Dirk Jacobus Jerling
5 Desember 1924-12 Julie 2003
“Omdat daar NIKS was nie”.
Dirk (of Jalla) Jacobus Jerling het in 1967 ingetrek in Ghanzi, vergesel van sy vrou Laurika (Pollie) Jerling (née du Toit) en hulle vyf kinders Willemien, Nelie, Annatjie, Linda en Drikkie (Hendrik). Dit was veral vir die oudstes (Willemien was toe 14) en vir hulle Ma nie ‘n maklike skuif nie, want hulle het ‘n pragtige bergplaas in die Trichardtspoort in die ou Transvaal moes opgee om op Dekar, die ou sendingstasie van die Aranos Gereformeerde Kerk van Namibië te kom woon, sonder enige inkomste of sekuriteit. Die ooreenkoms met die kerk was dat hy sy eie inkomste sou kom bewerk daaruit om sy beeste te laat wei saam met die beeste van die klein Boesmangemeente wat toe reeds vanuit die werk van Moruti Rampa ontstaan het, terwyl hy toesig hou oor die Kerk se plaas en geboue. Die wat Dekar toe en nou geken het, kan natuurlik weet dat dit geen maklike taak was nie en 3,000 ha in die Kalahari was nie 3,000 ha in waterryke Transvaal se Middelveld nie! Sommer gou moes Pollie dus begin om vetkoek, bokvleis en gemmerbier te verkoop aan verbygangers om die gesin aan die lewe te hou, totdat Dirk huurgrond gekry het en kon begin uitbrei aan sy boerdery. Die kinders moes ook aansluit by die ander wat in Gobabis of Ernst Meyer op kosskool was. Om skielik, as jy gewoond was om jou ouers elke dag by jou te kon hê skielik net elke drie maande huis toe te kan gaan en dit agterop ‘n trok van Gobabis melkery af, was vir die kinders redelik traumaties. Maar Dirk en Pollie was ouers wat geglo het mens doen wat jy moet en jy pas aan. Later jare, toe die kinders hom uitvra oor die rede vir hierdie drastiese skuif en hoekom hy juis na Dekar (vandag D’Kar) wou kom, was sy ironiese antwoord: “Omdat daar niks was nie.”
Aartspionier was hy dus… gebaande weë was nie vir hom nie. Vandag onthou sy kinders en kleinkinders hom met liefde en bewondering, maar Oupa Jalla, erken almal, was “anders”. Sy gunstelingliedjie, sy kenwysie, was Bing Crosby se “Don’t fence me in”. Die ongerepte, vrye lewe van die Ghanzi distrik het dus reg in sy smaak geval. Hy was gou bekend en ook geliefd onder baie van die Ghanzi mense, wat maar wantrouig was oor vreemdelinge. Maar Dirk was joviaal en charismaties, vreesloos en vol humor, dus is die gesin vinnig aanvaar, veral onder die Gereformeerdes, wat Sondae op D’Kar op die ou huis se agterstoep kom kerk hou het. Die saamtrek hier is egter skielik gestop deur die regering omdat daar reeds ook ‘n ander (San) Gereformeerde kerk op dieselfde plek saamgekom het. Om die dilemma van taal- en kultuurverskille te akkommodeer het die wit Gereformeerdes toe by Gobabis aangesluit en begin huisdienste hou. Ook hier het hulle baie van Dirk Jerling se gawes gebruik gemaak om die leesdienste te kom hou.
Wie was hierdie enigmatiese man? Gebore in Springs, 5 Desember 1924, die tweedejongste van 6 kinders van Hendrik Diederik Lodewyk en Maria Cornelia (née Coetzee) Jerling. Sy ouers was eenvoudige mense, sy Oer-oupagrootjie Jan Jacob Jerling het in 1775 uit Noordwes-Europa (deesdae Belarus) gekom om die destydse Knysna boskappers se hout te stoor voordat dit vanuit Plettenbergbaai verskeep word. Baie van sy nasate het dus ook boskappers geword. Hendrik Jerling, Dirk se Pa, was van Knysna maar het op die Witwatersrand se myne en later die spoorweë gewerk en sy Ma, soos so baie van die Afrikanertantes van daardie tyd, was ’n Konsentrasiekampkind wat geweet het van perskes droog, brood en beskuitbak, hoenders aangehou en het hul plot en haar kinders ses kinders versorg. Dirk was ‘n gouelepel-in-die-mond seun, hy was aantreklik en sportief, kon baie mooi sing en het goed gedoen op skool. Maar geld vir studie was daar nie, daarom is die oudste broer, Piet, uit die skool gehaal in Standerd 8 maar Dirk is aangemoedig om “te gaan leer”. Later jare sou die familie besef, Piet was eintlik die ware student, want Dirk was wel intelligent genoeg, maar te rusteloos van geaardheid om by sy studies te bly.
En te onafhanklik van gees! Sy eerste twee jaar op die P.U. vir C.H.O word later deur vriende as besonder suksesvol beskryf, hy was sommer gou in die Eerste Rugbyspan, gewilde pretmaker en geroem vir die merk wat hy in die studentelewe gemaak het. Hy was saam met vele later beroemde manne in Gatland koshuis, mense wat steeds staaltjies vertel het oor sy waaghalsige streke en poetse, dinge wat hyself later as “net stories” afgemaak het. Vele mense het vertel van die pragtige stem wat meisies tydens middernagserenades lam in die knieë gehad het, maar volgens hom het hy van die begin af net oë gehad vir die blonde Pollie (Laurika) du Toit, dogter van die Kanselier van die Universiteit en afstammeling van die stigter van die Teologiese Skool waaruit die PUK ontstaan het. Bloubloed op die PUK was sy dus en het ingewoon by die befaamde filosoof Prof. Wicus du Plessis. Die jonge Jalla met die blonde kuif het vir haár gegaan, vreesloos soos altyd. En Pollie het geswig voor sy sjarme, sy het later erken dat sy ongebondenheid en avontuurlus so’n sterk kontras gevorm het met haar vertroude, voorspelbare bestaan en die gevestigde verwagtinge van haar gesiene familie, dat sy gehoop het op ‘n lewe van avontuur en ontdekking saam met die interessante man! Haar familie was nie baie in hul skik met haar keuse nie en dit het Dirk baie teen die bors gestuit toe hy later moes verneem dat sy skoonpa selfs sy EdLab kaarte van die skool in Springs aangevra het om vas te stel of hy darem intelligent genoeg was vir hulle dogter!
Maar was Pollie voorbereid op die rusteloosheid en onvoorspelbaarheid van sy ideale en sy impulsiewe durf? Was sy bloot rebels of verblind deur so ’n verterende liefde dat sy bereid was om haar eie sukses op te gee en die teenkanting van haar familie te verduur? Want, voor die einde van sy tweedejaar was Dirk klaar met die akademie. Hy was ingeskryf as tokkelok, wou graag predikant word, maar toe hy die gebondenheid sien van die spore waarop hy sou moes loop, eers deur al die klassieke tale en daarna, soos hy dit gestel het, die blote teruggee van die kennis van die Professore inplaas van ruimte vir kritiese denke, het hy ‘n gat gegrawe voor Gatland en seremoniëel sy boeke daarin gegooi en begrawe. Toe het hy ‘n tros piesangs gekoop en op die trein geklim Zambië toe, drie dae se reis om by sy swaer en suster op die myne in Luanshya in Zambië te gaan aansluit. Hy het klaar besluit, boerdery was sy passie en om daarvoor geld te kry moes hy iewers begin werk.
Ons sal die verhaal van Pollie se kant af apart vertel, want hiermee fokus ons op die lewe van Dirk Jerling, maar retrospektief sou enigeen verwonderd wees oor soveel impulsiwiteit. Roekeloos kon Dirk nooit genoem word nie, want hy was ook sterk verantwoordelik en baie gelowig en tot met sy dood vas oortuig van die gereformeerde leer. Maar dat hy ‘n dwars nuk en ‘n vryheidsdrang gehad wat hom dikwels sterk outoritêre besluite laat neem het, kan nie betwyfel word nie. Wie aan hom verbonde was, moes maar net aanpas en saamgaan of agterbly. Pollie moes besluit wat sy doen en uiteraard het sy maar eers haar graad klaargemaak (cum laude) en toe gaan werk totdat sy haar ouers sover gekry het om te aanvaar dat sy by hom gaan aansluit in Zambië en dat daar geen konvensionele troue vir hul mooi dogter sou wees nie. Tot hul eer het die Du Toits toe maar kaartjies laat druk om die huwelik van hul oudste dogter met Dirk Jerling in Zambië aan te kondig en haar gehelp om saam met hul vriend, die destydse Minister Erik Louw, te kon vlieg Zambië toe. Hy het haar net afgelaai, want hy was op pad na ‘n sending in ‘n ander Noordelike Afrikaland, dus was Pollie heeltemal alleen op die klein lughawetjie toe sy agterkom die held waarvoor sy haar hele lewe op die spel geplaas het, was nêrens te sien nie! Nou ja, sy was ook ‘n vrou van durf en omdraaikans was daar nie, dus is sy per taxi na die adres in die onbekende land en onbekende dorp in die Koperbelt, om uit te vind Jalla het die datum verkeerd gehad, hy was oorstelp van blydskap om haar te ontvang! (Later het sy haar kinders vertel wat die ware ontnugtering vir haar was - nie die misverstand en die eenvoud van die lewe op die myn nie, maar dat haar mooie held intussen sy bolip vermink het in ‘n fietsongeluk en dat hy die res van sy lewe die slegte lapwerk van die plaaslike kliniek op sy gesig sou dra! Hy was egter min gepla oor sy voorkoms, maar sy het erken dat dit haar nogal tyd gekos het om aan die nuwe gesig gewoond te raak!)
Hul troue was so onkonvensioneel soos hul lewe voor en daarna. Die predikant het die huweliksformulier gelees na die preek, soos ’n gewone sakrament in enige diens en die twee het as getroudes die kerkdiens uitgestap, geen spesiale klere of aankondigings nie. Gelukkig was Dirk se suster Susan darem al ouer en wyser en het skelmpies ‘n koek gebak (net een en nogal pienk versier) sodat hulle darem die oorblufte gemeente kon uitnooi vir tee.
Intussen het Pa Frans du Toit (wat sy kinders vir langer as 6 jaar nie gesien het nie omdat hy tydens die WWII in Engeland vasgevang was as finansiele attaché vir Suid-Afrikahuis in Londen), begin planne maak om die kinders te help om Dirk se droom te verwesenlik. ’n Aanbod as plaasbestuurder het gekom op Virginia, in die Vrystaat en die egpaar is terug Suid-Afrika toe. Voorspelbaar genoeg het dit nie lank geduur nie, want die jonge Dirk kon nie aanpas by die boer se strenge beheer oor alles op sy plaas nie (Pa Jalla het ’n hekel gehad aan ’n ge-toesluitery) en teen die tyd het Pa Frans ook al ‘n plaas gekoop in die Noorde van destydse Zoeloeland, naby Magudu. Op die plaas kon Dirk en Pollie toe begin boer, aanvanklik met sisal en binne korte tyd het Dirk ook die aangrensende plaas, Lot 26, gekoop en huis opgesit. Behalwe Willemien is die 3 ander dogters almal gebore by die sendingstasie se hospitaaltjie en Pa en Ma Jerling het ook by die gesin op die plaas kom bly, seker ‘n groot hulp vir die chroniese asmalyer Pollie, wat toe 4 kleintjies onder 8 jaar oud gehad het! Die vogtige Zoeloelandse klimaat (en waarskynlik al die opeenvolgende geboortes) het egter so’n tol geëis op sy vrou se gesondheid dat Dirk sy droom opgegee het en die hele gesin het vertrek na ‘n huurplasie naby Bethal, op die Hoëveld, waar uiteindelik die seun, Hendrik, gebore is. Twee jaar het hy probeer om hier rond grond te kry, totdat Pa Frans weereens die redder was en Pollie kon die mooi plaas Klipfontein erf by haar Pa. Die plaas was ingewig tussen die berge en klowe van die Trichardtspoort en die Wilgerivier op pad Loskopdam toe en die Jerlingkinders sou hul gelukkigste kinderjare-herinneringe hierom koester. Vrugteboorde, ‘n koel, Kaap-Hollandse huis, klowe en watervalle, ‘n dam en ‘n rivier met ‘n roeiboot op beide, dagskool en geborgenheid was wat die gesin moes opgee toe Dirk na 6 jaar hier besluit het om die roepstem van die vreemde te beantwoord, sy gesin agter in ‘n Dodge bakkie geprop het en besluit het om sy merk te gaan maak in Ghanzi, Botswana.
Een ding wat al sy kinders onthou, ten spyte van die trauma en die aanpassing, was dat mens nie lank kon kwaad bly vir hierdie charismatiese man nie. Arm was hulle, baie, maar hy kon dit regkry om altyd die positiewe uit te wys en mens te laat onthou wat werklik belangrik is. Dus het ons nooit arm gevoel nie! ‘n Calvinistiese Hippie, is hy al genoem, sy daaglikse huisgodsdiens was toegewyd en toeganklik en sy geloof so oortuig en ingewerk in sy lewe, hy kon sy kinders die ingewikkelde Ou Testamentstories laat begryp en toepas en geborge laat voel in Pa se geloof. Ook in sy praktiese geaardheid (hy kon alles regmaak met ‘n tang en bloudraad) en sy optimistiese vrolikheid. Romanties was hy, ons Pa. Hy kon met trane in sy oë opera luister, of ballades sing terwyl ons ry, en sport was sy en Ma Pollie se gedeelde liefde. Daar was nooit sprake dat die kortgolfradio’tjie nie op óf die nuus óf die rugby of tennis ingestel sou wees nie. Hy kon stories vertel en feite onthou soos min, hy was so belese en ingelig dat ons sprakeloos beïndruk was deur hoe gemaklik hy enige van die talle oorsese reisigers en navorsers wat altyd ons huis oorstroom het, oor enige onderwerp onder die son kon inlig. Hy het Ghanzi se biblioteek heeltemal leeg gelees en het onthou wat hy lees, soos die keer toe hy ‘n bakkie wat al drie dae lank vasgeval gesit het in die modder met staaldraad uit kon “winch” aan sy agterwiel, soos dit in “The Wages of Fear” van Georges Arnaud beskryf is. Hy het dikwels speels gedreig dat hy ook, soos Somerset Maugham se “The Moon and Sixpence” karakter in sy middeljare die pad sal vat om sy muse te volg, as ons hom nie toelaat om sy passies uit te leef nie! Hierdie wydbelesenheid het hom en Pollie ook gehelp om bevriend te raak met die Engelse deel van die Ghanzi gemeenskap. Dick en Hilda Eaton, byvoorbeeld en ook van die Distrikskommissarisse, soos Simon Gillet en George Silberbauer, het graag by die Jerlings aan huis gekom.
Ghanzi se mense, wit en bruin en swart, het Pa Dirk gefassineer en hy het hulle uniekheid en onopgesmukte opregtheid geniet en waardeer. Hy kon valsheid nie verduur nie en mense soos Oom Hugo Lemcke, Oom Kassie van Heerden, Oom Fanie Lewis, Corrie Bekker, Braam de Graaff, sy onmiddellike bure, was vir hom ware vriende en ‘n inspirasie vir sy pioniersgees. Hy het binne die tweede jaar van sy koms in Ghanzi die sendingwerk op Dekar moes oorneem en was opreg betrokke by die stryd om oorlewing van die Boesmans en het toegewyd sy kerk en katkisasiewerk volgehou. Die D’Kar Primary School het gegroei uit sy en Pollie se ywer, want hulle het hul bemoei met die siek en verswakte San kinders wat moes stry teen Tuberkulose en verhongering, nadat soveel van hulle ouers hul staanplek op die plase verloor het en oorgespoel het na Dekar toe vir ‘n tuiste. Pollie se kombuis het elke dag rye mense gevoed wat nie ‘n ander heenkome gehad het nie en hulle het die leerlooiery, die naaldwerkgroep, die eerste kleuterskool en ook die leerwerkswinkel, wat later onder die Kuru projekte geval het, begin. Heelwat mense getuig vandag nog van hoe sy geestelike werk in die Sondagskool en die kerk hulle lewens beïnvloed het en in ’n stadium het hy selfs help skoolhou in D’Kar Primary, voor die regering deur Aranos kerk gevra is om die skool oor te neem. Die besorgdheid oor die situasie van die Boesmans het hom ook sover gebring om self in die CKGR te gaan onderhandel met die (toe nog) velgeklede ouers, om hom toe te laat om hul kinders na ‘n kosskool onder sorg van die kerk te bring. Hy het met sy eie ou bakkie die eerste kindertjies, ook nog in hulle velklere, gebring na die nuwe koshuis gebou deur studente van Witwatersrand en ook Potchefstroom. Dit was ‘n deurbraak in die geskiedenis van Botswana want daar was nog nie ander kosskole nie en die regering het gou gesien dat hierdie die enigste manier is om geletterdheid oor die bevolking heen te versprei.
In 1971 moes sy oudste kinders begin studeer en Dirk en Pollie Jerling het geen ander opsie gehad as om te begin skoolhou in Gobabis nie, sodat hulle die Universiteitsgeld kon bekostig. Hier was hy op ’n stadium beskryf as die mees gewilde onderwyser wat Wennie du Plessis ooit gehad het. Hy het ‘n orkes begin en rugby sowel as hokkie afgerig en dis veral gedurende hierdie jare dat hy die meeste van sy gedigte geskryf het, versies vir een en almal wat hy vrygewig uitgedeel het. Maar sy ongepubliseerde gedigte het ook soms ‘n skrefie lig gewerp op die onsekerhede en vrese in sy binnekant, wat mens andersins so moeilik sou kon raai. Om te kon skoolhou moes hy egter ‘n Graad hê en uiteindelik moes hy tog maar weer die boeke opneem.Hy het sy B.A. Graad deur UNISA dieselfde jaar as sy oudste dogter behaal. Vir drie jaar het hulle skoolgehou en vakansies gependel tussen Gobabis en Ghanzi, om hul beesboerdery ook aan die gang te hou sodat almal geleerd kon kom. Vakansietye het hy ook nog tussendeur, drie dae per week, op D’Kar gesorg dat dinge nie verval nie en die sendingwerk aanhou begelei tot 1978, toe die gemeente onafhanklik verklaar is en Aranos namens die San ‘n voltydse predikant begin beroep het. Nadat Dirk en Pollie weer permanent terug is Ghanzi toe het hulle egter tot en met 1981 die D’Kargemeente nog bygestaan totdat hulle skoonseun en oudste dogter, Braam en Willemien le Roux in 1982 eindelik voltyds daar begin werk het.
Gedurende hierdie jare het Dirk uiteindelik ook sy eie stuk grond bekom, hy het intussen burgerskap van die land aanvaar en het gekwalifiseer vir een van die nuwe plase wat grens aan die Sentrale Kalahari Wildtuin. Daar was egter nog nie geld vir veel ontwikkeling nie, dus het hulle kleinskalig aangegaan soos wat hulle kon bees verkoop om elke keer (nog ‘n droë) boorgat te laat boor. Na 28 mislukte pogings het hulle ‘n servituut verkry van hul skoonseun Willie de Graaff, langsaan, waardeur hulle uiteindelik genoeg water kon aanlê om te begin boer. Hierdie fase van hulle lewe het meer as 10 jaar geduur, waartydens hulle geen huis kon bou nie en soos die oorspronklike pioniers in die oopte moes slaap en op ’n oop vuur moes kook. ‘n Gras afdak het skuilte verskaf teen reën en ’n klein karavaantjie was die stoorplek. Omdat hy egter respek gehad het vir sy geliefde se narvorsende skrywersiel, het hy vir Pollie ‘n studeerkamer gebou en ‘n gastekamer. Winter en somer onder die afdak het hulle allerhande dinge beleef, soos om in hulle bed aangeval te word deur ’n hondsdol jakkals, olifante te sien deurbeweeg en dikwels leeuspore om die werf gesien. Hulle het met baie min klaargekom en naderhand was eenvoudig lewe vir hulle nie net ‘n noodsaak nie, maar ook ‘n lewensdeug. Steeds het Dirk elke aand gaan huisgodsdiens hou by sy groepie werkers se huise en weereens ‘n klein skooltjie begin om die klein Boesmantjies wat so vroeg van hulle ouers af weggeneem moes word om skool te gaan, kans te gee om ‘n bietjie ouer te word. Dirk en Pollie het steeds lidmate gebly van die D’Kar Reformed Church en ten minste eenmaal per maand het hulle met hul medelidmate uit die werkersgroepie saam kerk toe gekom, sommer die hospitaal, bank, winkel en kerk in een besoek ingesluit en ook die kleinkinders gegroet voor hulle weer terug is na hulle lewe van afsondering.
Toe hul seun Hendrik sy ambag klaargemaak het en getroud is met Beccy Homan, het hy aangedui dat hy ook eendag sou wou boer en dit was die geleentheid vir Dirk en Pollie om uiteindelik die beesboerdery te oorhandig en hul laaste jare te wy aan Dirk se eintlike liefhebbery, groenteboerdery. Met behulp van die regering se F.A.P (Financial Assistance Plan) skema kon hulle ‘n stukkie grond by Samochima bekom en die kapitale uitleg aanpak asook die eerste jaar se arbeid bekostig om ‘n 10 ha groenteplaas aan te lê. Hier het ‘n stryd van ‘n ander aard ontwikkel teen die elemente en vir die laaste 10 jaar van sy lewe het Dirk baklei teen olifante, seekoeie, bosbokke, kwêvoëls en ape, tot by termiete en aalwurm in die grond. Die grond was arm en die weer wisselvallig. Hy het dikwels gesê as hy die water van die Okavango by die grond van Ghanzi kon kry, hy die nasie sou kon voed. Op die ouderdom van 68 het hy en Pollie dus hul mees basiese pionierswerk aangevoer, ‘n opwindende uitdaging wat hulle veel plesier verskaf het maar ook weer al hul reserwefondse opgebruik het. Pollie is eendag amper deur ‘n krokodil gevang en menige nag moes hulle olifante uit die plaas dryf. Hulle kleinvee en hoenders is deur die luislange opgevang en bemarking was ‘n groot probleem. Dirk moes daagliks tussen talle klein smousies in die omgewing rondry om sy koolkoppe en mielies te verkoop en daardeur het hy eindelik so bekend en bemind geword dat hy die bynaam Botoko (pyn) gekry het, waarskynlik omdat hy ook terselfdertyd ambulansdrywer moes speel vir die villages rondom. Hy was bemind vir sy humor en sy vrygewigheid maar ook vir sy ongeduld, want om vir enigiets en enigiemand te wag, was vir hom onmoontlik!
Dirk was bekend daarvoor dat hy laaste gaan slaap het en eerste opgestaan het. Vroegoggend het hy buitekant ‘n vuurtjie gemaak en vir hom koffiewater gekook en ‘n potjie pap gemaak wat hy en Pollie later in die oggend saam sou eet. Dan het hy so gesit en bid, wag en luister hoe die dag ontwaak. Toe hy 78 geword het, is ‘n reuse aneurisme in sy rugslagaar gediagnoseer en het hy gekies om nie ‘n operasie te laat doen om dit te probeer herstel nie. Hy het, volgens hom, alles bereik wat hy wou en hy het geweet waar hy na die dood op pad heen was, dus was daar geen rede vir uitstel nie, veral omdat die dokters nie sy kwaliteit van lewe na ‘n operasie sou kon waarborg nie. Rustig-filosofies het hy en Pollie toe nog 8 maande lank die oomblik afgewag waarop die aar gebars het. Sy geliefde Springbokspan het op 12 Julie 2003 die Engelse gewen en hy het tevrede, rokende aan sy pyp ‘n emmertjie warm sop vir die nagwag geneem wat hom snags moes kom roep as olifante in die landerye inkom. Soos wat hy geval het, kon mens sien dat hy nog probeer keer het dat die sop nie uitspat nie. Hy is begrawe in die village begraafplaas op Samochima, naby Shakawe.
Print asb uit en gee vir belang-stellendes om te lees.
Ander Ghanzi
webblaaie
This website and its content is the copyright of the owners/authors thereof.
©Copyright 2019 Ghanzi website contributors.
All rights reserved.
Any redistribution or reproduction of part or all of the contents in any form is prohibited other than the following:
• you may share articles or photos on this website by making use of the share option button
• you may print or download to a local hard disk extracts for your personal and non-commercial use only
• you may copy the content to individual third parties for their personal use, but only if you acknowledge the website as the source of the material
You may not, except with the consent of the authors/owners, distribute or commercially exploit the content, nor may you transmit it or store it in any other website.
Proudly created with Wix.com