top of page

HENDRIEKA gebore MOTHIBI

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller

op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

 

HENDRIEKA gebore MOTHIBI, JUNIE 2016.

Vraag: Die Swartse?

H: Nee, ek baklei altyd as die mense sê ek is familie van Johnny Swarts hulle. Ek is nie, ek is ‘n Nama mens, hulle pa was ‘n witman. My ma se nooiensvan was Swarts, maar dit was nie witmense nie, hulle was Namas gewees.

 

Vraag: Van waar af het hulle gekom?

H: Soos ek die storie gehoor het wat my oupa altyd gesê het, my oupagrootjie was van Upington af en my ma se ma was van Mariental.

 

Vraag: Regtig, daar was mos nie grense daai tyd tussen die plekke nie?

H: Ja, maar daai mense het met die Camms uitgekom.

 

Vraag: Die Swartse ook?

H: My Oupa, hy was ‘n Swarts gewees, Wilson Swarts.

 

Vraag: Hy het van Upington af gekom, is dit nou van Mier af?

H: Die oukêrel, sy pa het van Upington gekom en hy het toe ‘n vrou gekry van die Koopers by Lehututu.

 

Vraag: Van die Koopers wat daar gebly het … Simon Koopers hulle wat vir die Duitsers?

H: Ja, my oupagrootjie het met die Besters baie rondgeloop, die Namas en die Duitsers het mos gebaklei, maar hy het altyd met die Duitsers rondgeloop. Toe hy by die Kalahari kom, het hy gesien die mense het mos nou gevlug hier en toe het hy daar ‘n vrou gevat, Anna Kooper. Toe het die Camms ook gekom, daai oukêrel wat daar op Rusplaas lê, William Camm … hulle het mos ook gesprei.

 

Vraag: Is dit daai selfde groep wat saamgekom het met ou Oom Theunis Kotzè en die Burgers?

H: Ja.

 

Vraag: En hulle het almal saamgetrek van Mier se wêreld af, daai selle Camms?

H: Ja, daai selle Camms?

 

Vraag: Toe het hulle by Lehututhu kom bly?

H: Hulle het daarlangs getrek, toe het hulle weer kom draai en Xanagas toe gegaan en op Xanagas het hulle kom gebly.

 

Vraag: So jou oupagrootjie het die Camms en die ander op Lehututu kom kry? Hulle het nie saamgetrek uit Upington nie, of het hulle?

H: Hy het nie saamgekom nie. Hy was ‘n jagter gewees, hy het tiere doodgemaak, met die kierie doodgemaak sê hulle, dan het hy die velle na die Duitsers toe gevat.

 

Vraag: Regtig? So hy was ‘n dapper ou man?

H: Met die kierie en honde. Toe het hy daai vrou loop gekry, ook van die mense wat uitgevlug het, my ouma. My ma se ma, het met die Camms uitgekom.

 

Vraag: Wat was haar naam?

H: Regina Josephina Witbooi was sy.

 

Vraag: Regina Josephina Witbooi, my jinne?

H: Ja dit was haar nooiensvan. Toe het sy so gekom met die Camms, ou John Camm met William se pa, die oukêrel wat nou daar lê.

 

Vraag: Dit was jou oupa se broer?

H: Nee dit was werksmense, die Namas het mos vir die kleurlinge gewerk.

 

Vraag: Nou moet ek mooi luister, so jou Oupa was ‘n oom Swarts?

H: Ja, hy was ‘n Swarts, maar hy was ‘n Nama. Hy was nie ‘n witmens nie en hy was ook nie ‘n kleurling nie, hy was ‘n skoon Nama gewees.

 

Vraag: Dit was hy wat nou altyd saam met die Duitsers was en toe kry hy die Kooper vrou?

H: Ja. Nou na die oorlog, toe’t hy mos die wêreld gesien terwyl hulle so rondloop, mense skiet, of weet ook nie wat hulle altyd gedoen het nie. Toe die oorlog nou klaar was het hy op ‘n jagtog van die tiere, hulle wou die tiervelle gehad het, toe’t hy hulle gevat. Daai tyd was daar mos nie goed van lisensies en watse goed nie.

 

Vraag: Het iemand vir jou vertel hoekom het hulle toe Xanagas toe gekom?

H: Hulle het daar in die Kalahari gebly en dit was seker nie lekker vir hulle gewees nie. Dit was die Kalahari’s wat daar baie gewees het.

 

Vraag: Ek wonder net of die Kalahari’s begin inkom het daai tyd of daar baie Kalahari’s was voor hulle daar gebly het? Want as ek nou met die ou boere praat dan sê hulle hier was niemand nie, net Boesmans gewees, toe hulle hier kom bly in Ghanzi.

H: Ja, hier in Ghanzi was net die Boesmans gewees, die Kalahari’s was daar wat hulle nou noem die Kalahari - Lehututu, Tsane, Hukuntsi, daai plekke … van Kang af is mos nou Kalahari.

 

Vraag: Ek wonder of Xanagas toe nou oop was dat hulle soontoe getrek het ook, of hulle plase gekry het of hoe?

H: Vroeër sê die mense jy kan net trek met die ossewa of met donkiewaens dan trek jy daar, sien jy ‘n plek daar dan sê jy: “Ha, hierdie plek, dis nou die mooiste, ek kan hier water kry, want hulle het nie met bore geboor nie, hulle het met die hande putte gemaak … wyemond putte soos nou op Ou DKAR is. So het hulle daar gebly … die Kotzè’s weet nie of hulle gedeel nie, want die ander mense sê hulle het saamgekom. Oubaas Jan en Gert Kotzè en Sarel Burger het kleurling vrouens gehad.

 

Vraag: Ek dink hulle het almal saam getrek en saam gebly, so het hulle nou getrou, maar later hier by Ghanzi eers saamgebly op Eersterus. Jou voorgeslagte het almal eers Xanagas toe gegaan?

H: Van Xanagas af het hulle Rusplaas toe getrek, die helfde van hulle. Soos ou Robert Camm is toe mos nou Maun se kant toe getrek, hierdie ou Robert van Flora se pa gewees.

 

Vraag: Wat het nou van die Swartse geword? Ons gaan nou deurmekaar raak met die Swartse wat kleurlinge was en die wat kleurlinge geword het …   

H: Daai Swartse van my oupagrootjie was net Hotnotse gewees, hulle was nie gemeng met boere nie en hulle was nie gemeng met kleurlinge nie.

 

Vraag: Is daar nog van hulle lyne wat nou nog hier oor is … as jy nou dink aan wie van vandag se kinders is nog familie van daai Swartse wat nie Wynand Swarts se kinders was nie?

H: My oupa-hulle het net met die Camms gemeng. My oupa het daar gebly en daar oud geword en sy vrou daar doodgegaan daar in die Kalahari.

 

Vraag: So hulle het nie eintlik opgekom Ghanzi toe nie?

H: Hulle het nie meer terug gegaan Keetmanshoop toe nie, hy het ook nie hiernatoe gekom nie, net sy kind.

 

Vraag:  Hier loop nie nou iemand met die naam Swarts hier in Ghanzi rond wat van jou oupa se familie daai naam gekry het nie?

H: Die van is nog by my ma se broer, Handjievol se pa, my oupa se enigste seunkind gewees. Van die begint af het hy net hierdie Makoukou kinders gekry. As jy daar by Charleshill kom sal jy sien daar’s Swartse … die van Swarts is nog daar.

 

Vraag:  Wat was sy naam, Hadjievol se pa?

H: Die kindernaam wat hulle hom altyd genoem het was Katok gewees. Yvonne was ook ‘n Swarts, maar sy‘s ‘n vrou en is oorlede. Deon is nie Swarts nie, Amanda-hulle is nie Swarts nie hulle is Voights, Jannie Voight se kinders geword.

 

Vraag: Jou geskiedenis, vertel vir ons van hoe het jy in Ghanzi ingekom, waar het Hendrieka groot geword en hoe het jy gewerk en geloop?

H: Ek is op Rusplaas gebore, daar op ou Rusplaas.

 

Vraag: Wat is jou pa en ma se name?   

H: My pa is Hanuke Mothibi en my ma Elsie Mothibi, sy was ‘n dié Swarts gewees toe is sy nou getroud met Thibi.

 

Vraag:  Sy was ‘n Swarts van julle stam gewees, so party van hulle het ingekom?

H: Van die Namas. Hulle het mos so gekom, my oupa Wilson Swarts, maar hulle het hom altyd gesê “Manassa”. Hy het met die oukêrel wat daarso lê op Rusplaas het hy nou uitgekom van Xanagas af, hulle het nou maar so gekom tot by Xanagas en daar gebly en toe’t hy nou hier by Rusplaas gekom. My ma is ook nie by Xanagas gebore nie, hulle sê toe het hulle getrek Rusplaas toe om te kom soek waar moet hulle nou kom rus & bly. Die oukêrel het hier gekom en dié naam gegee, hierdie is nou Rusplaas waar ek kom rus, hy gaan nie meer rondswerf nie. Toe is my ma op Jakkalspits gebore.

 

Vraag:  Het hy die plaas gekry by sy pa ou Theunis Kotzè?

H: Nee-nee, hy was ‘n Camm gewees die oukêrel van Rusplaas, Jan Frederik Camm se plaas gewees. Toe het William Frederik Camm se dogter Hedwig met Jan Kotzè getroud. Daai plaas Rusplaas is nie die Kotzè’s se plaas nie, dit was ‘n erfplaas. Die oukêrel se vrou Phia Camm was mos daarso en sy het teruggetrek daai kant van Xanagas toe. Toe het hulle vir ou Hedwig daai plek gegee as ‘n erfgenaam.

 

Vraag:  Dis so mooi dat jy dit vir my vertel, want Yvonne-hulle en so-aan het altyd vir my die storie vertel van Rusplaas, maar dan het hulle begin daar by Oom Jan en Tannie Hedwig en het ek altyd gedink dis hulle wat die plaas gebegin het.

H: Dit was nie die Kotzè’s se plek nie, dit was eintlik die Camms se plaas. Toe het baas Jan mos vir hulle se plek gelos en hy het die vrou toe gekom. Maar hulle het ook op Eersterus gebly, maar toe het hy uitgetrek tussen die boere want daai tyd het die boere mos nie gemeng met kleurlinge. As ‘n witman ‘n kleurlingvrou trou sê hulle nee, hierdie is nie ‘n vaste familie nie. Soos die kerk ook … daai tyd wat hulle nou by die dominees gekom het dan kom gee hulle mos Nagmaal hier of daar by Rusplaas of Eersterus, hulle kom nie bymekaar met die boere nie, hulle se familie nie, daardie bruin vrouens sal seker nie inpas nie, dan kry hulle nagmaal net by die plase, daar waar ou Gert gebly het.

 

Vraag: Kan jy onthou of dit altyd so was dat hierdie apartheid gekom het of het dit eers gekom na apartheid in Suid-Afrika gekom het, die wet, dat die skeiding gekom het?

H: Soos ek gehoor het, daai apartheid was altyd daar gewees. Die kleurlinge, die boere het hulle nie aanvaar soos mense wat lang hare het nie, hulle het nooit “baas” gesê soos die boesmans en swarte en Hotnots nie, hulle het altyd gesê “Meneer & Mevrou”. James Swarts, ou Wynand Swarts se kind, hy’t met ou Freddie Morris se suster getroud, hy’t mos huise reggemaak. (James was die pa van Johnny Swarts, ‘n latere minister in Ian Khama se kabinet en Wynand Swarts jnr.) Hulle het daar by Rita Burger, Theunis Burger se vrou, gebly en daar gewerk. Nou moet James kom en daar met sy swaer Booytjie Kotzè werk. As hulle daar kom gaan eet Booytjie Kotzè by die tafel saam met Theunis Burger en sy vrou, dan moet onse bord gevat word en James moet daarin gaan skep. Hy het mos swart vrouens en boesman vrouens, hy mag nie by hulle inkom nie.

 

Vraag: Rita Burger, wie was haar familie?

H: Soos ek gehoor het was sy die vrou wat Theunis in Gobabis gaan trou het. Haar nooiensvan was Engelbrecht, ‘n vrou van Suidwes.

 

Vraag: Dink jy dit begin verander hierdie goed vandag, of is daar maar nog dieselfde?

H: Ek het eentyd vir Annie gesê, “Jy praat altyd van daai witmense is al mense wat aan die Here glo”. Jy weet vir die Here is ‘n mens ‘n mens, vat nie kante nie, Boesman, Swartmens, Damara, enige mens is ‘n mens soos hulle. Daardie goed, hulle is nie meer daar nie, maar hulle is nog daar. Wie weet, nou ook, as ‘n kar verbygaan moet jy sien die Boesman is altyd agter die kar, hy mag nie voor sit nie.

 

Vraag: Toe jy nou klein was, wat het jou pa-hulle gedoen om te oorleef, ek weet ou Mothibi het baie mooi gewerk met velle? Vertel ons hoe het jy grootgeword en wat is dit wat die mense daai tyd gedoen het?

H: Ek kan sê my pa Mothibi hy was ook een van die Motswanas wat tussen die boere groot geword het daar op Eersterus. So het hy na Rusplaas altyd kom kuier en vir my ma kom kry. Hy was altyd ‘n man wat met sy hande gelewe het en hy het nie baie met die swartmense, sy mense gebly nie. Hy het net met die kleurlinge en die boere, hy’t tussen hulle groot geword.

 

Vraag:  Sy naam was Mothibi, was hy Kalahari of ‘n Tswana?

H: Hy was ‘n Morolong gewees, die Borolongs is net soos die boere, hulle het van Suid-Afrika gekom. Die helfdes het reguit na Ghanzies se wêreld gekom, daar’s ‘n plek Karakubis waar hulle gebly het, en met die oorloë gevlug en rondgeswerf en kom “settle” by Karakubis. Die Kalahari’s het ook daar van daai lande van Lehututu gekom en toe kom “settle” hulle hier by Kalkfontein, net die Kalahari’s.

 

Vraag: Nou verstaan ek, ek het altyd gewonder of ou Mothibi dalk ‘n Kalahari was. So jou pa het op Rusplaas gebly en is dit waar jy grootgeword het?

H: Dis waar ek grootgeword het. Ek het eintlik nie by my ma-hulle grootgeword nie, ek het by my oupa en my antie gebly, want ek was klein gewees toe het my ouma doodgegaan.

 

Vraag:  Jy het so mooi skool gegaan?

H: Ek het daar gebly en ek was twaalf jaar toe ek skool begint het in 1953. Toe het my ma-hulle getrek en daar was ‘n Engelsman wat ‘n winkel gehad het op Kalkfontein, ou Charlie Sharp, hy het daar vir hom gewerk. Toe het hulle my gevat en gesê daai kind kan nie so bly sonder skool nie en toe het ek op Kalkfontein gaan skoolgaan.

 

Vraag: Wie was die onderwysers daar en hoe het die skool gewerk by Kalkfontein?

H: Dit was net swart mense gewees, dit was ‘n Regeringskool. Die groot hoof toe ek beginne skoolgaan het was hierdie Loralo/Lorato se oom gewees.

 

Vraag:  Jy kan so mooi skryf, ek het altyd gedink jy was by Xanagas se sendingskool.

H: Nee, ek het skool gegaan op Kalkfontein. Die Afrikaans het ek by my pa geleer. Hy’t nie skool gegaan nie, maar ou Morris, Freddie hulle se pa, wat hom geleer skryf het, geles het. Hy het so ‘n klein “Nuwe Testament” gehad , dit was ‘n Afrikaanse een gewees. As hy hom lees en op plekke los dan steel ek hom dan lees ek ook. As hy lees dan staan ek en kyk waar lees hy, hoe gaan die woorde, want hulle is nie soos die woorde wat ek by die skool leer nie, totdat ek beginne Afrikaans leer het.

 

Vraag:  So jy het jouself Afrikaans geleer. Vertel bietjie vir my die saambly daar op Rusplaas. Jy het vroeër gepraat van baas Jan, maar hy was mos julle oom gewees, het julle altyd vir hom baas gesê?

H: Ja, ons het hom altyd baas Jan genoem.

 

Vraag: Op die plaas self het julle saamgebly met die Kotzè’s, maar het julle nie eintlik gemeng nie?

H: Nee, die Nama mense het hulle se pondokkkies gehad, maar saamspeel het ek met Jeanette en Rosie-hulle saam grootgeword, ons het saamgespeel.

 

Vraag: Hulle het ook onderwysers gehad?

H: Ja, van daai van die apartheids, hulle moes nie by die boere se skole gaan nie. Hulle se pa het altyd vir hulle onderwysers van Mafikeng of vanuit Suidwes vir hulle kom leer, hulle het nooit by skole gegaan nie.

 

Vraag: Tannie Hedwig het dit vir my vertel, maar ek is eintlik verbaas dat hulle nie vir julle ook ingevat het by die skool nie.

H: Hulle was dan onse base gewees.

 

Vraag: Dit was dan die Camms se plaas?

H: Die Camms kinders het in Xanagas skool gegaan. Die boere het vir hulle bang geword en die kleurling mense ook. Al die kinders van ou Hedwig se broer, want hy’s die enigste een wat hier gebly het met sy ouers, ou Jors Camm, Magrieta Badenhorst se pa. Sy kinders het nie hier skoolgegaan nie, hulle het by Xanagas skool gekry, hulle is mos kleurlinge. Daai boertjies wat eenkant gebly het, het eenkant skool gekry. Die “verandatjie” daar by die ou huis op Rusplaas, dit was hulle se skool gewees.

 

Vraag: Hoekom het jy nie ook Xanagas toe gegaan as die Camms daar was nie? Was dit omdat jou pa geglo het aan die Kalkfontein skool meer as die ander?

H: My pa het toe naby Kalkfontein se poste gewerk. Daar was ‘n skool gewees by Xanagas, maar hulle het ook apartheid gehad met die Namas. ‘n klomp Nama kinders het ook skoolgegaan daar, nie die Boesmans nie, hulle het ook apartheid gehad.

 

Vraag: Waar is daai familie van die Burgers nou? Tannie Grieta was een van oom Sarel Burger se kinders, of hoe nou?

H: Ja, sy was sy dogter.

 

Vraag: En Willie Burger, is daar nog van hulle hier?

H: Ek glo nie.

 

Vraag: Hoe het Hantjievol by hulle beland?

H: Sy het mos by ouma Grieta gewerk. Die stoutgeid van die kinders, toe het Jannie by haar twee kinders gekry, maar ou Hedwig wou dit nie gehoor het nie.

 

Vraag: Jannie Voight was nou wie se kind?

H: Ou Magriet se kind.

 

Vraag: Ek en Braam het vir Coetzee gaan kuier, toe het hy daar naby die Vickermans op ‘n pos gebly. Is hy toe net dood of was daar kinders gewees?

H: Hy het nie kinders gehad nie.

 

Vraag: Jou pa het nou velle werk gedoen, waar het hy dit verkoop? Waarvan het julle gelewe en waar het hy geld gekry en kos?

H: My pa het net by die boere gewerk. Hy’t altyd hierdie likkewaan velle gebrei en dan maak dit sulke mooi skoentjies. Dan verkoop hulle seker so vir 6pins of wat.

 

Vraag: My pa (Dirk Jerling) het mos jou pa loop haal.

H: Dit was by Karakubis waar hy gebly het. Hy’t ook vir Theunis Gower, Edmund se broer wat by Karakubis gebly het gewerk. Hy het mos op die plaas gebly wat teen die grootpad geloop het, duskant by die plek wat hulle sê Sohartso. Toe’t hy getrek en gaan bly by Karakubis.

 

Vraag: Toe het hy hom geleer van “tanning” en goete en van toe af was hulle maar altyd hier op DKAR gewees.

H: Hy’t nou in 1962 op DKAR gekom.

 

Vraag: Ou oom Freddie se pa was ‘n dokter of veearts gewees, die ou Morris?

H: Ek weet rêrig nie, ek het net sy graf gesien op die plek wat hulle Mojanetsela noem, dis daar waar hulle gebly het.

 

Vraag: Hy was ook met ‘n Kotzè getroud of was hy ‘n Kotzè se kind?

H: Die ou Morris het ek altyd gehoor, sy vrou was familie gewees van die Taljaards.

 

Vraag: Freddie se eerste vrou was ‘n Naro vrou, of het hy eers ook ander vrouends gehad?

H: Nee net ‘n Naro vrou, James Morris se ma.

 

Vraag: Het hulle ook met die Camms geskakel, want Flora was James se suster en sy was ook ‘n Camm?

H: Nee, sy was getroud gewees met Robert Camm.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Hendrieka gebore Mothibi. Junie 2016.

(Opname H1 & H2)

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page