Osse- en donkiedryf, swepe, inspan.
Ander Ghanzi
webblaaie
Onthou ... deel vir saambou en onthou...
(1) Fanie Lewis snr. het probeer verduidelik van trekdiere en hul gebruik.‘n Span
osse in Ghanzi was nie minder as veertien nie. Om ‘n drie-ton vragwa met yster-
wiele in die sandwêreld te trek, was ten minste 14 osse nodig. Om osse aan te
dryf, is ander woorde, ‘n ander taal, as wat vir ‘n donkiespan gebruik is. ’n Sweep was onontbeerlik, en het gehelp met die “praatwerk”. Dit was so ‘n kuns gewees dat die beste span osse net sou bly staan het as die drywer onbekwaam was. Die osse kon die gebrek ook sommer aanvoel. Meeste onervare mense kon met ‘n ligte wa vorder, maar met ‘n swaar vrag was dit ‘n kuns.
(1) Maria Lewis het vertel van ‘n keer toe sy by was en die drywer die heeldag gesukkel het om deur die Kamp se gang te vorder. Hulle het ‘n trek probeer vervoer met ‘n baie goeie span osse wat ‘n Roosvriend hul geleen het. Dit was Martjie Vickerman se trek gewees. Daar was ‘n sandbult by die Kamp waarteen die jong, onervare drywer nie kon vorder nie. Hulle het naderband goed afgelaai om die vrag ligter te maak, maar verniet. Dit was nie ‘n uitsonderlike geval nie, almal het geweet dat drywers van kleinsaf moes leer, gewoonlik deur hul pa’s of ouer broers as hulle saamry op ‘n tog.
Fanie en Maria het meegedeel dat drywers moes ‘n groot bek hê en veral baie liggies met die sweep werk. Dit was verbasend om ‘n goeie drywer te aanskou, hoe vaardig hy ‘n lang sweep kon hanteer. Eintlik het hy die osse net met die voorslag gepiets. Om goeie swepe te maak, was ook ‘n kuns. Die beste leer daarvoor was van kamele (kameelperde). Die leer was glad nie sponsig nie, en dit het mooi gefluit as die klank deur lug trek. Dit was ook ‘n kuns om die sweep te sny. In die middel was die leer so dik soos ‘n vinger, maar weerskante-toe is dit dunner gesny. Die riem word gespan om die rek uit te haal en dan aan die los punt gesny. (Dieselfde metode was gebruik om seekoeisambokke te maak.)
Mense het selde swepe gebruik om ‘n span donkies te dryf. ‘n Makos (maklos?) was gewoonlik genoeg, en was ‘n stuk riem aan ‘n stok. ‘n Riem van so drie voet (‘n meter) was lank genoeg. Dit was eintlik sommer ‘n stomp riem sonder ‘n punt.
Fanie noem dat ‘n sweep tussen vyftien tot twintig voet lank kon wees. Om die voorste osse by te kom moes die drywer afklim en langs die span loop. Hoe langer die sweep, hoe moeiliker was dit hanteerbaar. Vroeër het hulle dikwels bamboesstokke gebruik as sweepstokke. Gewoonlik moes hulle egter wag-‘n-bietjie stokke kap omdat die hout meegegee het soos die bamboesstokke.
(2) Albert Lemcke het vertel dat sommige mense net so spoggerig was oor hul waens as wat mense vandag is oor hul motorkarre. Wiele, kiste en alle houtwerk is geverf en versier met blommetjies en strepe.
Albert het verduidelik hoe osse geleer is. Ossies is gevang en twee twee aanmekaar gekoppel vir omtrent 2 dae. Mens moes net oplet dat hulle nie om ‘n boom gaan en hulself vasdraai dat een verwurg nie. Na ‘n dag of wat ken hulle mekaar en loop nie meer in ‘n boom vas nie. Na omtrent 2 dae span hulle die ossies in ‘n juk en raps hulle met die sweep dat hulle begin trek. Om die juk te vat was gewoonlik net ‘n dag, dan was die ergste verby en kon die osse leer om op die stemme en swepe te reageer.
Hy vertel ook om ‘n donkie te leer, was maklik. Mens spring net op sy rug en “slaat” hom! Skoolkinders het meestal op donkies gery, sonder saal. Maar soggens moes mens die dier eers in die veld gaan soek het … Albert het nie gedink mens moet ‘n perd inbreek soos die ou “cowboys” nie. Hy het ‘n ongeleerde perd aan ‘n mak perd gekoppel en gelei tot die wilde een saamloop. Dan sit ‘n mens ‘n saal op die nuweling terwyl hy steeds gekoppel is en ry hom so. Die moeilikste was om die dier te leer stuur – links, regs ens. ‘n Gekoppelde perd was hondmak na ‘n lang rit, bv. Gobabis-toe.
(3) Thys Taljaard het vertel van ‘n bokwa, hoe die osse ingespan is. Die wa was 16vt. lank, met ‘n kettingtou vooraan, met skakels. Waar die ystertou aan die disselboom vas was, was dit omtrent 3duim dik. dik. Dan word die tou van elke twee osse al hoe dunner tot by die voorosse. Agter moes dit dik wees, want hulle het 20-24 osse ingespan. Die juk word gemaak met ‘n kram in die middel. Omtrent 18dm duskant die kram word die eerste twee skeigate deurgekap, omtrent vier vingers breed en ‘n vt. lank. Aan die een kant word 2 kerwe ingemaak en daaraan kom die strop vas met ‘n oog wat omhaak in die kerf. Dan sit mens die juk op die os se nek, vat die strop en haak hom in diekantse skei, in die onderste kerf as die nek dik is, en in die boonste kerf as die os se nek dunner is. So span jy al 20 osse in, tot voor. Elkeen het ‘n goeie osriem om die kop, dan vat jy die riem na die linkerkant en koppel hom op daai os se kop. Dan maak jy ‘n lang ossweep met ‘n wag-‘n-bietjie-stok, die sweep +12vt lank, en dryf jou osse. As hulle mooi trek sit jy voor op die voorklap. As jy sien daar is osse wat verneuk, spring jy af en loop hulle deur met die voorslag. Die twee voorste osse het elkeen ‘n riem en ‘n touleiertjie , maar as hulle die pad gewoond is, gooi mens die tou op en hulle loop in die spoor.
Touleiers is meestal in die leeuwêreld of in die nag gebruik. Hy loop voor met die riem om sy arm sodat die osse nie moet skrik en die disselboom breek nie.
(4) Booy Kotzé het vertel van hul spanosse waarmee hy en broer Gert vir hul eie familie voorrade vanaf Ngamiland aangery het. Uit-en-tuis was dit so 15 dae. Hulle kan daar goedkoop pampoene, mielies en koring kry. Die osse was mooi geleer en hy en Gert het self gedrywe. Die osse het amper self met die wa gestap, dit was net nodig om die sweep af en toe te swaai. Booy kon nie uitgepraat raak oor een vooros nie. Sy naam was Lekkerland, en al was die wa swaargelaai, het hy hom byna dood getrek. As Booy hom soms ‘n raps gegee het, het hy stilgehou en eers die slaanplekkie gaan doodvryf! Saans het hulle die osse uitgespan en aan die jukke vasgemaak. Dan gaan lê Booy en Gert teen sy ribbes. Dan trek hy nie ‘n oor nie, lê net en herkou! Een aand het hulle oor Ghanzies gery Khoutsa-toe. Gert het voorgestel hulle moet in die wa gaan slaap, die osse sal self huistoe loop, omtrent 8 myl. Naby die huis wou Booy afklim, maar hulle wou sien wat gebeur. Die osse het die wa mooi getrek tot waar dit moes staan, en self stilgehou. Soms het die span ‘n bietjie gaan staan om te rus, dan trek hulle weer verder terwyl die seuns lê en slaap.
Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:
(Bladsye 87-95)
(1) (G II 5-8) Fanie & Maria Lewis
(2) (U II 1-4) Albert & Lena Lemcke
(3)(Y I 1-2) Thys Taljaard
(4) (W II 4) Booy Kotze
Het jy enige kommentaar oor die stuk?