top of page

Drotsky Familie

Geskryf deur Ben Olivier

30 September 1969

 

Ons het in 1894 van die Vrystaat af getrek, van Bethulie met die trein gekom. Ons waens en huisraad op die trein gelaai en die familie, ons ouers en die kinders. Ons was drie broers en vyf susters, ons oudtse broer was getroud en hy het daar agtergebly. Ons het met die trein tot op Vryburg gery, die trein het toe nog net tot op Vryburg geloop. My pa het toe daar osse gekoop, toe het ons met die waens getrek tot op Mareetsane en daar gebly. Die mans het toe eers almal hierheen gekom om elkeen sy plaas uit te soek. Hulle het ses maande weggebly.

 

Toe het die Runderpes uitgebreek en die beeste van die mense is toe dood, die meeste mense het toe maar terug getrek. Dit was vreeslik gewees om te sien, party mense het nie een oorgehou nie, party het weer een of twee gehad wat deurgekom het. Ons het toe daar gebly tot in Mei 1898. My vader het toe eers twee spanne osse in die Vrystaat gaan koop.

 

Ons het toe begin trek vanaf Mafikeng af hierheen. Ons was maar veertien huisgesinne wat hierheen getrek het. Ons het van Mafikeng af oor Palapye, Rakops en Tsau getrek. By die eerste water het drie van ons osse gevrek, toe het elke wa net sestien osse gehad. Die waens was baie swaar gelaai en het ons twaalf-duisend-agt-honderd pond transport van Palapye af op gehad van die Gowerment, en dan nog ons eie goed ook. Dit was baie droog gewees en daar was ook nie gras nie en die osse was baie maer gewees.

 

Ons het baie swaar gekry daardie tyd, daar was omtrent geen pad nie. Party plekke het ons in die rivier langs die water gery oor die swaar walle. Ons het toe ons goed afgelaai, anderkant Rakops en tent opgeslaan. My pa het toe die goed gaan aflaai en met een wa teruggekom en ons met ons goed kom oplaai, my moeder en ons vier kinders. My broer was dertien jaar, ek was elf jaar, die een suster was agt jaar en die jongste broertjie was vyf jaar oud. Van die ander kinders is in Mafikeng getroud. My een broer het nie saam met die trekkers gekom nie. Ons het die 7de Oktober 1898 in Ghanzi aangekom. Op die 26ste Desember 1898 is my vader weer terug om hulle te gaan haal.

 

Op Tsau het my pa die een wa en osse verkoop en vir ons ‘n paar hondred kleinvee en ‘n paar koeie gekoop. Toe ons in Ghanzi kom, die 7de Oktober 1898, het my pa eers vir ons ‘n huisie gemaak, want hy moes toe teruggaan om my broer en sy vrou in Zeerust te gaan haal. Ons het toe nie geweet dat hulle alreeds dood is nie, hulle het net ‘n ses maande oue baba nagelaat. Ons plaas wat my vader uitgesoek het was Ghanzi, die plaas waar die van Zyl murasie op was.

Print asb uit en deel met ander om te lees

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page