top of page

Staaltjies en verhale vir almal om te deel ...

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

Vraag: En daar was natuurlik die moeilikheid met die markte en die transport …

Tant Maria: Ja, bees was maar ‘n Rand gewees daai tyd, tien sjielings … hy’t self hier vir twee pond tien gekoop …

Oom Fanie: Ja, ek het heelwat bees gekoop. Ek het in Ngamiland gaan werk en jy weet ek het daar vier pond ‘n maand gekry. En ek kon met daai vier pond ‘n maand beter gemaak as wat iemand nou vanjaar sal maak met vierhonderd rand kry.

 

Vraag: Was Oom toe al getroud?

OF: Nee, nog nie.

 

Vraag: Watse werk het Oom Fanie daar gedoen?

OF: Ag, ek was opsigter oor beeste gewees.

 

Vraag: Vir wie?

OF:  Suzmanns, hy was ‘n Jood gewees.

 

Vraag: Vir verkoop en slag en so aan?

OF: Ja, hulle het eintlik uitgestuur daar na Kasangula toe, dis al mark wat hulle gehad het. Ek weet nie waar hy hulle wou gaan slag nie, maar hy’t hulle soontoe gestuur.

TM: As jy daai tyd vyf sjielings gehad het, dan het jy meer materiaal gekoop met daai vyf sjielings as wat jy nou sal met vyf rand kan, rêrig!

 

Vraag: By die smouse ook, Tannie?

TM: Ja, jy koop drie jaarts materiaal vir een-en-ses. Hulle is nie sommer, jy weet, hierdie sis, blou outydse sis wat nou so duur is, sikspens ‘n jaart.

 

Vraag: En die smouse is seker nog duurder as by die winkels?

TM: Ja, hier was ook nie eintlik winkels nie, Gobabis was die naaste winkels.

 

Vraag: Het almal nou maar soontoe getrek om te gaan koop?

TM: Jy bestel nou maar as daar een gaan.

 

Vraag: Hy moes darem seker ‘n groot wa gehad het?

TM: Hy het daar transport gery, posgery met ‘n donkiekar.

 

Vraag: Wie, Oom Fanie?

OF: Ja, ek het posgery van Gobabis af na Olifantskloof toe.

 

Vraag: Waar’s die Olifantskloof, Oom Fanie?

OF: Dis op die grens.

 

Vraag: Naby Buitepos?

OF: Ja, en daarvandaan het die Hottentots hom weer gevat Ghanzie-toe.

 

Vraag: Met die donkiekar?

OF: Met donkies, ry-donkies.

 

Vraag: Het Oom Fanie ook met die donkiekar gery?

OF: Ek het maar donkiekar gery.

TM: Ja, hulle het met die donkies gery, met pak-osse.

OF: Wat die pos aangaan, noudat jy daarvan praat, my oorlede pa het die pos gehad, jy weet hiervandaan dwarsdeur Suidwes-toe. En hy het hom vervoer. Die Boesmans, hulle het hom gedra.

 

Vraag: Op stokke of met sakke?

OF: Nee, in sakke, jy weet seilsakke, dan dra hulle hom Gobabis toe.

 

Vraag: Nou hoelank het dit nou omtrent gevat?

OF: Ag, dit was omtrent ‘n maand gewees.

 

Vraag: Soontoe?

OF: Soontoe en terug. Dit was die eerste pos wat vervoer was hiervandaan soontoe.

 

Vraag: Watter kontrak het Oom se pa nou eerste gehad, die hele ent pad?

OF: Nee, net in Suidwes, nie deur duskant nie.

 

Vraag: En die Boesmans wat hom gedra het, was dit nie ook Oom se pa se kontrak nie?

OF: O ja, die het hulle dwarsdeur gehad. Maar toe ek hom gery het, was dit net in Suidwes, van die grens af Gobabis-toe.

 

Vraag: Nou die Boesmans wat so geloop het, het hulle die possakke alleen geloop, of het Oom se pa saamgegaan?

OF: Nee, hulle het alleen geloop, hulle het die possakke gedra.

 

Vraag: Dan kom vat hulle die possakke hier op die Kamp?

OF: Ja, hulle het hom deurgedra Suidwes toe en weer terug. 

 

Vraag: Het hulle voete nie ingegee nie?

OF: Nee, Boesmans is mos taai jong. Maar in elk geval moet ek jou sê, daar het ‘n mislukking gekom.  Hulle het een slag die pos gevat, en hulle het net ingegaan met hom, toe hang hulle hom aan ‘n boom op, toe loop hulle weg, toe gaan hulle Koukouveld-toe.

 

Vraag: Toe’s hulle moeg vir die storie?

OF: Toe’s hulle moeg vir die storie.

 

Vraag: En wanneer kom die mense dit toe agter?

OF: Ek weet nie hoe het hulle dit agtergekom nie. Hulle het seker maar van anderkant af laat weet dat die pos het nie uitgekom nie. Toe doen hulle ondersoek en gaan kry hulle die pos, toe hang hy hier op Seribe aan ‘n boom!

TM: Sommer naby ook.

 

Vraag: Dis seker toe daarna dat hulle die twee kontrakte ingestel het?

OF: Ja, dit was toe na dit gewees.

 

Vraag: Hoe het hierdie possakke gelyk?

OF: Die possakke was mos hierdie possakke wat hulle private possakke noem.

 

Vraag: So ‘n seilsak met ‘n leerband?

OF: Ja, nou daai was dieselfde, dit was net groter.

 

Vraag: Daar in Potchefstroom se wêreld, as die pos nou aangekom het, dan blaas hulle ‘n groot beuel en dan weet hulle vandag het die pos gekom. Dan kom lees een ou die briewe uit, dan sê hy:  “Hier’s vir Koos ‘n brief, daar’s vir Piet” Was daar nie soiets hierso ook nie?

OF: Die Hottentots(Boesmans) het ‘n fluit gehad, jy weet hierdie gewone ou mondfluitjies. Dis maar net as hulle aankom, dan blaas hulle die fluitjies.

 

Vraag: Dan weet die Kamp se mense?

OF: Ja.

 

Vraag: Nou hoe het die ander mense geweet as die pos gekom het?

OF: Hulle het maar datums gehad.

 

Vraag: Daai tyd toe Oom Fanie pos gery het van Gobabis af met die donkiekar, het Oom ‘n kappie op die donkiekar gehad?

OF: Nee, ek het sommer ‘n oop karretjie gehad, vier donkies aangehad.

 

Vraag: Vertel bietjie hoe het die karretjie gelyk en hoe het Oom nou gemaak?

OF: Eintlik was dit net ‘n stelletjie wat ‘n kar van gemaak is, jy weet, sê nou ‘n voorstel, en daar het ons planke en goed op gesit en net so ‘n bakkie gemaak, vir die possakke en vir my goed. Dan het ek die pos gery hier na Sandfontein toe, eintlik Olifantskloof toe, maar my blyplek was op Sandfontein. As ek nou voor die tyd daar kom, dan het ek op Sandfontein, daar was ‘n ou poliesgebou gewees van die Duitsers, ‘n grote ou huis gewees, …

TM: Daar waar die kantore nou is ….

OF: Ja, daar waar die kantore nou is, hulle het als afgebreek. Daar was nou eintlik my stopplek gewees daardie, en dan bring ek nou die pos van Sandfontein na Olifantskloof-toe. Van daar het die Hottentot hom gevat, dan het ek maar weer teruggegaan soontoe voor ek nou ingaan Gobabis-toe. En dan met my ingaan Gobabis-toe het ek Jack Brody en Van der Spuy se room sommer saamgevat. Hulle het daai tye geroom.

Vraag: Het die kanne langs die pad gestaan, dan tel Oom hulle net op?

OF: Nee, ek het net by hulle huis verbygegaan.

 

Vraag: Maar hulle klink dan sulke vreemde name, watse nasie was hulle?

OF: Die Van der Spuys was Afrikaans en die Brody’s was Engels.

 

Vraag: Ek wil nog weet van die donkiekar. Het Oom ‘n drywer gehad wat voor geloop het of ‘n touleier en hoeveel donkies?

OF: Nee, vier of ses, ek kan nie meer sê nie. Ons het ses donkies aangehad. Nee, ek het nie ‘n touleier gehad nie, ek het ‘n Boesmantjie by my gehad.

TM: Die kar het mos leisels aan.

 

Vraag: Vertel bietjie vir my.

OF: Daardie was ‘n stelletjie gewees, dit was maar net ‘n wa se voorstel gewees wat jy nou ‘n bakkie opgesit het.

Vraag: So hy’t ‘n bakkie reg rondom?

OF: Reg rondom.

TM: En dan sit jy maar die voorste donkies se toom aan lang rieme tot hier agter en daarmee stuur jy hulle.

 

Vraag: So niemand het nodig gehad om hulle te lei voor nie?

TM: Ehe

 

Vraag: Het mens verskillende uitroepe gehad?

OF: Was nog ysterwiele, dit was nog nie hierdie rubbers gewees nie, dit was nie tyres gewees nie, dit was ysterwiele.

 

Vraag: Het Oom Fanie die karretjie self gemaak?

OF: Ja, ek het hom self gemaak.

 

Vraag: En die ysterwiele, waar’t mens die gekry?

OF: Dit was, soos ek jou sê, dit was ‘n voorstel van ‘n waentjie gewees.

 

Vraag: Het die waens ook ysterwiele gehad?

OF: Ja, …

 

Vraag: Het hulle nie hierdie naaf en die houtwiele gehad nie?

TM: Ja, dit is die ysterwiele.

 

Vraag: So hy’t maar dieselfde manier as ‘n wa geloop?

OF: Ja, net dieselfde manier, net soos ek jou sê, jy’t nou net ‘n wa se voorstel gevat en daarvan het jy nou ‘n kar gemaak.

 

Vraag: En was daar ‘n sitplekkie voorop en ‘n wakis?

OF: Dan maak jy ‘n sitplekkie daar op. Ons twee het baie met ‘n ossekar gery, en dis ook maar net  dieselfde gewees, ‘n wa, ‘n skotskar, ‘n oskar, ‘n skotskar wat hulle sê. Het jy al ‘n skotskar gesien.

 

Vraag  Nee, ek weet maar net daarvan.

TM: Het ook net twee wiele … die wiele was in die middel van die kar. As jy nou die goed uitgespan het, dan lê hy plat jy weet, dan moet jy hom optel.

Vraag: O, hy’t ‘n disselboom gehad?

TM: Ja, as hulle uitspan voor, dan tiep jy agter!

 

Vraag: Dan moet die mense eers afklim voor jy kan uitspan en klaarmaak!

TM: Soos eenslag kom ons daar van Maun af hiernatoe, van Tsau af, toe hardloop die trop bees weg, en ek en Annie is in die kar. Sy was toe klein, omtrent twee maande oud, ons twee, en daai osse hardloop saam met die trop beeste …

 

Vraag: En wie het die leisels?

TM: Niemand nie, net ons twee op die kar tot hulle eendag die bees keer, toe stop hulle. Die kar het gelukkig nie omgeval nie … ek het net vir Annie vasgeklou …

Vraag: Nou het hulle nie deur gate gehardloop nie?

OF: Nee, gelukkig nie.

Vraag: Het mens spesiale roepe gehad wat jy met die donkies gepraat het, of hoe’t mens gewerk met hulle as mens nou wegtrek?

TM: Hulle’t almal name gehad.

OF: Jy het nou sekere manier, jy weet, wat jy met ‘n span osse of donkies as jy nou drywe en so aan.

 

Vraag: Nou hoe was die manier?

OF: Ag, dit kan ek jou nie vertel nie.

 

Vraag: As jy nou weggetrek het, watter woord het jy gesê?

OF: Ek weet nie, jy sê: “Dis klaar” of “Kom”, en hulle het gereageer daarop, jy weet.

 

Vraag: Elke man het sy eie manier gehad?

OF: Ja, elke man het maar sy eie manier van dryf ook gehad, daar was nie juis ‘n sekere manier nie.

 

Vraag: Wat het Oom Fanie altyd gesê as hulle moet stop?

OF: Ag, jy sê seker:  “So nou” of  “Ho” of soiets!

Vraag: Kan Oom Fanie dalk van hulle name onthou?

OF: Jong, donkies is gewoonlik Swartland, Vaaltyn, Domkrag en Kolbooi en so aan. Dis natuurlik heeltemal verskillend by ossename, jy weet.

 

Vraag: Wat is die osse se name gewoonlik?

OF: Osse se name sal ek sê, hulle’s vreeslik baie lief gewees om te sê Smalberg, Hoogmoed en Jongbloed en daardie klas …

 

Vraag: Sê nog ‘n paar name, kan Tannie-hulle nog dink?

OF: Dan het jy ook die naam van Domkrag baie by osse gekry.

 

Vraag: Domkrag? Hy wat kan lig! Seker die agteros se naam?

OF: Ja, gewoonlik die agteros.

Vraag: Hoeveel osse het die mense hier in Ghanzi in ‘n span gehad?

OF: Hulle was eintlik, ‘n span hier in Ghanzi was nie minder as veertien nie.

 

Vraag: Het mens in die swaar sandwêreld meer nodig gehad?

OF: Ja, jy konnie met minder as veertien gewerk het nie, soos ek jou sê, ‘n drie-ton, jy weet.

Vraag: Het mens die osse met ander woorde aangedryf as die donkies?

OF: Ja, heeltemal.

 

Vraag: Ek weet dis nou moeilik, want mens moet in die ding wees.

OF: Ja, jy moet eintlik besig wees daarmee. Jy praat ook baie met jou sweep, jy weet, sodra as jy dryf is dit altyd asof jou sweep jou help as jy dryf.

 

Vraag: So jy’t hom maar altyd  hier bo by jou?

OF: Ja, jy gebruik hom maar altyd om mee te praat.

TM: Maar jy weet, as jy nie kan dryf nie dan bly staan jy met die beste span osse wat daar is!

OF: Ja, en nie net dit dat jy nie kan dryf nie, jy weet dat die osse voel sommer uit, hulle kom sommer dadelik agter hierdie persoon hy is nie ‘n regte drywer nie!

Vraag: Nou was daar van die Ghanzi mense wat nou nie kon dryf  byvoorbeeld nie?

OF: Eintlik sal ek jou sê ja, daar is gewees wat, jy weet, miskien met ‘n ligte wa en so aan, maar met ‘n swaar wa kon hulle nie.  Sy sal jou eintlik beter kan vertel van wat eendag in die Kamp se gang gebeur het. Hulle het bly staan met ‘n span osse sommerso …

TM: Die beste span osse wat hulle gehad het, ry ons mee …

 

Vraag: Wie s’n was dit toe?

TM: Vriend Roos, hy leen toe vir ons die wa en osse om nou ‘n trek te gaan haal vir Ant Martjie, die Vickerman se ma daar oorkant en ons bly staan … en ons het gebly staan van die môre af tot daai aand met daai osse, ons kom nie weg nie. Ons het naderhand die goed afgelaai … die goed weer moes oplaai … om deur te kom by daai sandbult daar by die Kamp!

 

Vraag: Nou wie het gedryf toe?

TM: Een van my Ooms, maar hy was nog sommer ‘n seun gewees.

 

Vraag: En wie kom help toe vir Tannie-hulle?

TM: Nee, ons het maar so gesukkel tot ons eendag uitgekom het! Laai ons maar die goed af, dan gaan laai ons hulle weer vorentoe op. Dit was gelukkig net die een bult.

 

Vraag: Dan lag die ander mense hulle seker morsdood?

OF: Ag hulle weet, hulle het die ondervinding daarvan nie, dit kan maklik gebeur.

 

Vraag: So dit was nie eintlik ‘n vreeslike uitsonderlike ding gewees nie?

OF: Nee, nee, gladnie.

Vraag: Nou hoe is dit dan moontlik dat mens nou nie kan dryf nie, en mens moet leer dryf, al is daar nie ‘n spesifieke manier wat hulle jou kan vertel nie, moet mens dit nou maar sommer so aanvoel?

OF: Mens moet sommer so self aanleer.

 

Vraag: Van kleinsaf?

OF: Ja.

 

Vraag  Het jou pa jou dit gewoonlik geleer?

OF: Dis nie dat jou pa jou dit geleer het nie, jy het maar self as jou pa transport gery het en jy saamgegaan het geleer hoe om te dryf.   Daar’s baie maniere daaraan,die groot ding is jou sweep …

TM: Jy moet eintlik ‘n groot bek hê!

OF: … jy moet ‘n groot bek hê, en jy moet baie liggies met jou sweep kan slaan, vinnig met jou sweep wees. Ek sal jou sê, hier is nie vandag meer een nie, maar as jy vandag ‘n regte osdrywer kan sien met ‘n sweep en ‘n span osse, sal jy jou verbaas. Jy weet selfs met daardie sweep en alles, jy kannie dink dat ‘n mens so handig kan wees met daai lang sweep as so ‘n persoon is nie.  As hy so langs die osse verbygaan, slaat hy elkeen net waar hy wil, met die voorslag, en dis ‘n lang sweep.

Vraag: Oom Fanie-hulle het die swepe ook almal self gemaak, né?

OF: Ja, ‘n lekker sweep is eintlik ‘n kameelsweep, dit moet van kameelleer wees. Hy is nie sponsig nie, hy bly glad. Hy kan ook lekker deur die lug fluit, jy weet, so ‘n mooi klank gewees.

 

Vraag: En hoe’t mens hom gemaak?

OF: Jy sny hom, ek sal jou sê op sy dikste plek is hy omtrent soos my vinger. Dan word hy nou al hoe kleiner vorentoe gesny, dunner vorentoe en agtertoe ook gesny. In die middel is hy die dikste.

 

Vraag: Dit was seker ‘n groot kuns om so ‘n sweep te sny?

OF: Dit is ‘n groot kuns om so ‘n sweep te sny, jy sal nie vandag meer een kry wat dit kan doen nie.

 

Vraag: Het mens die riem gespan of het jy maar sommer so met jou hand gesit terwyl jy sny?

OF: Nee, jy span die riem as jy hom sny. Soos ek sê, die een punt maak jy vas, dan sny jy hom. Vroëer jare het hulle baie seekoeisambokke gesny, die het hulle ook gespan eintlik net wanneer jy hom rek … uitvat. As jy nou klaar het daarmee, dan het jy hom ook maar aan die een punt vasgemaak en dan die vel gesny.

 

Vraag: Was daar verskille tussen die donkieswepe en die osswepe?

OF: Ja, ‘n donkiesweep is eintlik ‘n makos, selde dat jy ‘n sweep gebruik. ‘n Makos is sommer so ‘n stuk riem aan ‘n stok.

Vraag: Sommer enige stok en enige riem?

OF: Ja.

 

Vraag: En hoe lank was die ding, Oom Fanie?

OF: Ag hy’s eintlik kort. Gewoonweg gebruik jy maar ‘n riem omtrent so van drie voet.

Vraag: Kan Oom Fanie dalk dink waar kom die naam makos vandaan?

OF: Nee, ek weet nie, ontstaan dit nie maar omdat ‘n makos sal ek maar sê eintlik nie ‘n punt het nie, omdat dit maar sommer ‘n stomp riem is?

 

Vraag: Beteken makos iets?

OF: Ja, as iemand vir jou sê makos, dan weet jy sommer hoe lyk hy, dan weet jy dis sommer ‘n stuk riem aan ‘n stok.

Vraag: En die ander ossweep, hoe lank was hy nou weer?

OF: Hy sal ongeveer so ‘n vyftien na twintig voet toe wees.

 

Vraag: Nou kon hy die voorste osse bykom?

OF: Nee, jy sal hom nie bykom hier van die wa af nie. Jy sal moet afklim om hulle by te kom.   En dan kry jy ook nog verskillende lengtes van swepe, die een kan ‘n langer sweep hanteer as ‘n ander een. ‘n Ander kan nie so ‘n lang sweep hanteer nie. Vroeër het hulle baie bamboesstokke gebruik jy weet, as sweepstokke nou, weet nie of jy al ‘n bamboesstok gesien het nie? Hy lyk soos ‘n riet. Daarvan het hulle altyd gebruik as sweepstokke. En as jy dit nie gehad het nie, het jy maar gewoonweg ‘n wag-‘n-bietjie-stok gekap. Jy het nie ‘n ander stok gekry as ‘n wag-‘n-bietjie-sweepstok nie.

 

Vraag: Hoekom ‘n bamboesstok, omdat hy lig is?

OF: Ja, hy is lig, en hy het ‘n beweegkrag in hom. Hy staan nie styf as jy slaan nie, hy beweeg, soos die sweep beweeg, so beweeg hy ook.

 

Vraag: En die wag-‘n-bietjie ook?

OF: Die wag-‘n-bietjie ook.

 

* * * * * * * * * * * * * * * * * * * *

 

OF: Ek het baie saam met my oorlede pa transport gery Gobabis-toe. Een skoot het hy taamlik transport van Windhoek na Gobabis-toe ook gery. En daar anderkant Gobabis, daar’t die de Jagers gebly, ‘n ou vriend van hom.

 

Vraag: Anderkant Gobabis nou?

OF: Ja, hulle het daar na aan Omitara gebly. Ek het eenslag saam met hulle gegaan, toe’t my pa ‘n donkiewa gehad, hy’t twee Boesmans gehad. Die ou De Jager het twee seuns gehad, hulle’t elkeen ‘n wa gehad, en dan het hulle nog ‘n wa gehad, die het hulle vir my gegee om te dryf. Toe was ek veertien jaar oud gewees. En ons drie, soos ek jou sê, daai drie waens, onder ons het ons een Swarte gehad, en dit was maar net om die osse op te pas, as hulle uitgespan is. Ons het nie ‘n touleier gehad of niks nie, ons drie jy weet, so as ons klaar ingespan is, het ek en hulle maar so oor die weg gekom.

 

Vraag: Hoelank het dit geneem, die transportryery?

OF: Nie so baie lank nie, ek sal jou sê daai trip het natuurlik nie baie lank geduur nie, ek dink ons was bietjie meer as twee weke op die pad gewees. Want ons is toe van Omitara af Omaruru-toe en daar het ons vragte gelaai, en toe weer Gobabis-toe. Hoe hulle teruggegaan het met die wa kan ek nie vir jou vertel nie, maar ek het toe daar in Gobabis agtergebly, toe’s ek saam met my oorlede pa terug. Hulle twee is toe alleen terug met die drie waens.

 

Vraag: Was dit vir winkels goed aanry?

OF: Ja, vir die winkels … ek sal jou sê transport was vroeër van Windhoek af gewees voordat daar ‘n trein na Gobabis-toe was.

Vraag: Was daar baie mense wat dit toe nou gedoen het?

OF: Heelwat van ons het transport daar gery, maar ons het met donkiewaens gery.

 

Vraag: Het Oom Fanie-hulle nou van hier af soontoe gegaan? Of het Oom-hulle toe daar gebly?

OF: Nee, ons het soontoe gegaan.

 

Vraag: Nou omdat die geld hier min was dan gaan soek Oom se pa-hulle daar?

OF: Ja, dan gaan soek ons daar transport.

 

Vraag: Het baie van die mense daar in Suidwes gaan werk soek?

OF: Ek weet nie, ek glo nie baie nie, ek weet net van ons wat daar transport gery het. Dan het ons natuurlik ook altyd ‘n vrag deurgebring Ghanzies-toe. Dit was altyd ek wat moes ry en dit was maar meer vir die Regering gewees.

 

Vraag: Oom se pa was nou Oom Chrisjan Lewis, nê?

OF: Nee, Oom Louw hy was Joey gewees, hy was in die middel gewees, hy was die oudste van die kinders.

Vraag: En na hom was?

OF: Was dit oorlede Oom Chrisjan.

 

Vraag: Hoeveel kinders was hulle?

OF: Hulle was … ek het net vier geken. Dit was my pa, oorlede Oom Chrisjan, oorlede Oom Piet en oorlede Oom John. Twee van hulle is hier dood, hulle grafte is op Khoutsa. Hulle is nie lank nadat hulle in die land gekom het nie oorlede.

Vraag: Dit was nou hulle pa, dit was nou Oom Fanie se oupa wat eerste in die land gekom het?

OF: Ja, met ‘n klompie seuns.

 

Vraag: En hy was nou die legendariese Oom Chrisjan Lewis wat so baie leeus geskiet het?

OF: Nee, hy was die ou Chrisjan Lewis.

 

Vraag: O, was daar drie?

OF: Ja, dit was die klein Chrisjan wat baie leeus geskiet het.

 

Vraag: Hy was getroud met wie, Oom Fanie?

OF: Hy was getroud met tant Lenie Drotsky. Sy seun het ons altyd genoem klein Chrisjan, dit was die leeujagter wat ek van gepraat het.

 

Vraag: Nou maar het hy ander seuns ook gehad?

OF: Nee, net die een.

Tant Maria Lewis: Die klein Chrisjan was dus sy neef gewees.

 

Vraag: Nou wie het eerste in die land ingekom van die Lewiese?

TM: Hulle oupa.

 

Vraag: Nou wie was hy dan?

OF: Hy was ou Chrisjan gewees. Die Chrisjans algar aard maar na die ou Chrisjan wat hier ingekom het, in die land in.

TM: Hulle was almal beneuk!

 

Vraag: Nou die oom Chrisjan wat Oom Fanie nou sê wat die Regering van die land was, hoekom, was hy ‘n groot gesagsfiguur, of was hy kwaai, of was hy ‘n leier gewees?

OF: Hy was eintlik ‘n kwaai man gewees, maar hy was ook ‘n leier gewees.

TM: Hy was eintlik ‘n slim man … almal het maar vir hom geluister.

OF: Hy was nie geleerd gewees nie, maar hy was baie slim.

TM: Almal het by hom raad gevra en so aan, en hy het maar altyd gesê wat hulle moet doen … baie raad gegee vir almal.

OF: Maar tog moet ek jou sê, hy was ‘n baie goeie mens gewees die selle tyd.

 

Vraag: En sy vrou was blykbaar ook ‘n wonderlike mens?

OF: Ja, baie saggeaard.

 

Vraag: Ken Oom Fanie bietjie storietjies van hom?

OF: Jy kon maar altyd as jy ‘n bietjie moeilikheid het, maak nie saak in watter moeilikheid jy betrokke is nie kon jy na hom toe gegaan het vir raad.

 

Vraag: Al is jy nou nie familie of enigiets nie?

OF: Ja, enigeen kon na hom toe gegaan het. Waar hy jou kon gehelp het, sou hy jou altyd ook gehelp het. Hy was ‘n liewe ou mens gewees, maar hy was baie kwaai.

 

* * * * * * * * * * * * * * * * * * * * 

 

OF: Kyk, my oorlede ma is vergewe.

 

Vraag: Ek het nie geweet nie.

OF: Ja, sy is op ‘n Kersfees dood.

Oom Kassie van Heerden: Ja.

 

Vraag: Nou hoe dan, Oom Fanie?

OF: Kyk, dis so bietjie, daar was ‘n Boesmantjie wat in die huis gewerk het en die Boesmantjie van haar het iets gesteel, en sy’t die Boesmantjie pak gegee. En met Kersfees het sy koek gebak, ek onthou dit nog goed, toe gee sy die middag vir die kinders koek en tee. Terwyl sy nou die koffie geskink het moes die Boesmantjie dit nou so reggekry het om die koperpoeier in haar koffie in te gooi. Hoe sy dit reggekry het weet ek nie, maar sy het toe daai koppie gekry wat die koperpoeier in het.

 

Vraag: En toe het sy nou dadelik begin siek word?

OF: Ja.

OK: Hy’s redelik vinnig.

 

Vraag: Nou hoe het hulle toe agterna agtergekom wat was die storie?

OF: Die ou Marnewijks, voor hulle uitgetrek het, het hier op Ghanzies in die Kamp gebly.

 

Vraag: Die Oom Jannie wat daar op Buhrmansdrif bly?

OF: Nee, sy pa. En een van daardie meisiekinders het dit gehoor, uitgevind waaraan is sy dood. Nou hulle kon dit self uitgevind het, hoekom hulle so toe gewees het, weet ek nie, want daardie nag toe sy sterf het al die Boesmans weggeloop, daar’t nie een gebly nie.

Vraag: Wat was haar naam gewees?

OF: Sy was Gerrie, sy was ‘n du Plessis gewees.

 

Vraag: Was hulle van die mense wat 1926 Angola toe is en toe terug gekom het of was hulle net familie?

OF: Nee, familie van hulle ja, dit was die ou tannie du Plessis se suster gewees.

TM: Kassie se ouma.

OK:  Was dit nie my oorlede oupa se suster nie?

OF: Ja, dit was sy suster. Sy was ou Tant Miemie se suster gewees.

OK: Ja, kyk oorlede oupa Van Staden, en my oorlede ouma Du Plessis …

OF: O, was sy ‘n van Staden gewees …

OK: Hulle was broer en suster gewees.

OF: Ja, sy was ‘n nooi van Staden.

 

Vraag: En hulle was van die mense wat met die eerste trek gekom het in 1897?  Oom Bennie het vertel daar was twee trekke, die eerste een waarmee hulle gekom het en toe weer gegaan het. Hier in 1905 rond, toe kom hulle mos weer terug. Was dit hulle? Ek weet van Van Staden en Du Plessies.

OK: Dit was voor ons tyd gewees.

OF: … ja, maar hulle het algar uitgetrek, al die boere wat daardie jare ingekom het, het algar uitgetrek, behalwe die Taljaards.

OK: Behalwe die Taljaards, hulle het hier gebly. En terwyl hulle teruggetrek het, dis nou eintlik om die hele trek te gaan haal, toe breek die runderpes uit terwyl hulle daar op Buhrmansdrif rond gewees het. Toe gaan al hulle osse dood en moes hulle nou eers daar spartel en werk en tekere gaan om weer trekgoed te kry.

Vraag  Foeitog, en hoelank vat dit toe nou? Seker ‘n hele paar jaar of wat? Maar daar was toe nog nie ‘n grens nie?

OF: Nee, daar was nie soiets gewees nie. Nou die wat Kassie jou nou vertel, die het ek nie veel kennis van nie. Hulle was hiervandaan deur Angola toe. Hulle wou Angola toe trek, maar het nie daar uitgekom nie. Hulle het in Windhoek uitgekom en daar het hulle vir ‘n paar jare gebly.

OK: Dis maar wat ek ook gehoor het by die oumense.

OF: Wat ek goed van weet is dat Kassie se een Oom is daar dood, vermoor deur die Damaras.

 

Vraag: Wie was hy?

OK: My oorlede Oom Hans van Heerden, my oorlede pa se broer.

OF: En wat ek daarvan weet is ook maar wat ek gehoor het … dat hulle daar so ‘n tyd gebly het en toe het Rhodes hulle gelaat kom.

 

Vraag: Nou van Windhoek af?

OF: Van Windhoek af. Hy het die plase hier uitgedeel vir die mense. En nou wil hulle eintlik voorgee hy het dit gedoen om Ghanzies te beskerm teen die Duitsers.

Vraag: Nou dink Oom Fanie dit is waar dat dit die die rede was?

OF: Ek weet nie, ek was nog ‘n kind gewees, ek was seker so vier jaar oud gewees …

OK: Gedeeltelik was dit seker waar.

OF: … toe’t die Duitse aanslag gekom. Ek was ‘n klein kindjie gewees, toe was hierdie Ghanzikamp wat nou hier is daar anderkant by ‘n plek wat hulle genoem het, Kwaganari. Toe het die Duitsers gekom en die kantore en goed aan die brand gesteek.

 

Vraag: Nou hoe vêr was Kwaganari nou van vandag se Kamp af gewees?

OK: Dit is omtrent 17 myl …

Vraag: Nou bly daar nog mense daar, of is dit nou nie meer bewoon nie?

OK: Oorlede Oom Piet Wiese, hy’t daar gebly, en dit is, jy weet tog seker waar die Ramdens gebly het?

OF: Nou, dis net so ‘n klein entjie van hulle af, langs die ou Kamp wat daar gewees het.

Lettie van Heerden: Die murasies staan nog daarso.

OK: Ja, gedeeltes van daai ou murasies van die rondawels wat afgebrand het staan nog daar!

 

Vraag: Nou wonder ek watter jare sou dit nou gewees het, so by 1900?

OF: Ek dink ek was vier, dit moes in 1914 gewees het.

 

Vraag: So met die oorlogtyd rond, want Suidwes was mos ook betrokke.

OK: Dis toe wat die Damaras so van Suidwes af deurgevlug het hier na Ngamiland.

 

Vraag: Vir die Duitsers?

OK: Ja.

 

Vraag: Nou wie was eerste hier, die Tswanas of die Boesmans? Ek het van die Russells se boek verstaan, dat daar ‘n klomp Tswanas by Okwa was en dan nou nog hierdie ou Kaptein Moremi en so aan. En dan was hier in Ghanzidistrik net Boesmans, toe kom die Blankes nou hier in. Was dit nou so, of was daai tyd ook al Tswanas hier rond gewees?

OF: Willemien, daar kan ons jou seker baie meer reghelp. Dat hy praat van Okwa, maar Okwa was ‘n onbewoonde plek gewees. Hier was ‘n klompie Serolongs op Xarakubis?. Daar was ‘n klompie Damaras daar op die grens, om Makunda gewees. Dit was eintlik maar net ‘n Boesmanstreek gewees, hier was geen Swartes gewees nie.

 

Vraag: Ek het gewonder toe hy van Okwa praat, want dit lyk mos ook nie vandag of daar ooit iemand regtig gebly het nie.

OK: Okwa is baie lank na daarna eers begint.

OF: Ja, baie lank

Onderhoud van Willemien le Roux met oom Fanie & tant Maria Lewis asook oom Kassie & tant Lettie van Heerden.

(Band G I) (Band H I)

OOM FANIE & TANT MARIA LEWIS, 

OOM KASSIE & TANT LETTIE VAN HEERDEN.

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page