ALLE REGTE VOORBEHOU
Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van
die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.
JK: Michael Adams se oupa het beeste gekoop en op die ou pad gevat. Hulle wou hulle by 'n pan water gee, maar by so 'n pan moes jy genoeg mense gehad het om die beeste weg te hou van die pan …
WK: Sodat jy net so klompie op 'n slag laat drink …
JK: Die mense moes eintlik in die pan staan sodat die beeste nie deur die water loop nie. Iets het die beeste laat skrik en het hulle daardie pan flenters getrap. Dit was groot beeste wat hy op skuld gekoop het, en soos hulle teruggehardloop het Ghanzi-toe het hulle omgekap.
Vraag: Wanneer het die Adamse ingekom?
JK: Redelik laat ingekom, hulle was in Lobatse op 'n plaas gewees. Piet Brink het gesê hulle was arm mense in Lobatse en Burtie Adams se swaer was 'n polisieman op Tsabong, en toe begin hulle nou bees koop en handeldryf. In die Engelse tyd as bek-en-klou uitbreek dan huur hulle witmense en Burtie het werk gekry as 'n tydelike "Stock Inspector". Toe kom hy Ghanzi-toe en vra die Magistraat vir Burtie of hy nie wil beeste koop nie. Hy vra toe die magistraat wat hy met die beeste sal maak, waarop hy toe antwoord, "I will give you a farm". Dit was 1948 toe kry hy daardie plaas Koffi (?). Burtie het toe vir Matheo gekry, 'n Morolong ek dink aan die kant, en hom in die veld gesit en Matheo het vir Burtie goed gewerk. Later het hy honderde bees gehad en sewe plase. Uiteindelik is Matheo toe nou dood en Burtie was woedend kwaad, want helfte van die mense op die "payroll" was of dood of het al bedank. Burtie het eintlik min self Ghanzi toe gekom en Matheo het altyd by Tannie Nelie geld getrek, en het hy nooit besef dat Matheo homself ryk gemaak het nie.
Vraag: Terug na die beestrekke. Oom Cassie van Heerden het vertel dat hyself van die dors byna doodgegaan het en hoe 'n Indiër by 'n winkel van dit gehoor het en hom gehelp het?
WK: Maar selfs as ons nou so beeste trek en ons kom by water, was die krip gewoonlik naby aan die dam en die kraal was verder weg met 'n hek. Die osse word dan gekeer aan die buitekant van die kraal en dan het hulle so tien osse op 'n slag laat inkom in die kraal om te kom drink. As hulle klaar gedrink het word hulle eenkant toe gekeer en dan word die volgendes ingelaat om te kom drink. Dan is hulle almal nog nie klaar gedrink nie en sal die beeste weer 'n slag drink as almal in die kraal is en moes jy gaan kyk dat die krip weer vol is vir die beeste. Jy kan nie die hele lot in die kraal insit nie, want dan vertrap hulle alles en mekaar.
Vraag: Dit klink vir my verskriklik moeilik?
JK: Nog 'n storie was Thys Taljaard en ou Jan Kotzè, Auntie Hedwig se man, wat getrek het met bees. Op die trek het ou Jan Kotzè 'n boek gehad wat hy gelê het en lees, en sou hy agterna op sy perd klim en by hulle uitkom. Hy was besig om te lê en lees toe kom 'n wolf (bruin hiëna) en gryp sy saal en hardloop weg met dit. Hy is toe al op die wolf se spoor om die saal te kry en uiteindelik het hy opgegee en nou is hy in die Kalahari sonder sy saal. Jy kan soms swaarkry …
Vraag: Het Oom John self sulke noue ontkomings of ontberings gehad tydens 'n beestrek?
JK: Nee, 'n leeu het my eenkeer goed laat skrik …
WK: Hy het eenkeer in die somer daar by my aangekom in Pretoria, bloedrooi gebrand met sulke wit donse wat op sy gesig staan soos hy vervel, toe vertel hy vir my al sy goed het opgeraak en het hy naderhand uie geëet …
JK: Ek het staat gemaak op die transport ryers om vir my goed te koop en af te laai en hulle het nooit gekom nie.
WK: Koos van Vuuren het ook altyd uitgevind waar is ons en dan vir ons goed gebring. Ons het getrek verby Ghanzi en dan deur die Adamse se plaas en in die veld geslaap, eers by Hanahai het ons die grootpad gekry, want by Hanahai moes die bees gebek word. Dan is ons vir 'n rukkie op die pad en dan anderkant Kang gaan ons weer af van die pad by Phuduhudu, waar die bees gekwarentyn word en weer gebek word. Van daar gaan jy op die beespad Kanoga-toe, en dan is jy by Kokwale en daarna weer aan die ander kant van die pad by Digwana. So wanneer die lorries ry moes jy mooi kyk en het hulle vir ons kon appels en lemoene bring, vleis was bietjie moeilik. Daar by Takatshwaane het ons mekaar soms gekry. Die kraal was van die pad af, maar ons het op die pad geslaap.
Vraag: Watter geskiedenis! Oom het vroeër gepraat van 'n leeu?
JK: Ek het eintlik hierdie huis in seksies gebou. Dit was redelik laat, toe kom die kinders wat die bokke opgepas het … eintlik in daardie dae het ek 'n ou Boesman gekry om die bokke op te pas en hy het hulle fantasties goed opgepas, hy het niks gedoen behalwe om vir die kinders te sê wat om te doen. Toe kom die kinders terug en sê dat 'n leeu het die swart perd hier in die kamp voor die huis. Toe slaat ons takke rondom en ek kom kyk 'n slag na die leeu, maar hy gaan nie in die slagyster nie. Ek het toe gaan slaap en so by twaalfuur wakker geword, toe hoor ek daar bulk 'n bees. Die leeu is toe weer aan die gang. Ou Oom Fanie het altyd gesê 'n maklike manier om 'n leeu dood te maak is om 'n hok te bou. Ek het altyd pale gebruik om die hok sterk te maak met 'n plek waar jyself kan ingaan, wat jy so toe maak dat die leeu jou nie kan sien nie. Hy kan jou ruik en is bewus van jou, maar kan jou nie sien nie en is nuuskierig om te sien wat gaan aan.
Dit was pikgiet donker en het liggies gereën, nie baie plesierig nie. En dan wag jy, en as jy so sit en wag dan hoor jy baie dinge, en die miskruiers krap so. Die leeu het die bees getrek en effentjies gelos en het ek gedog in die donker sal sy kom tot daar waar sy die bees getrek het, toe kom sy reguit op daardie bees af. Dit is toe 'n jong mannetjie en hy sien nou daar is iets, hy kom staan toe bo-op die bees se boude en kyk om hom rond, wat gaan nou hier aan? Die opening vir myself het ek te klein gemaak en kon ek nie lekker mik nie, maar ek sien hy kyk vir my, toe skiet ek! Hy spring toe op die takke en ek skiet toe twee maal vinnig, en toe is die leeu weg. Ek het nie 'n flits by my gehad nie en moes agter uitklim waar dit met takke toegemaak is. Ek wag toe tot dit lig word ek klim toe uit en kyk waar is die leeu. Hy lê toe op die grond en krap so, en ek sien ligte skuimerige bloed wat beteken die skoot was in die long gewees. Hy staan toe op en loop 'n ent en krap weer so in die nat grond, die afstand word toe nie kleiner nie net al groter. Ek het net 'n paar patrone by my gehad en besluit toe om eers huistoe te gaan. Dit was die einde van die jaar en was ons beperk op die aantal patrone wat jy mag hê, jy kon net 'n 100 per jaar koop. Die Boesmans het gehoor iets gaan aan en almal is opgewonde en praat.
Ons almal loop toe saam terug, toe was dit baie meer oop as wat dit nou is, en toe na 'n hele ent se geloop sien ek daar ver lê die leeu en kyk vir ons. Hy grom toe 'n paar maal en die stert gaan heen en weer. Ek mik toe en skiet, maar dis ver en ek mis, toe kom daai leeu en almal hardloop, ek ook. Ek sien toe ek is heel agter en besluit toe dat daar is twee patrone en ek beter sorg dat ek daai leeu dood kry. Toe die leeu halfpad gestorm het toe skiet ek weer, net 'n velskoot, en die leeu kom. Soos hy kom gooi hy sulke klonte in die lug in. Ek het Willy Willmot goed geken en geluister na sy stories, en toe onthou ek as jy in so 'n geval is dan wag jy tot jy binne in die leeu se oë kyk voordat jy jou laaste skoot skiet. Ek besluit toe die leeu kom, en ek kyk binne in sy oë toe trek ek die sneller. Jou reaksie is om te kyk of die leeu nou dood is, en as jy in die brein skiet ontspan die leeu, maar dit was in my gedagtes dat hy nie dood is nie. Sonder om te dink het ek myself eenkant toe gegooi en die volgende wat ek bewus van was is dat die leeu se pens druk swaar hier teen my been! Toe draai hy hom om met sy agterpote, want sy voorpote was lam, en lê hy en kyk vir my. Ek wil net sê, daar was een swartman by, en het ons hom nie weer gesien nie, maar toe die Boesmans sien ek staan toe staan hulle so entjie weg. Nou kyk ek vir die leeu en die leeu kyk vir my, die Boesmans skree: "Skiet hom, skiet hom", toe skree ek terug dat ek nie meer patrone het nie. Die leeu doen toe nie eintlik iets nie en ek begin so stadig agteruit loop totdat ek 'n ruk weg was, toe draai ek om en ek hardloop! Toe krap ek hier by die huis rond en kry nog patrone en ry toe met die Bedford tot by hom en skiet hom dood.
Vraag: Watter noue ontkoming …
JK: Maar daar is altyd engeltjies wat vir my kyk. Eenmaal toe ek onder die boom hier gebly het, was dit donker en dit was koud toe ek besluit om 'n kombers uit te haal. Daar was so 'n ysterbed sonder 'n matras en agter die was daar 'n boks met die komberse. Nou loop ek bo-op daardie ysterbed en ek sien hier beweeg iets onder my, toe is dit 'n mamba!
WK: Wat toe lankal al in die kaya bly …
JK: Toe besluit ek, ek los die kombers en slaap maar koud. Toe los ek die mamba net daar tot die volgende oggend, want hy verkluim in die koue, en toe het ek hom met 'n spies doodgesteek.
WK: Toe Cook nog hier langs die grootpad gebly het, het hy in so 'n sink kaya gebly, sy bed net so by die deur gestaan, want die res van die kaya was volgepak gewees met bokse. Dan maak ek boudvleis of skyfiesvleis of ietsie en aartappelslaai, dan pak ons dit in en ry ons Sondagoggend en gaan eet by hom en gesels. Dan sê Cook hy het 'n boek oor iets, dan staan hy op en krap hy so in 'n boks, gee sulke lang tree, en dan krap hy weer daar in drie ander bokse en naderhand dan kom hy met die boek daaruit.
JK: Hy het 'n kat gehad en gesê as die kat nie in die kaya wil kom nie dan weet hy daar is 'n slang iewerste.
Vraag: Hoe oud is Oom John nou?
JK: In Oktober is ek 83.
Vraag: Wie was Jaap en Tokman Taljaard? Was hulle familie van die ander Taljaards en waar skakel hulle in?
JK: Ja, hulle was 'n hele familie. Oom Thys was die grootbaas, sou ek sê, en dan was daar Nick Taljaard, Johan Taljaard se pa. Een Taljaard is met Joop se suster getroud. Jaap en Tokman se pa dink ek was ook 'n broer, maar hy is gou dood aan kanker. Tokman het lank vir RA Bailey gewerk in Lobatse, hulle het 'n redelike plaas daar gehad.
Vraag: Nog 'n karakter waarvan ons niks van weet is nie is Fred Fouché?
JK: Hy het lank vir Veterinary gewerk en het hy 'n baie goeie vrou gehad. Met onafhanklikheid kon mense wat vir Veterinary gewerk het 'n salaris kry teen 'n laer prys, toe bedank hy en is Namibië-toe. Hy het ook lank vir Lampie Visser gewerk en kon hy baie goed sweiswerk doen. Uiteindelik weet ek nie wat het van hom geword nie.
Onderhoud van Willemien le Roux met John & Wilna Kempf, Junie 2016
(Opname JK1-JK3)
JOHN & WILNA KEMPF - Deel 2 van 3
as jy enige kommentaar oor die artikel het.