het ons gelukkig ‘n geleë, ‘n brief deurgekry Maun-toe na die dokter toe, toe die dokter daar gekom het, toe was sy so siek dat hy dwarsdeur die nag, daardie Amerikaner, voor haar bed so gesit. Hy’t nie eenmaal daardie nag gaan sy kop neergelê nie, het hy daar voor Ant Lettie gesit. Die anderdag môre toe sê hy vir my die koors is gebreek, ek hoef nie meer bang te wees nie, sy sal nou beter word. Ek het na die kinders gekyk. Ons het seker nog net vir Annie gehad.

 

Daar was net ‘n winkel gewees, verder was dit statte. Maar daar was ‘n redelike groot huis, grasdak … Toe kry ons stry einde van ’44, toe los ek die werk. Toe kom werk ons op Nokaneneg, dit is 25 myl duskant, toe werk ek vir oorlede Mr. Wright, ook in die winkel. Vir hom het ons toe ‘n jaar gewerk. Toe los ek die werk weer daarso. Toe ek in Maun kom, toe huur die N.T.C. my weer. Toe het ons by hulle gewerk tot  ’56, in Maun. Maar toe was ek nou, toe ek daar begin, toe was ek in die winkel, garage, bouwerk, beeswerk, beestrek af Seabula toe. Al wat ‘n werk is moes deur my hande loop. As hulle daar iemand kort is op ‘n sekere werk, dan moet ek daar wees, as hulle daar ‘n werk is wat hulle iemand kort, dan moet ek daar wees. En dan die laaste paar jare was my werk meestal net op bees gewees, by N.T.C.

 

Hulle het baie bees gehad! Ek het een skoot ‘n duisend vyfhonderd in een klomp getrek. En daar was ‘n ander ding gewees om hulle daar oor die Zambesi en die Chobe, net waar die Zambesi en die Chobe inmekaar loop, dit is waar die plek gewees het waar ons die bees altyd oorgesit het met die pontoon dat hulle deurgaan na die kopervelde  toe in Noord-Rhodesië, toe dit nog Noord-Rhodesië gewees het. Daar het ons duisende en duisende bees oorgesit.

 

Vraag: Nou het hulle self opgeklim of het mens gesukkel, of wat?

 

OK: Nee, dis ‘n groot boot, kan ek sê. Hy’t sulke ringe hier langsaan. Dan vat, ons kan net 18 op ‘n slag deursit, nege aan dié kant vas maak en nege aan dié kant vasmaak en nege aan dié kant, net dat hulle koppe bokant die water is. Dan start ons die enjin op, dan ry ons hulle deur. Ek sal jou sê as daai laastes oorgaan, dan voel dit amper of jy jou hoed kan vat en agternagooi en sê “Weg is jy ook!”

 

Vraag: Het hulle nie vreeslik rondgespring en so aan nie, of het Oom hulle so vasgemaak dat hulle nie kon roer nie?

 

OK: Hy spook net solank as hy nie, as sy voete op die grond is, as sy voete af is van die grond af, dan lê en skop hy uit, dan lê hy hier.  Daar het ek nou, ek het baie gesukkel, maar daar het ek my plesier ook gehad. As ons die boot instoot, dan rol ek my lyn hier af, teen ons anderkant kom, dan het ek omtrent ‘n stuk of tien tiervisse gevang.

 

Mr. Bailey and Mr. Riley, Albert Bailey, hy’s ‘n Engelsman gewees, en oorlede Riley was ‘n Engelsman gewees, en daar was Grieke gewees. Dit was oorlede ou Taiser (?), Stefaaans (?), en oorlede ou George Kuriako, … Eintlik het ons sewentien jaar vir hulle gewerk in the NTC...

 

OK: Wat die interessantste gewees het eintlik, was daardie Riley wat ons nou van praat, dit was in ’52 gewees, toe was ek en Lettie, was hulle saam met my die dag, toe het ek gaan ‘n klomp bees juis in die pad steek, Terwyl ons toe weg is, wat ek die bees afsien het, die rivier was verskriklik vol gewees, die lorries kon nie deurkom nie, en oorlede Riley gaan,  hy en ‘n kleurling wat vir N.T.C. gewerk het op Toteng en van sy outas gaan toe oor. En hulle laai daar klompie goed op die boot en hulle gaan en hulle vat ‘n matras, dis maar soos hul gesê het, jy weet, die swartes aan die oorkant, hulle het ‘n matras so op die dwarste op die boot gesit, en net waar hulle in die stroom kom, toe hy draai om op te kom na die hotel toe, toe het die matras natuurlik, soos ons dink, water geskep en die boot omgekantel. Toe’s hulle aldrie verdrink. Die Kleurling, hy was ‘n uithaler swemmer gewees, hy kon  geswem het, nou so ‘n entjie daarvanaf, het hulle een van sy skoene gekry. Hy’t natuurlik geswem en sy skoene uitgetrek, en teruggegaan en oorlede Riley, soos ons maar dink, het hom vasgepak, want hulle twee bymekaar het hulle onder die water gelê.

 

TL: Die rivier was so vol, die lorries kon nie oorgegaan het nie, toe ry hulle die matras en ander goed met die boot oor.

 

OK: Hulle is die dag geverdrink, en die anderdag, daai nag toe kom ons terug toe hoor ons hulle is verdrink.  Willemien, my ou vrou het soveel vertrouentheid op my gehad daai môre, daar van oorkant af moes ons ook met bote oorkom, sy wou nie gehad het niemand moet daardie boot oorroei nie, ek moet!

 

Die kinders was by. Ons was ‘n hele lot gewees, dit was ‘n groot boot gewees. Ons was ‘n hele lot, Ant Lettie se suster was by gewees, nog ander mense ook, … enne omtrent ‘n jaar na dit, ja omtrent ‘n jaar, nee dit was in ’54, toe gaan ek ook met ‘n klomp bees om dié te gaan afsien en dan kom ek terug, en dan gaan ek, kom haal ek die goed, dan gaan ek vort met die bees, … En ons kom die dag, toe ons vooruit ry, dat ek gaan kyk hoe die water voor in daai pan is, die bees se water. Toe ons by die pan kom, sien ek, hete, die buffels het hierdie water so modder getrap ek sal nie kan die bees water gee daar nie. Maar ek weet toe van ‘n pan so drie myl af van die pad af. Ek sê toe vir Ant Lettie sy moet gou-gou vir my koffie maak, sodat ek kan loop en gaan kyk by daai pan of daar water is vir die bees. Sy maak toe koffie en ek vat toe gelukkig drie swartes saam, en ons loop. Toe ons by die pan kom toe sien ek daar’s baie water. Ek stap so om die water, die drie bly toe agter by die water, hulle gaan drink toe eers water, en ek stap toe sommer verby. Toe sê ek nog vir hulle hulle moet gou maak dat ons die bees kan gaan haal, om hulle daar te kom water gee. En toe ek so deur ‘n ruie plekkie stap, gee die buffel ‘n brul hier agter my, toe kom stap ek by hom verby. Toe’s dit ‘n ou en gekweste bul wat gekwes was wat daarso staan. Toe ek so opkyk, kyk ek binne in sy oë vas. Toe skep hy my, vang my hier in my ribbes, slaan hy ‘n hele paar ribbebene af, gooi my daar om, trap my daarso, en toe hy weer draai dat hy weer op my wil afstorm, toe kom ek darem so dat ek op my knieë kon geskiet het. Toe skiet ek hom gelukkig dood.

 

Die geweer was oor my skouer gewees. Ek het my geweer gelukkig gebehou. Ja, maar toe die buffel daar inmekaarsak, toe sak ek ook hier inmekaar, toe’s my wind heel uit. Enne die swartes hoor toe die spulletjie, en hulle hardloop. Toe hulle daar kom, toe sien hulle daar lê die buffel maar hier lê ek ook, en hulle weet toe wat gebeur het, maar die ene het toe darem soveel verstand gehad, hy gryp my hoed daar en hy hardloop terug na die pad toe, skep hom vol water, toe ek wakker word, toe’s ek watersopnat gegooi!

 

En daarvanaf loop ek toe, omtrent 300 treë geloop toe kan ek nie verder kom nie.   Toe voel dit of die ribbebene wat gebreek is so deur my liggaam steek. Daar’t ek toe gaan lê onder ‘n bos. En twee swartes is toe vort, vir Ant Lettie gaan sê, en sy het ook nog nooit vantevore ‘n motorkar se stuurwiel in haar hande gehad nie. Maar sy vat toe die lorrie daar en sy kom! Omtrent so ‘n myl van my af daar ry sy op ‘n klomp muisgate af en daar bly staan die lorrie. Toe kom stap sy, sy het vir my vasgedraai met ‘n laken en hulle dra my toe daarvandaan tot by die lorrie. By die lorrie gekom, toe sit ek so daarso, so staan ek op my knieë. Sy gaan en sy gee toe vir my ‘n Mag-aspirienpoeier en omtrent soveel brandewyn in ‘n beker, dié weggeslaan. Toe die poeier nou begin te die pyn bedaar, kyk ek die lorrie so en ek dink hier kan ons nie bly nie, ons moet terug Maun-toe. Ek het daar ingeklim en die lorrie uitgetrek en toe ek hom uit, uit daai muisgate het toe sê ek vir haar “Vat”. Want elke stamp wat hy gee oor die graspolle dan voel dit of die bene so deur my steek. Toe vat sy die lorrie daarso en vroeg daai aand toe gaan laai sy my in die hospitaal af. Gelukkig is die ribbebene bietjie laag gebreek, as hulle hoër gebreek het kon hulle my in die longe steek.

 

Ek het ‘n week in die hospitaal gelê, toe wil ek nie meer daar lê nie, toe’s ek uit, toe gaan lê ek weer ‘n week by die huis. Toe verveel dit my, toe sit hulle my in die winkel net by die “till”, ontvang ek net van die Swart klerke die geld, sit ek dit in die “till”... Ek het vir meer as ‘n maand moes ek met die verbande om my geloop het. Ek was toe 44.

 

Vraag: Sjoe, dit moet darem seker ‘n groot skrik wees as mens so in daai buffel se gesig vaskyk!

 

OK: Dis ‘n harde hou wat dit vir ‘n mens gee, daardie. Maar dit gebeur so vinnig, voordat jy kan iets dink dan is alles verby.

 

Vraag: Watter storie is dit, Oom Kassie, wat Tant Lettie moet vertel?

 

OK: Ek sê vir haar sy moet vertel van die naweek toe ons daar gewerk het daar bo aan die Okavango,  een nag toe maak sy my wakker … een nag toe maak sy my wakker, sê sy vir my daar’s goed by die bees. Ek spring op, ek gryp die geweer en die flits en ek hardloop, maar die flits se batterye was omtrent dood, en ek kom by die bees wat die goed gevang het toe sien ek die leeus. Net daar omgedraai en teruggestap winkel-toe en ek gaan nog patrone vat, want toe het ek net een patroon in die geweer oor. Ek vat daar patrone en maak die magasyn vol en ek stap winkel toe en ek gaan kry nuwe batterye. Toe stap ek in, maar ek sit nie die lig aan nie, stap ek in die donker. Toe ek nou reken kyk dis hier, toe hoor ek die leeu lê en knor vir my, …. ek reken kyk hier, as ek nou die lig aansit dan skiet ek hom op sy, dan kan ek hom mooi sien in die lig.   En toe ek die lig aansit, toe staan hy op, stap hy so skuins weg, skiet ek hom. En toe ek hom klaar geskiet het, draai ek om toe gaan lê ek en slaap.

 

Vraag: Nou hoe het Oom Kassie geweet hy’s voor Oom en nie langs Oom of oralste …?

 

OK: Ek weet mos hy sal daar by die bees wees, … Daai selde tyd, toe is daar ‘n krokodil gewees, Willemien, ‘n vreeslike ou grote, elke ding wat daar by daai plek in die water kom, die vang hy. En hy byt daar ‘n perd, ‘n hêle blad fyngebyt, en ek het toe al moeg geword vir die speletjie. En ek gaan en ek maak vir my ‘n hok so op die kant van die water, met pale met ‘n valhek. En dié middag, toe ek nou besig is om die hok te maak, voor ek die hek opgetel en in die raamwerk ingeskuif het, toe was Annie nog klein gewees ook, en sy gaan en sy gaan klouter mos daar op daardie hek en die hek val op haar. Ek het gedink sy’s morsdood, maar sy was reg. En ek maak die hok daarso klaar en vat ‘n stuk vleis en ek gaan stel, sit hom aan die haak daar voor. Dan kom die krokodil in, ek is by, dit was helder maanlig gewees ek hoor daar kom hy uit die water uit, dan gaan hy in die hok in, maar hy wil net nie daai vleis vat wat die hom mee gestel is nie. Tel al die ander vleise op, daardie los hy. Die muskiete byt! Ek het naderhand moeg geword vir die muskiete se byt en ek kom toe by die hok toe gaan hy uit die hok uit toe skiet ek hom. Skiet hom toe daar dood, en ons trek hom uit. Hy was sewentien-en-‘n-half voet lank gewees, ‘n verskriklike ding! Ons het hom oopgemaak, en krale wat die mense om hulle bene dra en goed om hulle nekke, krale en allerhande goed uit sy pens gehaal. Hy’s mos soos ‘n volstruis, hy’t ‘n kleinpensie waar al daai kristalle en harde goed in bly. Hulle sê jy kan diamante ook soek in sy pens!

 

OK: Toe hy uitkom, toe skiet ek hom agter op die rug in. En toe hardloop ek hom by en skiet ek hom hier after die kop, skiet ek sy nek toe af.

 

Vraag: Tant Lettie, vertel my bietjie van die skoolganery?

 

OK: Ons het  skoolgegaan, op Khoutsa, daar waar Tant Lena woon. My pa-hulle het soontoe, op Rietbokpan, hoe vêr is dit, dis vyf myl van daai plek. Toe moes ons elke dag daai ent loop en weer terug, tien myl op ‘n dag. Ons onderwyser was Mnr. Du Toit. Nee, party dae het ons geloop en party dae het ons donkies gery, dan gooi die donkies ons af! Ek was maar bang gewees met die begin om daai donkies te ry. Maar ons moes maar net ry en party dae het ons natgereënt, en alles.

 

Kotie, Grieta en Theunis, hulle het op Gobabis later skoolgegaan. Hierdie Edmond Gower-hulle, ons het vir hulle geleer donkies ry. Partymaal skrik die donkie, dan val ons almal af, partymaal val bewusteloos, moet hulle maar weer bykom.

 

Ons was so arm gewees, ons het nie eers donkies gehad nie, dit was maar seker ander mense se donkies ook, wat ons gery het! By die skool maak ons hulle  daar vas, middag ry jy weer terug. Ons het net by die een onderwyser skoolgegaan maar na die is Mnr. Weideman, daar gewees. Ek weet nie, daar was nog ‘n ander een maar ek kan nie nou onthou wat was sy van nie. Die skoolgebou staan nog daar, daai murasie …

 

TL: Party dae moes die klomp nog ‘n klomp wasgoed vat wat ons daai nag gaan klaar stryk vir Lena (Lenie-hulle). Anderdag môre vat ons dit weer terug, dan stryk ons dit in daai nag by die huis, dan vat ons dit die anderdag môre weer terug. Dit was net om te help. Dit was van Oom Albert, ou Tant Lenie. Sy was met Oom Chrisjan Lewis getroud.

 

Vraag: Nou hoe het die onderwyser vir almal gelyk klasgegee, hoe het hy geweet watter standerds moet nou wat doen, wie’s nou verder gevorder as wie?

 

TL: Seker maar die ouer kinders, ek weet nie wat, ons was ook nie so baie gewees nie. Grieta Lemcke en haar suster Annie was saam, en daai Pretorius, daai wat nou uitgetrek het uit Ghanzi, en ons en dan die Gowers … Hulle toe Ghanzi-toe gekom van Lehututu af na sy ouma hier oorlede is. Hulle het ‘n tyd in Gweru ook skoolgegaan, in Rhodesië. Toe hulle nou daarvanaf gekom het hulle saam met ons skoolgegaan, toe moes hulle nou leer, ry hulle agterop ons donkies. Hulle het saam met hulle ma gekom toe hulle pa oorlede is. Die Tannie Gower het.

 

OK: Toe hulle van Lehututu af gaan, toe is hulle Mochudi-toe. En daar het hy, Edmond se oorlede pa, het hy daar ‘n winkel gehad, en daarvandaan het hy hulle toe Rhodesië gestuur skool-toe.

 

TL: Edmond-hulle se ma was mos ons oupa en ouma Kotzé, was mos haar ma gewees. Toe haar man dood is het sy seker maar na haar ouers toe gekom.   Toe’t sy seker vir Oom Thys Taljaard hier ontmoet, toe’s sy later met hom getroud. Na daai skool nou opgebreek het was daar ‘n Juffrou Labuschagne. Sy’t vir Edmond-hulle toe weer skool gehou, op Dekar.

 

OK: Hier op Dekar. Daar was ‘n kwaai rissie gewees! Oorlede Oom Paul Kotzé, hier Tant Nooientjie  se oorlede man, hy’t vir haar ‘n plak gemaak sommerso van ‘n halwe rou stuk sool. Sy’t een môre, toe’t sy vir hierdie Edmond geslaan, haai jy kon amper nie op sy rug druk of jy druk op ‘n blou kol nie.   Toe word ek kwaad, ek het toe daar gewerk daar op Dekar, want ek was, jy weet, maar van my kinderdae af is ek lief vir ‘n kind gewees. Alhoewel ek en Edmond, hy’s darem amper tien jaar jonger as wat ek is. En ek kon dit nie staan nie. Toe gaan ek en ek vat daai ou plak en ek gaan steek hom aan die brand, brand hom uit. Daar was ‘n hengse rusie gewees daaroor, toe sê ek vir haar, “Kyk hier, dis nie ‘n dier wat jy kan mishandel nie, en hoe mooier jy met ‘n kind werk, hoe meer sal jy regkry”.   Sy was kwaai gewees, sy …

 

OK: Jong, dit is eintlik familie van daai oorlede ou Harie Petoors, ook aangetroude familie. Enne hulle het toe seker gehoor van die onderwyseres en toe skrywe die ouers daaroor en vir die kom sy af.

 

OK: Daar was ene op Khoutse, Miss Vermeulen. By haar het ek drie maande skoolgegaan. Dis die een vir wie Oom Koos Lewis so laat skrik het. Hy was ‘n ander koejawel gewees daardie, hier Oom Fanie se oorlede broer. Hier met die speeltyd, gaan sy toe en sy gaan drink koffie, tee, en ons klomp speel maar daar om die skool. En oorlede Koos klim bo-op die balke, daar’s nie ‘n plafon of niks in nie, gewees nie, klim hy bo-op die balke, sit hy daar bo-op die balk, reg bokant waar haar stoel en toe, ons moes altyd so toustaan as die skool begin ingaan, sy kyk ons deur, vra sy vir ons, “Waar is Koos?”. Nee, nie ene weet waar is Koos nie. Ons gaan toe in, en sit, maar nou sit ons en ons weet nou waar is hy maar ons kan nie aan ‘n werk kom nie en ons is so dik van die lag lat ons kan iets oorkom. En woeps! spring hy hier langs haar af, sy skrik so, sy gooi daai rooi ink en blou ink alles dat dit net spat daar op daai tafel. Wel, daar loop ons hele lot deur. Algar moet pak kry. Vir haar ook, my oorlede broer, moet sy hand hou, elke slag net soos sy slaan, dan maak hy sy hand, ruk hy sy hand weg. En sy slaan haar hier oor die been met die lat!   Nee, ons was stout gewees, og!

 

Maar my onderwyser wat ek nege maande by skoolgegaan het, dis my eerste onderwyser gewees, hy was meer ‘n jagter as iets anders.   Dan leer ons, dan’s ons in die skool, eenuur as ons uitkom dan’s hy op die perde dan weg is ons saam met hom.  Gaan skiet ons. Ons het biae lekker by hom skoolgegaan. Hy was ‘n Coetzee.  Hy’t ‘n tydjie op Dekar, eintlik ses maande was hy by ons en toe drie maande op Dekar. Toe kry hy ‘n brief dat sy broer oorlede is.   Dit het hom so geraak dat hy wou toe glad nie meer langer hier bly nie, toe gaan hy terug . Hy was van Potchefstroom, Kallie Coetzee.

 

Onderhoud verkry uit bande H & I.

Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page