MEDIES – Dokters, Aptekers en Hospitale
Onthou ... deel vir saambou en onthou...
Die eerste intrekkers, die pioniers, moes sonder dokters, aptekers, veeartse en hospitale
klaarkom. Boererate was hul enigste toevlug, veral met kinderkwale. Lennon se huisapteke
is in elke denkbare en ondenkbare kwaal gebruik. Baie vrouens het aan “smeer” geglo.
Maar vir hierdie volgende tydvak het baie dinge verander. Die ondervraagdes praat van aptekers, gewoonlik deur die Regering gestuur, en ‘n opvolging van dokters op Maun en Ghanzi. Verder weg op Franscistown, Gobabis en Mafikeng was daar reeds hospitale. Laasgenoemde was meestal deur kerkgenootskappe bedryf, byvoorbeeld die Sewende Dag Adventiste en die Rooms Katolieke Kerk. Vir noodgevalle was die paaie reeds beter en mobiele vervoer was meer algemeen. Behalwe in noodgevalle is mense egter steeds per perdekar, skotskar of ossewa vervoer. Maar dit was nog lank voor dinge soos MedRescue beskikbaar sou raak. Stadig maar seker het die Regering entstof in miltsiek, sponssiek en gallam ingevoer en dit het die beesboerdery bevorder. Hierdie bedeling verwys na die tyd voor die toegewyde suster Vize haar opwagting in die 50’er jare op Ghanzi gemaak het. Vroedvrouens en tandardse was maar nog op ‘n “selfhelp” selfgeleerde basis. Dis baie moeilik om die medici chronologies voor te stel, want alles is aan insidente gekoppel.
Booy Kotze vertel dat hulle by smouse medisyne gekoop het, byvoorbeeld konynpille (Quinine) vir malaria. Daar was ‘n Arabier van die Suide af wat gereeld kom smous het, ene (1) Ismael. Maar so van 1925 af het Charlie Sharp die smousery oorgeneem en op Kalkfontein gevestig. Booy het 3 jaar daar vir Sharp gewerk.
Lena Lemcke vertel van ‘n tipiese insident. Sy was siek in Maun se hospitaal. Haar tweede jongste kind, Chris, was twaalf jaar oud. Albert het die twee seuntjies, Albertus en Chris, daar gaan haal. Op pad huistoe het die lorrie gegly en die domkrag het Chris se nek seergemaak. Aanvanklik kon die dokter nie fout vind nie, maar vier maande later het (2) Chris baie gekla as hy so gedraai het. Dit was asof sy oë se kykers omgedraai het. Albert was weg, toe neem Lena se ouers hulle Gobabis toe, waar hulle Dr. May gesien het. Sy is na ‘n oogspesialis in Windhoek verwys, wat ‘n bril voorgeskryf het. Maar op pad op die trein was Chris baie siek en sy is weer na Dr. May op Gobabis. Chris het elf dae daar gebly voor hy dood is. Dr. May het gesê hy het dit die eerste dag geweet, maar wou haar nie sê nie.
Mense het die vroeë dokters “perdedokters” genoem, maar het nie ‘n keuse gehad nie. (3) Voor die Dr. May was daar ‘n Dr. Knope op Gobabis. Hy het mense gedokter vir 15/-, en dieselfde gevra as hy ‘n haelgeweer regmaak.
(3) Albert Lemcke vertel dat hy self meeste van sy tande getrek het met ‘n skoenriempie. Party mense het ‘n tang gebruik.
Cassie van Heerden het vertel van ‘n Dr. Boyle wat voor suster Vize in Ghanzi gewerk het. (4) Hy was eintlik ‘n aptekers wat deur die Regering gebruik is. (Hy was ook ‘n fotograaf wat self foto’s in ‘n donkerkamer ontwikkel het.) Cassie verwys trots na homself as “dentist Van Heerden”, al sedert hy en Lettie in Maun gebly het. Hy het ‘n stel tange gehad en het meeste van sy eie tande self getrek. Hy vat net die tand goed met die tang, en “gee net daai draai” en haal die tand uit.
Hy vertel van kwaai tandpyn toe hy by die Kukedraad gewerk het. Dit was sy oogtand (4) en die een langsaan. Een-uur toe die ander geëet het, het hy sy tang gevat en bosse ingestap. Hy het teen ‘n boom gaan sit en die oogtand gevat, maar die tang het geglip en dit het gevoel soos ‘n hamerslag deur sy kop. Voor die pyn oor was het hy hom weer gevat en uitgebreek. Toe vat hy die ander een voor die lewe terugkom, draai hom uit en gooi weg. Hy het geen verdowing ooit gebruik nie en was gelukkig om nooit ‘n wortel af te breek nie. Een aand was sy vrou Lettie se tand baie seer, en hy het dit getrek, asook van Martjie Goosen, Kotie Craill en Grieta. Hy spog dat die tandarts in Mafikeng vir hom gewag het om sy tand te trek!
Thys Taljaard het van die eerste “apteek” op Ghanzi vertel. Blykbaar was dit ‘n Regeringsfasiliteit. “As jy hier van die Vize’e se winkel gaan, van Oasis af, dan loop jy (5) met ‘n gruispad af, dan kry jy op jou linkerkant twee geboue. Dit was ons apteek gewees.” Mens kon die nodige medisyne daar koop. Lank voor suster Vize was daar ‘n “Dr.” Boyle, ‘n sogenaamde “dispenser” wat mense gehelp het. Hy kon diagnoseer en het selfs ook geopereer. Sy vrou was half-Engels.
Die “Dr.” Boyle was ‘n ondernemende man. Behalwe sy mediese pligte was hy ook ‘n (6) fotograaf wat self sy foto’s in ‘n donkerkamer ontwikkel het.
Iewers was melding gemaak van ‘n wildehond wat byna Joop Lewis se duim afgebyt het. Hugo vertel daar was toe ‘n “drekding” dokter wie se naam hy vergeet het, maar dit was (7) lank na Dr. Boyle en voor suster Vize. Hugo het geboor en daar was ‘n pen aan die wiel wat aan die mou van sy oorpak gevang het en Hugo vasgedraai het. Een van die handlangers was Hendrik, en hy het Hugo om die lyf gegryp en vasgehou en uitgetrek. Grieta was so 200 tree weg toe sy die Boesmans hoor skree het. Hugo het in ‘n bloedplas gelê. Sy bestuur selde, maar het hom in ‘n kar gelaai. Die senings aan sy arm het toue gehang en hy het gekerm van die pyn. Nico Kotze het naby ge-oes en Hugo na die dokter geneem. Maar die dokter het net gips aangesit, blykbaar onwetend dat ‘n slagaar gebloei het. Jock Gower, die oud-polisieman het verbygekom en gesien daar is fout. Cecil Craill het toe al ‘n vliegtuig gehad en Hugo is Gobabis toe uitgevlieg vir ‘n operasie.
Hugo vertel van ‘n keer toe sy skoonpa, Chrisjan Lewis, agter beneukte leeus op (8) Sunnyside aan was. Burton was ook saam en het sy kar bestuur. Die leeutrop het verdeel en een het Chrisjan ingehaal, toe druk Burton tussen die leeu en Chrisjan in met die kar. Hugo en die ander het bymekaar gekom en die leeus geskiet, maar Hugo was bang hulle sou mekaar raakskiet. Dit het gebeur, want Burton het bly sit. Toe hulle by hom kom tussen die leeus was daar ‘n koëel deur sy been. Hulle het hom met die kar aangery na ‘n dokter wat pas aangekom het. Die koëel het nie ‘n been geraak nie, daar was net ‘n ronde gatjie. Burton het nooit gekla nie, net gesê daar is nie tyd vir kla nie! Die dokter het by die Sewende Dag Adventiste se hospitaal in Maun gewerk. Dit was die eerste hospitaal gewees en almal het van die dokter goed gepraat. Hulle het in die Ghanzi distrik van plaas na plaas gery om te help waar nodig. Maar op ‘n stadium is hulle die land uitgesit. (In 1970 was daar steeds so ‘n hospitaal by Kanye gewees.) Hugo-hulle was in Maun met die dokters bevriend gewees. Hulle onthou ‘n Dr. Foster of Vorster, en ‘n Dr. Royal. Hulle was Amerikaners en het binne drie maande sifilis onder die Ghanzi Boesmans uitgeroei. Foster, sy seun en die se vrou was later dokters in Rhodesië.
Dis nogmaals die storie toe ‘n leeu in Magiel Vermeulen gebyt het. Hugo-hulle was op (9) Kgoutsa toe Magiel se Boesmans gaan hulp soek het. Hugo het vir Giel gaan haal en na “Dr.” Boyle op Ghanzi geneem. Dr. Boyle het hom behandel (deesdae noem mens dit “stabiliseer”). Toe is Giel met ‘n skotskar vervoer na Lobatse (Mafikeng?) se hospitaal.
Grieta Lemcke vertel van ‘n rit saam met Hugo toe hy transport gery het. ‘n Baba (klein Hugo) was saam, en die lorrie het baie skete gehad wat die reis tussen Maun en Gobabis verleng het. Die kind se ore het gesweer en omdat hy nie wou drink nie het haar bors (10) begin sweer. Op Gobabis wou die dokter haar nie sien nie, omdat sy nie ‘n bestelling gemaak het nie. Op pad huistoe het sy voor die grens by haar suster Sannie Coetzee flou geword. Haar suster het haar gehelp.
Albert Lemcke vertel ‘n storie, hoe hy en ‘n aptekers vasgesit het op Sunnyside tydens “Krismis”. Dit was ‘n apteker voor “Dr.” Boyle, van wie baie mense vertel het. Albert het op versoek ‘n Duitse Lied (11) gesing en ook een met dieselfde wysie as “God save the King.” ‘n Paar dae daarna wou die apteker op die Kamp hom slaan oor die lied. ‘n Broer is deur die Duitsers “vermoor”, seker in die 2de Wêreldoorlog. Albert sê toe, “Man, jy’s te bleddie oud om my te baklei”, en daarmee was dit afgehandel.
Baie mense het geglo dat “smeer” pyn kon verlig. Blykbaar was die middel nie die geheim nie, dit kon soetolie of enige salf soos Vicks wees. ‘n Paar mense het die kuns (12) bemeester, bv. die vroedvrou Sannie Lewis en later Magriet Coetzee van die Camm familie. Bloed laat was ook nog gebruik vir hoofpyn. Grieta het vertel van ‘n keer toe Hugo ‘n karbonkel op sy blad gehad het. Sy beskryf dit as anders as ‘n pitsweer, meer soos ‘n kanker. Sy vrou en familie het eers ‘n pleister met panklei probeer omdat dit vir baie kwale gebruik is. Dit was baie pynlik maar het nie gehelp nie. ‘n Pit het uitgekom maar die kwaad het sy hele blad en verder af versprei en (13) na bloedvergiftiging ontwikkel. In die nag het hulle hom Gobabis toe vervoer, maar moes iewers petrol leen toe dit opgeraak het. Die half deurmekaar Hugo het vir die man gesê, “Moenie glo hulle sal dit terugbring nie, hulle het al die hele wêreld met my rond gery!” Hugo was drie weke in die hospitaal.
Grieta se dit was omtrent die swaarste tyd in haar lewe. Klein Hugo was 2 jaar en sy was sonder bediende. Die kind kerm om uit te gaan en Hugo kerm van die pyn. Dit was wonderlik toe Albert en Lena opgedaag het!
Sara Thibi woon nog op D’Kar sover ek weet, maar tydens hierdie opnames vroeg in 1980 (14) het sy niks geweet van witmensdokters in haar jong dae nie. As Witmense se medisynes nie gehelp het nie, was daar verder net Botswanadokters (kruiedokters?).
Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:
(Bladsye 352 -359)
(1) (W II 8) Booy Kotze
(2) (U I 4) Lena Lemcke
(3) (U I 7) Albert Lemcke
(4) (I II 4-6) Cassie van Heerden
(5) (X II 7) Thys Taljaard
(6) (I II 4) Cassie van Heerden
(7) (O I 7-9) Hugo Lemcke
(8) (P I 13-14) Hugo Lemcke
(9) (Q II 6) Hugo Lemcke
(10) (R I 5-6) Grieta Lemcke
(11) (U II 8) Albert Lemcke
(12) (Q II 3) Grieta Lemcke
(13) (P I 3-4) Hugo & Grieta Lemcke
(14) (L 2-3) Sara Thibi
Ander Ghanzi
webblaaie
Het jy enige kommentaar oor die stuk?