Thys Taljaard
ONDERHOUD MET THYS TALJAARD, GHANZI, 1980.
DEEL 1
Vraag: Vertel my van hoe julle ou Dekar ontwikkel het?
TT: Daai ou geboue was uitgebou met klippe, eers bakstene gemaak en daarvandaan uitgemessel, mooi uitgemessel met bakstene wat ek mooi gepas het op die klippe, tot waar die klippe ophou het ons almal verder gebou met bakstene, tot bo. Daardie ou huis se mure was 11 voet hoog, onder die balk. Ja, en sy balke is als gesaag daar in die Okavango. Kiaathout. Hy’t ‘n grasdak gehad, so ‘n grasdak-veranda, en toe ons nou groter word (jy weet hy het maar hoeveel … twee slaapkamers, die oumense het mos nie eintlik geglo in ‘n groot huis nie), toe het ek en my broer daai veranda uitgemessel in twee slaapkamers en dan so ‘n verandatjie tussen die slaapkamers. En toe die ou grasdak ingee, toe sit ons hom ‘n sinkdak op. Die oukêrel het net allenig gebou, jy weet, hy kap sy klippe dan sit hy en kap sy klippe dan sit hy hom bo-op die steier, dan maak hy sy klei aan, en sit hulle bo-op, dan klim hy op en dan messel hy. Ek was seker al omtrent tien jaar oud gewees, jy weet toe die huis eers klaar was. Alleen gebou, want die ou Boesmans was maar nog so dom gewees, jy weet jy kon nie eintlik iets verwag van hul nie, en swak ook, jy weet. Hulle kon nie daai groot klippe optel, en daar bo op die steier sit nie. Hy’t daai klippe met ‘n beitel en ‘n 4 lb. hamer gedress. Nou toe ek nou groot was, jy weet, toe het die N.G. Kerk het al die mense, jy weet in Ghanzi saamgestaan, ja, daar moet ‘n kerk gebou word, jy weet, ‘n Ds. Loubscher, ek weet nie of jy weet van hom nie. Hy was die ou dominee, hy’t drie maande by ons in die huis kom bly.
Die ou kremetartboom het ons gekry van Ngamiland af. Daar’s ‘n motorpad en die wapad gaan onder een so ‘n ou groot kremetartboom deur. Dan vat ons daai peule jy weet, dan word hulle nou afgesuig ons maak ‘n klomp uit en kook hulle af, dan sif jy hulle maar deur ‘n fyn sif, dat al daai gare en goed agterbly, dan word daar suiker ingegooi en dan maak jy ‘n lekker bier van daai goed, koeldrank. Op die manier het die pitte daar opgekom, my oorlede ma het hom daar geplant.Baie bome, perskes ook. Maar ons was af gewees, jy weet, Transvaal toe, ons het lank daar versuim, omtrent drie-vier maande. Toe ons terugkom toe het die ou Boesmans jy weet nooit die goed natgegooi nie, want toe moet jy nog met die ou rol water uitgooi, nie met windpompe of masjiene of so nie, nooit die goed natgegooi, hulle het droogte gely in daai tyd. Toe het die rysmiere hulle beginne vreet, die wortels. Toe’t my oorlede hulle als daar uitgehaal, weggegooi. Ons het daar lemoene gehad, en wat is hierdie ander goed, wat hulle noem “grape fruit” jy weet, suurlemoene, perskes, appelkose, …
Vraag: Dié wat nou by daai nuwe huis op Dekar staan, het Oom hulle daar geplant?
TT: Die wat nou by die nuwe huis op Dekar staan, die het ek geplant. Toe ek daar gekom het, was net – ek weet nie of hulle al die ou hardekoolboompie afgekap het as jy nou so by die voordeur uitgaan en jy loop hier af is daar so klippe gepak, daar staan ‘n ou hardekoolboom. Die ou hardekoolboompie, dit was al wat daar gewees het toe ek daar gekom het. En hier van die ou hardekool-boompie af het altyd ‘n sementvloer gelê ons het langsaan die ou plek afgebreek, dit was ons eerste ou slaapkamertjie. Net so bietjie regs was daar nog ‘n rondawel ook, ‘n slaapkamer, dan het ons so ‘n sinkplekkie gehad met steenmure, dit was ons kombuis-en eetkamer. Toe’t ek daai affêring in ’47 begin. Daai huis. Dit was maar net ek allenig gewees en twee handlangers … een ou Makuba se naam was nog Mathusemang, en ou Soso … hy’s laasjaar dood, hulle was my ou handlangers gewees, wat dagha aangemaak het, stene opgegooi het, die ou grasdak het ek en oorlede ou Miek opgesit, Grieta Taljaard se oorlede man. Ons het daai gras … daai hout het ek aangery van daar waar Rudi nou bly, van daardie boskop af, daar het ek die rouhout gekap en aangery en kom regkap en in die dam gegooi lat die goggas dit nie moet vreet nie. So alles het ek aangery en daar opgerig. Al wat ek gekoop het is net die ou deure en die voorste ou sinkdakkie en die agterste ene. Al die ander goed het ek self gemaak, gras self gesny en als. Stene gemaak en gebrand … ek glo nie ek het meer as ses maande gewerk toe was hy klaar nie.
TT: Daai voorste fondasie is baie hoër as agter, nou ek het hom so teen ‘n skuinste … sy wil hom nou so gehad het, jy weet, en toe het ek nog daai klipwal onder hom gebou, en dié opgevul jy weet, dat jy darem nie hier uit die deur uitval nie. Daai ou dam is ook eenkant, jy kan mos sien eenkant is hy gelyk amper met die grond, ek het hom so ingekap, ek en ou Jambe, met pik en hamer, …
Die huis se fondasie het ek net op die kalk gepak, ek het hom nie ingebring nie, maar die dam het ons ingegrawe, hy’t net so ‘n bergie wat hy had, as jy dié deur is, kap jy hom lekker met ‘n pik. Daai ou dam het ek so ingekap, dié kant lê hy grond, amper grondgelyk, jy weet, daai kant is hy omtrent drie-vier, drie voet in die grond ingekap. Baie kinders het amper daar versuip, dan kom hulle nou daai kant van die wal af, hy’s mos nie diep nie, dan’s hy hier in.
By daardie agterste deur was ons kombuisdeur gewees, wat uitgaan noord, my put het omtrent twee treë daarvandaan … Maar hy’s nou toegemaak, julle kan hom nie nou sien nie. Daar’t ek ‘n put gegrou oor die veertig voet en ek het nooit ‘n grot gekry nie. Daai boorgat waar die windpomp staan is amper 300 voet, ons het nie soiets raakgeboor nie. Julle sê dit weerklink daar, maar dis seker daai dam wat jy naby het en die huis, wat so ‘n klank maak. Hier noordekant van die dam, daar’t ‘n lemoenboom gestaan en ‘n vyeboom en guavabome en die nartjiebome het algar daar gestaan. Ek weet nie of hulle nog staan nie. Af onder aan die onderkant van die dam aan die suidekant daar’t ook ‘n ou groot vyeboom gestaan, en verder lemoenbome, suurlemoene, en navels en pitlemoene … seker daar in ’48, daar rond, geplant. En die ou grote daar onder by die ou ronde dam, hy’s, toe ons water gekry het, daar by daai put, was die eerste pitboom. ek het hom daar geplant. Ek het ‘n prieël gehad, van een boom, hy was groter as wat hierdie huis, ons het tonne en tonne druiwe van hom afgehaal, net die een. So in hierdie warm tyd dan is hy nou toe en koel, jy weet, dan hang die druiwe so af. Maar dis seker alles dood ...
Vraag: Vertel my bietjie hoe het Oom-hulle se pa-hulle kinders grootgemaak.
TT: My pa, jy weet hy’t nooit heeldag geloop en raas nie, heeldag geslaan en jou … maar as hy jou die dag vat, dan gee hy jou ‘n pakslae dat jy weet dat jy nou iets gekry het. En my oorlede ma was altyd so gewees, jy weet, die plat hand en die skoen en al daai goed en die plak die dreun maar op jou deur die dag, en jy raak dit naand so gewoond dat jy ook nie bang is daarvoor nie! Maar vir my pa was ons baie bang, hy’t nooit … hy was ook baie lief vir die kinders gewees, baie gesels met hulle, marre as jy iets doen wat hy nou sien jy’t nou kwaadgedoen, dan kry hy ‘n pak dat hy nou weet hy’t nou pak gekry. Jy moet daarop jou pens lê en dan vat hy ‘n strop en dan slaat hy vir jou oor jou stêre. Dit was altyd ‘n vreeslike vernedering vir my gewees, jy weet, om daar so op my pens te kom lê en pak te kry.
Ons kinders was nege. Al nege het grootgeword, jy weet, hulle is maar hier van hulle groot is eers so afgesterwe. Voor my was die oudste suster, haar naam was Bettie gewees … hier, ou Tickles. Ken jy hom? Ou Magiel Kotzê. Hannie Snyman, Mieta Du Plessis, dis nou haar kinders gewees, sy was my oudste suster. En toe hierdie een wat nou hier in die ouetehuis is, Anna, hulle is altwee in die Transvaal gebore, daai tyd was die oumense nog bang gewees, jy weet, dan gaan hulle soontoe vir ‘n bevalling. Toe ek nou moes kom, jy weet, toe is hulle alles al gewoond, ek is maar gebore in Ghanzi, daarvanaf is ons almal op ou Dekar gebore, die hele lot, almal seuns.
Vraag: Nou wie het vir Oom se ma gehelp met die geboortes?
TT: Ons het ‘n ou Tannie Lewis gehad as vroedvrou, ou oorlede Oom Chrisjan se ou ma, ou Tant Sannie. Sy word maar altyd gaan haal met die ossewa dan kom sy bly sy daar tot alles verby is. Haar man was ook ‘n ou Oom Chrisjan gewees, hy was die ou stamvader van die Lewiese. Hulle lê albei op ou Khoutsa begrawe. Daar lê so ‘n klomp ou graftes. My Ma het nie een verloor wat ek van weet nie. Al nege het geleef. Sewe is op Dekar gebore. Die twee oudste meisiekinders is in die Transvaal op Buhrmansdrif gebore, daar by Ben van Staden-hulle. Daardie ou plaas was my ou oupa-grootjie van Staden se plaas gewees, daai hele Buhrmansdrif. Nouja, toe het hulle hom naderhand, toe die ou dood is, verkoop en opgedeel in plotte. Dit was een ou plaas gewees, my ou oupa-grootjie van Staden. Nou hierdie ou bank is ook in die Transvaal gemaak. Die ou Oom du Plessis, Kassie du Plessis se oupa, het hom in die Transvaal gebou. Hy’s nou min of meer 140 jaar oud. Hy’s nog net so stewig soos toe hy gemaak is. Dis tambotie. Van ek hom het, jy weet hy het maar so onder die familie gekom en gegaan, van ek hom het, het ek hom al vier maal met rieme oorgemaak. Nou ander dag toe sien ek die ou rieme – dan klim die kinders bo-op, dan trap hulle die riempie, dan breek hy, want hy is maar dun, waar hy deur die gaatjie haak, toe van ek hierdie nylon-tou en ek dek hom daarmee.
Ek het baie meubels gemaak – toe ek daar wegtrek jy weet, ek het altyd ou meubeltjies gemaak soos wastafels en beddens, jy weet, katels, maar latertyd toe het ons maar die ou goedjies verwaarloos … by Grieta van Miek, Grieta Taljaard, Jan se ma, staan nog so ‘n ou bank. Dis nou ‘n bank wat my oorlede pa gemaak het, ook van kiaathout. Op daai bank het ons algar, daai tydjie wat ons skoolgeloop het, op hom het ons gesit en skoolgaan … ja.
Vraag: Watter soort hout het hulle in Ghanzi gebruik?
TT: Die meeste hout wat hulle gekry het, het hulle maar uit die Okavango gekry, kiaathout, jy weet en nog hierdie mokutshom-hout[1] … dis ‘n soort van ‘n wilde persketjie of appelkosie, jy weet – hy groei groot bome met mooi reguit stamme, so ‘n pink hout. Hier by ou Wallace se huis staan nog ‘n ou wakis, jy weet, wat my oorlede skoonvader gemaak het van daai mokutshom, daai ou wastafel wat daar in sy plek sit, staan waar hy nou sy verfwerk het, dit is nou weer ‘n soort boom wat hul hier noem die Aro-boom, ja, daar sê hulle Pêrepisboom[2]. Hy’s van daardie soort hout.
Jy weet, toe ons nou gaan trou en so, dan het die nuwe geslag het mos nie tyd vir daai soort goete nie, dis outydse ou goed, en toe ek en my vrou getroud is, toe het sy meeste al haar meubels wat sy van die Republiek af gebring het, Mafeking, Lobatse, daai plekke, toe het ons nie eintlik veel meubels gemaak nie. Ek het vir haar ‘n wastafel gemaak, maar wat van dit geword het, weet ek nie.
Vraag: Is Oom nou getroud in Ghanzi self?
TT: Ja, in Ghanzi-kamp. Daai tyd het ons nog nie bruilofte gehad nie, ek en my vrou was arm gewees, ons was arm. Ons het maar met die ossewa gery, jy weet, van Dekar af, Ghanzi-kant toe, 25 myl. Nou Rina was saam met ons gewees en haar man Paul, en ou Kassie van Heerden, en sy broer Jan, hy was die drywer gewees, so het ons gery en die nag in die Kamp gaan slaap, die anderdag voor die ou landdros getroud. Toe was hier ou Ds. Van Rooy se broer Martiens, toe het hy, jy weet, met die balonne gewerk, daai tyd het hulle mos balonne opgestuur, ‘n radio-besigheid, jy weet ... die weerbesigheid, toe het hy daarmee gewerk. Toe het ons by hom gaan slaap die aand, die anderdagmôre is ons landdros toe met die voet, sommer daai entjie geloop, getrou en weer met ossewa is ons terug Ghanzi toe. Daar was ‘n paar van die familie gewees, daar was nie ‘n bruilof gewees nie, net so ‘n ou etetjie …
Die landdros was ou Allen – ‘n groot ou Engelsman. Hy lê ook daar in Ghanzi begrawe. As jy nou van hulle kantore…dis nou ook als dié kant … jy weet die ou Ghanzi besigheid was meeste aan die suidekant, dis nou later wat hulle hom als noord geskuif het. As jy hier van die Vize se winkel af gaan, van die Oasis af, dan loop jy nou hier met ‘n gruispad af, dan kry jy ‘n gebou, op jou linkerkant twee geboue, dit was ons apteek gewees. Jy weet, daar het ‘n dokter gebly wat altyd medisyne uitgedeel en mense gehelp het. Daar kon jy al jou medisyne koop. Hy kon geopereer het, jy weet en al daai soorte dinge … sy naam was ou Boyle gewees.
Vraag: Was dit nou voor die tyd van suster Vize gekom het?
TT: Ag, jare voor dan. Boyle was Engels, maar sy vrou was half Afrikaans. Die regering het hulle daai tyd dispensers genoem, jy weet. Hy het as apteker gewerk, maar hy het dokterswerk ook gedoen.
Nouja, daarvandaan dan loop jy met die gruisstraatjie op nog suid, daar het geboue gestaan, dit was die kantoor gewees, die polieskantore, landroskantore, als was daar. Dan loop jy nou van hulle af, so reg was, suidwes, daar was die tronk gewees, ek dink die ou tronk is nog op dieselfde plek. En toe het ons later, jy weet, bymekaar gemaak, die mense. Hier, ou ant Koba en my vrou het altyd, dan maak hulle nou kos en hulle kook as daar vergaderings is, dan kom ons Kamp toe, toe het ek al ‘n lorrie gehad, dan laai ek hulle op met al die goed, dan kom staan ons die heeldag daar, solank as daar vergader word, dan het hul nou so geld bymekaargemaak vir die hostel. Daardie ou blanke hostel wat nou toe staan, dit was ons hostel, daar was plek gewees vir oor ‘n 100 kinders, groot besigheid. Toe het ons bymekaargemaak, en die Regering het ook bygesit, en toe het ons daai hostel … Toe’t die skool daar begin, het ons kinders daar begin skoolgaan. Ek kan nou regtig nie sê wanneer nie, dit was ook maar daar is die begin van ’50 jy weet, einde van ’40, in daai jare wat ou Karel Weyhe skoolgehou het, ’n van der Walt ook. Karel Weyhe lewe vandag nog, hy hou nou skool in Windhoek, hy’s ook al oud, ja.
Vraag: Nou Oom-hulle se kinders was ook in daai skool?
TT: My Marie het nooit daar skoolgegaan … ons het ‘n skool ‘n Engelse skooltjie gehad, toe’t sy daar skoolgegaan vir ek dink twee jaar. Toe het ou Lettie van Heerden en Kassie daar gewerk vir die N.T.C. Toe het sy by hulle gebly. Daar’t sy twee jaar skoolgegaan, daar’t ons haar toe gevat, toe sy so ‘n paar maande in hierdie skool gewees het, jy weet, sy en Johannes, my seun, toe stuur ons hulle hiernatoe, toe kom gaan hulle hier skool, hier’t hulle skoolgegaan tot hulle klaar is. Hulle het in die hostel gebly.
Dié Martiens van Rooy, was ‘n hele paar jaar op Ghanzi. Met die weer gewerk en balonne opgestuur, jy weet, hy’t lank vir die Regering daar gewerk. Maar waar hy later toe heen is, ek dink in die Kaap daar iewers rond …
Ou Ds. Jacs van Rooy – want ons twee het baie goed met mekaar klaargekom – ek het altyd gekom jy weet met my ou bakkie, dan is dit kerktye, dan moet ek Ds. van Rooy kom haal, dan ry ek en hy nou hiervandaan saam, ek was ‘n ouderling gewees, daar, van huis na huis, huisbesoek doen – ek was altyd so moeg gewees van daardie mense – ek het hom baie dae aangejaag! Dan word daar huisbesoek gedoen, dan sê hy “Nee, bring julle eers ‘n koppie koffie en eet ‘n paar koekies, dan is dit altyd ‘n uur of ‘n uur-en-half. Naderhand het ek so gemaak as ou Ds. sê Amen sê ek “Ds. ons moet ry, dis nog vêr”! Dan los ek daai koffie, want jy drink koffie dat jy naderhand siek is! So het ek en hy huisbesoek gedoen om daai hele Ghanzi. Dan bly hy nou daar by ons tot die kerke alles verby is, dan moet ek ou Ds. van Rooy weer vat huistoe. Ek het hom altyd kom haal, en weer teruggebring, ja hier in Gobabis.
Met ‘n bakkie het jy gou gery – jy’t omtrent so ‘n dag gery. As ek hom die môre hier vat, die aand is jy by die huis. En as ek hom weer terugbring, as ons vroeg wegspring is ons ook weer die aand by die huis. Ja, so het ek en ou Ds. van Rooy en my swaer ou Theunis Kotzé, nie die ou Oom Theunis my skoonpa nie, my swaer, het ons te doene gehad met ou Ds. van Rooy en ou Ds. Snyman – hy’t altyd met ‘n ossewa gekom, ja. Dan vat hulle hom nou hier van Gobabis vandaan dan kom haal ou oom Sarel Burger, hier ou Willie Burger, ek weet nie of jy hom ken nie, sy pa het toe op Olifantskloof gebly. Hy was ook in die Gereformeerde Kerk, dan vat hy nou sy donkies dan kom haal hy die predikant hier in Gobabis. Dan ry hy nou met die donkies, dan staan daar klaar ‘n ossewa daar van Dekar en daai plekke, jy weet, wat hom dan daar kom vat. Dan laai ons hom daar oor, dan gaan hy nou verder tot op ou Ghanzi?
Ja, ons was nie haastig nie, as jy vir mense gaan kuier dan gaan kuier jy met jou ossewa, dan kuier jy ‘n week vir jou reiende! Dan draai jy om – volgende maand gaan kuier hy weer by jou. Nou ken hulle nie eers mekaar nie – ek vra baie dae vir een van die Ghanzimense oor daardie en daardie een – hoe gaan dit met hom, “Nee, ek het hom lanklaas gesien”! Ons het amper geweet van algar. As daar iets gebeur, dan weet ons. En ons het nie motorkarre en goed nie – ons vinnigste voertuig wat ons gehad het is ‘n perdekar.
Onderhoud verkry uit bande X en Y.
[1] Jakkalsbessie (wetenskaplike naam)
[2] Waarskynlik groot of kleinbaar valsdoring (Albizia).
Print asb vir
jonk & oud.
Almal is welkom om saam te bou vir onthou .....
Het jy enige kommentaar oor die stuk?