top of page

Inleidende Oorsig

Die geskiedenis van die eerste vestiging in Ghanzi moet teruggaan na vóór die

swart volke uit die noorde afbeweeg het na suider Afrika. Oorspronklik was die

gebied waarskynlik slegs deur die San (Boesmans), maar daarna ook die

Khoekhoen (Hottentotte) bewoon, tydens laasgenoemde se migrasie suidwaarts

met groot veetroppe. Later het heelwat swart en wit trekgroepe tydelik hier vertoef, maar as mens die geskiedenis nagaan was vestiging waarskynlik net moontlik gedurende die nat jare, wanneer die panne volgeword het en fonteine standhoudend was. Maar soos nou ook, was daar groot droogtesiklusse ook, dus het permanente vestiging in die gebied waarskynlik uitgebly totdat die eerste mense wat die vermoeëns gehad het om standhoudende putte te grawe, hier kom vestig het. Sulke putte het lank water gehou omdat ondergrondse bronne redelik vlak bereikbaar was, gevoed uit die poreuse kalkbodem van die gebied.

 

Sommige reisigers wat die gebied deurkruis het op die handels en jagroete tussen die Khwebe heuwels (Ngami meer) en Walvisbaai, het afwisselend tonele beskryf van oorvloedige, aaneenlopende panne water en ander tye weer net vertel van dorre watergate en kaal vlaktes met waaisand. Ghanzi was dus ook ‘n bekende oorstaanplek vir jagters, handelaars en dorslandtrekkers, op weg na die Tebraveld of soms nog meer noord. 

 

Die naam Ghanzi (spelling word so behou vir historiese redes en omdat niemand nog seker is wat die ware oorsprong van die naam is nie.) Die mees waarskynlike naam is egter Gãentsii wat beteken groot agterwêreld (“swulboude” volgens een ou bron) en ‘n aanduiding is van oorvloed kos. Die San was die een groep wat wel geweet het om op veldkos en tsammas te oorleef al was daar  nie water nie, dus was hul naam verwysend na die tye van oorvloed. Dis interessant is dat die hedendaagse spelling Gantsi, wat besig is om dominant te word, beteken “plek van vlieë”, ook die konnotasie het met oorvloed (beeste en melk lok vlieë). 

 

Verskeie swart volke was met die gebied geassosieer, tog het twee sterk groepe weerskante van die gebied daaroor eienaarskap uitgespreek. Tussen die belange van die opponerende groepe, die Namas (onder Amraal Lambert) en die Tawana (onder Letsholathebe en daarna sy seun Moremi II.), moes die Afrikanerboere sowel as die Engelse en Duitsers wat hulle oog op die gebied gehad het, dus hul vestigingsregte navigeer.

 

Vandag is Ghanzi ‘n vooruitstrewende besigheids sentrum vir die Noordweste van Botswana, een van die weinig plekke waar mense grond volledig mag besit, en het meeste jongmense nie meer ‘n idee van die opoffering en swaarkry wat hul voorouers moes deurgaan om hier te mog woon nie. Daarom, kom ons skryf hierdie geskiedenis saam op, sodat almal sal onthou en sodat ons voorgeslagte se vestiging hier ook die respek mag afdwing van die wat die geskiedenis nie ken  nie. Alleen deur kennis kan mense mekaar verduur en verdra, en respek ontwikkel vir verskeidenheid en eie identiteit.   

 

Druk asb uit vir  die ouer generasie om ook te  lees.

Het jy kommentaar oor hierdie stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page