top of page

SIEKTES, GEBOORTES, BOERERATE, MEDISYNE,

VERPLEGING en STERFTES

Uit staaltjies en vertellings word dit duidelik dat die belangirkste siektes

onderdie eerste intrekkers koors (malaria) en griep was. Dink maar aan

die Groot Griep van 1917, as gevolg. Mense was taai, en het staatgemaak op die trommeltjies Lennon medisyne en boererate. Beserings het voorgekom tydens transporty en jag, en geboortes was so angswekkend dat sommige mans vroegtydig hul vrouens per ossewa vervoer het na Mafikeng, Maun en Gobabis, waar daar laterjare dokters beskikbaar was, selfs hospitale. Daar was ook ‘n paar vrouens wat naam gemaak het as vroedvrouens, byvoorbeeld tant Sannie Lewis, tant Annie Burger en later Magriet Coetzee.

(1) Maun het in 1917 ontstaan en oom Bennie van Staden se familie was daar tydens die Groot Griep. Hy noem twee broers en ‘n swaer wat hulle binne 12 dae uit die huis gedra het, die swaer en een broer selfs op dieselfde dag.

(2) Tant Martjie Goosen het vertel hoe hulle Magiel Vermeulen verpleeg het na die leeuaanval totdat hulle hom Gobabis toe kon vervoer. Jannie Marnewijk het die wonde in die veld behandel met “potaswater” en botter (Kalium permanganaat / Condie’s crystals) sulke pers stukkies.

(3) Oom Jan Burger het vertal dat sy vrou, Annie (gebore Kotze) maar self haar verploog- of dokterskennis aangeleer het. Sy het gereeld medisynes van dokters af laat kom, maar hy konnie meer die name onthou nie. Hy weet weld at sy baie by Hotnots gelee het in Gordonia en by Lehutotu. Hulle bester oat was om “sommer te smeer”. Hy vertel van ‘n keer toe sy dogter Maria as baba stuipe gehad het. Die “Hotnots” het haar met teewater gesmeer totdat “die ding” onder haar nael uitgesweer het. (Die gebruik om te “smeer” het ons nog Ghanzi in die 70erjare teegekom.)

(4) Annie Watcham kon byvoorbeeld ‘n steek agter blad met ‘n bietjie soetolie wegsmeer.

(5) Lettie van Heerden het vertel dat haar ma, Annie Burger, ‘n boek gehad het oor klei pleisters en stoombaddens. Sy het ‘n stoomkassie gehad waarop mense met inflammasie moes sit. Daarna kry hulle ‘n stoom sitbad. Sy het warm en koue klielappe ook gebruik in inflammasie. Volgens Cassie het sy die klei vanaf die panne gebruik. Die klei was tussen twee lappe, en sodra dit droog geword het, het sy weer natgemaak totdat dit nie meer droog geword het nie.

(6) Hugo Lemcke het vertel dat mense dikwels klei van panne gebruik het in bv. longontsteking. Dit word warm gemaak in ‘n sak en opgesit. Sout is ook gebruik. Dit het ook gehelp in ‘n geswelde ledemaat soos ‘n knie.

(7) Annie Burger, so klein as wat sy was, kon baie goed “smeer”. Sy het dit veral gedoen voorgeboortelik, as ‘n baba nie reg gelê het nie. Dit het nie gegaan oor waarmee sy gesmeer het nie, Vicks of ander salf, dit was haar hand wat getel het. Vir rugpyn of ander pyne het sy ook gehelp.

Die ou mense, soos Thys Taljaard se ma, het selfs bloed gelaat. Sy het Hugo Lemcke se hoofpyne verlig deur fyn kerfies op sy slaap te maak en dan ‘n glas warm water daarop te sit. Die hoofpyne was weg!

Hugo Lemcke het vertel dat sy vrou Grieta se neus soms erg gebloei het. Eendag het dit weer by ‘n put gebeur en ‘n swartman het dit gesien. Hy gaan haal toe ‘n paar warm kole en sit dit onder haar neus dat die bloed dan optop en sedertdien het sy nooit gebloei nie.

(8) + (9) Tant Sannie Lewis (gebore Prinsloo) was die eerste bekende vroedvrou met mediese kennis wat Ghanziland binne gekom het. Haar man, die vroegste Christiaan, het kort na hul aankoms aan malaria beswyk. Sy self is in 1938 by Kgoutsa oorlede. Soms het sy en tant Annie Burger saam gewerk, maar afstande was ver en waens stadig. Die gebruik was om ‘n vroedvrou betyds met ‘n wa te gaan haal, dan bly sy totdat alles verby was.

(10) Lettie van Heerden het vertel dat haar ma, Annie Burwer, soms sommer ‘n maand vooraf by ‘n swanger vrou gebly het. Martjie Gower het gesê dat die vroedvrou destyds Balsem Kopiva op ‘n baba se naeltjie gesit het en die naelband toegebind het totdat die nael genees was.

 

Willemein het gehoor dat Annie Burger soms mans gvera het om met die gebeorte te help, seker omdat sy so klein was.

GEBOORTES

Die eerste vroedvrou was tant Sannie Lewis, later ook tant Annie Burger.

(11) Die proses was eenvoudig, gewoonlik sonder komplikasies. Die baba is met gekookte water gewas en die nael geknip. Gewoonlik moes die ma lewensessens drink om enige iets wat agtergebly het, af te brig. (Die gebruik het ons ook in die 70er jare nog by Boesmanvrouens gesien). ‘n Vroedvrou is betyds met ‘n wa gehaal, en dan bly sy totdat alles verby was.

(12) Maar dit het ook gebeur dat baba’s op die trekpad gebore is. Tant Martjie Goosen het die geboorte van haar broer Martiens grafies beskryf. Sy was nege jare toe haar eie ma oorlede is in 1914, die jaar toe Maun se eerste stene gelê is. Vyf jaar later is haar pa weer getroud, met die weduwee van Austin Evans.

Die polisieman wat sy op Kuke ontmoet het. Daar word vertel dat “oom Austin” op sy sterfbed vir sy vrou gese het: “Nooientjie, As Dawid na jou toe kom, vat hom, hy sal kyk na jou”. Dit het so gebeur, maar sy was 42 toe sy haar eersteling verwag het en geen ‘ouvrou’ was bereid om haar te help nie. Toe vervoer Dawid haar en haar stiefkinders met ‘n wa Mafikeng toe, saam met 500 trekbeeste. Gelukkig het hulle saamgetrek met Martjie se oom en nog ‘n trop beeste. Martjie se ouma was saam met haar seun op die pad. Maar die stiefma Nooientjie se ‘rekening’ was uit en by Sekhuma se vlak het die geboortepyne begin. Martjie en die ander kinders was by die ouma se wa toe hulle ingelig is. “Julle het ‘n broertjie, maar hy lyk soos ‘n ou bloukopkoggelmander … net so groot!” Daarvandaan tot in Lobatse het die jong Martjie hom (Martiens) op ‘n kussing gedra bedags tot in Lobatse. ‘n Maand later het hy in sy lang klere 6 pond geweeg.

(13) Bennie van Staden se suster was getroud met die Magiel Taljaard wat op DKAR agtergebly het toe die res teruggetrek het Kaaptoe. Maar Magiel was wel ‘n rukkie saam in sy vrou se eerste kind se geboorte.

(14) Jan Burger het vertel van nog ‘n vroedvrou. Sy was die vrou van die William Camm wat saaam met die Kotze trek vanaf Mies gekom het. Vermoedelik het sy Annie gehelp by die Gemsbokpark want Maria was 2maande oud toe hulle by Lehututu gekom het. Mieta is ook daar gebore, asook Edmond Gower.

BOERERATE (15) (16) (17)

Sannie Lewis het geglo aan mierkeitjie in baie siek kinders, veral vir stuipe. Die gogga word uitgegrawe, fyngemaal en ingegee.

Vir kinkhoes moes die kind vroeg in die oggend bokkraal toe gaan.

Vir masels het hulle bokmis getrek en ingegee om die uitslag uit te bring. “Wat kon ons ander doen?” Oom Albert voeg by, “Die ene glo, daai medisyne moet jou help, dan help hy jou, maar as jy nie daaraan glo nie, dan help hy jou boggerol.”

As ‘n wond baie bloei, maak mens enige twak wat om te trek en sit op. Dit stop die bloed. Dit het ook gehelp in jeukvoet.

Cassie en Lettie van Heerden het mooi vertel van die botteltjies in die Lennontrommeltjies.

Omtrent 10 soorte word deurmekaar gemaak as ‘n kind lastig is. Hulle meng hom so dat een van die soort moet help! Rooilaventel, Entress, Witdukies, Hoffmansdruppels, Wonderkroon, Groen Amara, Wonderliksens, Milktessens, Krampdruppels, Druiwelsdrekdruppels, Doepa. Haarlemensies en Harmansdry is omtrent een soort ding, Balsam Kopiva, Balsem Sulfuris, Jamaikagemmer, Pepermentdruippels. Haarlemensies was uitstekend in jou niere af blaas, maar mense het dit aan hul oë ook gesit, in seer oë af as dit baie juk. Maar hy’s ‘n stinkende ding daardie! Mens het meeste met melk gedrink. Witdulsies en Stuipdruppels word gemeng in ‘n koorsige of struipagtige kind, Witdulsies bevat alkohol, laat hulle slaap. Rooilaventel is gedrink in hart kloppings.

Om ‘n pleister te maak is van die stinkgoed met niervet gemeng. Cassie se ouma Du Plessis het raat gehad as iemand se bors toetrek of ‘n mangelontsteking het. Kopwa, Duiwelsdrek, Katjie poeitjie-olie word gemeng in ‘n pleister wat op die keel gesit word.

Duiwelsdrek het ook gehelp in tandpyn, en ‘n stukkie soos jou pinkie sommer gesluk, het gehelp in bloedvinte, sonder om te proe.

Tant Martjie Goosen het raad gehad vir sweer-ore. Sy het knoffel en soet-olie in haarlemensis saam gegooi en in kinders se ore gesit vir steek-in-die-ore. Martjie Gower het sommer Borstel gebruik.

Cassie het vertel van ‘n beproefde Boesmanraat in steek-in-die-oor, nl. Boesmanton of garingbome (plante). Mens maak ‘n blaar warm by die vuur en draai die sap uit en gooi die in die oor.  Ene Dirk Henry van Maun het daarby gesweer en saam gevat Johannesburg toe.

Lettie vertel dat Annie Lambert Vorster daarvan in Henk se ore gegooi het, toe kom sy seer, branderige oë daarvan reg!

(18) Hugo Lemcke en Grieta Lemcke het vertel van potas (Condy’s Crystals) vir wonde en vir slangbyt. Hulle het ook blousel op bytplekke gebruik, asook warm aswater. ‘n Wortel met kloutjies wat in hoë bloeddruk gebruik is, maar mag nie meer gegrou word nie. (Duiwelsklou?)

(19) Lettie van Heerden het geglo aan aswater van gewone hout-as vir bloedvergifting. Dit trek die kwaad uit die wond.

(20) Vir goor maag as gevolg van te veel vet vleis het hulle hardekool-as in water gebruik. Hardekool-as het skoner gelyk.

STERFTES

Daar word min vertel van gebruike rondom sterftes in die onderhoude. Nogtans is daar op plase baie graftes met en sonder grafstene. Kgoutsa word genoem, asook ou Ghanzi en Eersterus. Dis nou afgesien van kinders, ongelukke met voertuie en skiet- ongelukke (selfs Karel Kotze in later jare). Daarby kom die aantal selfmoorde.

(21) Lena Lemcke het effens na sterftes verwys na haar een seun Chris se sterfte in Gobabis nadat hy van ‘n lorrie afgeval het. Maar die kind is in Gobabis begrawe. Andersins moes huismense maar self die lyke skoon maak en uitlê. Daar was nie doktersertifikate nie.

In 1967 was dit nog gebruiklik dat weduwees lank net swart klere gedra het, bv Grieta Taljaard.

(22) Grieta Lemcke het vertel dat die huismense maar self lyke uitgelê het, geklee in ‘n goeie nagrok of klere. Die oumense het gesorg dat hulle ‘n paar plante in die huis gehou het. Mense is gewoonlik op die plase begrawe en die wittes het saam gekom om te grawe.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

(Bladsye 61 – 74)

(1) (A I 6) Bennie van Staden

(2) (A I 6) Martjie Goosen

(3)  (C I 11) (C II 1) Jan Burger

(4)  (U I 6) Lena Lemcke

(5)  (I II 3) Lettie van Heerden

(6)  (P I 3) Hugo Lemcke

(7)  (P I 6) Grieta & Hugo Lemcke

(8)  (U I 3-5) Lena Lemcke

(9)  (X II 5) Thys Taljaard

(10) (I II 2-3) Lettie van Heerden en Martjie Gower

(11) (U I 3) Lena Lemcke

(12) (A I 5) Martjie Goosen

(13) (A I 7) Martjie Goosen en Bennie van Staden

(14) (C I 8) Jan Burger

(15) (U I 5) Lena en Albert Lemcke

(16) (U I 6) Lena Lemcke

(17) (I I 9-10) (I II 1-2) Cassie en Lettie van Heerden

(18) (P I 3-5) Hugo en Grieta Lemcke

(19) (I II 3) Lettie & Cassie van Heerden

(20) (I II 4) Lettie & Cassie van Heerden

(21) (U I 5) Lena Lemcke

(22) (S II 2) Grieta Lemcke

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page