top of page

Onthou

julle nog

om asb.

die artikels

te deel ?

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller

op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 
 
OOM CORRIE & ANT LEAH BEKKER, Februarie 1980.

 

Ek was hierso gewees net ‘n paar dae voor ek 21 gewees het vir die eerste keer, en ek was saam met die Peacocks, ons het toe kan ek maar sê die land ‘n bietjie kom verken. Ons kom toe uit ‘n droeë wêreld, 106 myl wes van Kuruman, tussen die Molopo en die Kuruman rivier. Dit is nie vêr van die destydse Protektoraat gewees nie, ons plaas was maar 12 myl van die Protektoraat. Ons het baie water moeilikheid gehad, ons het op ‘n soutwaterplaas maar grootgeword waar ons ons drinkwater met ‘n donkiewa nege myl vêr moes aanry al die jare. My pa het die plaas in 1928 gekry en hy moes maar al die jare ook sy drinkwater aanry, ek het maar daarmee grootgeword. Nou met die gevolg toe ek nou hier in Ghanzi kom sien ons die lekker vlak water, goeie beeswêreld, goeie weiding, toe ons terugkom daar in die Republiek, destyds die Unie, toe was daar chaos omtrent op die plaas. Die masjien, die waterpomp enjin, het intussen moeilikheid gegee en ai, die dam staan droog en die beeste voeter sonder water en as jy die hêle nag so sukkel, so in die verbeelding sien jy daar in Ghanzi staan ‘n put vol water wat wil oorloop, en jy sien die dam staan gelykvol water en hy loop so oor daar in die vlak in. Ek sal vir jou sê Willemien daai ding vat ‘n mens diep as jy so sukkel met dors diere, bees staan en bulk hier om jou en perde en goed staan en runnik van dors hierso om jou, dan vat dit ‘n man darem diep …

 

Vraag: Watter jaar was dit wat Oom-hulle nou kom verken het hoe lyk dit hier?

CB: Dit was 1953.

 

Vraag: En toe Oom-hulle nou uiteindelik getrek het?

CB: Ek het net die jaar daarna, in ‘54, toe het ek gebesluit nee-wat ek gaan kyk of ek nie maar hier in Botswana kan ‘n plan maak om te bly nie. En toe’t ek so vir ‘n jaar lank hierso so kom bly en nie ‘n volle jaar nie, toe’t ek vir Oom Bennie van Staden gehelp met beeste, ons het ‘n klomp beeste getrek van Makalamabedi af. Daar was ook nogal lekker stories aan verbonde gewees, hier end  ’54 begin ’55 het dit vreeslik gereën hier in Botswana. Die Maun-rivier was net van reënwater voller as wat hy gewoonlik in sy vloed gewees het, toe kan ons nie met die lorries oor die ou bruggies gaan nie, wat daardie dae daar gewees het, toe moes ons omdraai op Maun en toe kom vat ons hier op met die waentjie so vêr soos Toteng gekom, toe’s die rivier soos hy uitstoot te diep vir die donkies om deur te gaan, toe moet ons lateraan net met die perde verder gaan. Nou moet jy weet watse kos vat mens op ‘n paar ryperde as jy nou moet vier-honderd beeste gaan aanjaag, ons en die klomp werkers wat saam met ons is …

 

Vraag: Nou wat het Oom Corrie-hulle gevat, net vir die interessantheid?

CB: Mieliemeel, en ons koop so af en toe ‘n slagbok, jy weet, en dan het ons natuurlik maar so by die mense dikmelk en so aan gekry, varsmelk, ek is nie ‘n varsmelkdrinker nie, ek het maar daai ou suur dikmelk gedrink.

 

Vraag: Is dit by die Swartes langs die pad?

CB: Ja, jawat, jy drink maar uit daai droeë beespens uit saam met hulle, jy weet ... as jy dit nie doen nie gaan jy dood van die honger! Mens los baie fiemeies maar by die huis. Ons het in elk geval deurgekom, en ons gaan vat toe die klomp beeste op Maun, toe kry ons hulle nie deur die rivier nie, hulle wil nie deur die vol rivier swem nie. Daar’s ‘n distansie wat die perde nie eers deur die drif kon loop nie, hulle moes swem, omtrent so ‘n dertig of veertig meter is die drif te diep vir die perde om deur te loop. Nou dit was meestal jong tollies gewees en hulle moet toe vir ‘n lang distansie swem, seker omtrent ‘n honderd meter of verder om deur die hoofstroom te kom, en dan kan hulle eers beginne loop, want die rivier was daar baie breed. In elk geval om daai beeste toe deur te kry was nogal ‘n episode gewees! Ons het die aand toe maar teen die wal so ‘n vinnige takkraal gemaak en maar ons gebruiklike bietjie pap gemaak en geëet daarso, ek en Oom Bennie het mense gestuur om iemand te soek wat ‘n paar mak osse het wat die rivier ken. Die volgende oggend toe kom daar ‘n ou Swarte met ‘n stuk of agt osse wat blykbaar ook trekosse gewees het, hulle was baie goed geleerd. Hy praat net met hulle en toe hy met hulle praat toe spring hulle in die rivier en hulle swem na die oorkant toe. Ons het bietjie meer as vierhonderd beeste gehad wat ons mee trek en toe stoot ons so die helfte van die trop en hulle gaan toe deur …

 

Vraag: Toe gaan hulle nou agter die ander aan?

CB: Ja, hulle gaan agter die ander aan, volg hulle, en toe die tweede klomp, toe’s hulle nou al almal in die rivier … hulle vertel toe juis van krokodille en goed wat ook daar in is, maar wat kan ons doen, ons jaag maar aan. In elk geval ons het toe darem die klomp bees so teen tienuur die oggend toe deur die rivier, toe het ons met hulle anderkant gestaan, eers geëet en toe het ons nou daarvandaan met hulle getrek. Met daai klompie bees het ons nou kom kwarantyn staan op Ghanzi, of tussen Ghanzi en Ngamiland dan, en ons het hiervandaan deur die Kalahari getrek nog met die ou trekpad.

 

Vraag: Lehututu se trekad?

CB: Ja, Lehututu om. Op Okwa byvoorbeeld, dit was een van ons twee waters tussen Ghanzi en Lehututu, daar het ons laat die Boesmans nog met emmers die beeste water gee. Hulle skep die water uit ‘n ou put uit, ek sal vir jou sê dis darem self ‘n groot werk. Net die nag tevore het ek nog my eerste leeu geskiet, dit was van my ervarings gewees! Dit was ‘n ou groot leeu gewees, ag ek weet nie, mens is seker maar dom-astrant Willemien, maar in elk geval  die ou leeu het ons agterna gesit, want ons het die vars spore die dag omtrent so eenuur gekry …

 

Vraag: Dis toe nou Oom en Oom Bennie?

CB: Ek en Oom Bennie, ja, nogsteeds ek en Oom Bennie. Ek was by die beeste gewees, soos ons die beeste so aanjaag kry ons die vars spore. Die beeste skrik toe ook nog daarso vir die vars leeuspore, maar ons hou hulle darem bymekaar en ons dryf hulle vorentoe tot hulle weer bedaar, ons trek nou maar weer weg. Die namiddag begin dit so fyn te reën, en ek vertel toe vir Oom Bennie die beeste het geskrik vir vars leeuspore. Die aand so sononder se kant toe dit so lekker fyn reënt sê Oom Bennie vir my,  “Jong, daai ou leeus kom darem nou fluks aan”, en ek dink ag, wat sal die leeus nou aankom, dis twaalf myl daarvandaan waar ons die kraal gemaak het waar die bees geskrik het. Daai nag hierso so twee-uur se kant, toe stoot daai klomp bees netso woerrr daar in die kraal, toe skrik hulle. Die Boesman lig so met ‘n ou twee-sel flitsie en hy sien ja, hiers’s die leeu net so agter die kraal. En die leeu hardloop om die kraal want hy gaan bokant die wind, dis hulle gewoonte, dan maak hulle die beeste skrik dan hardloop hulle om, om hulle weer te vang …

 

Vraag: Is hulle so slim?

CB: Ja, hulle is uitgeslape, dis mos hulle manier van kos soek daardie. En ons kry die beeste gekeer sonder dat hulle die kraal breek, dit was baie mak beeste gewees. En hy’t weer twee-keer dieselfde ding gemaak, maak hulle tweekeer agter mekaar skrik, maar die eerste keer kon ons nou nie ‘n hou op hom inkry om te skiet nie, daar’s te veel bosse rondom die kraal gewees. Die tweede keer toe kry ons die kans ook, en ons skiet na hom, maar ons skiet toe mis en hy gee pad, en seker omtrent vyf minute was hy weg tussen die bosse gewees, toe hoor ons daar vang hy die donkie, vang hy een van die Swartes wat help bees aanjaag se rydonkie. So ‘n lang Swarte, hy sit daar langs die vuur en hy hou vas sy kop so, hy sê hy weet sommer dis sy donkie wat die leeu gevang het, want hy’t nie vir die Oubaas geluister om hom vas te maak en vir hom gras te gee nie, hy’t hom maar gespan, hy’t maar gedink wat, dis hier naby Okwa, naby die werf, wat sal hier nou leeus kom en sy donkie kom vat! Enne, ek sê naderhand vir hom en vir Oom Bennie ook, “Kom ons gaan skiet die ou leeu“, want ons hoor hier vreet hy nie vêr van ons af aan die donkie. Ons hoor ons hoe skeur en breek hy die bene en goed, ons hoor hom duidelik, en Oom Bennie sê vir my, “Jong, ek is maar versigtig om ’n leeu te skiet so by ‘n kraal, baie maal gee mens hom daar ‘n doodskoot en dan hardloop hy beeste se kant toe, dan kom skop hulle lawaai op hier by die kraal en dan skrik die beeste en dan breek hulle uit, dan’s hulle weg in die nag”.

 

Maar ek is toe darem nou so nuuskierig, ek kan nou nie glo dis nou so vreeslike ding om ‘n leeu te skiet nie, en ek sê naderhand vir Oom Bennie ek gaan nou maar stap en die Kalahari het besluit hy sal saamgaan, die ou Swarte, hy sal nou maar saamgaan. Ons is toe so ‘n vier of vyf, en ons loop en ons dink ons moet nou by die plek wees, maar ons lig met die flits. Ek het ‘n ou kopliggie gehad, dis seker die beste lig op die trek gewees en hy was ook maar treurig, en toe ek so om die bos kom toe sien ek hier sit die ou leeu, toe’t hy probeer tussen ons en die donkie kom. Die swart-hake was baie ruig daarso, en toe sit hy omtrent so ses of agt tree van ons af, toe ek hom sien natuurlik was ek sommer reg gewees en ek skiet hom. Hy gee so ‘n dowwe kreun en hy spring weg tussen die bosse, en ons het hom toe nog so ‘n paar maal gehoor steun, so gehoor bosse kraak en so aan, maar toe gaan ons nou maar terug kraal-toe. Maar daardie selfde Kalahari, ek weet nie waar hy daai opening gekry het hier tussen die bosse nie, dit lyk of hy alleenig so ‘n opening gekry het, soos ons sê  ‘n  “straight”. Hy hardloop, hy sit nie sy flits af nie, jy weet, die lig staan nog so in die lug, hy bewe eintlik so soos hy hardloop. In elk geval ons wag toe maar tot dit lig word, en ons het net so effens daar gaan spoorsny voor ons die bees uitjaag met die lorrie, en ons sien die ou leeu, dis net pure bloed op sy spoor, en hy spring op drie bene, toe weet ons hy moet nou maar gekwes wees, swaar gekwes wees, mens sien net orals bloed aan die bosse en ons besluit toe nee wat ons sal maar liewerster die bees eers vat en as die beeste klaar gesuip het die dag dan kom soek ons maar die ou leeu.

 

Ons het to so gemaak en omtrent so eenuur die dag was ons klaar bees water gegee en ons stuur toe die bees in ‘n ander rigting dat hulle gaan wei. Ons het daar oorgestaan op Okwa en die volgende dag weer daar water gegee. Ons gaan toe terug en vat die leeuspoor en omtrent so driehonderd meter toe kry ons die leeu, maar ek is toe so dom, ek kan nie die leeu raaksien nie. Die Boesman sê, “Daar is hy, daar is hy”, in Tswana maar ek kan hom net nie raaksien nie. Naderhand toe sien ek sy stert waai, toe sien ek daar staan die leeu ewe groot en duidelik, jy weet, staan hy in so ‘n matoppiebos, en ek skiet hom ‘n skoot, maar dit het nie eintlik ‘n uitwerking op hom gehad nie, ek was maar seker te haastig gewees. Die tweede skoot wat ek op hom skiet, nee Oom Bennie het eerste geskiet, hy skiet hom so ‘n hou in die nek en die leeu spring net so uit die bos uit toe hy vassteek, toe skiet ek hom darem gelukkig daar plat. Maar dit was rêrig ‘n ou grote gewees.

 

Nou daarvandaan het ons darem dors Kalahari getrek, dors distansie getrek, dit was omtrent vyf dae voordat ons die eerste waters weer gekry het, en ek sal vir jou sê dis darem moeilik met beeste. Daai laaste twee dae, vernaamlik daai laaste dag, dan lyk party darem lelik, veral sulk ou jong besies, hulle trek maar moeilik deur die Kalahari. Maar in elkgeval, ons het dit darem gemaak, ons het nie beeste geverloor aan dors of so nie, ek het naderhand ‘n paar dae vooruitgery want ek ken toe die pad beter as Oom Bennie, hy het toe baie lanklaas getrek deur die Kalahari, en daar was toe darem al in die tussentyd een boorgat wat dit darem ligter gemaak het tussen Lehututu en Okwa. Nou dit het dit darem ligter gemaak vir die bees, hulle het nie nodig gehad om so vêr te trek nie. Nou verder het die trek darem redelik geloop tot ons die bees gaan afgee het in Lobatse. Soos ek sê, dit was ‘n ondervinding gewees om van Makalamabedi af oor Ghanzi met bees te trek Lobatse toe.

 

Vraag: Was daar ander mense ook wat dit gedoen het?

CB: Nee, wat ek van weet nie, miskien hier uit Maun voordat hulle hierdie kwarantynkampe en dinge hier gehad het, voor hulle die affêring so toe gemaak het, die lyne en goed. Dit was ou Russell Engeland se beeste.

 

Vraag: O, die ou wat later vermoor is?

CB: Ja, dis presies hy.

 

Vraag: Het Oom-hulle in die nag getrek en in die dag …

CB: Oom Bennie is nie  baie lief vir nagtrek nie, hy glo voor sononder op die laaste. Ons het nou toevallig mak beeste of makkerige beeste gehad, nou het hy geglo net so voor sononder dan moet sy bees in die kraal wees en dan trek ons natuurlik baie vroeg. Hier so half-vier of drie-uur se kant, dan so vieruur se kant dan kom ons nou weg. Want dis maar baie dingetjies om te doen, hulle moet hulle komberse en goed oprol en die lorrie moet gepak word en so aan en so in die nag dan trek mens maar met die lorrie by die beeste dat mens kan hoor wat gaan aan. En die beeste is ook meer gerus lyk dit my as die voertuig se dreuning wat hulle ken hier by hulle is, dan skrik hulle ook nie so maklik nie, want mens trek maar naby die pad, ons trek nooit in die pad nie, net langs die pad.

 

CB: Johanna Visser se oorlde pa en ma het hier gebly.

 

Vraag: Wie was dit nou?

CB: Oom Jan Burger en Tant Johanna.

Vraag: Was hulle nie familie van hierdie Oom Jan Burger nie?

CB: Nee, nie van hierdie Oom Dikjan Burger nie, van die ander Oom Jan Burger wat hulle gesê het Oom Jan Swerm, dit was sy neef gewees. Ek ken die familie redelik goed.

 

Vraag: Dis vir my so interessant dat omtrent almal skakel iewers in. Hier is so min mense wat nog nie familie is van  mekaar nie.

Leah: Ja, dis eintlik net ons en Ben … ons het nou van Lampie se kant af bietjie ingetrou.

Vraag: Ja, met die De Graaffs nou …

CB: Dis net ons en Ben-hulle wat nou weer familie is. Maar ek het my familie afgesterf in die Republiek.   Ghanzi mense is my familie.

Vraag: Ek wil nou bietjie vra van Oom se mense. Het Oom nou ander broers gehad en Oom se pa, het hy nou nog geleef?

CB: My pa het toe van  ’55 af hiernatoe gekom.   En hy is toe, ag hy was maar net kort hier gewees, hy was al baie sieklik gewees toe hy hier gekom het. Hy is in  ’58 oorlede,  Meimaand  ’58.

 

Vraag: Nie een van die ander Bekkers het toe belanggestel om saam te kom nie?

CB: Ek is die enigste seun gewees. My suster het hiernatoe gekom, maar sy is toe later aan getroud hier met ‘n ou op Gobabis. Op die oomblik bly hulle op Hobhouse in die Vrystaat.  

 

Vraag: En Oom Corrie het nou-nou gesê Oom was saam met die Peacocks. Het hulle ook daar naby gebly?

CB: Ja, ons het dieselfde, ons was bure gewees, ons en die Peacocks. Hulle het op die plaas Jakkalsdans gebly, ons het so vier myl van mekaar gebly. Hulle het ook maar waterprobleme gehad net soos ons. Dis maar eintlik oor water en oor niks anderste wat ons na Ghanzi toe gekom het.

 

Vraag: Nou wie het vir Oom-hulle vertel van Ghanzi?

CB: Die ou mense het altyd gepraat van Ghanzies. Een ou Oom sou dan eentyd met ‘n donkiewa hier in Ghanzies gewees het, jy weet, of hy was op pad hiernatoe gewees, daar was nou van die wat vir Ghanzi vreeslik opgehemel het en daar loop die spreekwoordelike vark nou met die mes en vurk op sy rug. Nou moet ek sê as mens vat die weiding en die water wat mens hierso het, dan is dit darem ‘n lekker plek hier om te boer. Ons het daar ook baie min probleme met arbeid, met mense gehad, jy weet, ons het altyd genoeg werksvolk gehad, maar hier het ons nog meer, jy weet. Hier het ons absoluut niks moeilikheid met werksmense of so nie.

 

Vraag: Ja, eintlik te veel né?

CB: Ja, ek het eintlik te veel, ek is gestraf met te veel werksmense.

 

Vraag: Is dit net die Peacocks en Oom-hulle wat toe nou saam gekom het?

CB: Ek het die Vorsters goed geken en hulle het ‘n jaar voor ons hiernatoe gekom.

 

Vraag: Net Oom Bully en Oom Lambert?

CB: Nee, Bully en Lambert en Piet en hulle oorlede pa, Oom Jan Vorster. Hy’s nou so ‘n jaar of twee gelede oorlede en natuurlik hulle ma. Toe was hulle nog ongetroud gewees … ons het maar hier kom vrouens vat.

Vraag: En Tant Leah-hulle, hoe het Tannie-hulle hier gekom?

LB: Die Wieses, hulle was kinderloos, toe’t ek by hulle kom bly.

 

Vraag: Nou wie was hulle?

LB: Oom Dick Wiese en Tant Katrina. Toe’t ek maar by hulle kom bly, die plek waar die eerste poliesstasie was, toe’t ek maar hier skoolgegaan en hier grootgeword.

Vraag: Net Tannie alleen?

LB: Ja, net ek van ons kinders. Toe ek uit die skool gegaan het, het ek ook weer by hulle gebly tot later toe’s ons getroud.

 

Vraag: Nou waar het Tannie Leah se ma-hulle toe gebly?

LB: In Suidwes, in Gobabis.

 

Vraag: So Tannie het hulle darem ook so af en toe gesien?

LB: Ja.

 

Vraag: En Lampie-hulle?

LB: Lampie het ook maar in Gobabis grootgeword.

 

Vraag: Is dit nou maar omdat hy baie vakansietye hier gekom het dat hy later hiernatoe gekom het?

LB: Toe ons getroud is, ek en Corrie, het hy eintlik by ons kom bly. Toe is hy nie terug skool toe nie, en toe hy uit die skool uit is het hy pal by ons gebly en so het hy hier ingekom. Toe het hy saam met Corrie lorries gedryf, jy weet.

CB: Lampie was seker nie eers volle 15 jaar oud nie toe’t hy met ‘n lorrie gery uit Johannesburg uit tot in Ghanzi.

 

Vraag: Nou wat se lorrie was dit?

CB: Ons het ‘n nuwe lorrie gaan haal vir die Vize, ‘n Borgward, en toe het ou Vize ‘n ou lorrie ingegee op die nuwe een, en toe stuur sy swaer ‘n telegram hy kan die ou lorrie goedkoper kry as wat hy hom voor ingegee het, toe stuur hy vir my ‘n telegram ek moet ‘n plan maak en daai lorrie saambring, ek moet dat Leah hom bestuur. Toe sê ek ag wat Lampie bestuur net so goed soos sy, en toe sit ons vir Lampie daar agter die nuwe lorrie se wiel. En toe hy daar by Uncle Charley verby is, toe haak die nuwe lorrie se  petrol kabel, toe moet hy darem daardie nuwe lorrie briek, hy wil net weghardloop, hoorhier, in daai verkeer, dat hy nie ongeluk gemaak het nie! Hy kry nie plek om af te trek nie, en naderhand toe kom ons daar by ‘n vulstasie, ek sien Lampie ry verskriklik, en ek sien van hier af die lorrie se briekligte en so aan, en ek dink, wat gaan aan! Ek kon amper nie byhou nie en hy trek toe daar af, jy weet, hy briek hom ook sommer dat hy so gaan staan uit rat uit. Hy sê,  “Hierdie ding hardloop weg”. Gelukkig hy hou kop jy weet, maar jy weet, die geluk is as die ouens in dei verkeer so ‘n groot lorrie sien gee hulle pad, die ou klein karretjies hulle maak vir jou plek.

Vraag: Het al die Peacock broers saamgekom?

CB: Ja eintlik het hulle almal saamgekom. En toe die party weer gaan werk en so aan, Gilbert was natuurlik nog klein, hy en Smit het nog skoolgegaan, Smit is toe kort daarna uit die skool uit hier in Ghanzi. Toe’t Gilbert maar hier klaar skoolgegaan en is ook maar plaas toe en gaan boer. Hulle is maar net ou boere en niks anderste nie.

 

Vraag: En het almal dadelik plek gekry of het almal maar eers kom werk soek soos Oom Corrie gemaak het?

CB: Ek het net so vir ‘n tydjie hierso by mense gebly om dinge mooi deur te kyk, en toe ek weer in die Republiek by die huis kom vra my ma vir my wat gaan ek nou maak, of ek nou huistoe kom, toe sê ek nee want ek gaan nou maar my diere wat ek daar het verkoop en ek gaan maar op Ghanzi kom bly. Toe huur ek hierso by Hardbattle ‘n halwe plaas, en toe verkoop my ma-hulle alles op die plaas en toe kom hulle ook saam met my hier bly. Nou, toe is hier gelukkig ‘n ou magistraat wat my redelik goedgesind is …

 

Vraag: Wie was dit?

CB: Atkinson, wat baie ander mense nie van hou nie, almal hou van ou Midgeley, ou Midgeley het weer niks van my gehou nie. Maar Atkinson was nou weer vir my goed gewees, hy het my toe gesê ek kan op my eie risiko hier kom boor, en ek was baie gelukkig gewees, oorlede Oom Cassie du Plessis het vir my hier kom boor.

 

Vraag: Was dit ‘n oop stuk grond?

CB: Ja dit was toe op my eie risiko wat ek hier kom boor, toe sê hy net vir my ek moet min of meer vyf myl van Ben af boor. Maar toe gaan ons bietjie verder. Toe ry ons so sewe myl van Ben af, toe boor ek nou hier, want toe dink ek wel, dan’s ek nou heel veilig want dan’s ek nou heeltemal in die oop grond in. En ook maar net so wel, want toe die plase nou opgemeet word toe is ek maar omtrent ‘n kilometer van my grens  af hierso. Maar ek was gelukkig gewees, ek het sommer net die dag toe ons hier kom stilhou het ‘n graspol uigetrek en hier op ‘n bossie kom gooi. Dit was toe kaal vlakte hier gewees, en daar is so ‘n klein bossie, ek gooi die graspol op die bossie, en ek loop sit daar en die ander ou’s loop hier rond en hulle soek water.   Naderhand  sê hulle vir my, “Jong, kom kyk jy nie waar is mooi plekke om te boor nie?”. Ek sê, “Nee, ek het klaar water gewys“. Hulle sê, “Ag nee, jy speel seker!”  Ek sê, “Ja, ons boor daar waar daai graspol aan daai bossie sit”.  Hulle sê, “Nee man, jy’s seker laf!” Ek sê, “Olraait, kyk of hier water is!” En hulle kyk toe, die Oom loop daar rond met die stok, hy sê vir my, “Ja, man jy’s reg, hier is water, maar voel net nie vir my dit sal baie sterk wees nie.” … Ek sê, “Wel, ek dink dit sal miskien net maklik boor, dit sal sag boor, hy sal nie moeilik boor nie, hy’s nie in harde klip hierdie water nie, dis miskien hoekom hy nie op die stok so ‘n sterk water gee nie”.  Toe stem hy saam met my en sê hy dat dit wel kan wees. In elkgeval my oorlede skoonpa sê toe vir my, hy het toe ook hier kom meet met sy stok, “Hier sal darem geneog water wees vir ‘n klompie lammerooie!”. Dit was toe sy grap, sy opmerking wat hy toe gemaak het. Maar in elkgeval, Oom Cassie boor toe en ek gaan toe huistoe na Oom Piet Wiese toe, ons bly toe op die oomblik daarso. Ek gaan haal sommer die dam, die windpomp en pype, die sement en alles. Toe ek en Leah weer hierso kom toe sê Oom Cassie vir my, “Jong hoe kon jy die goed sommer gebring het, jy weet mos nie of hier sal water wees nie?” Ek sê, “Oom Cassie, ek het gedink hier moet water wees”. Toe sê hy “Nee jong, jou geloof is reg, hier is water”.  Toe het hy al water net na ‘n week se boor. In elkgeval die boorgat is toe net  136’ geboor toe’s hy klaar. Hy’s ‘n onuitputlike sterk water, hy hou nou nog, hy’t nog nooit ingegee nie.

 

Vraag: Hoelank het Oom hier gebly voor die plase opgemeet is?

CB: Dis nou moeilik, ek kan nie die jare mooi onthou nie.

 

Vraag: Maar was dit jare, of …?

CB: Ja-nee, dit was. Ek het hier gebly toe was Dick (Eaton) darem al besig om op te meet. Ek dink ek het seker ongeveer drie of vier jaar hier gebly, toe’t hulle die plaas aan my toegesê.

 

Vraag: En toe het Oom al lankal vir Tannie Leah raakgesien?

CB: Ja-nee, toe is ons al getroud. Ek het in Septembermaand hiernatoe getrek en Oubaas is in November gebore.

 

Vraag: O, dus Oom Corrie-hulle het die vorige keer al kennis gemaak?

CB: Ja, nee ons was toe al getroud gewees.

 

Vraag: En het Oom-hulle bruilof gehad?

CB: Ja, so effens.

 

Vraag: Dit lyk vir my vreeslik min mense hier in Ghanzi het bruilofte gehad. Hulle het maar meestel, soos Oom Albert sê hy het 50c geleen en voor die landdros gaan trou en toe is hulle weg Maun toe, net hy en sy vrou en ‘n getuie was daar.

CB: Ons is in Gobabis in die kerk getrou.bToe jaag ons daarvandaan Ghanzi toe …

 

Vraag: Die by-name wat Oom Corrie-hulle gehad het, dis nou Oom Jan Swerm … Oom Jan Burger?

CB: Ja, Oom Jan Swerm het daar op die plaas gebly waar Stanley Peacock toe later … en hy was ‘n neef van hierdie ou Oom Jan Burger wat ons gesê het Oom Jan Roomryer, om hulle uitmekaar te ken. En dan was daar nog Oom Jan Burger op Uitkoms, jy weet, Oom Dikjan Burger, Oom Jan Semumu het ons hom eintlik beter geken.

 

Vraag: Semumu?

CB: Ja, Semumu, beteken “stil”.

Vraag: En die Oom Jan Swerm, waar kom sy naam vandaan?

CB: Ek weet nie, hulle sê hy het altyd ‘n swerm kinders by hom gehad.

Vraag: Vertel bietjie van Oom-hulle se bruilof? Oom-hulle het van Gobabis hiernatoe gekom, né?

CB: Ja, en toe op die buurplaas het ons gaan uittrek en weer ons trou-uitrustings daar aangetrek. En toe het ons nou daarvandaan met die bruidskar gekom …

 

Vraag: Wat was die?

CB: Dit was natuurlik ‘n Bedford-bakkie, dis die ding wat die beste geloop het op daai outydse paaie van ons! En toe was daar nogal ‘n paar van die vriende gewees wat te perd saam met ons gery het, saam met die bruidskar, soos wat die ou gebruik nou maar gewees het. En toe ons nou naby die huis kom het een van die ou Ooms nogal sulke hoera-skote ook geskiet toe hulle ons nou gewaar, en toe het die bruilof nou ‘n aanvang geneem daar by die huis. Oom Cassie was ons seremoniemeester, hy’t  die woord gevoer.

 

Vraag: Oom Cassie?

CB: Oom Cassie du Plesses, oorlede Oom Cassie du Plessis, en hy het hom nogal goed van sy taak gekwyt, ek het nooit kon dink dat hy kan so oulik spraaksaam word nie, maar in elk geval toe die mense nou geëet na die gelukwensery en toe het die jollery toe natuurlik gebeginne. Heelwat, seker al Ghanzi se mense was daar gewees, plus nog ‘n klomp van Rietfontein se boere wat daai jare nog daar naby rond geboer het.  En dit het natuurlik tot laat aangehou …

 

Vraag: En die musiekmakery?

CB: Ag, ek moes maar help, ek moes maar naderhand die bruilof-besigheid maar los en help met die musiek! Ek en van die Rietfontein-boere het saam gespeel, hy’t kitaar gespeel, oorlede Koot van Zyl. Ons twee het saam gespeel altyd, ons het mekaar baie goed verstaan, ons het lekker gekombineer. Ek het die konsertina gespeel en hy die kitaar.

 

Vraag: En watter sort danse het Oom Corrie-hulle gedans?

CB: Ag, soos ons maar nou nog hier op die Boere-sports nog dans, jy weet meeste van die tyd dan dans ons maar die ou boeredanse, die settees, polka, wals, ons speel die wals so ‘n bietjie vinniger, dis eintlik maar ‘n mazurka, dan dans die ouens hom maar wals …

 

Vraag: En Tannie Leah, dis darem maar ‘n snaakse ou bruilof as die bruidegom moet sit en musiek maak .. het Tannie daar teen die muur gesit met Tannie se wit rok aan?

CB: Nee, sy’t toe natuurlik, sy kon toe nou uitkap soos sy wil!

LB: Vir oulaas!

 

Vraag: En die ete wat hulle gegee het, was dit nou ‘n regte ete, met vleis en goeters, of het die mense hulself maar gehelp?

LB: Ja, dit was ‘n gekookte ete, elkeen het hom maar self gehelp.

 

Vraag: Ook maar soos by Nuwe Jaar en was daar ‘’n koek?

LB: Ja, daar was ‘n troukoek.

Vraag: En trourok, waar het Tannie-hulle hom gekry?

LB: Die het ons in Gobabis gekoop.

Vraag: En Oom sê dit was die heelnag se storie?

CB: Ja wat, hulle het seker gedans tot twee-uur of halfdrie die nag.

Vraag: En het Oom-hulle ‘n wittebrood gehad?

CB: Nee, glad nie, niks van die soort nie.

Vraag: Dadelik plaas toe  gegaan?

CB: Ja, ons was sommer op die plaas!

Vraag: Lyk my dis die gebruik hier op Ghanzi dat die mense nie na die kerk toe gaan nie, die gaste wag op die plaas. Is die waar?

CB: Ja, ons doen dit maar so, die gaste wag maar op die plaas. Daar moet net genoeg mense wees dat daar darem getuies is om te teken by die trouery!

Vraag: Nou is dit Ghanzi-tradisie?

CB: Ag dit lyk my dis maar omtrent oral so, want in die Republiek het ons ook maar dieselfde geval gehad , van ons bure het eenkeer ook maar daar getrou en ons het maar almal daar waar die bruiloffees sal wees gaan wag, dis seker maar ‘n Boere-gebruik daai.

Vraag: Seker maar oor die afstande so vêr is né, almal kan nie sovêr gaan en weer terug nie?

CB: Ja, jy sien, as jy nou kerk-toe gaan, dan moet almal nou vir hulle optof! Nou’t ons nie nodig nie, nou kom ons sommer in sportdrag. In hierdie ou warm wêreld kan jy tog nie met ‘n das en goeters nie, in daai dae nog met ‘n onder-baadjie ook … nou nog aanpiekel nie!

 

Vraag: Het Oom ‘n manelpak aangehad?

CB: Nee, ek het sommer net ‘n gewone pak klere met ‘n onderbaadjie gehad soos die gebruik was, ‘n driestukpak. Die gaste wag daar waar die bruiloffees gehou word. Dan gaan trou die paartjie nou maar waar hulle ookal gaan trou, en hulle kom dan nou maar met die vinnigste moontlike ryding daarvandaan om op die plaas te kom waar die bruilof nou sal plaasvand. En dan wag die ander mense daar, want as jy nou dink daar’s miskien ‘n dertig karre, kar en perde, wat moet ingespan word en jy moet nou saam met daai bruidskar ry, dit sou darem ‘n vreeslike mal okkasie gewees het. Nou sit mens hulle maar liewerste voor hier waar die bruilof gehou gaan word.

Vraag: Het die bruid en bruidegom ‘n agterryer gehad om hekke oop die maak?

CB: Ons het altyd ... daar was nog nie eers drade in Ghanzies gewees, gespan gewees nie! Dis voor die drade hier gespan gewees het. Maar gewoonlik, dis waar hierdie ek kan sê perde-kommandotjie eintlik vandaan kom. Hulle sou nou vooruit gejaag het en die hek gaan oopmaak het en dan gaan die mense deur en een bly agter, of ‘n paar bly agter … hulle jol so. Jy weet, hulle het ‘n vlag wat hulle so by mekaar afneem en hulle bly so jaag hier om die bruidskar, met die vlag en so aan, en gewoonlik in die ou dae het ons nog altyd ‘n laventel bottel ook gehad en dan op ‘n seker tydskip dan het die bruid die laventelbottel hier langs die kar uit en dan kom gryp een van die perderuiters nou daai laventel bottel  … hy’s nou in so ‘n pakkie gemaak dat mens hom darem kan pak, dan jaag hulle nou reisies daaroor. Dit gaan partykeer bietjie rof, ek sal jou sê daar val baie manne af! Maar dit het nie vir ons darem so gebeur nie, hulle het ook nogal so gespeel met die perde en so …

Vraag: Die lavantelbottel, wat is die idée daarvan, wat gebeur nou met die ou wat hom kry?

CB: Dan kom hy hom vat, dis syne!

 

Vraag: Maar beteken dit nou nie dat hy die volgende gaan trou of soiets nie?

CB: Ek weet nie, dit is nou maar net so, ons kry dit maar so by die oumense.

 

CB: Dis te veel van ‘n gesukkel, moenie dat ek nou weer daaraan dink nie.

Vraag: Maar Oom Corrie het die naam van die man wat die patente hier uitwerk vir karre, as ‘n ding breek maak Oom Corrie hom reg ... op Oom se eie manier. Watter soort van patente is daar nou wat aan Oom toegeskryf word?

CB: Ag ek weet nie, seker die bekendste is hierdie wat ons die ou Bedfordjies mee start, hierdie “crank” wat ons hier voor insteek wat die wiel aan het, instede van ‘n slinger  wat jy draai, draai jy ‘n tou om ‘n wiel wat maar dieselfde werk doen as die slinger. Dis blykbaar die enigste of die maklikste manier om ‘n dieselmasjien aan die gang te trek, deur ‘n tou aan daai “crank” te trek. Jy draai ‘n tou om daai wiel en dan trek jy aan die tou en die draai die masjien daai  “crank” soos ons hom nou maar noem.

Vraag: Het Oom dit uitgedink hierso of …

CB: Ja, dit is van sukkel wat ‘n mens as jy nou nie anderste kan nie ... Ons het ‘n ou groot vragmotor gehad, ‘n ou Leyland met ‘n 600 kubieke duim enjin en sy ou selfstarter het toe maar naderhand die gees gegee en ons moes hom op ‘n plan aan die gang kry want dis toe naderhand al goeie ou vervoermiddel wat ons nog het om brandstof aan te ry van Gobabis af. Toe dink ek aan die plan ... nou ek wonder toe as mens dit nou doen of mens hom nie sal aan die brand getrek kry nie. Toe probeer ek hom, toe sien ek nee wat mens kry hom sommer maklik aan die gang, want hy’t maklik gestart as hy net een kompressie oorgaan, hy start dan onmiddelik.  Toe het ons nooit eers weer probeer om sy ou starter reg te maak nie …

Vraag: Het die mense baie vinnig die ding begin navolg?

CB: Wel elke ou wat sukkel sonder starter het hom maar geprobeer dan vind hy hom maar goed of hy vind hom goed genoeg.

 

Vraag: Vertel bietjie die storie van John Kemph in Johannesburg?

CB: Ja, hy’t glo in Johannesburg met sy ou Bedfordjie gaan staan, weet nie of hy sonder diesel of wat geraak het nie. Hy het toe maar diesel ingegooi en toe maar op sy tyd die “crank” voor in gesteek terwyl die karre nou so om hom ry en hoeters druk en die toe omgedraai. Toe die ou Bedfordjie daar start toe’s die ander mense nou meer verstom as hy natuurlik, jy weet, want hy ken die storie, hy het daar grootgeword! Dit het hom niks gesteur nie. Maar ek het dit self ook al gedoen in Pretoria en so aan, as my ou lorrie daar doodgaan dan vat ek my ou “crank” en ek steek hom daar voor in en ek trek hom aan die brand.

Vraag: Sweis ‘n mens die wiel vas aan ‘n stang?

CB: Net aan die gewone slinger wat jy andersins ‘n kar mee sou gedraai het. Hierdie Bedfords die kan ‘n mens met so ‘n slinger aan die brand gedraai het.  Maar ‘n mens kan natuurlik nie ‘n diesel Bedford met ‘n slinger aan die brand draai nie, daar is nie ‘n ou wat daai masjien ... hy draai te swaar oor kompressie soos ons dit dan nou maar noem, maar met daai wiel wat mens aansit kry mens hom maklik oorgeruk, dan start hy baie maklik.

 

Vraag: En die agterwiel-opdomkragstorie?

CB: Ja, dit was nog voor die  “crank”. Sien dit is wat die “crank” makliker maak, want as jy nou moet eers agterwiel opdomkrag daar in Johannesburg dan sal die ouens darem ongeduldig raak hier agter jou in die tou! Dan is daar ook nie plek om te trek nie, want dan trek jy teen die ouens wat agter jou in die tou staan!

Vraag: Vertel hoe dit nou presies werk?

CB: Ag mens domkrag maar net die agterwiel van die kar op en dan sit mens hom gewoonlik in sy heel vinnigste rat, want dan trek jou masjien die ligste, en dan draai jy ‘n draad, tou of ‘n riem of iets wat jy ookal het om die agterwiel en dan gee ‘n mens maar net so een of twee plukke net om die masjien gedraai te kry, dan start hy ook.

Vraag: Vertel van die koeler wat vol grassade raak …

CB: Ja, ag wat dis niks nie, mens draai maar net een van die vonkproppe uit en dan vat jy ‘n “hosepipe” en druk hom daar vas terwyl die kar nou redelike vinnig staan en “idle” maar dan is nou vooraf eers die “fanbelt” losgemaak. Ek praat maar motorkartaal jy hoor, ek sal nie Afrikaans praat nie, want ek ken nie al die name so glad nie. In elk geval het mens nou die “fanbelt” losgemaak dat die “fan” nou nie draai en mens se hande stukkend slaan nie en dan hou ‘n mens net daai “hosepipe” aan die agterkant van die koeler en dan pomp die ... kyk die kar maak mos nou vanself drukking, hy pomp mos nou eintlik by sy “pistons” uit, of by die “pluggate” soos ons dit nou maar sê, en dan daardie pomp  is net sterk genoeg om al daai gras uit te blaas. Dit gebeur vinnig, hy blaas al daai gras uit dat daar niks gras in daai koeler oorbly nie. As jy hom rêrig skoonhou kan jy maar net ‘n stukkie sak of iets aan die brand steek, in petrol doop of iets en aan die brand steek, en voor aan ‘n stukkie draad vasmaak en dit weer hou voor die koeler, nadat jy die “fanbelt” nou weer aangesit het, dan suig die fan weer al die vlamme deur die koeler dan brand hy die res van die grassaadjies uit, dan’s hy 100% skoon.

 

Vraag: As een van die sy-aste van ‘n lorrie breek?

CB: Ons het eenkeer deur die Kalahari gekom en daardie jare was daar baie min verkeer deur die Kalahari gewees, jy was gelukkig as daar eenmaal ‘n week ‘n voertuig deur die Kalahari gaan. Dit was net na my oorlede pa se begrafnis toe kom ons terug en die pad was nog verskriklik swaar gewees, daar by Palamakoea rond, daar waar dit nou gegravel is. Ons het so twintig sake of soiets mielies opgehad, ek dink en dan nog ‘n paar stukke huisraad en so aan, glad nie ‘n swaar vrag nie. Iemand anders wat voor ons gewees het het verskriklik gebly staan daar, en hulle het diep gate gegrawe en anderkant die gate was die hele pad toegetrap gewees en toe ons daai toegetrapte stuk vat toe kraak die agter as so met ‘n klik, af is hy! Ons het nie ‘n spaar by ons nie, en Oubaas was daardie tyd so ‘n ses maande oue babatjie gewees, hy’t net beginne sit jy weet, vyf maande oud ja, hy’t net so beginne sit, hy’t nog daar geleer sit in die sand, toe staan ons daar.

 

En my oorlede ma is by my en my suster Leah en net ek en een Boesman, ons was nou die enigste mansmense wat kan iets doen. Ek dink wel, ek het eendag gehoor Oom Albert Lemcke het gesê mens kan die “diff” vasbou en dan ry, hy’t net iets so gevertel, toe hoor ek net in sy storie wat hy vertel het hy het maar die “diff” vasgebou en verder gery op een as.  Toe dink ek, wel dis die enigste ding wat ek kan doen.   En ek weet nie hoe of wat nie, ek het eintlik altemit nooit eers ‘n lorrie se “diff” uitmekaargemaak nie. Elk geval, ek het hom toe maar oopgemaak, ek en die Boesman, en ons het hom uitgehaal en ek het hom heel uitmekaar gemaak en toe sien ek hy’t binnekant sulke ratjies in die rondte wat toegee as die een as af is en dis waarom ‘n voertuig dan nou staan ... daai ratjies gee toe binnekant, hulle draai in die rondte as een as af is. Maar as altwee aste in is, dan is hulle “gelock”, dan kan hy nou natuurlik trek. Ek het hom toe gesit en bekyk, en ek dink toe wel ek het sulke stukkies plat yster daar en ek kap met die beitel sulke tweeduim stukkies yster en ek buig hulle puntjies so dat hulle tussen daai tande van die ratjies kan vasdruk en ek sit daar twee stukkies yster tussen die tande in en ek skroef hulle vas.

 

Ek draai nou weer al die boude vas en druk nou daai ystertjies tussen die ratte vas en ons sit hulle aanmekaar en net toe ons hulle klaar aanmekaargesit het, gelukkig ook maar, toe kom daar Regerings lorries van voor af en hulle sien toe ons staan op ‘n baie swaar en ‘n moeilike plek en hulle was twee lorries bymekaar en hulle trek toe hulle lorries uit langs die pad en hulle kom help ons toe daar. Toe’t ek en die Boesman al die mielies gevat en omtrent so 100 treë vêr aangedra en hulle daar gaan neersit, lat die lorrie nou moet ligter kom om ook uit daai moeilike swaar plek uit te kom. Hulle help toe bietjie stoot, hulle was vier of vyf mense gewees en ons kry toe die lorrie daar uit en gaan hou toe weer by die mielies stil en laai die hele vrag nou op die kant se as wat nou bietjie trek want hy skop toe nou maklik met daai een wiel. Dit voel toe nou of ons ‘n vreeslike sterk masjien in het, en ons het met daai een as gery tot amper by die huis, toe kom bly staan ons in ‘n pan wat vol water is, want die panne was nog volgereënt. Die ou paadjie loop so deur die kant van ‘n pan, en ons het seker bietjie te vêr gegee pad na ‘n kant toe en die as wat nog kan trek, daai wiel gaan val toe nou so tussen twee klippe, toe trap hy deur die modder en daar gaan bly staan ons toe nou nog weer. Daar breek ek toe nou die laaste as! Toe stuur ons die Boesman na my swaer toe, hy’s omtrent so ‘n myl daarvandaan gewees ...

 

Vraag: Wie’s die?

CB: Ben Visser. Toe stuur ons hom soontoe, die Boesman nou, toe gaan sê hy vir hom, toe kom haal  hy ons daarso seker so twaalfuur.

 

Vraag: En daai as het so vêr gehou!

CB: Ja, ons het met daai as seker maklik seker 175 myl gery met hom. Een plek hou my ma Oubaas se doek hier so langs die pad, jy weet, hierso so langsaan uit dat hy moet droogwaai, hy’t ook nie meer droeë doeke die man nie, sy hou nog die doek so en ‘n haakbossie kom en dis juis waar die pad op sy swaarste is, nou moet ons die lorrie vet gee dat hy in ‘n hoë spoed moet loop. My oorlede ma hou die doek so en hier kom ‘n haakbossie en hy gryp die doek uit haar hande uit, sy sê, “O gits. Daar gryp die bos nou die doek!” Ek sê, “Hy moet maar daarso hang, ek stop nie!” Albertus Lemcke kom so ‘n dag of twee na ons en hy sien hier hang ‘n mooi spierwit doek so oor die bos. Hy haal hom af en sien  LJ Bekker ... toe kry ons weer die doek! Ook daar by Palamakoea ... Bruno Lemcke, al die “diff” se boude losgebreek, dis ‘n ou groot 15-ton lorrie, 60 vt lank, hy trek op sy agterste vier wiele, en toe is al die boude op die “diff” afgebreek, en daar is nie ‘n kans om daai “diff” vas te kry nie. ‘n Mens kan nie verder in die sand in ry met daai een “diff” nie, dis onmoontlik, en ek het die ding so deurgekyk en ek dag, wel, ek moet ‘n plan maak. Ons moet die lorrie wegkry daar, ons kan hom nie daar laat staan nie, ons kan ook nie daai een “diff” daar uitbou en Ghanzi toe vat nie, dis te ‘n vreeslike groot werk. Ons het altyd kettings en domkrae natuurlik by ons, toe vat ek ‘n ketting en ek sit hom so oorkruis om die “diff”, en ek domkrag dat die domkrag die “diff” vasdruk en bo teen die ketting vasdruk, ek druk hom daar vas met die domkrag, hoor hier, en ons ry met hom huistoe, en ons het nog ‘n paar keer met hom Gobabis toe en terug gery. Ons maak net die dromkrag vas sodat as hy daar sou skietgee, dat hy daar hang en nie verloor nie! Ons het darem weggekom so.

 

Vraag: Het Oom ooit die lorrie omgegooi of so, dit gebeur mos gereeld dat die lorrie omval.

CB: Ek het ookal, sommer so ewe maklik! Ek ry nou nog so en dis hierdie nuwe gravel paaie wat hulle maak, dan hoop hulle hom vreeslik hoog op en nou is daar net so twee hardgetrapte spore. Waarop ek ry. Op daai hardgetrapte spoor vang die ou 15 ton ABC die sandwal, hulle het hom so toegeskraap met sand weer, die grawel, nou’s hy mos so ‘n ronde pad met sand  toegeskraap, en hy het net so effens na die kant toe gegaan en toe sy voorwiel daai los sand vang keer niks hom nie, en toe’s hy hier af met die 18 bees en daar lê hy op sy sy.

 

Vraag: Het Oom-hulle nie seergekry nie?

CB: Nee, niemand het seergekry nie.

Vraag: Het die Boesmans bo afgeval en die bees uit?

CB: Nee, die bees kon nie uitkom nie, ons het die hekke agter oopgemaak dat hulle uitkom, toe jaag ons hulle terug Hanahai toe en ons gaan sit hulle in die kraal. Dit was naby Hanahai gewees, en toe het een van die Regering se laaigrawe die ou lorrie daar kom optel. Lampie het sy welder ook vir my gebring, toe sweis ons net die goed wat afgebreek het en so aan weer bietjie aanmekaar daar, toe ry ons weer verder.

 

Vraag: Nou hoe het Oom-hulle hulp gekry, was daar toe dadelik mense?

CB: Daar was mense wat Ghanzi-toe gegaan het, toe laat weet ek vir Leah. Ek het een ou Bedfordjie gehad, ek het hom net vyf dae nuut gekoop, toe val hy vir die eerste maal om. Hy was nou naderhand gewoond om te val! Die laaste maal het ‘n Boesmantjie doodgeval, enne hy moes eintlik nie saamgery het nie, want my drywers mag nie daai tyd passassiers opgelaai het nie. En hulle wil nie hoor nie, en hulle het toe maar van Lobatse af ‘n paar passasiers opgelaai, wat nou iewers langs die pad moes afgeklim het.   Want ek het hulle heeltemal gebelet om passasiers op te laai, want die passassiers het meeste van die tyd drank by hulle en dan kry die drywertjie dit in die hande – hy’s ‘n goeie bestuurder as hy nie drank by hom het nie. En dit het toe maar weer gebeur, hy’t passassiers opgelaai, en hulle het vir hom drank gegee en hy was natuurlik half getrek en draai uit die pad uit. Maar hy moes vreeslik stadig gery het, en toe het die Bedfordjie baie skuins gekom en hy was volvrag gewees. Hulle het waarskynlik die deur nie baie goed toegemaak gehad nie toe val die Boesmantjie uit, maar hy val voor langs die lorrie en daardie selfde tyd val die lorrie bo-op hom. En soos die drywer vir ons gesê het, “Baas, toe ons sien toe steek net sy voetjie hier uit en hy roer nog so effentjies, toe hou hy op om te roer.” Nou toe het hulle die domkrae onder die lorrie se bak gesit en het hulle hom opgedomkrag. Omtrent ‘n halfuur daarna sien hy  ‘n kar se ligte van voor af kom, en die paaie loop mos so twee langs mekaar of so drie langsaan mekaar, en hy sien toe nee hy’s nou heel op die verkeerde kant en draai toe nou uit om na sy regte kant van die pad te kom. Die pad was te diep geskraap gewees en net toe hy die skuinste vat toe kom die lorrie te skuins en toe val hy om. En ‘n halfuur daarna toe kom daai lorrie eers by hom aan wat hy voor uitgedraai het. Dit was op daai kaal vlakte, jy weet, Sekhuma se vlakte. Dieselfde Bedford val eenkeer agterom ... een van die drywers het hom in die pad gehou. En die ander keer het hy daar op Gobabis van Nico Swart se plek af gekom, sommer net anderkant die motorhek ... ek weet nie wat het daar aangegaan nie, die drywer het net so gery toe sê hy dis net of hy nie beheer het oor die stuurwiel nie, toe keer hy naderhand net so om. Nee hy’t viermaal geval.

 

Vraag: Het Oom ooit dae lank in die Kalahari gesit sonder dat daar hulp opgedaag het?

CB: Ek weet nie, ek het maar altyd ‘n plan gemaak, dis baie min dat ek ‘n lorrie moes los! Toe my oorlede pa dood is, is ek en Ant Leah af gewees, toe’s ons hiervandaan weg met die ou lorrie. Ons het ook vir ‘n tydlank nie met hom gery nie, dat hy stilgestaan het, en hy’t waarskynlik  ‘n lekplekkie in sy “diff” gehad wat ons nie van geweet het nie en toe ry ons hom droog sonder olie. Hoor hier, toe brand hy so vas dat hy loop morsdood staan so teen ‘’n afdraentjie, heeltemal doodstil en daar haal ek en die Boesman die “diff” daar uit en kap al daardie ou warm yster soos hy vasgebrand is, so ingetrap so tussen die tande in, met ‘n skroewedraaiertjie het ons hulle alles so afgekap, daai stukkies yster, totdat hy nou weer kan roer en beweeg. Ek het hom maar so bietjie losserig gestel, toe raas hy verskriklik, al wat my toe darem moed gegee het dat hy sal loop is sy “ball races” was nog reg gewees. Toe dink ek ag wat, daar’s nie een tand af nie, hulle’s net verskriklik afgeslyt so van die hitte, enne ons moes hom amper twee ure lank kans gee om te staan en afkoel voor ons rêrig kon gevat het aan hom, toe het ons maar net die buitenste boudjies en goed losgedraai en ons hom maar so los dat hy staan en afkoel. Hoor hier, toe’s hy warm! Maar in elkgeval toe kom daar gelukkig ‘n persoon van voor af, ek dink dit was ‘n landmeter of iets en hy gee ons toe darem ‘n blikkie ghries. Ons self het ‘n blikkie  ghries gehad en toe meng ons die twee blikkies ghries in ‘n gelling gewone motorolie, ons het sommer die lorrie se enjinolie afgetap en nuwe olie in die enjin gegooi en daai ou olie en die twee blikkies ghries het ons in die “diff” gegooi. Ons het dit ingegooi en ons het daarvandaan gery maar hy’t ons omtrent mal geraas, dit was ‘n verskriklike teëspoed trip, ons ry nog so toe gaan staan die lorrie, toe strip sy “clutchplate”. Gelukkig het ek ‘n ou spaar gehad, en dié was toe nou weer ‘n bietjie te lank gewees, toe kos dit ons toe nou ook weer tweemaal ratkas en goed insit en probeer en dan werk dit nie en dan moet ons nou weer ratkas uithaal en die “clutchplate” se punt afsaag, ons het maar baie gesukkel, maar ons het darem, ons het eintlik toe te laat vir my oorlede pa se begrafnis daar gekom, maar wat kon ons nou help, ons het so gesukkel op die pad.

CORRIE & LEAH BEKKER

Vraag: Oom het partykeer mos ook die “clutchplate” reggemaak met bloudraad, ‘n “Handclutch” gemaak?

CB: Gewoonlike met hierdie model lorries wat nou met die olie-clutch uitkom, die “hydraulic clutch”, ... ek en Lampie moes ‘n  paar maal al in die Kalahari, dan werk daai hydraulic stelsel nie meer nie, dan domkrag ons die agterwiel van die lorrie op, en dan moet die Boesman nou maar daar regstaan as ons die lorrie gestart het, dan sit ons hom in sy eerste rat, en dan laat sak hy nou die domkrag vinnig, en as die wiel daar grondvat dan loop die lorrie. Die Boesmans moet nou maar hardloop met die domkrag en die donkragblok en so in die loop moet hulle nou maar oplaai en as ons in die spieël sien hulle is nou besig om op te klim, dan gee ons nou maar net vet en dan ry ons nou so daarvanaf net so met die “refs” van die masjien, sit ons die ratte oor, dan ry ons maar so tot in Ghanzi. Dan hou mens ook nie graag stil by ‘n ou nie.

 

Vraag: Hierdie landmerk van Oom Corrie langs die pad, hoe het dit gebeur dat die ou daar gaan staan het?

CB: Eintlik het hy gebreek, die Boesmans het gestaan en wiele pomp toe slaan hy ‘n bearing, hy’t te lank gestaan en “idle”! Ek weet nie hoekom was hulle so bang om hom af te sit nie, hy “start: maklik. Ek was nie by nie, ek het net die Boesman gestuur. Enne toe slaan hy ‘n bearing, toe gaan haal ek sy een “piston” heeltemal kompleet uit en ek bind net die gaatjie van die “crankshaft” toe dat hy nie daar onnodig olie uitmors nie en toe ry ons hom met vyf “pistons” daarvandaan. Hy’t nogal goed geloop en daar waar hy gaan staan het, was waar die “sump” middeldeur gebreek het. Die ratkas kom aan ‘n deel van die “sump” vas en toe het die “sump” oopgebreek, die gedeelte wat die ratkas hou vas het aan die bokant losgebreek en toe skeur hy die “sump” uit. Toe wil ons hom darem nou nie heeltemal so ry nie en het ek het omtrent so ‘n agt myl vêr getou, maar dit het verskriklik  gereën, toe word die pad te glad en kry ek nie die lorrie weg nie. Toe trek ek hom maar daar van die pad af, toe dink ek, ag ek sal hom maar later kom haal, en die later het nou amper nooit geword!.

 

Vraag: Dit het so half al ‘n monument geword, almal wat daar verby-ry praat van die planne wat Oom Corrie gemaak het.

CB: Ag wat, ek het toe al beginne vies word vir die ou transportryery. Nou later ry Oubaas weer, hy het nou al geleer sukkel.

 

Vraag: Nou maar dink Oom hy het dieselfde talente?

CB: Wel, hy’t darem nog nooit einlik ‘n lorrie op die pad gelos nie, hy maak hom reg op sy manier en hy kom by die huis. Hy’t eenkeer daar by Maputsani met twee van diesefde soort lorries lorries gery, eers die een, toe’t altwee naderhand moeilikheid. Hy ry die een om ‘’n part te gaan haal vir die ander een, enne toe gee hulle altwee moeilikheid, dan vat hy die een part dan loop hy, dan dra hy dit ‘n ent na die ander een toe en toe gaan haal hy die ander een, of hy ry met hom verby na Maputsani toe en maak die stukkende part daarso reg, jy weet, en hy kom terug en hy kom sit weer verder aan. Nee, hy hou nogal bietjie kop.

 

Vraag: Weet Oom dalk iets van  die garage wat vroeër daar op Ghanzi was. Ek dink Oom Johnny van Zyl of iemand se garage?

CB: Wat nou van die garage ?

 

Vraag: Was daar so een, hoekom het dit doodgeloop?

CB: Ja, daar was eintlik  twee mense wat daar garage gehad het. Cohen van Windhoek was ‘n groot firma, hy het ook ‘n garage daar gehad. Maar ons boere is mos maar geneig om onsself te help, ‘n garage kry nie baie aftrek nie. Hulle kan net parte verkoop, dis al. En die ding is die mense hou so ‘n groot verskeidenheid van lorries hier aan, dat dis onmoontlik om vir hulle parte aan te hou. Kyk, hulle hou nie by een of twee soorte dat jy kan sê vir daai een of twee soorte lorries kan jy parte aanhou nie.

 

Vraag: Hoekom is daar so ‘n verskeidenheid? Was daar in die begin bietjie meer van ‘n eenheid gewees?

CB: Nee wat, vroeër jare was daar minder soorte lorries, heel in die begin was dit omtrent net Chev en Ford lorries gewees. Daarvoor kon hy bv. parte aangehou het. Toe begint die diesel lorries nou, en hulle is baie soorte, elke ou glo hy koop die beste soort of hy probeer ‘n ander sort, en dan gaan dit maar so aan. Ek en jou pa hou by die Bedfords.

Vraag: Toe Oom begin transport ry het, was dit vir Reg Vize?

CB: Ja.

 

Vraag: Was dit lank gewees?

CB: Ja, ek was lank by Reg Vize gewees.

 

Vraag: Elke week?

CB: Die Kalahari-pad het ek seker vir twee of drie jaar lank elke week gery, in ‘n Borgward-lorrie, enne en partymaal het ek hom twee maal in in week gery. Ek sal jou sê, op daai ou paaie was dit iets vreesliks gewees, om hom tweemaal ‘n week te ry, want hoor hierso, en ek het dit tog gedoen, ek het dit verskeie male gedoen met daai Borgward! Dan ry ek eenkant toe leeg en bring net vrag van onder af ... as ek leeg  ry dan ry mens natuurlik vinnig.

 

Vraag: Met bees op, wat was die gemiddelde tyd?

CB: Ag, dis maar omtrent net dieselfde as nou nog, met bees op kan ‘n mens nie eintlik vinniger ry nie, dit bly maar so plus minus 18 na 24 uur.

 

Vraag: Dwarsdeur die nag?

CB: Ja, feitlik deur die nag, mens slaap uiters so twee of drie uur.

Vraag: Het Oom al ondervindinge met leeus gehad op die Kalahari-pad met transport?

CB: Ag nee wat, daai keer toe ek die domkrag op die “diff” gesit het, daai aand het ons nogal gelag. Ons het ‘n groot vuur gemaak langs die lorrie, nou werk ons so in die vuurlig. En ek het een so ‘n agterligbulbie, aan  ‘n draadjie gekonnekteer, nou werk ons met die ou liggie vir die fyn werkies, maar ons werk hoofsaaklik in die vuurlig en hoor toe iets hier agter in die pad. Die een Boesmantjie het nog geloop en gaan broek losmaak hier so ‘n entjie weg van die vuur af, en ons hoor iets hier in die pad en die ander sê vir hom,  “Jong,  jy moet passop, dis ‘n leeu!“. Hy’t net hier by die vuur gekom, toe kom draf die twee leeus hier so verby, ek stry nog met klein Bruno, hy sê vir my, “Oom Corrie, dis leeus daai, kyk daar, dis twee leeus!” Ek sê nee, dis hartbeeste!” Die leeus is toe verby, eintlik toe hul voor die lorrie in die pad kom, het hulle seker gespeel met  mekaar en hulle gee so ‘n brul, maar hoor hierso toe hulle daai brul gee, dit was net so of jy sê “Mes”, toe staan al wat ‘n Boesman is bo-op die lorrie! Een Swarte wat daai tyd vir my gebestuur het, hy’t nogal bietjie kop gehou, hy gryp ‘n stomp by die vuur en hy gooi hom daai koers, jy weet, maar dit was net toe’s hulle op die lorrie. Maar die beste is, twee van hulle, die een het so halfpad opgeklim toe sien die ander een maar hy kry nie opgeklim nie, toe vang hy daai een aan die voet en trek hom af en wil hy nou aan daai een vat om op te klim toe trek hulle mekaar af. Ek weet nou nog nie hoe vinnig het klein Bruno bo op die Bedford se “carrier” gekom nie, toe ek sien toe staan hy bo-op die “carrier” , nou jy weet hoe hoog is dit! Maar ek weet nie waar het hy getrap nie, want dit was net so gewees, toe ek sien toe staan hy bo-op die  “carrier”.

Vraag: Het Oom hulle geskiet?

CB: Nee, ons het hulle nie geskiet nie, ons het maar die “diff” klaargemaak en toe begin ons maar naderhand te slaap. Ek het net gebeginne slaap toe kom een van my vriende aan, ou Tommie Jonker, hy sê vir my, “Ou Corrie, jy lê en slaap hier so langs die lorrie, net tweehonderd tree hiervandaan is twee ou groot leeus in die pad, en hul spore kom hier van die lorrie af”. Ek sê, “Nee ek weet van hulle, hulle was al hier gewees!”

 

Vraag: ‘n Leeu het mos eenmaal op Oom Corrie gespring, of wat was dit?

CB: Man, Willemien, ons het gaan leeus jag, hulle het van oom Cassie Coetzee se beeste gevang so omtrent twaalf myl daar van die Kamp af. Enne, ons vat die leeu se spoor daar van die karkas van die bees af en die leeu het tot by die huisjaarts geloop, in die jaarts tot omtrent drie tree van die huis af, maar daar was nie mense in die huis nie. Oom Cassie gebruik net die huis as hy so ‘n enkele maal van die Malopo af kom. En  tot by die huis het ons die leeuspoor gevat, en toe gaan hy nou weer terug en ‘n entjie duskant die karkas het die spoor toe ons spoor weer gekruis, maar ons het nie die kruisspoor gekry toe ons hom die eerste keer gevat het nie. In elkgeval ons vat die spoor tot in die hoek van die plaas en toe sien ons die leeu. Ons probeer hom met die lorrie jaag, maar wat, net so ‘n paar tree toe’s die leeu deur die draad. Toe moet ons nou eers draad losmaak en ons is agter die leeu aan, en hy’s weer deur ‘n ander draad toe’s hy nou in die oop veld. Ek sê naderhand vir Stanley Peacock, dis ek en Stanley en Oubaas, hy was toe so elf gewees en ons het met Jan Dry se lorrie gery, en Jan bestuur toe nou.

 

Ons het ‘n klomp Boesmans en Swartes agterop, wat sommer net saam gery het. En ek sê naderhand vir Stanley,  “Jong, maar watse leeu is hierdie wat die bosse los, die strepe bos los en dan loop hy in die kaal vlak?“ Die son begin toe ook al te sak, dis sommer heeltemal laat namiddag en die leeu loop so onder die son om, dis moeilik om hom te sien, die gras staan ruig in sy saad en dis in die wintertyd, die gras is geel gebrand. En jy sien nie, jy kan nie sommer ‘n leeu onderskei as hy in daai lang waaierstertgras loop nie, en die Boesmans vat die spoor en toe naderhand raak die spoor weg. Ek klim af en ons het net een ou perd by ons gehad, dit was die enigste dier wat ons by ons gehad het, een van die Boesmans ry toe op die perd.  En die perd het ons eintlik bietjie gered daai dag, en ons klim af en nou help ek die Boesmans die spoor vat. Oubaas klim ook nog af, maar Stanley sien dit gelukkig en hy sê, “Oubaas, kom jy liewerste om, jong”, en Oubaas klim weer op die lorrie. Dit was nie tien tree nie toe sien Stanley die perd tel skielik sy kop op en hy kyk windop en daar waai so ‘n noord-ooste windjie. Die leeu het nou wind-af geloop, maar ons ry toe met die lorrie al onderkant die wind langs. Dis maar altyd die gewoonte om so te ry, want as jy met jou voertuig onderkant die wind van die spoor ry, hy lê jou gewoonlik voor, ‘n ongedierte op die onderkant van die wind, nou so sit jy hom dan nou heeltemal af. Toe kom dit nou so dat ons nou onder die wind opsoek, want ek sien toe nou dadelik daai spoor van hom gee nou nie eintlik meer pad nie, hy kruip sommer net so rond op soek na wegkruipplek.   En daar’s ‘n appelblaarbossie, ek wonder of hy ‘n voet hoog is, en toe die ou perd sy ore optel en hy kyk na daai rigting toe, toe sê Stanley dit lyk vir hom hy sien die leeu se twee oortjies net so agter die appelblaarbossie uitsteek. Nou moet jy weet hoe plat lê daai leeu toe nou daai tyd.

 

Vraag: Oom-hulle loop toe voor die lorrie?

CB: Ons stap voor die lorrie, ek en die klomp spoorvatters. En ek wonder of dit nou tien-twaalf tree  van die lorrie af is wat Stanley nou die leeu sien lê.  Stanley staan nou hoog agterop die lorrie, jy weet, en daarso was die gras op die moment toe nie meer so baie lank gewees nie, soos wat hy vorentoe gewees het nie. Ek glo dit is hoekom die leeu nou eindelik gebesluit het, wel hy gaan nou die kaal veld in, hy moet nou ‘n plan maak en was dit net so so gewees. Stanley sê nog vir my, “Corrie, jy moet pasop, dit lyk vir my ek sien  hom”, maar hy kon nie sy sin klaar maak nie toe spring die leeu op en hy storm. En hy storm toe reg op my af, en al die Boesmans hardloop toe weg. Ek dog toe wel, ek het nou nie tyd om weg te hardloop nie en tel die geweer op en die leeu kom stop hier so, ek kan maar sê die sand spat amper so teen my, omtrent so vier tree van my af kom stop die leeu. Enne sy’t net gaan vassteek, maar sy staan en brul so hierso op my en haar stert is so in die lug, sy spring weg en hardloop toe omtrent so plusminus ‘n twintig of dertig tree van ons af en toe skiet ek en Stanley gelyk. Ek het ‘n lekker swaar kaliber geweer gehad en Stanley skiet goed, ek dink ag wat ons het vir haar nou doodgeskiet. Soos sy daar so briek sien ons hoe raak sy so weg agter ‘n stofwolkie en sal sy nie nou kan storm nie.

 

Hoor hierso, en ek het nog nie klaar so gedink nie, toe storm daai leeu, toe kom sy uit daai stoffie uit. Daar is toe nou nie tyd nie en ek skiet, my geweer se kas vat net vier patrone, ek het al klaar een skoot geskiet. Die tweede skoot skiet ek die leeu mis en skiet die derde skoot, en ek sien ek skiet weer die leeu mis! Toe ek die laaste patroon in die geweer steek toe sien ek  daar’s nou nie meer tyd nie, maar dit gebeur so vinnig Willemien, mens kan jou nie indink hoe vinnig is dit nie. Ek sien, nee wat, ek sal nie ‘n vierde skoot inkry nie en kyk na haar, maar ek wil ook eers so lorrie se kant toe hardloop en het net so ‘n paar tree gekom toe hou ek haar maar in die oog. Ek loop steek vas en toe ek vassteek toe trap sy vas en sy spring om bo-op my te spring. Toe sy sping val ek plat. En toe ek plat val, toe steek ek die laaste patroon in die geweer in en rol so weg, en sy vang my gelukkig mis en spring toe bo-oor my en vat grond langs die lorrie se modderskerm. Toe ek klaar omgerol het sit ek klaar reg en toe sy grondvat skiet Stanley haar nek af. Ek kon haar geskiet het, maar toe sien ek as ek nou skiet dan skiet ek die agterband van die lorrie ook stukkend, want ek sou deur haar geskiet het. En op daai moment toe skiet Stanley, en hy skiet haar nek af en met haar momentum rol sy so dat sy onder die hoek van die voorste bak gaan lê!  Toe skiet Stanley haar so reg van bo af nog die laaste skoot in die kop. En ek staan daar op en ek soek my hoed, want my hoed is nou weg ... ek is vol sand soos die leeu hier oor my gespring het. Stanley sê vir my so ewe hees, “Man daar lê jou hoed, die leeu het hom vir jou weggeklap!” Ek glo nie dat was so skrik nie, want dit het so vinnig gebeur, ek weet nie of dit alles ... van sy eerste maal daar na my gestorm het tot ons haar doodgeskiet het nie.   Dis verskriklik vinnig, jy reageer net, jy kan nie dink nie.

 

Vraag: En die Boesmanne?

CB: En die klomp, snaaks toe begin die lagtery nou daarso kom. Jan Dry vertel toe vir ons, dit is nou maar tipies soos ou Jan is en soos hy praat jy weet, hy sê die Boesmantjie sê, “Ek probeer hier gereeld by die agterwiel opspring”, hy sê, “Baas ek is mos so kort, ek kannie getrap kry om bo te kom nie en ek gly af en ek hardloop om die lorrie en ek sien maar hier gaan die deur nou net oop!” En toe die deur oopgaan sê hy, hy hoor baas Jan sê vir my, “Gee pad donder dat ek uitkom”, maar ek plak, want die baas is daar so vas dat hy nie kan uitklim nie. Hy druk toe so om in te klim en ou Jan kry nie kans om uit te klim nie! En nou vertel ou Jan Dry weer toe hy nou wil uitspring, jy weet, en sy oë op die leeu hou, toe kom die Boesman toe hy nou die deur oopmaak en kom druk hom hier binne in die lorrie in en is dit tou nou dat hy hy nie ‘n kans kry om te skiet nie. Maar ek dink Jan het een skoot geskiet, en toe het die Boesman hom in die lorrie ingedruk, dis iets van die aard. Ou Jan sê toe die Boesman hom nou so kom instamp in die lorrie in kon hy sien hier raak ek en die leeu voor die lorrie weg en hy sê homself,  “Ja, cherio ou Corrie”, want hy sien dit lyk of die leeu bo-op my gaan land het. Maar gelukkig toe spring sy bo-oor my en spring my toe mis. Stanley sê toe sy haar opraap dat sy spring, toe maak sy haar oë toe en toe sy kom waar ek nou sal wees, vang sy toe so met haar twee voorpote. Dis toe wat sy my hoed so met die een voorpoot raakgeklap het, want ek was te vinnig vir my hoed, die hoed het agterna gekom. Toe klap sy nou my hoed ... so was my kop daar dan was hy in die slag gewees. Gelukkig toe klap sy net my hoed af, jy weet, dat hy eenkant lê .

 

Ons het na ons die leeu afgeslag het gesien een van die koeëls is deur die leeu se hart en dit moes met die storm gewees het, want hy of Stanley moes haar raakgeskiet het met die storm. Ek het die kop geskiet, maar my geweer het uitgeskiet, dit het ons toe agterna uitgevind toe ek en Manie Lewis het hom toe op die proef gestel het. Ons sien toe op 80m skiet hy omtrent twee voet op die linkerkant.  En dit was nou hoekom ek presies soos die leeu nou gestorm het ... het hy net anderste-om gestorm, dan het ek sy nek afgeskiet en haar nie voor op die kop geskiet nie ... die manier wat sy toe gekom het, sy’t so effens met ‘n boog gekom, toe skiet ek vir haar net langs die oor en mens weet dit mos nou nie.

Vraag: Toe Oom Corrie-hulle hier gekom het destyds, was hier perde-sporte en Nuwe Jaarsporte en dinge?

CB: Ja, hier was gewees. Ons het daar by oom Chrisjan Lewis ‘n Nuwe Jaarsports gehad, en in die Kamp het ons gewone perde-sports gehad, jy weet, ook meer met boerperde. Die ouens het toe ook al begin met reisiesperde daai tyd, Nick Swarts en Thys McCarthy-hulle en Albertus-hulle, hulle het almal bietjie reisiesperde gehad. Dit het naderhand met die lang tyd wat ons bek-en-klou gehad het en daar was nie baie inkomste nie, toe het die belangstelling baie geverloor en baie mense het uitgetrek en toe het ons vir ‘n lang tyd nooit perdesports gehad nie. Toe het die Oom Fanie Lewis dit seker weer aan die gang gebegin sit en toe het Arnie en Lambert gebesluit hulle gaan Nuwe Jaarsports gee en toe nou weer gebeginne om Nuwe Jaarsports te hou. Nou ek het altyd geonthou hoeveel sportse was daar al gewees, jy weet, maar die oomblik al bietjie vergeet, ek dink ons het drie by Anne gehou, twee by Willie, en een by Schalk-hulle, en een weer by Annie-hulle, en toe nou hierdie een by my. Dis al ‘n hêle paar jaar dat ons so sports hou.

 

Vraag: Daar’s ‘n sort van ‘n sisteem aan, né Oom Corrie, die man wat die hele sport wen of wat, wie gee die volgende jaar se sport?

CB: Ons het ‘n tyd lank so gemaak, die een wat die wennersplaat sou wen, hy wat die wennersplaatbeker vat, hy sal die volgende jaar die sports gee, jy weet, dit was nadat ons die derdemaal by Annie-hulle sports gehou het. Toe het die ouens gebesluit. Maar toe weet ek nie, hulle het die wennersplaatbekend vir ‘n ou gegee net omdat hy eenmaal gewen het en toe het dit nou geverdwyn. Nou weet ek nie eintlik nie, op die oomblik het ons mos nou ‘n komitee, jy weet, en die komitee die kom maar bymekaar en dan besluit ons waar sal ons ‘n sports gee, en dan soek ons nou maar ‘n sportsplek.

Vraag: Wil Oom Corrie nie vir my die name van al die plate sê?

CB: Ek ken hulle nie so goed nie, Willemien, ek het die mylbeker gevat, is dit die Wildehondplaat. Daai beker het ek nou finaal gevat, dit is nou my eiendom.

 

Vraag: Die mylbeker?

CB: Ja, vir die mylplaat ... ek is maar ‘n ou wat hou van lang afstande, jy weet.

 

Vraag: Het Oom nou, hoeveel keer moet mens hom vat om hom finaal te vat?

CB: Eintlik moes dit, hulle sê tweekeer. Ek het ‘n beker geskenk vir die reisiesperde, want ek wil nie vir myself ‘n beker gee nie. Ek het mos nog nooit ‘n resiesperd gehad nie, ek jaag met die boerperde, enne toe gee ek nou vir die resiesperde ‘n beker, ook op die mylplaat wat ek ‘n driejaar-wisseltrofee gemaak het. Die eienaar moet hom drie jaar vat. Dawid het hom twee jaar agtermekaar gevat wat nogal goed gewees het en toe vat iemand anders hom die derde jaar. Nou het Dawid van Heerden hom weer gevat vir die eerste maal vanjaar, nou weet ek nie wat sal volgende jaar se uitslag wees nie, ons sal maar moet sien.

Vraag: Wie het die plate se name gegee, of weet Oom Corrie nie?

CB: Ag, op die oomblik het hulle omtrent nie name nie, daai een is die enigste, die Wildehondplaat. Ons het een-keer ons plate nou almal sulke name gegee, nog daar by Annie-hulle. Ons het dit toe nou heeltemal uitgeskakel en hy’s nou nog maar Wildehondplaat omdat dit was vir die langafstandplaat, jy weet, vir die boerperde. Toe’t Oom Braam die beker gegee, Oom Braam de Graaff. Ons het toe maar gewedywer vir die beker. Hy’t  so bietjie rondgedwaal so by ‘n paar ouens, toe’t hy nou by my uitgekom, toe’t ek hom nou seker ongelukkig vir die ander ouens toe nou vir my gevat.

 

Vraag: Nou dink Oom Corrie die naam Wildehondplaat kom daarvandaan dat ‘n Wildehond so vêr kan hardloop?

CB: Dis mos maar ‘n langafstand ou …

 

Vraag: Kan Oom Corrie onthou van die ander name wat hulle nie meer gebruik nie?

CB: Ek moet einlik ‘n ou program iewers hê ... Maar om die  waarheid te sê waar ek vandaan kom, Kuruman se wêreld, eintlik Greylingspan se omgewing, het ek nou maar groot geword met die sports. Daar, seker vir die afgelope dertig jaar of langer hou hulle elke jaar die 31ste Mei op Greylingspan sports. En dit is natuurlik ‘n baie groot sports op die oomblik in daai omgewing rond, jy weet, mense ondersteun hom ook baie goed met reisiesperde en met boerperde en so aan. Nou baie van die name wat die ouens hier gebruik het, is omtrent dieselfde as wat daar rond is. ‘’n Gemsbokplaat en ‘n Wildehondplaat en ‘n Damesbeurs en sulke goed jy weet. Die Damesbeurs, daar op Greylingspan was dit nou eintlik die geval, die vrouens wat nou die verversings en dinge verkoop op die sports, en die geld wat hulle met daai plaat invorder, die intreefooie en dinge, buiten nou die prys wat gaan aan die eienaar van die perd, die gaan vir die vrouens se fonds, dis nou waar die naam Damesbeurs seker vandaan kom. En dan is daar natuurlik maar ‘n  Wennersplaat, dis nou die belangrikste plaat!

 

Vraag: Hoe werk dit nou, die boerperde teen die …

CB: Ja, ons het, hulle het toe nou ‘n paar jaar gelede begin met divisies, die boerperde ouens het hulle nou in A, B en C divisies. Dan skuif hulle so op, hulle beginne op die onderste divisies en dan so waar hulle ingeskryf word, en hulle wen daar ‘n plaat jy weet, dan word hulle opgeskuiwe en so aan.

Vraag: Geld dit nou volgende jaar ook nog, as hulle nou laasjaar gewen het  …

CB: Ja, ag dit is seker maar, dit staan nie so op die program nie. Ons onderhou dit maar so en vat dit maar so, ons vat dit maar so … maar ek weet nie of dit baie goed sal werk nie, of ons wil nie, ons sal maar moet naderhand op die jokkieklub reëls kom. Ons sal min of meer en ‘n standaardgewig maak vir die perde en daarvandaan as ‘n perd te veel maal wen elke keer as hy wen die perd laai dat hy swaarder dra, ek dink dit sal seker maar die uitweg wees naderhand. Op die oomblik is daar geen reëls op gewigte nie, jy kan opsit so lig as wat jy moontlik voor kans sien ...

Vraag: Oom Corrie, hier was nog nooit weddenskappe in Ghanzi nie, was hier?

CB: Ja, daar was ‘n regte Gymkana-klub op Ghanzi gewees, op die Kamp, en daar het die ouens gewed en so aan. Maar hier, ons laat wed nie hier op ons boeresports nie en vanjaar vir die eerste maal het een van die slagagentskappe vir ons so R300 geskenk vir pryse. Dis nou die eerste maal dat ons nou pryse gehad het, dan het ons vir die afgelope twee jaar of so ‘n paar koeke vir eerste pryse gegee.

Vraag: Ek onthou, en toe eet die stout kinders laasjaar Tant Kotie se koeke agteraf op.

CB: Ja, dit is so, toe is die ouens kwaad vir ou Willie, Willie moes daaronder ly. Ai, dit is maar ‘n flop! Ons het ook hierdie keer so ‘n koek-episode gehad, maar ek sal my maar nie uitlaat daaroor nie.

 

Vraag: Dit was nou toe die gebou in gebruik geneem is van die N.G. Kerk?

CB: Ja.

Vraag: Maar ek verstaan dit was in die begin die N.G. én die Doppers se kerk, né?

LB: Dis reg.

 

Vraag: Het hulle dit saam gebou ook?

CB: Nee, ons het dit maar sommer net vir die Gereformeerdes geleen.

 

Vraag: Dan het hulle om die beurt elke Sondag daar diens gehou?

CB: Nee, nie om die beurt nie, ek kan sê so elke maand-en-‘n-half omtrent. Ons het ook maar so die dienste so drie maande uitmekaar gehad, net soos nou nog. Maar toe het ons dit so gedeel dat die dienste so meer of min in die helfte val en dan woon hulle ons dienste by en ons woon hulle dienste by.

Vraag: Die ingebruikneming van die kerkgebou, was dit nou iets gewees?

CB: Ja, op ons manier was dit nogal iets, ek meen dit is die eerste kerk wat in Ghanzi gebou is, die eerste N.G. kerk wat hier gebou is.

Vraag: Was hier ‘n ander kerk?

CB: Ja, oorlede ou Oom Theunis Kotzé, die het mos ‘n kerkie gebou hier op Eersterus. Hy staan seker dalk vandag nog, as hy nie afgebreek is nie ...

Vraag: Ek dink daar bly Herero’s in, of Damaras …  Maar Oom wou vertel van die Kerk?

CB: Ag ek kan nie meer so baie mooi onthou nie, jy’t my  nou amper onkant gevang, dis lank terug. Ek onthou maar net dat oorlede ou Tant Lena Lewis was die oudste vrou in Ghanzi en in ons kerk, jy weet, en sy het dit vir ons oopgesluit. Dis al wat ek omtrent nog kan onthou.

 

Vraag: En die predikant, kan Oom die dalk nog onthou?

CB: Watter predikant was dit gewees? Daar was meer as een predikant. Dominee Vorster was hier en sy vrou, hy’t ons nog daai kanselbybel gegee.  Hulle is toe net pasgetroud ook en so aan en was hy hier met die opening van die kerk.

Vraag: En die elke driemaande se ganery na die kerk, daai tyd het almal al bakkies gehad, né? Het die mense ook gaan uitkamp daar by die kerk?

CB: Ja, ons gaan kamp nou nog daar van Vrydag- of Saterdagoggend tot Sondag na die laaste erediens.

 

Vraag: Is daar twee dienste?

CB: Sondag het ons twee dienste uitmekaar uit, ons net so ‘n teedrinkery of koffiedrankery tussenin, so ‘n kort pousetjie. Die leraar, die dominee moet nog gewoonlik terug ry Gobabis-toe en as hy nie meer of min twaalfuur of eenuur kan van die Kamp af vertrek nie, kom hy te laat om deur die grens te kan gaan.

Vraag: Is daar nou nog vandag gemeensaamheid by die kampery tussen die mense?

CB: Ja, ons gaan kuier vir mekaar daarso, jy weet!

 

Vraag: Daar’s nie speletjies of soiets nie?

CB: Nee wat, nie eintlik nie, ons is te oud, ons is ook net so ‘n ou paartjies, jy weet. Ons gaan sit en praat maar net rugby en perde en die vrouens skinder so ‘n bietjie oor en weer.

Vraag  Toe Oom Corrie-hulle ingetrek het, was dit as N.G. né, en Tannie Leah was ook N.G.

CB: Ja.

Vraag: Dit lyk my nie N.G.-mense was nou eintlik maar die eerste Ghanzi-mense en toe later toe Oom Theunis Kotzé gekom het, het hy die Gereformeerde mense saamgebring, of was daar ….

CB: Ja, dit is meer of min so.

Vraag: So almal wat van hom familie was het toe nou naderhand Doppers geword?

CB: Ja, dit is so.

Vraag: Ek verstaan daar is nou met Oom-hulle se kerk ook iets aan die gang, een of ander nuwe storie dat Botswana ‘n N.G. Kerk word op sy eie, né?

CB: Ja, ons is nou ons eie gemeente en het ons nou afgestig van Gobabis af.

 

Vraag: Die gemeente Ghanzi?

CB: Ja, maar ons is nou nie meer soos vroeër die N.G. Kerk van Gobabis-Suid soos op die almanak sal gemeld wees nie, ons is nou geregistreer as die Dutch Reformed Church of Botswana.

 

Vraag: En dis nou vir wit en swart of is dit nou nog nie?

CB: Dit is eintlik vir almal wat gemagtig is om kerk toe te gaan.

Vraag: Maar daar is seker nog nie eintlik Swartes nie?

CB: Daar was al ‘n paar maal by ons in die kerk gewees, ja. Lidmate wat kom Nagmaal gebruik het, ja.

Vraag: Nou kom hulle nou nog gereeld?

CB: Nee, dit was net die eenkeer gewees, maar hulle het blanke vriende gehadbwat kerk-toe gekom het, toe bring die vriende hulle nou saam.   Maar wat ons het ...

Vraag: Gemeente is nie beswaard daaroor nie?

CB: Niemand nie, ons het dit vooraf gebespreek.   Kyk, as ons enigsins sal beswaar maak, die geringste wat ons sal beswaar maak dan gaan hulle net sê ons diskrimineer en hulle gaan onmiddellik ons kerk toesluit.   Ons maak geen beswaar nie, en nou het ons ook niks moeilikheid nie. En die gemeente mense wat ek nou rêrig gedink het sal nou dalk hulle rug draai en sal uitstap as daar soiets gebeur, jy weet, hulle is die manne wat gekom het met die voorstel, “Kerels, ons gaan ons nie laat uitsit nie, as hulle in die kerk wil kom laat hulle inkom, laat  hulle kom sit en luister” ... ons sê elke mens moet vir sy eie gees maar stry en vir sy eie siel spook, jy weet.

 

Vraag: Die diens is in Afrikaans?

CB: Ja, dit het ons voorgebehou met die vergaderings toe hierdie dinge gebeslis is, jy weet, van die afstigting van die kerk. Een ding is doodseker, ons diens hou ons in Afrikaans, want dis ons moedertaal, die taal wat ons verstaan. Jy kannie geestelik in ‘n ander taal vir ‘n mens ‘n ding uitbeeld soos in jou moedertaal nie, dit is tog net so. Ek kan nie na ‘n Engelse preek sit en luister al is dit die mooiste preek, hy sal nooit by my die ingang vind, want ek verstaan hom nie en dieselfde ding is met ‘n Engelsman, jy weet.

Vraag: Hulle sal dit seker ook so insien.

CB: Hulle was so effens taai gewees, jy weet, want die groot ding isbnou is ons afhanklik van Afrikaanse predikante, hy moet nou 100% Afrikaans gemagtig wees. Maar hier’s een professor op die universiteit hier op Gabarones, hulle het nou teologie ook daarso. Hoor hier Willemien,  hy praat beter Afrikaans as ek en jy! Maar sê ek weer, as daai man vir my ‘n preek loop afsteek, glo ek, want hy praat definitief. Hy’s geleerder as wat ek is, honderd maal slimmer en is ‘n intelligente persoon. Hy praat Engels, Afrikaans en Tswana presies net ewe vlot. Hy’s beter as daai professore en dinge wat ons met ons Ringsittings daar het. As hulle vashaak toe ons nou oorskakel met die vergadering, want ons het altyd die vergadering in Afrikaans gehou, toe kom daar nou ‘n paar swart leraars by wat nie Afrikaans ken nie toe skakel ons oor na Engels. Hoor hierso dan haak hulle vas, dan weet hulle nie hoe moet hulle dit in Engels stel nie, dan vra hulle daai professor, dan sê hy dit vir ons in Engels. Ek weet nie wat is sy van, Kgade of amper soiets, maar ek sal jou sê hy’s darem goed daai man!

 

Vraag: Dan sal dit darem seker nie probleme veroorsaak as dit so gaan nie.

CB: Nee wat, ons het definitief nie probleme nie, ons kerk is in Botswana geregistreer en ons het niks probleme nie. Maar jy weet, ek weet nie hoekom is ons ou gemeenskappie so dwarstrekkerig? Ons is net so ‘n ou klein klompie mense, en die Doppers is so min, die arme mense, jy weet, regtigwaar, dit smaak my as dit nou my geval gewees het dan het ek aangesluit by die ... sê nou dit was nou die Gereformeerdes wat so baie gewees het, en ons was nou net so ‘n paar sal ek vir my paar mense gevra het, “Hoor hier kêrels, kom ons gaan oor na daai kerk toe dat ons ‘n eenheid is, jy weet, dat ons sterker is “.

 

Vraag: Ja, dis nie eers ‘n sitkamer vol nie!

CB: Ja, hulle is nie.

 

Vraag: My ma sê natuurlik sy’s baie lus en doen dit as hulle nou by die Sending weg is, sy sê sy kan omtrent nie aan ‘n ander oplossing dink nie.

CB: Ek sal jou sê, gelukkig hulle word nou van Gobabis af bedien, maar eintlik is hulle nou streng net tussen ons gesê, hulle is eintlik verbode hier. Jou pa beskerm hulle op ‘n manier hierso, hulle kerk is nie geregistreer nie.

 

Vraag: Dis eintlik, want die Regering gaan dieselfde beswaar hê as wat hulle teen Oom-hulle gehad het, né?

CB: Nee kyk, hulle het nie beswaar teen ons gehad nie, gelukkig het ons ‘n wakker ou op Gabarone, daai Dominee Barry en die N.G. kerk is baie hoog aangeskrewe by die Botswana Regering. Hulle dink die wêreld van die N.G. kerk vir die groot hospitaalbediening wat hulle op Mochudi het, daar’s mos groot hospitale en sendingbesighede daarso, hulle doen die wêreld se werk tussen die Swartes vir oor ‘n 100 jaar, was die eeufees gewees en met die gevolg jy weet dis ‘n ingewortelde ding en die Regering het baie respek vir die N.G. Kerk, daarso en Ds. Barry was wakker gewees. Toe hulle hierdie ding adverteer in die Gazette dat elke organisasie moet geregistreer wees in Botswana, dit is natuurlik om hierdie kommunistiese partye en al hierdie dinge te kan teëwerk, jy weet, toe spring hy netso en hy registreer toe ook sommer Ghanzi ook. Die N.G. Kerk en ons het toe al vantevore daar Ringsittings en dinge gehad en hy weet toe mos van ons en hy registreer ons toe ook sommer saam met hulle. Nou toe die Doppermense hier beginne probleme kry, hulle het probleme gekry en nie ons nie, hulle briewe stuur hulle mos na ons toe altyd, jy weet ...

 

Vraag: Ja, die Regering kan mos nie half onderskei ...

CB: Hulle kan nie onderskei, en die buitelandse mense kan ook nie die onderskeid sien tussen ons kerke nie, jy weet ...

Vraag: Met die geskiedenis nie ...

CB: Nou dis soos politiek, jy weet, stry oor dieselfde ding! Dis net soos politiek. Nou in elkgeval, toe is ons kerk nou geregistreer hier. Toe hierdie ouens hier dink hulle kan ons onkant vang toe sê ons vir hulle , nee, ons kerk is geregistreer, toe kan ons vir hulle die nommer en alles gee. Hulle was hier agter ons gewees, man, hulle vra vir ons is daai kerk gemagtig en wat is sy nommer, toe het ek dit in my sak, ek wys vir hulle, ek sê hier’s hy, daar’s die verwysingsnommer, ek sê “Gaan daarop in”. En toe’s hulle doodstil, toe’s hulle gebluff. As hulle nou rêrig in die moeilikheid kom, dan sê hulle nee, dis jou pa se kerk. Maar die groot ding is, hulle is nou verbode hierso, want dis ‘n organisasie wat nie geregistreer is nie.

 

Vraag: Na Oom Corrie-hulle in die land ingetrek het was daar blykbaar mense wat nie plase gekry het nie, né? Wat was die onenighede daaromtrent?

CB: Eintlik, die mense, ons het mos so op ons eie risiko gekom boor. Die magistrate wat hier gewees het, het vir jou gesê gaan vier myl of ses myl van daai ou af en dan gaan boor jy vir jou ‘n boorgat in daai of daai koers, jy weet, nou dan het hulle nou sommerso naastenby ‘n kaart gehad daar in die Kamp waarop hulle gegaan het. Hulle wys jpu dan op daai kaart watter koers moet jy gaan om te gaan boor, so het hulle vir my gesê ek kan nou ses myl suid van Ben kom boor ... toe kom boor ek sewe myl van Ben af en toe kry ek toe nou die water.   Hulle sê nie nader as ses myl en nie verder as agt myl nie, jy weet.  Nou toe kom kry ek nou die water gelukkig hierso, en netso ook die Vorsters daai tyd. Toe was die put, wel die plek waar Ben-hulle nou bly, hy was toe nou daar gewees en dit was as ‘n plaas gebeskou alhoewel daar toe nie mense daar gebly het nie. Hulle sê toe vir hulle gaan daarvandaan vyf of vier myl oos, jy weet, nou toe gaan die Vorsters vyf myl oos en gaan kry water en toe gaan boor hulle daar. Lambert het nog vier myl verder aan het hy nog weer vir homself gaan ‘n boorgat boor wat ook nogal ‘n bietjie water gehad het, maar hy was maar swak. Toe die plase nou uitgegee word, snaaks genoeg, toe kry die Vorsters nie ‘n plaas nie, toe word die ou Oom se applikasie afgekeur en toe kry hy nie ‘n plaas nie. Toe moet hy en Piet nou maar verkoop want Lambert en Bully was toe nog getroud gewees. Toe het nie een van hulle nou ‘n plaas nie, toe bly Bully daai tyd by Oom Cassie. Lambert het so bietjie rondgetrek, by Oom Fanie rond gebly, ou Lambert het rondgesukkel. Hy’t by Oom Fanie maar meeste van die tyd gebly kan ek sê met sy beeste en sy diere. Toe het hulle nou op ‘n later geleentheid weer plase uitgee, toe’t Bully ‘n plaas gekry, en weer op ‘n later geleentheid, dink ek, het Lambert ‘n plaas gekry. Maar hulle het probleme gehad, maar dit was meer blykbaar ‘n misverstand, jy weet die kommitee wat gesit het oor die plase, miskien net oor iets wat gepraat is, ek weet nie hoekom nie, ek glo dis miskien oor mense wat kwaad gepraat het.

 

Vraag: Oom Chrisjan Goosen het ook vir my gesê hy’s baie kwaad want hy het nie daai tyd grond gekry nie en nog iemand anders ... ek kan nie onthou nie. Nou weet ek ook nie, mens kan dit vir jou goed indink dat daar allerhande misverstande was soos Oom Corrie nou sê ... So daar was ‘n komitee uit die boere saamgestel?

CB: Daar was ‘n paar boere by en dan Regeringsamptenare. Ek dink dit was ‘n stuk of sewe of agt mense wat op daai kommitee gesit het. Ek weet Oom Hugo en oorlede Mr. Burton en een van die Ramsdens en dan natuurlik die onder-magistraat ou George Siblerbauer en die magistraat Phil Steenkamp was by gewees. Phil Steenkamp wat nou die sekretaris is van Botswana, van Seretse Khama eintlik, hy was toe ons magistraat hier gewees, hy kom mos eintlik oorspronklik uit Kenia uit.

 

Vraag: O dus hy’s nie ‘n Afrikaner nie?

CB: Hy’s ‘n Afrikaner, ja, maar hy’t in Kenia grootgeword. Sy pa is ‘n Afrikaner, sy pa’s in die Republiek, seker nou oorlede al by die tyd, maar sy pa was ‘n boer gewees.

 

Vraag: Nou hoe ‘n soort magistraat was hy?

CB: Ag hy’s nou, ‘n Afrikaner wat Engelsman geword het, beteken niks nie. En ‘n Engelsman wat ‘n Boer geword het is weer die beste mens wat ‘n mens kan kry.

 

Vraag: Ek wil bietjie hoor hoekom Oom Corrie so min skool gehad het,  was dit met die trekkery of was dit maar net moeilik, of wat?

CB: Nee, dit was maar eintlik, jy moenie nou aansit nie.

Vraag: Nee, ek wil graag hoor …

CB: Ek sal maar vir jou vertel. Ag wat, die ding is eintlik my ou skoolhoof wou graag gehad het ek moet gaan leer, nie omdat ek ‘n briljante leerling gewees het nie, maar hy’t geweet ek kan goed doen as ek rêrigwaar gaan leer, jy weet. En dan nog ‘n ding is, nie dat ek dit self moet sê nie, maar ek was baie goed op die sportsveld en hy wou my graag daar gesien het in die Hoërskool. Daai jare het ons nog St. 6 in die Laerskool gemaak, nou met die gevolg toe ek nou standerd 6 klaargemaak het toe hoop hy nou ek gaan Hoërskool toe en my pa-hulle het ook eers ingestem ek kan gaan. Maar my pa was sieklik gewees, jy weet, hy’t asma en hooikoors gehad en as dit nou so ‘n jaar is soos vanjaar dat dit reënt en die gras staan so in sy saad, jong dan kan hy nie buitekant kom nie. En daai moment het al ons werksvolk ons ook gelos dat ons niks het nie, toe het my pa nou al daai werk gedoen en hy moes ons nog gaan haal by die skool. Jy weet, dit moet koeie gemelk word, room gery word, drinkwater aangery word en skape en bokke wat opgepas moet word. Ons het nog nie kampe gehad nie, jy weet, die kalwers loop los, jy moet die diere oppas en toe is die werk vir my pa  te veel. Ek kan mos nou nie in die Hoërskool gaan sit en my pa moet nou sukkel daar op die soutwaterplaas niemet swak water nie en my pa weet niks van masjinerie af nie. Nou van skooltyd af het ek by my Ooms al sommer van dat ek klein gewees het klaar bietjie by hulle iets opgetel van masjienerie en dinge, het ek al geleer hier sommer van tien-twaalf jaar oud af …

 

Vraag: So dit was maar van vroeg af Oom se belangstelling?

CB: Ja, en ek het maar so tussen die ysters grootgeword, kan ek maar sê en ek is seker maar so geteel, altwee my oupa’s was maar blacksmits gewees, dit is maar in ons lyn, jy weet. Yster is nou ons baas.

 

Vraag: Maar hoekom is Oom se pa dan nou onhandig, sê Oom nou?

CB: Ja, mssr hulle’t hom toe hy klein gewees het nou weer gedwing, hy was nou die skaapwagter. So hy was nie ‘n man wat by die ysters en dinge kon uitgekom het nie, hy kon homself help met ysters, maar met masjinerie was my pa hopeloos, jy weet, hy was te groot toe hy by masjinerie uitgekom het.

Vraag: Oom Corrie, en die tuiemakery wat Oom Corrie hier het?

CB: Ag, ek het nie ‘n tuiemakery nie, ek sit sommer maar hierin die voorhuis as dit reënt, hier gesit en tuie aanmekaarsit.

 

Vraag: Nou by wie het Oom dit geleer?

CB: Nee, ek myself.

 

Vraag: Daar in die Molopo?

CB: Ek word dan groot daarmee, vandat ek my oë oopgemaak het was dit donkies en perde en perdetuie en goed …

 

Vraag: En die karretjies wat Oom vanmiddag vir my gewys het, dis sommer Oom se eie planne?

CB: Ja, dis my idees, ek het nou maar daai idée hier in my kop. Jy kan my in die middel van die nag vra hoe groot maak mens ‘n gemiddelde perdekar dan kan ek vir jou ‘n bokkiekar se mate sommer so gee!

 

Vraag: Nou het Oom Corrie-hulle daarmee geboer in die Molopo? Die karretjies, was hulle in algemene gebruik op die plaas?

CB: Ek sal jou sê tot 1950 het ek net ‘n perd en ‘n donkie geken, en niks anderste nie, ek het groot geword daarmee. Ons het ons eerste motorkar gekoop in 1950.

 

Vraag: Hier is min mense in Ghanzi wat nog die goed ken?

CB: Ja, ek het vir Schalk natuurlik geleer, jy weet, hy’s nou presies op die lyn wat ek gewees het. Schalk is baie lief vir diere, dis nou een ding wat ek nou admireer van ou Schalk, hy ry graag met sy perdekar rond.  Hy los sommer sy lorrie, dié staan nou al vir twee maande lank daar by Annie hulle, hy steur hom nou nie daaraan nie. As hy net by sy muilkar is dan’s hy doodtevrede, jy weet, dan ry hy met sy muile of sy perde …  En ek het Oubaas ook geleer, jy weet, en dan vra hulle my partymaal vrae en dan sê hulle vir my, “Nou hoekom maak mens nou leisels so, of hoekom moet jy jou leisels so opmaak?”, dan sê ek vir hulle, “Man, dis net om makliker in te span anders trap jy mos die lang goed vas, jy moet hulle opmaak”. ‘’n Mens vou hulle so op en dan maak jy hulle aan een van die tuig se ringetjies vas, en dan lyk dit mos ook so mooi netjies, jy weet. Dis toe wat ek hulle nou so beginne leer, die manne, jy weet. Hendrik ook, die ander dag ry ek en hy en Schalk hiervandaan met die wa en vier perde net hier anderkant toe, twee jong perde agter en twee makkes voor. Een van die perde se oogklap was af, eh, daar was amper ‘n lelike chaos gewees! Gelukkig kry ons hulle stilgehou en ek dink een perd het nog geval ook. Ons het hulle daar regop gekry weer, oogklappe aan en ons het na Schalk toe gery en terug en nou trek een van my perde en een van Hendrik s’n saam voor en ek spog altyd teen die kinders, jy weet, ek brag altyd teen hulle met die perde. Naderhand toe ons hier anderkant ry toe gee ek die perde so elkeen ‘n raps, ek sê vir Hendrik, “Ehe, jy kan mos nie net so sit nie!” Ek gee vir hom die leisels en die laaste myl-en-half het hy die leisels gehou, toe hy hier kom afklim sê hy vir Schalk, “Kyk net hierso!” Die perde wat so taai is aan hulle bekke, hulle trek daai wa omtrent net aan hulle bekke, jy weet, die leisels. Hy wys vir Schalk, hy sê, “Kyk net hier, my hand is op houvas!” Schalk stamp net so aan my!

 

Vraag: Dis baie oulik, Oom Corrie, ek dink baie mense sal seker binnekort weer begin belangstel in hierdie soort goed.

CB: Ag, dit is, ek glo ‘n mens se leeftyd is verleng as mens met die goed werk, want dis baie rustiger as jy met diere werk, jy’s baie rustiger as met hierdie motor-karre wat jy net jou aandag daar gee. As jy goedgeleerde perde het, dan kan jy in die donkerste nag hulle hier inspan en hulle vat daai pad vanself, jy weet, hulle gaan voort. Ek het in die Republiek perde gehad wat ek nou baie meegewerk het, en so aan, dan ry ek en gaan gooi byvoorbeeld sommer op die verste hoek van die plaas pale of droppers of iets op die lyn af waar ek lyndrade span. As ek daar draai, hoor hierso, dan begin dit nou donker word, dan het ek net daai waspoor wat ek mee gekom het tot miskien ‘n myl of so van die huis af voor ek nou weer in ‘n pad kom. Dan is dit pikdonker, dan sit ek net met daai twee leisels so in my hande, ek sit en houvas net daai twee perde se leisels mooi eners terwyk hulle twee vleg hier tussen die bosse deur, hulle bly op daai waspoor. As jy stilhou en jy maak iets reg en jy kyk as jy ‘n vuurhoutjie trek dan sien jy maar hier is die wa se spoor. Hulle bly op daai waspoor, hulle vat hom, hulle is dit geleer. ‘n Dier sien mos nou maklik in die nag net soos hierso ook maar, omtrent al my ryperde hulle ken trek ook. Ek het vreeslik baie perde, ek het seker by ‘n honderd perd. Deesdae as ek ‘n perd leer laat ek hom eers drie jaar oudword  voor ek hom leer, enige perd. Dan is hy sterk jy weet, dan leer ek hom eerste trek en dan leer ek hom ry, want dis baie makliker om ‘n trekperd ry te leer as om ‘n ryperd trek te leer. Dit is net so, en ek het my Boesmans ook so geleer. Dit is nou maar seker net ‘n Boeregeloof, jy weet, maar ek glo daaraan, deesdae vang ek ‘n perd die eerste maal self en dan vat ek net eers aan hom. As ek gevat het aan hom en halters en goed aansit dan is daai perd se moed gebreek, dan word hy mak, want ek het eerste aan hom gevat.

 

Vraag: Oom Corrie, vertel bietjie van daai ongeluk wat Oom gehad het met die perdekarretjie, toe Oubaas hoe oud was?

CB: Nee, ons het met die perdekar gaan room wegbring omtrent so twaalf myl hiervandaan na Oom Jan Roomryer se plaas toe. En toe ons daarvandaan terugkom was die panne vol water. Ons het nie eintlik met die ou lorries of iets gery nie, ek weet nie meer wat was die fout nie, ag en dis mos ook lekker om met ‘n perdekar te ry!  En ons kom toe terug so deur die panne, en ek dink ag wat, dis onnodig om nou deur hierdie lang plas water te ry en hier is droeë  sand langs ‘n mens en ek draai die perde uit en ek ry langs die pan. Ek sien toe nooit die stomp hier aan Ant Leah se kant nie, hy staan agter so ‘n groot graspol, en ek ry nog so en dis net so, woeps, jy weet, toe sien ek net hier kom trek Ant Leah so verby en so voor sy grondvat toe stoot sy haar elmboë so uit en sy land so op haar elmboë want sy hou vir Oubaas al die tyd so in haar arms vas, want hy was so ‘n swak babtjie. Ja, sy trek hierso so oor en sy kom land op haar elmboë, sy’t ‘n goeie noodlanding gemaak, sou ek sê! Sy was bietjie kwaad gewees toe sy daar opstaan! Sy sê, “Jy wil  vir my en die kind net verongeluk!” Toe stap sy daarvandaan daar na haar ma-hulle toe, dit was toe naby gewees, omtrent so ‘n kilometer van haar ma-hulle af, toe stap sy soontoe.

 

Vraag: Was die karretjie toe beskadig?

CB: Ja, die disselboom is gebreek ... in so ‘n geval breek die disselboom altyd. Deesdae sit ek nie meer ‘n gekoopte houtdisselboom aan nie, ek sit pypdisselboom aan. Hy buig net en dan buig jy hom maar reguit, dan ry jy maar weer verder, dis baie maklik.

 

Vraag: Oom het nou die aand vertel van die eerste ry hierheen met die kar, met die dowwe ou paadjie.

CB: O met die trekkery? Dit was Tsabong oor, ons het anderkant Tsabong gebly. Daar’s so ‘n groot pan net langs die Moloporivier, Modorofspan. Van Modorofspan het ons nog ‘n dertig myl gebly en van Tsabong af hier na Ghanzi toe is 336 myl. En daar’s ‘n distansie van Tsabong af tot by Tsane van 160 myl wat geen water tussenin is nie. Jy’s gelukkig as dit reën, ek het eenkeer met ‘n klomp perde daarlangs getrek so van die Republiek af hier na Ghanzi toe, toe het ons die perde daar water gee. Maar verder moes jy maar ‘n paar dromme water saamry om vir jou ryperde te gee, en darem die ander perde wat jy aanjaag darem so een- of tweekeer miskien so effens te laat drink, jy weet, sodat hulle darem nie heeltemal vrek van die dors nie. Dan word ‘n dier darem mak, jong, ek sal jou sê jy klap hom so weg, jy stoot hom so weg, daai perd wat nog nooit ‘n vangriem aangehad het nie. As hy daai water ruik en die mak perde suip water dan kry jy hom so jammer, jy moet hom so wegstoot met die hand, want hy wil daai water hê. Andersins is hy so wild en bederwe jy kannie aan hom raak nie. ’n Muil ook, hulle kom druk hier in, jy moet vir hom so wegstoot daai muil, hy kom suip daai water hier by jou.

 

Vraag: Hoeveel lorries, hoeveel voertuie was Oom-hulle toe?

CB: Ek het eenkeer ek dink met 25 of 30 perde gekom, toe’t ek net die Bedfordbakkie gehad. Toe’t ek met die afgaan vier dromme water langs die pad afgelaai en ongeveer ‘n vyftig myl ja, meer of min, anderkant Lehututu vier dromme water afgelaai. Toe ek terugkom het ek van Tsabong af ses dromme water opgelaai, wat ek toe vir die perde gegee het, maar toe het ek nou darem tien dromme water op die pad gehad.   Maar vir dertig perde is dit niks werd nie. Ek sal jou sê, ek het net elkeen so bietjie gelaat drink darem, behalwe nou vir die perde wat ons daagliks ry, die gee ons genoeg water want hulle sweet en so aan, hulle raak ontslae van baie energie. Maar daai distansie van my tannie-hulle af hierso is 400 myl gewees, ek het dit in presies agt dae getrek, vyftig myl ‘n dag. Nou ek dink, as mens so dink daaraan dis kwaai maar tog ons het niks vinnig gery nie, dis maar net dat die mense wat die perde aanja net so ‘n drafstappie ry die hele dag. En dit was nog soos ek jou sê hierdie ou paadjies, net ‘n twee-spoorpaadjie, hy’s hobbelrig en draaierig en loop so tussen die bosse langs deur.

 

Ons het byvoorbeeld ‘n lorrie gehad, jy kan hom nie vêr ry met ligte aan nie dan’s sy battery dood ... dan ry ons so in die maanskyn sonder ligte. Willem Peacock, hy bestuur nog so die ou Chev en hy sê hy dink so by homself, ’n mens ry so in die maanskyn sonder ligte, sê nou ‘n ander ou kom van vooraf en hy ry ook sonder ligte? ’n Mens gaan mekaar dood hier op hierdie pad dink hy en sit hy maar die ligte net so vir ‘n veranderinkie aan, en die moment toe hy sy ligte aansit toe sien hy hier sit ‘n ander ou ook hier voor hom ligte aan. Dit was nou net ‘n bestiering gewees dat hy daai moment gedink het aan ligte aansit, want toe kom daar toe ’n ou van voor af.  Die ou ry ook waarskynlik so in die maanskyn, want toe hy nou weer sien hier’s nou ligte jy weet, toe sit hy ook ligte aan, toe sien hulle mekaar ‘n paar honderd meter van mekaar af!

Vraag: Watter mense was toe op Lehututu?

CB: Op Lehututu was net ‘n Indiër, ’n sakeman gewees en dan op Tsaane was net Swart polisie gewees.

 

Vraag: En Tsabong, was daar nog altyd die kleurlinge wat Oom Jan Burger van vertel?

CB: Ja, op Tsabong is taamlik kleurlinge gewees. Party het ek ook geken wat daarso is op Tsabong. Daar was van Wyks en ek dink Louws en Titusse en ek weet nie wat nog alles nie. Ek het al vergeet almal se name.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Oom Corrie & Tant Leah Bekker

(Band E, Kant I & II)

Het jy enige kommentaar oor die artikel ?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page