top of page

Othou julle nog om te deel met die ou mensies ?

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

Vraag: Kan Oom Fanie sê in watter jaar die Burgers hierheen gekom het?

OF: Omtrent 1918

 

Vraag: Daardie tyd sê Oom was daar net Boesmans hier, nie eintlik Tswanas en Swartes nie, toe Oom nou gebore is en grootgeword het?

OF: Daar was nie eintlik baie van die swartes gewees nie, hulle was baie min. Soos hierdie plek ?.. daar het Barolongs gebly, Kalkfontein was eintlik ‘n Kalahariplek gewees, en dan daar bo teen die grens, Makunda, dit was die Damaras s’n gewees. Maar hierdie baie-baie swartes wat vandag hier is, dit was maar met die jare en so, maar van ander plekke af ingekom. Ek sal sê in daardie jare was die swartes, die Barolongs, die Kalahari’s en die Damaras en die Blankes, hulle was min of meer gelykop gewees.

 

Vraag: En die Boesmans?

OF: Nee, die Boesmans was baie gewees, dit was maar eintlik al Boesmanstreek gewees. Maar die Boesmannasie het eintlik van die blankes hier is so vermeerder. Hulle het mekaar baie uitgemoor, die Boesmans, veral die Makoukouboesmans … hulle het sulke strooptogte gevat en dan jaag hulle die ander tot so vêr as wat hulle kom. Eintlik van die regering nou hier is het hulle nou heeltemal daardie manier van hulle gelos.

 

Vraag: Nee, ek het altyd gedink hulle is vreedsame mense wat nooit baklei nie …

OF: Nee, hulle’t mekaar uitgemoor!

 

Vraag: Dis nou voor die blankes hier was, of gedurende dié tye ook?

OF: Tyd en wyl ons as kinders gewees het, toe ek en sy getroud is, het ‘n Boesman by ons gewerk wat uit Makaokoland, hier uit die Noorde uit, gevlug het terwille van moord … vir wat hy nou daar aangevang het mag hy nie weer teruggegaan het nie.

 

Vraag: Die Boesmans, wat toe nou hier gebly het, het hulle maar vanselfsprekend by die boere gebly en gewerk, of het hulle nog maar op hulle manier aangegaan?

OF: Ja, maar eintlik sal ek nou sê, dit was nie eintlik vir kos gewees nie. Die Boesman was baie onafhanklik gewees. Die grootste is eintlik maar vir twak en so aan, maar nie vir kos nie. Hy was baie onafhanklik van die blanke gewees vir kos want hy was ‘n jagter, hy is maar ‘n jagter gebore, hulle het meer van vleis, marambas en veldkos en so aan gelewe. Eintlik moet ek sê, as kinders het ons baie werksvolk gehad, daar was nooit eintlik gewees dat ‘n persoon tekort aan werksvolk gehad het nie. In daardie tyd het elkeen sy klompie werksvolk gehad, die een het nie die ander een s’n gehuur of so nie, hy’t ook nie by ‘n ander gaan werk nie.

 

Vraag: My hene, en as hy jou kwaad gemaak het, Oom Fanie?

OF: As hy jou kwaad gemaak het, het hy sy pak gekry en hy’t dit gedra en dit was glad heeltemal anderste as vandag. Soos ek jou sê, die boere van daardie tyd het elkeen sy eie volk gehad. Die een boer het nie die ander een s’n gehuur nie, hy het ook nie by die een gaan werk soek nie. In elk geval hy het dit ook nie nodig gehad nie, hy het na sy eie baas toe teruggekom. Maar daar was tye wat dit gebeure het dat die werksvolk ook wegloop, en so aan. Dan moes ‘n mens hulle gaan soek ... jy gaan soek hulle en bring hulle weer terug.

TM: Hulle loop nou nie meer so weg nie.

OF: Hulle loop nie meer vandag so weg nie, wel hulle sê net vir jou hulle loop, maar daardie tyd het hulle weggeloop … as jy opstaan is hy net weg.

 

Vraag: So dit was nou eintlik maar hulle geaardheid gewees.

OF: Ja, in daardie tyd het ‘n Boesman eintlik nie vir geld gewerk nie. In daardie tye, sal ek jou sê, hier was net nie geld gewees nie. En die Boesman was beter gebehandel, hy’t ‘n beter behandeling gehad as wat hy vandag het. Terwyl, hy kry vandag sy geld, maar gaan drink dit uit, jy weet.   Daardie tyd was daar nie soiets as drank vir hulle nie. En dagga wat hulle nou vandag so streng op is, was ‘n rantsoen, elke boer het sy dagga gehad as rantsoen vir die mense.

 

Vraag: Kyk nou hoe interessant. Nou het hulle dit geplant, of wat?

OF: Ja, hulle het dit self geplant ook, eintlik het die mense baie dagga van Ngamiland af gekry ook.   As hulle afgaan, dis waarvan ons eintlik ons kos vandaan gekry het, was van Ngamiland af.

 

Vraag: Is dit waar die naam Daggakamp vandaan kom?

OF: Ek weet nie waarvanaf kom hy nie. Ja, dit was hulle rantsoen. Elke week het hulle hulle dagga gekry, net soos ons vandag ons volk hier ‘n rantsoen van twak gee.

 

Vraag: Nou wanneer het dié ding toe opgehou?

OF: Ek kan nie sê nie.

TM: Met die polisie …

OF: Ja, maar dit is baie later van jare wat dié ding heeltemal tot stop gebring is hierso.

 

Vraag: Die Boesmans, was hulle nou so half deel van die familie, klink dit? Ek bedoel, hulle het in die huis gewerk en dan nog ook die boer gehelp?

OF: Ja, hulle het nou, dieselfde as vandag, maar daar afsonderlik gebly. Hulle het nou nie saam met die blankes gebly nie, maar soos ek jou sê, sy lewe was beter as wat hulle vandag lewe.

TM: As jy sien hy’t nie ‘n kombers nie, gee jy hom ‘n kombers, as jy sien hy het iets nodig …

OF: As jy sien hy het nie klere nie, gee jy hom ‘n broek, jy gee hom als wat hy nodig het.

 

Vraag: Nou is dit nie waar hulle aan die manier kom om te verwag dat jy vir hulle alles moet gee nie, of hy nou geld kry of nie?

Of: Moontlik ja, hulle het baie beter behandeling gehad daardie tye as wat hulle vandag het.

 

Vraag: Hoeveel sulke Boesmans het ‘n mens dan op jou plaas gehad?

OF: In daardie tye, sal ek jou sê, jy kan nie sê nie, maar ons het seker nooit minder as ses of agt of tien volk gehad wat gewerk het nie.

 

Vraag: Was daar nog baie in die reservate, of was die meeste van hulle maar hier rond gewees?

OF: Hulle was maar meeste hier op die plase gewees. Daar was maar net sekere plekke waar hulle in die winter kon gebly het, waar water is en so aan. Nou verder het hulle maar altyd hier op die plase gebly. Dis ook gedeeltelik; hier van Kgoutsa af soontoe was Makaoko-boesmans gewees en dan weer van die Kamp af hiernatoe was weer die !Naro-Boesmans gewees. Die verskillende nasies.

 

Vraag: Daar was seker nie vir almal werk nie, daar was seker te veel hier op die plase rond. Het die res nou maar gejag, of wat het hulle gedoen?

OF: Die wat hier op die plase rond gewees het, was maar algar besig gewees en by die mense gebly en so aan. As hulle nie hier op die plase gebly het nie, dan het hulle Kakaokoveld toe gegaan, dis nou die Noorde, daar in die Kaokoveld in.

TM: Hulle het nie so baie hier gebly as wat hulle nou hier bly nie. Elke boer het net sy werksvolk gehad, hier was nie baie leegleêrs nie.

OF: Hier was eintlik glad nie leeglêers nie.

TM: As jy wil volk hê dan gaan haal jy maar.

 

Vraag: Wanneer het die probleem toe begin ontstaan, toe die jag minder geword het? Wanneer het die leeglêers ingekom?

OF: Ek dink hierdie probleem van die baie Boesmans is maar net, hoe kan ek nou sê, van die boerdery van die mense nou sterker geword het, en so aan

TM: En die drade span, jy weet, en al daai werk vat meer volk … vroëer tyd het hulle mos geen drade gehad nie, hulle het maar takkrale gemaak.

OF: Maar die Boesmannasie, hulle was maar min gewees, jong, hulle het algar maar hier by die mense gewerk en so aan. Soos ek jou sê, die wat nie gewerk het nie, het maar meer in die Kaokoveld aangegaan.

 

Vraag: Het die Kaokaveld verband met die een in Suidwes?

OF: Ja, hy kom daarvandaan, hy loop so half in die Groot Laagte in, hy kry seker sy naam van die Makaoko-Boesmans af. En dan het baie van die Boesmans hier uit Ngamiland uitgekom. Die Boesmannasie het eintlik baie vermeerder vandat hulle in die beskawing gekom het. ‘n Boesman, moet ek vir jou sê, het eintlik nie meer as twee of drie kinders gehad nie.

TM: Ja, hulle het self mekaar uitgemoor.

OF: Ja, nie juis net tweelinge nie, hulle het sommer as ‘n kind nog klein is en daar kom weer een, dan het hulle hom doodgemaak.

TM: As hulle stry onder mekaar kry, die Makaokoes(?), dan maak hulle sommer ‘n stat dood. Die een kant maak sommer almal aan die ander kant dood.

OF: !Xa-a het nog gevlug toe hy hier by ons kom werk het. Hy is ‘n Boesman wat terwille van Boesmandood-makery daar uit Kaokoland uit hiernatoe gevlug het.

 

Vraag: Toe Oom Fanie se ma (Tant Gerrie Lewis) destyds vergewe is, wat het gebeur? Het hulle haar gevang?

OF: Ja, sy is anderdag in die tronk dood. Die ander Boesmans wat die nag saam met haar gevlug het is eintlik teruggebring, want dit was ‘n hele paar jaar na die ding dat dit eers uitgevind was.

TM: Maar dit was nie sy (Tant Gerrie Lewis) wat die Boesmantjie geslaan het nie, hy’t anderdag so gesê. Dit was sy oorlede pa gewees. Hulle het toe wraak geneem, so het Tant Lenie-hulle vir my gesê.

OF: Maar vandag hoor jy nie meer dat hulle mekaar so doodmaak nie.

TM: Ag, hulle is ook nie meer so wild nie. Vroeër dae … veral die Makaoko, hulle was rêrig wild.

 

Vraag: Het die ou boere enigsins probeer om die Boesmans op te hef, of is hulle maar so aanvaar?

TM: Ag, ‘n mens leer hulle mos maar, met werk en so en hoe om vir jou te sê, en alles wat jy nou wil hê probeer jy hulle nou maar leer …

OF: Kyk, in daardie tye, toe dit nog so onbeskaaf was, kan ‘n mens maar sê, was dit vir die boer ook maar ‘n groot probleem gewees. Hier was nie windpompe gewees nie, was nie trekkers nie, hier was nie boorgate gewees nie, nie motorkare gewees nie. Wat die Boesmans wel baie vernuftig was om te leer, is om te skiet.

TM: Ja, die ding is hulle kon skiet met die pyl en boog, daarmee was hulle baie vernuftig , en hulle kon nogal baie goed skiet ook met die geweer.

 

Vraag: Watter rol het die Boesmans by die huisgodsdiens van die ou Boere gespeel?

OF: Dit kan ek nie vir jou sê nie, ek was nog te klein.

TM: My Pa-hulle, en my oupa-hulle, hulle het dit gedoen. Dan moes die Boesmans daar sit, maar hulle het nou meer Hottentots gehad.

 

Vraag: Hoe het die boere en Boesmans gepraat in daardie eerste tyd, voordat die eerste kinders leer Boesmantaal praat het?

OF: Die weet ek juis nie hoe het hulle met mekaar klaargekom nie. Vroeër dae was daar baie meer Boesmans wat Afrikaans kon praat as vandag, hulle het vinniger geleer as die witmense. Nie een van die witmense, behalwe oorlede Oom Johan, is al wat die Boesmantaal kon praat.

  

Onderhoud van Willemien le Roux met Oom Fanie & Tant Maria (neé Burger) Lewis

(Band G I)

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

OOM FANIE & TANT MARIA LEWIS 

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page