top of page

BEESTREKKE, VERVOER & SMOKKEL

 

 

Bennie van Staden vertel van die keer in 1930 toe 700 beeste van Burton en Chrisjan Lewis, tydens n beestrek gevrek het van dors. Dit was tydens n droogte gewees. Oom Bennie het net na hulle getrek met 700 beeste, maar hy moes net een dier doodskiet wat nie verder kon loop nie. Dit was aaklig om by bome verby te trek waar tot 35 beeste doodgelê het. Blykbaar het die Burtontrek by Kokong by 'n pan water gesoek. (A I 8) Daar was min water in die putjies en mens en dier het ongeduldig geraak. Toe jaag hulle die beeste pad toe met perde, maar daar het die beeste al begin ingee. Oom Bennie het verby Kokong getrek sodat sy beeste nie die reuk moes kry nie, want by die suiping het 18 doodgelê. Blykbaar moet beeste wat lank dors was, nie te veel drink nie, want dan kry hulle soort suur in die maag.

 

Kassie van Heerden vertel ook daarvan. Hy dink dit was in 1933, en Chrisjan Lewis snr., Magiel Petoors, Andries Petoors en Magiel Vermeulen, was die trekkers. Hulle het bedags getrek in plaas van snags omdat hul gedink het daar sou water wees. (H I 7)

 

Piet Lewis vertel van twee ondervindings. Hy en 'n ervare trekker het met 'n skotskar beesgetrek. Maar die beeste was skrikkerig en die trekker het besluit om liewers om te draai voor almal weghardloop. Hulle het die trop iewers vasgekeer. Hulle sê toe vir die swart drywer van die skotskar en dat hy moes inspan, maar sê nie hulle wil omdraai nie. Hy span toe in en gaan solank verder. (D I 1)

 

Toe hulle dit agterkom, was die kar al 'n hele ent vorentoe en hulle moes maar agterna, van plan om die volgende môre te verdeel. Maar die beeste het aanhou skrik en hardloop totdat 'n hele paar weg was. Piet sou hulle die volgende dag gaan soek, maar toe kry hulle 'n pan vol water en besluit om oor te staan. As gevolg van die vol panne was dit onnodig om snags te trek. Maar toe verdwaal hulle en kom byna op Kang uit in plaas van by Kokong. Almal was ewe dom gewees, en het maar gehoop dis die pad na Kokong.

 

'n Ander keer het hulle in die reën getrek en moes so slaap. Hulle het een bees vasgemaak. Dit was by Kang se vlaktes, maar toe hulle opstaan, was al die beeste weg! Piet wou nie opstaan nie, want dan loop die reënwater in die holte wat hy vir sy heupe gemaak het!  Gelukkig het die beeste net 'n entjie weg gelê en herkou. Hulle het 'n kannetjie koffie gehad wat langs die vuur gestaan het. In die nag moes 'n geitjie ingeval het. Toe hulle van die beeste terugkom, het Piet sy beker leeggedrink, maar sy maat het meer gehad. Hulle het rug teen rug gesit en drink. Die maat het die koffiemoer in sy mond gehou om later te byt vir 'n smakie. Toe hy weer die koffie deur die moer syg, beland die goudgeel geitjie op sy lippe!

(D II 1-2)

 

Ons het nou gelees van die groot droogte in die Depressie. Blykbaar het dit in 1934 baie gereën. Maar tot in 1938 was daar min geriewe op die trekpad. (Die ouer trekkers sê deesdae se trekke is 'n pieniek). Kassie van Heerden se die laaste trop beeste wat hy deurgetrek het was in 1938 vir Joey Coetzee. (H II 3) Hugo Lemcke se vertelling dateer seker uit die dertigerjare, toe dit nog moeilik was. Hulle kon die trekbeeste op Ghanzies laat drink en dan eers weer op Lehututu, 150 myl verder. As hulle gelukkig was kon hulle reënwater by 'n Indiër op Kokong kry, anders moes hulle deurtrek na Mokang. Sy rygoed was 'n pakdonkie, dus kon hy nie beddegoed, ketels, panne of potte laai nie. Slaapgoed was net die jas voor op jou saal en jou saalkleedjie. Hulle moes boonop deur die nag getrek het. (R I 4)

 

Hugo vertel van 'n keer toe hy op Okwa van vooraf sy swaer Chrisjan Lewis raakgeloop het. Dit was net nadat bek-en-klou opgehef was. Hy het slagosse gaan aflewer en was op pad huistoe. Hugo het hom omgepraat om saam te trek, “en daar’t ek gesien 'n man loop en slaap…”. Ryker mense  soos Chrisjan snr., het 'n skotskar begin gebruik en later so 'n “soort van lorrietjie”.

 

Booy Kotze het ook vertel van die pakdonkies wat hy in die begin gebruik het. (VI 7-10) Hy moes 130 myl vêr 4 gallon kanne water vervoer met paksaals op die donkies (Hy lag want deesdae kan trekkers nie eens met 2 dromme water klaarkom nie!)

 

Twee ekstra volk moes die pakwerk doen, wat mieliemeel en voorrade ingesluit het soos suiker, tee en koffie. Die enigste medisyne was Mag-asperien vir kopseer. Booy self het heelpad perd gery en die dier gelei as hy moeg was. Hy het ook vertêl hoe hulle snags getrek het, maar dat daar nie leeus was nie. Daar was swart statte langs die pad, soos by Lehututu en Kokong. Hulle het dan mense gehuur om die beeste water te gee, uit putte. Dikwels was die water sout of brak.

 

Booy vertel van die enigste keer dat beeste weggehardloop het. Hy het met 400 osse getrek van Bailey’s op Maun. (V I 9-10) So tienuur se kant in die nag het die enigste perd onrustig geword. Daar was drie leeus wat ook met die pad aangekom het en die 400 osse spring om en hardloop terug. Booy het te perd drie klompe beeste bymekaar gemaak en tussen vure laat staan. Naderhand was daar nog 60 kort en hy gee toe 'n swarte kos en water en sit hom op die spoor. Toe die man op Okwa kom, het die leeus die enigste wit os gevang gehad. Die res het hy teruggevat plaastoe want Booy was vort met die res. 'n Ander keer waa Booy ook op pad met donkies wat waterdra. Een nag skrik die beeste en die donkies gooi die kanne af. Dit was die nag voor Kersfees gewees. Dit was te ver om terug te gaan vir water en Booy was moedeloos. Twaalfuur die middag lê hy onder bome en sien 'n duif aangevlieg kom na 'n witgatboom. Daar MOES water naby wees!  Hy kry toe 'n kalklaagtetjie met water in die gate en kon sy kanne volmaak en aangaan! (V II 1)

 

Eenkeer het Booy met ossewas getrek, vanaf Ngamiland met voorrade. Daar was water onder die wa, maar as gevolg van 'n klipperige pad het die kraan gebreek en al die water het uitgeloop. Hy moes nog 100 myl verder gaan, maar hoe? Die osse was weg en hy het hulle gaan soek. Hulle het soos in 'n pad agtermekaar geloop en begin wei. Daar was klei aan hul voete! Hy het op hul spoor gegaan, en 'n kol groen gras gekry en helder skoon water van n vorige reenbui! (R II 11) 

 

Hardbattle het as polisieman ingekom, sover ek verstaan vanaf Rhodesie.  Ek lei af hy was een van talle Britse polisie wat na Betsjoeanaland verplaas is van tyd tot tyd. Hugo vertel dat hoewel Hardbattle later die meeste plase op Ghanzi besit het, hy baie suinig was. Hy het sonder huis, of 'n bed of 'n stoel reggekom en van dikmelk gelewe! Hugo het hom die eerste keer gesien geklee in 'n velbroek en 'n stuk hemp met sakke soos Boesmans dra oor sy skouers. Hy het eenkeer van Maun na Ghanzi in Hugo se transportlorrie saamgery, maar omdat sy voete vol blase was van die lorrie se warm vloer, het hy geweier om te betaal.

(R II 11)

 

Namate voertuie meer algemeen geword het, het ook Hardbattle 'n bakkie aangeskaf - 'n Jeep. Voor sy pondok was n groot kameeldoringboom en hy het sy voertuig daaraan vasgesluit met trekkettings. Toe Hugo Lemcke in 1928 gehelp het om Boere se besittings vanuit Angola na Suidwesafrika terug te bring, was hy nog 'n jong seun. (R I 8) Die konvooi het uit omtrent 50 lorries vanaf Swartbooisdrif bestaan en saans het almal saamgekuier. Hugo sê dit was die helfte van Suidwes se latere bevolking! Hy onthou name soos Du Plessis, Swarts, Groblers, Alberts. Hugo het 'n vermoede gehad dat die mense teruggebring was om vir die Hertzog regering te stem …

 

Grieta Lemcke vertel dat haar ma se broer, Gert Drotsky, soms aan vallende siekte gely het.  (R I 7-8)  Sy ou wit perd was afgerig. Gert het sonder buikgord gery sodat hy met die saal kon afval as hy 'n aanval kry.  Dan staan die perd en wag tot hy bykom en weer kan opklim. Ryperde het pal by die huise gestaan en voer is aangedra. Die meisiekinders het ook perde gehad en soms heelnag by die bure gaan dans.

 

Hugo het leeujagte vergelyk met latere bakkietogte. Eers was dit net die ruiter met sy hond wat te perd 'n probleem leeu gaan soek het. Met 'n bakkie moet 'n mens brandstof, water, honde, en saamryers vervoer.  Charlie Sharp het die eerste motorkar ingevoer, 'n Chev, op Kalkfontien. Hy het soms Gobabis toe gery daarmee.

 

Iemand van wie ons min weet is Andy Malone. Hy lê (R II 7-8) langs die ou gruispad verby ou Gantsi begrawe in 'n ongemerkte graf bedek met klippe. Die plek is nie omhein nie. Die storie is maar so, maar kan seker opgevolg word: Smith (later Burton) en sy pa in Nieu-Zeeland, kon nie regkom nie en toe loop die 14 jarige seun weg. Op' n skip het hy die Burtons raakgeloop en hulle het hom aangeneem. In die suide van Betsjoeanaland het Burton vir Andy Malone, 'n Australier, raakgeloop en bevriend. Malone was 'n geweersmid wat met 'n skotskar rondgetrek het. Later was Gobogobo, naby Dekar sy plaas gewees. Hoewel hy nooit getrou het nie, was hy baie lief vir kinders gewees. Toe hy later siek van Maun af gekom het, is hy by Burton verpleeg en daar begrawe.

 

Andy Malone het 'n 1 en 'n half ton Fordbakkie by Amerikaners op Maun gekoop, maar Hugo het dit bestuur omdat Malone nie kon nie. Hugo se baie mense het op die lorrietjie geleer bestuur onder sy sorg! Eintlik het Andy dit vir Burton gekoop, maar Hugo moes vir hom bestuur. Toe Hugo nie die pad van Maun af geken het nie, het hy Andy gevra maar die het gesê: "Die motorkar moet mos weet!" Burton het alles van hom af geerf.

 

Albert Lemcke was nog arm gewees toe boetie Hugo by hom aangesluit het. Na die eerste bek-en-kloutyd, wat drie jaar aangehou het het hulle met beeste begin spekuleer. In 1937 het hulle die eerste lorrie gekoop en omdat daar nie winkels op Ghanzi was nie het hulle veral klerasie vanaf Gobabis begin smous. In 1938 het die boere begin room en hulle het die room aangery Gobabis toe teen 'n sjieling 'n kan. Dit het goed gegaan en hulle het 'n tweede lorrie, 'n Diamond T, gekoop en toe het hulle vanaf Gobabis tot by Maun transport gery - na Ghanzi vir kontant, maar na Maun vir spekulasiebeeste. Die beeste is oor die suidegrens gesmokkel, oor die kwarantyngrens by Ramathlabama.

 

Met die twee lorries het die broers so goed gedoen dat Maun se groot transportryer, Riley, met hulle 'n maatskappy gestig het. (R I 5-6) Toe moes hulle sewe lorries op die pad hou. Veral in die oorlogsjare was onderdele moeilik bekombaar en elke tog was 'n avontuur om tuis te kom. Hulle ritte was na Gobabis, Mahalapye, Livingstone en baie ander. Hulle het die Regeringstransport ook gedoen en pos aangery en het die monopolie gehad. Hugo se "engineering" opleiding in Gobabis as jong seun, het goed te pas gekom. Hugo beskryf probleme langs die ou paaie, eintlik wapaaie, baie grafies. Vandag word die engin van 'n kar wat "bearings" geslaan het, uitgebou en weggestuur. Hulle moes self planne maak en Hugo was trots daarop dat in al die tyd wat hy en broer Albert gery het, nie een die ander een moes gaan soek het nie - elkeen bring sy lorrie!

 

"As die lorrie 'n "bearing" slaan, dan maak ons maar net 'n ou vuurtjie, en die soldeerbout is daarin en dit word uitgebou en dan word hy ingesmelt en dan met die mes word dit reggekrap en dan word dit weer ingesit". (Die "dit" waarna hy verwys is blykbaar wit metaal wat hulle in Suidwes bekom het. (R I 5-6) Ek het elders vertel van probleme gedurende die oorlog wat die twee Duitse broers teëgekom het. Daar is ook stories oor siek kinders tydens ritte en 'n vakansie na Livingstone. Blykbaar het die broers goed geld gemaak gedurende die oorlog, maar daarna het hulle die "speul opgegooi". Die rede was probleme om onderdele en bande in die hande te kry. (R I 6)

 

Kom ons noem dit eerder oorlewing as smokkel. Dit was net na die `33 droogte en bek-en-klou dat die Lemcke broers begin spekuleer het. Hulle het net 60pond gehad, maar kon 'n os koop vir 5pond. Die beeste het hulle na `36 aangejaag na die suide en dan die kwarantyndraad gesmokkel om in die Unie te verkoop.

 

Hugo vertel wat 'n neef van Marnewick tydens die bek-en-klou oorgekom het. Daar was gevestigde Griekse besigheidsmense op Maun gewees. Die man het die plaas Kobe geerf, teenaan die Ngamilandgrense, naby Ben Visser se latere plaas. (Ek dink 'n groot pan is op die plaas en huidiglik boer Chris Gower daar). Toe koop hy op skuld by die Grieke 400 jong osse en pas hulle vir twee jaar op. Dit was (S I 3) nog bek-en-klou tyd toe die Grieke hul geld wou hê, en hy kon nie betaal nie. Hulle het " 'n soort van vendusie", kom hou. Die beeste het "vir niks", gegaan nie. "Hy is uit die bees uit, hy is uit die plaas uit, hy's uit alles uit". Die Griek se naam was Giorgio of Giriacho.

 

Dieselfde smokkelaar het tydens 'n latere bek-en-klou veeinspekteur geword, in die 50'erjare. (S I 3) "Daai jare was hier nog nie geld in die land nie. As bek-en-klou uitbreek het jy maar niks. Jy moet maar uitspring om 'n lewe te kry. Ons het kamma bek-en-klou gesoek tussen die bees. Rondgery van plaas na plaas tot teen die grens. As jy kry moes jy dit rapporteer maar daar is absoluut niks gekry nie".

 

Hugo Lemcke het 'n paar stelle afgetrap, met waterwysers en aanjaers, toe hy vir Jim Riley gehelp beestrek het. Maar die swartes het hom nooit aangeval nie. Een more in die Kalahari, het hy egter wakker geword met omtrent 40 swartes om hom, gewapen met byle, stokke en kieries. Toe sê hulle Riley het die leeu van Ghanzi saamgebring om hulle dood te maak. Maar toe hy met sy geweer in die bek van die slaap kraaltjie gaan staan het, het niemand nadergekom nie.

 

In Maun se omgewing moes Hugo met 1,600 beeste trek. Hy het net vir Spanaka? en 'n Boesman gehad om hom te help, en die opdrag was om net 15myl per dag te trek (P II 8) met die beeste en in 'n goeie kondisie af te lewer. Op 'n dag weier sy helpers om verder te gaan, hulle wou haastiger trek! 'n Sersant het hulle kom dwing om aan te gaan. Veral as hulle met n lorrie Livingstone toe aangejaag het, het Grieta met klein Hugo en 'n bediende, Elsie, saamgetrek. Dan het groot Hugo omtrent 15myl vooruit gery en die beeste tegemoet gestap terwyl Grieta-hulle by die lorrie gewag het. Leeus was volop. Eenkeer het 'n groep wilde Boesmans hulle aan haar lang hare verwonder. Elsie was bang hulle sal Grieta steel, die eerste witvrou wat hulle gesien het.

 

Eenkeer op pad terug van Livingstone het 'n groot olifant voor die lorrie in dik sand gelê. Eers toe Hugo toet, het die dier opgestaan en sand soos 'n kombers afgeskud. Sand het uit sy ore geval! Grieta was bang hy sou die lorrie omstamp en klim toe uit, net om te sien sy lang slurp hang oor haar kant! Die lorrieboys agterop wou van skrik doodgaan. Na 'n ruk het die dier getrompetter en weggestap. Hoewel Hugo nooit so skade gekry het nie, het hy eenkeer op Fanie van Staden se platgetrapte kar afgekom … (P II 10)

 

Hugo Lemcke het ook soms pos gery tussen Gobabis en Ghanzi, want hy en Albert het al die Regering se transport gery.  Die pos is in groot seilsakke vervoer, plus 'n paar mense se privaatsakke. Die lorries het sommer dadelik die posvervoer oorgeneem in plaas van Fanie Lewis dit met die donkiekar aangery het.  Hulle moes die ou swaarsand (P II 12) wapaaie gebruik. In die reëntyd het hulle eenkeer vir 2 maande op Sandfontein vasgeval. 24 Donkies van naby boere het meer vasgeval as die lorries self! Hulle moes maar wag tot die modder opdroog, en kannie eers oorlaai nie.

 

Thys Taljaard vertel grafies van 'n mislukte beestrek, toe mense nog 'n skotskar gebruik het. (Y 5-6) Micheal Adams se oupa en Andries Petoors het met 500 uitsoek-osse getrek. ('n Skotskar is deur 'n os getrek, het net 2 wiele gehad en het 'n kap of tent gehad).

 

Nogae was 'n waterput 25myl reg suidwes van Ghanzi af, voor 'n mens die ou Kalahari ingaan. Die twee oumanne het in die skotskar gelê en gesels terwyl hul nie-blankes die osse aanjaag. Hul doelwit was Sandputs aan die Hanahairivier. (Y 6) Hulle het tot by Okwa gekom en gehoor 'n pannetjie Draai het vol water gelê. Die osse was toe al 3-4 dae sonder water. Toe die osse die water ruik, het hulle gestorm en in die pannetjie se modder gemaal en getrap. Daar was nie 'n druppel om te drink nie en die ooms het besluit om om te draai. Toe die osse agterkom hulle gaan huistoe, het hulle begin hardloop in die warm son. Die skotskar, die mense te voet en die perde, kon nie bybly nie. Die osse het net een koers geken - terug na die plase waar hulle gekoop was. Omtrent 10 myl anderkant Okwa het die osse begin ingee en onder bome ingekruip, dood van die dors. Onder 50 beeste het onder een witgatboom gevrek. Petoors en Adams se beeste se bene lê vandag nog daar … die reuk was glo vreeslik.

 

Thys vertel nog so 'n storie oor Charlie Sharp se broer, Frank. Hy het van Tsau af met beeste getrek tot by Kobie waar daar 'n put was. Dit was n breë "gaat". Tot vier mense kon water skep en aangee om in 'n krip uit te gooi. Frank het ook so in die "kar" gelê, terwyl 'n klompie Ngami swartes wat nie die wêreld geken het nie, moes aanjaag. Die beeste (Y 6) was reeds 2 dae sonder water en het begin hardloop toe hulle die water se reuk kry. Hulle het op die put toegesak tot daar nie meer 'n put was nie. 75 Beeste het in die gat bly lê.

 

Jan Burger het so verduidelik van die pad tussen Ghanzi en Lehututu toe hulle in 1918 (C II 8), ingetrek het.  Daar was n waspoor, maar vanaf Noga was daar nie water voor Okwa nie, gevolg deur n 35 myl "dors", tot by Lehututu.

 

_________________________________

 

Uit onderhoud met:

 

(A I 8) Bennie van Staden

(H I 7) Kassie van Heerden

(D I 1) Piet Lewis

(D II 1-2) Piet Lewis

(H II 3) Kassie van Heerden

(R I 4) Hugo Lemcke

(V I 7-10) Booy Kotze

(V I 9-10) Booy Kotze

(V II 1) Booy Kotze

(R II 11) Hugo Lemcke

(R I 8) Hugo Lemcke

(R I 7-8) Hugo Lemcke

(R II 7-8) Hugo Lemcke

(R I 5-6) Hugo Lemcke

(R I 5-6) Hugo & Grieta Lemcke

(R I 2) Hugo Lemcke

(S I 3) Hugo Lemcke

(P II 8) Hugo Lemcke

(P II 10) Grieta Lemcke

(P II 10) Hugo Lemcke

(P II 12) Hugo Lemcke

(Y 5-6) Thys Taljaard

(Y 6) Thys Taljaard

(C II 8) Jan Burger

Print asb uit vir die ou mensies om ook te lees

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page