top of page

VERMAAK, MUSIEK EN SPELETJIES

(1) Jan Burger het vertel van die blinde Doorsie le Roux wat baie op ‘n harp gespeel het (Afrikaklaviertjie?) Oom Jan het ‘n musiek, ‘n traporreltjie, bespeel maar net by kerkdienste. Hy het homself geleer speel. Hy het die orreltjie by ‘n kleurling gekoop vir tien pond. Oorspronklik het dit ‘n spieëltjie gehad. In 1980 het dit nog by Cassie van Heerden gestaan.

 

(2) Cassie van Heerden het vertel dat die kerknaweke baie sosiaal lekker was. Mense het om die beurt bymekaar gekom en in hul waens geslaap vir ‘n paar dae. Die waens is so getrek dat een se seil na ‘n ander getrek kon word om bolangs toe te maak. Hulle het baie volkspele gespeel, die ou speletjies. Maar vandat motorkarre ingekom het, het mense se lewens gejaagd geword en daar is minder gespeel. Hulle het sommer op die sand gespeel, nie op ‘n seil nie. Hy kon Ellirose onthou, Bontrokkie en Boompieverplant ook. Tiekiedraai was deel van die ou speletjies. Met Bontrokkie staan almal in ‘n kring, dan word daar vir ene gesing en dan ruil hulle om.

 

(3) Met kerknaweke is nooit gedans nie, net gespeel. Die oumense het saam gespeel. Oor Kerfees het almal ook bymekaar gekom. Oukersnag mog niemand voor 12nm gaan slaap het nie. Dan word ‘n dinamietskoot geskiet en daarma is Kersliedere soos Stille Nag gesing.

 

(4) Deur die jaar was dit gebruiklik om soms bymekaar te kom, te help huisbou of so iets, en dan is daar ook gespeel en baljaar.

 

Vir Nuwe Jaar het mense ook saamgetrek, maar dit was meer vir perdereisies en speletjies.

 

(5) Die jongmanne was as’t ware opgekommandeer om met huisbou of so iets te gaan help, maar hulle was bly oor so ‘n geselligheid en lekker kuier saam. Mense het met wa-en-osse of perdekar gery.

 

(6) Oom Booy het vertel dat die Ghanzi jongmense dikwels bymekaar gekom het om te dans. Die Kotze kinders mog nie ‘n voet op ‘n dansbaan gesit het nie, maar hy het erken dat party van sy susters en broers meege doen het.

 

(7) Op Eersterus het sy pa met Kersfees elke aand diens gehou. Twaalf-uur op Oukersaand is 2 skote dinamiet geskiet voor hulle kon gaan slaap het.

 

(8) Thys Taljaard het met smaak vertel hoe mense vir mekaar gaan kuier het met ‘n ossewa en dan sommer vir ‘n week gebly het! Volgende maand ruil hulle om. Almal het van almal se doen en late en probleme geweet.

 

(9) Sannie Coetzee het gese sy en haar man het nie van partytjies gehou nie, maar hulle het graag tennis gespeel, perdgery en kaart gespeel. Die paar families wat naby gebly het, het oor-en-weer gekuier. Sy verwys veral na oom Louw Lewis se seuns, haar neefs.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:

 

 

(1)  (C II 4)  Jan Burger

(2)  (J I 7-8)  Cassie & Lettie van Heerden

(3)  (J I 8-9)  Cassie & Lettie van Heerden

(4)  (J I 9)  Cassie van Heerden  

(5)  (S II 3)  Hugo en Grieta Lemcke

(6)  (W II 1)  Booy Kotze

(7)  (W II 2)  Booy Kotze

(8)  (X II 11)  Thys Taljaard  

(9)  (Z I 7)  Sannie Coetzee

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page