top of page

MEUBELS EN HOUTWERK

In die onderboude word melding gemaak van ‘n paar uitstaande meubelmakers en die soorte hout wat hulle gebruik het. Dis verstaanbaar dat daar in behoefte aan huisraad was na die wa-en-osse tydperk, die lewe op die trekpad. Weereens staan ‘n mens verstom oor onopgeleide mense se vaardighede. Van die meubels is steeds in besit van erfgename.

(1) Jan Burger het verwys na ‘n wa se sykis in sy dogter Maria Lewis se huis. Dis gemaak deur sy skoonpa, Theunis Kotzé, van hardekoolhout. By sy ander dogter Lettie van Heerden het ‘n rooihouttafel gestaan en by Maria was ‘n katel ook sy handewerk. Laasgenoemde twee is van albizia (perdepishout). Theunis Kotzé het meestal vir sy eie familie meubels gemaak.

(2) Albert en Lena Lemcke vertel van hul eerste huisopsit se meubels. Velstoeltjies, ‘n tafel en beddens het Lena later weggegee namate dit beter gegaan het. So hier en daar het Albert ook vir ander mense houtwerk gemaak - tafels, ‘n tafelblad, pote gedraai vir ‘n tafel, ‘n stoel gemaak. Grieta Lemcke het met een van sy tafels gespog, met gedraaide pote. Santjie (Coetzee?) het ook ‘n   tafel in haar huis gehad. Albert het kiaathout verkies, doefhout soos dit in S.W.A. genoem is. Dit groei nie in Ghanzi se omstreke nie, hulle moes dit anderkant die laagte Shakawe se kant toe, of in Ngamimeer se omgewing gaan haal. Op pad Victoria Valle-toe het hy apiesdoring gaan haal vir werk aan waens. Maar sy voorkeurhout was kiaat. Mense het baie harde hout vermy. Mokutsjôm (jakkalsbessie) was gewild. Ghanzi se geelhoutbome was bruikbaar, maar kameeldoringbome is te hard, hoewel apiesdoring ook moeilik verwerk kon word. ‘n Mooi hout is die wilde appelkoos, ‘n rooi hout, maar dis moeilik om mee te werk. Albert noem dit ‘n halwe ‘teak’.

(3) Booy Kotzé het in die onderhoude vertel dat sy pa, die eerste Theunis Kotzé, sy kinders streng en hardwerkend grootgemaak het. Booy en sy broer Gert moes al die planke saag wat hul pa nodig gehad het. Soms moes hulle die treksaag van die môre tot saans trek dat die sweet aftap. Hy het veral albizia (perdepishout) gebruik. Dis ‘n volop boom in Ghanziland. Theunis Kotzé het veral huisraad van die hout gemaak, veral stoele.

(4) Thys Taljaard vertel van ‘n bank wat Cassie du Plessis se oupa nog in die Transvaal gemaak het, ‘n stewige riempiesmatbank. In 1980 was die bank reeds 140 jaar oud. Dus van tambotiehout gemaak, dus nie van Ghanzi se omgewing nie maar wel hier gebruik.

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

(Bladsye 78-79)

 

(1) (C II 6) Jan Burger

(2) (T II 5-7) Albert en Lena Lemcke

(3) (W I 6-7) Booy Kotzé

(4) (X II 5-6) Thys Taljaard

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page