top of page

KERKE, GODSDIENS, BEGRAFNISSE EN GEBRUIKE.

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

Die kerkgeskiedenis van Ghanzi was van die begin af maar vol wrywing en pyn, soos dit maar gaan waar mense betrokke is. Die eerste inwoners het almal aan die NG kerk behoort, en het dit so gebly tot in 1918, toe Theunis Kotzè met sy familie ingetrek het na vier jare op Lehututu. Huwelike tussen die groepe het soms spanning veroorsaak, maar daar was baie mense wat dienste oor-en-weer bygewoon en ondersteun het. Die kerkgebou, preekstoel en die geriewe is deur die jare saam gebruik, hoewel veral die Gereformeerde families dikwels huisdienste gehou het. As gevolg van ondertrouery en omdat daar in die vroeë jare selde besoekende predikante was, het heelparty NG mense by die sg. Doppers aansluit. Huwelike met kleurlinge het veroorsaak dat ‘n derde groep bedien moes word, naamlik Rusplaas.

 

a) NG Bediening

.

Inligting is vaag en onsamehangend, maar dit lyk asof Ds. Geldenhuys en Conradie saam met die eerste trekkers gekom het. Veral Ds. Conradie het lank gebly ens selfs skoolgehou. Ander name is Ds. Laubscher, Mentz en Malan, maar dis moeilik om die jare van hulle bearbeiding te bepaal.

 

Bennie van Staden vertel dat dit eintlik Ds. Geldenhuys was wat saamgetrek het. (1) Ds. Conradie het hom opgevolg en sommer skoolgehou ook. Die eerste trekkers was almal NG gewees vanaf Noord-Kaap en Rustenburg. Hulle het ‘n klipgeboutjie opgerig vir kerkhou en skoolhou. (Khoutsa skool?)

 

Cassie van Heerden het vertel dat dominees soms ‘n paar maande gebly het omdat hul vervoer met wa-en-osse so moeilik was. (2) Hy onthou veral vir Ds. Laubscher, “Darie was ‘n ander predikant gewees! As ons daar water draai en sien hy kom aan, dan staak die Boesmans en loop! Dan kom draai die dominee, maar hy was so sterk dat hy byne hul arms afgedraai het!” En as hulle moes gaan grond laai, was hy fluks by met ‘n graaf.

 

Ds. Mentz het Cassie aangeneem toe hulle in Maun gebly het. Gelukkig het hy by hulle aan huis gebly en het Cassie elke aand tot omtrent 12-uur gekatkiseer. Soms het hy Cassie ‘n vuil streep getrek deur nie soggens op die gewone ry af vrae te vra nie! Cassie en die ander moes binne 15dae “volleerd” wees!

 

(3) Toe Cassie so jonk was, was almal nog NG. Om die beurt het almal dan met waens op een plek saamgetrek en ‘n volgende keer by ‘n ander plaas. Dit was lekker om so te kamp. Die predikante was nie haastig nie en het soms weke gebly vir nagmaal en voorbereiding, katkisasie en doop … Die waens was teenaan mekaar getrek sodat die een se seil bo-oor die buurman se wa kon gespan word.

 

(4) Tydens die kerkkampe het die jonklomp baie gespeel, die ou volkspeletjies sommer op die sand. Namate mense karre aangeskaf het, was daar minder tyd vir speletjies. Ellerose, Bontrokkie was gewild. (By Bontrokkie staan almal in ‘n kring en dan word vir ene gesing en so ruil hulle om.) Boompieverplant was ook gewild, selfs tiekiedraai. Die oumense het saamgespeel, maar danse was taboe by kerktye.

 

(5) Thys Taljaard se pa was bekend daarvoor dat hy bouklippe kon “dress” met ‘n beitel en ‘n 4lb hamer. Toe besluit al die mense daar moet ‘n kerk gebou word en Magiel het klippe gekap. Ds. Laubscher het vir die doel ‘n paar maande by die Taljaards ingewoon. Toe die hoeksteen die dag gelê moet word, was daar ‘n “Toring van Babel se deurmekaarspul” en hulle laat lê alles net so. Toe gee die dominee die kanselbybel wat hy saamgebring het vir Thys se pa omdat hy verniet die klippe gekap het. Die kerk sou op Nooientjie (Rina)  Kotzè se grond gebou word by DKAR. (Sy was Thys se suster gebore Taljaard). Die klippe moes aangery word met ‘n ossewa van die kalkpan op DKAR waar die ou hardekoolboom met die letters gestaan het. (Waar Yssel du Plessis die huisie gebou het). Dit was omtrent 2myl na die beplande kerk gewees. Mense het net besluit dit was onnodig! Die fondasie was klaar gelê en die gebou was tot hoeksteenhoogte.

 

(6) Thys Taljaard vertel die eerste mense was ‘n hegte NG groepie wat saam ingetrek het, nl. Veral die Du Plessis, Van Stadens, Lewise, Marnewijk en Van Heerdens.

 

(7) Sannie Coetzee het ‘n foto wat Ds D.A. Malan vir die Lewis familie in 1928, 2-7 Junie, na ‘n besoek gestuur het. Sy het baie van hom gehou, maar besoeke was selde. Sy onthou vir Ds. Laubscher, toe sy omtrent 12 was. Ds. Mentz het haar gekatkiseer. Sy onthou ‘n Ds. Visser van de E.A.B., en ‘n Ds. van der Spuy en ou Ds. le Roux in 1940 wat vir haar ‘n Bybel gegee het. Mentz en Laubsher moes nog met ossewaens inkom, maar die lateres het motors gehad. Daar was ook ‘n Ds. Nieuwoudt wat ‘n foto van Ghanzi se kerk geplaas het in ‘n boek. Maar sy sê dit was nie rêrig ‘n kerkgebou nie. Dit was sommer net klippe opgestapel en nie gemessel nie.

 

b) Gereformeerde Bediening

.

(8) Jan Burger was die trotse eienaar van ‘n “musiek”, ‘n huisorreltjie wat latere jare in Cassie van Heerden se huis gestaan het. Hy het homself geleer speel, maar dit net in kerkdienste gebruik. Hy het dit by ‘n kleurling gekoop vir £10. Die spieëltjie het later gebreek.

 

Thys vertel (9) hy was al twaalf jaar toe die Doppers onder leiding van Theunis Kotzè ingetrek het, na die kerkbou fiasko. Ou Ds. Kruger het kom kerkhou, toe sluit die Taljaards daarby aan. Theunis Kotzè was ouderling en het tussentye vir hulle dienste gehou. Die groot rede vir die aansluiting was maar net omdat die NG Kerk se besoeke baie ongereeld en min was. Geleidelik het meer mense aangesluit. Theunis Kotzè was ‘n liewe ou man gewees, maar streng oor party dinge soos dans bv. As hy hoor iemand het uitgebreek en “gejol”, het hy hom gekapittel, en die jonges was bang vir hom.

 

c) Dienste, orrelspel, NG/Doppers

.

(10)  Jan Burger het ‘n “musiek” gehad, maar net in die “kerk” gespeel. Hy het homself geleer speel. Die “musiek” het later in sy dogter Lettie van Heerden se huis gestaan. Die orreltjie het £10 gekos, by ‘n kleurling gekoop. Die spieël het later verwaarloos geraak.

 

(11) Grieta Lemcke het vertel dat hulle elke Sondag na haar oom Louw, haar pa Christiaan se oudste broer, se plaas gery het vir ‘n diens. Die oorspronklike Christiaan se weduwee Sannie het  by Louw ingewoon. (Grieta het hartseer vertel dat haar pa in die vroeë jare so godsdienstig was dat hy mense berispe het wat ‘n sekere grassie “predikantsluis” genoem het, selfs “wolkie”, omdat dit verkleinerend teenoor die Here was) Haar oom Louw was baie betrokke by kerksake en dienste is vir baie jare ook by Christiaan se huis gehou.

 

(Christiaan se kleindogter Nelie de Graaff het jare later teenoor my opgemerk dat haat kinders haar terg omdat sy “anderste” praat met predikante, maar sy doen dit uit respekte.”)

 

(12) Daar was ‘n orreltjie in die Eersterus kerkie gewees. Jan Burger het daarop gespeel en ook Mieta Kotzè. Sy kon note lees, soos sy by ‘n oud Duitse inwondende onderwyser geleer het. Sy moes elke aand speel sodat haar broers en jong sussies kon sing.

 

d) Vervoer van predikante, besoeke.

.

(13) Gereformeerde predikant moes altyd van Gobabis se kant af inkom met ‘n donkiewa. Dan het oom Jan Burger en andere hom by Olifantskoof ontmoet en verder met ‘n ossewa vervoer. Tydperke tussen besoek was soms langer as drie maande uitmekaar.

 

(14)Cassie van Heerden het vertel dat predikant soos Ds. Laubscher wat nog met wa-en-osse vervoer is, sommer lank gebly het. Sommer 3-4 maande voor hy ‘n geleentheid huis toe kon kry.

 

(15)Cassie van Heerden het vertel dat dit soms 2-3 jaar geduur het voor ‘n NG predikant weer kom besoek het. Dan moes soms tot 3 kinders gedoop word! Hy het bv. self sy papiertjie met sy naam vir die predikant gegee. (Ds. Willie Snyman) “Daar het predikante gekom, maar baie kry hulle nie die gelees nie lat hulle omtrent so eenmaal in 2 jaar of 3 jaar gekom het. Naderhand eenmaal ‘n jaar.’”

 

(16) Booy Kotzè het al op Gobabis afgetree, maar kon onthou dat hulle Ds. Kruger by die grens met die ossewa gaan haal het. Ds. Kruger het byna 3 weke by Theunis Kotzè gebly en dag-en-nag gesels tot hulle ‘n Gereformeerde gemeentetjie gestig het.

 

(17) Thys Taljaard kan onthou hoe hy Ds. Jacs van Rooy in die 30’erjare met ‘n bakkie vervoer het heen-en-weer vanaf Gobabis. Maar “ou Ds. Snyman” moes hulle met ‘n ossewa vervoer. Jan Burger se broer Sarel het toe op Olifantskloof gebly. Hy was ook ‘n Dopper en het die dominee met ‘n donkiewa in Gobabis gaan haal. Dan laai Thys-hulle hom oor op die ossewa.

 

(18) Sannie Coetzee van Gobabis se omgewing het ‘n kiekie van ‘n besoek van NG dominee DA Malan. Die foto is gedateer 2-7 Junie 1928. Sy verwys daarna dat Gereformeerde predikante ook vir almal kom dienste hou het. Volgens haar het predikante selde gekom. In die tyd van ossewaens onthou sy Ds. Laubscher en Mentz. Later toe almal reeds karre gehad het was daar ‘n Ds. Visser van die A.E.B. en ‘n Ds. Van der Spuy en ‘n ou ds Le Roux.

 

e) Kerknaweke & -gebruike

.

(19) Boy Kotzè onthou dat sy pa, Theunis Kotzè, hulle verbied het om naby ‘n kerkgebou te speel of te hardloop. “Dis die huis van die Here!” Cassie du Plessis was lief om by kerknaweke speletjies te organiseer, maar dit was deur Theunis Kotzè verbied, asook die verkopings wat mense voor die dienste wou hou. Hy het koers gehou, sy kinders mog nie gedans het nie en wee die een wat betrap is!

 

Sy pa het nie kollekte laat opneem nie. Voor ‘n predikant se vertrek het hy ‘n “geskink” opgemaak en saamgegee.

 

(20) Vir Kersfees en Nuwe Jaar het die mense bymekaargetrek naby die kerkie. Die Doppers mog die dans  nie, maar party het “gesteel”. By Eerste Rus was baie van die Kotsekinders bymekaar. Pa Theunis het elke aand vir hulle ‘n diens gehou. Kersfees nag moes almal tot twaalfuur wakker bly. Dan het die “oukêrel” twee dinamietskote in blikkies gelaai gehad met ‘n lang lont. Die seuns moes dit brand steek en huistoe hardloop. Eers na die skote kon almal gaan slaap.

 

Eenkeer het hulle ‘n besoekende predikant ook met so ‘n dinamietskoot verwelkom!

 

(21) Voordat  die Kotzè-trek in 1918 gekom het, was almal NG mense. Ds. Laubscher het vanaf Mafikeng via Windhoek gekom. Mense het om die beurt by verskillende plase byeengekom em met waens gekamp. Drie dienste is gehou, plus doop en nagmaal. Daar was so baie tyd, kampe het sommer weke geduur! Die vermaak was die ou volkspeletjies. Maar namate karre algemeen geword het, is die kuiertjies ingekort.

 

(22) Mense soos die Taljaardfamilie het by die Doppers met ouderling Theunis Kotzè aangesluit hoofsaaklik terwille van meer gereelde bediening. Hulle moes toe verlief neem met die ouderling se streng opvattings, bo-oor dans. Jongmense het egter nogsteeds plan gemaak om by sulke joligheid uit te kom en gehoop oom Theunis sou nie daarvan hoor nie!

 

(23) Thys Taljaard was ouderling en onthou goed hoe hy met Ds. Jacs van Rooy huisbesoek moes doen. Hy het vervoer verskaf met sy bakkie en die besoeke en tallose koppies koffie het hom verveel. Naderhand het hy direk na “Amen” opgestaan. “Dis nog vêr dominee, die nader mense wag!”

 

f) Begrafnisse

.

(24) Grieta Lemcke het het met lof gepraat van die jonger Theunis Kotzè, ‘n seun van die stamvader Theunis wat in 1918 ingetrek het op Ghanzi (Ek dink die seun was bekend as Tiekels) Theunis jnr. het gereeld lykredes gehou en begrafnisse gelei.

 

Sy eerste vrou was ‘n Taljaard gewees, die oudste suster van Rina (Nooientjie) Kotzè, ma van die sg Kotzetjies wat later transport gery het. Geel Magiel was een van Theunis jnr. se seuns gewees. Theunis jnr. was  weg op die Kalaharipad met ‘n trop bees toe sy eie kind dood is. Sy ma was alleen en het vier gellingblikke sand aangedra grafte toe om die kind te begrawe. Iets mos losgeskeur het, en sy was reeds byna dood toe Chrisjan jnr. Grieta se broer, op haar afgekom het. Sy is toe oorlede.

 

Laterjare kon mens ‘n predikant se dienste kry, maar vroeër het Theunis jnr. die lykredes gehou. Soms het Jan Burger dit ook gedoen. Lyke is deur families self uitgelê en kiste is self gemaak. Die oumense het gewoonlik gesorg vir ‘n paar planke in die huis. Die gemeenskap het self die kiste toegegooi, soos nog steeds in die tagtigerjare. Lyke is in hul eie klere begrawe, lyksklede was onbekend.

 

(25) Lena Lemcke het die hartseer verhaal vertel van haar seunskind wat in Gobabis oorlede is. Die punt is dat hy toe daar begrawe is. “Hom het ons nou maar daar klaargemaak.”

 

Sy het vertel dat die mense in Ghanziland maar self die lyke uitgelê het. Daar was nie ‘n dokter wat ‘n doodsertifikaat moes uitskryf nie.

 

g) Drome

.

In die lewensskets van die stamvader Theunis Kotzè word vertel van sy drome en begeerte om altyd verder noord te trek. Hy het not tot by Ghanzi gevorder.

 

Maar ek vertel ook die droom wat een van sy seuns Booy gehad het. (Drome het meermale invloed uitgeoefen. Dink maar aan Martjie Goosen se suster wat van Austin Evans, ‘n polisieman by Kuke, gedroom het en later met hom getroud is.)

 

(26) Booy moes Pretoria-toe gaan in verband met sy hartkwaal. Hy het daar ‘n “verkeerde” dokter gehad. Na ‘n operasie het een arm opgeswel van sy hand af, asook een skouer en sy nek. Hy was naderhand deurmekaar, maar die droom was so duidelik soos enige werklikheid. “Ek droom ek lê daar onder, en van bo af kom ‘n groot gang met twee hoë mure alkant en van bo af skyn ‘n lig. Ek lê daar ver onder, jy kan maar sê op die aarde, en ek lê kyk nou die lig wat daar van bo af op my bed skyn. En van die anderdagmôre af het ek gesond geword. Ek was glad nie bang nie, dit was vir my wonderlik.”

 

Booy vertel van nog ‘n droom wat afgespeel her op sy plaas. Ek droom ek sien vlieënde piering afkom, ‘n spierwitte, hy’s wit. Ook die lang lyne aan hom wat so opgaan was ook spierwit. Hy kom sak af reg by my huis se gewel, daardie vlieënde piering, en ek stap soontoe om die huis. Toe ek daar kom, toe’s daar drie persone in die vlieënde piering. Dis die reine waarheid wat ek vir jou vertel. Dis of ek dit vandag nog sien. Ek kom daar by hulle toe maak hulle los die lyne, toe maak hulle oop. Toe hulle dit klaar oop het, toe vat die een so ‘n spierwit duif, en hy gee dit so in my hand en hy sê, “Gaan gee dit vir jou vrou in die huis, dis al wat ons vir jou gebring het.” Toe gaan ek en  gee die duif vir Grieta en ek sê daardie manne het dit vir my gegee. En ek kom weer terug, toe’s hulle besig om weer vas te maak. En ek help hulle nog vasmaak, en toe vaar hulle weer op. Toe draai hy weer so in die rondte en beweeg op. En ons het verder niks gepraat nie, dis net al wat ek gesien het.

 

(27) Booy het vertel dat sy pa soms sommer gesien het dat mense kom, selfs van veraf plekke. As hy soggens doodstil was en nie gesêls het nie, het hulle geweet. Naderhand sal jy hoor die of daai is op pad.

 

h) Koms van die Kotzè stam

.

Die eerste intrekkers het almal aan die NG Kerk behoort, en tot 1918 het dit so gebly. Daar was selde besoeke van predikante, en baie het die gemis aangevoel. Dit wil voorkom as of daar twee redes was waarom heelparty NG lidmate later by die piepklein Gereformeerde groepie aangesluit het. Theunis Kotzè se sterk godsdienstige persoonlikheid en sy gewilligheid om as leier en ouderling op te tree in die afwesigheid van gereelde bediening.  Maar volgens vertellings lyk dit asof Theunis snr. ook  maar eers Ghanzi godsdienstig tot mate gekom het.

 

Selfs in die noord-Kaap, Mier se omgewing, het hy met verskeie predikante en mense skoor gehad en rondgeval, bv. na Ds. S.J. du Toit se Gereformeerde Kerk onder die Kruis. Sy skoonseun, Jan Burger, wat saamgebly en saam ingetrek het, kon ook nie die redes verduidelik waarom skoonpa weg is van die noord-Kaap en ‘n tydlank by Lehututu met sy groot familie vertoef het nie.

 

(28) Volgens Jan Burger was hulle almal, ook Theunis snr., vroeër NG lidmate gewees. Maar toe kry die ouman rusie met ‘n predikant op Rietkuil in die noord-Kaap en oorreed toe Jan se pa om ook by die Gereformeerdes aan te sluit. Blykbaar is ouman Theunis deur ‘n ene Mias van Heerden weggejaag en dit het to allerlei “dinge” aanleiding gegee. Volgens sy skoonseun het ouman Theunis altyd met mense rusie gemaak. Die groot rusie was in 1904, toe Theunis die Burgerfamilie oorreed het om saam die NG kerk te bedank. Jan self het nie geweet waaroor die bohaai gegaan het nie. “Ek steur my mos nie as mense stry nie.”

 

Die rusie met Mias het te make gehad met ‘n veespekulant Jettie (?) Dis onduidelik of hy vir Mias ‘n klomp skape en bokke gegee het om op te pas in ruil vir slaggoed en of Theunis die vee moes oppas en of Theunis die begunstigde was nie. Dit lyk tog of Theunis die klompie kleinveee vir Mias na Jetty in Keimoes moes aanjaag, maar toe verdwyn die skape. Ene Heese het verneem Theunis het eers gesê sy seun Theunis was in die veld met die skaap, maar Heese het geweet die diere was reeds by Lehututu. Toe het pa Theunis die skape verruil vir smids gereedskap waarmee hy begin waens kort het by Lehututu.

 

Sarel Burger, Jan Burger se broer, het eers later by die groep wat vanuit die Noordkaap getrek het, in Ghanzi aangesluit en hom op Olifantsfontein naby Gobabis gevestig. (Hy was ‘n Dopper en het gehelp met die vervoer van predikante. Sy seun Willie en vrou Jessy was later lidmate van Rusplaas.) Daar was nog ‘n groep wat saamgetrek het en beroering veroorsaak het.  Dit was ook ‘n groot familie van Mier se wêreld, genaamd Camm. Oorspronklik was die Camms lidmate van die Luthers Evangeliese Kerk, wat bande behou het met kleurling by Xanagas.

 

Miskien verduidelik Swanepoel die kerklike sy beter. (29) Na omswerwinge in distrikte Warmbad, Upington en Keetmanshoop het hy en sy familie as gevolg van die sogenaamde Hottentotsoorlog weer tuisgekom by die NG Kerk in Upington in 1904. Toe kry hy al hoe meer moeilikheid met Ds. A.G.T. Schoevers, omdat Theunis in die katkisasieklasse wat hy as ouderling aangebied het, ook die inhoud van die belydenisskrifte behandel het.

 

As gevolg van die onenigheid skryf Theunis vir Ds. S.J. du Toit, wat toe alreeds die Gereformeerde kerk onder die Kruis gestig het. Hy sê vir Du Toit dat hy en ‘n paar ander gemoedsbeswaard is om langer in die NG Kerk te bly. Hoewel hy nie besware teen die geloofsbelydenis van die NG Kerk het nie. In 1908 vra Theunis vir Du Toit om hulle in Mier te besoek, maar dit het eers in 1909 gebeur. Onder Du Toit as voorsitter stig 14 beswaardes toe ‘n Kerk onder die Kruis en word in 1911 deur Ds. T. Hamersma besoek. By die stigting is ‘n dogtertjie M.M. Kotzè gedoop. (Die latere Martjie Vickerman?) Sy is in Maart 1909 gebore.

 

Die eerste Wêreldoorlog en die Rebellie van 1914 het Theunis ontstem. (30) Hy wou wegkom van Babel af en hy trek toe met sy uitgebreide familie na Lehututu, ‘n transport kruispad, 400km vanaf Mafikeng. Deur middel van korrespondensie met Ds. J.H. Kruger van Postmasburg, word die groep in 1918 lid van die Gereformeerde Kerk omdat hulle uitgesluit gevoel het. Na ses jaar in Lehututu het hulle op Ghanzi gevestig geraak en ‘n groot omwenteling veroorsaak.

 

Sommige mense, soos die Taljaards, het by die Doppers aangesluit ter wille van meer gereelde bediening deur besoekende predikante en veral Theunis Kotzè as ouderling. Ander het weer aangesluit a.g.v. huwelike, soos die tussen Fanie Lewis en sy vrou Maria, ‘n dogter van Jan Burger. Fanie kannie onthou dat sy pa of ooms hulle Boesmans ingeroep het in huisgodsdiens of hulle andersins bearbei het nie, maar Maria het vertel dat haar pa-hulle en oupa-hulle wel die arbeiders nadergetrek het. Maar dit was Hotnots of Hottentots wat Afrikaans kon verstaan, nie Boesmans nie.

 

(31) Booy vertel dat sy pa op Lehututu deur middel van ‘n tolk baie swartmense gearbei het.

 

(32) Thys Taljaard vertel dat sy familie terwille van beter bediening by die Doppers aangesluit het tydens ‘n besoek van Ds. J.H. Kruger aan die Kotzè familie. Hulle het groot waardering gehad in Theunis Kotzè se besoeke aan mense. Volgens Taljaard was dut in 1912, en algaande het die gemeente gegroei. Hy het Theunis as ‘n liewe ou man onthou, maar die jongspan moes in hulle spore trap, byvoorbeeld oor dans.

 

(33) Booy Kotzè beweer hulle het 12 jaar op Lehututu gebly, maar ander mense verskil. Hulle het eers by Khoutsa ‘n lewe probeer maak, waar baie mense reeds saamgebly het. Maar sy pa het steeds daarvan bly droom dat hulle noordwaarts moes aanhou trek. Die droom het opgehou toe hulle Eerste Rus gekoop het. Booy en sy oudste broer moes ‘n Ds. Kruger met ossewa op die SWA grens gaan haal. Ds Kruger het byne 3 weke lank op Eerste Rus by pa Theunis gebly en hulle het dag-en-nag gesêls totdat hulle toe die Gereformeerde gemeentetjie gestig het. Die Taljaards en party Lewise soos Fanie Lewis het aangesluit uit NG geledere.

 

(34) Booy was verslae oor pa Theunis se kennis van die Bybel. “Jy kan vir hom een woordjie uit die Bybel vra, dan sê hy slaan daar en daar oop … ‘n Skriptuur is nou ‘n ander ding, maar een woord! My pa was ‘n vreeslike vaste man op sy geloof, niemand kry hom van koers af nie.” Hy was streng op sy kinders, en veral ‘n pak slae met ‘n ou harde riem was gevrees gewees. Sy ma was ook kwaai op die kinders gewees.

 

Pa Theunis was later sieklik as gevolg van ‘n breuk en het sy dae omgelees. Hy het heelparty boeke bestel, onder andere Geesteswêreld. (Die skrywer of uitgewer het vir hom ‘n kiekie gestuur van ‘n gees wat ‘n dooie se liggaam verlaat!) “My pa wou mos als weet!” ‘n Skaduwee bokant die lyk in gedaante van ‘n mens. Pa Theunis het geen geleerdheid gehad nie behalwe wat hy by Booy se oupagrootjie geleer het. Hy het sy boeksak saamgehad as hy muile in die veld moes oppas.

 

(35) Booy vertel sy pa het 2 morg grond van Eerste Rus afgestaan vir ‘n kerkgebou. Daar is steeds kalkklippe en grafstene.

 

(i) NG’s, Gereformeerdes en spanning as gevolg van Kleurlinge

.

Dis bekend dat die eerste intrekkers almal aan die NG Kerk behoort het. Mens kon dus tweespalt verwag het toe die Kotzè/Burger Gereformeerde families onverwags by hulle aangesluit het, en boonop onder leiding van Theunis Kotzè wat sterk godsdienstige leiding uitgeoefen het en meer gereeld bediening aangebied het. Boonop het ‘n hele paar NG’s met Doppermeisies getrou. Nogtans tel ‘n mens min godsdiens struweling op in die vroeë jare, en selfs teen 1967 het gelowiges oor en weer mekaar se dienste bygewoon, veral tydens besoeke van predikante. So is kinders ook oor en weer gedoop eerder as om te wag vir ‘n volgende eie predikant. Die besoekers het ook by almal huisbesoek gedoen en by niemand verbygery nie.

 

Nieteenstaande was daar mettertyd heelwat pyn en verdeling in kerklike gelede, voortspruitend uit die politieke veranderinge en die gees van die tyd. Apartheid in Suid-Afrika het in 1948 amptelike beleid geword, en hoewel die oorspronklike intrekkers baie nader aan mekaar geleef het as gevolg daarvan dat almal dieselfde reserwes moes deel, het die Suid-Afrikaanse invloed dinge begin verander. Mense was teen die tyd ook nie meer so inter-afhanklik nie, en skeiding op verskeie gebiede het meer duidelik begin manifesteer. Die kerke was sterk geraak hierdeur. Waar huwelike oor die kleurgrense heen oorspronklik verdra was en binne families aanvaar was (bv. Die opregte worsteling van Oom Theunis Kotze wat selfs vir Totius in Potchefstroom geskryf het om te vra of die voorgenome huwelik van sy seun Jan met Hedwig Camm teen die Bybel sou wees, is bekend). Totius (Prof. J.D. du Toit, seun van Ds. S.J. du Toit)  se antwoord, dat hy in die Bybel geen beswaar daarteen kon vind nie maar dat die sosiale en kulturele werklikhede van so ’n huwelik baie goed gekonsidereer behoort te word, het uiting gevind in die reaksie van baie van die ander families, en ook lede van die Kotze families self. Vele van die onderhoude vertel van pyn en verwerping en onvermoë van hoe om die sosiale element te hanteer. Apartheid het nie net tussen blank en anderskleurige bestaan nie, soos in ander verwysings is dit duidelik dat selfs binne die groepe Nama’s, Boesmans, Kgalagadi’s en Tswana’s daar soms sterk gevoelens van skeiding en sosiale taboe’s was.

 

Die kleurlingelement wat dus in die Gereformeerde bygekom het, het uiteindelik gevolg tot die stigting van Rusplaas as gemeente, en later is die klein, aparte gemeentetjie min of meer gedwing om aan te sluit by die Gereformeerde sending vanuit D’KAR, waar hulle hulself ook nooit werklik tuis gevoel het nie.

 

Volgens Hugo en Grieta Lemcke en miskien as gevolg van Theunis Kotzè se onenigheid met die NG Kerk Upington, het Theunis snr. daarop gestaan dat mense van ander kerke (36) wat met Doppers trou, na die Gereformeerde Kerk moes oorkom. Hulle noem ‘n geval van Martjie Goosen, gebore en getoë in die NG Kerk, wat onwillig moes oorkom om haar kinders te laat doop toe sy met Edmond Gower getroud is. (Sy ma was Lettie, een van Theunis se dogters, getroud met Terry Gower in Lehututu se omgewing.) Dis interessant dat die drie Lemcke broers vanuit SWA by die NG Kerk aangesluit het. Nogtans het hulle nie geskroom om dienste van besoekende Dopperpredikante by te woon nie. Hul ma was ‘n Krugermeisie van Vryburg gewees. Ek noem dit om aan te toon hoe vervleg kerklidmaatskap was. Hugo en Grieta het gedink Theunis was oordrewe godsdienstig.

 

Dit lyk asof die kleurlinggroep wat ouer Ghanzilanders gehinder het, bestaan het uit Theunis se twee seuns Jan en Gert wat met kleurlinge getroud is, asook Sarel Burger se byna-wit vrou (volgens Thys Taljaard) en dat die Morris-clan (sover ek weet nie Doppers (37) voordat hulle op DKAR aangesluit het nie.)  Morris, die stamvader, was met ‘n Taljaard witvrou getroud, maar sy is na die geboorte van ‘n tweeling oorlede. (Volgens Grieta se ma ‘n baie netjiese vrou) Die Morris dogter Baps, Grieta Kotzè se ma, moes die kinders grootmaak, self nog ‘n kind. Die kinders het nie skool gehad nie en saam met die plaas boesmantjies grootgeword. Freddy, die pa van baie half Boesman kinders, was ongeleerd.

 

Grieta verwys ook na die Xanagas kleurlinge, Camm en andere, wat altyd baie gasvry was as Ghanzimense daarlangs gereis of gesmous het. Grieta noem ook Magriet Coetzee, die vroedvrou wat witmense “gesmeer het”, as baie beskaafd en welkom by haar. Nogtans onderskei Grieta tussen die ouer geslag se gesindheid en die van hul kinders.

 

Booy Kotzè vertel van ‘n interessante verhouding. Die befaamde Chrisjan (Christiaan) Lewis het blykbaar ‘n weerstand ontwikkel teen predikante en kerke, miskien laterjare. (38) Maar Kersfees moes die hele Kotzèfamilie op uitnodiging na die Lewisplaas gaan, waar Theunis snr. dan ‘n Kersfeesdiens gehou het.  Eers namiddag is hulle dan weer huistoe.

 

Thys Taljaard het verduidelik dat die Taljaardfamilie by die Kotzè-intrekkers in 1921 (39) aangsluit het terwille van beter en meer gereelde bediening, hetsy deur ouderling Kotzè of besoekende Gereformeerde predikante. Mettertyd het meer mense dit gedoen en die kerngemeentetjie (39) het aangegroei. Maar toe Thys reeds 15 jaar oud was, het die gemeente weer gekrimp omdat ‘n groepie saamgemaak en Angola toe getrek waar van die 1870’s se Dorslandtrekkers geboer het. Een groep het met een wa getrek langs die Okavango op tot by die Kunene, met perde en besittings, maar na ‘n paar maande teruggekom.  Thys noem die name van sy oom Jakob Taljaard, Naas du Plessis, Cassie du Plessis, Manie Lewis se oupa Nieuwenhuizen wat tot 1927 daar gebly het.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

Kerke en godsdiens, begrafnisse & gebruike:

  a) NG Bediening (Bladsye 139-142)

  b) Gereformeerde Bediening (Bladsy 138)

  c) Dienste, orrelspel, NG/Doppers (Bladsye 143-144)

  d) Vervoer van predikante, besoeke (Bladsye 145- 146)

  e) Kerknaweke & -gebruike (Bladsye 147-148)

  f) Begrafnisse (Bladsye 149- 150)

  g) Drome (Bladsye 151-152)

  h) Koms van die Kotzè stam (Bladsye 153-157)

  (i) NG’s, Gereformeerdes en spanning as gevolg van Kleurlinge (Bladsye 158-163)

 

(1) (A II 1-3) Bennie van Staden en Martie Goosen

(2) (J I 6-7) Cassie van Heerden

(3) (J I 7) Cassie van Heerden

(4) (J I 8) Cassie van Heerden

(5) (X I 1-2) Thys Taljaard

(6) (X I 3-4) Thys Taljaard

(7) (Z I 3-4) Sannie Coetzee

(8) (C II 4-5) Jan Burger

(9) (I II 3-4)  Thys Taljaard

(10) (C I 4) Jan Burger

(11) (S II 4) Grieta Lemcke

(12) (W I 9) Booy Kotzè

(13) (C II 5) Jan Burger

(14) (J I 6) Cassie van Heerden

(15) (I II 7) Cassie van Heerden

(16) (W I 1-2) Booy Kotzè

(17) (X I 9) Thys Taljaard

(18) (Z I 3-5) Sannie Coetzee

(19) (W I 5-6) Booy Kotzè

(20) (W II 2) Booy Kotzè

(21) (J I 7-9) Cassie van Heerden

(22) (X I 3-4) Thys Taljaard

(23) (X II 9) Thys Taljaard

(24) (S II 2) Grieta Lemcke

(25) (U I 2) Lena Lemcke

(26) (V II 1-2) Booy Kotzè

(27) (V II 3) Booy Kotzè

(28) (C II 5) Jan Burger

(29) Christo Swanepoel, Die Kalahari Doppers, Bls 4

(30) Christo Swanepoel, Die Kalahari Doppers, Bls 6-8

(31) (W I 8) Booy Kotzè

(32) (X I 3) Thys Taljaard

(33) (W I 1-2) Booy Kotzè

(34) (W I 4-5) Booy Kotzè

(35) (W I 9) Booy Kotzè

(36) (Q I 12) Grieta en Hugo Lemcke

(37) (Q II 1) Grieta en Hugo Lemcke

(38) (W II 3) Booy Kotzè

(39) (X I 3-5) Thys Taljaard

Ander Ghanzi
webblaaie

as jy enige kommentaar oor die stuk het.

bottom of page