top of page

 

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van

die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Vraag: Waar kom Oom John vandaan?

JK: Ek het in Johannesburg grootgeword. My pa was ‘n Amerikaanse sakeman, hy het rolle materiaal verkoop. Ek het nie in die minste belang gestel in my pa se besigheid en geldmaak of transaksies nie, ek is meer ‘n “Biologist” en stel belang in die natuur en so. Toe ek standard 8 was het ek vir my pa gesê ek wil gaan boer. Hy was glad nie gelukkig nie, maar sê ek moet by Potchefstroom Landboukollege gaan studeer. Ek het die 2-jaar kurses gaan doen en is dit daar wat ek toe die eerste keer gehoor het van Ghanzi, “the promised land”, waar jy ‘n plaas kon kry vir £5 ’n jaar.

 

Die oorspronklike plase is uitgegee op ’n "Quit Rent" stelses, jy moes vir 30 jaar lank £5 betaal dan het jy Cart en Transport gekry vir ’n plaas wat nog nie opgemeet was nie. Toekie Lewis het nog so 'n Cart en Transport van sy Oupa, maar hy kry dit nie. Dit is geteken deur Alfred Milner. Nie baie van die plase het "Cart en Transport" gehad nie en af en toe het een op die mark gekom en of Hardbattle of Burton het hulle gekoop. Die Afrikaanssprekendes in Ghanzi was nie fantastiese boere nie, hulle het meer belang gestel in jag, solank hulle kon jag was hulle gelukkig.

 

Vraag: Hoe het Oom in Ghanzi distrik beland?

JK: Ek het werk gesoek en kry toe ’n redelike werk by die ondersortering by die Veterinary Department as 'n Livestock Officer. Hulle het nie 'n slegte salaris betaal vir daardie tyd, £55 'n maand gekry, waar 'n plaas se huur daardie jare £5 was. Ek wou werk soek op 'n plaas en toe werk ek vir ’n paar maande by Colonial Development Corporation en kweek rys in Swaziland. Dit was nie vir my baie lekker nie, nie so lekker soos met bees nie. Ek het aansoek gedoen by Imperial Cold Storage Commission wat groot plase in Rhodesië gehad het en begin werk vir hulle.

 

Daarna het ek aansoek gedoen hier en toe kom ek Mafikeng toe, met die trein oornag gery Johannesburg-toe. Toe dit lig raak hier by Slurry se omgewing toe kyk ek die wêreld om my so en dit lyk toe nie vir my baie aantreklik nie. Hulle stuur my toe Maun-toe vir 3 jaar en 1 jaar Kasane-toe as 'n Livestock Officer, ek het dit baie geniet. Toe vir een jaar het ek gaan probeer boer in die Suide van die Tuli Block, nie met veel sukses. Hulle gee toe die plase in Ghanzi uit en kry ek toe hierdie plaas.

 

Vraag: Was Oom toe al van tevore hier op Ghanzi gewees?

JK: Ek was in Maun, maar soms ook in Ghanzi as iemand op verlof was, want dit was nodig om permitte en so te skryf.

 

Vraag: Was daar nie sekere kondisies of voorwaardes om die grond te bekom wat uitgesit is nie?

JK: Dit was makliker om grond die eerste keer te kon kry as die tweede, dit was moeiliker gewees. Jy moes ’n ⅕ van die geld neersit, wat ek kon doen, maar ook dalk in my guns het hierdie hele skema misluk. Baie mense het aansoek gedoen uit Suid-Afrika uit. Ek het bedank en Ghanzi-toe gery met 'n ou Chev van die regering, hulle wou gehad het jy moes jou eie voertuig hê en mileage claim, toe kom daar 'n Pontiac by my verby. Die pad was nie so uitgetrap daar nie en jy kon so min of meer met 'n kar daar ry. Ek stop en dis toe ’n skaapboer van die Karoo wat land kom soek in Ghanzi. Dit het toe laat geword en op Kang besluit ek toe om net hier langs die pad te slaap. Die volgende dag kom dieselfde Pontiac weer aangejaag van voor af, die skaapboer klim uit en sê toe, "My kar is nie ’n padskraper nie", en weg is hy. Die pad het baie mense afgesit en het hulle die plase Mei-maand van 1960 uitgegee aan die buitelanders.

 

In tussentyd het dinge verander: Sharpeville, McMillan se toespraak "Wind of Change" ... Mei maand het hulle die plase uitgegee met ’n opsie om te koop en het jy 3 maande gehad om te besluit. Junie maand het die Kongo ontplof en omtrent al die mense laat skrik. Van die mense wat plase gekry het dit nie gevat nie. Ek was hier, Mansi Cook, Jan Ryan & Terblanche het gekom en daardie Sheldon groep. Daarna het die grond vir 4 jaar net so bly lê en af en toe het iemand kom kyk, maar die pad was baie sleg en dit was die laaste wat jy hulle dan sien.

 

Vraag: Oom John het in 1960 oorspronklik net die een plaas gekry?

JK: Ja, hierdie een. Ek het gesien in die Tuli Block dat Derek Brink se pa, Piet Brink, bees gekoop het en op plase gesit van mense wat bereid was om weiding te gee. Die beeste is dan vetgemaak en verkoop en dan deel hulle die profyt. Hy wou tollies verkoop en ek wou tollies koop en vra nie te veel, maar dan bly hulle hier tot hulle groot is. Die bees het goed gedoen en later het Piet Brink tollies gekoop en hier vir my gegee dat gemaak het dat ek nie nodig gehad om van my koeie te gebruik om te lewe nie.

 

Daar was ook ’n karakter hier van Johannesburg, Steve Crement, wat hier begin het maar hy kon nie aanpas nie en wou toe verkoop. Sy grond was naby DEKAR, daar by Kgobo Kgobo, Kgoutsa by die loop. Niemand wou koop nie en toe verkoop hy alles aan Piet Brink saam met ’n klomp koeie. Piet Brink het nie van koeie gehou nie, maar aan iets wat hy vinnig weer kon verkoop. Hy het gesê toe hy jonk was, net voor die depressie, het hy geld by die Landbank geleen en verse gekoop en binne ’n paar maande was daardie verse ’n ¼ van die prys wat hy betaal het. Hy het £9 betaal aan Clement en die beeste aan my verkoop, maar hy het my tyd gegee om hom te betaal. Die ding het altyd ekonomies goed gegaan.

 

In tussentyd het Sheldon, 'n boekhouer van Louis Trichardt, eers vir Oom Albert gekry wat baie goeie ontwikkelings-werk gedoen het en redelik aangegaan het met die beesboerdery. Toe kry hy vir Fanie Petoors toe hy sleg dronk was en later Dawid van Heerden, toe raak hulle in die moeilikheid met die bank en moes hulle toe hulle plase verkoop om die "overdraft" te betaal. Piet Brink het van hulle gekoop en ek het ook gekoop.

WK: Stan Peacock se plaas het ook eers voorheen aan Sheldon behoort.

 

Vraag: Dis baie interessant, ek het altyd gedink Oom het gekom as ’n regeringsamptenaar en toe begin beeste bymekaar maak in Ngamiland en Ghanzi toe gekom?

JK: Die ouens was baie daarteen, jy mag niks anders gedoen het nie, ek moes my werk opgee om te kom boer.

 

Vraag: Oom het ook al die naam om weiding te gee aan ouens wat sukkel om op die been te kom?

JK: Dalk is dit ’n skuldgevoel, ek kon geld leen en het dit goed gebruik ...

WK: Vandag is dit ’n vreeslike toestand hierso, mense sukkel meer as vroeër om geld geleen te kry by die banke.

JK: Nog iets van die geskiedenis ... Mike Main het hier gekom, maar niemand vra iets van die Duitse aanval in Ghanzi nie …

 

Vraag: Ek het gesien my ma se notas het 'n verwysing daarna met 'n klomp vraagtekens, vertel vir ons asb. daarvan?

JK: Ek het by Burton gehoor dat die Duitsers 'n aanval gemaak het in Ghanzi en het hy sy bees gevat en hier na Tswai-toe getrek, dit het goed gereën en hy wou bietjie afstand kry. Hy het vertel dat daar was 'n polisiestasie op Kubi en een op Jakkalsputs. Al die koloniale regerings was maar skrikkerig om "home boys" in die polisie te kry. Toe ek Botswana toe gekom het was baie van die polisie Basothos of Barotsies, die taal is baie eenders. Burton het gesê dat hier Hereros in die polisie was en daar was 'n taamlike geskietery en van hulle is gewond, hulle vrouens het hulle later opgepas.

 

Dit was Burton se kant van die storie, maar Hardbattle het 'n ander kant gehad. Die Magistraat het na hom toe gekom en gesê: "We are going to get you to fight against them", waarop hy geweier het om dit te doen. Hulle het gesê dan sal hulle hom forseer as hy nie wil nie. "You won't be able to do that, I'm an old soldier, I will swallow some cordite (plofstof) and develop a high fever" het hy vir hulle gesê, toe los hulle hom. Met die Duitse aanval het iemand daardie nag verskeie dinamiet skote afgeskiet in die omgewing  van die Duitse kamp en toe dit lig word saal die Duitsers op en hulle is vort. Soos ek hom ken dink ek dit was Hardbattle self en sy Boesmans gewees wat die dinamiet geskiet het …

 

Vraag: Enige ander aanvalle gedurende die oorlog wat Oom van weet?

JK: Nie hier nie, maar natuurlik die Suid-Afrikaners het Duits-Wes aangeval en party het deur die Kalahari gegaan, ek neem aan met die Nosobrivier, anders deur Upington en anders geland op Walvisbaai.

 

WK: Mike Main het 'n boek geskryf en in een van sy stories is daar 'n stukkie wat gaan oor die Duitse kamp wat aangeval is.

 

Vraag: Ons het in ons argiewe 'n foto van berede soldate asook verwysings na die Duitse aanval en die een polisieman wat daar doodgeskiet is?

JK: In Maun het die eerste kar met 'n petrol enjin in 1933 gekom, voor dit was ossewaens of perde gewees.

 

Vraag: Daar is ook natuurlik nog onsekerheid onder almal hoe die eerste perde in Ghanzi gekom het en waar vandaan?

JK: Thomas Tlou het 'n baie goeie boek geskryf oor die geskiedenis van Ngamiland. Hy beskryf die Matebele aanval wat gekom het onverwags, en hulle het goed geweet die Matebele  kan weer kom toe skuif hulle die hoofstad van Toteng na Tsau toe. In 1914 het die Tsaurivier begin opdroog toe skuif hulle eers Maun toe. Toe weet hulle die Matebele gaan weer kom, toe kry hulle perde en bridge loading rifles in die hande, soos die Martini geweer wat 'n enkelskoot is, jy kan net laai en skiet, nie soos met 'n voorlaaier nie. Thomas Tlou sê hulle het sestigduisend perderuiters gehad, wat absoluut nie waar is nie, want die boere van die Vrystaat en wat uit die Suid-Afrikaanse Republiek kom was 56 bymekaar … maar 50 manne wat goed kan ry en goed kan skiet kan baie skade doen. Die Botetirivier het sulke klipbanke, by Tsenoga is 'n klipbank en dan Matabele Pool en die volgende een is Matabele Drift … toe is hulle platgeskiet daar.

Vraag: Ek wonder hoe het die ou handelsroete vanaf Walvisbaai na Victoria Falls daardie dae geloop, dit sou sin gemaak het as dit deur Grootlaagte gegaan het?

JK: Daar was 'n roete vanaf Walvisbaai na Tsau en ek dink dit het gedeeltelik partymaal in die Grootlaagte opgegaan. Daar is panne in die Grootlaagte, dis hoekom olifante nou vir ons kom pla.

 

Vraag: Ek neem dan aan dat hulle so van pan tot pan getrek het op die roete. Ons het gaan fotos neem van Ghanzi Pan by Burton se huis. Die pan is baie mooi en het dit vir baie jare nou standhoudende water …

JK: Hulle sou so getrek het, Ghanzi Pan het redelik water gekry, dan Kobe Pan en dan Tsau-toe. Daar is drie sulke panne in Ghanzi: Ghanzi Pan, Sebego se pan en dan Kobe Pan. Dis bekende ou jagplekke volgens die boeke van Charles John Andersson, hy was die eerste jagter wat hier gekom het en geskryf het en praat hy baie van Kobe.

 

Vraag: Ek wonder nog altyd oor Tsau, hoekom hulle die stofdorpie gekies het van al die plekke in Ngamiland,  hoekom nie eerder Sehitwa wat naby Lake Ngami is met genoeg water nie? Daar was selfs in my jong dae 'n teerpad wat van Sehitwa na Tsau toe geloop het …

JK: Tsau het water gehad en ek hoor daar was pragtige Kameeldoringbome wat die Tsetsevlieg mense almal afgebrand het. Daar is ook goeie ondergrondse water. Sehitwa was seker te naby aan die Matebeles vir hulle gewees. Die eerste BaTawana was mos eers by Khwebe Hills, daar was 'n fontein daar wat later opgedroog het, toe skuif hulle na Toteng. Met die Matebele aanval skuif hulle toe Tsau-toe, en toe die rivier opdroog by Tsau toe skuif hulle Maun-toe. Die eerste witmense het ook daar op Khwebe Hills gaan bly. Daar is nog ou fondasies van die eerste District Commissioner se huis, maar hy was eintlik meer 'n polisieman.

Vraag: Het oom rondgery in Ngamiland as 'n Livestock Officer?

JK: Ek het baie rondgery en uitgekamp, want hulle het gereken twee weke uit 'n maand moet jy in die bos wees om jy werk goed te kan doen.

 

Vraag: Iemand het ons nou vertel toe Oom John hier gekom het, het Oom so van punt-tot-punt gery en vanuit die kar geboer …

JK: Nie heeltemal nie, ek het vir 2 jaar onder die Mopipiboom gebly wat op die miershoop hier by die huis gestaan het.

WK: Toe ek hier gekom het, het daar nog stukke van die Mopipi boom gelê. Hy het ook 'n sink kaya gebou om al sy gereedskap en goed in te bêre …

JK: … en as dit reën dan trek ek daarin.

WK: Dan kom hulle leeus jag hier, Manie Lewis het my vertel, as hulle die volgende oggend opstaan dan sien hy die leeu was hier om die bed, dan het hulle om hulle gelê.

Vraag: So Oom het ook so tussen en saam met die leeus gebly?

JK: Wel, ek het geweet as ek hier kom bly dan is ek in leeuwêreld. Tussen 1961 – 1965 het ons 40 leeus hier dood gemaak. Ben en Corrie Bekker was altyd gewillig om te kom help.

WK: Hoe het jy hulle laat weet?

JK: Jy moes in die bakkie klim en ry en as hulle die Bedford hoor aankom dan haal hulle, hulle gewere uit.

WK: Hy het hier gebly, en ongeveer so 200 treë weg, daar by die kraal, was daar 'n Wilsey enjintjie gewees waarmee ons die boorgat gepomp het.

JK: Dit was so 'n parafien enjintjie en word dit deur 'n tank koel gehou wat aan die enjin gekoppel is. Uit daardie tank kry jy dan warm water wat ek gebruik het om in die aand mee te was. Een aand was ek amper klaar toe hoor ek hier brul 'n leeu seker so 2 myl weg. Ek maak klaar en loop met my handdoek oor my rug terug huis-toe en omtrent halfpad toe brul die leeu weer … ek was nie bang nie, ek het nie geskrik nie, maar ek het gehardloop.

 

Vraag: Het Oom nog enige ander avonture soos die gehad? Ek kan myself net voorstel, hier kom jy nou aan en hier lê hierdie groot stuk grond en nou moet jy begin boer. Waar begin jy en hoe kry jy water?

JK: Dis die groot ding, ek het een "blank" boorgat geboor toe kry ek redelike water hier wat ek jare lank gebruik het. Jy kon redelik goedkoop begin het. Ek het 'n Rapid kragpomp en 'n Wilsey enjintjie gekoop, die goedkoopste wat jy toe kon koop, en het later tot 2,000 bees daarmee water kon gee. Die groot ding was die onbeperkte gras.

 

Vraag: Het Oom die plaas toegespan?

JK: Nee, maar ek het 'n redelike kamp gemaak en dan as dit reën sit ek die droë beeste in die draad. Eers net so 3 dae anders loop hulle weg, koeie wat kalwers het jaag jy uit en hou die kalwers terug. Ek het nooit bees verloor nie, maar dit bly 'n risiko. Bully het al bees so verloor en Burty Adamas het al bees op Rakops gekry. Ek moet sê toe ek begin het, het dinge al baie makliker geword. Op Okwa, op die ou trekpad, was daar sulke syferputte en jy moes met die bokseil of uitgrou of ingrou en met die emmer water uithaal vir die bees. Die volgende water was Lehututu, dit was 160km wat jy moes trek sonder water. In 1957 het die regering boorgate vir die trekroete geboor, en dit het toe 'n baie groot verskil gemaak.

WK: As jy by so 'n boorgat slaap is daar natuurlik baie vlieë, jy moet eintlik wag tot donker dat die vlieë gaan slaap om iets te kan doen.

JK: Ou Oom Fanie (Lewis) het gesê in 'n goeie reënjaar was dit 'n piekniek, want daar was baie Tsammas en dan kon jy in die panne water gee. Maar ander jare wat dit droog was moes hulle in die nag trek en in die dag pas hulle bees op. Dave Flattery het gesê hy het eenmaal getrek en met  die laaste skof Lehututu-toe was sy boesmans klaar! Toe vat hy 'n groot pot en maak sterk koffie met baie suiker in en gooi brandewyn by. Hy sê dit was nie lank  nie toe skreeu daai boesmans en klap hulle swepe … so brandewyn het hulle gered.

WK: As ons getrek het, die kere wat ek saamgegaan het na 1969 toe ons getroud is, dan vat ons 5 of 6 perde saam, maar hulle mag nie die perde ry nie, hulle moes hulle lei. Net as die beeste weghardloop of skrik dan is die perde daar om te gebruik. Elke nag moet hulle gespan word en leeus kom pla in die nag, maar die mense wat hulle lei moet loop die hele pad tot in Lobatse. Hierso so daar by 15myl begin hulle malaria ontwikkel al is dit nie malaria tyd nie, net omdat hulle moeg is en afgemat is, dan kom vra hulle vir pille.

 

Vraag: Waarmee het julle gery?

WK: John het so groot 5-ton blou Bedford gehad en het ons gewoonlik sy goed daarop gelaai. Ons het nie 'n tafel met stoele saamgevat nie, ons het sakke gebruik en kruisbeen gesit. Ons het ook nie 'n tent gehad daai tyd nie. John het 'n Jeep Wagoneer gehad en al ons kos en beddegoed was daarop, die bedrol was op die lorrie en het hulle dit elke aand vir ons gebring. Ons het in styl getrek met twee matrasse wat ons dan opgemaak het langs die bakkie op 'n grondseil. Jy het gekyk van watse kant kom die wind en dan die kar so getrek dat jy sakke onder die deure kon pak om die wind te keer. Soms was die lug buite so koud jy kon omtrent nie jou neus onder die kombers uitsteek nie, jy moes maar vir jou so in die bed 'n holtetjie maak waar die lug kon warm raak sodat jy kon slaap en nog lug kry sodat jy nie jou neus brand nie. Toe die kinders bygekom het, het ons 'n tent saamgevat.

 

Voor ons wegtrek hier maak ek 30 hopies van als op die grond, aartappels, 'n ui, 'n blikke Bully Beef om te sien of ek genoeg het vir die hele trip. Dan pak ons nou in, genoeg lemoene, pomelos en hier teen die end is die bokse al lendelammerig en die pomelos se pitte beginte groei, maar ons eet hulle nog. Ek het presies geweet watter boks wat in het en kon ek in die donker my hand op daai Wagoneer se bak steek en uithaal wat ek nodig gehad het. John het altyd bo-op die bedrol gesit en die vuur en goed opgepas, 'n houtjie ingesit of uitgetrek, daar het nooit iets gebrand nie. So af-en-toe dan maak ek vla, jy het nog nie boksie vla daai tyd gekry nie, dan eet ons 'n blikkie vrugte daarby.

 

Appel bokse was baie sterk en die stewigste om die blikkies kos in te pak. Windhoek bier het daai tyd in sulke plat boksies gekom en daarin het ek die pomelo's en lemoene gepak omdat hulle dan nie so baie druk nie. John het gewoonlik 'n potlisensie gehad, maar jy kon nie 'n groot ding langs die pad geskiet het nie. En 'n Springbok, as jy ene kry, is twee happies dan het die volk hom opgeëet.

Vraag: En die Boesmans se kos?

WK: Ja, soveel sakke meel, 'n pakkie suiker, tee & koffie. Ons het naderhand 'n International lorrie gehad en John het so 'n hokkie gemaak voor waar die meel en suiker trommels en so in gestaan het, want ons het soms twee of drie trekke gelyk gedoen, dan moes hy tussen die trekke voorrade vir die mense gaan aflaai. By Kang kon jy nog voorraad aanvul. As jy nou so staan langs die pad, dan kom daar mense verbygery, maar nie naastenby so baie soos nou nie.

 

Ons was gewoonlik een nag in die veld en een nag by 'n pos, waar daar 'n boorgat is met so 'n paal kraal. Die ander nag moet ons dan nou vooruit ry en 'n plek soek, partykeer kry ons 'n takkraal wat ons net groter maak. Net by Kang het ons twee nagte in die veld geslaap en die derde nag net duskant Kang by 'n takkraal. Dan kry die beeste water en dan slaap ons net anderkant Kang. Die boorgat by Kang is half ingeneem deur die mense daar, dan sit John die mees bakleierigste boesman daar by die sinkdam, want hy moet sorg dat hy vol is vir 500 beeste wat moet drink. Die osse is toe al weg en ons slaap daardie aand by die middelste trek, en so 3-uur die nag toe kom Six Pins aangehardloop en vertel dat die osse weggehardloop het. Ons staan toe op sodat ons daar kan wees as dit lig word. Een het sy been gebreek en 'n  ander een het by hom gebly, toe bring hulle die twee terug na die kraal toe, toe moes jy sien hoe ellendig lyk die twee, hulle weet presies wat gebeur het.  Daar staan die twee osse toe alleen in die kraal waar 500 bees moes wees.

Vraag: Hoe soek julle hulle toe?

JK: By Kang kom jy in die "mak" wêreld en het ek die perde laat omdraai. Toe sit ek nou sonder perde en gaan toe na die kaptein toe en verduidelik aan hom my moeilikheid. Ek het gesê dat ek twee sjielings 'n os sou betaal en gevra dat hulle die bees moet terugbring. Ek het nie geld by my gehad nie, maar het met Theuns Bruwer gereël dat ek sal hom 'n nota gee dan kan hy hulle uitbetaal. Hulle perde was ook in die veld en moes hulle eers gesoek word, nou wag ek vir hulle by die kraal. Na 12-uur die middag toe begin hulle inkom en uiteindelik is daar 60 bees weg.

 

Toe besluit ek daar is van die perderuiters van Kang wat sal saamkom en ek gaan met my Bedford agter hulle aan ry met een drom diesel en twee dromme water agterop die bak. Ons het maklik die spoor gevat en dit het gelyk toe die son opkom toe draai hulle Ghanzi se kant toe, hulle wei nie, hulle loop net. Later toe sit die Bedford vas in daai bulte sand duskant Kang. Ons moes die wiele afblaas en toe laai ons die dromme heel agter om gewig te kry, toe kom ons net oor. Ons kom toe later by 'n plek waar daar bome afgekap was en toe weet ons hier bly mense hier iewers. Daar kom toe 'n perderuiter aan en sê vir ons dat sy ma die oggend vroeg geloop het na die lande toe en toe sien sy die vreemde beeste. Sy het haar seuns daarvan vertel en hulle het die die beeste na die kaptein toe gevat, toe kry ons hulle almal in die kraal. 

 

WK: Ons moes net die een wat sy been gebreek het geskiet het, dit was al skade wat ons gehad het.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met John & Wilna Kempf, Junie 2016

(Opname JK1)

JOHN & WILNA KEMPF - Deel 1 van 3

Ander Ghanzi
webblaaie

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

bottom of page